Die Genade van God

Die Genade van God

Grace Ann Hopkins

Die genade van God.

Om te verstaan ​​wat hierdie vier woorde beteken, kan vryheid binne jou siel, jou verstand, jou liggaam en jou gees ontsluit. Ek weet dit omdat ek dit ervaar het. Om te weet wie God werklik is het alles vir my verander.

Heel aan die einde van sy eerste brief moedig Petrus gelowiges aan om vas te staan ​​in die ware genade van God (v. 12). Dit is maklik om verby hierdie woorde te beweeg en aan te gaan met ‘n mens se dag, maar kom ons sit vir ‘n oomblik hier. Petrus se verhaal kan ons ontmoet net waar ons is.

In Lukas 22 lees ons van Petrus se verloëning van Jesus. Ons dink dalk niks hiervan terwyl ons die verhaal oorvertel nie, maar hierdie was ‘n baie slegte gebeurtenis. Terwyl Jesus na die huis van die hoëpriester gevat word – net voor sy kruisiging – ontken Petrus selfs die feit dat hy vir Jesus ken. Nie een keer nie maar drie keer. In Jesus se grootste oomblikke van hartseer weier een van sy beste vriende om met hom te assosieer. Petrus het ‘n baie groot fout gemaak en dit het hom tot trane gebring.

Ek stel my voor hoe Petrus besig is om sy eerste brief aan die gelowiges te voltooi, hoe hy terugdink en die woorde van Jesus te midde van sy pynlike oomblik van sonde, onthou Die woorde van Jesus hou genesende krag in. Voordat Petrus Jesus drie keer verloën het, het Jesus woorde van verlossing en liefde oor hom gespreek. Hy het na Petrus gekom en gesê: As jy teruggekeer het, versterk jou broers (Luk 22:32).

Ons vind dat Petrus se ervaring met Jesus sy siening van God gevorm het, soos dit in sy briewe oorgedra word. Petrus het saam met Jesus op aarde gewandel. Hy het van aangesig tot aangesig met God gekom, want Jesus is die volheid van God (Kol. 2:9). Petrus het die genade van God eerstehands begin verstaan. Hy het drooggemaak en Jesus het hom nie net vergewe nie, maar het hom ‘n spesiale opdrag gegee om die evangelie van God se genade aan ander te verkondig. Om te weet wie God is, verander alles.

Die genade van Jesus gaan veel verder as wat ons ons voorstel of verdien. Jesus en Petrus het ‘n merkwaardige gesprek gedeel voor Jesus se hemelvaart na die opstanding, opgeskryf in Johannes 21. In hierdie gedeelte wys Jesus vir Petrus dat Hy hom ken en hom heeltemal vergewe. Petrus het Jesus drie keer verloën. Jesus het Petrus daarna drie keer geroep om ‘n herder van sy kerk te wees ter wille van die Koninkryk van God. Laat my skape wei, het Jesus herhaaldelik gesê.

Jesus het nie vir Petrus gebrandmerk as iemand wat nie in staat is om gebruik te word weens sy sonde nie. In plaas daarvan het Jesus Petrus se lewe en menswees gebruik as ‘n manier om sy genade duidelik te maak.

1 Petrus 5:10 is Petrus se getuienis van hoe God hom herstel het deur sy sonde te vergewe, sy identiteit as geliefd deur God bevestig het, hom versterk het om die Goeie Nuus van God se genade te deel en hom as ‘n erfenis-ontvangende seun van God gevestig het. Dit is die hart van God. Dit was die hart van God vir Petrus en dit is die hart van God vir jou.

Die grootste ding wat ek hierdie jaar geleer het, is dat God alle dinge kan verlos. Nie sommige dinge nie maar alle dinge. God kan my sondes heeltemal bedek en my wit soos sneeu was (Psalm 32:1). Maak nie saak hoe ver ek weghardloop of hoe lank ek weg is nie, die arms van God is altyd wyd oop vir my om na toe terug te hardloop. Die beskerming van sy teenwoordigheid is altyd beskikbaar.

Genade is per definisie onverdiende guns. Ons verdien nie genade nie. Om die waarheid te sê, ons verdien niks nie, maar as gevolg van God se magtige en groot liefde vir ons, het Hy gekies om vir ons te gee wat ons nie verdien nie. God het sy Seun, Jesus gestuur om vir ons te sterf sodat ons vergewe kan word, ons verhouding met Hom herstel kan word en ons vir ewig saam met Hom kan lewe. As ons ons sondes aan God erken en ons bekeer, sal Hy ons red en ons van ons sondes verlos en ons nuut maak vir nou en vir altyd.

Johannes 3:17 sê dat God Jesus nie na die wêreld toe gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld deur Hom te red. Dit is liefde. Dit is die ware genade van God. Iemand het jou meer lief as wat jy ooit sal weet en sy naam is Jesus. Maak nie saak wie jy is, waar jy is of wat jy gedoen het nie, die arms van God Self is nou oop vir jou om na terug te hardloop. Om te weet wie God is, verander alles.

Die Stryd Is Gewen

Die Stryd Is Gewen

Emily Hope

Ek hou niks van bangmaakflieks nie. Van die paar wat ek al gekyk het, was ek die hele tyd op die punt van my stoel vasgenael omdat ek gevaar om elke hoek en draai sien, en dan maak die mense ook nog dom en gevaarlike keuses. Ek hou nie daarvan om so angstig te voel nie, oorgehaal op enigiets om te gebeur of nie.

