Die Droom Van Jou Hart

Die Droom Van Jou Hart

Deur Andrea Howey

Nie almal sal hulle moontlik hiermee vereenselwig nie, maar het jy al ooit toegekyk hoe iemand anders dieselfde drome wat jy vir jou lewe gekoester het, uitleef? Miskien is dit ‘n droom of gebed waaraan jy lank vasgehou het, en mettertyd begin dit al meer onmoontlik en buite bereik voel. Maar kyk jy om jou, voel dit asof daar net waar jy kyk, iemand anders is wat hulle blye nuus bekend maak van daardie einste ding wat jy so heimlik begeer het dat dit in jou eie lewe sou uitspeel.

Miskien is dit jou droom om getroud te wees, maar met elke jaar wat verbygaan (en elke vriend of vriendin se troue wat jy bywoon), voel dit asof daardie hoop al minder raak. Miskien kon jy net nog nooit jou loopbaandoelwit bereik nie, terwyl jy toekyk hoe vriende en kollegas in hulle veld vordering maak, nuwe ondernemings aanpak en klaarblyklik sonder inspanning sukses behaal. Miskien is dit jou gebed dat jou kinders en familie in hulle wandel met die Here sal groei, in alles voorspoedig mag wees, maar nou bevind hulle hul te midde van hartseer en moeilike tye in ‘n moeilike situasie en bid jy dat die Here hulle sal herstel en weer stewig op hulle voete sal plaas. Of dalk is dit die begeerte na kinders van jou eie, net soos dit Ragel se gebed en smagting was (Genesis 29:31—30:24).

Ragel moes toekyk hoe haar eie lewensdroom in haar suster Lea se lewe uitspeel. En hoewel Lea se verhaal allesbehalwe maklik was, het dit vanuit Ragel se oogpunt gelyk asof dit vir Lea so maklik was. Kind na kind, jaar na jaar.

Dikwels kan dit vir ons so voel. Wanneer dit lyk asof almal om ons oorvloed beleef op daardie einste gebied waarvoor ons God al so lank bid en vra, kan dit pynlik wees om te aanskou.

Selfs al vertrou ons die Here met ‘n hoopvolle hart, kan dit steeds ons harte laat pyn en smag om self ‘n deurbraak te beleef.

Miskien het jy al die gesegde gehoor wat lui: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12 – 1953 vertaling). Weet jy wat dit ons nog kan maak? Paniekerig! Desperaat. Irrasioneel. Angstig. Moedeloos.

Uitgestelde hoop kan ons al hoe meer mismoedig en angstig laat voel of ons droom ooit  bewaarheid sal word. Dit kan ons irrasionele dinge laat doen om iets te laat gebeur of omstandighede, tydsberekening, of waaraan ons ook al kan dink, laat bekonkel om ‘n resultaat af te dwing wat op die ou end nie so bevredigend is as wat ons gehoop het nie.

Liewe vriendin, ek wens daar was ‘n maklike antwoord, ‘n presiese formule of datum op die kalender wat vir ons die dag en wyse kon aandui waarop God ons hart se droom en gebed sal bewaarheid soos ons gevra het.  

Maar een ding weet ek van God, Hy hoor ons smekinge en sien ons pyn, en ken die begeerte van ons hart. En luister hierna: dit maak nie saak of ons uit die staanspoor iets verkeerd aanpak, en of ons geheel en al onskuldig is nie, God hou niks teen ons nie. Hy weerhou nie iets om ons te straf of aan ‘n lyntjie te hou nie. Hy sien die pyn van ons teleurstelling. Hy sien hoe ons stry om sag en rein van hart te bly om saam met ander bly te wees oor hulle sukses en verhoorde gebede, al bly ons eie hartsbegeerte onvervuld.   

Een van die beste dinge wat ons kan doen is om Hom te bly vertrou met daardie drome en versugtinge van ons hart. Ons kan moed hou met die wete dat, net soos Hy van Ragel onthou het, dink Hy ook aan ons. Hy sien ons. Hy het nie van ons vergeet nie. Niks gaan ongesiens by God verby nie. En Hy stel ons op so ‘n wonderlik volmaakte wyse in staat om in die volheid van sy volmaakte plan vir ons lewens te stap dat, selfs al dink ons ons kon die perfekte storielyn skryf vir hoe dit behoort te ontvou, sou ons dit nie so goed soos Hy kon skryf nie.

Eendag, op sy volmaakte, heilige en liefdevolle manier, sal jy sien op watter maniere Hy in hierdie seisoen van wag en glo en bid aan jou gedink het. Dan sal jy net soos Ragel kan sê: “God het my smeking gehoor. En Hy het my skande weggeneem.”

Vandag, oral waar dit voel asof jou hoop uitgestel en jou droom deur almal behalwe jyself uitgeleef word, hoop ek jy sal dít onthou:

In die verborge plekke sien God jou.

In die areas waar jy teleurstelling ervaar wil God jou hart met hoop en goedheid en waarheid bedien.   

Op die eensame plekke begeer Hy om jou nader aan Hom te trek.

Op die plek wat vol vrae en onsekerheid voel, sien Hy jou en sal Hy jou lei en wys wat jy moet doen.

Op die vergete plekke wanneer jy agtergelaat en verwerp voel, sien Hy jou en sê: “Jy is nie vergeet nie, en Ek het nie my belofte aan jou vergeet nie.”

