Blog

Wie Kan?

Wie Kan?

Lyli Dunbar

Ek en my man het in die teater gesit en met verwondering gekyk na ‘n pragtige fliek kyk wat die krag van God vertoon. ’n Jong seun het amper verdrink en die dokter het vir sy ma gesê dat daar geen hoop vir genesing is nie. Daardie gelowige vrou het voor haar lewelose seun gestaan ​​en teenoor Jesus geweeklag. Teen alle mediese logika, het daardie seun se hart begin klop. Die Een wat die Opstanding en die Lewe is, het daardie kind uit daardie bed opgewek en lewe terug in sy liggaam geblaas.   

Terwyl ons daardie aand huis toe gery het, was ek gevul met ‘n ongelooflike vreugde om te weet dat Jesus die krag het om te genees. Die wêreld sal vir jou sê daar is geen hoop vir genesing nie, maar ons kan ons geliefde wat met een voet in die graf staan, bring en hulle by die voete van Jesus plaas.

Jesus kan ons gebroke huwelik herstel en intimiteit vernuwe.

Jesus kan drome herstel wat verpletter is deur ander mense se verwerping.

Jesus kan vrede bring in ‘n huis waar konflik chaos geskep het.

Jesus kan die planne van die vyand onderbreek en enige vesting afbreek.

Ons Verlosser kan lewe oor enige situasie spreek. Tog vind ek soms dat ek te maklik opgee en padgee vir ‘n nederlaag. In plaas daarvan om deur te druk, deur die twyfel en vrees om my behoeftes na Jesus te bring, sê ek vir myself my situasie is onherstelbaar. 

Ek is so geïnspireer deur die geloof van die vier vriende wat op ‘n dak geklim het en meedoënloos was in hul strewe om hul vriend na Jesus toe te bring. Hulle onstuitbare gees daag my uit om aan te hou bid, aan te hou glo en nooit moed op te gee nie.   

Soms maak ek my probleme te groot en het ek ‘n verwronge siening van ‘n verre Verlosser wat ek dink nie altyd my probleme oplos nie. Ek glo ‘n leuen in plaas daarvan om op die waarheid te staan. Ek fokus op die tydelike oplossing vir my pyn en besef nie die groter wonderwerk wat God voorberei het nie.   

Die Fariseërs in die verhaal het geweet wat die Skrif oor die Messias sê, maar hulle verdraaide siening het hulle daarvan weerhou om verlossing te ontvang. Jesus se optrede maak dit volkome duidelik wie Hy is. 

Hy is die Seun van God. Hy genees nie net nie. Fisiese herstel kon hierdie man help om te loop, maar sy siel was steeds dood in sonde. Jesus het gekom om meer te doen as om te genees. God het vlees geword. Die Almagtige het ons pyn gevoel. Hy het ons behoefte raakgesien en Hy het sy lewe afgelê om meer te doen as om net ons pyn te herstel. Ons Verlosser het gekom om te vergewe.

Wanneer ons na Jesus kyk en in geloof na Hom roep, gaan ons van die dood na die lewe oor. Ons ewige lot is vir altyd verander. 

Jesus het gekom om jou te red. Hy sê: “Staan op en loop.” Loop weg van sonde en dood en staan ​​ten volle vergewe. 

Wie kan ‘n verlore siel red? Net Jesus. Die wêreld sal sien hoe Hy jou lewe verander het en hulle sal met ontsag vervul word. Hy het ‘n ongelooflike wonderwerk in jou gedoen.

Ons Missieverklaring

Ons Missieverklaring

Terria Moore

Hoekom is jy hier?

Waartoe het God jou geroep?

Wie het God jou geroep om na uit te reik?

Wat is jou missieverklaring?  

Vir gelowiges is dit noodsaaklik om te weet dat ons dink en optree in ooreenstemming met God se Woord. God het ons geroep om sy verteenwoordigers te wees. Die Heilige Gees stel ons in staat om met God se outoriteit in hierdie wêreld op te tree. Watter wonderlike en oorweldigende realiteit is dit nie!