‘n Mens kan maklik hierdie gedeelte lees en dink dat ons met vrees en bewing Satan se aanvalle moet afwag. Ek dink nie dit is wat Petrus bedoel het nie. Ja, ons moenie naïef wees nie. Satan is op soek na prooi om gelowiges te probeer weerhou om God te aanbid, in hulle geloof te groei, en Jesus met hulle omstandighede en alledaagse lewe te vertrou. Maar hy is nie teen Jesus opgewasse nie. Om die waarheid te sê, hy is reeds verslaan.  

Bewus daarvan, hoe lyk dit om nugter en waaksaam te wees? Hoe staan ons die vyand teen en bly ons standvastig in ons geloof? Dit is gewigtige vrae. 

Ken jou vyand.

Die eerste stap, soos vroeër genoem, is om te weet wie jou vyand is en hoe hy te werk gaan. Satan is die teenstander. Hy is ‘n leuenaar (Johannes 8:44). Sy taktiek het nog nie sedert die Tuin van Eden  verander nie (Genesis 3). Hy wil twyfel, verwarring, selfvoldaanheid en sonde veroorsaak. Hy wil verhoed dat soveel mense as moontlik Jesus leer ken. Hy weet wanneer ons op ons kwesbaarste is en ook wanneer dit goed gaan. Hy is meedoënloos.  

In tye van pyn, swaarkry, twyfel en versoeking kan dit soms moeilik wees om te onderskei tussen die waarhede van God en die leuens van die vyand. Die goeie nuus is dat God vir ons ‘n manier gegee het om Satan se leuens te beveg: sy Woord. Ek vra myself dikwels af: “Klink dit soos God se stem? Strook dit met wie God sê Hy is en met sy karakter soos dit in die Skrif staan?” Indien dit steeds moeilik is om vas te stel wat waar is, het God sy Heilige Gees vir ons gegee. Die Heilige Gees wat die Gees van die Waarheid is (Johannes 16:13), woon in medegelowiges. Jy kan bid vir sy hulp en God se hulp. God sal nie ontsteld wees of onkant betrap word deur jou versoek nie. Hy luister graag na sy kinders en wil hulle help. Jy kan jou ook tot God se mense wend. Praat met ‘n vertroude, gelowige vriendin. Vra haar of dit wat jy voel, dink of glo met God of Satan ooreenstem.

Ken jou Verlosser.

Die tweede stap is om jou Verlosser te ken en te weet hoe Hy te werk gaan. Hoewel dit die tweede stap is, is dit uiters belangrik. Jesus is die Seun van God (1 Johannes 5:20). In Hom is lig en lewe, en is daar geen duisternis nie (Johannes 1:4). Hy is die uitstraling van God se heerlikheid en die presiese ewebeeld van sy wese (Hebreërs 1:3). Hy sit aan die regterhand van die Vader, wat beteken dat sy verlossingswerk vir ons, om die sonde te oorwin, afgehandel is (Hebreërs 1:3). Jesus is groter as enigiets wat die vyand aan ons kan doen.

Jesus sê ons moet na Hom toe kom wanneer ons uitgeput en oorlaai is, en Hy sal ons rus gee (Matteus 11:28). Dit sluit ook die tye in wanneer ons moeg is vir versoekings, twyfel en geestelike aanvalle. Ons kan met vrymoedigheid na ons Verlosser toe kom want Hy verstaan wat dit is om versoek te word. Net Hy het die satan vierkant in die oë gekyk en nie gesondig nie (Hebreërs 4:15). Hy kan ons deur die geestelike stryd lei. Hy is ‘n magtige dog sagmoedige Redder (Matteus 11:29). 

Gee jou dae oor aan Jesus.

Die derde stap is om jou dae aan Jesus oor te gee. Wanneer jy ‘n Christen word, oorhandig jy al jou dae aan Jesus. Daarmee erken jy dat jy nie meer in beheer is nie, en dat jy onder die leierskap en wil van ‘n nuwe meester staan. Soos ons vroeër gesien het, is dit nie ‘n harde, kwaai meester nie. Nee, Jesus is ‘n liefdevolle en vriendelike meester. Hy vra ons om meer soos Hy te wees, nie uit selfsugtige trots nie, maar omdat die lewe in Hom gevind kan word. 

Wanneer jy jou lewe aan Jesus oorgee, het jy ‘n nuwe meester! Jy word nie meer deur die vleeslike weë, die weë van die vyand beheer nie (Romeine 6:6). Jy word nou deur die Heilige Gees beheer. Jy is vry om Christus se weë te kies – wat tot voorspoed lei – bo die weë van jou verlede of van die wêreld, wat op pyn en die dood uitloop (Romeine 6:11). Ek wens ek kon vir jou sê dat dit ‘n eenmalige ding is, en dat alles daarna volmaak is, maar dit is nie. Wanneer jy jou lewe aan Christus gegee het, kom die Heilige Gees in jou woon. Loof die Here! Jy het egter steeds jou sondige natuur, wat beteken dat jy daagliks die dinge wat teen die Christelike lewenswyse indruis, moet doodmaak (Romeine 6:12-14). Weer eens, jy is nie alleen nie. Die Heilige Gees is gewillig en wag om jou deur jou dae te lei (Galasiërs 5:16).

Word bemoedig deur gelowiges dwarsoor die wêreld.

Die vierde stap is om te leer by, en aangemoedig te word deur gelowiges dwarsoor die wêreld. Ek weet nie van jou nie, maar ek dink dikwels dat ek al een is wat sekere goed ervaar of deurgemaak het. Dit is altyd so bemoedigend om te hoor van iemand anders dat hulle verstaan wat ek deurmaak en ook al daar was. Ons het mekaar se bemoediging nodig.