In die plekke waar jy skaamte ervaar, sê Hy: “Ek sal die heerlikheid wees en die een wat jou kop optel. Ek sal jou skaamte wegneem.”

Op die plekke waar jy wag, sien Hy jou en werk in jou, werk deur situasies tot jou voordeel en beskerming, en is Hy besig om jou voor te berei en te versterk vir ‘n nog groter doel vorentoe.

Op die plekke waar jy die swakste voel, sien Hy jou en is oorgehaal om jou met sy sterkte en krag te besiel.

Bly op Hom hoop en vertrou. Hy hoor jou smekinge en sien die hoop van jou hart. Hy slaan ag op jou, en Hy het ‘n goeie hoop en toekoms vir jou lewe. Hou moed.

Vra Vir Die Onmoontlike

Vra Vir Die Onmoontlike

Deur Kelli Trontell

“Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is. Toe het hulle die Here daar aanbid.” – 1 Samuel 1:27-28

Ek hou baie van Hanna.

Haar vasberadenheid om te wag en om eerbaar te bly, selfs te midde van teleurstelling, maar nog meer, te midde van bespotting, is tot vandag toe vir my so inspirerend. Hanna het diepe persoonlike pyn geken. Dit was nie net vir haar op daardie tydstip onmoontlik om swanger te raak nie, maar haar man se tweede vrou, Peninna, het baie seuns en dogters gebaar. Asof dit nie genoeg sout in die wonde was nie, was Peninna gemeen. Sy was ‘n gemene vrou. Ja, daar was gemene vroue in die Bybel.

“Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het.” – 1 Samuel 1:6

As dit nie ‘n gemene vrou is nie, dan weet ek nie wat is nie.

Vir my is een van Hanna se vele bewonderingswaardige karaktereienskappe dat, ten spyte van die herhaalde bespotting, teistering en uittarting van Peninna, het sy nie aan haar vlees toegegee nie en het sy nie in woede gereageer nie. Inteendeel, sy het haar oë na die Here opgehef in innige gebed. “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.” (1 Samuel 1:10)

Wat belangrik is om raak te sien is dat Hanna se emosionele toestand nie oorgesien is nie. Dit is erken en uitgelig. Sy was hartseer en het gehuil terwyl sy gebid het. Ons hoef nie alles in orde te hê of ons emosies en gevoelens te onderdruk voordat ons voor ons Vader kom kniel nie. Hanna het verstaan dat die enigste Een wat haar gebroke hart kon hanteer en wat die verligting wat sy so desperaat begeer het kon voorsien, God was.

Die Here het Hanna in haar nood gehoor en haar met Samuel, haar eersgebore seun geseën. Sy het gestand gedoen aan haar woord dat sy hom sal opgee aan diens van die Here. Wat ‘n moeilike opoffering moes dit nie gewees het nie, maar in haar opoffering het die Here dit vir sy glorie gebruik, soos wat Hy altyd doen, selfs vandag nog. Hanna het die Here alles gegee wat vir haar saakgemaak het.

Dit het my geneem om deur ‘n egskeiding te gaan voordat ek alles ten volle aan die Here oorgegee het. Ek het gedink dat ek in volkome oorgawe geleef het, maar ek het vinnig agtergekom dat daar plekke in my lewe was wat ek steeds met ‘n stywe greep vasgehou het en gedink het dat ek dit op my eie kan hanteer. My kinders. My finansies. My toekoms. My vrese. My teleurstellings. Selfs in die seisoen waar ek gevoel het dat ek geen keuse in die saak gehad het nie, het ek wel ‘n keuse gehad. Dit was die keuse om verheug te wees, selfs in die pyn en lyding.

Hanna het gebid vir die onmoontlike, en ons kan ook.

Die Here werk altyd in ons seisoene van wag.

Ek en my kinders ervaar die Here se getrouheid in ons seisoen van wag. Vir meer as ‘n jaar al bid ons elke nag en dank die Here vir die dak oor ons koppe (selfs alhoewel die huis in die mark was) en ons het ons geloof en vertroue dat Hy ‘n goeie en perfekte plan vir ons het, hardop uitgespreek, selfs terwyl ons gewag het.

Ons is nie slagoffers van egskeiding nie, maar ontvangers van God se pragtige verlossing. Hy het altyd ‘n plan.

Toe die huis verkoop is, het die huis wat ek in my prysklas gevind het, nie net daardie selfde dag op die mark gekom nie, maar dit is net klaar gebou. Terwyl ons gewag het en gebid het en nie toegegee het aan vrees, of bitter geword het oor ons omstandighede nie. was God besig om vir ons ‘n huis te bou! Ons huis sal vir altyd gesien word as die huis wat God gebou het.

Onderwyl God die spottery en gemeenheid van Peninna teenoor Hanna raakgesien het, het Hy Hanna se gebrokenheid raakgesien en haar geseën. Ons God doen ook dieselfde vir ons. Miskien nie op presies dieselfde wyse nie, maar Hy werk altyd in ons omstandighede, ongeag van wat ons kan sien.  

My gebed vir jou vandag mag onmoontlik voel, maar dit is dat jou hart teer sal bly, selfs in die beproewing. Dat die karakter en pragtige hart van Hanna jou sal bemoedig om vas te bly in jou getrouheid aan die Here, wat alles sien, alles hoor en wie die Een is wat waarlik ons gevegte vir ons veg. Laat Hom toe om met die gemene mense, diegene wat oordeel of verkeerdelik beskuldig, te handel. Mag jy dapper en nederig ‘n lewe leef wat eer en wat seënbaar is.