Die Bybel maak een van die rolle wat ons as gelowiges moet vervul terwyl ons hier op die aarde is, bekend. Die primêre rol wat aan ons almal toegeken is, is om die boodskap van verlossing te verkondig en uit te dra. 

God het sy Seun, Jesus Christus gestuur om vir die sondes van die ganse mensdom te sterf. Jesus het die sonde en dood oorwin toe Hy volgens die Skrif drie dae na sy kruisiging uit die dood opgestaan het. Wanneer ons glo in wat Jesus volbring het, wanneer ons bely en ons van ons sonde bekeer, wanneer ons Jesus ons Here en Verlosser maak, ontvang ons verlossing. Jesus wis die skeiding tussen God en ons vir ewig en altyd uit. Dit is die Goeie Nuus!

So baie mense in hierdie wêreld sukkel en kry swaar. Hulle het die boodskap wat ons het, broodnodig: die boodskap van hoop; die boodskap van verlossing; die boodskap van Christus.

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” – Lukas 4:18-19

Hierdie verse maak Jesus sy missieverklaring uit. Jesus verklaar met sy eerste openbare bekendmaking aan die godsdienstige leiers wie Hy is en wat God Hom opgedra het om te doen.

God het Jesus gesalf om al hierdie take geestelik sowel as liggaamlik te vervul. Hy het gekom om die geestelike en liggaamlike skade wat sonde aangerig het, te herstel.

Jesus is gesalf om die evangelie te verkondig aan dié wat arm van gees is. Om arm van gees te wees beteken om te erken en te verstaan dat ons absoluut niks van waarde het om aan God te bied nie. Vanweë ons sonde is ons geestelik dolleeg en kan ons niks doen om onsself te verlos nie. Sodra ons verlossing ontvang, word ons met die Heilige Gees vervul.

Jesus is gesalf om die gebrokenes van hart te genees. Ek weet hierdie frase is nie in alle vertalings van die Bybel in die boek Lukas nie, maar dit kom wel voor in die 1953-vertaling in Jesaja 61:1. Ons almal was al gebroke van hart, en Jesus het gekom om ons te troos en in ons hartseer by te staan. [Die 1953-vertaling van Lukas 4:18 sê: “Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees”]

Jesus is gesalf om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word. Hy gee vir ons vryheid en bevryding van geestelike slawerny aan sonde. In Christus is ons vrygemaak.

Jesus is gesalf om blindes te laat sien. Hy het blindes fisiek genees, maar nog belangriker, Hy het gekom om diegene wat geestelik deur Satan verblind is, te laat sien.

Jesus is gesalf om onderdruktes vry te maak. Diegene wat deur die lewe mishandel, verpletter, oor die hoof gesien en afgebreek is, maak Jesus vry.

Jesus is gesalf om die genadejaar van die Here aan te kondig. Dit is ‘n verwysing na die Joodse Jubeljaar. Dit was ‘n jaar waarin alle skulde afgeskryf is en alle grond aan die oorspronklike eienaar teruggegee is. Almal kon van voor af ‘n splinternuwe begin maak.

Dit is wat ons in Jesus ontvang. Hy maak alles nuut. Sodra ons gered is, is ons ‘n nuwe skepping in Christus. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is in Jesus te vind.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matteus 11:28

Hoekom is jy hier?

Wat is jou missieverklaring?

Ons het elkeen talente wat God in ons geplaas het. Hy begeer dat ons daardie talente vir die koninkryk van God sal aanwend. Alles wat ons doen, moet Hom verheerlik!

Alles wat God in ons geplaas het is met die doel om na die behoeftes van diegene om ons wat swaarkry, om te sien. Dit is sodat ons hoop kan gee aan ‘n sterwende wêreld. Die tyd is nou!