Toe Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy ons nie alleen agtergelaat nie. Hy het sy Woord, sy Gees en sy mense aan ons nagelaat. Ons het die Kerk, wat bestaan uit alle mense wat deur geloof in Jesus gered is. Ons is bedoel om mekaar aan te moedig, mekaar te ondersteun en vir mekaar te bid. Petrus sê dat dit ons help om waaksaam en nugter te bly wanneer ons die verhale van ander gelowiges regoor die wêreld hoor. Dit is een van die redes waarom ek so dankbaar is vir die bediening van Love God Greatly. Ek word altyd bemoedig wanneer ek hoor wat die Here in en deur die ander taalvertakkings doen en hoe vroue oor die wêreld heen in hulle geloof volhard. Dit versterk my en gee my die krag om ook aan te hou. 

Wees getrou.

Die laaste stap is om getrou te wees. Dit klink dalk eenvoudig, maar dit het ewige implikasies. God soek nie volmaaktheid nie. Hy verlang ons getrouheid. God is deeglik bewus van al ons weë. Hy weet dat ons dit nie sal regkry nie. Daarom het Hy vir ons hulp gestuur. Ons is nie veronderstel om genoeg energie of krag bymekaar te skraap om hierdie lewe op ons eie te leef nie. Ons werk is om Hom elke dag getrou te soek, onsself te verloën en ons kruis op te neem, deur die Gees te bid, en in nederige onderdanigheid te leef. Deur sulke gehoorsaamheid kan ons volhard tot die einde toe waar ons ‘n liefdevolle hemelse Vader het wat op ons wag.  

Om waaksaam en nugterdenkend te wees is ‘n daaglikse balans. Dit is om te besef dat ons met die satan ‘n stryd voer (Efesiërs 6:12), maar hy het nie die laaste sê nie. Inteendeel, ons word deur die Heilige Gees wat in ons woon, bemagtig om ons dae konstant biddend te bly en op Hom te vertrou om ons te lei, te oortuig, te bemoedig en te help om meer soos Jesus te wees. Jy is nie alleen in hierdie oorlog nie. Die stryd is reeds gewen. Jy kan jou na jou Verlosser, Jesus Christus wend en in Hom rus vind. Hy is by jou en hou jou veilig.

Verbly Jou In Swaarkry

Verbly Jou In Swaarkry

Claire Marshall

Alhoewel ons dit nie graag wil erken of ervaar nie, is lyding vir die Christen ‘n werklikheid. Ons moet nie verbaas wees wanneer dit kom nie.

Te midde van vervolging, bied Petrus pastorale sorg aan die eerste-eeuse gelowiges in ‘n waarheid wat moeilik is om te begryp en te aanvaar. Hy spreek selfs sy luisteraars as “geliefd” aan. Petrus is meer as net ‘n leermeester vir sy luisteraars. Hy het ‘n diep liefde en sorg vir sy luisteraars.

Die waarheid van lyding in die Christelike lewe was nie ‘n nuwe konsep waaroor Petrus onderrig het nie. Jesus het dieselfde in Lukas 9:23 gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg. ” Jesus het hierdie dinge gesê nadat hy vertel het van die lyding wat Hy deur sy dood sou verduur. As lyding ‘n kenmerk van Jesus is, dan is dit ‘n kenmerk van diegene wat Hom volg.

Hier spoor Petrus ons aan om met blydskap te reageer te midde van lyding. Ongeag die diepte van die lyding, weet ons almal dat blydskap nie ons natuurlike of selfs gewenste reaksie is nie. Ons wil dikwels in ‘n neergedrukte toestand bly, jammer voel vir onsself en ander se simpatie hê. Maar waarom verheug ons ons? Is dit sodat ons ‘n beter perspektief kan hê? Help dit die lyding om te eindig?

Petrus openbaar dat wanneer ons regverdig ly, ons soos Christus is. Hy het regverdig gely. Terwyl ons dit doen, weerspieël ons weer Christus. Lyding was nie die einde vir Jesus nie. Soos Hy verheerlik word, weet ons dat ons eendag met Hom verheerlik sal word omdat ons met Hom verenig is. Dit bring groot hoop te midde van lyding (Jakobus 1:12).

Ek sien uit na ‘n dag wanneer lyding nie meer bestaan nie, en ek by Christus kan wees. As die doel van lyding egter is om met Christus te deel en saam met Hom bly te wees in al sy heerlikheid, dan sê ek, bring dit aan!

Dit is nie die enigste keer dat Petrus lyding in sy brief aanspreek nie. Vroeër in die hoofstuk (1 Petrus 4:1) skryf hy: “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het…” Waar daar regverdigheid is, is daar lyding.

Jesus is ons volmaakte voorbeeld van hoe om goed te ly. Ons sien in Jesaja 53: 3: “Hy was verag en deur die mense verstoot,’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.” Jesus, volmaak in alle opsigte, is verag en verwerp. Hy is nie deur die wêreld gewaardeer nie.

Jesus het baie gely vir ons redding. Hy was bly om verlossing vir ons te bring, sodat ons in die regte verhouding met God herstel kon word. Jesus is ons volmaakte voorbeeld van blydskap in lyding. Daarom sal ons saam met Hom in heerlikheid bly wees wanneer Hy terugkeer!

Die bekende 19de eeuse prediker Charles Spurgeon verwoord hierdie gedagte baie mooi:

“Settle this in your heart:

Whether I am up or down,

the Lord Jesus is the same.

Whether I sing or sigh,

the promise is true and

the Promiser is faithful.

Whether I stand on the summit

or am hidden in the vale

the covenant stands fast

and everlasting love abides.”

Blydskap in lyding beteken nie dat ons onsself aan ons omstandighede oorgee en die pyn wat ons ervaar, ignoreer nie. Blydskap beteken nie dat ons verwaarloos wat ons ervaar nie. Nee, ons maak ‘n aktiewe keuse tot blydskap as gevolg van die hoop wat ons in Christus het.