Week 3 Uitdaging

Wie in jou lewe is ‘n kragtige gebedsvegter? Neem hierdie week die tyd om haar aan te moedig en haar te laat weet hoe haar gebede jou beїnvloed het.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers

Geloof Vir Genesing

Petra Stoneman

“Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” – Markus 5:34

Desperaatheid. Laaste uitweg. Wanhoop.

Wat laat jou na Jesus toe draai?

Ons lees keer op keer in die Evangelies van mense wat Jesus met ‘n persoonlike probleem genader het. Hulle het dikwels al hul ander opsies uitgeput en besluit dit is tyd om hul laaste uitweg te probeer – hierdie persoon wat wonderwerke doen en wie ander mense oor praat: Jesus.

In ons verse vandag het die vrou al haar hulpmiddele bestee. Sy het vir twaalf jaar gebloei – twaalf jaar – en sy het absoluut alles probeer wat haar dokters voorgestel het. Niks het gewerk nie en nou het sy niks oorgehad nie. Niks, net Jesus.

Sy het gehoor dat Hy in die stad was en het Hom gevind, omring deur skares. Dit het vir haar gewerk omdat sy nie die aandag op haarself wou vestig nie. Sy wou net gesond word.

Hierdie vrou het dalk eers na Christus gekom nadat al haar ander pogings misluk het, maar sy het meer as net fisiese genesing gevind. Die bloed het opgedroog, ja, en sy het dadelik beter gevoel. Maar wat sy nie geweet het nie, was dat sy deur hierdie kragtige ontmoeting met die lewende Seun van God ook geestelike genesing en redding gevind het.

Toe sy aan Jesus se mantel raak, het Hy opgemerk. Niks word ooit nie opgemerk deur ons alwetende God nie. Hy het omgedraai en met sorg en besorgdheid gevra wie Hom aangeraak het. Jesus het natuurlik die antwoord geken. Maar Hy wou hê dat sy moes sê wat sy gedoen het en die goeie nuus van wat Hy vir haar gedoen het, met almal rondom hulle deel. Hy het gewag. En toe sy na vore kom en haarself aan sy voete gooi, kyk Hy haar in die oë en sê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (Markus 5:34).

Sy het gekom vir genesing en het volkome vrede in die veiligheid van Christus gevind. Sy het na fisiese verligting gesoek en ver bo wat sy haar kon voorstel, ontvang; haar geestelike las van sonde is opgehef en vervang met God se liefde en genade. God se krag het haar siekte weggeneem, en sy medelye het dit met vrede vervang.

Op watter gebied van jou lewe is jy moeg, soek jy verligting op al die verkeerde plekke en wil jy net die vrede van God ervaar?

Ek moedig jou aan om ‘n oomblik te neem om vandag hieroor te dink en dan na Jesus toe te kom. Gooi jouself aan sy voete neer. Raak net aan sy mantel. Hy is genadig en liefdevol. Hy sal met deernis en sorg na jou toe draai, en soos Hy jou in die oë kyk, sal Hy die pyn en die lyding wegneem, jou genees en meer aanbied as wat jy ooit kon droom of dink.

Die genesing in ons verhaal vandag was fisies, maar dit dui op groter genesing wat slegs God, deur Jesus Christus, kan bied: die genesing van sonde en die dood en die aanbod van die ewige lewe saam met Hom.

Sommige van ons siektes, laste en bekommernisse teister ons al so lank dat dit ook twaalf jaar kan wees of so voel. Vriende, laat vandag se verse uit die lewende Woord van God jou herinner aan sy krag, deernis, liefde en teerheid. Selfs al het Hy nog nie, moet nooit vergeet dat Hy jou omstandighede in een oomblik kan verander nie. Bly glo, hou vas aan wat nog moet kom, en hou aan om aan die voete van Jesus neer te val. Dit is verreweg die beste plek om te wees.

En as Hy kies om nie onmiddellik genesing te bring nie? Moenie aan jou geloof twyfel nie, maar wandel voort in vertroue. Vertrou op sy karakter, vertrou op wat God se Woord sê wat waar is en vertrou dat net Hy weet wat die beste vir ons en die beste vir sy heerlikheid is.

Mag elkeen van ons ons vandag aan Jesus se voete bevind.

Met liefde,

‘n Hoer, en ‘n heldin

‘n Hoer, en ‘n heldin

Vandag se Skrifgedeelte vertel die verhaal van Ragab. Geïdentifiseer as ‘n prostituut, sy blyk ‘n onwaarskynlike held of vroulike rolmodel te wees. Josua hoofstuk 2 vertel hoe twee manlike spioene na Jerigo gestuur is om die land te verken voordat die Israeliete die Jordaanrivier oorgesteek het om die stad te verower

Die mans het by Ragab gebly, maar toe die koning van Jerigo van die spioene hoor en Ragab beveel het om hulle oor te gee om gestraf te word, het Ragab hulle op haar dak versteek en gejok en gesê dat hulle die stad verlaat het. Sy het die mans gehelp om te ontsnap, en in ruil vir haar goedgunstigheid het hulle ‘n plan beraam om Ragab en haar gesin te beskerm tydens die daaropvolgende aanval op Jerigo.