Hoe kan ons vir jou bid in jou strewe om jou missie vir God uit te voer?

Vrede en genade vir jou,

Week 2 Uitdaging:

Hierdie week se memoriseervers fokus op wat Jesus kom doen het: verkondig die evangelie aan armes, verkondig vrylating aan die gevangenes, gee sig aan blindes, bevry die onderdruktes en verkondig die genadejaar van die Here. Terwyl jy hierdie week die Woord bestudeer, vind voorbeelde van hoe Jesus elkeen van hierdie dinge gedoen het, beide in die Evangelie van Lukas en in jou eie lewe.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Veranderd

Veranderd

Julie McIlhatton

Is daar al ooit aan jou ‘n bynaam gegee? Byname kan gegee word as gevolg van iets wat jy gedoen het, die manier hoe jy lyk, wat jou van is of om jou te onderskei van iemand wat dieselfde naam as jy het. Daar word dikwels na Johannes verwys as Johannes die Doper. Dit help ons om hom te onderskei van ander mans met die naam Johannes, veral die dissipel Johannes. Johannes het hierdie bynaam ontvang want hy was bekend daarvoor dat hy mense gedoop het!

In die begin van die Evangelie van Lukas lees ons afwisselend die verhale van Johannes en Jesus. Ons het begin met die voorspelling van Johannes se geboorte, toe die voorspelling van Jesus se geboorte, gevolg deur die geboorte van Johannes, daarna Jesus se geboorte en daarna ‘n blik op Jesus toe Hy 12 jaar oud was. Nou beweeg die verhaal terug na Johannes waar hy ‘n volwassene is wat in die woestyn naby die Jordaanrivier woon.

Johannes het presies gedoen wat Jesaja, die engel Gabriël en Sagaria geprofeteer het hy sou doen! Hy was besig om die weg vir Jesus voor te berei en het vir die mense wat na hom toe gereis het, geleer oor bekering, vergifnis van sondes en om veranderd te leef as ‘n resultaat van vergifnis. Johannes het mense gedoop as ‘n sigbare teken van ‘n interne verandering.

Die mense het die Christus verwag—God se Gekose Een wat reg deur die Ou Testament beloof is. Hulle het begin om te wonder of Johannes die Christus was? Johannes was duidelik met hulle dat hy nie die Christus was nie. Maar Johannes het hulle ook laat weet dat Christus sou kom. Hy sou kragtiger as Johannes wees en met die Heilige Gees en met vuur doop. Johannes het gesê dat hy nie eers werd is om Christus se skoene los te maak nie. Om vuil voete aan te raak was die werk van die laagste dienskneg in ‘n huis en Johannes het nie gedink dat hy waardig was om selfs dit vir Jesus te doen nie.

Johannes het beslis nie verwag om vir Jesus te doop nie! Matteus se vertelling van Jesus se doop sluit in dat Johannes probeer het om Jesus te verhinder om deur hom gedoop te word. Hy het gesê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” (Matteus 3:14)

Het jy al ooit gewonder waarom Jesus gedoop is? Hy het geen sondes gehad om van te bekeer nie!

In sy doop het Jesus gedemonstreer wat Hy gekom het om te doen. Hy het ons sondes op Homself geneem en ons skuld betaal. Hy is ons verlossing, die Een wat gekom het om ons te red.

In reaksie, is die hemel geopen, die Heilige Gees het op Jesus neergedaal en die Vader het woorde van liefde en verheugdheid gespreek. Wat ‘n sig—ons ongelooflike God, drie-in-een en een-in-drie! God is so wonderlik!

God het ons geskape om in verhouding met Hom te wees net soos die Vader, Seun en Heilige Gees nog altyd in ‘n perfekte verhouding was en is. Ons verhouding met God is egter deur sonde verbreek. Jesus—God die Seun in menslike vlees—het na die aarde gekom om ons te red!