Claire

Week 4 Uitdaging

Wy jou om een sleutelskrif uit 1 Petrus wat vir jou die meeste uitgestaan het, te memoriseer. Deel hierdie vers met iemand na aan jou en verduidlik hoekom dit betekensvol is. Skryf dit op ‘n notakaart neer en hou dit by jou in jou motor of in jou huis. Lees dit telkemale gedurende die dag.

Week 4 Leesplan

Week 4 Memoriseervers

Dien Mildelik Met Die Dae Wat Jy Het

Dien Mildelik Met Die Dae Wat Jy Het

Krista Taylor

Die einde van alle dinge is naby. Laat liefde jou lei in alles wat jy doen.

Hierdie stelling is ‘n ontnugterende bewusmaking dat ons tyd op hierdie aarde kort is.

“’n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos ‘n skaduwee verby.”

Psalm 144:4

“Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan:

as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.”

Psalm 103:15-16

’n Asemhaling.

’n Verbygaande skaduwee.

‘n Verwelkte blom.

Vanoggend by die kerk het trane my oë gevul toe ek en ’n vriend oor Oekraïne gesels het. In die tydperk van amper ’n jaar, het die gevegslinies nog nie beweeg nie: sodanig dat dit soms na ‘n bevrore konflik kan lyk. Die lewensverlies is groot, daar het elke maand duisende gesterf. Hierdie week het ons die nuus ontvang van die afsterwe van ‘n vriend van ‘n vriend, wat ‘n bevelvoerder in die Oekraïense weermag was, en ook ‘n gelowige was. Sy liggaam kon nie herstel van die ernstige beserings wat hy op die slagveld opgedoen het nie, en hy het in glorie oorgegaan na die Ewige. Net verlede week het ons ook nog nuus ontvang dat ‘n jong pa van vyf, ‘n mede-sendeling en pastoor, oorlede is. Die lewe is werklik vlietend.

In die lig van hierdie waarheid roep Petrus ons op om ‘n lewe van liefde te lei en om toe te laat dat liefde ons lei in alles wat ons doen. Deur middel van hierdié liefde kan ons bid, mekaar innig liefhê, gasvry wees sonder om te mor, mekaar dien en met sagte woorde teenoor mekaar praat. Dít is die dinge wat ons as kinders van die lewende God onderskei.

Ongeveer 12 jaar gelede is my hart deur ander gelowiges seergemaak, en dít het dit moeilik gemaak om hierdie waarhede te will uitleef. Weens hierdie seer wou ek nie gasvry wees nie. Ek wou selfsugtig wees, fokus op my eie pyn en my eie lewe lei. Op ‘n stadium het ‘n paar wyse mentors by ons gebly en ons het hulle vir raad gevra in hierdie situasie. Met wysheid en vriendelikheid het hulle die volgende gesê: “Ons dink dat die Here altyd wil hê dat ons gasvry teenoor ander moet wees. Dit ontken nie jou seer nie, maar ons dink dat jy wel moet aanbied om hierdie paartjie vir die nag in jou huis te huisves.” Hulle het ons gehelp om ‘n brief te skryf aan die mense wat ons gevoelens seergemaak het. Deur God se genade is die seer opgelos, en ons het ‘n heerlike aand saam met ons gaste van Estland spandeer.

Nou 12 jaar later. Die jong pa wat verlede week oorlede is, was dieselfde man wat 12 jaar gelede saam met sy vrou in ons woonstel oornag het na ‘n huwelikskonferensie. Hoe dankbaar is ek tog vir die wyse en goddelike raad wat ons ontvang het. God alleen ken die aantal dae wat in ons boek opgeskryf is. Hierdie man het sy dae goed bestuur om gelowiges te bemoedig en aan God eer te bring.

Die wyse waarop ons mekaar in liefde dien, het ‘n ewige impak. Die uiteindelike doel is om aan God eer en lof aan die Here Jesus Christus te bring.

Om ander lief te hê en te dien is nie altyd maklik nie. Dit kom met ‘n koste. Dit is ‘n keuse om die familie van gelowiges en diegene wat Jesus nog nie ken nie, te eer en te dien met die krag wat God voorsien. Wie kan jy vandag liefhê en dien? Wanneer die lewe moeilik is, sal jy kies om liefde jou dade te laat lei en te dien in die krag wat God voorsien?

Uitnodiging om Deel te Neem

Uitnodiging om Deel te Neem

Jayci Williams

Ek onthou die eerste keer toe ek die evangelie met iemand gedeel het. Ek was by ‘n somerprojek in Florida met my kampusbediening waar ons elke Maandag aan strandevangelisasie deelgeneem het. As ‘n negentienjarige wat nie baie ver op haar eie reis  met Jesus was nie, het die gedagte om die evangelie met iemand anders te deel oorweldigend en angswekkend gevoel.

Ek het daardie dag op die strand deur Romeine 6:23 gehakkel met ‘n groep universiteitsmeisies. Tot my verbasing het hulle aandagtig geluister en genadiglik gereageer. Alhoewel nie een van die meisies daardie dag Christus as hul Verlosser aangeneem het nie, het ek iets betekenisvol geleer. Wanneer die evangelie met iemand gedeel word, gaan dit nie soseer oor hoe ek waargeneem word of hoe die ontvanger reageer nie. Dit gaan meer oor die krag van God wat deur my werk in die harte en lewens van diegene wat die boodskap hoor.