Hoekom het Ragab gejok? Sy het nie haar reputasie gered deur die mans weg te steek nie. Sy was nie ‘n Israeliet nie, en sy het geen verbintenis met die buitestaanders gehad nie. Josua 2:9-11 vertel wat Ragab gesê het: “Ek weet die Here gee hierdie land aan jou oor. Ons is absoluut vreesbevange vir jou, en almal wat in die land woon, krimp ineen voor jou. Want ons het gehoor hoe die Here die water van die Rooi See voor jou laat opdroog het toe jy Egipte verlaat het en hoe jy die twee Amoritiese konings uitgeroei het. . . Want die Here jou God is God bo in die hemel en onder op die aarde!”

Ragab het opreg in God geglo—en sy het dit met haar moedige optrede en geloof gedemonstreer. Hebreërs 11:31 sê: “Deur die geloof het Ragab, die prostituut, die vernietiging van die ongehoorsames vrygespring, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.” Jakobus 2:24-25 sê ook: “Julle sien dat die mens geregverdig word uit werke en nie uit geloof alleen nie. En was Ragab, die prostituut, nie ook geregverdig deur werke toe sy die boodskappers verwelkom en op ‘n ander plek uitgestuur het nie?”

God kan enige iemand gebruik om Sy koninkryk te bevorder. Enige iemand. Ragab was nie sy laaste of enigste keuse nie; uit almal het God gekies om haar – ’n hoer, ’n uitgeworpene van die samelewing, ’n gemarginaliseerde en veragte vrou – te gebruik om sy plan vir die Israeliete te vervul.

God verlos. Hy bring skoonheid uit die as. Ons is nie geroep om in ons sonde te bly nie, maar God is ook nie bang vir ons menswees nie. Ragab die prostituut het Ragab die moeder van Boas geword (Matteus 1:5), herdifinieër en direk ingeënt in die geslagsregister van Jesus.

Vriende, ek hoop dit bemoedig julle en bring vir julle vrede. Ek weet nie hoe Ragab oor haarself gevoel het nie, maar ek dink sy het gesukkel. Ek twyfel of sy haar voorgestel het dat dieselfde plek waar sy besoedel was, eendag haar familie sou red of die begin van haar nuwe verhaal as ‘n leier van die geloof sou wees.

Wat jy ook al uit jou verlede dra – skaamte, spyt, seerkry – lê dit neer. Lê dit aan die voet van die kruis neer. Jesus het die gewig van ons sondes kom dra, en jou verlede definieer jou nie. Ragab se verhaal wys jou weer dat jy geliefd is. Jy is waardevol. Jou sterk geloof kan die wêreld verander.

Niks is onmoontlik Nie

Niks is onmoontlik Nie

Crystal Stine

Een van my gunsteling dele in die verhaal van Elisabet is die manier waarop liefdevolle vroulike vriendskap uitgebeeld word. Elisabet en Maria was familie en is deur God uitverkies vir ongelooflike take, en hulle loof God saam terwyl hulle mekaar met nederigheid en liefde eer en ondersteun.

Ek lief die manier hoe Lukas dit “goedgedink het om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde neer te skryf.” (Luk 1:3) Hierdie skrywer het elke verslag van Jesus se lewe noukeurig en strategies in die Skrif ingesluit en hierdie verhouding tussen Maria en Elisabet het sy lakmoetstoets geslaag. Matteus begin sy Evangelie gefokus op Jesus se stamboom en ‘n engel van die Here wat verduidelik wat met Josef gebeur het (Matteus 1:1–25). Markus begin sy Evangelie later in die lewe van Johannes die Doper en Jesus, waar Johannes die weg vir die Here voorberei het (Mark 1:1–8). Johannes het ’n soortgelyke begin (Johannes 1:1–18). Slegs Lukas neem tyd om die verhouding tussen die twee vroue wat gekies is om Johannes die Doper en Jesus se moeders te wees, aan te teken.

Elisabet en Sagaria was ‘n onwaarskynlike paartjie om gekies te word as ouers van die man wat die weg sou voorberei vir die koms van Jesus. Hulle was ouer en nooit in staat om kinders te hê nie. Sagaria was ‘n getroue priester, maar nie ‘n noemenswaardige godsdiensleier nie. Maar hulle was “regverdig voor God” (Lukas 1:6). Selfs voor Jesus as ons Verlosser gekom het, het God reeds vir ons gewys dat dit nie is wie ons is, wat ons titels is of hoe belangrik ons ​​is wat saak maak nie; dit gaan oor hoe ons lewens Hom weerspieël.

Elisabet het haar wonderwerk beleef ‘n paar maande voordat Maria swanger sou word met Jesus, wat Elisabet die unieke posisie gegee het om een ​​van die enigste vroue te wees wat moontlik kon verstaan ​​wat aan die gebeur was. Ons sien nie veel van hulle interaksie of hulle tyd saam nie, maar wat ons wel sien is ‘n belangrike voorbeeld van vriendskap wat ons in die praktyk kan toepas. Beide Maria en Elisabet was vroue wat deur God uitverkies en begunstig is. Hulle was getrou en het Hom liefgehad, en het geglo dat Hy die onmoontlike moontlik kon maak. Toe Maria by Elisabet se huis ingekom het, kon Elisabet – nadat sy baie langer gewag het om uiteindelik hierdie wonderwerk te ervaar – ‘n bohaai oor haarself gemaak het. Maar in plaas daarvan, vervul met die Heilige Gees, het Elisabet Maria en die baba wat sy gedra het gevier: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” (Lukas 1:42–45)

In plaas daarvan om haarself in die kollig te plaas, wat redelik sou gewees het as in ag geneem word dat Maria die Verlosser van die wêreld in haar dra, het Maria die fokus teruggekeer na God in lofprysing. Hierdie bloedverwante het in verskillende stadiums van die lewe saamgekom met nederigheid en liefde om mekaar te ondersteun deur ‘n ervaring waarmee niemand anders op aarde kon vereenselwig nie, en God was die sentrale punt in dit alles.