Hoe moet ons in reaksie op hierdie groot geskenk van Jesus van vergifnis van sonde leef? Johannes die Doper vertel vir ons: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is” (Lukas 3:8). Na alles wat God vir ons gedoen het, hoe kan ons dieselfde wees? Hoe kan ons voortgaan om op dieselfde manier te leef? Ons kan nie! Ons moet vrug dra in hoe ons leef en die Heilige Gees toelaat om sy vrugte van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te ontwikkel.

Ons veranderde lewens is ook ‘n getuienis aan ander. Ons kan deel wees van God se plan om mense van elke nasie, taal en stam te red, deur ander die Goeie Nuus te vertel! Johannes het gesien hoe baie lewens deur God verander is en hy het ook die ongelooflike gebeure by Jesus se doop beleef. Vra God om jou woorde en dade te lei terwyl jy daarna streef om Hom te eer deur die krag van die Heilige Gees wat in jou leef!

 “Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.” – Lukas 8:15

‘n Helper uit die Hemel Gestuur

‘n Helper uit die Hemel Gestuur

“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. ‘n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; – Lukas 1:68-71

Die verhaal van Elisabet en Sagaria is een van my gunstelinge. Daar is iets mooi aan die manier waarop dit mens laat terugdink na Sara en Abraham in die Ou Testament, met ‘n kind wat belowe is aan ‘n egpaar wat moed opgegee het. Daar is iets bemoedigend in die manier waarop dit met Maria en Josef se verhaal kruis, aangesien albei vroue lewensveranderende swangerskappe ervaar het en mekaar kon ondersteun. En daar is iets ongelooflik deernisvol in die manier waarop God gekies het om Johannes se geboorte te gebruik om ons te herinner dat Hy ‘n beloftehoudende God is wat ons nooit in die steek laat nie, nooit teruggaan op sy woord nie, en altyd daar is om ons te help.

Ons SOAP vers vandag kom van Sagaria, ‘n profesie wat uitgespreek is na die geboorte van sy seun, Johannes. Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. Anders as die koning wat verwag is, of die militêre leier waarop gehoop is, het Jesus sy volk kom lei as ‘n helper.

Ek dink aan die talle maniere waarop ek my dogter grootmaak. In sommige oomblikke is dit die beste vir my om iets self te doen, want dit is buite haar vaardigheid of vermoë, of nie ‘n verantwoordelikheid wat pas by haar ouderdom nie. Ander kere verwag ek van haar om ‘n taak op haar eie te voltooi, nadat ek haar geleer het hoe om dit te doen en met die wete dat sy ten volle in staat is om die taak onafhanklik te voltooi. En dan is daar die tye waar ons mekaar help, saam met ander familielede werk om iets te bereik, iets nuuts te leer, of bloot ons sterkpunte gebruik om mekaar se swakpunte te ondersteun.

‘n Helper neem nie nie oor of doen dinge onafhanklik nie. ‘n Helper loop langs ons, leer ons, bemoedig ons, luister na ons, ondersteun ons swakhede met hul krag. Wanneer Lukas hierdie verslag van Elisabet en Sagaria deel, kry ons ‘n blik op die hierdie eienskap van Jesus wat as Helper kom lei het. Jesus het ons so lief dat Hy geweet het ons het hulp nodig, nie ‘n militêre oorname of ‘n politieke mag nie.

Lukas wys ook vir ons, deur Sagaria se woorde, dat God ons as ons Verlosser help, deur ons die gratis gawe van verlossing deur Jesus aan te bied, en deur ons van ons vyande te red. Johannes se geboorte word gevier as die vervulling van ‘n belofte wat God gemaak en nagekom het, om sy volk te red en hulle te voorsien van ‘n Verlosser – ‘n Verlosser en ‘n Redder wat Johannes sou dien terwyl hy die weg vir Jesus voorberei het.