1 Petrus 3:15 sê, “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”

As gelowiges moet ons altyd bereid wees om ons geloof in Jesus te verdedig. Om eerlik te wees, ek voel gewoonlik nie selfversekerd om ‘n verdediging te maak nie. Ek het ‘n ontspanne, introverte persoonlikheid wat my nie tot baie uitdagende gesprekke lei nie. Maar my stiller persoonlikheid is nie ‘n verskoning om nie die evangelie te deel nie. God het elke mens met ‘n eiesoortige persoonlikheid geskep, en Hy het hulle geroep en ten volle toegerus om die evangelie te deel.

Nog ‘n belangrike deel van hierdie vers wat vir my uitstaan, is “oor die hoop wat in julle lewe.” Die ewige hoop wat ons in Christus het, onderskei ons van die res van die wêreld. Ons word almal gebore en bevraagteken of dit al is wat daar is en wat met ons gebeur na die dood. Prediker 3:11 sê: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” God het die ewigheid in die mens se hart geplaas. Deel van ons verdediging vir ons geloof is dat om Christus te ken, beteken om te weet waar jou ewigheid lê. Dit is om te weet dat ons ‘n onwrikbare hoop het wat groter is as enigiets wat hierdie wêreld kan bied.

Later in hierdie gedeelte skryf Petrus, “Ook  Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.” Wanneer ons ons geloof deel, het dit absoluut niks met ons en ons sogenaamde regverdigheid te doen nie. Dit gaan alles oor Jesus en sy regverdigheid. Dit is die boodskap van die evangelie!

Geen hoeveelheid werke sal ooit ons regverdigheid verdien nie. Die boodskap van die evangelie is nie wat ons gedoen het om by God uit te kom nie, maar eerder wat God deur Jesus gedoen het om na ons te kom. Wanneer ons ons geloof in Jesus se lewe, dood, begrafnis en opstanding plaas, word sy regverdigheid ons regverdigheid. Wanneer God na sy kinders kyk, sien Hy Christus. Hierdie waarheid is vir my vertroostend. Ek is natuurlik geneig om die deel van die evangelie as ‘n goeie werk te sien. Alhoewel dit vir God welgevallig is, speel dit geen rol in my identiteit nie.

God se krag werk deur ons wanneer ons ons geloof deel, ons regverdigheid rus in Christus alleen, nie ons werke nie. Boonop is dit ‘n groot vreugde om deel te wees van God se verlossingsplan wanneer ons ons geloof deel. Die uitkoms hang nie van ons af nie. God is altyd aan die werk en gebruik sy kinders om ander na Homself te bring. Ons kan ten volle voorbereid wees om ons geloof te deel met die unieke getuienis wat God aan ons gegee het, sy Woord wat lewend en aktief is, en sy Gees wat in ons woon.

Ons Skrifgedeelte noop my om te bepeins wie in my lewe moet vandag die evangelie hoor. Wie moet jou verweer hoor vir die hoop wat in jou is? Sluit vandag by my aan in gebed dat die Here geleenthede sal bied om by die verlorenes betrokke te raak en om ons moed te gee om die evangelie te deel.

Jayci

Onverganklike Skoonheid

Onverganklike Skoonheid

Claire Marshall

Ek het maar onlangs dertig geword. Dit mag dalk vir party mense nie so oud wees nie, maar ek moet erken dit voel asof dit ‘n bietjie gou op my afgekom het. Namate ek ouer word, is daar nuwe dinge wat nou my gedagtes in beslag neem. Ek het agtergekom dat ek baie bewus geraak het van watter nagroom ek “moet” gebruik om my vel ferm te hou. Of ek wonder watter serum ek moet koop vir die sakke onder my oë wat al groter word. Ek het al gewonder, namate ek al meer grys hare sien kop uitsteek, wat ek daaromtrent moet doen – of ek dit maar so moet los of kleur? Ek oorweeg watter oefenprogram ek moet begin volg sodat ek gesonde roetines kan hê. Ek wonder watter modestyl by my ouderdom sal pas wat my darem nie te oud of te jonk laat lyk nie. Danksy die internet, is ek konstant bewus van die druk om op hoogte van hierdie sake te wees voordat dit te laat is, al het ek maar sopas dertig geword! 

Om ‘n gesonde leefstyl en gewoontes te hê terwyl jy die liggaam wat God vir jou gegee het versorg, is niks om oor skaam te wees nie. Wanneer dit egter jou hoofdoel is, is daar ‘n ernstige probleem. 

Wanneer ek oor hierdie verse in 1 Petrus 3 nadink, raak my gedagtewêreld vir my problematies. Ek besef dat dit vir my baie meer saak maak hoe ek my fisieke self kan verbeter namate ek ouer word, as my geestelike groei.   

Vir die vroue in Antieke Rome was hul begeerte om uit te staan deur wat hulle gedra en hoe hulle hulself versier het, ‘n groot versoeking. Petrus waarsku hulle daarteen. Maar is ons nie ook maar vandag geneig om dieselfde te doen nie? In ons geval mag dit dalk nie gevlegte hare of goue juwele  wees nie, maar dit kan net sowel die beste velsorg, haarkleur of klere wees. Ons begeer hierdie dinge ter wille van wat ander sal sien. Ons verskil nie soveel van Antieke Rome nie.  

Petrus lê daarop nadruk dat ons versiering verband moet hou met dit wat in ‘n mens se hart verborge is. Wat hiermee bedoel word, is dat die versiering van die hart ook in ‘n geestelike sin nie ter wille van uiterlike voorkoms moet wees nie. Ons kan alte maklik soos ‘n Fariseër behep wees met die “groei” van ons hart om deur ander gesien en beïndruk te word.  