Wie is die vroue in jou lewe wat die werk sien wat God in jou doen, dit verkondig en dit vier? As jy wag op jou onmoontlike, wonderbaarlike antwoord van God, hou moed. God se tydsberekening is perfek en sy weë is beter as ons weë. Glo wat die Here belowe het—niks is vir Hom onmoontlik nie!

Week 2 Uitdaging:

Wie in jou lewe het sterk geloof soos die vroue van wie ons lees? Neem hierdie week tyd en reik uit na haar. Moedig haar aan met jou woorde, hetsy dit geskryf of gesê word en deel hoe haar geloof gehelp het om jou geloof te versterk.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Altyd deur God Onthou

Altyd deur God Onthou

Ebos Aifuobhokhan

Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daar die oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. – Johannes 19:26-27

Ek het hierdie vers gelees en ek het gebid, “Jesus, hoe kon U nog aan die welsyn van jou moeder dink terwyl U in angs aan die kruis was, verraai en gehaat deur die mense wat U kom red het? Hoe?” In reaksie hierop het die Heilige Gees my herinner aan Jesaja 49:15:

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet,

haar nie ontferm oor die kind

wat sy in die wêreld gebring het nie?

Selfs al sou so iets kon gebeur,

Ek sal jou nie vergeet nie.

Ons sal nooit die diepte, lengte en breedte van God se liefde vir ons ten volle kan verstaan of begryp nie. En eerlikwaar, ek dink nie dit is daar vir ons om te verstaan nie, maar ons moet dit geniet en in die volheid daarvan leef.

Ons is nooit sonder hulp nie. Ons word nooit vergeet nie. God se hart is vir ons gevul met ewige en blywende liefde wat niks – en niemand – kan verander of van ons wegneem nie. Ons tekortkominge, mislukkings, foute, sterkpunte en vermoëns, niks wat ons is of ooit sal doen, kan God se liefde vir ons keer nie.

Dit is ’n liefde wat my laat vra: “Waarom het U my so lief? Wat het ek al ooit gedoen of gesê om te verdien om so onvoorwaardelik liefgehê te word?”

En die antwoord is, niks! Ons kan nooit iets doen of sê om liefde so suiwer en eg soos dié van Christus, te verdien nie. Hy is net lief vir ons. Eenvoudig! Hy is net lief vir ons.

God is bedag op ons. Hy is nie onbewus van wat in ons lewens aangaan nie. Hy is nie onverskillig teenoor ons nie. Hy het ons lief met ’n ewige liefde wat tyd, ligging, ras en afstand oorskry. Jy is nie vir sy hart verborge nie. Jou naam is in die palm van sy hand gegraveer. Geliefde, jy word nie vergeet nie. Moenie toelaat dat jou huidige beproewinge jou verblind van die liefde wat altyd daar is vir jou nie. God werk agter die skerms namens jou.

Solank jy jou lewe aan Hom oorgegee het, is jy deel van sy familie. Sy wakende oë is op jou, en sy liefde omring jou. Moenie toelaat dat die duiwel jou anders vertel nie. Moenie toelaat dat die onaangenaamhede rondom jou jou anders vertel nie. Moenie toelaat dat jou ontoereikendheid jou anders vertel nie. Jy is geliefd, versorg en word altyd deur God onthou.

Jesus is gister, vandag en vir altyd dieselfde. As Hy daar was vir Maria, sy aardse moeder, is Hy ook hier vir jou, sy geliefde dogter.

Moenie jou geloof veloor nie! Hy is altyd daar. Hy is altyd daar om jou te help. Selfs wanneer daar niemand anders om is nie, is Hy te alle tye jou altyd-teenwoordige hulp. Selfs wanneer jy niks kan sien werk soos jy dit wil hê nie, selfs wanneer jou natuurlike sintuie Hom nie kan voel nie. Hy is daar. Tel jou Bybel op en lees dit, praat met Hom in gebed, en sy teenwoordigheid en vreugde sal jou hart vul met die versekering dat jy geliefd, onthou, gekoester en nooit vergeet is nie.

Liewe vriendin, jy moet hierdie woorde glo. Jy is nooit sonder sy hulp nie.

Van Nigerië,

Ek het jou lief.

Een in Christus

Een in Christus

Julie McIlhatton

Wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons gewoonlik kerk toe waar ons ook al kuier. Ek hou daarvan om op verskillende plekke met God se mense kennis te maak want dit help my om meer met die globale kerk in voeling te kom.