Jesus, die Seun van God, het na ons gekom om ons Helper te wees. Hy het alles in die hemel gelos om tyd op aarde saam met die mensdom deur te bring, saam met ons te woon, saam met ons te werk, saam met ons te eet, saam met ons te reis. Hy sien jou, Hy ken jou, en Hy wil ook jou helper wees. Wat jy ook al op die oomblik dra wat te groot voel, wat jy ook al in die gesig staar wat onmoontlik voel, Jesus is hier om jou te help. Jy hoef dit nie op jou eie te doen nie.

‘n Groot Plan van Verlossing

‘n Groot Plan van Verlossing

Melissa Fuller

Die lewe kan ons maklik oorweldig. Soms lyk dit of dinge goed gaan, en dan word ons getref met golf na golf van verlies, teleurstelling en pyn. Ons word voortdurend daaraan herinner dat ons in ’n gebroke wêreld leef en dat ons ’n Verlosser nodig het.

Maar ons God is groter as al die gebrokenheid wat ons ervaar. Hy het ’n groot plan van verlossing, ’n plan wat Hy by die skepping begin het en waaraan Hy vandag nog werk. God vertoon sy mag en soewereiniteit in die maniere waarop Hy sy plan van verlossing vir die wêreld en in elkeen van ons se lewens uitwerk. En, hoewel ons dit nie altyd kan sien nie, het ons dikwels die voorreg om te sien hoe Hy werk.

Te midde van God se oorkoepelende, uiters belangrike plan om verlossing in die wêreld te bring, het Hy genadiglik verlossing aan een vrou gebring. Elisabet het groot eer ervaar as die vrou van ’n priester en as regverdige beskou in die oë van God. Maar sy het ook groot pyn ervaar weens haar gebrokenheid. Tog het God haar uit al die vroue in Israel gekies. Hy het haar pyn, haar smagting en haar gebroke hart gesien. Hy het nie net vir Elisabet toegelaat om deel te wees van sy universele verlossingsplan nie, maar Hy het ook haar situasie verlos.

Behalwe vir die wonderwerk om ’n seun van haar eie te hê, het Elisabet nog ’n wonder beleef. Sy was die eerste persoon wat Jesus as die Messias bely het. Elisabet het nie net God se ongelooflike krag in haar eie lewe aanskou nie, maar sy het ook eerstehands die koms van die beloofde Messias gesien.

Aan die begin van die Evangelie van Lukas leer ons dat Johannes ’n voorloper van Christus was. Johannes was die profeet wat God belowe het om na sy volk te stuur om hulle harte voor te berei vir die koms van die Messias. Johannes was ’n belofte wat deur God aan die volk Israel vervul is, en sy geboorte was die voortsetting van God se grootse verlossingsplan.

Die evangelie van Lukas is ’n verslag van die lewe van Jesus, geskryf van een vriend na ’n ander. Lukas beskryf met duidelikheid en oortuiging wie Jesus is: die Seun van God en Seun van die mens, ten volle God en ten volle mens. Hy deel hoe Jesus sy mag en gesag vertoon het en hoe Hy die godsdiensleiers en hulle onderdrukkende stelsels uitgedaag het.

Maar binne sy groter doel met die skryf van hierdie Evangelie, vertoon Lukas die persoonlike maniere waarop Jesus sy mense sien, ken en vir hulle omgee. Jesus het dikwels dít waarmee Hy besig was, gestaak om die siekes, gestremdes en gemarginaliseerdes te genees, te versorg en aan te moedig. Die eerste gebeure wat Lukas opgeteken het, toon die maniere waarop God sy plan van verlossing deur Jesus sou bewerkstellig, maar dat Hy ook sy mense op baie persoonlike maniere sou verlos en herstel.