Die versiering in 1 Petrus 3 is dat ons harte op persoonlike en private maniere sal groei dat dit tot ‘n saggeaarde en rustige gees sal lei. Dit is iets innerlik wat wel ‘n uitwerking op ons uiterlike voorkoms sal hê, maar dit word nie deur iets uiterlik aangespoor nie. 

‘n Saggeaarde en rustige gees is ook nie een wat vertrap kan word en geen stem het nie. In plaas daarvan, rus dit in die Here en vertrou op Hom om in en deur ons te werk terwyl ons groei in daardie verborge plekke wat net deur Christus aangeraak kan word. ‘n Saggeaarde en rustige gees probeer nie presteer of iets bereik nie, maar dit leef vanuit haar Godgegewe identiteit.

Wanneer ons op die verborge persoon van die hart konsentreer, sal daar minder druk en minder prestasie wees, en meer van Christus se karakter, wat vrede en vreugde meebring. Dit sal soveel vryheid bring aan die manier waarop ons as dogters van God leef. Dit moedig nie net ons as individue aan nie, maar ook diegene wat ons teëkom. Wanneer Hy ons grootste skat en vreugde is, word ander aangespoor om hulle harte met sy genade te versier.

Die laaste deel van hierdie verse is vir my die treffendste: “wat in God se oë baie kosbaar is”. Dit is so maklik om ander mense se aandag en respek te begeer. Maar Petrus sê dat ‘n hart wat allereers vir Christus koester, nie net karakter sal bou nie, maar ‘n karakter sal hê wat kosbaar is vir God. Watter groot genade is dit dat ons, selfs in ons sonde, die geleentheid het om nie net deur God raakgesien te word nie, maar ook kosbaar in sy oë te wees. Hierdie genade behoort ons aan te spoor tot ‘n lewe wat ons harte met onverganklike skoonheid versier. Ongeag hoeveel serums my dertigjarige liggaam op die proef stel, eendag sal dit vervaag en vergaan.

‘n Saggeaarde en rustige gees is waarna ek smag om te begeer want dit is ‘n skoonheid wat die eeue sal oorleef deur die genade en liefde van Christus.

Claire

Week 3 Uitdaging

Gebruik hierdie week doelbewus ‘n geestelike gawe wat God jou gegee het om ‘n lukrake daad van vriendelikheid of diens te verrig, of dit nou ‘n klein gebaar is soos om ‘n bemoedigende teks aan iemand van die kerk, ‘n vriend of familielid te stuur of om ‘n paar uur vrywillig te help in ‘n bediening.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers

‘n Voorbeeld om Na te Volg

‘n Voorbeeld om Na te Volg

Lyli Dunbar

“Dit is nie my skuld nie.” Hierdie frase het my gedagtes by baie geleenthede gevul wanneer ek gevoel het ek was onregerdig beskuldig of gekritiseer. Die onregverdigheid van die situasie oorweldig my met hartseer, en ek wil skree.

Soms doen ons alles reg, maar die lewe loop verskiklik verkeerd. Ons motiewe word bevraagteken. Ons onbaatsugtige optrede word verdraai. Ons liefde vir Jesus word die onderwerp van bespotting. Mense wat ons gedink het aan ons kant sou wees, fluister agter ons rug, of hulle spreek woedend hul misnoeë uit en probeer ons vrede steel.

Miskien het die einste persoon wat jy gedink het jou verdediger sou wees, in jou teëstander verander. Jy voel kwesbaar en verlate. Die gewig van veroordeling oorweldig jou siel.

Vriendin, jy is nie alleen nie. Jou Verlosser weet presies wat jy ervaar. Hy het die sonde van die hele mensdom gedra terwyl Hy aan die kruis gehang het. Niemand het meer vervolging as Jesus in die gesig gestaar nie. Hy het ’n volmaakte lewe gelei, en arrogante mense wat hulle moes bekeer, het eerder woedend en met veroordeling teenoor Hom gereageer.

Luister hoe Jesus ons leer hoe om ’n onregverdige bewering aan te spreek:

“Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?” Maar Jesus het hom op geen enkele woord ’n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was. (Matteus 27:11-14)

In plaas daarvan om in opstand te kom, het Jesus selfbeheersing geopenbaar. Hy het nie toegelaat dat die teëstander Hom in sonde lok nie. Hy het nie aan ’n debat deelgeneem nie. Hy het sy lewe openlik laat spreek van sy toewyding aan God en Hy het sy mond toegehou.

Jesus het nie sy beskuldigers geantwoord nie, want Hy was ten volle daartoe verbind om ’n hoër roeping te gehoorsaam. Hy was gedryf deur sy liefde vir die Vader. Hy het verstaan dat die lyding wat Hy op die punt was om te verduur, uiteindelik tot ons redding sou lei. Sy nederige onderwerping aan die kruis was ons genesing.

Mense mag ons karakter beswadder en ons verwerp, maar God sal ons nooit verlaat nie. Hy regeer die wêreld met geregtigheid en genade, en Hy sal uiteindelik alles herstel wat die vyand vernietig het en volle verlossing bring.

Mag ons vandag die voorbeeld van Jesus volg terwyl ons met moeilike mense omgaan wat Sy genade nodig het. In plaas daaqrvan om te skree: “Dit is nie regverdig nie,” kom ons bid in stilte vir hulle redding en rus in die wete dat ons ’n Verlosser het wat heers oor alles wat ons aangaan.

Die Volle Gestalte van Christus

Die Volle Gestalte van Christus

Ebos Aifuobhokhan

Een van my onderwysers sê altyd, “Christenskap is oefening.” Dit beteken hoe meer jy doen wat die Bybel sê, hoe meer begin die waarheid daarvan posvat en jou hart verander, sodat jy dit gereeld kan uitleef, veral wanneer jy voor uitdagings te staan ​​kom.