Een van my vroegste ervarings om met gelowiges van regoor die wêreld in aanraking te kom, was toe ek 20 jaar oud was. Ek het ‘n maand lank saam met ‘n sendingorganisasie na Oos-Europa getoer en die Here het wonderbaarlik alles wat ek nodig gehad het, voorsien. In my jeugdige opgewondenheid het ek ingeskryf sonder om te weet hoe ek sou kon bekostig om te gaan!

Voor ons vertrek saam met ons spanne regoor Oos-Europa, het ons in ‘n skool in Estland bymekaargekom vir opleiding. Daar was mense van alle uithoeke van die wêreld af, en ons almal was so verskillend. Ek is seker die mense van die dorp waar ons gebly het moes gewonder het toe hulle na ons kyk: “Wie is hierdie mense? Wat bind hulle saam?” Ons het net een ding gemeen gehad: Jesus Christus.

Die laaste aand voor ons vertrek het om God te dien, het ons bymekaargekom vir ‘n tyd van gebed en lofprysing. Ek onthou nog daardie warm somersaand. Na die tyd is ons buitentoe en, in plaas van uitmekaar te gaan, het ons in ‘n kring bymekaar ingehaak en onbegeleid gesange en ander liedere gesing. Ons almal het God saam aanbid. Dit was soos ‘n voorsmakie van die hemel waar mense van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van God vergader het. (Openbaring 7:9–10).

 ***

Die eerste deel van vandag se leesstuk handel oor die wet. Dit is die wet wat God vir Moses gegee het toe Hy die Israeliete as ‘n nasie opgerig het. Die wet is nie deur Jesus ongeldig gemaak nie; Hy het gekom om dit te vervul (Matteus 5:17–18; Lukas 24:44–7). Die wet dui steeds op ons onvermoë om te leef soos God bedoel het. Dit sê vir ons hoe nodig ons ‘n Verlosser het.

Daar is net een Verlosser—Jesus. Geloof in Christus verklaar dat ons deur geloof aangeneem is. Ons is gekies om aan God se familie te behoort. Ons word as seuns beskryf, maar moenie daaroor afgehaal voel nie. In Paulus se kultuur kon net seuns erfgename wees, en gewoonlik het die oudste seun alles geërf! Deur Christus word ons as seuns beskryf want ons erfenis is veilig. Ons gaan die ewigheid saam met die Vader, Seun, Heilige Gees en al sy mense deurbring.

God voorsien vir ons toekoms en ook ons hede. Ons is met Christus beklee. Jesus maak ons waardig. Deur Hom kan ons God se teenwoordigheid binnegaan.

Daarom, as ons as God se mense bymekaarkom, is ons een in Christus. Wanneer ons bid, uit God se Woord leer, opgebou word, brood breek, mekaar bemoedig en uitdaag—is ons een in Christus. Ons almal is onwaardige sondaars, uitverkies en gered deur die wonderlike genade van God.

Christene is op so ‘n wyse aan mekaar verbind dat dinge soos ras, inkomste en geslag ons nie van mekaar kan skei nie, want wat die belangrikste is, bind ons aan mekaar. Ons is een liggaam in Christus.

Ongelukkig is dit nie altyd hoe ons kerk beleef nie. Paulus het aan die verdeelde kerk in Galasië geskryf waar sommige gesê het die Grieke moet Jode word om ware Christene te wees! Paulus reageer sterk daarop. Wat saak maak, is geloof in Christus en om aan Hom te behoort.

Wat Paulus in hierdie verse sê, is dat ons een is, ongeag ons etnisiteit, inkomste of geslag. Ons is gelyke erfgename van al God se beloftes deur geloof in Jesus. Ons is in die eerste plek kinders van God. Ons is een in Christus, en word dieselfde deur Hom behandel. Ons is ‘n heilige volk, verstrooid onder die nasies, om ‘n lig te wees wat ander roep om Hom te volg.

Dis vir my verstommend om te dink dat julle hierdie blog in verskillende lande en stede, miskien selfs in ‘n ander taal (dankie, vertalers!) kan lees. God het ons almal in verskillende kontekste geplaas. Hoewel ek jou nog nooit ontmoet het nie, het ons een ding gemeen: Jesus Christus. Daarom, my suster in die Here, is ons een.

“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” – Romeine 15:5-7

Vroue Is Nodig

Vroue Is Nodig

Angela Perritt

Adam het in die tuin van Eden gewoon, ‘n letterlike paradys op aarde. Dit was perfek in elke opsig. Adam en God het ‘n wonderlike en hegte verhouding gehad en tog…..

Selfs in ‘n wêreld sonder die vlek van sonde, het God Adam gesien en wou Hy steeds meer vir hom hê.

“Verder het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” – Genesis 2:18

Eva is geskape as gevolg van God se liefde vir Adam en sy begeerte om vir Adam ‘n metgesel, ‘n helper, ‘n “ek staan met jou,” tipe maat te gee. Iemand wat net vir hom gemaak is, wat nie net vir Adam op ‘n miljoen verskillende maniere sou komplimenteer nie, maar hom ook sou help om die opdrag wat God hom gegee het, te voltooi.

“Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” – Genesis 2:21-22

Wat ‘n geskenk het God vir Adam gegee! Dit is asof God sy beste skeppingswerk vir laaste gelos het. Jy kan amper die opgewondenheid in Adam se stem hoor toe hy vir die eerste keer oor Eva gepraat het.