Ons sal oor en oor die Goddelikheid en menslikheid van Christus sien en die manier waarop Hy God se voornemens vervul het om ewige verlossing aan sy mense te bring. En soos ons dit doen, sal ons ook sien hoe God ons nooit miskyk nie, selfs in ons donkerste, mees desperate oomblikke. Hy gaan uit sy pad uit om te genees, te verlos en te herstel. Soos ons Jesus beter leer ken deur hierdie studie, laat ons afwagtend wees van die maniere waarop Hy sy verlossende en herstellende krag sal wys, selfs in ons eie lewens en omstandighede.

Week 1 Uitdaging:

Terwyl ons die Evangelie van Lukas bestudeer sal ons fokus op die godheid van Christus, die menslikheid van Christus en die manier waarop Jesus spesiale aandag gegee het aan die gemarginaliseerdes in die samelewing, insluitende die siekes, gestremdes, uitgeworpenes en vroue. Terwyl jy die dagstukkies lees, identifiseer hierdie drie: godheid, menslikheid en deernis in jou Bybel of joernaal. Merk of onderstreep elkeen met ‘n ander kleur sodat jy die manier kan sien hoe Lukas die karakter van Jesus deur sy Evangelie vertoon.

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om – Inleiding

Die Evangelie van Lukas bied ‘n unieke perspektief op Christus se lewe. Lukas het Jesus nie persoonlik ontmoet nie, en tog het hy Hom gevolg. Lukas was ‘n dokter, ‘n intellektuele persoon, wat geesdriftig was om alles oor Jesus met sy vriend Teofilus te deel. Lukas leer ons van die menslikheid van Jesus, die Seunskap van Jesus en die sorg, besorgdheid en krag van Jesus.

Hierdie Evangelie lig ‘n verskeidenheid gebeure uit Jesus se lewe uit. Die eerste twee hoofstukke beklemtoon die Ou Testamentiese beloftes van die komende Messias. Lukas 3:1—4:13 toon aan dat Jesus die Messias was en is. Verse 4:14—9:50 wys Jesus se krag, sy onderrig en die manier hoe Hy sorg vir diegene in nood. Die konflik tussen Jesus en die Joodse leiers is die hooffokus van die volgende deel (9:51—19:44), wanneer Lukas fokus op hoe ware dissipelskap lyk en wat dit kos om Jesus te volg. Die laaste gedeelte, 19:45—24:53, beskryf die Passie van Christus en die gebeure rondom sy dood en opstanding.

Lukas word aanvaar as die outeur van hierdie Evangelie. Lukas is enigste skrywer van ‘n Nuwe Testamentiese boek wat nie ‘n Jood is nie en hy het saam met Paulus op sommige van sy sendingsreise gegaan. Lukas is ook die skrywer van die boek Handelinge en dit word aangeneem dat hierdie twee boeke rondom dieselfde tyd geskryf is. Omdat Handelinge Paulus se gevangenisskap in Rome beskryf, bereken sommige geleerdes dat Handelinge na 62 n.C. geskryf is. Dit plaas die Evangelie van Lukas tussen 64 n.C. e 66 n.C.

Die Evangelie van Lukas moedig ons aan om God heelhartig lief te hê, as gevolg van die Evangelie se unieke beskrywing van Jesus se lewe en bediening. Lukas voorsien besonderhede oor Jesus se lewe wat ons toelaat om sy menslikheid en goddelikheid te sien en dit vertoon sy groot barmhartigheid vir sy mense, asook sy krag oor euwel. Ons sien ook hoe dit lyk om ‘n ware dissipel van Jesus te wees en Jesus se onophoudelike strewe na dié wat verlore is.

Die Evangelie van Lukas moedig ons aan om God heelhartig lief te hê, as gevolg van die Evangelie se unieke beskrywing van Jesus se lewe en bediening.

Bid vir Jouself

Bid vir Jouself

Brittany Salmon

Ek weet nie van jou nie, maar dis dikwels vir my makliker om vir ander te bid as vir myself. Ek sal in gesprek wees met ‘n vriendin en hulle vertel van ‘n probleem met ‘n kind of ‘n siek familielid, en dan is dit glad nie vir my ‘n probleem om die poorte van die hemel storm te loop en God te vra om in te gryp nie. En tog, wanneer ek vir myself moet bid, is dit net asof ek nie mooi weet wat om te sê nie.