Die apostel Petrus moedig ons aan om nie net te praat nie, maar om doeners te wees van wat ons sê. Die doel van ons lewens is om te groei tot die volle gestalte van Christus en Hom te verheerlik met alles wat ons is en in alles wat ons doen. Soos Hy is, so sal ons in hierdie wêreld word. Een van die maniere waarop ons dit kan bereik, is om voortdurend teen ons vlees te veg en te doen wat die Woord van God sê.

Petrus vermaan ons hier om weg te bly van vleeslike begeertes wat teen ons siele stry. Elkeen van ons het ons eie begeertes wat teen ons veg om ons te verhoed om soos Christus te word. Hierdie begeertes, soos die apostel Paulus skryf, het ‘n voortdurende doring in ons vlees geword (2 Korintiërs 12:7).

Ons weet ons kan nie hierdie begeertes op ons eie beveg nie. Dit is hoekom Jesus sy Woord, die Heilige Gees en sy mense aan ons gegee het om ons aan te moedig en uit te daag om gelykvormig aan Christus te wees. Met verloop van tyd vind ons dat hoe meer ons ons sonde erken en dit ontbloot vir wat dit is, hoe meer verloor dit sy houvas op ons. Op dieselfde manier, hoe meer ons God se Woord bestudeer, bid en uitleef wat dit sê, hoe meer sal ons sien hoe ons gewoontes en begeertes verander. Ons sal meer soos Christus wees.

Petrus moedig ons aan om gelykvormig te wees aan Christus, sodat ongelowiges “jou goeie dade kan sien en God kan verheerlik wanneer Hy verskyn”. Die vraag bly staan. Hoe gaan ons ons wêreld vir Christus beïnvloed en vir hulle wys watter weg is die regte Weg?

Baie jare gelede was daar ‘n gewilde slagspreuk. Dit het gesê: “WAT SOU JESUS ​​DOEN?” Daar kon nooit met Jesus se optrede foutgevind word nie. Diegene wat Hom beskuldig het, was diegene wat die waarheid gehaat het en Hom wou stilmaak. Jesus het gekom en die lewe gelei wat ons veronderstel was om te lei, maar wat ons weens sonde, nie kon doen nie. Hy het vir ons kom wys hoe om te lewe as die mans en vroue wat God oorspronklik in Eden geskep het.

Dit klink eenvoudig, nie waar nie? Leef soos Jesus en alles sal reg wees. Ons weet dit is nie altyd die geval nie. Wanneer ons die regverdige manier van lewe handhaaf, ‘n lewe wat in ooreenstemming is met die Woord van God, gehoorsaam en gerig deur die Heilige Gees, kan ons daaroor gespot word. Alhoewel kan dit gebeur, onthou dat ons geroep is om die lig te wees.

Vir sommige van ons is ons lewens die enigste voorbeeld van Christus wat die mense rondom ons sien. Kom ons leef soos Jesus in gehoorsaamheid aan die Vader sodat die wêreld en die mense naaste aan ons God met hulle eie lewens kan sien, naboots en verheerlik.

As ons sê ons is Christene, kinders van God, volgelinge van Christus, dan moet ons so lewe. Om op Jesus te leun, sy voorbeeld te volg en gehoorsaam te wees aan sy Heilige Gees.

Jou suster in geloof,

Bestanddele van die Christelike Geloof

Bestanddele van die Christelike Geloof

Emily Hope

As ‘n voormalige laerskool onderwyseres het ek altyd daarvan gehou om my studente van die groei van plante te leer. Die kinders was so opgewonde om te sien hoe met net ‘n paar dinge soos ‘n saad, grond, water en sonlig, ‘n pragtige plant sal groei. Dit het vir hulle amper soos towerkrag gevoel. Op ‘n manier is ons geestelike groei baie soortgelyk aan dié van die groei van plante. Ons benodig net ‘n paar bestanddele deur die hulp van die Heilige Gees: tyd, gehoorsaamheid, vertroue, gebed en volharding.

Ek weet dit kan amper oorvereenvoudig klink. Ek vind egter dikwels dat ons ons wandel met Christus oorkompliseer. Ons maak dit ‘n kontrolelys van reëls en regulasies wat ons volg en hoop dat God ons meer sal liefhê of ons sal seën. Of, ons raak so vasgevang met die doen van die dinge van God dat ons God self vergeet.

Ek wil vandag die druk van ons afhaal. Ja, daar is dinge wat ons kan doen om ons groei in ons verhouding met Jesus te help, maar dit is nie ‘n verhouding van strewe nie. In plaas daarvan word ‘n groot deel van ons groei gevind wanneer ons in Jesus rus en bly.

Dink aan waartoe Petrus sopas sy luisteraars aangemoedig het: heiligheid. Die doel van ons lewens is om heilig te wees. Hoe moet ons dit doen? Ons moet ‘n eerlike beoordeling van ons lewens neem en dit reinig van die sonde wat so maklik verstrik, soos die skrywer van Hebreërs sê. Dan moet ons na Christus smag. Ons spandeer tyd om ons Verlosser te leer ken. Ons moet gereeld ons sondes bely, verantwoording en bemoediging met ander gelowiges deel, asook tyd in gebed en in die Woord deurbring.

Ons verhouding met Jesus is ‘n hartsaak. Ons harte is die belangrikste ding vir God. Alhoewel die dinge wat hierbo gelys word maklik in outomatiese godsdienstige aktiwiteit kan verander, is dit bedoel om ons geneentheid, of ons harte, na Jesus te draai. Wanneer ons harte getransformeer word, dan word ons lewens getransformeer. Ons kan dan groei tot verlossing, soos Petrus ons roep om te doen.