God het geweet die wêreld het vroue nodig. Moet dit nooit vergeet nie. As niemand dit ooit vir jou gesê het nie, laat ek die eerste wees. Jy is nodig, gewaardeer en geliefd. Jy word gesien en gekoester. God het daarin verheug om Eva vir Adam te skep, nie as iemand minder nie, maar as ‘n gelyke, iemand om aan sy sy te staan. Iemand om saam met Adam te werk om die missie te vervul wat God vir hulle gegee het en om dit saam as ‘n span te bereik. 

God se skeppingswerk was nie voltooi totdat Hy Eva – totdat Hy vrou gemaak het nie. Beide God en Adam was bly toe Eva geskape is.

Onthou daardie waarheid die volgende keer as jy minderwaardig voel. Net soos God Hom oor Eva verheug het, verheug Hy Hom ook oor jou. Moet dit nooit vergeet nie.

God se oë word gevul met liefde wanneer Hy kyk hoe jy die unieke gawes wat Hy vir jou gegee het, gebruik om Hom bekend te maak. Hy verheug Hom oor jou as Hy sien hoe jou geloof dag na dag sterker word.

Die wêreld kan die waarde van ‘n vrou verdraai, maar dit beteken nie dat God dit doen nie. Hy sien al die pragtige vroue in die wêreld en ken hul merkwaardige waarde. Adam het Eva nodig en Eva het vir Adam nodig en saam het hulle albei vir God nodig.

Moet nooit vergeet nie, God het jou lief en Hy sien jou raak en koester jou. God is bly dat Hy Eva gemaak het en Hy is bly dat Hy jou gemaak het!

Week 1 Uitdaging:

Skryf hierdie week die verskillende maniere neer waarop God sy liefde vir en goedkeuring van vroue gewys het in die verse wat ons gelees het. Wat sê dit vir jou van hul waarde in sy oë?

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Volkome Oorgawe – Inleiding

Die lewe kan moeilik voel. Wanneer ons ons lewens eerlik in oënskou neem kan ons dalk wonder, is dit regtig wat God vir my beplan het? Is ek werklik binne sy wil? Indien wel, hoekom is my lewe so moeilik? Ek het gedink sodra ek ‘n kind van God word, sou my lewe sonder stryd wees. Hoekom voel dit of my gebede onbeantwoord bly? Hoekom voel dit of ek deur een beproewing reguit in ‘n ander een in loop? Hoekom is my lewe gekenmerk deur gebrokenheid en pyn? Hoekom kan my lewe nie maklik wees nie?

Ons het almal al van tyd tot tyd hierdie vrae in die een of ander vorm gevra. Ons is almal van die pad af gedwing deur verraad, hartseer en gebrokenheid. Ons word daagliks daaraan herinner dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, en tog is ons hartseer oor wat ons nie het nie. Ons is geskep vir soveel meer, en ons smag daarna om ‘n stukkie hemel op aarde te ervaar. So wanneer die lewe moeilik raak, wanneer die antwoorde op ons gebede wegbly en wanneer pyn ons lewens binnedring, worstel ons met hoe ons gedink het ons lewe sou wees teenoor die realiteit daarvan.

Ons vind vroue met soortgelyke verhale regdeur die Bybel. Hulle het elkeen deur hulle eie pyn, twyfel en bekommernis gegaan. Hoewel hulle verhale elkeen uniek is, was hulle volkome oorgegewe lewens gekenmerk deur ‘n mengsel van hoop en hartseer. Nie een van hulle het ‘n maklike lewe gehad nie. Elkeen moes deur pyn loop. Elkeen moes God vertrou in die onbekende. Elkeen moes lewe deur geloof, nie deur sien nie. Elkeen moes kies om in God se goedheid te glo te midde van hulle onbeantwoorde gebede.

Elkeen moes in die spanning van God se soewereiniteit en die lewe se gebrokenheid leef.

En dit was God se wil vir hulle lewens.

“Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.– Romeine 12:12

Hulle verhale het verskil, maar maak nie saak waardeur hulle gegaan het nie, hulle het nooit alleen daardeur gegaan nie. God was met hulle in elke vallei en op elke bergtop. Hy het elke gebed gehoor en hulle pyn gevoel.

Was hierdie vroue volmaak? Nee, maar al hierdie vroue het een ding in gemeen gehad: ‘n verhouding met God.

En as jy jou geloof in Christus geplaas het, het jy ook ‘n verhouding met God.

Ons lewens word dalk nie gekenmerk deur gemak nie, maar maak geen fout nie, dit word gekenmerk. Gekenmerk deur God se liefde. Gekenmerk deur God se voorsiening. Gekenmerk deur God se salwing.

Staan ​​dus sterk in jou geloof my liewe vriendin. Moenie bang wees nie, al bewe die wêreld. God is met jou. God is vir jou, en God het ‘n groter doel met die pyn onderwyl jy kies om jou lewe met volkome oorgawe aan sy wil oor te gee. Soos die vroue in die Bybel wat ons voorafgegaan het, is God met ons, en in Hom vind ons ons krag, maak nie saak wat oor ons pad kom nie.

“Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.” – Psalm 16:8

‘n Lewe van Lofprysing

‘n Lewe van Lofprysing

Petra Stoneman

Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys.

Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,

sy grootheid is ondeurgrondelik.

Psalm 145:2-3

Ek onthou een van die moeilikste tye van my lewe.

Dit het gevoel asof ek nooit weer sou hoop nie en ek was uitgeput en afgemat.