 Ek het agtergekom dat, wanneer my woorde te kort skiet, die Psalms regtig baie help om leiding te gee. Dit is hoekom die SOAP-metode so belangrik is en waarom dit vir die lewe van ‘n gelowige so noodsaaklik is om oor die Skrif na te dink. As ons God se Woord in ons harte bewaar, word dit ons gids as die pad onduidelik raak. Dit dui die weg aan, gee ons die woorde en verlig ons pad.

Ek hou daarvan dat Dawid in die Psalms nie skroom om groot versoeke aan God te rig nie. Ons sien hoe hy vir skuiling en geregtigheid vra en dat God met sy vyande sal afreken. Ons sien hom vra vir vergifnis, redding, veiligheid, voorsiening en gesondheid. Daar is nie ‘n versoek wat nie in die Psalmboek gevra word nie, en nog meer, ons sien hoe aan rou emosie—vreugde, verdriet, woede, wanhoop, hoop, ensovoorts—uitdrukking gegee word.

Soos die skrywers van die boek Psalms, moet ons ook met vrymoedigheid na die troon van God gaan. Hebreërs 4:16 sê: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Wanneer ons dan vir onsself bid, moet ons wat vir ons in die Skrif uiteengesit is, uitleef en as ‘n gids gebruik.

Kom ons pas vandag se SOAP-gedeelte toe om vir onsself te bid: Psalm 103:1–5

“Ek wil die Here loof,

met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

Ek wil die Here loof

en nie een van sy weldade vergeet nie.

Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon,

wat my die goeie in oorvloed laat geniet,

my die jeugdige krag van die arend skenk.”

As ons dié gedeelte as riglyn gebruik om vir onsself te bid, sou jy byvoorbeeld só kon bid:

“God ek loof U, help my om U met elke greintjie van my wese te prys. O God, U is heilig, goed en lofwaardig. Help my om nie u goedheid en getrouheid te vergeet nie. God, vergewe my my sonde en genees my hart van smagting na dinge wat u hart haat. God, verlos my uit die put van sonde en help my om te onthou dat u Woord sê dat ek, omdat ek ‘n kind van God is, nooit u liefde of medelye hoef te verdien nie. U liefde vervul my meer as enigiets wat hierdie wêreld kan bied. Vader, dankie dat U my verlos het en dat U ‘n God is wat ons geroep hoor. Amen.”

Dit verg so ‘n bietjie oefening, maar ek het oor die jare geleer jy kan nie verkeerd gaan as jy Skrif oor jouself en jou geliefdes bid nie. Die gebruik van die Skrif gee vir my woorde wanneer die hartseer van die lewe my sprakeloos laat. Dit keer dat my gebede te selfgesentreerd, te aardsgesind raak, en rig dit eerder op dinge daarbo. Mees belangrik herinner dit my aan die karakter van God wanneer ek te veel op aardse omstandighede ingesteld is.

Ons hemelse Vader wil graag van ons hoor. Werp daarom julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Petrus 5:7). Sonder hierdie week doelbewus tyd af om te oefen om vir julleself te bid deur gebruik te maak van die gedeeltes wat ons bestudeer. Vra God om jou geloof te laat groei, jou geroep te hoor en genesing te voorsien in die gebroke areas van jou lewe. Vra Hom, en kyk dan met verwagting hoe Hy op jou geroep reageer. Want die ding omtrent God se Woord is dat dit nooit onverrigter sake terugkeer nie en altyd tot stand bring waarvoor die Here dit bedoel het.

En dit is ‘n belofte.

Witter as Sneeu

Witter as Sneeu

Crystal Stine

Elke aand met slaaptyd lees ek en my man om die beurt ‘n kort oordenking vir ons dogter uit een van die verskillende ouderdomsgeskikte Bybelstorieboeke op haar boekrak. Oor die jare het die stories meer kompleks geword, die onderwerpe meer relevant vir haar huidige 9-jarige lewensfase en ek het gevind dat die toepassing van die daaglikse Skrifgedeeltes net soveel by haar daaglikse laerskoolroetine pas as my voltyds bedieningswerk.

Een aand terwyl ek na die les in ons huidige boek geblaai het, het ek gehuiwer. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9). Sonde. Belydenis. Bekering. Vergifnis. Ek wou bitter graag na die volgende bladsy oorslaan om ‘n makliker oordenking te lees oor hoe om die lewe te hanteer wanneer dit nie regverdig is nie, of hoe om jou vriende aan te moedig. Ek was nie seker of ek met ons dogtertjie oor sonde wou praat nie.

Miskien doen jy dit ook wanneer geloofsonderwerpe jou ongemaklik laat voel. Dit is makliker om genade, bemoediging en liefde aan ons naaste te verduidelik as wat dit is om oor sonde te praat. Dit is makliker om voorbeelde te gee van hoe ons daardie dinge goed doen en meer pret om met kreatiewe maniere vorendag te kom om die mense in ons lewens aan te moedig. Aan die ander kant, wanneer ons oor sonde praat moet ons erken dat ons almal sondaars is wat ‘n Verlosser nodig het en dit kan ‘n ongemaklike belydenis wees. Dit beteken dat ons nie alles op ons eie kan doen nie, dat ons swakhede het en dat ons vernuwing nodig het.

In Psalm 51 skryf Dawid ‘n gebed vir vernuwing neer, ‘n gids wat ons wys hoe om voor God te kom met ‘n hart wat gereed is om die volle vergifnis te ontvang wat Hy belowe. Dawid begin deur die eienskappe van God (troue liefde, groot barmhartigheid) te noem en bely dan sy sondes. Die voorskif aan die begin van vandag se Psalm noem dat dit deur Dawid geskryf is nadat Natan hom gekonfronteer het oor sy verhouding met Batseba. Dawid is ‘n “man na God se hart” genoem (1 Samuel 13), nie omdat hy volmaak was nie, maar omdat hy na elke fout teruggekeer het na God.

Voordat ons in die vreugde en blydskap van God se hernuwing kan wandel, moet ons ons harte en hande leegmaak van die sondige dele van ons lewens, om plek te maak vir wat God moet doen. God weet reeds wat ons gedoen het, Hy weet watter sondes ons in die toekoms sal pleeg en tog kies Hy ons steeds. Hy noem ons sy dogters en Hy maak ‘n weg vir ons om ons verhouding te herstel wanneer ons bely en God met nederige harte vra om ons sondes af te was.

Dawid gaan voort om vir God te vra om hom nie net van sy sondes te reinig nie, maar om “ ….‘n rein hart te skep,” sy “gees te vernuwe,” en hom “standvastig te maak.” (v 11, 12). Wat ‘n pragtige herinnering dat God ons alles sal gee wat ons nodig het om ten volle te lewe in die oorvloed van sy vernuwing as ons nederig genoeg is om ons sondes te bely en vir sy hulp te vra.

Om my dogter se vrae oor belydenis en bekering te beantwoord het beteken dat ek bereid moes wees om met haar te deel dat ek ver van volmaak is. Ek was teenwoordig vir elkeen van my sondes – groot en klein, maar dit was ook ‘n pragtige oomblik om te deel dat God nie volmaaktheid verwag nie, maar gehoorsaamheid. In ons gehoorsaamheid, wanneer ons ons sondes aan God bely deur gebed, sal Hy ons reinig en die vlek van ons sonde verwyder sodat ons vernuwe en “witter as sneeu” gemaak kan word. (v. 7).