Net soos dit tyd neem vir plante om te groei, neem dit tyd vir ons om in verlossing te groei. Verlossing is meer as net ons belydenis van geloof in Jesus. Dit is dit plus die hele, lewenslange proses van heiligmaking, of om meer soos Christus te word.

Kyk na die einde van vers 3, “as jy die goedertierenheid van die Here ervaar het.” Paulus skryf in Romeine 2:4 dat dit die Here se goedertierenheid is wat ons tot bekering lei. Die Here se goedheid is die boodskap van die evangelie. As ek die vergifnis en genade van Jesus ervaar het, dan het ek sy Gees wat in my woon. Ek word in staat gestel om na sy wil en sy weg te soek. Ek hoef nie meer uit my eie krag vir Christus te probeer lewe nie, maar uit my nuwe hart wat deur Christus gegee is. Waarna smag jy in jou lewe? Leef jy op ‘n manier wat toelaat dat jou hart deur die wêreld of deur Christus getransformeer word? Neem ‘n bietjie tyd hierdie week om jouself te herinner aan die waarheid van die evangelie en laat dit toe om die manier waarop jy dink, optree en voel teenoor jou Vader in die Hemel wat jou so liefhet, te begin beïnvloed.

Week 2 Uitdaging

Wees hierdie week veral bedag op die boodskappe wat jy inneem, hetsy dit sosiale media, boeke of selfs toevallige gesprekke is. Maak aan die einde van elke dag ‘n geleentheid om daaroor na te dink en skryf enige boodskap of lering wat in stryd was met die Woord van God, neer. Doen navorsing hieroor in die lig van die Skrif en bid vir onderskeidingsvermoë om waarheid van misleiding te onderskei.

Week 2 Leesplan

Week 2 Memoriseervers

Kies Liefde

Kies Liefde

Kelli Trontel

Party mense sê liefde is ‘n gevoel, maar ek glo dit is ‘n keuse. Dit is om te kies om lief te hê, selfs as en wanneer ons nie so voel nie.

Ek het nooit hierdie soort liefde ten volle besef totdat ek deur ‘n egskeiding gegaan het nie. Die soort liefde wat soos Christus is, wat kies om nie weerwraak te neem of kwaad vir kwaad te laat vergeld nie. Om te kies om my oë gelig en op Christus te hou en weg van myself en my omstandighede. Om te kies om lief te hê in die aangesig van verraad en ‘n gebroke hart.

Om liefde te kies ignoreer of verskoon nie slegte gedrag of mishandeling nie.

Om liefde te kies maak nie lig van hartverskeurende omstandighede nie.

Om liefde te kies stel ons daarvan vry om self verkeerdhede te probeer regstel.  

Om liefde te kies is om ons geloof ferm in Christus te plaas en sy weë te vertrou.

Dit is slegs deur God se genade dat ons deur enige vuur kan loop. Meer as dit, ons kan dit doen sonder om soos dit te lyk of te ruik. As jy enige tyd langs ‘n kampvuur deurgebring het, dan weet jy hoe gou en hoe lank die reuk van brandende hout op alles luier. Wanneer jy langs ‘n kampvuur was, is dit baie ooglopend.

Wanneer ek terugdink aan al die maniere wat die Here getrou was in my lewe, is dit sy beskerming van my hart waarvoor ek so ongelooflik dankbaar is. My hart is in die laaste meer as tien jare oor en oor vergruis, maar ek skryf vandag vir jou met ‘n hart wat steeds teer is en oop is om lief te hê. Die wêreld sou my toestemming gegee het om bitter en kwaad te wees. Om die waarheid te sê, wanneer mense leer van my verhaal van verlies op verlies, is dit hoe baie van hulle sou verwag dat ek sou optree. Maar God. Hy het my hart vasgehou en my gelei op ‘n reis van liefde en lankmoedigheid terwyl ek deur die valleie gewandel het wat gedreig het om my te verswelg.  

Ek het een baie duidelike herinnering van die tyd toe ek deur een van die moeilikste seisoene van my lewe gewandel het. Ek dink gereeld terug hieraan. Ek het gehuil oor die feit dat my hart barmhartigheid gevoel het vir diegene wat my seergemaak en verraai het. Dit het geen sin gemaak dat ek so sou voel nie. Ek wou die een wees waarvoor mense jammer gevoel het. Trouens, ek was die een wat verraai en deur die modder gesleep is. Dit was beslis nie die goedheid van my vlees wat barmhartigheid teenoor my vyande gevoel het nie. Ek het geweet dit was die Here. Nou kan ek terugkyk en sy Gees sien werk in daardie oomblik. Terwyl my hart besig was om te breek, het Hy my hart teer gehou. Hy het my daarvan weerhou om bitter te word.

Alhoewel ek nie op daardie stadium van die gevoel gehou het nie, dank ek die Here dikwels vir sulke oomblikke. Hulle het die baan van my lewe verander. Ek is dankbaar dat ek nie die verhaal wat ek vandag kan vertel verpand het vir wat in daardie oomblik goed gevoel het nie. Ek het die goedheid van die Here gesien en ervaar deur my verhaal van verlies en smart. Ek weet eerstehands dat ons Hemelse Vader nie ons lewens net van ver af sien nie, maar Hy tree in in ons pyn en lei ons deur die hartseer met die ewigheid voor oë.

Ek wil die Woord ken en daardeur gelei word, want slegs die Woord bly vir ewig.

Wanneer ons leef deur geloof en nie deur ons gevoelens nie, sal ons anders leef en lyk as die wêreld. Johannes 13:35 herinner ons dat “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Mag ons geken word deur ons liefde…. ons liefde vir God, sy Woord en mense.