Ek het daagliks tot die Here gebid om hierdie swaar donker wolk waaronder ek geleef het, weg te neem. Ek het Hom heeltyd gevra om my te help om sterker as voorheen anderkant hierdie seisoen uit te kom, om Hom dieper as ooit voorheen te vertrou, en om my te leer wat dit ook al was wat Hy vir my te midde daarvan voorberei het sodat ek niks sou misloop terwyl ek dit omwens nie.

By een van die Love God Greatly Intensive opleidingsweke het ons by ‘n wyse, godvrugtige dame wat ons bevoorreg was om te ontmoet, geleer van die krag om God te loof vir wat Hy nog gaan doen. Sy het ons uitgedaag om God te loof en te dank vir wat nog sou kom, vir hoe Hy alles tot sy verheerliking en ons beswil sou laat uitwerk, en vir hoe Hy sy beloftes in ons lewens sou vervul.

Hierdie uitdaging en bemoediging het in dié donker seisoen van my lewe my daaglikse gebed geword. Ek het openlik vir die Here vertel dat ek raadop was en nie geweet het wat besig was om met my te gebeur en waarom nie, maar dat ek geweet het Hy het ‘n doel daarmee. Ek het Hom begin loof vir wie ek WEET Hy is, al het ek nie so gevoel nie.

Om God elke dag te loof, beteken nie dat ons ons danksegging op die omstandighede van ons lewens baseer nie.

In Psalms 140-144 bid Dawid dat die Here hom van vyande sal verlos. In hierdie psalms roep hy uit na God vir spesifieke hulp en herinner homself aan God se karakter.

Hierdie vyf psalms word gevolg deur die laaste ses van die hele boek, wat op lofprysing fokus.

Besef jy wat dit beteken? Vyf gebede gevolg deur ses lofprysings! Daar behoort altyd lofprysing en aanbidding na ons versoeke en smekinge te kom. Ons vra eers en dan loof ons. Ons versoek en dan sê ons dankie. Ons smeek en dan aanbid ons.  

Dit is ook opmerklik dat die hele Psalmsboek dien as ‘n bron van bemoediging, aansporing en vertroosting in moeilike tye. Dit is ‘n boek wat eerlike en rou gebede bevat, wat ons herinner dat ons nie alleen in ons swaarkry is nie, en dit sluit af met ses volle Psalms wat God loof vir alles wat Hy is.

Watter een praktiese ding kan ons uit vandag se Psalm leer? Te midde van swaarkry fokus ons op, en herroep al die ongelooflike, merkwaardige en wonderlike waarhede wat ons oor God weet en terwyl ons bid vir verlossing, herhaal ons hierdie waarhede vir ons siel. Ons kan selfs ‘n pen en papier gryp, of ons Aantekeninge-toepassing op ons fone gebruik om dit aan te teken. Wat ook al vir ons werk, ons herroep daadwerklik alles wat ons weet waar is en al die kere in ons lewe wat ons God se getrouheid beleef het, en herinner ons verstand, hart en siel daaraan.  

Hoekom? Want alles op hierdie aarde sal verbygaan, maar sy koninkryk bly vir ewig staan.

Die beste lê nog voor en daar is so baie waarna ons kan uitsien. Daarom, ongeag wat in of om ons aan die gang is, kan ons saam met Dawid verklaar, “Elke dag wil ek U loof!”

God het my in sy ontferming gehelp om te besef dat dit beter is om my lewe onder die swaarste donker wolk te leef wat tot diep intimiteit met Hom lei as onder ‘n helderblou sonskyn lug en sy naam te vergeet.

Lofprysing is ‘n besluit, ‘n hartsgesindheid wanneer ons ons te midde van swaarkry bevind. Kom ons maak dus daardie besluit, vriendinne!

Kom ons wees vroue wat kies om ons hemelse Vader in enige soort omstandighede te loof en dankie te sê omdat hulle weet Hy is waardig en omdat hulle weet dat ‘n seer, hopelose wêreld hulle dophou.

Lofprysing is ‘n uitdrukking van respek en dankbaarheid.

Laat ons vroue wees wat gekenmerk word deur dankbaarheid en lofprysing, vroue wat sterk en dapper lewens lei ten spyte van hulle lewensomstandighede, vol vertroue op die God van die hemel en aarde wat hulle harte vashou.

“Danksegging wek dankbaarheid in die hart op” – Richard Baxter (1615-1691)

Ek sluit my tyd saam met julle op die blog vandag en ons klaaglied-studie af met die lirieke van een van my gunsteling liedere wat my altyd tot trane, belydenis en lofprysing dryf: 

My Troubled Soul (Praise the Mighty Name of Jesus)

My troubled soul why so weighed down

You were not made to bear this heavy load

Cast all your burdens upon the Lord

Jesus cares, he cares for you

Jesus cares, he cares for you

And all your worrying won’t help you make it through

Cast all your burdens upon the Lord

And trust again in the promise of his love

I will praise the mighty Name of Jesus

Praise the Lord, the Lifter of my head

Praise the Rock of my salvation

All my days are in his faithful hands

My anxious heart, Why so upset?

When trials come how you so easily forget

To cast your burdens upon the Lord

Jesus cares, he cares for you.

I will praise the mighty Name of Jesus

Praise the Lord, the Lifter of my head

Praise the Rock of my salvation

All my days are in his faithful hands.

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms