• My Hond se Fiets

    My Hond se Fiets

    Mossieman en sy boesemvriend Geronkie die Donkie sit en gesels onder die grootste vyeboom in die Vrystaat, net anderkant die pragtige myndorpie Virginia langs die magtige Sandrivier.

    “Mossieman,” vra Geronkie nuuskierig, “is dit waar dat Vrystaters die slimste ouens in die hele wêreld is?”

    “Natuurlik is dit waar Geronkie, ja,” antwoord Mossieman, terwyl hy ʼn reguit groen turksvy met sy krom skaapskêr afskil. ʺDie ouens in die Vrystaat is besonder slim. Gaaf en beleefd ook. En oorvriendelik.”

    “Oorvriendelik?” vra Geronkie verbaas.

    “Ja, ons Vrystaters is bekend daarvoor. Weet jy waarom Vrystaters so oud, slim en wys is, Geronkie?”

    “Nee, Mossieman, ek weet nie. Seker omdat julle eers jonk, dom en stout was?”

    “Geronkie, as jy nie dom en onverantwoordelike dinge doen as jy jonk is nie, het jy niks om oor te lag as jy oud is nie!”

    “Vertel vir my jou wolhaarstorie, Mossieman, “jy het nou my belangstelling geprikkel.”

    “Nou ja, dan moet ons wikkel voor slaaptyd,” vertel Mossieman. ”In die ou dae was daar nie baie water in die Vrystaat nie, ook nie baie melk nie. Toe leer ons die beeste om net poeiermelk te produseer, nie regte egte melk nie. Dan het ons die poeiermelk vir die Vrystaatse babatjies gegee om te drink.”

    “Maar dis sleg, Mossieman! Daardie arme babas kan mos nie net poeiermelk drink nie!” simpatiseer Geronkie met die babas.

    “Nee, dit is darem nie heeltemal sòo sleg nie,” knik Mossieman ernstig. “Ons het nooit nodig gehad om die babas se doeke om te ruil nie. Ons het hulle sommer afgestof!”

    “Afgestof?”

    “Ja, met ʼn verestoffer.”

    “Ag nee, Mossieman, nou jok jy darem. Niemand stof babas met verestoffers af nie. Net flodderkouse doen dit.”

    “Die Vrystaatse boere was nie net èffens slim nie,” vertel Mossieman lustig verder, “hulle was sommer bàie slim. So slim dat hulle piesangs met ʼn zip gekweek het.”

    “’n Zip? Wat is ʼn zip, Mossieman? Praat Afrikaans man, nie Frengels nie.”

    “ʼn Ritssluiter.”

    “Maar waarom ʼn ritssluiter, Mossieman?” vra Geronkie verwonderd.

    “Wel, Vrystaters is altyd haastig en honger. Ons kon die piesangs met ʼn ritssluiter baie vinniger afskil as gewone piesangs” sệ Mossieman, terwyl hy ʼn rooi appel met sy krom skaapskêr middeldeur sny.

    “Maar dit is nie al nie,“ korswil Mossieman. ʺDie Vrystaatse boere het waatlemoene gekweek met handvatsels aan.”

    “Ag-nee, Mossieman, sê Geronkie agterdogtig, “nou jòk jy darem dat die rook trek! In die Bybel staan dit duidelik dat jy nie mag jok nie!‘

    “Nee, dis is min of meer waar! Die waatlemoene het handvatsels gekry, sodat ons hulle makliker kon dra. Ons het ook turksvye gekweek sonder dorings.”

    “Turksvye? Of striksvye.”

    “Dit was maklik!  Ons het net die vye uit die turke gehaal en versigtig geëet dat die dorings ons nie steek nie.“

    “Vertel weer van die melk, Mossieman,“ vra Geronkie half-mismoedig, half-nuuskierig. “Jy kan mos nie ʼn koei  melk wat net poeiermelk produseer nie.”

    “Dit is baie maklik, Geronkie. In die Vrystaat het die koeie slingers aan!”

    “Praat jy nie nou van hulle sterte nie ?”

    “O, is dit wat hulle daai handvatsels noem? Ons het hulle sommer slingervelle genoem.”

    “Mossieman, jy jok darem nou verskriklik!”

    “Nee, nie regtig so baie nie, Geronkie,” sê Mossieman al kouende aan sy rooi appel. “Die waarheid maak seer en ek is nie ʼn ou wat baie lus is vir pyn nie.”

    Geronkie knik sedig sy kop. “Dit is waar wat jy sê, Mossieman. Vrystaters is regtig die slimste mense in die hele wêreld. Veral as dit kom by wolhaarstories vertel.”

    “Wel, dit is nie net die Vrystaters wat slim is nie, Geronkie. Ons honde is ook slim en besonder goed met fietsry. Een of twee van ons honde het die Rapporttoer voltooi.”

    “Honde wat fietsry!”

    “In die ou dae moes jy ʼn hondelisensie en ʼn fietsrylisensie in die Vrystaat aanskaf. Toe leer ons die honde om fiets te ry tot by die lisensiekantoor om sommer altwee lisensies gelyk aan te koop. 

    “Jy jok nou, Mossieman!”

    “Nee, regtig Geronkie! My wolhaarstorie is min of meer waar. Ons moes egter ophou om die honde te gebruik om hul eie lisensies by die lisensiekantoor te gaan aankoop.”

    “Waarom?”

    “Omdat party van daardie Vrystaatse honde skelm was! Hulle het kamtig lisensiekantoor toe gery, maar baie van hulle het net aanhou ry en nooit weer teruggekom nie. Party het heldhaftig oor die Oranjerivier gery, Kaapkelonie toe waar die Voortrekkers vandaan gekom het. Hulle het hond se gedagte gekry oor daardie lisensies. Ek dink nie hulle wou daai hondelisensies om hulle nekke dra nie.”

    “Al dra ʼn aap ʼn goue ring…”

    “Tjaa, Geronkie. Al ry Vrystaatse honde op hul fietse oor die Oranjerivier, bly hulle maar brakke.”

    “Ek het daardie storie al voorheen gehoor, Mossieman. Die meeste van daardie honde in die fietsrypeleton oor die Oranjerivier se voorouers het van Virginia en Welkom af gekom. Hulle was die legendariese poetsbakkers en streeptrekkers van Gouties se koskuis in die jare ’70.”

    “Nê!”

    “Jip. Ons het hulle koshuisbrakke genoem.”

    *

    Henning van Aswegen

    Henning van Aswegen lives in Gordon’s Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal Publishers, Imprimatur South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

  • Avo die Kerkhond

    Avo die Kerkhond

    Avo is ʼn spanjoel-hondjie met ʼn sagte rooibruin pels, lang ore en groot bruin oë wat in Gordonsbaai gewoon het. Eers in Pretoria, maar later in Gordonsbaai. Wanneer sy nie stout is nie, is sy die soetste hond in die hele wêreld. Avo is die vriendelikste hond ooit en as sy opgewonde raak, swaai haar stert van oor tot oor.

    Elke Sondag het Avo saam met haar huismense Gordonsbaai se kerk toe gegaan en mooi na die preek van dominee Jannie geluister. Meeste van die tyd het Avo onder die kerkbank tussen haar nooi se bene geslaap en net wakker geword as die Dominee Jannie oor die diere in die Bybel praat. Van al die dierestories in die Bybel het Avo die meeste van die storie van Jona en die groot vis gehou. Avo was baie bang dat so ʼn groot vis haar so vang en eet. Daarom was sy die soetste en gehoorsaamste hondjie in die hele wêreld, en het sy stil en op haar plek na die dominee se preek geluister.

    Die kerk was vir Avo tog te mooi en sy het alles met belangstelling bekyk: die geel en blou en groen geruite vensters, die diakens wat die rooi fluweel kollekte-sakkies ronddra sodat almal geld kan ingooi en die koor se mooi gesange. Avo het baie daarvan gehou wanneer die kerkklok lui en die gemeentelede Amen sing aan die einde van die diens. Avo was ʼn gereelde kerkganger en sy het naderhand al die mense in die kerk geken. Daar was die waardige Dominee Jannie met sy wit das, die grys oompie met sy groot maag wat altyd heel voor sit, Tannie Hilda wat altyd kollekte in Diaken Nelie se kollekte-sakkie gooi, en dan weer kleingeld neem en die Vrystater wat die kerkorretljie laat dreun. Tannie Hilda dink niemand sien haar nie, maar ek sien haar, dink Avo stilletjies.

    Eendag, toe Avo nog so onder die kerkbank lê en luister na Dominee Jannie se preek, voel sy iemand trek aan haar linkeroor. Avo het nie daarvan gehou dat iemand haar ore trek nie, dit kielie haar te veel. Dadelik het sy haar een oog oopgemaak om te loer wie aan haar oor trek, en dit terwyl sy slaap.

    Deur een skrefiesoog sien Avo vir Mys die Kerkmuis voor haar staan, manhaftig en braaf, met sy hande op sy sye.

    “Haai, brakkie!” sê Mys vies, “wat is jou naam en wat doen jy hier in my kerk?”

    Avo kyk verbaas na die manhaftige mannetjie wat so kordaat voor hom staan. ‘So ʼn  karnallie,’ dink Avo, ‘ek wonder of hy weet hoe klein hy is.’

    “Ek wil slaap,” gaap Avo en draai ongeërg op haar sy. “Los my uit.” Die kerk se vloer is lekker warm en Avo lê rustig en luister na die dominee se preek oor Jona en die groot vis. Avo se een oor lê plat op haar kop en haar ander oor staan regop om te luister – sy het lankal agtergekom dat ʼn goeie begryper soos sy net ‘n halwe oor nodig het.

    Net toe Avo weer rustig begin insluimer, trek iemand aan haar ander oor.

    ‘Wat nou weer?’ wonder Avo ergerlik.

    “Haai, brakkie, hoekom slaap jy in my kerk?” hoor sy Mys se klein stemmetjie piep.

    Avo maak stadig haar een oog oop en hou die ander een toe. In tye soos hierdie is dit onnodig om altwee oë oop te maak, jy mors net energie.

    ‘Ek slaap, los my uit!’ mor Avo vies.

    “Jy lyk of jy in ‘n besonder slegte bui is hondjie, befoeterd. Het ‘n vlooi oor jou lewer geloop?” Mys die Kerkmuis staan manhaftig nader en trek weer aan Avo se oor. “Luister hondjie, jy slaap nie in my kerk nie. Hier moet jy wakker en kiertsregop bly.”

    “Sê wie?”

    “Sê ek,” antwoord Mys die Muis astrant. “Ek is die dominee se assistent en ek maak seker niemand slaap in die kerk nie.  Ek is kerkmuis en ek woon in Gordonsbaai se mooiste kerk.”

    “Ek is ʼn hond,” sê Avo vakerig en keer met haar poot ʼn weg. “Ek kan mos slaap waar ek wil.”

    “Nie in my kerk nie, woefie!” Mys die Kerkmuis trek heldhaftig Avo se een oor en met sy ander poot begin hy Avo se stert trek.

    Avo maak hierdie keer altwee haar oë oop en loer met haar een oog na die stout Kerkmuis. Met haar ander oog sien sy hoe Diaken Nelie in die gangetjie afkom met die rooi fluweel kollekte-sakkie. ‘Die sakkie lyk nogal diep,’ dink Avo, ‘seker dat mense geld kan insit en niks weer kan uithaal nie.’

    “Haai!” sê Mys en trek weer aan Avo se stert.

    “Kerkmuis!,” grom Avo, nou sommer lekker vies. “As jy my nie nou uitlos dat ek kan slaap nie, gaan ek jou iets vreesliks aandoen. Ek wil slaap, los my nou uit, japsnoet! Hoor jy my?”

    Mys die Muis luister glad nie en trek hierdie keer aan Avo se stert.

    ‘Klingel, klingel!’ hoor Avo hoe die diaken Nelie met haar kollekte-sakkie in die gangetjie afkom.

    “Mys, ek waarsku jou nou vir die laaste keer, los my uit! Ek gaan jou tjank aftrap!”

    Mys lag vermakerig en steek weer sy pootjie uit om aan Avo se oor te trek.

    Voor Muis boe of ba kon sê, gryp Avo vir Mys die kerkmuis aan sy stert en gooi hom tjoef-tjaf binne in diaken Nelie se kollekte-sakkie.

    “Help! Help!” piep Mys verskrik, maar die sakkie is so diep en donker dat niemand hom hoor nie.  Die orreltjie het ook intussen begin kliphard speel, sodat niemand vir Mys die Kerkmuis onder in die sakke kon hoor nie. Diaken Nelie wis van niks en gaan rustig voort om die kollekte in die kerk op te neem. Arme Mys sit onder in die kollekte-sakkie vas, en so nou en dan land ʼn muntstuk op sy kop.

    “Help!” skree hy binne in die sakkie, maar niemand hoor hom nie. Avo staan doodluiters op en gaap lank en lekker, heerlik uitgeslaap. Stadig loop sy in die gangetjie af na die voordeur toe om solank vir haar nooi Belinda te wag totdat die gemeentelede amen sing en die diens verby is.

    Ewe skielik hoor Avo ʼn onaardse gegil binne in die kerk, ʼn vreeslike kreet iewers tussen  ʼn kat se gemaauw en ʼn kanonskoot. Skielik kom Tannie Hilletjie soos ʼn weerligstaal by die deur van die kerk uitgehardloop. Sy hardloop vreesbevange die straat af, jy sien net rokspante en kerkhoede en gesangeboeke in alle rigtings trek. Al die gemeentelede kom agterna uit die kerk om die petalje te aanskou, party lag en ander fluister ondeund vir mekaar.

    “Maar wat het dan nou gebeur?” ʼn nuuskierige gemeentlid vir Dominee Jannie wat verbaas buite die kerkdeur staan.

    “Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie, broer,” sê Dominee Jannie verbaas. “Al wat ek weet, is dat Tannie Hilletjie deur al die jare vyf sent in die kollekte-sakkie sit, dan vat sy vir haar bietjie kleingeld terug. Ek weet regtig nie wat vandag met Tannie Hilletjie gebeur het nie, maar ek moet vir julle sê, broers en susters, ek het nog nooit so ʼn vreeslike kreet in die kerk gehoor nie.”

    Die diaken draai vervaart na Dminee Jannie toe en vryf oor sy bleskop. “Ek wonder wat was onder in daardie kollekte-sakkie, dominee? ʼn Spinnekop?”

    “Ek weet nie,” skud Dominee Jannie sy kop. “Wanneer laas het julle vir Mys die Kerkmuis gesien?”

    Avo die slim kerkhond staan by die deur van die kerk en lag lekker in haar halsband.  ‘Yip,’ dink sy tevrede en maak haar oë salig toe, ‘dit sal daai kerkmuis leer om my oggendslapie te onderbreek. Al was dit nou in die kerk.’

    *

  • Dino Sourus

    Dino Sourus

    Topsie en Dino Sourus

    Topsie was ‘n avontuurlustige klein dogtertjie met lang vlegsels wat in die pragtige see-dorpie, Gordonsbaai gewoon het. Topsie het daarvan gehou om met haar poppe te speel, bottelproppe en mooi klippe bymekaar te maak en stories oor die see te lees. Sy het die meeste van swem gehou en elke dag, net voor die son sak, het sy met haar rooi snorkel en paddavoete afgesit na Gordonsbaai se hoofstrand toe. Daar het Topsie met haar tone in die warm seesand gevroetel, skulpe opgetel en in die water te baljaar. Te lekker.

    Die see in Gordonsbaai is nie baie diep nie en Topsie kon elke dag nuwe dinge onder die water ontdek. Onder in die see was ‘n wonderwêreld van seediere en klein vissies, krappe wat ronddskarrel en probeer wegkruip, klippies wat deur die branders rondgerol word en baie mossels. Dit was vir Topsie die heerlikste ding om borrels onder die water uit te blaas, en dan te kyk hoe hulle stadig draai-draai na die oppervlakte toe.

    Eendag, toe Topsie nog so lekker met haar  snorkel in die branders rondbaljaar, sien sy ‘n skaduwee en ‘n enorme gestalte onder die water. Topsie se oë het al hoe meer gerek toe sy die grote, lompe dier in die water sien. Sy pote het aan die bodem van die see geraak en sy kop het amper-amper bokant die branders uitgesteek. Sy tamaaie stert het van kant tot kant geswaai en daar het baie ronde borrels by sy groot blou neusgate uitgestroom. Topsie het mooi gekyk, maar die enorme gedierte het vir haar meer vriendelik as vreesaanjaend gelyk.

    “Wat maak jy hier onder die water?’ vra Topsie nuuskierig vir die vreemde dier, wat haar met sy groot wit oë aankyk. Hy lyk darem nie té onvriendelik nie, dink sy, hy swaai darem stert rond. “Wie is jy? En waarom swem jy hier onder die water rond?” Topsie is onmiddellik spyt oor haar ondeurdagte vraag, want dit is nogal moeilik op bo-op die water te swem, sonder om nat te word.

    Die groot blou dierasie draai stadig om en loer na Topsie. Topsie is nie bang nie, maar sy maak haar oë effens skrefies-toe en hoop dat die tamaaie kolos sal wegswem. Maar toe sy haar oë weer oopmaak en ‘n paar keer knip, staan hy reg voor haar en watertrap

    “Ek is ‘n dinosourus,” beantwoord hy Topsie se groet vriendelik. “My naam is Dino en my van is Sourus. Ek leer die visse swem.”

    “Wàáááát?!” Topsie kan haar ore nie glo nie en draai haar rooi snorkel ‘n paar keer in die rondte om beter te kan hoor. “’n Dinosourus! Wat visse onder in die see leer swem? Ek glo jou nie!”

    “Ja,” antwoord Dino en swaai sy stert. “Ek swem nogal goed en Koning Neptune van die See het my gevra om ‘n paar vissies swemlesse te gee.”

    “Regtig? Waarom?”

    “Want hulle sukkel, Topsie. Party swem skeef, of agteruit en hul ma’s en pa’s is bang dat hulle gaan vedrink. Of nog erger, dat die seestrome hulle Antartika toe gaan wegspoel.”

    Dino demonstreer so ‘n paar swemhale met sy groot pote. “Ek is regtig nie so lomp as wat ek lyk nie. Ek swem baie goed, vorentoe en agtertoe.”

    Topsie kyk verstom na al die klein vissies en seeperdjies wat in die rondte al om Dino swem. Sy het nog nooit van ‘n dinosaurus gehoor wat kan swem nie en sy sukkel om haar verbasing weg te steek. Om die waarheid te sê, Topsie is nogal skepties oor Dino se storie. Sy is nie heeltemal oortuig dat hy ‘n goeie swemafrigter is nie en wonder waarom die vissies nie in die skool is nie.

    “Watter soort swem? vra sy vrypostig. “Vryslag, vlinderlag, borslag of rugslag?”

    “Ek weet nie,” sug Dino mismoedig. “Koning Neptune het net gevra ek moet hulle leer swem. Al die vissies is nie ewe bedrewe in die water nie en hulle ma’s en pa’s weet ook nie altyd hoe nie. Maar hy het niks gesê van agteruit swem soos rugslag nie, of om soos skoenlappers vlinderslag te doen nie.”

    “Ek kan baie goed swem,” spog Topsie ‘n bietjie. “Dit is waarom ek in die see kan swem, met my paddavoete en my snorkel. Ek sal jou help, Dino, om die vissies te leer swem. As jy wil.”

    “Wat moet ons doen, Topsie? Sê net, dan doen ons dit. Al die vissies sal vir jou luister. Ek ook.”

    “Nou goed. Wat is jou grootste uitdaging, wat is jou grootste probleem?”

    Dino Sourus dink ‘n bietjie en krap sy groot ore met sy poot. “Die meeste van die klein vissies swem skeef-agteruit. In tru-rat. Ons moet hulle leer om vorentoe te swem.”

    “Laat hulle almal in ‘n ry op die bodem van die see staan, Dino. Mooi in gelid, ‘n reguit ry. Dan wys ons hulle wat om te doen.”

    “Aitsa! Dankie Topsie! Kom ons probeer.”

    Dino swaai sy tamaaie stert en blaas ‘n groot klomp borrels deur sy neusgate en een-twee-drie, staan al die vissies in ‘n ry op die bodem van die see. Mooi in gelid. Soos ‘n wafferse trompoppie-samajoor swem Topsie op en af om die vissies en seeperdjies te inspekteer. Al die vissies lyk flink uit die vere en loer verwondeerd met hulle ronde vis-ogies na Topsie. Hulle het nog nooit ‘n rooi snorkel gesien nie en ook nie paddavoete nie. Behalwe vir die paddas wat hulle gesien swem het met voete aan. Hulle het net nog nooit ooit ‘n vlegsel-meisiekind met paddavoete sien swem nie.

    Tevrede met wat sy sien, swem Topsie met ‘n Kaapse draai terug na Dino toe. “Ek weet wat om te doen, Dino. Kom help my met die afrigting.”

    “Nou ja,” almal gereed! Op julle merke! Gereed? Swaai julle arms al in die rondte!”

    “Uggm,” kug Dino saggies vir Topsie onder die water. “Vissies het nie arms nie, Topsie. Hulle het vinne. En kiewe.”

    “O! Ja! Jammer Dino, ek het vergeet. Kom ons probeer weer. Swaai julle vinne al in die rondte!”

    Al die vissies swaai hulle vinnne fluks in die rondte, party sò vinnig dat hulle amper wegspoel.

    “Wikkel julle sterte!”

    Al die vissies wikkel hulle sterte flink, eers op en af, toe links en regs.

    “Flap julle kiewe!”

    Al die vissies giggel en flap hulle kiewe dat die water spat. Dino kyk verwonderd na die vissies wat hulle gate uit geniet.

    “Reg so! Nou, al drie goeters gelyk! Swaai julle vinne in die rondte! Wikkel julle sterte! Flap julle kiewe! Almal gelyk!”

    Mens sien net borrels en water in alle rigting spat, soos die vissies hul kiewe en vinne wikkel en met hul wikkelsterte baljaar. Toe die watermallemeule bedaar en die borrels bars en die woelige water weer kalm raak, kyk Dino Sourus en Topsie verbaas om hulle rond. Al die vissies is weg. Hulle het heeltemal verdwyn! Party het weggeswem en die ander het weggespoel. Hulle kyk angstig in die water rond, maar sien nie ‘n enkele vissie nie.

    “Waar is hulle almal heen, Topsie? vra Dino benoud. “Wat het dan gebeur?”

    Topsie is baie tevrede met haar resultate as swemafrigter. Sy het woerts-warts, binne ‘n japtrap, al die vissies leer swem en boonop ‘n groot vriend van Dino Sourus gemaak.

    “Ek dink hulle het huistoe geswem, Dino.” Topsie wikkel haar paddavoete en blaas ‘n paar groot windborrels deur haar rooi snorkel. “As ons hulle weer sien swem, gaan daar sommer ‘n hele skool vissies wees. Totsiens, Dino. Tot volgende keer, meneer. Ek moet laat spat, patat, alles van die beste tot die sesde, laat wiel kokketiel!”

    “Dankie dat jy die visse leer swem het, Topsie! Mooi loop! Ek bedoel, mooi swem, Topsie! As jy weer kom, gaan ons die seekatte leer spin, die klaredyne leer dans en die krappe leer om reguit te loop. Totsiens Topsie! Mooi loop. Ek bedoel mooi swem!”

    **

  • Die Towerfeetjies

    Die Towerfeetjies

    Het julle al ooit van die Bloembos en die Feekoningin se kasteel gehoor?

    Bloemfontein se bos is misterieus en mistig en doodstil – ʼn geheimsinnige plek  waar kabouters en feetjies bly. Die feetjies woon diep in die digte woud, onder die bome, in die varings agter die berge en klowe, naby ʼn kabbelende waterstroom. Al die feetjies bly daar – die mooiste en fraaiste feetjies wat jy al ooit gesien het. Van die feetjies is só klein dat jy hulle amper-amper nie raaksien nie.

    Eenkeer per jaar, net na die lentereën, kom al die kabouters en feetjies bymekaar om  karnaval te hou – die Feekoningin se reënfees. Die reënfees is wanneer al die kabouters toertjies doen en die feetjies hul toorstokkies al in die rondte swaai. Die dwergies en elfies is ook uitgenooi, want hulle probeer altyd beter dans en sing as die feetjies en kabouters. Al die inwonertjies van die bos is elke jaar baie opgewonde oor die reënfees, omdat die kabouter en die feetjie wat die heel beste toertjie doen, ʼn klapsoen van die Feekoningin ontvang. Boonop kry die dwergie of elfie wat die mooiste sing en dans, twee klapsoene!

    Twee van die kleinste en jongste feetjies, Lente en Somer, was baie opgewonde om na die reënfees toe te gaan. Hulle het maande voor die tyd begin voorberei en planne beraam. Lente en Somer het hulle tande geborsel, hul hare gekam, hul rokkies mooi gewas en stryk en mooi pienk linte in hul hare gebind.

    “Het jy gehoor, Somer, hierdie jaar kom daar miskien twee beroemde gaste na die reënfees toe?”

    “Nee! Rêrig? Wie is dit? Ek kan nie wag om te sien nie. Weet jy dalk wie dit is?”

    “Ek weet nie regtig nie” fluister Lente, “maar ek het iets gehoor. ʼn Geruggie.” 

    “Wie, Lente, wie? Komaan, vertel my! Wat het jy gehoor,” por Somer haar maatjie  opgewonde aan.

    Lente loer geheimsinnig rond om te sien of iemand hulle afluister. Sy hou haar een hand bak en steek die ander een agter haar rug weg om beter te fluister. “Een van die kabouters het my vertel, maar ek weet nie of dit die waarheid is nie. Ek het gehoor dat Aspoestertjie en Sneeuwitjie miskien by die Feekonigin se reënfees gaan wees! As spesiale, uitgenooide eregaste!”

    Somer snak haar asem skoon weg. Aspoestertjie en Sneeuwitjie! Dit klink té goed om waar te wees. Opgewonde klap sy haar hande saam en maak ʼn paar bokspringe in die lug. “Yipeee…” jubel sy; “Aspoestertjie en Sneeuwitjie!”     

    “Ek kan nie wag nie, Somer,” gesels Lente opgewonde. “Ons heldinne! Vandat ons klein dogtertjie-feetjies is! Ek kan nie wag om hulle te ontmoet nie. Ek dink hulle hare gaan so mooi wees. Om nie eers te praat van hulle pragtige rokke nie! Ek kan nie wag om hulle te sien nie!”

    Nie te lank nie, of die groot dag breek aan. Die dag van die Feekoninging se reënfees! Lente en Somer haas hulle aan die onderpunt van die bos en huppel met die kabbelende waterstroompie langs, tot naby die Feekoningin se kasteel. Hulle het pragtige pienk linte in hul hare gebind om by hulle fraaie rokkies te pas. Altwee dra hul mooiste blink skoene om by die reënfees mee te trippe-trappe-trone. “Kom Somer, maak gou! Ons gaan laat wees!”

    Uiteindelik kom Lente en Somer by die Feekonging se pragtige kasteel aan. Die kasteel is mooi en rooi, pienk en blou en oranje, met torings van dorings en groen vlae wat in die windjie wapper. Oral is daar kabouters wat dans, harlekyne met spreuke en gedigte en ryme, fraaie feetjies met strikke in hulle hare en dwergies met punthoedjies en krom bene. Al die elfies sing en dans in die rondte – die vrolike musiek weergalm deur die bome en blare en kabbel langs die waterstroompie langs. Lente en Somer vergaap hulle aan die kabouters se manewales en elke keer as die toeskouers juig, klap hulle opgewonde saam hande. Die hele middag hou die feetjies en kabouters fees, hulle dans sing op die viooltjie-orkes se mooiste deuntjies en wysies. Die verkleurmannetjies op die boomstompe verander hul kleure en selfs die voëltjies in die bome kwetter saam.    

    Toe dit skemer raak, daal daar ewe skielik ʼn groot stilte oor die Bloembos neer. Al die kabouters en elfies loer nuuskierig na die onderpunt van die berg om beter te kan sien. Eers hoor Lente en Somer ʼn sagte klop-klop van perde se hoewe en die klap-klap van  die koetsier se sweep. Toe, ewe skielik, sien hulle ʼn pragtige goue koets deur die bome aankom. Ses sierlike wit perde trek die goue koets en orals vlieg vuurvliegies rond om hul liggies op die pad te skyn.

    “Gedoriewaar,” se een van die dwergies deur sy wit baard. “Kyk net daar!”

    Uiteindelik hou die pragtige koets voor die kasteel se swierige swart traliehekke stil. Die ses wit koetsperde se maanhare wapper in die maanlig en die koets se lampe skyn helder deur die skemer. Die vuurvliegies doen diens as lakeie en vlieg oral rond sodat al die kabouters en feetjies beter kan sien wat gebeur.

    “Lente,” fluister Somer opgewonde, “ek is seker dit is hulle! Dit is Aspoestertjie en Sneeuwitjie in daardie die koets! Dit moet hulle wees!” Die twee klein feetjies skuifel groot-oog nader om beter te kan sien.

    Die ses wit koetsperde draf sierlik deur die hek, tot voor die kasteel se deure en hou stil. Toe verskyn die Feëkongin en stap na die koets toe. Die vuurvliegie-lakeie maak die koetsdeure oop en ewe skielik staan hulle daar – Aspoestertjie en Sneeuwitjie!”

    “Kyk, hulle hou hande vas! Net soos ons, Somer! Hulle is beste vriendinne!”

    “Kyk hoe mooi is hulle rokke! En die linte in hulle hare is te fraai vir woorde. Ag, hulle is pragtig!”

    Stadige en elegant draai Aspoestertjie en Sneeuwitjie in die rondte, sodat die skare kabouters en dwergies en feetjies hul beter kan sien. Net soos die koningin van Skeba, waai hulle elegant met hulle hande vir almal en glimlag toe die skare juig.

    Ai, Lente,” sug Somer. “Hulle is te mooi vir woorde. Dit is net soos ʼn sprokie!”

    “Ek het hulle met my eie oë gesien, Somer. Anders sou ek dit nooit geglo het nie. Aspoestertjie en Sneeuwitjie het regtig vir die Feekoningin en vir ons kom kuier!”

    “Weet jy wat, Somer? Omdat Aspoestertjie en Sneeuwitjie in ons woud kom kuier het, is die reënfees nou ʼn seënfees!”

    “Die reënfees is ʼn seënfees!” jil al die kabouters luidkeels en dans al in die rondte met hul krom bene. “Die reënfees is ʼn seënfees!” skree die dwergies saam en hulle spring op en af dat die water spat. “Die reënfees is nou ʼn seënfees!” sing al die feetjies en vang die reëndruppels in hul sambreeltjies. Selfs die koetsperde voer ʼn paar danspassies uit en wuif met hul sterte.

    Kort voor lank sing en dans al die diere van Bloemfontein se bos saam met Lente en Somer voor die Feekoningin se kasteel. Net voor die feetjies en kabouters hul oë kan uitvee, staan Aspoestertjie en Sneeuwitjie langs hulle in die reën. “Dit lyk so lekker, kan ons saamdans?” 

    “Natuurlik!” jil Lente van pure plesier en gryp Sneeuwitjie se hande. Somer laat nie op haar wag nie en begin sommer lekker met Aspoestertjie te dans. Die Feekoningin glimlag en klap vir hulle hande. Gou maak al die kabouters en feetjies en elfies en dwergies ʼn kring om Lente en Somer en Aspoestertjie en Sneeuwitjie. Hulle sing dat die berge antwoord gee en dans en dans, al in die rondte, al in die rondte.

    “Die reënfees is ʼn seënfees,” lag die Feekoningin. “Te pragtig vir woorde. Net soos ʼn sprokie.”  

    *

  • Fleurie, die Optelkatjie

    Fleurie, die Optelkatjie

    Fleurie, die optelkatjie. Gebasseer op ‘n ware verhaal.

    Fleurie was ʼn optelkatjie, ʼn meisie-kat met groot groen oë en lang wimpers en ʼn sagte meeaaw, wat eens op ʼn tyd by wrede mense gewoon het.

    Fleurie was ʼn verwaarloosde katjie, omdat die mense wat vir haar moes sorg, nie meer vir haar kos of water gegee het nie. In die yskoue Pretoria-winter, het Fleurie se huismense haar buite die huis laat slaap, en haar nie in ʼn warm kombersie toegevou nie. Fleurie het op ʼn bevrore vloer geslaap, en moes haar lyfie styf opkrul net om bietjie warm te kry. In die winter is dit bibberkoud in Pretoria en die temperatuur daal elke nag tot onder vriespunt. Dit is ysig koud en nat vir ‘n katjie wat buite moes slaap, en daar was niks om Fleurie se lyf bietjie warm te maak nie.

    “Ons gaan nou weg,” het die nare man wat vir Fleurie moes sorg, vir sy vrou gesê. “Fleurie moet hier bly en self regkom, sy moet maar muise vang as sy honger word. Sy is op haar eie, ons gaan nie meer vir haar sorg nie. Ons gee ook nie meer om nie. Kom ons ry.”

    “Maar Fleurie is te klein om muise te vang! Die meeste van die muise is groter as sy. Sy is boonop ʼn meisiekat,” het die vrou bekommerd geantwoord.

    “Dit is nou maar jammer vir Fleurie, sy moet self oorleef. Ons kan nie langer vir haar sorg nie, sy moet van nou af vir haarself sorg.”

    “Ons kan nie net vir Fleurie so los nie,” protesteer die vrou, “sy sal doodgaan van die honger, en die kwaai honde in die woonbuurt gaan haar jaag. Sy is te klein om vir haarself te sorg.”

    “Klim in die motor, vrou,” het die nare man nors gesȇ. “Ons moet ry, ons het nie meer tyd vir Fleurie se kattekwaad nie.”

    Die wrede, onsimpatieke man en sy vrou het weggery en klein Fleurie het alleen agtergebly in die reën. Daar was niemand om vir Fleurie te sorg nie, niemand om haar te help as sy koud kry of honger word nie. Klein Fleurie was alleen en baie bang vir die donker en die gulsige honde wat haar elke dag byt. Fleurie het nie geweet wat om te doen nie, sy kon nêrens kos kry nie en sy het gebibber van die koue. Sy het al hoe maerder geword en baie gewig verloor, naderhand het net haar ribbetjies uitgesteek. Sy was die hele tyd bang en het weggekruip sodat die groot honde haar nie kon jaag nie. Die honde se tande was so skerp soos dorings en elke keer as hulle klein Fleurie sien, het hulle haar gebyt en klossies hare uit haar gehap.

    Toe kom daar eendag ʼn pragtige feëkoningin by Fleurie se huisie verby en sy sien die klein katjie onder ʼn struik wegkruip. Die feëkoningin se onderdane het haar Bee genoem, soos heuningby en sy het ʼn groot goue koets gehad, met baie perde en knegte en wagte wat langsaan geloop het. Die perde was fors en dapper en die knegte moes versigtig loop om nie onder hul groot hoewe te beland nie.

    “STOP! Stop die koets,” beveel die feëkoningin en haar knegte bring die hele stoet tot stilstand. Fluks bring die koetsier ʼn goue voetstoeltjie, sodat die feëkoningin nie met haar goue fluweelskoene in die modder en water hoef te trap nie. Stadig en statig het die feëkoningin nader gekom en voor klein Fleurie gaan buk. Fleurie was baie bang en het onder die struik weggekruip, net haar stertjie het uitgesteek.

    Fleurie het gebewe van vrees en eers wou sy nie gehad het dat die feëkoningin haar raaksien, of aan haar raak nie. Sy het gebibber en was papsopnat, maar die Feëkoningin het haar nietemin opgetel en saggies met haar begin praat.

    “Waarom is jy so koud en nat, klein katjie?” wou die feëkoningin besorg by Fleurie weet. “Waarom is jy so maer? Waar is die mense wat in hierdie ou donker huis gebly het en vir jou moes sorg?  Waarom is jy so bang? Waar is jou mense?”

    Maar Fleurie het nie geantwoord nie en net saggies in die feëkoningin se warm arms gelê. Sy was te bang om te roer en bang dat iemand weer met haar sal raas. Vir die eerste keer in jare het Fleurie veilig gevoel en dankbaar dat iemand met warm hande haar troetel en beskerm.

    Die feëkoningin se knegte en wagte het begin ongeduldig raak. Hulle wou hê die feëkoningin moes weer in haar koets klim, want die paleis was nog vȇr. “Koningin, ons moet ry,’ sê hulle. “Los die kat uit, ons moet ry, die paleis is nog baie vêr.”

    “Goed, ons kan ry,” sê die feëkoningin geduldig, “maar die katjie kom saam. Ons gaan haar nie hier los nie. Kyk net hoe maer en bang is sy.”

    “Maar koningin,” kla die wagte en knegte, “wat gaan ons met so ʼn klein katjie in die grote paleis doen?”

    Koningin Bee was nie net  gewone koningin nie, sy was ook goedhartig en beleefd met mense. Sy was ʼn koningin van harte, omdat sy vir mense en diere omgegee het.

    “Nou maar goed, as julle dan daarop aandring, gee ons vir Fleurie ʼn werk in die kasteel. ʼn Taak wat sy elke dag kan doen om haar kos en water en veilige losies in die kasteel te verdien. Ons gee vir haar die verantwoordelikheid om muise in die kasteel te vang. Fleurie kan die kasteel se amptelike en formele muisvanger word!”

    “Maar feëkoningin, daar is nie muise in jou kasteel nie” protesteer die diensknegte. “Die kasteel is silwerskoon, daar is niks ongediertes daar nie – nie eers een muis vir Fleurie om te vang nie. Fleurie gaan net elke dag in die son lê en niks doen nie. Buitendien, katte slaap die meeste van die tyd.”

    “Aha,” glimlag die goedhartige feëkoningin tevrede, toe Fleurie saam met haar terug in haar goue koets klim. Sy troetel klein Fleurie op haar skoot, maak vir Fleurie met ʼn handdoek droog en borsel haar hare totdat sy van bo tot onder blink. “Nou verstaan julle. Van nou af gaan Fleurie in die kasteel bly en in die son lê, net wanneer sy wil. Wanneer sy op haar snoesige kombersie lê en slaap, mag julle haar nie steur nie. Sorg dat sy baie kos en water het en elke dag in die tuin van die kasteel kan wandel, net soos ʼn eregas. Pas haar op en beskerm haar met julle lewens, net soos julle my beskerm en sorg dat sy nooit weer koud of alleen of nat word nie. Van nou af gaan ons almal sorg dat Fleurie die gelukkigste katjie ooit word, omdat sy spesiaal is. Alle diere is spesiaal.”

    Van daardie dag af het klein Fleurie in die feëkoningin se kasteel gewoon, gelukkig en tevrede, die oulikste klein katjie in die hele wêreld. En van daardie dag af was die goedhartige feëkoningin Bee nie alleen ʼn koningin van mense nie, maar ook van diere.

    *

  • Ouderdom is nie vir Kinders nie

    Ouderdom is nie vir Kinders nie

    Ouderdom pla my nie eintlik nie, net die newe-effekte krap ‘n bietjie waar dit nie juk nie.

    Ek het ‘n paar planne om ouderdom die hoof te bied, vir ‘n ses te slaan, sy stroppie net bokant sy kroppie af te ruk, die vonkie in sy stronkie te blus. Die probleem met ouderdom is, niemand gee jou genoeg tyd om daarvoor te oefen nie. Voor jy jou oë uitvee is jy sestig en dan moet jy maar self oor die weg kom.

    Eerste ding wat jy moet doen as jy en jou eggenote vir ‘n aandjie uitgaan (dit beteken julle ry net na vyf uur), is om haar te herinner om julle name te onthou. Jy moet onthou waar julle bly. So kom julle weer veilig tuis na ‘n aandjie waar julle die stad rooi geverf het. Dit beteken so agt-dertig en nege-dertig is julle salig in die kooi.

    Die eerste honderd jaar van ouderdom is die moeilikste, daarna raak jy gewoond daaraan. Koffie help met hierdie proses, sodat jy krag en energie het om dinge in hierdie ou wêreld nog te verander. Wyn help om dinge wat jy nie meer kan verander nie, gelate te aanvaar. As jy sukkel om hierdie idee, maak die woordjie ‘enjin’ jou mantra vir moeilike tye. Soos, drink koffie, wyn, enjin (nie terselfdertyd nie en verkieslik Pimms met bietjie tonikum by). Ek het altyd gedink wyn is sleg vir jou, totdat ek ophou dink het daaroor, omdat te veel dink nie goed is vir jou nie. Die ouens in die Bybel het baie wyn gedrink en kyk, Israel staan vandag nog kiertsregop om Amerika se ruggraat te vorm.

    Ek het eens op ‘n tyd gedink ek is verkeerd oor ouderdom, maar ek verbeel my ek het my misgis. Ek het ook besef dat ek so met die ouderdom saam bietjie gewig opgetel het en dat my broeke al hoe kleiner raak. Ek kan daai ekstra gewiggies maklik verloor, maar ek is nie ʼn maklike verloorder nie, nou los ek dit maar vir dinge wat regtig in die lewe saakmaak. Soos om jonk dood te gaan, so laat in jou lewe as moontlik. En om seker te maak dat as jy die dag doodgaan, jy net een rand in jou rekening oor het. Net omdat jy bietjie sukkel, beteken nie dat jy reeds omgeval het en asem uitgeblaas het nie.

    My enigste, laaste raad oor ouderdom is dat jy jou lewe so moet lei dat die dominee nie op jou begrafnis hoef te staan en jok nie. Moet ook nie ophou nuwe vriende soek nie, soek mense wat net so ongebonde en ergehumeurd soos jy self is, met min of meer dieselfde versteurings en afwykings. Moenie na vriende soek wat net so aangenaam en liefdevol is nie, soek na eksentrieke ouens met ‘n skroef los – hulle maak jou laaste jare op aarde veel interessanter. En as jy nou regtig by jou laaste russtasie inboek en jy weet jy kom nie weer daaruit nie, skryf Episkopaalse-Shintoïs onder kerkverband in en R-positief by bloedgroep. Niemand weet wat dit beteken nie en dit is nogal sports om te sien hoe die nursies rondhardloop om te probeer verstaan wat aangaan. Die nursies weet nie of hulle jou dominee of jou paroolbeampte moet bel nie. Daardie onsekerheid in mense se oë oor jou geestesgesondheid en verstandelike vermoë, is nogal pret om dop te hou.

    Ek het besluit om definitief nie in ‘n hospitaal of ouetehuiskamertjie dood te gaan nie. Wie wil nou sy laaste gesang saam met ‘n Episkopaalse-Shintoïstiese prediker sing? As dit vir julle lyk of die liggie besig is om te verdoof, trek dan net vir my my Speedo aan, en my swembril en huur ‘n bootjie. Groet my op die kaai, en gee dan die skipper opdrag om my so honderd kilometer die see in van die bootjie af te stamp Sy laaste woorde moet wees: “Swem, Henning, swem!” Honderd kilometer, nê. Nie vyftig nie – ‘I may just make it back’ en dit kan ons nie toelaat nie.

    Derde plek is ook reg so

    Baie ouens het my al die grappie vertel van die eerste perd wat derde gekom het en veroorsaak dat ek maar later berusting gevind het by die grappie. So is die ouderdom maar, jy besluit of jy gelukkig wil doodgaan, of nie. Dieselfde baie ouens het my altyd gevra waarom ek so hard vir Comrades en Ysterman oefen. Hulle het nooit verstaan dat mens darem in redelik goeie kondisie in die hemel moet aankom nie. En as dit nou dônner en blits en reën op die dag van jou begrafnis, kan almal kop skud en vir mekaar sê – ja, swaer. Dit lyk my daai knorrige ou oom het nou net daarbo aangekom.

  • Mint Imperials in die Ronde Kerk

    Mint Imperials in die Ronde Kerk

    Mint Imperials in die ronde kerk

    Jare vanmelewe in 1972 moes koshuiskinders in die Vrystaat elke Sondag en elke Pinkster kerk toe gaan. Calvinisties lojaal en dogmaties getrou. Elke liewe diens. As daar ‘n kerkdiens, biduur, belydenis, besnydenis, busdiens, pinksterdiens, doop, troue, katkesasie, katagèse, kinderkransdans, broederkring, kerkraadsvergadering òf begrafnis was, moes Goudveld se koshuisbrakke na Welkom se Ronde Kerk toe stap om die kerkbanke vol te maak. En bewaar jou kindersielietjie as jy nie opdaag nie, òf ‘n verskoning probeer fabriseer of nog erger, nie kollekte in jou broeksakke het om in die winkende groen bordjie te gooi nie.

    Die swartdas-diakens by die Ronde Kerk was benepe-streng en het die kerkdeure strenger bewaak as die glaskas by die Vrystaat-stadion, waarin die Curriebeker (amper) elke jaar staan. Die kwaai diakens het net die kinders wat genoeg kollekte gehad het, by die swaar houtdeure laat ingaan. Hulle kon jou net een kyk gee om te wèèt hoeveel kollektegeld jy in jou sak het. Die res van die Goutie-koshuisbrakke moes op die trappe staan en diens doen as sakkerollers. Eers as ons genoeg geld gehad het, kon ons ingaan en vollebors saamsing aan al die Pinkster psalms en gesange.

    Die moelikheid het daardie 1972-Pinksteraand lank voor die diens begin, toe Danie en Makou so agter in die rye stap, omdat Makou haar enkel geswik het en sy stadiger as die res van die kinders moes loop. Plàtjie wat hy is, kon Leon hom nie weerhou om Makou se siel uit te trek nie. “Jy loop dan met die verkeerde been kruppel, Makou” en daar lag die hele lotjie koshuiskinders onbedaarlik nog vòòrdat die kerkdiens begin het.

    Die ronde kerk in Welkom hou twee kollektes gedurende die Pinksterdienste, een keer vir boetedoening en die tweede keer om paaiemente op die dominee se Mercedes Benz af te betaal. Elke klipharde houtbankie kon so twintig boude huisves, almal kiertsregop om na die dominee te luister. Almal was gereed om hulle swaarverdiende kollekte te oorhandig. Die kerkdienste destyds in die Vrystaat was almal so uur en ‘n half lank, vir ‘n aandag-afleibare koshuiskind ‘n ewigheid. ‘n Vervelige, uitgestrekte nimmereindigende verbale marteling. Jy moes hare op jou tande hê om wakker te bly en ‘n goeie Christenkind te bly.

    Gàtjieponders in die Vrystaat weet goed dat dit met-die-dood strafbaar is om te loer hoeveel geld die gelowige langs jou in die groen kollektebordjie gooi. Maar koshuiskinders is slim en skelm-kreatief. Hulle het die fyn kuns ontwikkel om een oog reguit vorentoe op die dominee te hou, terwyl die ander oog lateraal draai om te kyk hoeveel geld die kind langs jou op die groen bordjie deponeer.

    Een van die koshuismeisietjies aan die begin van die lang ry het seker maar nie kollekte gehad om daardie aand in die groen bordjie te gooi nie. Maar sy het wel ‘n paar Mint Imperials, waaraan sy al sedert die eerste semester holwang geproe het, byderhand gehad. Die groen kollektebordjie het onverbiddelik, sonder brieke in haar rigting beweeg, en haar moed het haar begewe. Sonder kollekte deponeer sy toe maar met ‘n benoude handjie haar laaste verhandelbare aardse besittings op die roepende groen bordjie – drie waardevolle Mint Imperials. Twee was nog mooi rond, maar die ander enetjie was al so effe holrug uitgesuig.

    Giggel in die kerk is soos die stem van die atletiek-aankondiger by Goudveld Hoërskool. Die klank kom en gaan in die wind; partykeer verloor jy hom en ander kere bou hy momentum op. Amper soos die crescendo van ‘n swerm mossies wat verbyvlieg. In die kerk daardie aand het die giggelry so saam met die kollektebordjie en die half-gesuigde Mint Imperials in die ry afgekom.  Net soos die een konshuiskind ophou giggel, steek die volgende een soos ‘n melaatse aan.  Almal skud en proes onbedaarlik van die lag toe die bordjie Mint Imperials verbykom.

    ‘n Verdwaalde weeskind en ‘n honger koshuiskind is dieselfde ding. Toe die kollektebordjie aan die einde van die ry kom, was daar net een Mint Imperial oor die verwese, uitgesuigde een. Ek vermoed tot vandag toe dit was Naomi en Renè wat die twee gesonde Mint Imperials uit die bordjie gegaps het en die uitgesuigde enetjie grootmoedig oorgelos het.

    Die dominee was pers-in-die-gesig smoorkwaad oor die gegiggel en verloor sy sin van humor net daar, sy Bybelboodskap van liefde vir jou medemens verlore. Hy was ook ‘n Vrystater – sy een oog het reguit vorentoe die gemeente aangegluur en aanhou preek, terwyl sy ander oog die kollektebordjie se kronkelroete deur die rye op en af gevolg het. Die koshuiskinders het in sulke chaotiese sarsies gegiggel, die hele lotjie buite beheer. Die diakens was vir mekaar vies omdat die Mint Imperials verby hul polisie-kordon by die kerkdeur gesmokkel is, en die bejaarde ouderlinge verward omdat hulle nie verstaan het waaroor die hele bohaai gaan nie.

    Gelukkig was die Ronde Kerk in Welkom daardie jare rond en nie vierkantig nie. Die dominee en die kerkraad kon jou nie na ‘n hoekie toe verban vir jou gelaggery en sondes nie.

    *

  • Die Stoere Afrikaner en sy Somaliese Papegaai met net een been

    Die Stoere Afrikaner en sy Somaliese Papegaai met net een been

    Die stoere Afrikaner en sy papegaai met net een been

    So dertig-veertig jaar gelede was daar ʼn stoere Afrikaner wat ʼn skipbreukeling was, net soos Robinson Crusoe. Die arme Vrystater se bootjie is aan flarde geskeur en stukkend geslaan deur reuse branders en ‘n onstuimige see, neffens die kus van Somalië in Noord-Afrika. Die skipbreukeling was egter ʼn tawwe Vrystater en nogal ‘n boer daarby – en ʼn Vrystaatse boer maak altyd ʼn plan om kop bo water te hou. Om te voorkom dat hy ʼn drenkeling word, swem die stoere Afrikaner vlinderslag na die naaste verlate eiland toe, en spoel uitgeput op die strand uit. Net soos Robinson Crusoe. Half-dood, doodmoeg, vodde, met ʼn bietjie seewater en ʼn paar piepklein pienk krappies wat by sy ore uitkom.

    Die stoere Afrikaner was ongedeerd, maar sy kamaste, knapsak, buskruit en boerbeskuit was papsopnat. In sy knapsak was ʼn ou Kerkbode, maar dié het gelukkig nie baie nat geword nie. Ná so ʼn rukkie van leeglê op die strand in die lekker sonnetjie, het die oorlewende boer nuwe moed gekry, opgestaan en begin rondsoek vir boumateriaal om ‘n huis mee te bou. Nie net enige huis nie, maar ʼn drieslaapkamerhuis met ʼn rooi skoorsteen en ʼn breë stoep om hom aan sy plaashuis in die Vrystaat te herinner. In die ou dae, voor sy skip gesink het, het hy altyd op sy breë stoep gesit en boeretroos gedrink, met ‘n dopie boerbeskuit daarby. Vandaar kon hy oor sy mielielande en die pragtige Vrystaatse vlaktes sien, tot by die magtige Sandrivier in die verte. ‘n Mooier uitsig was daar nie op die hele aarde nie.

    Die stoere Afrikaner was baie eensaam so op die eiland, al hy het naderhand ʼn hele boerderytjie aan die gang gehad. Mielies, koring, hawermout, katobadruiwe, perskes en veral turksvye, omdat hy in murg en been ʼn Vrystater was en baie van turksvye gehou het. Hy het langsamerhand vriende gemaak met ʼn verdwaalde Somaliese papegaai met net een been, wat ʼn vreemde swart bewerige seerowershoed gedra het. Die papegaai het hom naderhand heel tuisgemaak op die boer se skouer en oral op die eiland saamgery. Dié twee was nogal geheg aan mekaar, groot vriende wat die hele dag gesels het en grappe vertel, behalwe as die turksvye ryp was. Altwee was ewe lief vir turksvye en dan was dit elke man vir homself, om soveel as moontlik te pluk en vir die ander een weg te steek. Die papegaai met net een been was ʼn slim papegaai wat mooi geluister het as ons skipbreukeling vir hom stories uit Suid-Afrika vertel. Veral Vrystaatstories. Naderhand was die papegaai vlot in Afrikaans, ʼn merkwaardige prestasie vir ʼn Somaliese papegaai met net een been.

    En so het die boer op die verlate eilandjie gebly, maand na maand, jaar in en jaar uit. Alleen, verlore en verstote, ʼn eensame man. Niemand het na hom kom soek nie en hy het gewonder of selfs sy plaashond Vlekkie van hom vergeet het. Hy was depressief ook, omdat hy nie meer die wentellings van sy geliefde Cheetahs in die Volksblad kon lees nie. Niemand het die Kerkbode en Volksblad by sy huis afgelewer nie, ook nie Die Patrys nie Sy klere het al hoe meer verslete geword, sy baard al hoe langer en sy wenkbroue ruier, sy skoene het hy van die binnekant af deurgetrap en sy broek het naderhand van ouderdom afgeval. Die arme man. Selfs sy Somaliese papegaai met net een been se pap seerowershoed het later al hoe skewer op sy kop gesit.

    So dertig jaar later (ek vergeet nou watter jaar dit was), sien ons stoere Afrikaner eendag ʼn vreemde gesig in die verte. Seile, verbeel hy hom opgewonde, miskien ʼn skip of ʼn boot of ʼn luukse seiljag van een of ander aard. In die verte sien ons stoere Afrikaner ‘n man in ʼn skuitjie nader kom, met roeispanne in-en-uit die water. Die kaptein se Napoleon-hoed was net-net sigbaar oor die branders. “My mede Vrystaters het ʼn skip gestuur om my te kom red!” skree hy opgewonde vir die papegaai op sy skouer en hy draf nader om die kaptein op die strand te verwelkom. Die skuit se bemanning gooi fluks ʼn ankertou in die vlak water en die volgende oomblik stap Kaptein Napoleon aan wal, blink swart kamaste en al. “Met sulke blik kamaste en daai tamaai wit veer in sy hoed kan hy seker goed perdry,” fluister ons man vir sy papegaai, terwyl hy en die kaptein blad skud.

    “Dagsê, skripbreukeling,” groet die kaptein beleefd en lig sy Napoleon-hoed met die wit veer.

    “Welkom, kaptein, welkom op my eiland! Ai, dit is lekker om weer Afrikaans te hoor!”

    “Hoe lank bly jy op hierdie eiland, my vriend?” vra die kaptein nuuskierig terwyl hy ondersoekend rondkyk. “Bly jy alleen? Hoeveel mense bly op jou eiland; is daar ander mense hier?”

    “Nee kaptein, dit is net ek wat hier bly. Alleen. En my Somaliese papegaai met net een been wat Afrikaans kan praat. Net ons twee. Maar hy is baie onbetroubaar, Kaptein. Hy is ‘n voormalige tronkvoël.”

    “Hoe lank bly jy op die eiland, my vriend,” vra die kaptein besorg. “Kan jy onthou watter jaar jy hier uitgespoel het?”

    “Ja, kaptein, so dertig of veertig jaar gelede. Die jaar toe ek hier uitgespoel het, was die jaar toe die Vrystaat laas die Curriebeker gewen het.”

    “Ai, my vriend, dit was baie lank gelede. Wat het jy die hele veertig hier gedoen, hoe het jy besig gebly?”

    “My Kerkbode het darem saam met my uitgespoel, kaptein. So, ek het darem iets gehad om te lees, so tussen die bouery deur. Ek en die papegaai het vir mekaar baie stories in Afrikaans vertel en kerkdienste gehou.”

    “Waarom het hy net een been?”

    “Hy was ʼn seerower, kaptein, toe raak hy beenaf op ʼn mamegaai. Hy is normaalweg ʼn baie soet papegaai, maar hy het blou moord geskreeu toe die mamegaai sy bene onder hom uitslaan.”

    “Skree? Waarom skree die papegaai?”

    Die stoere Afrikaner krap sy kop en dink ʼn bietjie na. “Nee, kaptein, hy skree net as ek hom doop.”

    “Doop!” kry die kaptein dit verbaas uit. “Maar jy kan nie ʼn papegaai doop nie, man. Dit is mos logies dat hy sal skree en beswaar aanteken as jy hom kop onder die water dompel.”

    “Ja, kaptein, maar daaraan moes hy gedink het voordat hy by my kerk aangesluit het.”

    “Tjaa, interessant. “Ek sien hier staan twee kerke op die eiland,” merk die kaptein op. En jou huis met die mooi rooi skoorsteen en breë stoep staan daar in die middel, tussen die twee.”

    “Ja, kaptein, ek het spesiaal die stoep so breed gebou sodat ek in die toekoms kon insien. En die verte in. Ek wou kyk of ek die magtige Sandrivier daar in die Vrystaat kon raaksien. Maar dit was bietjie tè ver.”

    “Ek sien altwee die kerke wat jy so eiehandig gebou het, is rond, my vriend. Daar in Suid-Afrika is die drie susterskerke reghoekig, met baie gange en vensters en vertrekke binne-in. Waarom is jou twee kerke so rond?”

    “Nee, dit is so Kaptein, my kerke is maar rond sodat die dominee my nie in ‘n hoek kan vaskeer met moeilike bybelkennis vrae nie. Ek het nooit goed gedoen met Kinderkrans nie.”

    “Maar hier is mos nie ʼn dominee nie?”

    “Dit is waar ja, kaptein. Meeste Sondae het ek maar die preke self behartig. Die preke was nog reg so, maar dit het bietjie vervelig begin raak met die sing van die psalms en gesange saam. En daai papegaai met net een been is nie baie nootvas nie – met die singery het maar droewig gegaan.”

    “Ai, my vriend,” skud die kaptein sy kop simpatiek. “Maar waarom is hier twee kerke? Jy is dan alleen op die eiland? Wie se kerk is daardie een daar aan die linkerkant, daar links langs jou huis?”

    “Maar dit is my kerk, kaptein!”

    “Ai, my vriend,” sug die kaptein. “En daardie een daar aan die anderkant, regs van jou huis?”

    “Dit is ook my kerk, kaptein,” kug ons stoere Afrikaner verleë.”

    “Ook jou kerk?”

    “Ja, kaptein.  Dit is die kerk waaraan ek voorheen behoort het.”

    “My vriend,” sê die kaptein simpatiek, “pak jou klere en knapsak, en jou donkie-oor Kerkbode. Jy sit te lank op hierdie eiland, dit is tyd dat ons jou terugneem Vrystaat toe. Jou plaashond Vlekkie wag vir jou.”

    “Baie dankie, kaptein. Kan ek maar my Somaliese papegaai met net een been saambring huis toe?”

    “Ja, natuurlik my vriend,” antwoord die kaptein gemoedelik. “Wie anders gaan vir Vlekkie daar op jou plaas Afrikaans leer?”

    *

  • Die Valdeurspinnekop

    Die Valdeurspinnekop

    “Wolf! Wolf? Waar is jy?”

    “Hierso!” skree Wolf en kruip vervaard uit sy jakkalsgat om te sien wat aangaan. Jakkals staan reg voor Wolf se jakkalsgat, gereed om ʼn lang storie te vertel, maar Wolf is nog half aan die slaap. Jakkals is so opgewonde om sy storie te vertel, dat hy sommer met die deur in die huis val.

    “Wolfie, het jy al van ʼn valdeur-spinnekop gehoor?”

    Wolf vryf die slaap uit sy oe en krap sy kop. “Eisj… Nee Jakkals, ek het nog nooit van ʼn vallende spinnekop gehoor nie, maar ek dink dit moet die een of ander soort spinnekop wees.”

    “Natuurlik is dit ʼn spinnekop! ʼn Wyfie-spinnekop daarby, wat ʼn valdeur bou en dan haar prooi vang as hulle deur die valdeur val.”

    “Hoe doen sy dit?” vra Wolf, meer uit verveling as nuuskierigheid. Hy het al baie van Jakkals se Jakkals en Wolf se troustories gehoor, veral as dit reën.

    “Sy maak ʼn gat onder die grond, dan bou sy ʼn deurtjie bo-op en gaan lê onder die deurtjie. Dan wag sy dat ʼn kriek of ʼn gogga of ʼn muskiet of ʼn muggie verbyloop en dan vang sy hulle! Tjoef-tjaf!”

    “Dis nou ʼn slim plan,” sê Wolf, wat glad nie so slim soos Jakkals is nie. “Ek gaan dit ook probeer.”

    “Hoe nou, Wolfie,” lag Jakkals. “Jy is te lig in die broek om ʼn valdeur te bou. Waar gaan jy in elk geval jou valdeur maak?”

    “Daar langs die boom!” beduie Wolf. Daar kom baie muise en rotte en springkane verby. Ek kan hulle mos vang as ek onder die valdeur wegkruip.”

    Jakkals giggel sommer hardop, maar Wolf steur hom nie daaraan nie en draf weg om vir hom ʼn stuk tou by die hardewarewinkel te gaan koop. Na ʼn rukkie kom hy met die tou terug. ‘Nou moet ek net ʼn paar boomtakke kry en hulle aanmekaar knoop om die valdeur te maak,’ beplan hy.

    “Moet nie tou opgooi nie, Wolf!” lag Jakkals en die ander diere van die bos, wat ʼn kringetjie om Wolf se valdeur maak om te sien wat gebeur.

    Wolf werk sommer die hele middag aan sy valdeur. Hy knip en plak en vleg die tou en die takke aanmekaar. Tussendeur sit hy blare en stokkies oormekaar om die valdeur dig te maak. So elke nou en dan staan hy terug, poot onder die ken, om sy eie handewerk te bewonder.

    “Ag, ek is darem oulik,” sê Wolf vir die ander diere in die bos. “Kyk net hoe mooi lyk die valdeur wat ek gebou het.” Al die diere kyk nuuskierig en drom om die valdeur saam. Almal, ook die muise en rotte en springkane wat Wolf hoop om te vang, staan nader om na die nuwe valdeur te kyk. Wolf is baie in sy noppies met homself en verduidelik opgewonde vir al die diere hoe om ʼn ordentlike valdeur te bou.

    “Jitte Wolf,” sê Jakkals tong in die kies, “dit is ʼn pragtige valdeur man, uistekend! Welgedaan! Dit lyk op ‘n druppel net soos die Spinne Spinnekop se valdeur.”

    “Dankie, baie dankie,” sê Wolf ingenome. “Ek verdien al die komplimente. Baie dankie.”

    “Nou maar Wolf,” vra Jakkals, “vertel bietjie, hoe gaan die valdeur werk?”

    “Kom ek verduidelik stap vir stap vir julle,” spog Wolf selfvoldaan. “Ek vat die valdeur, dan gaan staan ek daar onder die boom en dan kruip ek agter die valdeur weg en wag vir my prooie om verby te kom. Dan val hulle in die gat en ek vang hulle!”

    “Indrukwekkend, fabelagtig, wonderlik, Wolfie!” sê Jakkals lakonies en hy kyk na al die muise en springkane wat saam met hom na die valdeur staan en kyk. “En wie is jou prooie nogal, Wolf?”

    Wolf krap sy ken en kyk bietjie ondersoekend om hom rond.

    “Nee, ek dink dit is nou julle,” mompel hy verleë en hy kyk so onderlangs-skamerig na sy valdeur.

    “Dankie Wolf,” sê Jakkals en hy beduie vir die rotte en springkane om te loop. “Dankie dat jy so mooi van die valdeur verduidelik het man, ons verstaan nou baie beter hoe jy ons wou vang.”

    “Ek dink nie nou meer dat dit so ʼn goeie plan was nie,” kla Wolf en gaan sit effens moedeloos op die grond.

    “Die beste ding wat jy kan doen, Wolfie, is om vir ons die hele ding te demonstreer. Dan kan ons mos mooi sien hoe jou valdeur gaan werk.”

    “Dit is ʼn goeie plan,” se Wolf opgwonde en hy spring orent. Vinning draf hy na die valdeur toe. “Kyk nou mooi,” spog hy, “dan wys ek hoe dit werk. Ek maak maak die valdeur oop, so… dan lê ek op die grond onder in die donker en dan maak julle die valdeur toe. Reg so, goed so?” Wolf wriemel homself onder die grond in en steek sy stert onder die grond weg. “Reg! Reg? Maak toe die deur!”

    Wolf is in ʼn japtrap onder die grond en met die stuitige Jakkals voor in die koor, help al die diere gretig om die valdeur toe te maak. Dit is doodstil onder die grond en hulle hoor nie eers ʼn piepgeluid van Wolf se kant af nie. “Bring ʼn paar groot klippe en pak dit hier op Wolf se valdeur. Dan is die valdeur stewig toe en ons help vir Wolfie van die wal af tot in die sloot. Hy gaan nooit as te nimmer alleen daar uitkom nie.”

    Die diere kerjakker uitbundig en help om ʼn paar groot klippe aan te dra wat hulle op Wolf se valdeur pak. Naderhand is daar ʼn hoop klippe op die valdeur en al die diere sit in ʼn kring om te sien wat Wolf nou gaan maak.

    “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” skree die diere in ʼn koor. “Waar is jy, Wolfie?”

    “Ek is onder die grond!” skree Wolf benoud. “Help my, dit is donker hier! Ek kan nie sien hoe laat dit is nie! Help! Ek is baie bang. Help!”

    Jakkals en al die diere verkneuter hulle aan Wolf se penarie. “Kom ons los hom ʼn rukkie daar onder die grond dat hy aan sy sondes kan dink,” spot hulle. “Hy kan vanaand maar in die koue in sy donker gat onder sy valdeur slaap.”

    “Al die diere jil en gil van plesier. “Boontjie kry sy loontjie! Slim vang sy eie baas, die kleinste potte maak die meeste geraas!”

    Die volgende oggend douvoordag pak al die diere die hopie klippe van Wolf se valdeur af en Jakkals maak die valdeur oop. “Jy kan maar uitkom, Wolf! Die son skyn al lankal oor die Vrystaatste vlaktes.”

    Koud en bedremmeld klouter Wolf uit sy gat en gaan sit bewend in die sonnetjie om warm te word.

    “Ek is jammer, almal, dat ek julle met my valdeur wou vang. Ek het my les geleer!”

    “Dit is reg so, Wolfie, spyt kom altyd te laat. Maar ons het ook iets by jou geleer,” terg die diere hom verder.

    “Wat het julle by my geleer?” vra Wolf bedees.

    Jakkals en die diere lag alte lekker. “Vir jou, vriend Wolf, maak ons nooit skaapwagter nie.”

    *

  • Die Rooi Bulletjie

    Die Rooi Bulletjie

    Die Rooi Bulletjie

    Oom Gert was ʼn gesiene boer op sy eie plaas net duskant Heilbron se Uniefeesdam in die pragtige Vrystaat. Die Vrystaat is die mooiste en beste provinsie in die hele Suid-Afrika, omdat die magtige Sandrivier reg in die middel van die geil mielielande deurkabbel. Daarbenewens is die water van die magtige Sandrivier ook besonder ryk aan goud, silwer, uraan, koper en likkewane – dit is waarom die Vrystaat die grootse geel mielies in die hele wêreld produseer. Daar is ook skape, bokke en beeste in die Vrystaat en rooi bulle wat rooi is omdat hulle omgekrap is en nou en dan baie kwaad kan word.

    Eendag, so laat winter, kom daar ʼn belangrike beampte van die goewerment op Oom Gert se plaas aan. Sy imposante motor blink in die son en hy het selfs ʼn vername motorbestuuder wat deftig agter die stuurwiel bly sit om die Volksblad te lees.

    “Dagsê, Belangrike Beampte,” se Oom Gert vriendelik en steek sy groot boerehand uit om blad te skud. “Welkom op my plaas waar die Rooi Bul bly.”

    “Ek is ʼn belangrike en gesiene beampte, van die regering af,” sê die beampte uit die hoogte uit. “Ek is hier om jou plaas te inspekteer.”

    “Nee, dis reg so, Beampte,” sê Oom Gert gemoedelik. “Waar wil jy begin met jou belangrike inspeksie?”

    “Moenie bekommerd wees nie, Oom Gert, ek sal begin waar en wanneer ek wil begin,” sê die belangrike regeringsamptenaar. “Ek weet baie van plase af. Gaan jy maar aan met jou werk, ek sal my inspeksie doen waar ek wil.”

    “Reg so nefie,” sê oom Gert hulpvaardig. “Jy kan alles inspekteer. Bly net weg van daardie kamp langs die plaasdam af, want …”

    “Luister, Oom Gert, ek is ʼn belangrike en gesiene man, van die goewerment af. My pa was ʼn diaken, my ma ‘n vrou en my oupa ʼn ouderling. Ek het ʼn belangrike identiteitskaart, om te wys wie ek is.”

    “…want dit is waar die rooi bul bly,” maak Oom Gert sy sinnetjie klaar. Hy kan sien dat die belangrike beampte nie baie tyd het om te luister nie, hy wil net doen-doen.

    Die vername Beampte haal sy belangrike identiteitskaart uit sy sak en wys vir Oom Koos. Sy kaart het imposante landswapens en indrukwekkende heraldiek op, met baie kleure en ʼn goue lourierkrans om die kante.

    “Niemand gaan my keer nie, Oom Gert. Ek het volmag, en ek loop waar ek wil. As ek daardie kamp langs die plaasdam met die rooi bul wil inspekteer, gaan niemand my keer nie. Nie my deftige  motorbestuurder of jy of jou rooi bulletjie nie.”

    Oom Gert bekyk die inspekteur se identiteitskaart van naby.  Wrintiewaar, daar staan die Belangrike Beampte se naam, met sy vername foto daarby.

    “Dis dan seker maar reg so, neef. Jy hoef nie kortgebaker te wees nie. Bly net weg van daai kampie, want my rooi bulletjie ….”

    ‘Moenie my vertel hoe om my werk te doen nie, Oom Gert,” knip die inspekteurtjie oom Gert ongeduldig kort. “Ek weet wat ek doen.”

    “Nee, dit is dan reg so, nefie,” glimlag Oom Gert gemoedelik en stop sy pyp met ʼn frommeltjie tabak uit sy knapsak uit. “Ek is net nie so seker my bulletjie weet wat jy doen nie. Jy kan gaan net waar jy wil. Maar wees versigtig vir daai bulkamp langs die plaasdam, want …..”

    “Luister nou mooi vir my, Oom Gert. Ek gaan waar ek wil, ek het my identiteitskaart by my en ek inspekteer alles op jou plaas.” Die Belangrike Beampte is nou lekker kortgebaker en sy stem raak sommer driftig. “Moenie my probeer keer nie.”

    “Nee dis reg neef, maar …” probeer Oom Gert weer, maar hy kan sien die kortgebonde Belangrike Beampte luister nie mooi nie.

    “Uit my pad uit, Oom Gert. Ek gaan nou inspeksie doen! Moenie my weer pla nie.”

    Die Belangrike Beampte van die goewerment stap ewe vernaam en kordaat daar weg, op pad na oom Gert se bulkampie langs die plaasdam toe. ʼn Rukkie lank is daar doodste stilte op die plaas, al wat mens hoor is hoe die sonbesies sing en die kraaie gaap. In die verte blêr ʼn mismoedige skapie op soek na sy verlore ma. Ewe skielik, hoor Oom Gert ʼn onaardige gebrul vanuit die rigting van die bulkampie langs die plaasdam.

    “HEEEEELLLLLPP!”

    Oom Gert trek ʼn brandhoudjie om sy pyp weer aan die rook te kry en loer nuuskierig oor die plaasdam se wal. Vir ʼn oomblik sien hy niks nie, toe ewe skielik skiet daar ʼn witblits by hom verby. Die Belangrike Beampte van die goewerment hardloop dat die stof so staan. Sovêr hy hardloop,  skree hy dat die berge antwoord gee.

    “HEEEEELLLLLPP!”

    Kort op die beampte se hakke storm oom Gert se spog rooi stoetbulletjie dat jy net stofwolke sien. Die rooi bulletjie jaag die inspekteur met mening en sy horings proe-proe net-net agter aan sy sitvlak.

    ‘YEEEEEALP ! YEEEEEEALP my!’ skree die Belangrike Beampte luidkeels. Hy hardloop so vinnig dat sy voete binne-in sy broeksakke trap.

    Oom Gert slaan die spulletjie gade en lag uit sy maag uit dat sy snorpunte tril. Die rooi bul storm met mening en die arme inspekteur nael vir al wat hy werd is! “Help! My lewe is in gevaar! Help!”

    “Wys hom jou kaart, Beampte!  skree oom Gert behulpsaam. “Wys hom jou kaart!”

    Die inspekteurtjie soek naarstig na sy kaart, maar toe storm die rooi bulletjie weer.

    “HEEEEELLLLLPP!’ weergalm dit oor Oom Gert se plaas se klowe. Die rooi bulletjie snork en sy gevaarlike horings swiep heer en weer. Sy hoewe kap in die grond en hy brul en raas, so kwaad is hy. Rook kom by sy trillende neusgate uit en sy bak ore uit.

    Die beampte versnel en hardloop soos blits die grondpad af, jy sien net ‘n stofstrepie agterna. Hy hardloop skoon onder die kwaai rooi bulletjie uit en daar verdwyn hy in die verte.

    Oom Gert gaan sit op sy stoep en drink solank ʼn lekker koppie boeretroos. Toe hy klaar is, leun hy behaaglik agteroor en stop weer sy pyp met ʼn frommeltjie tabak. Ag, die lewe is darem lekker, dink hy, veral as mens ʼn regeringsamptenaartjie so ʼn bietjie op sy plek kan sit. Die mannetjie het sommer gelyk in alle rigtings gehardloop, só groot het hy geskrik.

    So ʼn uur later kom die Belangrike Beampte stadig met die grondpad teruggestap na Oom Gert se plaas toe. Sy broek is aan flarde geskeur en altwee sy broeksakke hang halfmas. Die man lyk gehawend en sy fut is heeltemal uit.

    “En nou broer, wat het gebeur?”

    “Nee, ek weet nie, Oom Gert. Ek is jammer ek het so geskree. Die rooi bulletjie het my gejaag.”

    “Jy was maar net bietjie roekeloos gewees, nefie. Jy moes vir die rooi bulletjie jou kaart gewys het,” korswil oom Gert.

    “Ek het hom probeer wys, oom Gert,” antwoord die Beampte mismoedig. Die trane lê vlak in sy oë en nou en dan vee hy sy neus met sy snoetpoetsertjie af.

    “Maar ek dink nie daai rooi bulletjie van jou kan lees nie, oom.”

    “Nee, hy kan lees, nefie. Goed lees ook. Jy moet net volgende keer ‘n Afrikaanse kaart saambring.”

    *

  • Vriende

    Vriende

    “Mossieman, jy is mossie bang om as die resident filosoof van die hele Oranje Vrystaat bekend te staan nie? Is jy?”

    “Nee, Geronkie my ou Donkie, ek is nie. Ek is beide resident en president-filosoof van die Vrystaat.”

    “Jy ken mos die antwoord op elke vraag in die Vrystaat, nê Mossieman. En die hele wêreld?”

    “Ja, ek ken die vraag op elke antwoord, Geronkie. Ek weet wat orals in die wêreld aangaan, en wat in die toekoms nog gaan gebeur. Behalwe in Sjina, wat niemand weet wat daar aangaan nie.”
    “Sjina, Mossieman?” vra Geronkie belangstellend. “Waar is Sjina?” Is dit naby aan waar die Sjinese bly?”

    “Jip,” beaam Mossieman sedig. “Dit is reg langsaan, in die aangrensende land, tussen Sjina en Rusland.”

    “Reg so,” sê Geronkie onseker. Sy kennis van geo-politiek in Asië is nie van die beste nie, en hy wil nie graag met sy wyse maat Mossieman in debat oor bilaterale betrekkinge tussen Rusland en Sjina tree nie.

    “Ek het twee filosofiese vrae vir jou, Mossieman. Is jy gereed om jou breinkrag in te span om te antwoord? Jou grysstof as’t ware? Beide jou brienselle?”

    “Vra maar, Geronkie,” knik Mossieman instemmend. “Elke krom vraag verdien ‘n skewe antwoord.”

    “Reg. Eerste filosofiese vraag, Mossieman. Is die glas half vol, of half leeg?”

    “Daaroor sal ek diep moet dink, Geronkie, en miskien bietjie naslaanwerk in Kovsies se biblioteek moet doen. Oor die algemeen sou ek sê dat die glas half leeg is. Nie net in die Vrystaat nie, maar ook in Rusland en Sjina.”

    “Waarom, Mossieman? Het dit nie iets met optimisme en pessimisme te doen nie?” Iets soos “is mistroostige mense opgewonde oor die toekoms? As die blink kant bo is, hoe lyk die onderkant? Moet mens duim vashou dat alles goed verloop, of dat niks verkeerd loop nie?”

    Mossieman is baie trots daarop dat Geronkie die Donkie ook in filosofie belangstel. Hy kan sien dat Geronkie se lewens- en wêreldbeskouing besig is om so mooi uitbrei. “Dit het meer te doen met die feit dat die diere in die Vrystaat die hele tyd dors is, Geronkie. Daar is somtyds droogtes, en waterbeperking, rinderpes en klem-in-die-kaak. Watersnood is net soos hongersnood die ding wat die diere die meeste pla. Wanneer die Vrystaatdiere ‘n glas water sien, drink hulle die onderste helfte leeg, en los die boonste helfte vir die res van die dorses.”

    “Dit is darem baie gaaf van hulle, Mossieman. Mededeelsaam en grootmoedig ook; daarom is ons baie trots op al die diere van die Vrystaat. En nou vir die tweede filosofiese vraag, Mossieman. Wat is belangriker, die reis of die bestemming?”

    “Die rys of die bestemming?” wonder Mossieman. “Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, Geronkie. Gewoonlik eet ek kerrie saam met my rys. Behalwe as ek Comrades hardloop, dan werk kerrie en rys voor die tyd nie uit nie. Ek het nog nooit my rys saamgeneem as ek reis nie, of my rys genuttig sonder my kerrie nie.”

    “Ek dog jy is ‘n filosoof, Mossieman. Nou trek jy my kous oor die kop oor kerrie en rys met blatjang op. Ek bedoel waneer jy met groot fanfare wegtrek uit die Vrystaat en jy neem die trein, of jou perdekar, en jy reis na ‘n vreemde land toe. Soos die Kaapkelonie.”

    “Is die Kaapkelonie jou bestemming? Die plek waarheen jy oppad is? Die plek aan die einde van die pad as jy nie weet of jy kom of gaan nie? Klink vir my meer na die pad na nêrens, ten spyte daarvan dat die Kaapkelonie een van Suid-AFrika se buurlande is.”

    “Jy is op die regte spoor, my ou maat. Jy moet nie vergeet om te onthou waar jy vandaan kom nie – die plek waar jy jou reis na nêrens begin het. As jy dit vergeet, kom jy maklik aan die einde van jou reis weer by die beginpunt uit. Maar jy het nog nie my vraag beantwoord nie. Wat is belangriker, die reis of die bestemming? Die begin of die einde? Die alpha of die omega? Die blinkkant bo, of die bokant onder?”

    “Nie een van die drie nie, Geronkie my ou donkie. Almal op hierdie moederaarde is op reis na êrens. Party mense en diere vat ‘n kortpad, party ‘n voetpad, en andere die langroete. Party ouens ry aspris deur ‘n sloot, net om te sien hoe die water in alle rigtings spat. Party mense word papsopnat, andere bly droog, maar die meeste van hulle maak net droog. Party word nooit nat nie, want hulle sit altyd op die wal. Die lewe is nie ‘n toeskouersport nie, jy moet af en toe, dan en dan deelneem. Dan lei jy nie aan stres nie, jy veroorsaak stres!”

    “Mapstieks, Mossieman! Nou verstaan ek waarom jy die voorste filosoof Noord van die Oranjerivier is. Jy gesels darem nou diep dinge.”

    “Nie rêrig nie, Geronkie,” aanvaar Mossieman sy lofprysinge gelate. “Die enigste ding wat daarvan weet, is dat wanneer jy in ‘n diep gat is, moet jy ophou grawe. Nieteenstaande hou party mense aan met grawe, al hoe dieper, dan word die oplossing vir hul probleme al hoe vlakker.”

    “Gedoriewaar, Mossieman! Allemintige koekmakranka! Dit is darem die diepste filosofie en denke oor ‘n gesonde lewens- en wêreldbeskouing wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Ek dink jy is slimmer as Voltaire, Sokrates en Jean Jacques Rousseau, almal tesame. En wat meer is, Aristoteles stem saam met my.”

    “Is Voltaire, Sokrates, Jean Jacques en Artistoteles almal vriende van jou, Mossieman?”

    “Ja, Ek bedoel was, nie is nie. Hulle is almal tans oorlede.”

    “Foei, Mossieman, jammer om te hoor. Maar ons Vrystaters is darem nog jou vriende, nê!”

    “Vriende, Geronkie,” sê Mossieman genoegsaam en strek sy verepote bokant sy kop uit. “Vriende. Dit is die antwoord op jou belangrike filosofiese vraag, my ou maat. Niks is belangriker as vriende nie. Maak nie saak waarheen jy reis as jy moeg word vir die lewe in die stad nie, of wat jou bestemming is nie, of hoe lank jy op die Trein na Matjiesfontein sit nie. ‘n Bestemming is nie eintlik ‘n plek nie, Geronkie, dit is meer ‘n nuwe manier om na dinge te kyk. Vriende is baie belangriker as die plek waarheen jy oppad is, of jou manier van reis. En passop, mooiweersvriende is veel gevaarliker as onweersvriende.”

    “Gedoriewaar, dit is raar maar waar! Om ‘n pad saam met onweersvriende te stap, is lank en swaar!”

    “My held Don Quijote was altyd op reis, Geronkie, en die gelukkigste man op aarde. Hy het nie juis geweet waarheen hy oppad is nie, of waarvandaan hy gekom het nie, maar hy het altyd gefluit en gesing omdat hy vir Sancho en Rocinante saam met hom gehad het. Wanneer hy baie Spaanse wyn gedrink het, het hy meer gefluit as ander kere.”

    “Wie was Pancho en Rocinante, Mossieman?” wil Geronkie vir oulaas nuuskierig weet. “Was hulle ook Spanjaarde?”

    “Sancho was Don Quijote se boesemvriend, Geronkie: en Rocinante was sy boesemperd wat Spaans kon praat. Die drie van hulle was onskeibaar – ‘n gebonde driemanskap van hul geboorte af, tot en met hul laaste dae op moeder aarde.”

    “Wie is ‘n vriend, Mossieman? Wat moet ‘n vriend doen om jou vriend te wees?”

    Mossieman neem ‘n diep teug uit sy boeretroos emaljebekertjie, en dink dat die stof so staan. “‘n Vriend vou ‘n boerekombersie om jou moeë skouers as jy koud kry, en gee sy laaste boepensbroodjie vir jou as jy honger is. ‘n Vriend weet die ergste dinge van jou, maar bly steeds lief en getrou. Sy troos jou wanneer jy hartseer is.”

    “Oulik, Mossieman-ja, maar hoe ken jy ‘n ware vriend uit? Iemand wat rêrig vir jou omgee as jy huil wanneer jou hart op jou mou is?”

    “Die antwoord is maklik, Geronkie. Jy moet net mooi oplet as jy treurig op moedverloor se vlakte sit. Jou ware vriend is die een wat jou seer hartjie koester en vir jou ‘n snoetpoetsertjie aangee. Dan verdwyn jou trane gou-gou soos mis voor die son, en vinning-vinnig gesels julle twee weer ‘n dooie jakkals aan die draf.”

    *

  • Pietie Perlemoen

    Pietie Perlemoen

    “Het jy al gehoor van Riviersonderend?” vra Mossieman nonchalant vir Geronkie die Donkie, terwyl hulle pens en pootjies op hul rũe vir die wolke lê en kyk. Wolke in die Vrystaat is wonderlike dinge omdat hulle allerhande vorme en patrone aanneem, en baie keer soos drake of husse met lang ore lyk.

    “Riviersonderend? ʼn Rivier sonder ʼn einde?”

    “Ja Geronkie,” sê Mossieman en hy skuif sy bril op sy neus rond. “Riviersonderend is langs Grabouw naby die malende Botrivier, verby Caledon, aan die anderkant van die Hottentots-Hollandberge geleë.”

    “Wat is so spesiaal aan Riviersonderend en sy rivier sonder ʼn einde?”

    “Dit is waar Pietie Perlemoen vandaan kom.”

    “Pietie Perlemoen! Nog nooit van hom gehoor nie.”

    “Dit verbaas my nie,” sug Mossieman besadig, terwyl hy sy bril op sy kop sit en sy rooi strikdassie regtrek. “Riviersonderend is ʼn plek waar baie dinge nie gebeur nie.”

    “Hoe bedoel jy nou, Mossieman? vra Geronkie agterdogtig.

    “Die goeie nuus oor Riviersonderend is dat dit baie slegter kon gegaan het.”

    “Ag, Mossieman, vertel my liewer die storie van Pietie Perlemoen,” sê Geronkie gelate. “Jy is besig om my deurmekaar te maak.”

    “Pietie Perlemoen is die beste perlemoendief in die Wes-Kaap, maar niemand het nog ooit van hom gehoor nie. Hy is soos ʼn dief in die nag.”

    “Jy meen hy is ʼn ou soos die Skim? Of Tarzan? Skaam en skugter en baie slim?”

    “Presies ja,” sê Mossieman en hy loer bo-oor die onderkant van sy bril, “ʼn Hersenskim.”

    “Ek het nog nooit van Pietie Perlemoen gehoor nie. Waarom sê jy dat hy ‘n goeie dief is, Mossieman? Kry mens dan verskillende soorte diewe?”

    “Wel,” sê Mossieman nadenkend, “Pietie Perlemoen het so baie perlemoen uit die see gesteel, dat daar later net arikreukel oor was.”

    “Waarom sou hy so iets doen! Mens mag mos nie perlemoen steel nie!”

    “Dit is waarom Pietie Perlemoen nou in die tronk sit. In eensame opsluiting.”

    “Maar wie sê dit is hy? Dit kon net sowel iemand anders gewees het. Soos ‘n tweeling-diewe.”

    “Miskien, dit is moontlik. Iemand anders, soos ‘n hersenskim miskien,” wonder Mossieman. “Iemand wat jy nooit sien nie. Jy kom eers later agter dat al die perlemoen weg is. Soos mis voor die son.”

    “Maar toe vang hulle hom en sit hom in die tronk?”

    “Ja, maar hy is nou vrygelaat, met ‘n vonnis. Die magistraat het gesê Pietie Perlemoen moet al die skulpe van die perlemoen wat hy gesteel het, gaan optel en weer in die see terugsit.”

    “Terugsit in die see? Waarom?”

    “Sodat die perlemoene en die mossels weer kan groei. Jy kan mos nie net goed uit die see haal nie, jy moet darem iets terugsit ook. A-nee-a!”

    “Maar Mossieman,” vra Geronkie die Donkie bekommerd, “hoe weet ons dit is Pietie Perlemoen wat besig is om sy vonnis uit te dien? Hoe weet ons dit is hy wat die perlemoen terugsit in die see? Hy is dan ‘n skim – ʼn spook wat niemand nog ooit gesien het nie. ‘n Gees sonder vlees.”

    “Aah,” sug Mossieman behaaglik, en loer weer vir die wolke om te kyk of ʼn draak kan raaksien. “Dink aan die strand en die branders en al die seewiere wat daar lê.”

    “Jaa…” sê Geronkie versigtig, “dit is daai grillerige groen goeters met lang arms en bene en snorbaarde. Hulle lyk vir my bietjie slymerig.”

    “Dis hulle daardie. Jy sien, Geronkie, die Magistraat het vir Pietie Perlemoen gesê hy moet eers die see mooi skoonmaak, voordat hy weer die perlemoene in die see plant. Dit is sy straf.”

    “Daardie seewiere en anemone wat op die strand rondlê?”

    “Ja,” sê Mossieman en hy loer ondeund na Geronkie. “Elke keer as jy die seewiere en mossels op die strand sien lê, moet jy maar weet Pietie Perlemoen is besig om die perlemoene wat hy gesteel het, te plant. Dit is sy straf omdat hulle hom gevang het.”

    “Hoe lank dink jy gaan dit duur, Mossieman? Hoe lank gaan Pietie Perlemoen vat op weer al die perlemoene terug in die see te sit?” vra Geronkie agterdogtig.

    “Ek dink dit gaan so honderd jaar vat,” se Mossieman en hy sit sy bril weer terug op sy neus. “Miskien twee honderd jaar lank, as Pietie Perlemoen gou maak.”

    “Dankie vir die mooi storie, Mossieman. Ek weet ʼn goeie begryper soos ek het net ʼn halwe woord nodig. Ek sal nooit as te nimmers iets uit die see steel nie. Die seeperdjies en mossels en arikreukel en perlemoene is kosbare geskenkies van die Here af. Al wat ons landdiere moet doen, is om die seediere te bewonder en hulle nooit ooit uit die see uit te steel nie. Ons is die verdedigers en die bewaarders van die seediere, net soos tronkbewaarders. Ons is seebewaarders.”

    “Amen, Geronkie. Nou verstaan jy my storie,” sug Mossieman selfvoldaan en draai op sy rug om die wolke in die hemelruim te bewonder. “Kyk, Geronkie, daardie wolkie daar lyk net soos ʼn Vrystaatse seeperdjie. Sien jy hom?”

    “Ja, ek sien hom, Mossieman. Dit is die seeperdjie met die oranje sokkies aan.”

    *

  • Trapsoetjies

    Trapsoetjies

    “Mossieman,” kla Trapsoetjies eendag, “ek het ‘n groot probleem wat my radeloos maak.  Kan jy my dalk help met ‘n bietjie advies?”

    Mossieman sit ingedagte agteroor op sy leuenstoel in sy kantoor op die tak van ‘n groot ou moerbeiboom op die walle van die magtige Sandrivier.  Hy gebruik sy boomkantoor al baie jare vir konsultasies, en om wyse raad en slim advies aan die diere (en voëls) van die Vrystaat uit te deel. Mossieman is baie vrygewig met sy wyse raad, maar hy gee nie advies aan groen goggas en grys kakkerlakke nie, hulle moet maar self regkom.

    Mossieman krap sy blou kuifvere met sy veerpoot plat en trek sy rooi strikdassie netjies reg. “Ek sal probeer, Trapsoetjies,” sug hy.  “Op voorwaarde dat jy die probleem mooi verduidelik en jou by my advies berus. Omdat ek in my vrye tyd ‘n fislosoof is, is my kundige advies en raad boonop gratis, en verniet.”

    “Advies berus, Mossieman?” vra Trapsoetjies benoude-boude. “Beteken dit dat ek moet doen wat jy sê?”

    Mossieman skud sy kop. “Ja Trapsoetjies, dit is presies wat dit beteken. Anders mors jy my tyd en sommer ook jou eie tyd.”

    “Reg so, Mossieman, ek sal doen wat jy sê.”

    “Nou goed, Trapsoetjies. Vertel my van jou probleem. In die fynste besonderhede, sonder tierlantyntjeis. Of fieterjasies.”

    “My voete raas as ek loop, Mossieman. Dit is my probleem. My voete en my knieknoppe en my elmboë kraak en maak geraas.”

    “Knieknoppe?” lag Mossieman. “Dit is kniekoppe, Trapsoetjies, nie knoppe nie.  En jy het nie voete nie! Mense het voete, trapsoetjies het pote.”

    “Jammer Mossieman, my pote raas as ek loop. My gebeendere bewe en knetter.  En hulle kreun en dreun en kraak as ek boomklim.”

    “Trapsoetjies, jy het nie gebeendere nie en jy kan ook nie loop nie. Mense stap en loop, trapsoetjies bekruip goeters. Soos ‘n luiperd.”

    “Dit is waar ja, Mossieman. Ons trapsoetjies bekruip goeters en ons sluip stilletjies rond om goggas te eet. As ons geraas maak, hoor die goggas ons aankom, dan vlieg hulle weg. Ek het al alles probeer, Mossieman. Ek het al salf onder my skurwe voete, ek bedoel pote, gesmeer, maar niks help nie.  Ek is moedeloos. Ek het al my skaniere laat vervang, maar hulle knyp nog steeds.”

    “Salf? Het jy salf aan jou pote gesmeer?”

    “Ja Mossieman, maar dit help nie baie nie. My pote en my tone is te glad van al die salf en dan val ek uit die boom uit, omdat ek nie vastrapplek kan kry nie.”

     “Laat ek jou nou reg verstaan, Trapsoetjies. Jou naam is Trapsoetjies omdat jy so soetjies trap? Sò stilletjies dat niemand jou kan hoor nie? Nou raas jou pote, en jou kniekoppe kraak, en jou bene knetter, en dan hoor al die goggas jou?”

    “Dit is korrek so, Mossieman,” sê Trapsoetjies verwese. “Ek maak te veel geraas as ek rondsluip om goggas te vang. Ek is luidrugtig. Dan vlieg hulle weg. Ek gaan doodgaan van die honger,” snik hy. “Hongersnood is my voorland.”

    “So, jy is ‘n raserige trapsoetjies?”

    “Ja, Mossieman. Ek is baie jammer.” Arme Trapsoetjies kyk mismoedig af grond toe en sy oë traan so effens. “Ek kry myself sommer baie jammer.”

    “Ek verstaan, Trapsoetjies,” knik Mossieman simpatiek. “Nou moet jy mooi luister na my wyse raad. Eers moet jy kasterolie drink om jou kniekoppe en elmboë te olie, sodat hulle nie so raas nie.”

    “Maar Mossieman, laat kasterolie nie jou maag werk nie?” vra Trapsoetjies benoud.

    Mossieman dink so ‘n bietjie, nie heeltemal seker van sy eie mediese kennis nie.  “Jaaa… dit ook. Drink maar net die kasterolie, dit is goed vir jou skaniere en jy sal minder geraas maak as jy rondkruip.”

    “Reg so Mossieman, wat nog?” vra Trapsoetjies gretig. Hy haal sy lei uit sy knapsak en skryf in groot letters met sy grys griffeltjie: ‘KASTEROLIE.’

    Mossieman krap weer sy kop met sy veerpoot. “Pantoffels. Skryf in jou notaboekie, pantoffels. Jy het skaapwolpantoffels nodig.”

    Trapsoetjies skryf stadig in groot blokletters: ‘SKAAPWOLPANTOFFELS.’

    “Watter kleur, Mossieman,” wil Trapsoetjies weet.

    “Oranje, natuurlik. Jy is mos ‘n Vrystater. Skryf oranje skaapwolpantoffels,” sê Mossieman streng. Hy vryf sy pootjies tevrede saam oor die goeie raad wat hy aan Trapsoetjies gee.

    “Baie dankie Mossieman,” sê Trapsoetjies gedienstig en hy sit sy notaboekie terug in sy knapsak. “Ek gaan nou presies doen wat jy sê.” Trapsoetjies trek teen ‘n stadige pas weg dat die stof so staan, deur die blare en takke om kasterolie te gaan koop. En ‘n nuwe paar oranje skaapwolpantoffels.

    Nà ‘n paar maande word dit somer in die Vrystaat en die blare van die populierbome loop helder groen en pragtig uit. Op ‘n Donderdagoggend loop Mossieman weer vir Trapsoetjies raak en die twee gesels bietjie. Trapsoetjies wys sy nuwe oranje skaapwolpantoffels spoggerig vir Mossieman. “Kyk my nêwwies, Mossieman!”  Hy hou eers een poot met ‘n pienk pantoffel aan in die lug, dan die ander poot, dan sommer al vier gelyk sodat Mossieman sy nuwe pantoffles behoorlik kan bewonder.

    “Hoe gaan dit met die goggas vang?” verneem Mossieman nuuskierig toe Trapsoetjies klaar met sy pantoffels gespog het.

    “Nie so goed nie, Mossieman,” sê Trapsoetjies senuweeagtig en hy loer agter hom rond.

    “Hoekom nou? Help jou oranje skaapwolpantoffels en al die kasterolie dan nie?”

    “Ja Mossieman, die pantoffels help my om nie geraas te maak nie. Maar die kasterolie werk nie so mooi nie,” verduidelik Trapsoetjies verbroureerd.

    “Vertel my alles,” nooi Mossieman besorg.

    “Wel Mossieman, elke keer as ek my kasterolie drink, twee lepels vol, en ek bekruip die goggas met my pienk pantoffels aan, dan is daar ‘n probleem. Die oomblik as ek mooi in posisie is, en die gogga wat ek wil vang is hier reg voor my, en net as ek wil spring, en my spiere span stewig, dan maak ek my bek is oop om die gogga te vang, en as ek wil toeslaan, dan.. dan ..”

    “Ja, Trapsoetjies, wat dan?” vra Mossieman belangstellend.

    “Dan… dan… Mossieman, dan… op daardie kritieke oomblik, dan… werk die kasterolie ewe skielik en dan moét ek die kamer verlaat!”

    “Trapsoetjies, daar is nie ‘n kamer om te verlaat nie, man. Jy sit dan hoog in die takke! Daar is nie ‘n kamer nie.”

    Ek bedoel dan moet ek die tak verlaat, Mossieman.”

    “En dan?”

    Trapsoetjies laat sak sy kop skamerig. “Partykeer kan ek nie betyds die tak verlaat nie, Mossieman. Dan werk die kasterolie oortyd en dan verdwyn ek in ‘n groot groen stofwolk!”

    “Maar dit is nie so erg nie, Trapsoetjies.”

    “Dit is, Mossieman. Dit is baie erg. Die goggas wat ek wil vang, sien die groot groen stofwolk en dan hardloop hulle almal weg.

    “Toemaar, toemaar Trapsoetjies. Moenie huil nie, moenie treur nie. Ek belowe dat ons nooit ooit weer vir jou kasterolie sal gee om te drink nie.”

    “Noot ooit weer nie?”

    “Nee, Trapsoetjies, van nou af drink jy boeretroos in jou oranje emaljebekertjie, saam met ‘n lekker vars boerbeskuit, ‘n koeksister en ‘n stuk melktert.”

    “Waarom, Mossieman?” vra Trapsoetjies verbaas.

    “Want jy is ‘n Vrystater, man! Kyk net jou oranje skaapwolpantoffels.”

    *

  • Die Dowe Kakkerlakkie

    Die Dowe Kakkerlakkie

    ʼn Kakkerlak is ʼn eienaardige bruin-swart goggatjiewat wat vir baie mense grillerig is. En grieselrig. Kakkerlakke hou van donker plekke, hardloop vinnig oor die kombuis se vloer, en kan vir ʼn hele maand sonder kos en water klaarkom! ʼn Kakkerlak se brein sit nie in sy kop nie, maar in sy lyf. Wanneer ‘n kakkerlak dus vir jou noem dat sy lyf seer is, kla hy eintlik van hoofpyn. Net soos kokkerotte, is kakkerlakke baie goeie vryslagswemmers wat hul asems langer as dertig minute onder die water kan ophou. Regtig. Stroesnjannies.

    Eendag in die onlangse verlede, kyk ʼn geleerde professor in sy laboratorium by Kovsies (ʼn beroemde Afrikaanse universiteit net Noord van die magtige Oranjerivier in die pragtige Vrystaat), na ʼn kakkerlak wat op sy tafel sit. Die professor het rooi-grys hare, ʼn ronde knypbrilletjie wat op die punt van neus sit en ʼn belangrike groot wit jas. Om sy nek dra die professor ʼn stetoskoop, wat hom baie vernaam laat lyk en hom help om sy studente en die proefdiere in sy laboratorium beter te kan hoor.

    “Nou ja,” sê die professor vir sy assistant wat ʼn groot swart bril dra, “kom ons kyk hoe intelligent hierdie kakkerlak is.” Die Professor het êrens gehoor dat kakkerlakke baie slim is, selfs slimmer as springkane en muise en studente.  Hy loer vir kakkerlak deur sy vergrootglas en die kakkerlak loer met sy groot oë terug.

    “Hierdie kakkelakkie is darem baie lelik, professor,” gooi die assistent, wat self bietjie na  ʼn kakkerlak sonder ʼn bril lyk, ʼn stuiwer in die armbeurs.

    Die kakkerlakkie het sulke groot ogies wat beide kante toe gelyk kan kyk en hy bekyk die professor nuuskierig. As ʼn mens of ʼn geleerde professor of ʼn kakkerlak deur ʼn vergrootglas kyk, lyk alles aan die ander kant groter en belangriker.

    “Reg,” sê die professor, “ons is gereed vir die eksperiment!” Versigtig trek hy een van kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy.

    Die kakkerlak het vyf van sy ses beste bene oor, en hy spring sommer hoog die lug in toe die professor die bevel gee.

    “Sjoe,” sê die professor beïndruk, “dit is darem nou ʼn slim kakkerlak! Selfs met vyf bene spring hy lekker hoog die lug in.” Die professor maak ʼn aantekening in hierogliewe met sy griffel op sy lei.  “Sonder een been is die kakkerlakspesie nog steeds ʼn baie gehoorsame en slim insek.”

    Die professor loer weer deur die vergrootglas na die kakkerlak en sit sy stetoskoop op die kakkerlak se hart. Kakkerlakkie se hart klop woes van al die moeite en inspanning om so hoog in die lug in te spring.

    “Reg, volgende stap” sê die professor en hy trek nog een van die kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy weer.

    Kakkerlak het nou net vier bene oor, maar hy spring weer hoog in die lug, net soos ʼn  Olimpiese hoogspringer.

    Die professor is baie beïndruk. “Dit is ‘n baie slim kakkerlak hierdie. Twee van sy bene is in die asblik, maar hy spring sommer nog hoog in die lug in.”

    Weer maak die professor ʼn aantekening in krulletters met sy griffel op sy lei. “Sonder twee van sy bene, is die kakkerlak nog steeds ʼn baie slim en gehoorsame insek.”

    Die professor se assistant loer na die kakkerlak wat op die tafel sit. Hy weet darem nie so mooi nie – dit lyk nie vir hom of die kakkerlak so hoog spring nie. Trouens, vir hom lyk die kakkerlakkie bietjie vodde.

    Kakkerlakkie loer terug na die professor en sy assistent, vir hom lyk hulle sommer kleiner as die vergrootglas nie naby is nie.

    “Reg, volgende stap” sê die professor en hy trek sommer nog twee van die kakkerlak se bene af en gooi hulle in die asblik, “Spring!”

    Kakkerlak het nou net twee van sy ses bene oor, maar hy spring weer, hoog in die lug.

    “Gedorie,” sê die professor verbaas, “die kakkerlak is so slim dat hy met net twee bene oor, nog na my luister. Kyk net hoe hoog spring hy met sy twee oorblywende bene.” Die assistant is net so beïndruk, hy het ook nog nooit so ʼn  slim kakkerlak gesien nie.

    Die professor griffel weer ‘n rotstekening op sy lei: “Al het ʼn kakkerlak nog net twee bene oor, is hy steeds  ʼn gehoorsame en slim insek. Hy spring sommer baie hoog, elke keer as ʼn opdrag aan hom uitgereik word.”

    Versigtig staan die professor weer nader. “Reg,” sê hy, “kom ons kyk wat gebeur” en hy trek die kakkerlak se laaste twee bene af en gooi hulle in die asblik.

    “Spring!” sê die professor vir die been-af kakkerlak. “Spring!”

    Maar die kakkerlak doen niks nie. Hy sit net kapoet op die tafel, sonder enige van sy bene en hy loer vir die professor in sy wit jas en die assistant met sy groot swart bril.

    Moeisaam haal die professor sy stetoskoop uit en luister na die kakkerlak se hart.  “Nee-wat,” merk die professor op, “sy hart klop nog steeds lekker hard en vinnig, hy is glad nie dood nie. Hy is ook nie tans oorlede nie.”

    Kakkerlakkie sit doodstil op die tafel. Hy het nie meer bene nie, maar sy groot oë kyk die hele tyd vir die Professor met sy wit jas.

    “Spring!” probeer die professor weer vir die kakkerlak sonder enige bene, “Spring!”

    Niks gebeur nie. Die kakkerlak sit doodstil op die tafel en loer vir die professor. Die professor loer radeloos terug en toe gee hy maar vir kakkerlakkie bietjie kos om te eet en groen creamsoda om te drink.

    “Aha!” sê die professor vir sy assistant, “nou weet ek, nou weet ek!”

    Versigtig maak die professor sy griffeltjie skerp om ʼn aantekening op sy lei te maak.

    ‘Gevolgtrekking,’ skryf hy noukeurig in sierletters: ‘As jy al ses ʼn kakkerlakkie se bene aftrek, word hy doof.”

    *

  • Die Klokkeman van Clocolan

    Die Klokkeman van Clocolan

    Die Klokkeman van Clocolan

    Klein Kosie was die klokkeman van Clocolan, ʼn fraaie Oos-Vrystaatse dorpie wat deur die Kwena-stam van Botswana bewoon is. Die Kwenas was Basothos en hulle noemnaam vir Clocolan was Hlohlolwane, (mens spreek dit ‘Hlohla-o-lwane,’ met ʼn k-klank uit), wat ‘staan op en baklei,’ beteken. Nuwe mense het ‘Hlohla-o-lwane’ as Clocolan uitgespreek en dit is die dorpie waar Klein Kosie as klokkeman by die baksteenkerk gewerk het. Klein Kosie was nie baie oud nie, maar ook nie jonk nie. Hy was net oud genoeg sodat jy nie geweet het of hy oud of jonk is nie, al het hy het ʼn groot swart snor en ʼn paar plooie gehad.

    Klein Kosie het by die groot wit baksteenkerk bo-op die heuwel in die middel van Clocolan gewerk – hy was die koster. Kosie moes elke oggend ses uur die groot kerkklokke lui en weer ses uur in die aand, en die kerkdeure oop- en toesluit. Die dorpsmense van Clocolan was al sò gewoond aan die klanke, dat hulle elke oggend nét opgestaan het uit hul beddens as die kerkklok ses uur saam met die dagbreek lui.

    As die kerkklok nie gelui het nie, het hulle nie geweet wanneer om op te staan nie, en dan het hulle die hele dag in die bed gebly. Hulle ook vir die res van die dag nie geweet wat om te doen nie. Elke aand ses uur, as Klein Kosie die klokkeman die kerkklok lui, het die inwoners van Clocolan weer in die kooi gaan kruip, kombersie oor die kop. Kosie was altyd  getrou op sy pos, oggend en aand, week-in en week-uit, elke maand, winter en somer, jaar na jaar, dekade na dekade.

    Maar toe word Kosie siek, en hy moet hospitaal toe gaan. Uitputting, sê die dokter; moegheid van al die weke en maande en jare van klokke lui. Kosie moet in die hospitaal rus, sê hy, met ‘n asynlappie op sy voorkop en wit wattebolletjies tussen sy tone. Afgemat lê Kosie toe maar in sy hospitaalbed, op mooi skoon wit lakens, en ʼn paar sagte wit kussings agter sy rug. “Maar ek kan nie in die hospitaal lê nie dokter,” protester Kosie luidkeels. “Wie gaan Sondag die klokke in die kerktoring lui en na die haan wat op die kerktoring staan luister?”

    “Kosie,” sê die dokter besorg, “jy is moeg en oud en siek en jy moet nou stil in jou bed lê, sodat jy beter kan word. Ons sal iemand anders kry om die klokke te lui.”

    “Maar wie dokter?” protester Klein Kosie, bang dat niemand die klokke sal lui nie, of dat hulle sal vergeet. “Niemand in ons dorpie wil die klokke lui nie, dit is té harde werk. Nie die koster van die kerk nie, nie die bank se taksateur nie, of die skool se faktotum nie. Niemand sal kan help nie. Veral nie die koster nie, want ek is die koster. Miskien sal die faktotum help.”

    “Toemaar, Kosie,” troos die dokter, “ons sal wel iemand kry om die klokke Sondag te lui. Rus jy nou en word gesond.”

    Maar maak nie saak hoe hard die dokter en die verpleegsters van die hospitaal gesoek het nie, kon hulle net nie iemand kry om Klein Kosie se plek as die klokkeman van Clocolan vol te staan nie. Al die mense wat in die dorp gebly het, was te bedrywig en te lui, of met vakansie, of besig met jukskei speel. Almal het ʼn verskoning gehad waarom hulle nie kon help om die kerkklokke te lui nie.

    Die dokter het naderhand die Dominee gebel om te kla. “Ons kry niemand wat Sondag die kerkklokke wil lui nie, Dominee. Kosie die klokkeman is ernstig siek, hy lê mistroostig in die hospitaal, bene in die lug en hy kan nie die klokke lui nie. Almal is besig, of lui, of hulle doen iets anders, of met vakansie. Almal het ʼn verskoning om nie te help nie.”

    “Toemaar, dokter,” troos Dominee. “Moet nie bekommerd wees nie, ons sal wel iemand kry. Voor Sondag. Ek weet nie juis waar ons iemand gaan kry nie, maar ons gaan probeer.”

    Dominee is baie bekommerd oor die dokter se diagnose dat Kosie die klokkeman te siek is om die kerkklokke te lui. ‘Ek sal die faktotum of die skriba vra om te help,’ dink hy. ‘Die faktotum sal kan help, hy sal ʼn plan maak.’

    “Ek is jammer,” maak die faktorum verskoning, toe die Dominee hom vra om Sondag die kerkklokke te lui. “My rug is krom, my bene moeg en my arms lam, ek kan ook nie help nie. Ek weet ook nie van iemand anders wat die klokke kan lui nie.”

    “Ekke moet dinge skryf,” prul die skriba en vou sy vrome hande. “Ek sal ook nie kan help nie.”

    “Ag,” sug die Dominee moedeloos, “daar is niemand in die hele dorp wat die kerkklokke kan lui nie. Niemand gaan betyds opstaan nie, die mense gaan verslaap en daar gaan nie eers een gemeentelid Sondag kerk toe kom nie. Ai! Wat ʼn teleurstelling, wat ʼn probleem!”

    Dominee moet maar Sondag kerk hou, sonder dat die kerkklokke beier,” lamenteer die dokter saam. Ons sal maar so in die stilte kerk hou, in die geheim.”

    “Ja, broer,” stem Dominee swaarmoedig saam, “ek hoop maar die mense onthou om kerk toe te kom. Anders is dit net ek en jy en die koor wat na die preek luister.”

    Daardie Sondag-oggend vroeg is dit grafstil in fraaie Clocolan, net ʼn verlore tortelduifie koer aleen bo-in ‘n boom. Daar is nie ʼn mens in sig nie, alles is doodstil, nie eers een hond blaf of ʼn haan kraai nie. Selfs die blare van die bome ritsel so saggies dat niemand hulle kan hoor nie.

    EWE SKIELIK beier die klokke van die kerk KLIPHARD, met volle volume, regoor die dorp! Al die mense skrik vervaard wakker van die lawaai; die klokke lui oorverdowend hard. Party mense rol vervaard uit die bed, ander druk hulle ore toe om die kerkklokke se klanke uit te hou. “Ons ore, ons ore!” kerm hulle kliphard, “ons ore kry seer!” Maar die klokke lui al hoe luider en selfs Klein Kosie spits sy ore om te sien wat gebeur.

    “Wat gaan aan, Kosie?” vra die verpleegsters vir Klein Kosie en die dokter kom ook ingestorm. “Ek het vir jou gesê jy mag nie die klokke lui nie, Kosie! Wat gaan aan?”

    “Maar dit is nie ek nie, dominee! Ek is dan hier, in die hospitaal. Dit moet iemand anders wees. Dit is nie ek nie, dit is iemand anders.”

    Die hele Clocolan en al die mense in die hospitaal staar na die kerktoring, maar die klokke hou net aan lui en lui. Almal is in rep en roer. Die mense en die diere van die dorpie is maar te bly om die geluid van die klokke te hoor, want die pragtige klanke beteken dat dit tyd is om kerk toe te gaan.

    “Wel,” sê die dokter onseker, “daar moet iemand wees wat die klokke lui. Die klokke is groot en swaar en hulle lui nie vanself nie.”

    Kosie die klokkeman kyk lank na die haan wat op die kerktoring staan, en gaan sit met ʼn glimlag op sy bed.

    “Maar daar is niemand daar nie, dokter,” sê die verbaasde verpleegsters. “Kyk, selfs die Dominee en die faktotum staan buitekant die kerk om te probeer sien wie die klokke lui. Die klanke kom vanself uit die kerktoring uit. Selfs die skriba se vrome hande klap hande.”

    “Ek weet wie dit is,” laat Klein Kosie sag van hom hoor. “Ek weet.”

    Al die verpleegsters en dokters in die hospitaal draai hul gesigte verbaas na Kosie die klokkeman toe. Selfs die waardige matrone staan nuuskierig nader. “Weet jy wie dit is, Kosie? Hoe weet jy wie die klokke lui?”

    Kosie kyk na al die vraende gesigte om hom. “Dit is die Hemelse Vader se engele wat die klokke so laat lui,” antwoord Klein Kosie met ‘n rustige glimlag onder sy asynlappie uit. “Hy het my kom help toe hy sien niemand anders wou die klokke lui nie. Dit was Hy wat sy engele gestuur het om te help.”

    Al die mense van Clocolan het daardie oggend by hul kerkie saamgedrom om na die klokke se pragtige klanke te luister. Toe gaan sit hulle op die kerkbanke, om te hoor hoe preek die dominee en die kerkkoor sing.

    “Dankie dat jy gehelp het, Hemelse Vader,” sug Kosie genoegsaam in sy hospitaalbed. “Nou is daar vrede op aarde en in mense ʼn welbehae.”

    *

  • Antjè Sòmers

    Antjè Sòmers

    Antjè Sòmers

    “Boo-hoo!”

    “Ag-nee, Mossieman, moet my nie bangmaak nie!’ pleit Geronkie die Donkie benoude boude. Ek is bang vir die donker.”

    “Booooooooo! Boo-hoo!”

    “Mossieman, ek is bang genoeg. Moet my asseblief nie nog banger maak nie, kyk hoe bewe my broek en my ore!”

    Mossieman lag onnutsig in sy vere vir Geronkie se ongemaklikheid. “Ek hoef jou nie bang te maak nie, Geronkie,” terg hy, “ek kry net vir Antjè Sòmers om jou die skrik op die lyf te jaag.”

    “Antjè Sòmers!  Wie is Antjè Sòmers? Mossieman? Geronkie loer bangerig oor sy skouer.  Dit is amper skemer in die Vrystaat en die windjie waai koud deur die bome se onrustige blare. Alles is mistig en koud en donker – nie eers die maan skyn in die hemel nie. Selfs die sterre kruip skelm agter die swart wolke weg.

    “Antjè Sòmers is amper soos die tokkelossie, Geronkie” fluister Mossieman sameswerend en loer benoud om hom rond. “Net erger. Sy jaag kinders wat alleen nà donker rondloop, veral op warm someraande in die koue Vrystaat.”

    “Is dit waarom haar naam ‘Somers is? Omdat sy in die somer kinders steel?” Geronkie word al hoe banger en sy onderlip bewe so bietjie. “Wat doen sy met die kinders wat sy steel?”

    “Antjè Sòmers?”

    “Ja.”

    “Sy eet hulle op!”

    “Nee! Ag-nee, Mossieman, nou maak jy my net bang.”

    Mossieman loer weer so bietjie om hom rond. “Antjè Sòmers vang die kinders dan eet sy hulle vir ontbyt. Maar,” fluister hy geheimsinnig, “sy het net een tand.”

    ‘Eina!’ kla Geronkie verskrik. Net die gedagte gee hom koue rillings. “Net een tand? Hoe op aarde eet sy met net een tand?”

    “Baie stadig,” fluister Mossieman benoud. “Sy eet maar langtand. Sy knaag so bietjie aan hulle.”

    “Dit klink angswekkend! Wat doen Antjè Sòmers nog?” vra Geronkie senuagtig. Hy loer angstig in die bos rond, maar sien niemand wat beweeg nie. Hy verbeel hom dat hy allerhande bewegings sien, skaduwees, geeste en spokie en… een van die skaduwees lyk net soos Antjè Sòmers. Miskien moet hy bietjie flaterwater drink om sy senuwees te kalmeer.

    “Wel,” fluister Mossieman saggies, “sy gebruik ʼn knypie sout en peper om die kinders te eet. Om alles te kroon, dra sy vroueklere as ʼn vermomming.”

    “Waarom, Mossieman?”

    “Want kinders is partykeer net effens stout, dan kan jy hulle nie heeltemal opeet nie. Jy moet sout en peper by hulle gooi voordat jy hulle eet, net soos Antjè Sòmers! Met ‘n skeutjie Marmite by.”

    Geronkie raak baie bang en hy soek ʼn plek om weg te kruip. ‘Enige plek in die Bloembos sal ‘n goeie wegkruip-plek wees,’ dink hy. ‘Tussen die bome en struike, hoog in die takke, laag op die grond, net solank Antjè Sòmers hom nie in die hande kry nie.’

    “Sê nou haar sout en peper is klaar, Mossieman, wat doen sy dan?”

    Mossieman lag so stouterig in sy vere. Hy verkneuter hom as hy sien hoe bang Geronkie die Donkie vir Antjè Sòmers is.

    “Dan maak sy sous.”

    “Sous?”

    “Lekkerrrr… sous, met geursel. Dan eet sy die kinders met ʼn lepeltjie sous op.”

    “Waarom, Mossieman?”

    “Want sous laat die kinders beter proe!”

    “Mossieman, ek is nou knertsbang,” prewel Geronkie. “Dink jy Antjè Sòmers sal my ook kom vang?”

    “Nee-wat, Geronkie. Antjè Sòmers vang net stout kinders, nie soet donkies nie. Sy steek hulle onder haar vroueklere weg, totdat sy gereed is om te eet. Dit waar haar bynaam vandaan kom: Antjè Sòmers, die Aspoester van Worcester.”

    Geronkie is baie verlig en kom stadig uit sy skuilplek agter die struike uit. “Ek is nou baie verlig en veilig Mossieman, want ek is stroopsoet,” waag hy. “Ek dink nie Antjè Sòmers sal my nou meer kom vang en eet nie.”

    ‘Ek sal nie so seker wees as ek jy is nie,’ vryf Mossieman sout in Geronkie se denkbeeldige wonde. “‘Ek het gehoor Antjè Sòmers eet nie net stout kinders nie, sy eet donkies ook! Net soos jy!”

    “Mossieman, jy moet my help. Net-nou kom Antjè Sòmers my haal om op te eet. Wat moet ek doen?”

    Mossieman loer versigtig om hom rond. “Kyk daar, Geronkie, agter die bos, ek dink ek sien vir Antjè agter die bos!”

    “Maar wat moet ek doen, Mossieman? Ek is raadop en radeloos,” pleit Geronkie en sy onderlippie bewe van angs. “Ek is nou banger vir haar as die duiwel vir ʼn slypsteen. “Help my van die wal af in die sloot, Mossieman. Help my!”

    “Ek weet, Geronkie. Steek jou lang donkie-ore onder ʼn hoed weg, dan sal Antjè Sòmers mos nie weet dat dit jy is nie.”

    “Dit is ‘n goeie plan,’ grinnik Geronkie verlig dat jy net donkie-tande sien. Vinnig druk Geronkie sy ore onder sy hoed plat en sit sy donker bril op. “So ja,’ sug hy tevrede, “nou is ek incognito. Niemand weet nou wie ek is nie. Nie eers ek herken vir my nie. Nou sal Antjè Sòmers my nooit as te nimmer kom vang nie!”

    “Jy lyk vir my pesona non grata, Geronkie. Met daardie vreemde hoed op jou kop, gaan niemand jou weer in die Vrystaat toelaat nie. Veral nie as julle by die grenspos weet dat Antjè Sòmers op jou donkiespoor is nie.”

    “Boo-hoo!”

    *

  • Saalsak, Meelsak en Appeltjie-Een-Oog

    Saalsak, Meelsak en Appeltjie-Een-Oog

    Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog

    Eendag, lank lank gelede, sit Dominee Pikkewyn met die kinders van die Kinderkrans en gesels, onder ‘n groot ou groen-doringboom in die middel van die pragtige Vrystaat.  Dominee Pikkewyn skud sy deftige swart en wit manelpak reg, trek so ‘n paar keer aan sy geel strikdas en begin dan vir die kinders lees uit die Bybel, die stukkie van Daniël se vriende, Sadrag, Mèsag en Abednègo.

    Die name is baie moeilik en Dominee Pikkewyn sukkel om hulle uit te spreek.  Elke keer as hy praat, sit sy tong aan sy verhemelte vas, en dan kom die woorde krom by sy mond uit.

    “Daar was vier Jode wat in vir koning Nebukadneser gewerk het en hulle name was Daniël, Gananja, Misael en Asarja,” vertel Dominee Pikkewyn besadig. Die kinders kyk hom grootoog aan, en van hulle probeer die name verstaan, maar hulle sukkel so bietjie.

    “Toe Koning Nebukadneser vir Daniël en sy vriende aanstel om vir hom te werk, besluit die koning om vir hulle nuwe name te gee.”

    “Maar waarom moet hulle nuwe name kry, Dominee Pikkewyn?” vra die kinders verwonderd. “Is hulle ou name nie goed genoeg nie? Het hulle te oud vir hulle name geword?”

    “Nee, hulle name was maar net moeilik om te sê, toe kry hulle nuwe name by die koning.”

    “Wat was hulle nuwe name, Dominee Pikkewyn?” vra die kinders nuuskierig en hulle leun almal vorentoe om te hoor.

    “Wel, Daniël se nuwe naam was Beltsasar, en Genanja se nuwe naam was Sadrag.”

    “Sadra.., Sadra..” probeer die kinders sê, maar hulle sukkel om die name uit te spreek. “Saterdag?” Dominee Pikkewyn kan sien dat die kinders sukkel met die name en die uitspraak, want hulle tongetjies is nog klein.

    “Ek sê julle wat!” Dominee skud sy vere reg en trek so effens aan sy geel strikdas.  ‘Kom ons speel ‘n speletjie en noem Sadrag sommer Saalsak!”

    “Saalsak, Saalsak!” lag die kinders. “Dit is sommer maklik om te sê en te onthou!”

    Dominee Pikkewyn skud net sy kop en loer weer in sy Bybel. “Koning Nebukadneseer het Daniël se tweede vriend, sy naam was Misael, ook ‘n nuwe naam gegee.”

    “Wat was sy nuwe naam, Dominee?” vra die kinders nuuskierig en hulle loer oor Dominee Pikkewyn se skouer om ook in die die Bybel te lees.

    “Mesag!”

    “Meeesag, Mesag!” probeer al die kinders die nuwe naam uitspreek, maar hul tongetjies knoop en hulle sukkel om te sê.

    “Ek sê julle wat,” sê Dominee Pikkewyn en wikkel weer so effens met sy stert en aan sy geel strikdas. “Kom ons noem hom Meelsak!”

    “Meelsak! Meelsak!” jil die kinders van lekkerkry. “Nou ken ons twee van Daniël se vriende se nuwe name. Saalsak en Meelsak!”

    Dominee Pikkewyn glimlag en lees verder in die Bybel. “En koning Nebukadneser het ook aan Daniël se derde vriend Asarja ‘n nuwe naam gegee.”

    “Wat was sy nuwe naam, Dominee?” vra die kinders. “Ons het nou al van Saalsak en Meelsak gehoor, was Asarja se nuwe naam ook ‘n sak?”

    “Nee,” skud Dominee Pikkewyn sy kop en sy swart manel gelyk en hy trek sy geel strikdas reg. “Sy nuwe naam was Abednègo.”

    “Abed.. Abed.. nege..” sukkel die kinders met die nuwe naam. “Ag, Dominee,” smeek hulle, “ons sukkel so met die naam, kom ons gee hom ook ‘n mooi nuwe naam.”

    Dominee Pikkewyn skud sy kop op en af. “Goed,’ stem hy in, “wat sal ons Abednègo se nuwe naam noem?”

    “Appeltjie!” jil die kinders almal gelyk. “‘Appeltjie-een-oog!”

    Dominee Pikkewyn lag te lekker, uit sy magie uit. “Goed kinders, ons noem vir Abednego van nou af Appeltjie, Appeljtie-een-oog.”

    Dominee Pikkewyn kyk in sy Bybel en hy lees verder. “Terwyl Daniël in die paleis van die koning gebly het, het hy vir Sadrag, Mesag….. ag ek bedoel Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog, in beheer van die provinsie Babel geplaas. Maar, daar was een groot probleem, nie een van die mense wat in Babel gebly het, het dieselfde taal gepraat nie.”

    “Is dit waar die Babelse verwarring begin het, Dominee?” vra die kinders vewonderd.

    ‘Nee, hulle het maar net vir die koning gewerk. Maar toe bou die koning ‘n standbeeld van klip en hy sê vir al die mense op die klip te aanbid. Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog het geweier om voor die standbeeld klip te buig en toe sê die koning dat hulle in ‘n groot vuur gegooi moet word.”

    Bangerig kyk al die kinders na dominee Pikkewyn. “Waar was die vuur, dominee?”

    “Die vuur was binne-in ‘n groot oond. Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog het vir die koning gesê hulle in is kinders van die Here en hulle gaan nie voor ‘n klip standbeeld buig nie.  Hulle buig net voor Liewe Jesus.”

    “Wat gebeur toe, dominee?”

    “Die vuur was baie warm en toe gooi die soldate vir Daniël se drie vriende binne-in die vuur.”

    Al die kinders snak na hulle asem. “En wat het met hulle in die vuur gebeur?”

    “Niks nie!”

    “Het niks met hulle gebeur nie?”

    “Nee, die vuur het hulle nie eers gebrand nie, want Jesus het hulle beskerm!”

    “Hoe het Jesus dit reggekry, Dominee? vra die kinders angstig. Hulle wil so graag meer van die storie van Jesus hoor en wat met Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog in die groot vuur gebeur het, dat hulle almal sommer gelyk vorentoe leun.

    Dominee Pikkewyn trek sy geel strikdas reg en fluister saggies vir die kinders. “Daar was ‘n Engel wat deur Jesus gestuur is, in die vuur. Die skare mense wat om die vuur gestaan het, het gesien hoe die Engel binne-in die vuur rondbeweeg om die vlamme van Daniel se vriende weg te hou.”

    “En die soldate van Koning Nebukadneser?”

    “Hulle het verbrand, want die vuur en die vlamme en die hitte het hulle oorweldig.”

    “En Koning Nebukadneser?”

    “Toe hy sien wat gebeur, was hy baie beïndruk met Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog. Hy het hulle onmiddellik vrygespreek. Daarnà het hy hulle as beamptes aangestel en hulle het die res van hulle dae in vrede gewoon. En die ou koning moes vir jare daarna nog traumabehandeling kry oor die gebeure in die vuur.”

    “Is ons drie vriende beskerm net omdat hulle kinders van Jesus was?” vra die kinders verwonderd, en kyk met groot oë na Dominee Pikkewyn.’

    “Nee,” sê Dominee Pikkewyn en trek sy geel strikdas reguit, ‘ nie net omdat hulle kinders van Jesus was nie.”

    “Hulle is uit die vuur gered, juis omdat hulle kinders van Jesus was.”

    Die kinders was baie bly dat Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog nie in die groot vuur verbrand het nie en hulle het sommer, net daar onder die groot ou groen-doringboom in die middel van die Vrystaat, vir dominee Pikkewyn hande geklap.

    “Tjaa….” dink Dominee Pikkewyn toe hy na Kinderkrans huistoe stap, “om stories uit die Bybel te vertel, is die applous werd.”

    *

  • Jakkals, die legendariese poetsbakker

    Jakkals, die legendariese poetsbakker

    In die middel van die winter stap Oom Leo Leeu en sy lui lyfwag Jakkals deur die digte bosse van die Oos Vrystaat, nie ver van Ficksburg af nie, om waterbuffels te jag. Jakkals is Leo Leeu se beste lui lyfwag. Wanneer hulle gaan jag, dra Jakkals Leo Leeu se swaar Mausergeweer, sy verweerde ou knapsak, en sy emalje koffiekan. Die koffiekan moes altyd saamgaan op jagtogte, want Leo Leeu was ‘n opregte Vrystater wat baie lief vir sy boeretroos en boerbeskuit is.

    “Jakkals,” sê Leo Leeu streng terwyl hulle deur die bosse stap, “Tante Leeu wil biltong maak. Ons moet vir haar ‘n waterbuffel gaan skiet.”

    “Ja, Leo Leeu. Van waar af kom Tante Leeu nou weer, Leo Leeu? Waar is sy gebore? Van waar, Gehasi?”

    “Hou op om van hasies te praat, jy maak my net honger. Sy kom van ‘n klein dorpie waarvan niemand nog ooit gehoor het nie, Jakkals,” grom Leo Leeu. “Tweegrootwaterbuffelsmeteenhaelgeweerskootmorsdoodgeskietfontein.”

    ‘Jitte! Oom Leo Leeu. Dit is darem ‘n groot naam vir so ‘n klein dorpie.”

    “Ja, omdat daar kwaai waterbuffels is. Nou moet ons een van die waterbuffels vir die tante se kospotte skiet.”

    “Ja, Leo Leeu,” sê Jakkals onderdanig. “Kan ek net gou my pyl en boog  uit my jakkalsgat gaan haal, om die buffel mee te skiet. Oom Leo Leeu weet mos Oom is nie ‘n baie goeie jagter nie, Oom skiet gewoonlik bietjie skeef en kwes net die buffels. En Oom weet ‘n gekwesde waterbuffel is ‘n gevaarlike buffel. Gaan lees maar PJ Schoeman se storie oor Jetwa die Buffelbul, Oom Leeu. Net-nou net-nou storm daardie gekweste buffel ons en dan moet ek gereed wees om hom ‘n doodskoot met my pyl en boog te gee.”

    Leo Leeu grom kwaai. Hy weet hy is nie heeltemal so geletterd soos Jakkals nie, maar hy probeer darem sy Afrikaanse literatuur lees wanneer tydens vakansies bietjie tyd op sy pote het. “Ja, Jakkals! Maar maak gou, jou klein bog. Gaan haal jou pyl en boog.”

    Kort voor lank is Jakkals weer terug van sy jakkalsgat af, met sy pyl en boog op sy rug. Hy skud sy vere en dáár trek hy en Leo Leeu die bosse in. Jakkals is so opgewonde, hy hardloop gelyk in alle rigtings en mik en druk met sy pyl en boog na alles en nog wat.

    “Hou nou op om jakkalsdraaie te gooi,” raas Leo Leeu kwaai. “Ek sien  baie buffelspore. Gaan loer oor daardie rantjie of  jy iets gewaar.”

    Jakkals luiperdkruip op sy maag en toe hy bo op die randjie kom, bespied hy die hele valei op soek na buffels. Jakkals wink opgewonde vir Oom Leo Leeu en wys met sy vinger na waar die buffels ‘n paar honderd tree verder, onder die bome staan en wei. Leo Leeu luiperdkruip ook nader en lê versigtig aan met sy haelgeweer. Jakkals korrel gemaak-ernstig met sy pyl en boog, maar loer eintlik met sy een oog om te sien wat Oom Leeu doen. Toe die skoot klap, spring Jakkals kiertsregop en hy sien hoe die groot ou buffelbul teen die grond neerslaan.

    Met ‘n jakkalsdraffie hardloop Jakkals soos die wind na die buffel toe. Vinnig trek hy los met sy pyl en boog en skiet ‘n klein pyltjie in die buffel se linkeroog. Toe Leo Leeu uiteindelik by die dooie buffel aankom, spring Jakkals opgewonde rond en skree: “Dis mý skoot, Oom Leeu! Ek het op sy linker-oog gekorrel. Dis mý buffel! Ek het hom geskiet!”

    “Nonsens, jou klein vabond,” grom Leo Leeu vies. “Die buffel het met sy regteroog na ons kant toe gestaan. Ek het hom raakgeskiet. Dit is mý buffel!”

    Leo Leeu soek in sy knapsak na sy jagmes om die buffel af te slag, terwyl Jakkals bek-af op ‘n klip sit en kyk.

    “Jakkals,” mor Leo Leeu, “ek het my jagmes by die huis laat lê. Hardloop en gaan vra vir Tante Leeu waar my mes is. Toe-nou, hardloop. Die son sit al laag. Ek sal so lank hier bly om die aasvoëls van die buffel weg te hou.”

    Jakkals draf teësinnig die lang pad terug na Leo Leeu se plaashuis toe. ‘Leeu is darem ‘n vabond,’ dink Jakkals. ‘Hy hiet en gebied my en maak of ek sy slaaf is. Maar vandag gaan ek daardie Oom Leeu ‘n groot poets bak!’

    Jakkals draf by ‘n bos verby en skrik hom boeglam toe die wind ‘n bladsy uit ‘n boek by hom verbywaai. Jakkals tel die bladsy op en toe kry hy ‘n blink plan. Jakkals haal sy griffel uit sy knapsak en skryf ‘n lang brief op die bladsy. Toe hy klaar is, teken hy Oom Leo Leeu se naam onderaan die brief. Toe sithy af na Leo Leeu se plaashuis, waar Tante Leeu vir hom wag.

    “Naand, Tante Leeu,” sê Jakkals skelm. “Tante, ons het nog niks buffels geskiet nie en ons is baie vêr van die huis af. Oom Leeu het my gestuur om te sê dat ons sal vanaand maar daar moet slaap. Oom Leeu het my beveel om kos te kom haal, omdat ons honger is. Hier is sy brief.”

    Jakkals is stout, want hy weet alte goed dat Tante Leeu nie goed kan lees nie. Hy maak of hy die brief wil oorhandig, maar sy sê: “Ag Jakkals, lees ‘n bietjie wat daar in die brief staan, ek het my bril verloor, ek kan nie goed lees nie.”

    Jakkals vou die brief  plegtig oop en begin kastig voorlees: “Vrou, dit is Leeu hier. Gee vir Jakkals al die wors in ons huis om vir my bring. Ek is baie honger.”

    Wat! Alles! Daar bly dan byna niks oor nie,” kla Tante Leeu toe sy teësinnig ‘n stuk wors vir Jakkals gee.

    Jakkals lees plegtig verder uit die brief: “Gee vir Jakkals ook al ons spek, ek is baie honger.”

    “Wat!”sê tante Leeu onthuts. “Jy het dan al klaar die wors, Jakkals! Waarvoor wil oom Leeu my lekker spekkies ook hê?”

    “Nee ek weet nie, Tante, antwoord Jakkals skelm onder sy wenkbroue deur. “Oom Leeu is seker baie honger. Tante weet as hy honger is, kan hy byna iets oorkom, so kwaad word hy.” Tante Leeu gee vir Jakkals die spek en Jakkals stop dit in sy sak.

    “Ek dink dis al, Tante Leeu, “sê Jakkals tevrede. Skielik val Jakkals se oog op nog vleis in die huis en haastig sê hy: “O, jitte! Tante, hier agter op die brief staan nog iets. Tante moet die varkboudjies ook gee.”

    “Maar jok jy nie, Jakkals?” vra Tante Leeu kwaai. “Jy dra al my kos weg.  Waar staan dit op die brief?”

    “Kyk hier, tante,” sê Jakkals en wys na die gekrap agter op die papier. “P-o-r-k  C-h-o-p-s.”  Dit is die varkboudjies. Tante weet, toe Oom Leeu klein was, was daar net Engelse skole in die Vrystaat. Hy skryf nie baie goeie Afrikaans nie.”

    “Nou-ja, sê Tante Leeu nors, “vat dit en loop! Sê vir Leeu hy moet vir my ‘n buffel, ‘n koedoe en ‘n rooibok bring, want my kospotte is leeg!”

    “Ja, Tante. Goed Tante. Totsiens, Tante,” sê Jakkals onderdanig en maak dat hy wegkom met sy sak vleis oor sy skouer. Hy draf reguit na sy gat toe. Toe hy by sy jakkalsgat kom, skreeu hy vir sy vrou en kinders: “Kom, kom, hier’s baie kos! Wat wil julle hê, wors, speenvark of tjops?” Dit was nie lank nie, toe sit Jakkals en sy hele gesin om die kampvuur en hulle eet al Tante Leeu se vleis heeltemal op.

    Intussen sit arme Leo Leeu in die koue by die dooie buffel, maar al wat terugkom is Jakkals. Hy stap naderhand uit frustrasie die rantjie uit en brul kliphard: “Jakka-a-a-a-ls!”

    Jakkals hoor hoe Leo Leeu is die verte grom en brul, maar hy steur hom nie daaraan nie. “Laat hom brul,” sê Jakkals en vryf voldaan oor sy vol ronde magie. “Hy wil my mos ‘n klein karnallie noem.”

    Naderhand is Leo Leeu so ongeduldig en woedend dat hy nie langer kan stilsit nie. Met sy skerp tande en kloue skeur hy twee boude van die buffel af, gooi hulle oor sy skouer en stap in die donker huistoe. Toe hy moeg by die plaashuis aankom, smyt Leo Leeu die twee buffelboude neer en vra vir sy vrou: “Waar is daardie klein vabond van ‘n Jakkals? Ek het hom al ure gelede gestuur om my mes te kom haal om die buffel mee af te slag.” Tante Leeu skrik haar voorskootpante boeglam vir Oom Leo Leeu se kwaadgeid.

    “Maar hy is nie hier nie,” stotter sy verbaas. “Hy was ure gelede hier en hy is weg met al die vleis!”

    “Wat!” Oom Leeu is sò kwaad, hy brul sy wind uit. “Jakkals was klaar hier,” verduidelik tante Leeu benoud. “Hy het ‘n brief by hom gehad, wat sê dat jy eers môre terugkom en dat jy baie kos wil hê omdat jy so honger is. Kyk hoe leeg is my huis. Jakkals het al die vleis hier weggedra.”

    “So ‘n klein vabond! Wag net tot ek hom in die hande kry, dan sal ek wors van hom maak! Ek gaan sy speknekkie omdraai!” Leo Leeu stap buite-toe en laat waai met ‘n geweldige brul wat die aarde laat dreun. Toe Jakkals hom hoor, bewe sy broekspype onder in sy jakkalsgat. Na ‘n rukkie hoor Jakkals niks verder nie, en hy gaan lê lekker in die sonnetje, trommeldik van al die vleis.

    Leo Leeu het intussen stilletjies tot naby aan die gat gekruip, sonder dat Jakkals hom sien. Toe laat los Leo Leeu ‘n allemintige brul, en hier kom hy! Jakkals tjank kliphard van bangeid, gryp sy vrou en kinders aan hul ore, stop hulle in die gat en kruip self in. Maar Leo Leeu is net so vinnig en hy gryp vir Jakkals aan die stert.

    “Nou het ek jou, jou klein swernoot! Nou gaan ek jou ‘n dure les leer!”

    Jakkals skop met alle mag teen die kante van die gat vas en tjank: “Dit is glad nie my stert nie, Oom Leeu!  Ek sit onder in die gat. Dit is ‘n taaiboswortel wat jy beet het.”

    “O nee,” grom Leo Leeu, “dit ís jou stert, Jakkals. Ek kan sien daar’s hare aan, dit is jou stert! Ek gaan hom trek en trek, totdat ek jou uit die gat uitkry.”

    Arme Jakkals!  Dit voel vir hom of sy  stert gaan afbreek. Hy kry so seer dat hy amper nie kan huil nie. “Nee-nee, Oom Leeu,” stotter Jakkals. “Dit is nie my stert nie! As jy my nie wil glo nie, gaan haal ‘n klip en gooi hom op my stert. Ek bedoel boomwortel. Jy sal sien daar kom rooi sap daaruit. Ek sit al lankal onder in die gat, dit is nie my stert nie! Dit is ‘n boomwortel!”

    Oom Leeu is sowaar dom genoeg om Jakkals se storie te glo. Hy laat los Jakkals se stert en gaan haal ‘n groot klip. Woerts-warts wikkel Jakkals hom los en hy begin nog ‘n gat grou. Toe Leo Leeu terugkom met die klip, gryp Jakkals Leo Leeu se stert, ryg hom deur die gat en maak ‘n groot knoop.

    “Sien Oom Leeu hierdie stert met die knoop? Dit is myne en Oom kan hom maar hard met die klip gooi!” Leo Leeu lig die klip hoog op en gooi hom met geweld op sy eie stert neer. Hy los ‘n allemintige brul toe die klip hom op sy stert tref.  “Eina! Eina!” brul Leeu. “My stert! My stert, my stert is so seer.”

    Jakkals lag tot die trane by se oë uitkom.  Toe hardloop hy vinnig weg, die bosse in, voordat Oom Leeu hom weer kan vang.

    Dit is nou veertig jaar later, en tot vandag toe loop elke Vrystaatse leeu met ‘n knoop in sy stert rond. Kyk maar mooi as julle weer in die Vrystaat kom. Elke leeu het so ‘n klossie aan die einde van sy stert. En as jy nog mooier kyk, sal jy ‘n jakkals naby sien wat vir hom lag.

     –  –  –  –  –  –  –

  • Geronkie die Donkie se vreeslike seer vinger

    Geronkie die Donkie se vreeslike seer vinger

    Geronkie die Donkie se vreeslike seer vinger

    “Mossieman, ek het vreeslik pyn,” kerm Geronkie die Donkie armsalig en hy wys met sy vinger na sy voet. “Ek dink ek het ʼn verskriklike pyn in my roer.”

    “Haai, Geronkie, waar sit jou roer?”

    “Nee, ek weet nie, Mossieman, maar elke keer as ek roer, dan pyn dit.”

    “Ag foeitog, Geronkie, is dit baie seer?” Mossieman is Geronkie se boesemvriend en hy is al gewoond aan Geronkie se fiemies en ipekonders. Mossieman hou daarvan om Geronkie se siel uit te trek, en hy besluit om hom ʼn poets te bak.

    “Dit is baie seer, Mossieman,” kreun die donkie. “Dit pyn sommer oral. My voet is seer en ek dink ek moet ʼn salf aansmeer, of dokter goe gaan voor ek doodgaan.”

    “Moenie laf wees nie Geronkie,” antwoord Mossieman streng. “Ons manne van die Vrystaat smeer nie salf aan onself nie, veral nie aan ons voete nie. Manne en vroue van die Vrystaat is taaier as taai, en ons huil nie oor ʼn bietjie pyn nie.”

    “Maar ek pyn erg, Mossieman,” kla Geronkie neulerig en wys met sy vinger na sy hakskeen. “Dit pyn in my voet en dit pyn in my been. My arms ook. En my pankreas en my kegertjie.”

    “Nonsens man, Geronkie, jy kan nie in jou voet en in jou been gelyk pyn nie. Wat se kegeltjie. Jou keel? Jou kegeltjie pyn net omdat jy so keel opsit.”

    “Dit pyn ook in my maag,” sê Geronkie huilerig en sy ore gaan lê plat op sy kop.  “Kyk hier, Mossieman, hier waar ek met my vinger wys. Dit pyn hier in die middel van my maag, net bokant my naeltjie, onderkant my fris borskas. Ek dink ek is gebrekkig.”

    “Jy makeer niks nie, man. Dit is net jou Afrikaanse woordeskat wat gebrekkig is. Het jy pyn in jou voet, pyn in jou been en pyn in die middel van jou maag?”

    “Ja Mossieman,’ sê Geronkie mismoedig en pink ʼn traan met sy sneesdoekie weg.

    “Is dit al?”

    “Nee, Mossieman, dit pyn ook in my skouer, net hierso.” Geronkie wys met sy vinger na sy skouer en loer skelm of Mossieman kan sien hoe seer dit is.

    “Geronkie, jy kom van die Vrystaat af, man! Vrystaters is sterk en manhaftig en vrouhaftig en ons huil nie vir enige ding nie. Hou op om aan te sit en hou op tjank!”

    “Nee, rêrig. Mossieman, ek het baie pyn, sommer in my nek ook.” Geronkie wys met sy vinger na sy nek en rek hom soos ‘n kameelperd langer uit om te beklemtoon hoe seer sy nek is.

    “Geronkie,” lag Mossieman, “al wat jy het, is ipekonders. Wys my nou orals waar jy seer het, sodat ek jou dokter toe kan neem om alles wat jou pla te amputeer.”

    “Asseblief Mossieman, moenie dat die dokter my amputeer nie. Ek sal jou wys, maar ek wil nie dokter toe gaan nie. Dokters maak mens siek.” Geronkie loer senuweeagtig na Mossieman, want vir dokters is hy baie bang.

    Geronkie sit sy vinger op sy voet, “My pyn begin in my voet en dan in my been en dan in my maag.” Geronkie trek elke keer sy vinger so langs sy lyfie op soos hy beduie waar die pyn is. “Dan pyn my skouer en my nek ook nog.”

    “Geronkie,” sê Mossieman skepties, “ek dink ons moet hierdie storie nou nek omdraai. Die pyn is nie in jou voet of jou been of jou maag of jou skouer of jou nek nie, man. Dit is net aansittery.”

     “Wat dan, Mossieman, wat is verkeerd met my?” snik Geronkie mistroostig. “Niemand het my meer lief nie.”

    “Dis jou vinger wat pyn Geronkie, jou vinger!”

    Geronkie staar verwonderd na sy vinger aan die einde van poot en hy dink diep soos ‘n filosoof. “Jy is reg, Mossieman! Dit is nie my voet of my been of my maag of my skouer of my nek wat pyn nie, dit is my vinger!”

    “Reg,” sê Mossieman. “Nou gaan ons reguit dokter toe, sodat hy jou vinger kan afsny! Dan is jou probleem opgelos!”

    “Nee, eina Mossieman!” Vinnig steek Geronkie sy pote in sy broeksakke weg om sy vingers te beskerm.

    “Weet jy wat, Mossieman? My vinger is ewe skielik nie meer so seer nie. Hy het sommer vanself herstel, dit is amper ʼn wonderwerk. Ek dink ons moet net ʼn hoofpynpilletjie by die apteek kry, dan is my vinger sommer weer piekfyn!”

    “Tjaa… Geronkie,” sug Mossieman moedeloos. “Dit is ek wat die hoofpynpilletjies nodig het, nie jy nie.”

    *

  • Dieremaniere

    Dieremaniere

    “En nou, Geronkie my ou maat, as jy so moedersielalleen hier op die wal van die rivier sit en droom?”

    “Ek droom nie, Mossieman, ek dink. Donkies met lang ore soos ek het baie dinge om oor te dink. Belangrike, filosofiese dinge.”

    “Vertel my alles, Geronkie,” sug Mossieman simpatiek en maak hom gemaklik langs Geronkie op die walle van die magtige Sandrivier tuis. Die koel water kabbel by hul pote verby en maak rustige klankies in hul ore. Daar is geen plek in die wêreld waar dit so lekker is om te sit en droom en nonsens praat soos langs die Vrystaat se magtige Sandrivier nie. Die wilgebome op die walle is ruig en vleg hul takke in ʼn groene lower waar die mossies neste maak en die vinke onderstebo aan die takke hang. Mossieman en Geronkie die Donkie boer elke dag op die walle van die rivier, want dit is waar die meeste diere rondhang en vergaderings hou.

    “Mossieman, wat is ʼn lui perd? Ek dink deesdae nogal baie aan luiperde. Ek wonder oor tiere ook, maar ek wonder meesal oor lui perde.”

    Mossieman krap sy kop en dink ʼn bietjie na. “ʼn Lui perd is ʼn perd wat onfiks is, Geronkie. Hy wil nie sy oefeninge doen nie en hy is ʼn niksnut. Mens kan hom eintlik maar ʼn rondloper leeglêer noem. Lui perde is so lui dat hulle nie eers daarvan hou om te kyk hoe ander lui perde oefen nie. Daar is natuurlik ook luiperds wat soos tiere lyk, net nie so groot nie. Tiere is groter as luiperds omdat hulle tiermelk drink.”

    “Dit is presies wat my bekommer oor die diere in die Vrystaat, Mossieman. Hulle is soos Forest Gump se boksie sjokkelade, mens weet nooit wat jy gaan kry of hoe die diere gaan lyk nie. Die Vrystaat se diere het vreemde maniere.”

    “Wel, die meeste van hulle is nogal vriendelik, as jy hulle eers van nader leer ken.”

    “Soos ʼn kameelperd? Vergeet dit, Mossieman, ek wil nie kamele of kameelperde van nader leer ken nie. Hulle is te lelik.”

    “Kameelperde is ʼn buitengewone spesie, Geronkie. Dit is perde wat soos ʼn kamele lyk. Die luiperd en kameelperd is vêrlangs broers en hulle is altwee lede van die perde-familie. Mens kry lui kameelperde in die Vrystaat, maar nie hier by die Sandrivier rond nie. Party van die lui kameelperde is nogal fluks as jy hulle eers aan die draf kry.”

    “Mooi so, Mossieman. Jy praat nou ‘n dooie jakkals aan die draf. Het jy al gehoor van ʼn jagluiperd, Mossieman?”

    “Natuurlik, dit is ʼn baie lui perd wat deur ander perde gejaag word. Hy word gejag en gejaag. Daarom is sy naam jagluiperd.”

    “Klink vir my soos ʼn wolhaarstorie, Mossieman. Is jy seker van jou feite en geite?”

    ‘Ja, ek is. Somtyds stem my feite met die waarheid ooreen, ander kere nie. Ek is nie altyd honderd persent reg nie, Geronkie, maar ek is nooit verkeerd nie.”

    “Nou gaan ek jou uitoorlê, ou maat. Wat sal gebeur as ‘n tier en ‘n leeu baklei, wie sal wen?”

    “Strikvraag, Geronkie, ha! Fopuus. Nie een van die twee nie. Jy is mos slimmer as ‘n mens, en jy weet dat tiere in Asië bly, en leeus in Afrika. Die twee sal nooit as te nimmer by mekaar uitkom nie, en daarom sal hulle nooit kan baklei nie. Netjiese strikvraag, Geronie, maar aikôna!”

    “Op ons plaas is daar baie beeste en koeie, Mossieman, maar het jy al ooit van seekoeie gehoor.”

    “Natuurlik! ʼn Seekoei is ʼn logge plaasdier wat baie melk gee en in die see swem. Met ander woorde, hulle hou baie van water. En baie water. Soos waterbabas. As jy ʼn koei in die see sien swem, dan is dit ʼn seekoei. Maar nie hier by ons in die Vrystaat nie. Die koeie wat op die plase in die Vrystaat rondloop, is landkoeie.”

    “Krokodille swem ook in die see, of hoe, Mossieman? Net soos die seekoeie. Ek is seker dat ek al ʼn paar krokodille sien branderplankry het. Of swem hulle net in damme?”

    “ʼn Krokodil is ʼn perd van ʼn ander kleur, Geronkie. Dit is ʼn soort dil wat heeltemal gebreek is. Hy is ʼn ou krok, soos ʼn likkewaan wat moed verloor het. Party mense praat van krokkies.”

    “Wat van muishonde, Mossieman? Hier is mos baie muishonde in die Vrystaat.”

    “ʼn Muishond is ʼn baie klein hondjie wat met ʼn piepstem blaf. Soos ʼn muis wat piep. As daai muishond baie arm is, noem ons hom ʼn kerkmuishond.”

    Geronkie krap sy kop ingedagte met sy voorpoot en dink diep aan ʼn vreemde gedierte om Mossieman mee uit te vang. “Ha! Nou het ek jou! Wat is ʼn bobbejaanspinnekop?”

    “Maklik, Geronkie, maklik. Ek wil nie nou die bobbejaan agter die berg gaan haal nie, maar ʼn bobbejaanspinnekop is ʼn spinnekop wat vol streke is. Soos ʼn kees, saam met sy vriend Adoons. Hulle is vol bobbejaanstreke, dra goue ringe en sing altyd liedjies. Soos ‘bobbejaan klim die berg, so hastig en so lastig, bobbejaan klim die berg, hoera vir die jolly bobbejaan.’

    “Hier in die Vrystaat is ook baie olifante, Mossieman.”

    “ʼn Olifant is eintlik maar net ʼn soort seekoei, Geronkie. Met ʼn stertjie van agter en ʼn stertjie van voor. ”

    “En ʼn waterbuffel?”

    “ʼn Waterbuffel is ʼn buffel wat goed kan swem. Maar hulle hou nie van die see nie, mens sien hulle meesal hier in die Vrystaat se plaasdamme. Anders sou hulle naam seebuffels gewees het. Hulle is nogal befoeterde ouens en hulle hou daarvan om leeus rond te jaag.”

    “Het jy al ooit ʼn miervreter gesien, Geronkie?”

    “Net in Suid-Amerika, toe ek ʼn bietjie daar rondgetoer het. Miervreters is altyd honger en dit is waarom daardie klein swart miertjies in jou kombuis rondhardloop en jou suiker steel. Hulle kruip vir die miervreters weg.”

    “En ʼn eekhoring?”

    “Eekhorings is baie klein ekies, so skerp soos messe, slimmer as die houtjie van die galg! Ekies is intellektuele reuse onder die diere van die Vrystaat, want hulle is baie vernuftig en giftig. En weet jy waarom, Geronkie? In die winter maak hulle kos en neute bymekaar, en begrawe dit oral. Maar nie waar die ander diere dit in die hande kan kry nie. Of in die pote nie.”

    “Wat van walvisse, Mossieman? Jy gaan jok as jy sê dat jy al walvisse in die Vrystaat gesien het. Of haaie!”

    Mossieman gaap en vryf sy oë – dit is al laat in die middag en tyd dat hy gaan slaap. Hy is al effens moeg vir Geronkie se vrae en al die antwoorde wat hy moet uitdink.

    “Haaie is baie vriendelike visse wat almal groet, Geronkie. Hulle grynlag altyd vir jou. Haai! Haai! Hoe gaan dit! Kom bietjie nader! Walvisse is interessante visse – hulle is bang is om te swem. Hulle sit bangerig op die wal langs die sloot en kyk grootoog vir die water, te bang om nat te word. Dit is waarom hulle walvisse genoem word. Hulle sit op die wal, en partykeer help mense hulle van die wal af in die sloot. Of die see.”

    “Mossieman, al wat jy doen is om my van die wal af in die sloot te help met al jou slimstories. Dit is tyd dat jy vir klaasvakie nagsê en gaan slaap.”

    “Jy is reg, Geronkie, die son sak en dit is bedtoegaantyd. Nag, Geronkie.”

    “Nag, Mossieman, lekker slaap.”

    “Nag, Klaasvakie.”

  • Spookstorie in die Goutiekoshuis

    Spookstorie in die Goutiekoshuis

    Spookstorie in die Goutiekoshuis

    Leon, Danie, Henning en JP het vir almal in Goudveld Hoërskool na vier gawe Vrystaatse boerseuns gelyk. Neutrale waarnemers sou nooit sulke stoutighede van hulle verwag het nie, veral nie van Juan Pretorius nie. Danie en Leon was bekende poetsbakkers, streeptrekkers en molesmakers in die koshuis, maar Juan en Henning se moed het dikwels duskant brandstigting en pap bande vir mnr. Ludick se lelike groen Mustang omgedraai.

    Mens kan die Goutiekoshuis in die myndorpie Welkom vir die vier Vrystatertjies se onnutsigheid blameer, òf die Afrikaanse voorgeskrewe eksamenvraestel van 1973, òf ʼn nuwe onderwysertjie wat nie juis van kinders gehou het nie. Henning kon Afrikaans praat en doop hom gou-gou Soetjiespoep; ‘n naam wat vir jare daarna in daardie koshuis se wandelgange sou ronddwaal. In 1973 het Goudveld se koshuisseuns nog in rugbybroeke geslaap, sonder ‘n T-hemp. In die Vrystaatse middel-winter het ons ‘n teelepel teenvriesmiddel gedrink om die koue weg te hou, daar was nog nie sulke goeters soos warmwatersakke en trooskombersies nie.

    Ewenwel, dit was die laaste Vrydagaand van bloktyd in die koshuis en ons dapper viermanskap wou ʼn spook se hulp inroep om te help ‘spot’ vir die voorgeskrewe Afrikaanse-eksamen Maandagoggend. Ligte-uit tyd in die koshuis, winter en somer, was nege-dertig en bewaar jou kindersielietjie as jy of een van jou koshuismaters daarnà nog in die gange gevang word. Jy moes dogmaties nege-dertig in die bed wees, gebede klaar hemel toe gestuur, kussing oor die kop, hande bo-op die kombers.

    Frans Kok was daardie jare koshuisvader, ‘n strenge man wat sy bamboesroede lekker kon inlê, maar altyd met ‘n sagte hart en ‘n skewe glimlaggie. Sy onheilspellende glimlaggie kon so stadig saam met die rokie van sy stinkruikpyp boëntoe krul. Van die koshuiskinders het vir Frans Kok die bynaam Stofstrepie gegee – hy het sò vinnig gestap dat daar altyd so ‘n stofwolkie agter hom aangewarrel het. Leon het natuurlik beweer dat Stofstrepie te lief was vir boontjies.

    As ek nou so terugdink, het die spook en die duiwel van die kinderbybel daardie aand se koshuiskaskenades saam beplan.

    Daar was ‘n oop kamer bokant die koshuiskamer waarin Leon, Danie, Henning en JP gebly het. Dit was daar waar ons vier makkers die besproke Vrydag-aand die spook beroep het. Naweke nà ligte-uit was die koshuis doodstil – die meeste kinders weg huistoe en net ‘n paar verdwaalde honger koshuisbrakke het oorgebly. Jy kon letterlik ‘n speld in daardie gange hoor val, so onheilspellend stil was dit.

    In die donker kamer sit ons vier maters met ʼn glasie, ‘n spieël, bebaboudjiepoeier, en al die letters van die alfabet op stukkies papier in die rondte gepak. Ons hou kywie en kyk senuagtig na die deur, bang dat ʼn onderwyser ons gaan vang. Wie se onnosele idee dit was, kan ek nie meer onthou nie.

    Terwyl die glasie onder vier paar angstige pare oë oor die poeier op die spieël tussen die letters rondbeweeg, is daar ewe skielik ‘n hengse lawaai in ‘n ander deel van die koshuis, naby die onderwysers se kamers op die grondvloer. Ons loer bangerig deur die vensters, maar sien niks. Nà ‘n rukkie is die geraas stil en ons angstige vier vriende, wat in vrees en bewing in die donkerte sit, kry weer rigting met die gees op die spieël.

    Die volgende oomblik bars Soetjiespoep die kamer binne, met hare wat bontstaan en pajamas wat windskeef aan sy woedende geraamte hang. Juan probeer ‘n lyn sny, maar Soetjiespoep kry hom agter sy nek beet totdat hy ophou spartel

    “Warrehel doen julle!” raas hy toe hy die lig aanskakel, hard genoeg om die res van die koshuis wakker te maak en die domastrante gees op die spieël heeltemal te verwilder. Soetjiespoep het daardie glasie en poeierletters op die spieël net een kyk gegee en sy humorsin heeltemal verloor. Miskien het hy gedink die gedaante op die spieël en ʼn spook is dieselfde ding.

    Danie kom eerste tot verhaal, omdat hy onmiddellik geweet het ons is op heter daad betrap is met die gees-soekery. “Nee meneer,” stamel Danie verbroureerd terwyl Leon, Henning en JP van groot tot klein agter sy rug probeer wegkruip, “dit is nie ons nie. Ons roep net bietjie die geeste om ons te help met spotvrae vir Maandag se Afrikaanse-vraestel.”

    “Is julle van julle sinne beroof – watse geeste?”

    “Meneer weet,” gooi Danie weer ‘n stuiwer in die armbeurs, “spoke!  “Met ʼn glasie op die spieëltjie.”

    “Dit is eintlik Henning en Juan se skuld, meneer. Hulle het minder as ons geswot en nou ‘panic’ hulle” lieg Danie, maar dit maak dinge net erger en Soetjiespoep word al hoe kwater.

    “Kom, kantoor toe met julle! Vanaand gaan julle agterente brand.” (Hy het nie van agterente gepraat nie, maar iets van ‘gate’ of ‘gatte’ genoem, kan nie meer onthou nie).

    “Meneer sien, help Danie ongevraag ons verder die afgrond in, “die gees het mooi saamgewerk totdat meneer daar by die deur ingekom het. Toe gaan staan hy stil.”

    Henning en Leon begin giggel en Soetjiespoep, pers in die gesig van woede, gaan amper vir Danie te lyf. JP, wat reeds in Standard Nege heelwat groter as die onderwysers was, tree tussenbeide om ‘n reeks kindermoorde te voorkom. Ons was onder huisarres en kon niks daaraan doen nie. Vanaànd gaan ons stêrre brand.

    “Kom! Kantoor toe!” krys die Soetjiespoep dit uit. Sy grimmigheid is tasbaar en ek dink so by myselwers dat ek liewer die doodstraf sal verkies, as meneer Kok my vanaand ‘n keuse sou gee.

    Toe ons by die koshuishoof se kantoor die trappies in ons pajamas oploop, giggel ons steeds, niemand kan ophou nie. JP het so ‘n benoude uitdrukking op sy gesig, Leon kielie Henning se ribbes om hom nog meer te laat lag, en Danie maak die onderwysertjie se manier van stap na. “Gaan sit daar,” snou die smoorkwaad Soetjiespoep ons toe. “Ek gaan meneer Kok wakker maak.

    Nou kyk, jy maak nie ‘n Vrystaatse onderwyser laat op ʼn ysjoue Vrydagaand wakker sonder ‘n baie goeie verskoning nie. Frans Kok was ‘n ou Kovsies-skrumskakel en hulle is bekend vir manne met kort lonte. Daai lontjie ontbrand blitsvinning as ‘n ander onderwyser jou wakkermaak met die nuus dat die koshuiskinders laat in die aand besig is om kuttels aan te jaag en met spoke rond te voeter.

    Nogal snaaks – twee beneukte onderwysers en vier koshuiskinders net voor middernag in een kantoortjie, amal in hulle pajamas. Kok se hare is briesend omdat hy wakker gemaak is, en Soetjiespoep verontwaardig-kwaad en rooi in die gesig. Ons vier weet dat ons kniediep in die ghano is en dat die bamboes-rottang ons voorland is. Ek kon sommer sien meneer Frans Kok het sy sin van humor verloor.

    Koshuisvader Kok staar ons vier aan asof hy nie kan besluit wie om eerste tereg te stel nie. “Verduidelik!” kras hy dit uit. Sy pyp was nie eers naby nie, maar daardie aand het ‘n blou-rookwalm van kwaadgeit by sy ore uitgekom.

    Danie en Leon is senuagtige segsmanne en altwee praat gelyk. “Meneer sien, ons het met die gees probeer gesels om te help met Maandag se voorgeskrewe vraestel, toe kom die ander meneer by die deur in. Toe gaan staan die glasie stil. Die lig het sommer self aan en af gegaan. Die gees het verdwyn!”

    Koshuisvader Kok se gesigsuitdrukking van stomme verbasing bly my tot vandag nog by. Ek kon sien dat hy nie ‘n dooie woord van ons betoog glo nie. Daar was nie so ‘n ding soos “innocent until proven guilty” in die Vrystaat nie. Jy was sommer uit beginsel skuldig nog voordat die hofsaak begin het.

    ‘n Koshuiskind het ‘n snaakse manier om te lag terwyl hy huil. So tussen die rottanghoue deur en met brandende boude is ons vier makkers kruppel daar by meneer Kok se trappe af. Elkeen drie rottanghoue, Kok se standaard straf vir stout en onnosele kinders. Verby Soetjiespoep kamerdeur, terug na ons kamers toe. Leon sê “kom ons maak hom weer skrik” en ons begin van voor af weer giggel so tussen die trane deur.

    Nie eers die spook kon help om die ons blou-groen boude die week daarnà te versorg en help herstel nie. Almal in die koshuis wou sien hoe die drie strepe lyk, en ons moes gereeld vir belangstellendes wys watter skade Kok se bamboesrottang aan ‘n man se boude kan aanrig.

    ‘n Paar dae later het koshuisvader Kok en Danie lekker op die trappe van die koshuis gesit en gesels, weer ou vriende nà die spookstorie en die pakslae. Teen hierdie tyd het al die ander kinders en onderwysers die storie daar in die gange van die koshuis gehoor en lekker saamgelag. Meeste het met ons gespot omdat ons so onnosel was om gevang te word.

    Ons het eers later uitgevind wat die helse lawaai die aand van die spookstorie veroorsaak het. Een van ons mede-koshuisbrakke en yster-rugbyspeler, Fanie Voorry Griesel, het vir een of ander rede ‘n groot gly in die onderwysertjie op die grondvloer gevang. (Voorry was ‘n formidabele skrumwerker, van Bothaville se wêreld af, later vir Weermag rugby gespeel). Fanie het niks van Soetjiespoep gehou nie en wou die Vrydag-aand, op eie houtjie en onwetend aan ons ander klomp, hom bietjie skrikmaak. In die donkerte van die koshuis het Fanie homself soos ‘n mummie vermom. Fanie hy het êrens ʼn wit ‘overall’ in die hande gekry, en ‘n wit handdoek om sy kop gedraai. Soos ‘n wafferse Tuareg uit die Sahara.

    Wat ou Fanie besiel het om juis dààrdie aand te kies om vir Soetjiespoep bietjie skrik te maak, sal niemand op aarde ooit weet nie. In sy wit ‘overall’ en met die vreemde wit tooisel om sy kop het hy het deur die grafstil vierkant gesluip en in die donkerte stilletjies by die onnie se kamervenster ingeloer. Toe Soetjiespoep se asemhaling op sy rustigste was, het Fanie kliphard aan die venster geklop en soos ‘n leeu gebrul.

    Julle ken die uitdrukking dat ‘n ou sy wind uitskrik, of sy melk wegskrik. Nou ja, daardie aand in die koshuis het Soetjiespoep sy melk weggeskrik. Hy het soos ‘n babatjie begin skree toe hy die skrikwekkende gedaante met sy wit tooisel hier bokant sy kop sien. Fanie Voorry, self witgeskrik deur die onnie se terugskreeuery, hardloop terug kamer toe en duik op sy bed, om onder die komberse weg te kruip. Fanie was ‘n ernstige voorry en ‘n fris boerseun – die bed kon eenvoudig nie die slag vat nie en het met ‘n knal inmekaargetuimel.

    Dàài groot slag en het dàài aand in 1973 in dàài Goudveld-koshuis vir Soetjiespoep wakker gemaak. Dit was toe dat hy woedend in die gange en kamers begin rondsoek het vir sy skrikmaker(s). Ons vier makkers was maar bloot onskuldige slagoffers van omstandighede. As dit nie vir Fanie ‘Tuareg’ Griesel was nie, sou die onnie ons nooit-aste-never gevang het nie. En ons sou nooit die grootste pakslae van ons armsalige lewens ontvang het nie.

    Fanie, Danie, Leon, Henning en JP het baie gehelp om destyds die meeste geeste en spoke uit die Vrystaat en die Goutie-koshuis te jaag.

    Maar nie al die spoke nie…

    Ek het eendag, baie jàre na 1973, per motor op pad Kaapkelonie toe, weer by ons ou Goutie-koshuis ʼn draai gemaak. Dink dit was die jaar 2012 of 2013. Dit was per gelukkig vakansie en die koshuis was dolleeg. Eintlik grafsil. ʼn Vriendelike onnie het my rondgewys; ‘n vraagteken op sy gesig. Die verlate eetsaal waar ons geswot het, die kombuis waar die kombuistannies die lekkerste melkkos op aarde gemaak het, koshuisvaders Kok en Ludick se kantoor, die voorportaal en die kamers en die leë gange. Die plek het my na al die jare dieselfde gevoel en geruik, ek kon die gelag en gesels van die kinders hoor. Al was daar niemand daar nie. Vyf jaar van ons lewens het ons daar deurgebring; jare van blydskap en trane, vriendskap en grootword en mensword. Met swaarkry en lekkerkry het ons brakke daardie vyf jaar in die Goudveld-koshuis klaargekry.

    Salig-nostalgies klim ek in my motor, vol mooi gedagtes en soete herinneringe aan ons ou Goudveld-dae. En ek jok nou nie vir julle nie – met Welkom in my tru-spieëltjie, nèt so anderkant Virginia, duskant Brandfort, oppad Bloemfontein toe…. toe kry ek weer so ‘n vae brandgevoel hier om my boude rond …

    *

  • Die Bôgomorkes

    Die Bôgomorkes

    ‘Soos ʼn skeermes in die hande van ʼn aap, so is geleerdheid in die kop van ʼn dwaas.’

    CJ Langenhoven

    – legendariese Afrikaanse skrywer –

    Die Bôgomorkes

    Ek wil nou nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar in die Vrystaat is daar baie ape wat gewoon stout is en in die boere se mielielande baljaar. Dit is nou nie asof die bobbejane se aapstreke krimineel of misdadig van aard is nie – hulle beskou die mielielande bloot as die boere se bydrae om hul lewens vreedsaam en hul magies trommeldik te maak. Daarby is bobbejane in die Vrystaat  bekend daarvoor dat hulle musikaal is en baie goed kan sing, alhoewel nie almal ewe noodvas nie. Dit is nogal ʼn aardige gesig om ʼn bobbejaankoor met hul pragtige falsetto-stemme te hoor sing, veral vroegoggend as die sonnetjie so oor die Vrystaatse mynhope en mielande opkom.

    Dit is wat gebeur het toe die voorwiel van die Groottoon Boere-orkes langs die grootpad tussen Virginia en Welkom pap geword het. ʼn Spyker het die pap wiel veroorsaak en die hele Groottoon-orkes was radeloos, hande in die hare, voete in die broeksakke, heeltemal moederloos. Noodgedwonge moes hulle maar Virginia-dorp toe stap om ʼn nuwe wiel vir die bakkie te gaan haal. Al die musiekinstrumente is agter op die bakkie gelaai en ʼn splinternuwe wiel was die enigste oplossing. Anders speel hulle nooit vanaand die Kalfiewals by die boeremusiekkonsert op Virginia se skougronde nie – ʼn nuwe wiel moes hulle kry.

    Hoog teen die hellings van die mynhope het die brandwag Kees en sy Bôgombende die bakkie se wiel onder in die pad sien pap word. Kees was nie net die brandwag van die bobbejaantrop nie, maar ook die hoofbobbejaan. “Bôgom! Bôg-bôg,bôgom,” blaf Kees om die res van die trop se aandag te trek en die volgende oomblik hoor jy net takke kraak en blare spaander, soos die bobbejane nader kom om te sien wat gebeur.

    Terwyl die Groottone aanstap dorp se kant toe om die nuwe wiel te gaan aankoop, sit die hele troppie bobbejane hoog in die takke die spulletjie daaronder en aankyk. Die Groottone se kitare en tromme en trompette blink op die agterkant van die bakkie, te aanloklik vir bobbejaan se kind.

    “Kees,” onthou jy nog hoe om kitaar te speel?” vra mevrou Kees, die elegantste bobbejaanwyfie in die trop. “Jy was laas nog ʼn nuuskierige agie toe jy kitaar gespeel het, ek dink jy het al vergeet hoe klink die klanke.”

    Kees is die grootste en lelikste hoofmannetjie in die trop en ook die dapperste bobbejaan in die Vrystaat, daarom is hy die brandwag. Hy is ʼn waaghals, vol streke en huiwer nie om aan enige avontuur deel te neem nie. Die instrumente lyk vir hom heel aanloklik, veral omdat die Groottone weg is en daar niemand is om hom te verwilder nie. Al die bobbejane en hul eggenotes en ʼn hele string klein bobbejaantjies sit in die bome en toekyk. “Hou op met julle bobbejaanstreke,” raas die bobbejaanwyfies met die string kleintjies, “en luister mooi. Julle pappas gaan vir julle ramkiekie op hul kitare speel.”

    “Ek is nie so seker nie,” sê Kees terwyl hy so met sy een oog na die instrumente op die bakkie loer. “Ek het donkiejare laas gespeel, ek is bietjie verroes.”

    “Alle grappies op ʼn stokkie, Kees! Gaan speel nou! Ek en die kinders wil hoor hoe speel jy kitaar.”

    “Goed, ek gaan speel. Watter liedjie wil julle hoor?”

    “Speel daai treffer uit die tagtigs; Bobbejaan klim die Berg, om die boere te vererg. Of iets soos Kloutjie by die Oor of Apie uit die Mou.”

    Kees is ook nie links nie en roep ʼn paar van sy manne bymekaar om in die orkes te speel. “Komaan Mees, moet nie net daar soos ʼn uil op ʼn kluit sit nie, kom speel saam!” Blitsvinnig swaai al wat bobbejaan is uit die bome en spring agter op die bakkie. Kees gryp die kitaar en trek los met ʼn kakafoniese geraas. Mees kry ʼn goue trompet in sy harige kloue beet en begin aan die verkeerde kant blaas. Gees slaat die tromme dat altwee sy ore doof word en Hees begin viool speel asof die Vrystaat-stadion afbrand. Een van die klein bobbejaantjies (Mevrou Kees het hom Adoons gedoop), kry ʼn bekfluitjie in die hande en suig vir die vale.

    “Adoonsie,” skree Kees, “jy moet daai bekfluitjie blaas, man, nie suig nie.” Adoons begin huil en sanik oordat hy raas gekry het. “Mààà, mààà – pa se ramkiekie het net een snaar!”

    “Hou op met julle aapstreke, manne! Roer julle litte! Speel!”

    “Volgende versoek? Wat moet ons speel?” skree Kees vir al die toeskouers en bewonderaars wat soos ape op ʼn stokkie sit. “Laat die Aap uit die Mou! Of speel daai nommertjie ‘Al dra ʼn Aap ʼn Goue Ring.’ “Nee!” speel ‘Apie uit die Mou!” skree die gehoor en sing lustig saam. Sò ʼn groot konsert en soveel sports het hulle lanklaas in die Vrystaat gesien.

    Hees is die heel beste bobbejaan in die orkes en hy speel ʼn viool concerto dat die biesies bewe. Die viool skree soos ʼn brandmaer varkie en die voëls in die vlei vlieg verskrik op om elders te gaan skuiling soek. Die klankgolwe van die Bôgomorkes trek oor die hele Vrystaat en al die diere begin saam bulk en krys en runnik dat die kranse antwoord gee. Party kan die geraas nie verdra nie en druk hulle ore met hul pote toe.

    Die gehoor is ook nie links nie en begin die riel dans dat die stof so staan. Die hele lot bobbejane dans en skree en lag en gesels. Hier en daar is selfs ʼn paar bobbejane wat die  tja-tja doen en lostrek met ʼn paar opera arias. Al die diere van die bos kom nader om te sien waaroor die groot lawaai gaan en hoe vernuftig die bobbejane hulle danspassies uitvoer. Nou en dan bars daar spontane applous los – in hulle leeftyd het hulle nog nooit so ʼn oulike konsert gesien nie. Van die ouer bobbejane onthou nog hoe om te twist en hulle gooi hulle boude links en regs op die maat van die Bôgomorkes se musiek. Almal geniet hulle gate uit, dit is die grootste partytjie wat die Vrystaat nog ooit gesien het. Later-aan begin die son sak agter koppie-alleen, maar die bobbejane se orkes speel nog asof hulle elkeen met ʼn sak mielies betaal word.

    Uiteindelik kom die Groottoon-orkes teruggestap van die dorp af, met ʼn nuwe opgepomde pap wiel om aan die bakke te sit. Van ver af hoor hulle die kabaal en toe hulle om die draai kom, hoor hulle ʼn verskriklik lawaai wat van die bakkie af kom. Al die bobbejane in die Vrystaat drom om die bakkie rond om die bobbejaanorkes te hoor speel en niemand sien die Groottoon-orkes aankom nie.

    Die Groottone kan hulle oë nie glo nie. “Sien julle wat ek sien?” vra die orkesleier van die Groottone. “Die bobbejane maak musiek, hulle slaat die kitare en dans al in die rondte.”

    “Het jy gesien hoe daardie bobbejaan kitaar speel? En daardie een slaan daai tromme dat die dennebome dreun!” lag die Groottone.

    “Ek sien en ek hoor,” brom die orkesleier. “Hulle speel vals en die koor sing die verkeerde deuntjie. Daai lotjie bobbejane weet soveel van musiek af as ʼn aap van godsdiens en ʼn kat van safraan. ”

    “Watter liedjies speel hulle?”

    “Weet nie, maar dit het vir my geklink na ‘bobbejaan klim die berg,’ met hier en daar ʼn sitees tussen-in. Die kese speel sitese.”

    “Klink vir my daardie bobbejane maak net geraas,” kla die leier van die Groottoon-orkes. “Jaag hulle weg!”

    “Maar waarom moet ons hulle wegjaag, hulle klink dan so mooi as hulle van noot af is.”

    “Nee-wat, hulle speel vals en die bobbejaankoor kan ook nie ordentlik noot hou nie. Party sing opera en die ander langvergete boereliedjies, almal gelyk. Jaag hulle weg!”

    Toe die Bôgom-orkes en die bobbejaankoor die Goottoon-orkeslede sien nader kom, los hulle die instrumente net daar en spaander die bome in. Die hele spulletjie klouter en klim en kwetter soos voëls oor die groot partytjie wat hulle gehou het. Die Groottone pak maar gedweë hul kitare en tromme en viool weer terug op die bakkie en ruil die papwiel om. Van die bobbejane is daar geen spoor nie – hulle het soos mis voor die son verdwyn. Al wat van die groot konsert oorgebly het, is ʼn paar bobbejaanspore in die sand.

    “Tjaa…” peins mevrou Kees, toe die Groottone se bakkie met sy opgepomde papwiel in die verte wegry. “Al dra ʼn aap ʼn goue ring, bly hy maar ʼn stoute ding.”

    *

  • Gogga-la-Botter

    Gogga-la-Botter

    Is dit ‘n bottervliegie? Of ‘n Gogga-la-Botter?

    “Geronkie, wat noem mense ‘n ‘butterfly’ in Afrikaans?”

    Geronkie krap sy lang donkie-ore met ‘n krom voorpoot en dink diep oor Mossieman se onnutsige vraag. Hy het al baie van ‘butterflies’ gehoor wat saggies en geluidloos deur diep donker bosse in die Vrystaat vlieg, maar nog nooit gedink dat jy ‘n Afrikaanse ‘butterfly’ kry nie.

    “Ek weet nie eintlik nie, Mossieman, maar as ek nou moet sê, dan is dit ‘n bottervliegie. Of dalk ‘n gogga-la-botter. ‘Butter’ is botter in Afrikaans, en ‘n ‘fly’ is ‘n vlieg.  Bottervlieg klink nie so lekker nie, daarom dink ek ons moet hulle sommer bottervliegies noem. Of miskien fladderbye. Of ‘n gogga-la-botter.”

    “Wat? Waarvan praat jy Geronkie?  Gogga-la-botter?  Wat is dit?”

    Geronkie dink diep en hy frons dat die byle huil. “Wel,” verduidelik hy stadig sodat Mossieman kan verstaan, “botter is botter en ‘n vlieg is ‘n gogga. Daar’s hy, gogga-la-botter.  Soos ‘n gogga wat in die botter geval het.”

    Mossieman lag te lekker. “Ja, seker met sy agterkant!”

    Geronkie grinnik en balk van die lag. “Dan is daai gogga in die botter ‘n vlieg in die salf!” Ga-ga-gàààaa, lag hy.

    Vinnig vlieg Mossieman op na sy boomtopnessie toe en blaai deur sy HAT om navorsing oor bottervliegies te doen. Hy is nie heeltemal oortuig dat Geronkie reg is met die naam nie. ‘n HAT is nie ‘n hoed in Engels nie, lees maar ‘n handwerkboek van die Afrikaanse taal, wat mense (en diere) gebruik as hulle nie ‘n woord ken nie. Die HAT is ‘n baie handige boek en dit is waarom Mossieman altyd die HAT in sy nessie het.

    “Hoekom wil jy weet, Mossieman, waarom soek jy die regte woord?” vra Geronkie nuuskierig, terwyl hy oor Mossieman se skouer probeer loer wat in die groot woordeboek staan.

    Mossieman is verdiep in sy HAT en hy het ‘n akademiese fronsie tussen sy twee mossie-oë. “Omdat Geronkie… omdat ek vir ‘n kompetisie wil inskryf op Viva Afrikaans waar mense en diere nuwe Afrikaanse woorde kan uitdink. As jy met ‘n oorspronklike Afrikaanse woord vorendag kom, kan jy ‘n nuwe selfoon wen.”

    “Wat sal jy tog met ‘n selfoon maak, Mossieman?” lag Geronkie. “Mossies gebruik mos nie selfone nie, julle kwetter net.”

    “Wag maar en sien, Geronkie. Wag maar. Ek dink in elk geval nie bottevliegie is ‘n regte Afrikaanse woord nie,” mor Mossieman ernstig, terwyl hy deur die bladsye van die HAT snuffelsoek. “Ek dink nie daar is so ‘n woord in Afrikaans nie.”

    “Wel,” sê Geronkie nadenkend, “as ons ‘n botterbulletjie in Afrikaans kan kry, kan ons seker ‘n bottervliegie ook kry. Die doel van die kompetisie is juis om met ‘n nuwe Afrikaanse woord vorendag te kom –  jy moet hom uitdink.”

    “Wat is ‘n botterbulletjie, Geronkie?” frons Mossieman terwyl hy stadig, bladsy vir bladsy, deur die HAT blaai. Hy verstom hom aan al die pragtige Afrikaanse woorde en idiome wat oor die bladsye dans. ‘Ek dink nie ons is dankbaar genoeg teenoor al die taalstryderomies wat die woorde uitgedink het,’ dink hy by homselwers.

    “’n Botterbulletjie is die teenoorgestelde van ‘n bakvissie, Geronkie. So proklameer die HAT. Bakvissies is meisies wat giggel. Seuns wat giggel, noem ons botterbulletjies.”

    Mossieman is nog nie tevrede nie. “Ek weet darem nie Geronkie, ek dink nie daar is so ‘n ding soos ‘n bottervliegie nie. Miskien ‘n vuurvliegie, maar nie ‘n bottervliegie nie.”

    “Ai tog, Mossieman,” sug Geronkie en hy gaan lê op die naat van sy rug in die koelte van ‘n groot moerbeiboom in die middel van die bos. Die blare is groen en sag en keer die sonstrale se hitte sodat dit lekker koel in die skaduwee is. “Ek weet nie waarom jy nie die halwe waarhede wat ek kwytraak glo nie. Daardie pragtige vlieënde goggas met die mooiste vlerke met kolletjies en strepies en helder kleure op, is beslis bottervliegies. Hulle fladder oral in die bos rond op soek na soet nectar in die blommetjies en dan dra hulle die blomme se stuifmeel van een blommetjie na al die ander blommetjies oor. Die stuifmeel aan hulle pote is geel en sag, net soos botter. Dit is waarom ons hulle bottervliegies noem.”

    “Miskien in die Oos-Vrystaat waar jy vandaan kom, Geronkie,” glimlag  Mossieman en hy soek verder in sy HAT. “Maar beslis nie in die hele Vrystaat waar ek vandaan kom nie.”

    “Sies Mossieman, jy diskrimineer mos nou teen ons Oos-Vrystaters,” sê Geronkie vies en hy sit versigtig ‘n koel asynlappie op sy voorkop om behoorlik in die skaduwee te ontspan. Hy raak partykeer duiselig van al die nonsens wat Mossieman kwytraak. Spoedig raak Geronkie aan die slaap en hy snork liggies, terwyl hy van bakvissies en bottelbulletjies droom.

    Mossieman soek verder in die HAT en uiteindelik kry hy die regte woord. Hy haal sy lei uit sy knapsak en maak versigtig ‘n nota met sy griffel. S-k-o-e-n-l-a-p-p-e-r skryf hy versigtig – skoenlapper. ‘n ‘Butterfly’ in Engels is ‘n skoenlapper in Afrikaans. Skoenlappers fladder en flap mos hulle vlerke as hulle vlieg, dink hy. Miskien moes hulle skoenflappers gewees het. En waarom moet hulle skoene dra? Hmm… wonder hy hardop, ‘skoenlappers.’ Klink beter as botterflappers.  Wat daarvan as die skoenlappers baie groot is, noem ons hulle dan stewellappers? En as hulle klein is, ‘plakkielappers?’ En ‘tekkielappers’ as hulle baie fiks is en rondhardloop?

    Mossieman skud aan Geronkie se skouer en nà ‘n rukkie word hy stadig wakker uit sy diep slaap onder die moerbeiboom. “Geronkie,” sê Mossieman opgewonde, “word wakker! Ek het die regte woord vir ‘butterfly’ in die HAT gekry, dit is ‘n skoenlapper. Nie ‘n vuurvliegie of ‘n bottervliegie nie, maar ‘n skoenlapper!”

    Geronkie vee die slaap uit sy oë en grom vir Mossieman. “Los my uit Mossieman, jou lieplapper, ek wil slaap!”

    “Nee Geronkie, jou deugniet, word wakker. Kom kyk, hier is ‘n skoenlappertjie wat hier om ons rondfladder.”

    Geronkie is nou wawyd wakker en hy kyk soekend rond om die skoenlapper te sien. Uiteindelik sien hy die skoenlapper op ‘n mooi rooi blom in die middel van die woud sit.

    “Ek sien hom, Mossieman,” balk Geronkie toe hy die skoenlappertjie sien. “Maar hy het nie skoene aan nie. Ons kan hom nie ‘n gogga-la-botter noem nie, ook nie ‘n fladderlapper nie.”

    “Dan noem ons hom net ‘n skoenlapper, Geronkie, sonder sy skoene. Kyk hoe mooi sit die pragtige skoenlapper op die mooiste blom.” Mossieman glimlag tevrede, maak sy HAT saggies toe en bêre hom veilig saam met sy kosbare Afrikana in sy nes.

    Geronkie die Donkie sit behaaglik agteroor en loer na die mooi skoenlapper.  ‘Die Hemelse Vader het darem vir ons die mooiste goggas en diertjies na die Vrystaat toe gestuur om hierdie aarde met ons te deel,’ sug hy tevrede.

    ‘”Ja, Geronkie. En dankie-tog die Hemelse Vader het vir ons woordeboeke ook gegee.”

    *Henning van Aswegen

  • Daar’s ‘n hoender

    Daar’s ‘n hoender

    “Hoendereiers is snaakse dinge,” vertel Mossieman eendag vir sy boesemvriend Geronkie die Donkie onder ‘n groot ou populierboom op die walle van die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat.  Hulle was iewers op reis oor die uitgestrekte vlaktes van dié asemrowende voormalige republiek, en het besluit om bietjie langs die Sandrivier uit te span en ‘n lekker beker boeretroos te drink.

    “Hoendereiers kom in baie verskillende groottes en snaakse vorme, Geronkie. Groot hoendereiers, klein hoendereiers, plat hoendereiers, roereiers, gebakte hoendereiers, gaar of rou hoendereiers, ronde en vierkantige eiers, en hardgekookte eiers vir ontbyt. En omelét-eiers.”

    “Ek wonder hoeveel hoenders in die Vrystaat bly,” wonder Geronkie hardop, terwyl hy ‘n groot stuk boerbeskuit uithaal om saam met sy boeretroos te geniet.  “Daar moet seker baie hoenders wees om elke dag soveel hoendereiers te lê. Dink jy daar is meer as ‘n honderd hoenders in die Vrystaat, Mossieman?”

    Mossieman is ‘n diep denker, eintlik ‘n filosoof en hy oorweeg Geronkie se vraag versigtig voordat hy antwoord.  Maar net voordat hy antwoord, vra die onnutsige Geronkie nog ‘n vraag.

    “Is dit waar dat slegs henne hoendereiers kan lê, Mossieman?”

    “Ek dink nie so nie, Geronkie,” antwoord Mossieman filosofies, “ek dink dit is ‘n gerug dat nèt hoenderhenne hoendereiers lê. Of volstruiseiers. Niemand kon dit nog ooit bewys nie. Nie eers Einstein kon dit tydens sy besoek aan die Vrystaat bewys nie. As dit net henne is wat hoendereiers kan lê, sou hulle dit mos henne-eiers genoem het, nie hoendereiers nie. Ons filosowe regoor die planeet Aarde is mos in kontak met mekaar via Whatsapp, en ek weet waarvan ek praat, Geronkie.”

    “Dit maak sin ja,” sug Geronkie gelate, “maar ek wonder hoe kry die hoenders dit reg om sulke verskillende soorte eiers te lê. Soos roereiers. Of omelétte .”

    “Dis maklik om te verklaar Geronkie,” sê Mossieman akademies. “Ek het bietjie ondervinding van hoenderboerdery, en ek het gesien wat die Vrystaatse boere doen om die hoenders roereiers te laat lê. Jy weet mos Vrystaatse hoenderboere is die beste boere in die hele wêreld.”

    “Ja, almal weet dit. Maar wat doen die boere Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig en hy kyk  bietjie rond of hy nie êrens ‘n voorbeeld van ‘n hoender kan sien nie.

    Mossieman teug aan sy boerbeskuit, drink nog ‘n slukkie boeretroos en dink sò diep dat sy ogies met ‘n boog kromtrek. “Wel Geronkie, die boer vind eers by die hoender uit of hy gereed is om die eier te lê. Of sy gereed is om die eier te produseer. Ons is nie altyd honderd persent seker of dit henne of hane of hoenders is wat die eiers lê nie. Wanneer die hoendertjie gereed is om die eier te lê, hou die boer hom onderstebo in die lug, en skud hom so bietjie rond sodat die eier lekker kan skommel. Wanneer daardie hoender eers goed gewikkel is, kom daar ‘n roereier aan die anderkant uit. Die boer moet net versigtig wees om die hoendertjie nie te veel te skud nie, anders word daardie roereier ‘n omelét.”

    Geronkie is nie seker of hy vir Mossieman moet glo nie. “Wat van plat-gebakte roereiers Mossieman? Hoe oortuig die boer daardie hoendertjie om ‘n gebakte roereier te lê?’ wil hy skepties weet.

    Mossieman bestudeer sy boerbeskuit in sy poot en drink nog ‘n slukkie boeretroos uit sy Cheetah-blikbeker. “Wel, dit is nou ‘n ander storie daai Geronkie, en ek moet bieg dat ek nie heeltemal weet van die gebakte gedeelte nie. Ek weet net dat die boer en die hoender die eier so plat-gebak kry. Dit vat nog baie inspanning en vooraf-beplanning. Dit is ‘n spanpoging.”

    Geronkie is nou baie nuuskierig en hy spits sy lang donkie-ore. “Wat doen hulle Mossieman?”

    “Dit is nogal belangrik dat die boer en die hoender moet saamwerk om so ‘n plat roereier te lê. Onthou, die hoender moet die eier lê, nie die boer nie. Dit is belangrik dat die hoender nie staan terwyl die eier gelê word nie, hy moet plat sit.”

    “Die boer?”

    “Nee, Geronkie man, die hoender moet sit. Die boer kan bly staan. Of sit.”

    ‘Hy of sy,’ merk Geronkie onseker op, want hy is nog nie heeltemal seker of dit ‘n haaneier, ‘n henneier, of ‘n hoendereier is nie.

    ‘Ja, hy of sy,” stem Mossieman saam. In elk geval, die hoender moet plat sit om die eier te lê, en plat bly sit nadat die eier gebore is. Dit beteken dat die eier nie tyd kry op groot te word nie, hy bly net so plat omdat die hoenders op hulle hurke sit.”

    “Ek sien. Reg so Mossieman,” sê Geronkie die Donkie wantrouig. “Maar wat van ‘n ronde gekookte eier vir ontbyt?”

    “Dit is die maklikste een om te verduidelik Geronkie,’ peins Mossieman met ‘n ligte fronsie tussen sy mossie-oë, terwyl hy weer aan sy boeretroos teug. “Dit is eintlik heel eenvoudig. ‘n Ontbyt-eier is gewoonlik gekook – die hoender gaan sit binne-in ‘n sauna net voor die eier die lig sien.”

    “Nee-man Mossieman, nou jok jy mos! Hier in Vrystaat is nie saunas nie. Watse volksvreemde ding is ‘n sauna in elk geval?”

    “Dis waar, ja Geronkie. In die Vrystaat het ons nie baie saunas nie, dit is te warm vir saunas. Ons het eenkeer, lank lank gelede toe Barry Hertzog nog Eerste Minister was, ‘n sauna vanuit Swede af ingevoer, net om te kyk hoe hy lyk. Saunas is in elk geval ‘n vreemde goeters wat nie lekker werk nie. In die Vrystaat gaan staan ons eerder onder ‘n sinkdak op ‘n plaas, dan voel dit net soos ‘n sauna.”

    “Reg so Mossieman,” sê Geronkie, “maar hoe kry die hoender die eiertjie so koëlrond?”

    Mossieman krap sy ken met sy veerpoot en dink weer diep, terwyl hy nog ‘n stuk boerbeskuit eet. “Ons weet uit wetenskaplike navorsing by Kovsies dat hoendereiers plat word as hulle op die grond val, Geronkie. En dat hulle roereiers word as jy die hoender bietjie skud voor die eier gebore word. Om ‘n ronde eier te produseer is effens moeiliker, want die hoender moet op sy rug lê. Onthou, die hoender moet op sy rug wees, nê, nie die boer nie.”

    “Op sy rug Mossieman?” vra Geronkie verbaas en hy loer ondersoekend na Mossieman om te sien of hy nie jok nie.

    “Ja, op sy rug, of haar rug, sodat die eier boöntoe gebore word sonder om op die grond te val.  Die eier is dan mooi koëlrond as hy die lig sien. En die eier is sommer klaar gebak as die hoender nog onder die sinkdak-sauna ook gelê het.  En sò kry jy mooi ronde hardgekookte hoendereiers vir ontbyt,” sluit Mossieman selfvoldaan sy storie af.

    “Hoenders is darem maar indrukwekkende diere Mossieman,” merk Geronkie beïndruk op. “Mens beledig hulle eintlik deur hulle pluimvee te noem. Dit is ‘n uitsonderlike prestasie om sulke verruklike eiers te produseer.”

    Mossieman en Geronkie het klaar hulle boeretroos gedrink en begin aanstaltes maak om al langs die magtige Sandrivier terug te stap huistoe. “Maar weet jy Geronkie, daar is verseker een hoender wat dit nog nooit kon regkry om ‘n mooi eier te lê nie. Maak nie saak of dit roereiers, of gebakte eiers, hardgekookte eiers is nie.”

    “Nou watter hoender is dit dan, Mossieman,” vra Geronkie verwonderd.

    “Wel Geronkie, dit is eintlik nie ‘n hoender nie, dit is ‘n haan. As jy daar na Virginia se kerktoring se kant toe kyk, kan jy hom daar bo-op sien. Dit is die haan wat op die kerktoring staan.”

    “Ek sien hom ja,” sê Geronkie peinsend. “Weet jy Mossieman, ek hoop regtig dat die kinders wat elke dag eiers vir ontbyt eet, ‘n oomblik neem om aan die hoendertjies se bydra te dink. Net soos ons donkies, is ‘n Vrystaatse hoender darem maar ‘n wonderlike ding.”

    *

  • Daar’s ‘n Hoender

    Daar’s ‘n Hoender

    “Hoendereiers is snaakse dinge,” vertel Mossieman eendag vir sy boesemvriend Geronkie die Donkie onder ‘n groot ou populierboom op die walle van die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat.  Hulle was iewers op reis oor die uitgestrekte vlaktes van dié asemrowende voormalige republiek, en het besluit om bietjie langs die Sandrivier uit te span en ‘n lekker beker boeretroos te drink.

    “Hoendereiers kom in baie verskillende en snaakse vorme, Geronkie. Groot hoendereiers, klein hoendereiers, plat hoendereiers, roereiers, gebakte hoendereiers, gaar of rou hoendereiers, ronde en vierkantige eiers, en hardgekookte eiers vir ontbyt. En omelét-eiers.”

    “Ek wonder hoeveel hoenders in die Vrystaat bly,” wonder Geronkie hardop, terwyl hy ‘n groot stuk boerbeskuit uithaal om saam met sy boeretroos te geniet.  “Daar moet seker baie hoenders wees om elke dag soveel hoendereiers te lê. Dink jy daar is meer as ‘n honderd hoenders in die Vrytaat, Mossieman?”

    Mossieman is ‘n diep denker, eintlik ‘n filosoof en hy oorweeg Geronkie se vraag versigtig voordat hy antwoord.  Maar net voordat hy antwoord, vra die onnutsige Geronkie nog ‘n vraag.

    “Is dit waar dat net henne hoendereiers kan lê, Mossieman?”

    “Ek dink nie so nie, Geronkie,” antwoord Mossieman filosofies, “ek dink dit is net ‘n gerug dat nèt hoenderhenne hoendereiers lê. Of volstruiseiers.  Niemand kon dit nog ooit bewys nie.  En as dit net henne is wat hoendereiers kan lê, sou hulle dit mos henne-eiers genoem het, nie hoendereiers nie.”

    “Dit maak sin ja,” sug Geronkie gelate, “maar ek wonder hoe kry die hoenders dit reg om sulke verskillende soorte eiers te lê.  Soos roereiers. Of omelétte .”

    “Dis maklik om te verklaar Geronkie,” sê Mossieman akamemies.  “Ek het bietjie ondervinding van hoenderboerdery en ek het gesien wat die Vrystaatse boere doen om die hoenders roereiers te laat lê. Jy weet mos Vrystaatse hoenderboere is die beste boere in die hele wêreld.”

    “Ja, almal weet dit.  Wat doen die boere Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig en hy kyk  bietjie rond of hy êrens ‘n voorbeeld van ‘n hoender kan sien.

    Mossieman teug aan sy boerbeskuit, drink nog ‘n slukkie boeretroos en dink sò diep dat sy ogies met ‘n boog kromtrek. “Wel Geronkie, die boer vind eers by die hoender uit of hy gereed is om die eier te lê. Of sy gereed is. Ons is nie altyd honderd persent seker of dit henne of hane of hoenders is wat die eiers lê nie.  Wanneer die hoender dan gereed is om die eier te lê, hou die boer hom onderstebo in die lug, en skud hom so bietjie rond sodat die eier lekker kan skommel. Wanneer daardie hoender eers goed gewikkel is, kom daar ‘n roereier aan die anderkant uit. Die boer moet net versigtig wees om die hoendertjie nie te veel te skud nie, anders word daardie roereier ‘n omelét.”

    Geronkie is nie seker of hy vir Mossieman moet glo nie. “Wat van plat gebakte roereiers Mossieman? Hoe oortuig die boer daardie hoendertjie om ‘n gebakte roereier te lê?’ wil hy skepties weet.

    Mossieman bestudeer die boerbeskuit in sy poot en drink nog ‘n slukkie boeretroos uit sy Cheetah-blikbeker. “Wel, dit is nou ‘n ander storie daai Geronkie, en ek moet bieg dat ek nie heeltemal weet van die gebakte gedeelte nie. Ek weet net dat die boer en die hoender die eier so plat-gebak kry.”

    Geronkie is nou baie nuuskierig en hy spits sy lang donkie-ore. “Wat doen hulle Mossieman?”

    “Dit is nogal belangrik dat die boer en die hoender moet saamwerk om so ‘n plat roereier te lê. Onthou, die hoender moet die eier lê, nie die boer nie. Dit is belangrik dat die hoender nie staan terwyl die eier gelê word nie, hy moet plat sit.”

    “Die boer?”

    “Nee, Geronkie man, die hoender moet sit. Die boer kan bly staan. Of sit.”

    ‘Hy of sy,’ merk Geronkie onseker op, want hy is nog nie heeltemal seker of dit ‘n haaneier, ‘n henneier, of ‘n hoendereier is nie.

    ‘Ja, hy of sy,” stem Mossieman saam. In elk geval, die hoender moet plat sit om die eier te lê, en plat bly sit nadat die eier gebore is. Dit beteken dat die eier nie tyd kry op groot te word nie, hy bly net so plat omdat die hoenders op hulle hurke sit.”

    “Ek sien. Reg so Mossieman,” sê Geronkie die Donkie wantrouig, “maar wat van ‘n ronde gekookte eier vir ontbyt?”

    “Dit is die maklikste een om te verduidelik Geronkie,’ peins Mossieman met ‘n ligte fronsie tussen sy mossie-oë, terwyl hy weer aan sy boeretroos teug. “Dit is eintlik heel eenvoudig. ‘n Ontbyt-eier is gewoonlik gekook – die hoender gaan sit binne-in ‘n sauna net voor die eier die lig sien.”

    “Nee-man Mossieman, nou jok jy mos! Hier in Vrystaat is nie saunas nie. Watse volksvreemde ding is ‘n sauna in elk geval?”

    “Dis waar, ja Geronkie. In die Vrystaat het ons nie baie saunas nie, dit is te warm hier. Ons het eenkeer, lank lank gelede toe Barry Hertzog nog Eerste Minister was, ‘n sauna vanuit Swede af ingevoer, net om te kyk hoe hy lyk. Sauna’s is in elk geval ‘n vreemde goeters wat nie lekker werk nie. In die Vrystaat gaan staan ons net onder enige sinkdak op ‘n plaas, dan voel dit net soos ‘n sauna.”

    “Reg so Mossieman,” sê Geronkie, “maar hoe kry die hoender die eiertjie so koëlrond?”

    Mossieman krap sy ken met sy veerpoot en dink weer diep, terwyl hy nog ‘n stuk boerbeskuit eet. “Ons weet uit navorsing dat hoendereiers plat word as hulle op die grond val, Geronkie. En dat hulle roereiers word as jy die hoender bietjie skud voor die eier gebore word. Om ‘n ronde eier te produseer is effens moeiliker, want die hoender moet op sy rug lê. Die hoender moet op sy rug wees, nê, nie die boer nie.”

    “Op sy rug Mossieman?” vra Geronkie verbaas en hy loer ondersoekend na Mossieman om te sien of hy nie jok nie.

    “Ja, op sy rug, of haar rug, sodat die eier boöntoe gebore word sonder om op die grond te val.  Die eier is dan mooi koëlrond as hy die lig sien. En die eier is sommer klaar gebak as die hoender nog onder die sinkdak-sauna ook gelê het.  En sò kry jy mooi ronde hardgekookte hoendereiers vir ontbyt,” sluit Mossieman selfvoldaan sy storie af.

    “Hoenders is darem maar indrukwekkende diere Mossieman,” merk Geronkie beïndruk op. “Mens beledig hulle eintlik deur hulle pluimvee te noem. Dit is ‘n indrukwekkende prestasie om sulke verruklike eiers te produseer.”

    Mossieman en Geronkie het klaar hulle boeretroos gedrink en begin aanstaltes maak om al langs die magtige Sandrivier terug te stap huistoe. “Maar weet jy Geronkie, daar is verseker een hoender wat dit nog nooit kon regkry om ‘n regte mooi eier te lê nie. Maak nie saak of dit roereiers, of gebakte eiers, hardgekookte eiers is nie.”

    “Nou watter hoender is dit dan, Mossieman,” vra Geronkie verwonderd.

    “Wel Geronkie, dit is eintlik nie ‘n hoender nie, dit is ‘n haan. As jy daar na Virginia se kerktoring se kant toe kyk, kan jy hom daar bo-op sien, dit is die haan wat op die kerktoring staan.”

    “Ek sien hom ja,” sê Geronkie peinsend. “Weet jy Mossieman, ek hoop die kinders wat elke dag eiers vir ontbyt eet, ‘n oomblik neem om aan die hoendertjies se bydra te dink. Net soos ons donkies, is ‘n hoender darem maar ‘n wonderlike ding.”

    *

    • Henning van Aswegen
  • Die Kat kom terug

    Die Kat kom terug

    Mossieman en Geronkie is Saterdagoggend op pad Virginia dorp toe om bietjie inkopies te doen, toe hulle Mys die Muis onder in die kronkelpad sien aankom.

    Mys die Muis loop elke Saterdag langs die magtige Sandrivier rond, met ʼn groot swart sak oor sy skouer. So nou en dan stop Mys om bietjie asem te skep – die sak is swaar en partykeer raak Mys moeg, dan moet hy maar die sak aansleep. Die diere van die Vrystaat terg Mys die Muis baie, omdat hy so klein is en naby aan die grond loop. Maar as dit by sak-dra kom, is Mys die kampioen van die hele Vrystaat. Nie alleen is Mys in sy vrye tyd ‘n liggaamsbouer nie, hy eet elke oggend krummelpap vir ontbyt om sy spiere in goeie kondisie te hou.

    Oral waar Mys die Muis loop, is daar nuuskierige agies wat by hom wil weet wat in sy sak is.

    “Dis my geheim,” fluister Mys dan net geheimsinnig en loop verder op sy pad, al beurende met die allemintige swart sak. Naderhand is daar honderde diere, voëls, inskekte, brommers, hoenders en groen wurms wat al agter Mys die Muis aantou. “Wat is in jou sak, Mys,” spot die diere, “waarom dra jy elke dag jou groot swart sak rond?”

    “Want ek is bang vir slange,” antwoord Mys uitasem, en loer so effens bangerig in die bos rond.

    “Maar Mys,” lag al die diere vir hom, “behalwe vir Poffie Pofadder, is daar is nie slange in die Vrystaat nie.”

    “Natuurlik is daar nie,” antwoord Mys vol selfvertroue, “my kat in my sak het al die slange gevang en opgevreet.” So af en toe lag Mys lekker in sy mou, want niemand weet regtig wat in sy sak is nie. ‘Ek is ʼn muis,’ dink hy, ‘ klein maar getrein, maar ek bly klein. Dink hulle regtig ek kan ʼn groot kat in my sak roddra?’

    Poffie Pofadder het die storie gehoor van al die ander slange uit die Vrystaat geëmigreer het, omdat hulle bang is vir Mys die Muis en sy swart sak. Poffie is al lankal lus vir bietjie muisvleis en dreigend seil hy nader. ‘Vandag is my dag,’ dink hy gulsig en maak kop-orent gereed om vir Mys te pik.”

    Maar Mys die muis is ʼn op en wakker muis en hy sien Poffie se plan om hom te pik,sommer van ver af raak. “Nie so vinnig nie, Poffie! Weet jy dat ek my kat in my sak oor my skouer ronddra? As jy my probeer pik, gaan ek my sak neersit en dan gaan die kat uitkom en jou vang en opvreet. Jy kan nie waag om my te pik nie!”

    Poffie Pofadder aarsel ʼn oomblik om aan Mys die Muis se ydele dreigement te dink. Hy is nie lus om katkos te word nie, vir katte is hy baie bang. In die Vrystaat het hy al baie groot katte gesien – rooikatte, leeus, luiperds, cheetahs, musseljaatkatte, seekatte, allerhande katte. En hy is vir almal bang. Hy wil nie regtig deur ʼn kwaai kat opgeët word nie. Stadig-stadig maar seker begin Poffie Pofadder agteruit seil, terug in sy bos in, stert tussen die bene.

    “Het jy gesien, Mossieman?” klop Geronkie opgewonde vir Mossieman teen die skouer. “Kyk net hoe bang is daai Poffie Pofadder vir die kat binne-in Mys die muis se swart sak!”

    Mossieman krap sy kop met sy veerpoot. ”Ek het gesien, Geronkie, maar ek wonder of daar regtig ʼn kat in Mys se sak is. Net omdat hy sê daar is ʼn kat in sy sak, beteken nie dat daar rêrig ʼn katjie daarbinne is nie.”

    Net toe kom Leo Leeu om die draai en hy sien vir Mys raak. Leeu is ʼn voormalige koning van die diere in die Vrystaat en ʼn lid van die Groot Vyf. Leo was lid van die Groot Vyf totdat Ollie Olifant hom ontroon het. Van daardie dag af is hy net ʼn gewone leeu, dankbaar dat die ander vier hom toegelaat het om nog ʼn lid van die Groot Vyf te bly. Vandag is Leo Leeu egter lus vir muisvleis en hy brom en hy grom om Mys die Muis se aandag te trek. “Vandag eet ek jou op, Mys! Sommer vir jou en alles binne-in die sak wat jy daar oor jou skouer dra.”

    Nonchalant kyk Mys die Mys vir Leo Leeu op en af, en sit sy sak op die grond neer om ʼn ruskansie te geniet. Vinnig-vinnig slaan Mys ʼn kampvuurtjie aanmekaar en kort voor lank prut sy beker boeretroos oor die kole. Mys haal ʼn stukkie boerbeskuit uit sy knapsak en begin stadig daaraan knaag, terwyl hy wag dat sy boeretroos kook. “Nee-wat Leo Leeu, daarvoor is jy te lig in die broek,” sê Mys selfvoldaan en maak sy skoenveters vas. “Jy sal dit nie waag nie, veral nie as jy sien wat ek in my sak het nie. Jy sal groot skrik, Leeutjie. As ek jy is, maak ek dat ek wegkom, voordat dit te laat is.”

    “Ek glo jou nie, Mys,” grom Leo Leeu en lek sy lippe af. “Wys my.”

    Mys die Muis maak sy ander skoenveter vas, toe drink hy die laaste slurpie van sy boeretroos en bêre die res van sy boerbeskuit-krummels in sy knapsak. “Kyk nou mooi, lLeutjie; gee aandag en fokus. Ek gaan vir jou my groot kat se stert wys en dit is al. Jy gaan nie weet of my groot kat ʼn bergleeu is nie, of dalk ʼn bloedorstige Siberiese tier, ʼn kwaai luiperd, of ʼn vinnige cheetah, of  ʼn pikswart puma uit Suid-Amerika nie. Maar elke-een van hulle kan jou opvreet. Maklik opvreet omdat jy so dom en lelik is. Boonop is ek ‘n liggaamsbouer en kulkunstenaar, so trap in jou spore!”

    Leo Leeu, Geronkie die Donkie, Mossieman en al die diere staan bangerig nader om te sien wat in Mys die Muis se groot swart sak is. Versigtig maak Mys sy sak so ʼn skrefie oop en skielik sien die diere ʼn stert binne-in die sak swiep en piets. “Pasop!” balk Geronkie beangs, sy oë so groot soos pierings. Al die diere skrik hulle wind uit en laat spaander vervaard in alle rigtings. “Help ons!” kwetter die voëls vreesbange terwyl hulle met leeu vooraan weghardloop. Mys die Muis grom sommer so bietjie by, net om die diere nog banger te maak. Mys hou sy ronde magie vas en lag hom ʼn papie toe hy sien hoe hulle die hasepad kies.

    Toe Mys die Muis die trane uit sy oë gevee het van al die laggery, pak hy sy koffiekan terug in sy knapsak en blaas sy kampvuurtjie dood. Tyd om die hasepad te vat, knapsak oor sy rug, vaarwel te sê vir die lewe in die stad en die wye wêreld in te vaar.

    “Wàààg so ʼn bietjie Mys, nie so haastig nie! Waarnatoe dink jy is jy so vinnig oppad?” Verbaas kyk Mys op en sien vir Mossieman op ʼn tak in die boom sit, reg bokant sy kop. Mossieman is die enigste dapper Vrystater wat nie weggevlieg het toe Mys gemaak het of hy sy swart sak wil oopmaak nie.

    “Maak oop daai sak, Mys! Jy kan dalk hierdie spulletjie diere om die bos lei, maar nie vir my nie. Maak oop, ek wil sien wat regtig daarbinne is. En hou op grom, jy maak my nie bang nie. Buitendien, muise het piepstemme, julle kan nie grom om julle lewe te red nie. Maak oop daardie sak! Ek wil sien of jy vir jou ʼn kat in die sak gekoop het.”

    Mys die Muis kyk versigtig rond en gedienstig maak hy maar die sak oop. Hy weet goed dat hy nie vir Mossieman om die bos kan lei nie, want Mossieman is die baas van die plaas. Eers sien Mossieman twee skraal ogies wat vir hom loer en toe hoor ʼn sagte, onsekere ‘miaauw’ uit die sak. Stadig maar seker klim daar ʼn fraaie klein katjie uit die sak en loer groot-oog rond. Sy is skaars groter as Mys die Muis, wat self maar baksteen hoogte is.

    “Wie is dit, Mys?” Mossieman bekyk die fraai klein katjie van kop tot tone.

    “Dit is my maatjie, sy is ʼn katjie Mossieman. Haar naam is Katjiepiering. Ek dra haar in my knapsak rond, omdat sy nie so ver kan loop nie, haar bene is te kort.”

    “Waar kom sy vandaan, Mys?”

    Mys die Muis krap sy kop en betrag Katjiepiering met bewondering in sy twee muisogies. “Ek weet nie regtig nie, ek dink sy kom van Safraan af.”

    “So, jy sê vir almal wat jou wil vang en opeët dat jy ʼn gevaarlike kat in die sak het, Mys? Nogal slim, moet ek sê,” lag Mossieman geammuseerd. ‘Jy is ʼn regte karnallie, Mys. En ʼn slim een daarby. Welkom hier by ons, Katjiepiering, ek hoop jy gaan lekker by ons in die pragtige Vrystaat bly. Maar Mys…”

    “Ja, Mossieman?”

    “Ek kan sien jy het muisneste. Jy moet versigtig wees, ou maat. Onthou, slim vang altyd sy baas.”

    “Ek weet, Mossieman, maar moet nie bekommerd wees nie. Ek en Katjiepiering gaan trou en van daardie dag af gaan sy altyd die baas wees.”

    *

  • My Skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    My Skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    My skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    Mossieman en sy boesemvriend Geronkie die Donkie was iewers in die pragtige Vrystaat op reis, toe hulle hoor van ‘n boer naby Zastron wat die lekkerste skaapappeltjies in die wêreld produseer. Geronkie die Donkie was daardie jare Mossieman se handlanger, sy kameraad, sy boesemvriend en sommer net sy beste maat. Die twee van hulle was ook  beroemde filosowe en hulle het orals in die pragtige Vrystaat rondgereis om hul halwe wyshede met die niksvermoedende bevolking te deel.

    “Kom ons bak daai boer met die lekker skaapappeltjies ‘n lekker poets, Geronkie,” korswil Mossieman. “Ek hoor hy spog ‘n bietjie té veel met sy mooi skaapappeltjies.”

    “Wat is spog in mooi Afrikaans, Mossieman?”

    “Ek dink dit is ‘brêg’ Geronkie, maar ons praat nie Frengels nie. Ons praat net Afrikaans, en ons spog net in Afrikaans.”

    Terstond klop Mossieman en Geronkie aan die skaapappeltjieboer se voordeur.

    “Ons hoor jou plaas het die beste skaapappeltjies in die hele wêreld,” sê Mossieman vriendelik toe die fris boer sy deur oopmaak. “Ons dink weer ons skaapappeltjies is die beste in die hele wêreld.” Daardie dae was al die boere in die Vrystaat groot, fris en sterk, en nog slim en aantreklik daarby, en Geronkie en Mossieman was effens skrikkerig vir die boer.

    “Dis waar ja,” antwoord die fris boer selfvorldaan., “Ek het die mooiste, geelste, smaaklikste skaapappeltjies in die hele wêreld. Maar wie is julle twee nou eintlik?”

    “Ek is Mossieman en my handlanger is Geronkie die Donkie. Ons is twee filosowe en ons is opregte Vrystaters.  Ons is ook beroemde skaapappeltjieboere, daar langs die magtige Sandrivier, naby Virginia.”

    “En julle dink julle skaapappeltjies is beter as myne? En geler? En vetter? En lekkerder? Dit sal die dag wees,” lag die fris boer uit sy vooruitstrewende maag uit.

    “Wel, daar is net een manier om uit te vind,” knoop Mossieman sy geselsie verder met die boer aan. “Kom ons vergelyk jou skaapappeltjies met ons skaapappeltjies, en dan besluit ons wie se skaapappeltjies die lekkerste is.”

    “Meeste van die tyd skiet ons maar net kettie met die skaapappeltjies saam met ons groot vriend Calla en Leon,” peins Geronkie en hy maak so ‘n paar skietbewegings met sy pote. “Manne met die grootste harte in die hele Vrystaat en kettieskieters van formaat.”

    “Nou goed,” stem die boer in, “ek gaan haal sommer dadelik ‘n hele streepsak van my skaapappeltjies, dan proe ons hulle.”

    “Reg so, meneer die boer, bring sommer die hele sak skaapappeltjies saam.”

    ‘Nou moet ons slim wees, Geronkie,” fluister Mossieman toe die boer die appeltjies gaan haal. ‘Kom sit hier op die bankie, dan laat ons die boer tussen ons sit. Jy sit aan sy regterkant en ek aan sy linkerkant.”

    “Watter kant is my linkerkant, Mossieman? Ek raak altyd deurmekaar.”

    “Maklik, Geronkie. Jou linkerkant is oorkant jou regterkant.”

    Een-twee-drie is die boer terug met ‘n hele streepsak vol lekker geel skaapappeltjies. Daar is so baie appeltjies dat die boer nie die streepsak bo nie mooi kan toemaak nie.

    “Jitte, meneer die boer, daai skaapappeltjies lyk darem baie lekker,”sê Mossieman vleiend. “Onverbeterlik sou ek sê, manjefiek!”

    “Ek dink ook so,” spog die boer. “My appeltjies is die lekkerste geel  skaapappeltjies in die hele wêreld! Maar sê my nou eers, waar is julle appeltjies?”

    “Kom sit hier tussen ons op die bankie, dan vertel ons jou. Ons begin eers aan jou skaapappeltjies proe, en daarná proe jy aan ons skaapappeltjies, dan besluit ons watter skaapappeltjies is die lekkerste is.”

    “Ons hoef eintlik nie eers te proe nie,” sê die groot fris boer selfvoldaan, “my appeltjies is die heel beste wat daar is.”

    “Reg so meneer die boer, gee die eerste skaapappeltjie aan, dan proe ons.” Die boer buk vooroor en soek die grootste, lekkerste, geelste skaapappeltjie onder uit sy streepsak uit en gee hom vir Mossieman om te eet. Elke keer as Mossieman die lekker skaapappeltjie vat, gaps Geronkie een van die skaapappeltjies uit sy streepsak en gee hom agterom die boer se rug vir Mossieman aan.

    “Baie lekker, meneer die boer,” smeer Geronkie hom heuning om die mond.  “Voortreflike tekstuur, kleur en smaak. Stylvol ook. Onverbeterlik!”

    “Goed, laat ek nou julle skaapappeltjie proe.”

    “Hier is hy,” sê Mossieman vroom en gee vir die boer een van sy eie skaapappeltjies aan. “Proe maar goed, meneer die boer, vat jou tyd. Jou skaapappeltjies is baie sappig, maar ons is seker ons appeltjies is lekkerder as joune.”

    Die boer se oë rek effens ten aanskoue van die mooi groot goudgeel skaapappeltjie wat Mossieman vir hom aangee. Onder Mossieman en Geronkie se belangstellende oë begin die boer heerlik proe-proe.

    Salig onbewus hap die boer aan sy eie skaapappeltjie en trek sy twee oë skrefies soos wat hy konsentreer. “Hmmm…” sê die boer en hy vat weer ‘n lekker groot hap, “nie sleg nie. Hmmm… die skaapappeltjie is lekker, en goudgeel, en rond en sappig. Maar hy is nie so lekker soos my skaapappeltjies nie. My skaapappeltjies is onverbeterlik en baie lekkerder.”

    Mossieman en Geronkie die Donkie glimlag vir mekaar en Geronkie gaps agterom die boer se rug nog ‘n skaapappeltjie uit die sak. “Hierso, Meneer die Boer, proe nog een van ons skaapappeltjies, net om seker te maak dat jou skaapappeltjies lekkerder is as ons skaapappeltjies.” Geronkie gee weer een van die boer se eie appeltjies vir hom aan en die boer eet te lekker.

    “Kort bietjie meer water, en vars kraalmis, sou ek sê,” mymer hy. Die boer krap sy kop en Geronkie knipoog vir Mossieman. “Manne, ek is baie jammer,” kondig die groot fris boer aan. “Julle skaapappeltjies is lekker, maar myne is baie groter en mooier en geler en lekkerder as julle sin.”

    “Dit lyk vir ons ook so, Meneer die Boer,” glimlag Mossieman skalks. Geronkie help fluks om die boer se skaapappeltjies te eet. Geronkie eet so heerlik dat die skaapappeltjiesap so langs sy lang ken afloop. Geronkie is egter ‘n netjiese donkie, en so nou en dan vee hy die sap netjies met ‘n snoetpoetsertjie af.

    “Waar het julle manne gesê kom julle vandaan?” vra die boer toe hulle al drie knuppeldik geëet is.

    “Ons het ‘n groot skaapappeltjieplaas, daar op die walle van die magtige Sandrivier naby Virginia. Ons boer ook met mieliestronke, en turksvye en krummelpap, maar meeste van die tyd met skaapappeltjies.”

    “Nou ja, ek gaan vir julle ‘n groot guns bewys. Vat hierdie hele sak van my lekker skaapappeltjies saam met julle terug na julle plaas toe! Dan wys julle vir al die plaaswerkers hoe die beste skaapappeltjies in die hele wêreld lyk en proe. Dé, vat die sak saam en dan vertel julle vir almal wat julle teëkom dat ek die lekkerste skaapappeltjies in die hele wêreld produseer.”

    Mossieman laai die hele sak skaapappeltjies op Geronkie die Donkie se breë rug en hulle groet die boer hartlik.

    “Baie dankie vir jou gasvryheid, Meneer die Boer! En dankie vir die sak van die lekkerste skaapappeltjies in hele wêreld! Ons gaan beslis ons plaaswerkers wys hoe lyk en proe die mooiste en lekkerste skaapappeltjies in die hele Vrystaat!  Totsiens, mooi loop!”

    “Tjaa…” mymer Mossieman genoegsaam, terwyl hy en Geronkie so wegstap.

    “Wanneer jy nie baie sterk is nie, en jy het baie lus vir skaapappeltjies, Geronkie, moet jy maar slim wees.”

    “Laat die skaapappeltjies val waar hulle wil, Mossieman! Tjorts! En gesondheid in die rondheid!.”

    *

    

  • Vrugtesmous en die Groentegees

    Vrugtesmous en die Groentegees

    “Ek weet jy het ʼn appeltjie met my te skil, Mossieman, maar ek het baie vrae oor vrugte en groente. Ek sien altyd al die groente en vrugte by die groentegees se winkel in Tamatiestraat en dan wonder ek oor hulle. Nie baie diere weet dit van my nie, Mossieman, maar ek is eintlik ‘n diep denker. ‘n Soort filosoof. Soos daai Sjinese ou, Confoesius.”

    “Ja, Geronkie… amen,” sug Mossieman verveeld.”

    “Dink jy die vrugtesmous mag net vrugte verkoop en niks groente nie, Mossieman? Of kan die groentegees vrugte èn groente verkoop? Jy is mos ʼn slim mossie, Mossieman. Jy is baie slimmer met raaisels as die wyse ou uil wat in daardie groot ou populierboom langs die magtige Sandrivier bly. Weet jy dalk wat al die antwoorde is?”

    “Ek sou nou nie sê ek is baie slim nie, Geronkie. Besonder aantreklik is ek wel, maar ek is beslis nie dom nie. Ek is nie altyd reg nie, maar ek is nooit verkeerd nie. Ek help graag as jy vrae oor filosofie het.”

    Alhoewel hy self die mening toegedaan is, was Geronkie die Donkie nie juis onder die Vrystaatse diere bekend as ʼn baie diep denker nie. ʼn Filosoof oor donkie-sake ja, maar nie ʼn intellektuele reus oor vrugte en groente nie. “Nou goed dan, Mossieman, watter soort vrug dra sy pitte aan die buitekant? Ek woner baie daaroor.”

    Mossieman pik-pik aan ʼn mieliestronk en kyk nie eers op nie. “Aarbeie,” antwoord hy nonchalant.

    “Is tamaties vrugte of groente?”

    “Groente,” antwoord Mossieman ongeërg en pik nog ʼn sappige mieliepit raak.

    “Waarom sê jy tamaties is groente? En jy mag nie verduidelik dat tamaties groente is, net omdat die groentegees dit verkoop nie.”

    “Het jy al ooit ʼn tamatie in ʼn vrugteslaai gesien, Geronkie?”

    “Nee,” bieg Geronkie eerlik. “Net by my oom Eseltjie-hulle, maar hy weet nie juis of hy kom of gaan nie.”

    “Daarom is tamaties groente, Geronkie. Net soos beet, ertjies, broccoli en boontjies.”

    “Ja, ek ken jou storie, Mossieman. Boontjie kry sy loontjie, daarom is dit groente en nie vrugte nie. Wie het die pitte binne-in perskes gesit, weet jy dalk?”

    Dit is ʼn baie moeilike vraag en Mossieman peins ʼn bietjie, met sy pootjie onder sy ken. “Dit was Ouma. Want Oumas hou daarvan om goeters binne-in ander goeters te sit, soos sakke, of yskaste en bottels en kaste. Hulle pak altyd goed weg en dit was hulle wat die pitte binne-in die perskes weggesteek het. Dit is wat Oumas doen, as jy nie kyk nie. Mens moet hulle goed dophou, Oumas kan nogal onnutsig wees.”

    Geronkie die Donkie is nie seker of hy al Mossieman se stories moet glo nie. Hulle is nou wel boesemvriende van geboorte af, maar Geronkie is altyd bietjie skepties oor Mossieman se integriteit wanneer dit by fabels en verhale oor die Vrystaat kom. Geronkie kyk so om hom rond, en hy sien dat hy nie die enigste lid van die diereryk is wat grootoog na Mossieman sit en luister nie. Orals is daar diere in die gehoor en hulle oë is ewe groot, groter as hul mae, maar twee keer so klein soos hulle ore.

    “Watter vrugte kom van hoenders af, Mossieman? Nou het ek jou! Ek wed jy ken nie dié antwoord nie!”

    “Maklik, Geronkie, maklik! Eiervrugte! Hoenders lê eiers wat die vrug van hulle arbeid is. Daarom eiervrugte.”

    “Jy jok darem nou, Mossieman. Hoenders lê nie eiers nie, dit is henne.”

    “Maar henne is hoenders, is hulle nie, Geronkie? Hane is ook hoenders, maar hulle kan nie eiers lê nie.”

    “Sê jy hane lê eiers?”

    “Aikona, nie almal nie. Net sommiges,” skud Mossieman sy kop beslis. “Jy het verkeerd gehoor, Geronkie. Dit is net die haan wat op die kerktoring staan wat nie eiers lê nie.”

    “Mossieman, is rosyntjies druiwe se Oumas en Oupas?”

    “Natuurlik, Geronkie! Hulle is ewe vol plooie.”

    “Wie? Die rosyntjies?”

    “Nee-man, Geronkie. Die oumas en oupas.”

    “Watter vrugte kan jy eet terwyl jy sing?”

    “Pie-sang. Dan kan jy ‘n piesangeres word.”

    “Watter tipe vrugte kom van jou ma af? verneem Geronkie angstig.”

    “Ma-roelas.”

    “En jou pa?”

    “Pa-roelas. Papajas, Geronkie, papajas.”

    “En jou Ouma met die plooie?”

    “Niks nie, Geronkie. Oumas maak nie vrugte nie, maar hulle bak net die lekkerste beskuit en melktert op aarde. Nou gaan ek slaap, ek het genoeg van jou vrae geantwoord.” Mossieman skud sy vlerkies reg en gaap ʼn paar keer. “Ek staan nou kooi se kant toe om ʼn uiltjie te knip. Nag almal, lekker slaap. Nag Geronkie.”

    “Nag, Mossieman, lekker slaap. Nag klaasvakie.”

    “Mossieman?”

    “Los my uit, Geronkie, Ek slaap.”

    “Ek kan nie slaap nie.”

    “Waarom kan jy nie slaap nie, Geronkie?” gaap Mossieman.

    “Oor besluitloosheid.”

    “Ai-tog.”

    “Ek kan nie besluit of ek ‘n vrugtesmous of ‘n groentegees moet word nie.”

    “Jy moet maar ‘n vrugtesmous word, Geronkie.”

    “Waarom, Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig.”

    “Want jy lyk nie eintlik soos ‘n gees nie. Slaap nou.”

    “Nag, Mossieman.”

    *

  • Een en Een = Drie

    Een en Een = Drie

    “Ek is nou heeltemal intellektueel uitgeput,” kla Mossieman teenoor sy boesemvriend, Geronkie die Donkie, terwyl hulle al langs die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat stap. Dié twee stoere Vrystaters (en lojale Cheetah-ondersteuners), is al jare lank vriende en hulle deel gewoonlik hul diepste geheime met mekaar. Mans deel nooit hul diepste geheime met enigiemand nie, maar die klein Mossie en groot Donkie wat ‘n uitsondering op hierdie sonderlinge Vrystaatse gewoonte.

    Mossieman vee met sy poot oor sy voorkop en sug diep. “Eksamens is darem vir jou ʼn ander ding, Geronkie my ou maat, ‘n volksvreemde gewoonte. Dit is ‘n ding wat my heeltemal uitput.”

    “Kom ons sit hier onder die wilgerboom langs die rivier, dan vertel jy my alles, Mossieman.” Geronkie kyk besorg na sy vriend, bekommerd dat intellektuele uitputting dalk aansteeklik kan wees.

    “Wel,” sê Mossieman bedees terwyl hy hom gemaklik in die skaduwee sitmaak, “ek skryf eksamen om my Matriek te kry.”

    “Wat wil jy met Matriek maak,” vra Geronkie nuuskierig en hy balk kliphard, net sodat die diere van die bos kan onthou dat hy ʼn donkie is en dat hulle moet bang wees vir hom. “Meeste Vrystaters het net ‘n Boerematriek.”

    “Sodat ek dinge beter kan verstaan. Veral Meetkunde.”

    “Soos watse soort Meetkunde, Mossieman? Wat wil jy beter begryp?”

    “Wel, sê Mossieman nadenkend, “een van die moeilikste vrae wat hulle gevra het het gegaan oor ‘n gebuigde liniaal. Kan jy ʼn reguit streep met ʼn skewe liniaal trek.”

    “Maar dit is maklik, sê Geronkie en hy trek ʼn lekker geelwortel nader. “Enigemand kan ʼn skewe streep met ʼn reguit liniaal trek. Jy moet hom net reguit hou.”

    “Seker waar,” sug Mossieman swaarmoedig, “maar dit was vir my moeilik. Niemand het ʼn vinger veroer om my te help nie.”

    “Waarom, Mossieman?”

    “Wel, die liniaal was nie heeltemal reguit nie, hy was ʼn bietjie krom. Ek het my vingers verbrand, ek sal vir my ʼn nuwe liniaal moet koop.”

    “Wat nog,” vra Geronkie geammuseerd, en hy knaag lustig aan sy geelwortel.

    “Wiskunde,” sê Mossieman mismoedig en hy sug diep en lank.

    “Optel en aftel?”

    “Op en af. Hulle wou weet hoeveel vingers ek aan my linkerhand het, en hoeveel vingers aan my regterhand. Toe moes ek my twee hande se vingers bymekaartel, om die totaal te kry. Ek het amper my vingers verbrand met die antwoord.”

    “Tja …” sug Geronkie besorg. “Dit is nou ‘n ingewikkelde storie. Ek weet nie baie van Wiskunde af nie, maar ek raai tien vingers altesame.”

    “Dit is verkeerd,” sug Mossieman moedeloos. “Ek het eers ook so gedink, toe skryf ek tien.”

    “Nou maar, Mossieman, wat is die regte antwoord?”

    “Elf.”

    “Elf vingers?  Elf altesame?”

    “Ja.” Mossieman tuur die verte in, asof hy die antwoord in die Vrystaat se mooi vlieswolkies gaan kry. “Jy begin by jou linkerhand. Kom ek wys jou. Begin bo, tien, nege, agt, sewe, ses. Nou het jy almal getel. Ses, tot by ses. Tien, nege, agt, sewe, ses.”

    “Reg so,” sê Geronkie verwonderd en hy hou sy vingers stip dop, maar hy volg nie heeltemal nie.

    “Ses.”

    “Nou die ander hand, jou regterhand. “Een, twee, drie, vier, vyf – altesaam vyf.”

    “Reg so,” sê Geronkie belangstellend en hy bestudeer sy pote se vingers. “Vyf.”

    “Wat het ons aan die ander kant gekry?” vra Mossieman.  “Ek het ʼn bietjie vergeet.”

    “Ses.”

    “Ja, ses. Dit is reg. Jy neem nou daai ses, endie vyf wat ons aan die ander hand gekry het en jy tel hulle op.”

    “Ses plus vyf?”

    “Dit is reg-ja! Ses plus vyf.”

    “Dit maak elf,” sê Geronkie, trots omdat hy so vinnig die antwoord kon uitdink.  “Ses plus vyf is elf.”

    “Korrek!” sug Mossieman. “Ses plus vyf is elf. Dit beteken dat ek elf vingers het, as jy alles aan altwee hande bymekaartel.”

    “Elf vingers is darem baie,” sê Geronkie verwonderd en hy begin onseker tel hoeveel geelwortels hy oor het om te eet.

    “Elf vingers,” se Mossieman, “Dit is geen wonder dat mense so baie met hulle hande beduie as hulle praat nie.”

    “En die linkerhand weet nie altyd wat regterhand doen nie.”

    “Dit is waar, Geronkie” sê Mossieman. “Dit wys jy nou net, hierdie hele storie om matriek te skryf, moet vir ons almal ʼn vingerwysing wees. Dit is ʼn moeilike storie. Mens kan amper jou vingers verbrand of jou hand oorspeel.”

    Geronkie sit sy linkerpoot vertroostend om Mossieman se skouer om hom bietjie te troos. “Gelukkig is ons nie mense nie, Mossieman. Ons is diere van die pragtige Vrystaat, met of sonder Boerematriek.”

    _ _ _ _

  • Tien Geel Piesangs

    Tien Geel Piesangs

    Eendag kom daar ʼn oulike blouapie by Mossieman en Geronkie die Donkie se konsultasiekantoor diep in die Bloembos van die Vrystaat aan. Mossieman en Geronkie het die blouapie geken en hulle het ook sy ma en pa geken omdat hulle almal dieselfde kleur was. Al die blouapies was deel van die grootste aapfamilie wat nog ooit in die Vrystaat gewoon het. Die blouapie se naam was Japie die Apie en op hierdie belangrike dag het hy tien geel piesangs by hom gehad.

    “Waarom dra jy so swaar aan al daardie piesangs, Japie?” vra Mossieman verwonderd,  terwyl hy die piesangs op sy een voorpoot weeg. Die piesangs is groot en geel en lyk lekker om te eet.

    “Ek kom my skuld by jou betaal, Mossieman,” praat Japie die Apie uit sy die mou en oorhandig plegtig sy tien geel piesangs aan Mossieman. “Ek skuld jou tien piesangs omdat jy vir my advies gegee het oor al my probleme.”

    “Maar Japie, jy skuld my nie tien piesangs nie! Jy skuld my tien rand.”

    “Dit is waar, Mossieman,” bieg Japie die Apie. “Maar sien nou, die tien piesangs is baie meer werd as tien rand!”

    “Nou goed Japie, gee maar die piesangs,” sê, Mossieman ongeduldig. Dan is jou skuld by my afbetaal.” Japie oorhandig formeel al tien sy piesangs aan Mossieman en stap tevrede daar weg, op soek na nòg tien piesangs om die res van sy skuld af te betaal.

    Mossieman kyk agterdogtig na sy tien nuwe piesangs en peins met ʼn fronsie tussen sy oë. Hy skuld juis vir Geronkie ʼn bietjie geld, ook so tien rand. Miskien kan hy die tien piesangs gebruik om sy skuld aan Geronkie af te betaal.

    “Geronkie, onthou jy die tien rand wat ek jou skuld?”

    “Ja, Mossieman,” antwoord Geronkie lomerig waar hy onder die lekker koel blare van die Bloembos lê en dut.

    “Nou ja, ek het nie tien rand nie, maar sal jy tien piesangs in die plek daarvan aanvaar?  Kan ek die tien piesangs vir jou gee, as afbetaling van my skuld?”

    “Wel, miskien, Mossieman,” sug Geronkie onoortuig. “Donkies eet baie meer mieliestronke as piesangs. Maar nou ja, as jy tien piesangs in plaas van tien rand wil betaal, is dit reg so.”

    Mossieman betaal sy skuld met die piesangs af, en daar stap Geronkie weg met tien piesangs op sy rug. ‘Ek is ʼn donkie,” dink hy vieserig, “ek eet mos nie eintlik piesangs nie. Maar ek skuld vir Krokkie Krokodil tien rand, miskien sal hy die piesangs neem as betaling.’ Geronkie stap af na die rivier toe waar Krokkie Krokodil heerlik in die son lê en bak, sy bek wawyd oop sodat jy net rye tande sien blink.

    “Krokkie,” verneem Geronkie die Donkie versigtig terwyl hy so skeef-skeef nader staan, “onthou jy die tien rand wat ek jou skuld?”

    “Ja, Geronkie” grom Krokkie kwasterig. “As jy dit nie betaal nie, eet ek jou op!”

    “Nee, wag nou, Krokkie,” pleit Geronkie. “Kalmeer. Ek het vir jou iets beter as tien rand gebring. Tien lekker vet geel piesangs!”

    Stadig vou Krokkie sy een ooglid bo-oor die ander een terwyl hy vir Geronkie op en af betrag. “ʼn Bietjie donkievleis sal darem lekker wees,” dink hy, “baie lekkerder as al die  slymerige groen paddas wat ek elke dag moet eet.’”

    “Hoeveel is die tien piesangs werd, Geronkie?” vra Krokkie en hy lek sy lippe af terwyl hy so na Geronkie se boudjies loer. Hulle lyk vir hom baie lekkerder as paddaboudjies of tien geel piesangs.

    “Twintig rand,” antwoord Geronkie manhaftig. “Die tien piesangs is twintig rand werd.”

    “So, betaal jy jou tien rand se skuld met twintig rand se piesangs af, Geronkie?”

    “Jaaaa… mens kan maar so sê, Krokkie. Ons is diere, nie mense nie; twintig geel piesangs is definitief meer as tien rand werd.”

    “Dis waar ja, Geronkie,” gaap Krokkie en hy bak verder in die son. “Sit maar die piesangs daar op die wal neer.”

    Tjoef-tjaf skud Geronkie sy pote af en daar trek hy, verlig dat hy sy skuld by Krokkie Krokodil afbetaal het.

    Krokkie Krokodil slaap nog bietjie in die son en toe hy wakker word, sien hy die piesangs wat Geronkie daar gelos het.

    ‘Tien geel piesangs,’ wonder hy, ‘wat moet ek met tien geel piesangs maak? Krokodille eet mos nie piesangs nie. Ons eet likkewane en groen paddas en visse, nie geel piesangs nie.’

    Net daar onthou Krokkie Krokodil dat hy vir Japie die Apie tien rand skuld. Japie is ʼn slim blouapie en hy het vir Krokkie Krokodil gehelp toe hy eenkeer in ʼn boomtak vasgesit het. Krokkie laai die tien piesangs op sy rug en swem kronkel-kronkel met die rivier af totdat hy by Japie die Apie se wilgeboomtak kom.

    “Japie,” roep Krokkie Krokodil. “Jou nuuskierige agie! Kom hiernatoe! Ek wil my skuld by jou afbetaal.”

    Japie die Apie bons nader en hang stert-onderstebo aan ʼn tak terwyl hy Krokkie Krokodil op en af betrag. “Jy skuld my tien rand, Krokkie,” laat hy braaf hoor. “Waar is my geld?”

    “Wel, Japie my ou blouapie, ek het nou wel nie die tein rand wat ek jou skuld gebring nie. Ek het iets baie beter – tien groot ryp sappige geel piesangs!”

    Japie se oë rek twee keer so groot soos sy maag toe hy die tien piesangs sien. Apies eet baie piesangs en Japie kan nie wag om sy pote op die piesangs te kry nie. “Baie dankie vir die piesangs Krokkie, baie dankie. Jou skuld by my is afbetaal, jy skuld my niks meer geld nie, baie dankie vir die piesangs!” Japie trek die hele bos geel piesangs nader en begin gulsig eet, die aan ná die ander. Kort voor lank boep sy magie van al die piesangs. Orals lê daar piesangskille.

    Agter Japie sit Mossieman en Geronkie die Donkie diè petalje só en kyk.  Japie die Apie lê lekker versadig op die naat van sy rug, magie vol van die lekker piesangs.

    “Japie,” vra Mossieman onnutsig, “daardie piesangs wat jy nou net opgeëet het; was dit dieselfde piesangs waarmee jy vanoggend jou skuld by my kom afbetaal het? Onthou jy?”

    “Jaa…” sug Japie genoeglik op sy rug en hy droom van nog piesangs.

    “In plaas van tien rand het jy vir my die tien piesangs gegee,” korswil Mossieman. “Toe betaal ek die piesangs vir Geronkie, en Geronkie betaal sy skuld by Krokkie Krokodil met die piesangs. Toe betaal Krokkie weer sy skuld by jou af met dieselfde piesangs. Toe eet jy dieselfde piesangs op!”

    Japie die Apie kyk nonchalant na Mossieman. “Dit is waar ja Mossieman,” sug hy uiteindelik, “maar dit is ʼn goeie ding. Jou skuld is afbetaal, en Geronkie se skuld is afbetaal, èn Krokkie die Krokodil se skuld. Almal se skuld is afbetaal. En weet jy wat, Mossieman?”

    Mossieman lag net en skud sy kop. “Nee, wat Japie?”

    “My magie is vol omdat ek my eie tros piesangs opgeëet het. Almal is gelukkig en tevrede en niemand skuld iemand meer geld nie. Dit was die beste tros piesangs ooit, en hulle was nog lekker ook!”

    “Lyk vir my meer na boereverneukery, Japie. Jou stoute bloupie.”

    *

    Vrystaatstories

    • Henning van Aswegen
  • Hoppie die Harlekyn

    Hoppie die Harlekyn

    Hoppie die harlekyn

    Die rondgaande sirkus is baie gewild in die Vrystaat want hulle toer elke jaar van dorp na dorp, sodat al die kinders die narre, harlekyne en wilde diere kan sien. Die wilde diere in die sirkus was nie vir die kinders ongewoon of vreemd nie, omdat baie Vrystaterjies leeus, tiere, krokodille en olifante as troeteldiere aanhou.

    In die sirkus was daar ʼn hartseer harlekyn wat nie baie gelag het nie. Sy naam was Hoppie en hy was die treurigste harlekyn in die hele wêreld. Elke keer as die narre en grapmakers en harlekyne in die sirkus skaterlag vir hul eie kaperjolle en grappe, het Hoppie verdrietig gehuil. Hoppie was ook nie baie groot nie en al die ander harlekyne het luidrugtiger gelag as hy. Hoppie was oor die algemeen maar ʼn treurige harlekyntjie – sy mondjie het ondertoe gepruil as hy snik en huil. Elke keer as die trane oor Hoppie se harlekyngesig rol, het daar spoortjies op sy harlekynmasker gevorm en dan het sy trane droewig op die grond geval.

    Die diere in die sirkus en die ander narre het vir Hoppie baie jammer gekry en hom probeer troos, sodat hy nie so alleen en treurig moet wees nie.

    “Toemaar Hoppie,’ het hulle getroos en hul arms beskermend om Hoppie se skouers gevou, “alles sal regkom. O moenie huil nie, O moenie treur nie, alles sal regkom.”

    “Ek dink nie so nie,” het Hoppie deur sy sneesdoekie gesnik. “Ek is baie treurig, ek sit op moedverloor se vlakte. Al die mense dink ek is ʼn nar, ʼn grapkas. Maar dit is nie waar nie, ek het nie ‘n snaakse beentjie in my hele liggaam nie.”

    “Maar waarom, Hoppie? Hoekom is jy so treurig?” vra die diere simpatiek gee vir Hoppie nog ‘n sneesdoekie aan. Hoppie het gereeld gesnees en hy het baie sneesdoekies gebruik. Hoppie was nogal erg oor sy sneesdoekies, hy het hulle sommer snoetpoetsertjies genoem.

    “Ek is so treurig omdat almal vir my lag,” sê Hoppie bedees, en hy slaan sy oë van die berge af tot op die grond. “Niemand neem my ernstig op nie, almal lag vir my en wys hulle wysvingers na my.”

    “Maar dit is mos ʼn goeie ding as mense lag, Hoppie. Jy is baie talentvol, en as jy mense laat lag, is dit moes goed vir almal. Jy maak mense gelukkig as jy huil.”

    Hoppie skud sy kop mismoedig. “Elke keer as mense lag, wil ek huil. Wanneer mense huil, dan wil ek lag. Ek weet nie wat verkeerd is met my nie, ek is agterstevoorom gebore.”

    “Nee, Hoppie,” troos die diere, “mense het ʼn bietjie plesier in hulle lewens nodig en jy laat hulle lag. Die mense het groot bewondering vir jou, want jy laat hulle lag wanneer hulle huil en mismoedig is.”

    “Maar wat van my?” vra Hoppie mistroostig. Nog een van sy baie trane val voor hom in die stowwerige grond. “Waarom voel ek dan so mislik en alleen, wanneer ander mense gelukkig en opgewek is?”

    Oupa Uil maak keel skoon om iets te sê. Hy was die oudste en slimste van al die diere in die sirkus. As Oupa Uil sy mond oopmaak om iets te sê, bly al die ander diere in die sirkus onmiddellik stil, om te luister wat die wyse ou uil kwytraak.

    “Dit is ʼn harlekyn se werk om ander mense se sorge en laste op sy skouers te dra, Hoppie” vermaan Oupa Uil ernstig. “Dit is wat harlekyne en narre doen, hulle neem jou sorge en bekommernisse weg. Hulle bring bietjie lag en sonskyn in jou lewe in en sorg dat jy weer glimlag. Dit is waarom mense sirkus toe kom as die parlement gesluit is.”

    ‘Dit is seker waarom ek so swaarmoedig is,” sug Hoppie en hy kry homself baie jammer.  Stadig vryf hy oor sy moë oë en pik sydelings ʼn traan met sy sneesdoekie weg. “Dit is moeilik om lighartig te wees as jy swaarmoedig is. Dit maak my sommer weemoedig en onplesierig.”

    “Harlekyne se werk is baie moeilik, Hoppie,” gaan die wyse Oupa Uil voort. “Harlekyne soos jy moet baie talent hê om ander mense se sorge en pyne weg te neem, sodat hulle weer bietjie in die lewe kan lag en gesels. Die lewe is nie maklik vir harlekyne nie, hulle is baie spesiale mense.”

    ‘Dit is waar,” snik Hoppie, “ons het dure lesse geleer en ons dra ʼn sware las. Ons neem al die ander mense se pyne en bekommernisse en sorge op ons skouers. Dit is waarom ons rûe so krom is. Dit is van al die swaar dra, al aan die een kant.”

    “Dit is waar, Hoppie,” beaam Oupa Uil ernstig terwyl hy in sy mou lag. “Dit is waarom harlekyne huil as ander mense lag en hoekom hoekom hulle so treur as ander mense fees vier.”

    “Wat moet ek dan doen, oupa Uil?” vra Hoppie mistroostig. “Ek is heeltemal in sak en as, afgemat en pootuit. Wat kan ek doen om nie so beteuterd te voel nie?”

    Oupa Uil skud sy vere reg en kyk na Hoppie. “Die antwoord is maklik, Hoppie. Jy moet net begin lag en glimlag en vriendelik wees met al die sirkusgangers, dan sal jou mismoedigheid en treurigheid sommer weggaan.”

    “Maar, Oupa Uil,” snik Hoppie die harlekyn, “ek kan nie lag en gesels en glimlag en gelukkig wees nie. Ek kan net nie, my metabolisme laat dit nie toe nie.”

    “Waarom nie, Hoppie?”

    “Want as ek lag, dan huil die mense, en as ek sing en dans kruip mense weg, en as ek jubel word hulle hartseer. Ek wil nie hê dat almal ongelukkig moet wees nie. Ek wil hê dat hulle gelukkig moet wees, daarom treur ek nou maar namens hulle.”

    Toe neem Hoppie sy verwaarloosde ou bruin koffertjie, en sy treurige ou blou hoedjie met die flenter-rante en sy uitgeputte brakkie, Misoes. En hy neem sy krom kierie en hy stap vir ʼn laaste keer uit die sirkustent uit, op pad stasie toe. “Ek gaan nou maar die trein neem na nêrens toe,” sug hy. “Ek gaan nie terugkom sirkus toe nie. Die sirkus maak my net ongelukkig en moedeloos. My hartjie is baie seer.”

    “Maar waarnatoe gaan jy, Hoppie?” vra Oupa Uil besorg en kyk bekommerd na al die ander sirkusdiere. Omdat daar so min tyd is, het hulle het dan nie eers vir Hoppie die Harlekyn ʼn behoorlike akskeidspartytjie met boeretroos en melktert gehou nie. Een van die sirkusolifante het darem vir Hoppie ʼn akseidsgeskenkie gebring, ʼn pakkie pienk sneesdoekies, wat hy vir Hoppie gee.

    “Ek gaan aftree,” sê Hoppie hartseer. “Ek wil nie meer ʼn harlekyn wees nie.”

    ‘Waar gaan jy bly, Hoppie?” wil van die sirkusdiere bek-af weet. “Sal jy darem skryf of ʼn riemtelegram stuur as jy by jou bestemming aankom ?”

    “Ek belowe om te skryf. Ek is nou oppad stasie toe,” sê Hoppie met ‘n skalkse glimlaggie oor sy skouer en sy bruin koffertjie in sy hand. “Ek gaan met die trein ry, die trein na Matjiesfontein, daar vêr in die Karoo. Tata almal. Tot weersiens.”

    Twee maande later kom Geronkie die Donkie van die poskantoor se kant af aangedraf met ʼn brief in sy bek. “Goeie nuus! Oupa Uil,” balk hy al van ver af. “Ons het ʼn brief van Hoppie die Harlekyn af gekry. Van Matjiesfontein af, daar vêr in die Karoo.”

    Al die diere van die Vrystaat maak ʼn ronde kringetjie om Oupa Uil, angstig dat hy die brief moet oopmaak en lees. Oupa Uil sit sy pedantiese knypbrilletjie op die punt van sy neus en lees aandagtig. “Goeie nuus,” verklaar hy plegtig nadat hy gelees het, “dit gaan baie goed met Hoppie die daar vêr in die Karoo. Hy het veilig in Matjiesfontein aangekom en die mense van die dorp het hom sommer onmiddellik as Burgermeester aangestel. Hulle het ook nie ʼn Posmeester gehad nie en het Hoppie terselfdertyd as die Posmeester aangestel. Die skooltjie daar het  op Matjiesfontein het ʼn Onderwyser gehad nie, toe word Hoppie ook aangestel as die Skoolmeester. En omdat hy met die trein in Matjiesfontein arriveer het, is hy nou ook die Stasiemeester.”

    “Daar bly net een ding oor om te doen, manne,” se Geronkie opgewonde, toe Oupa Uil Hoppie se brief neersit. “Stasie toe, ons gaan almal stasie toe. Dan wag ons vir die trein en ons gaan vir Hoppie die Harlekyn kuier!”

    “Hoe gaan ons daar kom, Geronkie?” jil die diere van plesier in ʼn koor.

    “Ons ry met die trein – die trein na Matjiesfontein!”

    *

  • Jakkals knoop Wolf se stert

    Jakkals knoop Wolf se stert

    Jakkals knoop Wolf se stert

    Jakkals en Wolf was boesemvriende wat mekaar amper vetrou het, maar die het nie geskroom om die ander lekker poetse te bak nie. Niks het vir Jakkals blyer gemaak as hy vir Wolf ‘n streep kon trek nie, en Wolf het hom verkneuter as hy ‘n wolkombers oor Jakkals se oë kon trek.

    Eendag op ‘n reëndag slaap Wolf lekker in die skaduwee van die grootste populierboom langs die magtige Sandrivier in die Vrystaat.  Die groot ou populierboom was wolf se gunsteling lê-plek omdat die grassies sag was en hy heerlik kon snork. Daar was ook nie baie miere of min likkewane wat sy stert kon byt nie.  Wolf het sy dae verby geslaap – hy kon elke dag ure lank onder die populierboom lê en balke saag.

    Die ander diere in die bos, veral die slange, akkedisse en muise was al gewoond aan Wolf en het sommer bo-oor hom gestap, al lê hy so en slaap.  Wolf was salig aan die droom en hy het nie eers wakker geword as die diere op hom trap nie.  Jakkals het die spulletjie sò sit en kyk en besluit toe om vir Wolf ‘n lekker poets te bak. Hy kon nie glo dat Wolf nie wakker word van almal wat bo-oor hom loop nie.

    Jakkals maak toe ‘n slim plan. Hy stuur sy twee gesante en trawante, Japie die Kanaalapie en Bobbie Bobbejaan om vir hom ‘n lààng tou te gaan haal.

    “Maak seker die tou is lank genoeg,” skree hy sy twee gesante en trawante agterna.  “En dik genoeg om vir Wolf vas te bind!  En die tou moet groen wees nê! Bring ‘n groen tou!”

    Na ‘n rukkie kom Kees Kanaalaap en Bobbie Bobbejaan terug met ‘n lààng groen tou, wat net soos ‘n boomslang lyk.

    “Reg,” sê Jakkals, “help my gou.  En wees suutjies, ons moet nie vir Wolf wakker maak nie.”

    Jakkals, Japie die Kanaalapie en Bobbie Bobbejaan knoop die tou saggies en bind Wolf se stert aan die wortels van die populierboom vas.  Wolf snork te lekker en kom nie eers agter dat die drie karnallies die tou om sy bene en sy stert draai nie.

    “Suutjies!  Maak vas die knoop,” sê Jakkals ondeund vir die ander twee.  “Lekker styf,  sodat Wolf nie kan beweeg nie. Knoop sy stert.”

    Eers knoop Jakkals Wolf se linkerbeen vas, toe sy regterbeen en daarnà sy stert.  Jakkals trek die knope lekker styf en ryg die punte om die wortels van die boom. En daar lê Wolf, vasgebind! Hy hom nie kan roer nie.

    ‘Reg so, gaan kry nou takke en blare sodat ons Wolf se bene daarmee kan bedek. Gooi hom sommer toe onder die takke.”

    Japie die Kanaalapie giggel te lekker en Bobbie Bobbejaan gaan pluk nog takke en blare. Die ander diere van die bos help sommer fluks daarmee.  Almal help en dra sommer ‘n hele hoop takke en blare aan en pak dit bo-oor Wolf wat heerlik slaap..

    “Pak die takke en blare op Wolf se bene en maak die tou daarmee toe.  Saggies, saggies, hy moet nie wakker word nie.”  Hulle loer na Wolf, maar die ou slaap rustig en snork lustig.

    Jakkals se handlangers pak Wolf heeltemal toe onder die takke en blare – net Wolf se neus steek naderhand uit. Toe hulle klaar is, staan al die diere tevrede terug om hul handewerk te bewonder.

    “Gaan kruip almal weg,” fluister Jakkals vir Japie en Bobbie en al die diere.  “Dan maak ons hom wakker !”

    Al die diere kruip agter die bome weg en loer vir Wolf. Toe almal mooi weggekruip en onsigbaar is, skree Jakkals kliphard vir Wolf.

    “Wolf, Wolf! word wakker! Word wakker! Hier kom Leeu!”

    Wolf is bietjie deur die blare en word stadig wakker – dit vat so ‘n rukkie voordat Wolf se oë helder kan sien.  Wolf loer onseker onder die blare uit, en sien Jakkals hier langs hom staan en skree.

    “Wolf, Wolf!” skree Jakkals weer vir Wolf, “word wakker! Word wakker! Hier kom Leeu! Help! Hardloop!”

    Wolf probeer opspring, maar sy bene is vasgebind en hy kan nie beweeg nie.

    “Help my Jakkals, ek kan nie beweeg nie. Ek sit vas!  Help!” O gonnatjie, help!”

    “Wolf,” sê Jakkals, ‘jy het so lank onder die boom lê en slaap dat die boom se wortels bo-oor jou gegroei het.”

    Wolf ruk en pluk paniekerig aan die takke en worterls, maar hy kom nie los nie.

    “Help my Jakkals, ek kan nie beweeg nie! Leeu kom en hy gaan my opeet.  Help my om los te kom! Help!”

    “Ek kan nie help nie Wolf, jy het te lank onder die boom geslaap, al die wortels het jou toegegroei. Jy moet nou maar vir die res van jou lewe hier onder die boom bly, jy is nou deel van die boomwortels.”

    “Ag asseblief Jakkals, help my om los te kom. Leeu gaan my opeet!” huil Wolf benoud. “Hy hou van wolfvleis, hy gaan my byt!”

    “Jammer Wolf,” sê Jakkals, “ ons moet ook wegkruip, ons hoor vir Leeu aankom.  As hy ons sien, gaan hy ons ook opeet!”

    “Help my, help my,” skree Wolf benoud. “Leeu gaan my eet! Wees my tog genadig!”

    Jakkals en sy trawante vir Wolf deur die bome se blare en hulle lag vir die vale.

    Wolf sit die hele dag vasgeknoop onder die boom tussen die takke, die ene bewerasie, te bang om te beweeg.  Wolf is te bang om iets te sê, want hy is bang Leeu hoor hom en vreet hom op. Net Wolf se twee bang ogies steek onder die takke en blare uit – hy sit tjoepstil.

    Teen die middag is Jakkals en sy maters klaar gelag en uitgekuier met Wolf se penarie en hulle besluit om hom genadig te wees.

    “Bring ‘n mes,” sê Jakkals vir Bobbie Bobbejaan. “Ons gaan vir Wolf los sny.”

    “Ai tog Jakkals, ek is so bly om jou te sien,” sê Wolf verlig toe hy vir Jakkals sien.  “Dankie tog dat julle my kom red. Ek was die hele dag bang Leeu kom eet my op.”

    “Ja, jy is baie gelukkig om te oorleef,” sê Jakkals vroom. “Maak toe jou oë terwyl ons die boom se wortels los sny.”

    “Dankie tog,” kerm Wolf en vryf sy stert. “Dankie tog, Jakkals. Ek gaan vir julle almal lekker middagete koop omdat julle so barmhartig is en my so mooi help.  Dankie, baie dankie.”

    Jakkals sny die tou los en steek hom gou-gou agter die boom weg. “Reg, maak oop jou oë Wolf. Jy is gered, staan op! Jy is vry!”

    Wolf is sò bly en verlig dat hy sommer vir Jakkals omhels en ‘n klapsoen gee.

    “Dankie, dankie!  Kom julle, kom Jakkals, ek gaan sommer vir julle almal lekker middagete koop.”

    Wolf en Jakkals en Japie die Kanaalapie en Bobby Bobbejaan stap hand om die lyf weg, almal kamtig verlig dat Leeu nie vir Wolf opgeëet het nie.

    ‘So ja,’ dink Jakkals onnutsig en lek sy lippe af. Nie alleen het hy en sy trawante vir Wolf ‘n allemintige poets gebak nie, Wolf dink hulle is sy helde en redders en hy gaan vir altyd dankbaar wees dat sy vriende sy bas gered het.

    ‘As jy slim genoeg is, koop Wolf vir jou middagete’ lek Jakkals sy lippe af en glimlag in sy mou.

    +

  • Die Lapvoet-Grasvoet Orkes

    Die Lapvoet-Grasvoet Orkes

    DIE LAPVOET-GRASVOET ORKES

    “Mossieman, kan jy ons bietjie help met ons kadet-orkes, asseblief’ vra Geronkie die Donkie een middag laat in die warm Vrystaatse somerson. “Ons sukkel so bietjie, ons het benoude boude.”

    Mossieman krap sy mossie-kuif met sy pootjie plat en loer onderlangs na Geronkie waar hy min of meer op aandag staan.

    “Wie is nou die ‘ons’ wat so sukkel, Geronkie? Wie is julle?”

    “Ons is ons donkies, Mossieman. Ons is kadette en ons het ʼn kadet-orkes wat regop masjeer en marsmusiek speel.”

    “Wat is julle donkie-orkes se naam, Geronkie,” vra Mossieman, nuuskierig soos ‘n agie.

    “Ons het nog nie ʼn naam nie, Mossieman, maar ek dink ons sal die Donkie-Stronkie orkes wees,” sê Geronkie ernstig. “Of miskien die Dansende Donkie-orkes. Ons het nog nie besluit nie; ons moet eers ʼn donkie-vergadering hou.”

    “Waar kom die dansende donkies vandaan, Geronkie?” wil Mossieman moedswillig weet.

    “Ons is Vrystaters,” sê Geronkie trots en hy flap sy flenter donkie-ore. “In die Vrystaat is daar baie mielies en wanneer ons klaar die mielies geëet het, bly daar net stronkies oor. Dit is waar ons naam vandaan kom, van die dansende mieliestronke af.” Geronkie glimlag van oor tot oor, baie in sy noppies met sy slim antwoord.

    “Goed so, Geronkie! Wat is fout met die Dansende Donkie-Stronkie orkes?”

    Geronkie vryf verleë met sy donkie-poot oor sy linker oor en hy loer rond om te sien of die ander diere hom kan hoor. “Wel Mossieman,” fluister hy saggies, “ons weet nie heeltemal waar links en waar regs nie.  Ons kan nie lekker masjeer nie, ons is verwarde donkies. Ons weet nie of ons kom of gaan nie.”

    ‘Dit moet ek sien,’ lag Mossieman vir homself. “Kom Geronkie, kom wys my hoe julle klomp donkies in julle orkes masjeer. Hou vir my ‘n demonstrasie.”

    Flink stap Geronkie die Donkie, met Mossieman wat op sy rug sit, na die paradegrond toe waar al die ander donkies op aandag staan en wag. Soos ʼn regte infanterie-sersantmajoor gaan staan Geronkie reg voor die donkie-peleton en balk kliphard: “Aandag!”

    Al die donkies spits hulle ore en swaai hul sterte gelyk van links na regs. Almal kyk aandagtig na Geronkie die Donkie en vir Mossieman wat op sy kop sit.

    “Hierdie is my vriend Mossieman,” kondig Geronkie belangrik aan. ‘Hy is die slimste Mossie in die hele wêreld, en hy gaan julle help om gelyk en in gelid te masjeer.”

    Mossieman kyk die rye en rye donkies, wat kiertsregop in gelid staan. “Wel manne, ek bedoel donkies, wat presies is julle probleem met die masjeer-storie? Waarom sukkel julle so?”

    Die donkie-kadette laat sak almal hulle ore, sò skaam is hulle. Nie een wil vir Mossieman in die oë kyk nie. Die donkies loer almal vir die grond en daar is doodse stilte op die paradegrond. Nee een kadet waag eers om op te kyk nie.

    “Toe kadette, uit daarmee!” sê Geronkie streng en loer na die ander donkies. “Uit met die waarheid. Wat gaan aan met julle dat julle so skeef en krom soos krappe masjeer?”

    Uitendelik skraap Vaaltyn, een van die donkies in die agterste ry, al sy moed bymekaar en hy kom met die hele mandjie patats vorendag. “Ons.. ons” stamel hy, “ons weet nie wat links is en wat regs is nie, Geronkie.” Ons is deurmekaar en verward. Ons weet nie waar ons links is nie, òf waar ons regs is nie.” Al die ander donkies loer verleë vir Mossieman en Geronkie en ‘n paar van hulle kug saggies om nie te wys dat hulle bloos nie. “Ons weet waar ons vookante is, en ons agterkante, maar ons sukkel om tussen links en regs te onderskei, net soos reg en verkeerd.”

    “Maar links is links, en regs is regs,” roep Geronkie verbaas uit. “As ek links balk moet julle linkerpote voor wees en as ek regs balk, dan die tenoorgestelde poot!”

    “Maar Geronkie,” kerm Dorethea, ‘n skaam meisiedonkie in die agterste ry: “ons het vier pote. Of is dit nou vyf as jy ons sterte saamtel? As ons altwee pote gelyk aan die linkerkant voorsit, dan is twee pote vorentoe en twee agtertoe! Dan val ons om!”

    Mossieman lag so dat sy kuifie skoon deurmekaar raak. “Geronkie,” sê hy ondeund, “ek verstaan nie lekker nie. Sê vir die kadette hulle moet vir my demonstreer hoe val hulle om. Gee vir hulle opdrag om te masjeer, dan kyk ons wat gebeur.”

    Geronkie is ook nie links nie, en hy balk kliphard vir sy donkie-kadette: ”Aààààààààànnndag!” Al die donkies staan met gespitste ore op aandag en luister na Geronkie se bevele. “Links met driëe ommekèèèèèeer, links om!” Al die donkie-kadette draai links om. “Voorwàààààààrts, mars!”

    Daar trek al die donkies gelyk in alle rigtings oor die paradegrond. “Links-regs, links-regs, links-regs,” skree Geronkie luidkeëls bevele en al die donkies sit gelyk hul linkerpote vorentoe. Maar hul regterpote hak vas en daar kantel al die donkies gelyk om. Die klomp kadet-donkies balk kliphard van die skrik, Geronkie flap sy ore uit frustrasie en Mossieman lê soos hy lag.

    Verleë staan al die kadette op om hulle broeke en ore af te stof.

    “Toemaar, toemaar,” sê Mossieman vertroostend toe hy klaar gelag het vir die spul donkies. “Ek weet wat om te doen. Geronkie, gaan kry vir my ʼn klomp lappe, en ‘n klomp grashalms, en ʼn láááng tou.”

    “Lappe en toue en grashalms,” herhaal Geronkie verbaas. “Wat wil jy daarmee doen, Mossieman?”

    ‘Gaan haal dit net, Geronkie,” antwoord Mossieman, “en maak seker jy bring ʼn skêr om die toue mee te sny. Julle klomp donkies, kom staan almal hier in ʼn ry, linkerpote voor!” Al die donkies gaan staan geduldig, gedienstig en gedwëe in gelid, almal met hul linkerpote vorentoe.

    Nà ʼn rukkie kom Geronkie terug met die lappe en die grasse en die toue. Mossieman vat ‘n flentertjie lap in sy een poot, en ʼn snyseltjie tou in sy ander poot. Versigtig bind hy die stukkie lap om die eerste donke se linkerpoot. Toe vat hy ʼn polletjie gras en tou en bind dit om dieselfde donkie se regterpoot. Sò maak Mossieman – hy knoop lappe aan die linkerpote van die kadette en grasse aan die regterpote. Geronkie help vir Mossieman en kort voor lank loop al die donkie-kadette op die paradegrond met hulle lappe en grasse om hul pote rond.

    ‘So ja,’ sug Mossieman tevrede toe hy klaar is. Al die donkies het nou lappe en grasse om hulle pote. “Geronkie, sê vir al die donkies hulle moet weer in gelid op die paradegrond gaan staan.”

    Toe al die donkies weer mooi op aandag staan, sê Mossieman vir hulle om nou mooi te luister. “Die lappe is om julle linkerpote, en die grasse regs. As ek sê ‘lapvoet’, moet julle linkerpote vorentoe gaan, en as ek sê ‘grasvoet’ julle regterpote. Verstaan almal?”

    Al die donkie-kadette knik instemmend en loer verwonderd na hulle pote.

    “Is julle gereed?”

    Al die donkies knik hulle koppe en flap hulle ore.

    “Goed, hier gaan ons. Voorwàààààààrts, mars!”

    “Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet” en daar trek al die donkies mooi in gelid, al om die paradegrond, op die maat van die orkes se musiek. Geronkie is sò beïndruk met al die donkies wat so mooi masjeer, dat hy sommer met applous uitbars.

    “Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet” gee Mossieman bevel  en die donkie-kadette loop net te oulik vir woorde. Almal in gelid, almal gelyk, om en om die paradegrond. Die Donkie-Stronkie orkes maak ‘n kakafoniese geraas en speel vir die vale. Die kadette masjeer dat die stof sommer sò in wolke staan.

    Geronkie is aangedaan en kry ʼn traantjie in sy oog van dankerbaarheid. “Baie dankie, Mossieman! Dankie dat jy ons klomp donkies gehelp het. Ons is nou is ʼn ordentlike kadet-orkes. Die Donkie-Stronkie orkes gaan beroemd word,” sê Geronkie opgewonde. Ons kan selfs in die buiteland gaan toer.”

    “Dis reg so, Geronkie,” sê Mossieman terwyl hy sy pote tevrede afstof, “daar is net een ding wat julle moet doen noudat julle so beroemd geword het.”

    “Enigiets, Mossieman! Ons sal enigiets doen wat jy sê, want jy het ons gehelp om beroemd te raak.”

    Mossieman glimlag en dink so ʼn bietjie. “Ek dink, Geronkie, ek dink die Donkie Stronkie-orkes moet sy naam verander. Julle nuwe naam moet die Lapvoet-Grasvoet Orkes wees, dan sal julle klomp donkies nooit weer vergeet hoe om te masjeer nie.”

    “Dit is reg so, Mossieman! Jy is reg, dankie! Ons gaan dadelik ons naam verander na die Lapvoet-Grasvoet Orkes toe. Dan kan ons tydens ons toer in die buiteland altyd ons beste voetjie voorsit.”

    “Fluit fluit, my storie is uit,” sug Mossieman tevrede toe die applous bedaar het. Toe stap Mossieman stert in die lug van die grinnekende donkies op die paradegrond weg, om ʼn welverdiende uiltjie te gaan knip.

    *

    *Hierdie storie is deur my ma, Babs van Aswegen, as kind met bedtoegaan-tyd aan my vertel. Sy het haar verkneuter aan haar skoolmaats in die Oos Kaap se Katberge wat so gesukkel het om in gelid te masjeer.

  • Die Dowe Paddatjie

    Die Dowe Paddatjie

    Dit is nie lekker as ʼn paddatjie doof is nie.  ʼn Dowe paddatjie kan niks hoor nie, al is sy ore groot genoeg om sy leesbril vas te hou. Daar was lank gelede so  ʼn klein groen paddatjie wat in die riete, naby ʼn groot ou populierboom langs die pragtige Sandrivier in die Vrystaat gewoon het. Die paddatjie was klein, maar getrein en hy het baie energie gehad vir sò ʼn klein groen paddatjie. Hy was  ʼn bedrywige, onnutsige klein mannetjie vol boontjies. Die klein paddatjie wou nooit wou stilsit nie, en hy het alewig na muskiete en muggies gesoek om te eet.

    Die paddatjie se ma en sy maatjies moes maar altyd maar vinger- en potetaal gebruik om met die paddatjie te praat. Vingertaal is tekens wat die een paddatjie vir  ʼn ander paddatjie met sy vingers en hande wys, dan verstaan die paddatjie wat gesê word, al is daar nie regte woorde nie. Vingertaal en potetaal is amper soos gebaretaal, maar die paddatjies het net gebaretaal gebruik as hulle kwaad is vir mekaar.

    Elke jaar, net nà die somerreëns in die Vrystaat, is daar baie muggies en goggas vir die klein paddatjies om te eet. Die paddatjies het dan doodstil op hulle paddastoele gesit en wag vir  ʼn goggatjie of muggie om verby te vlieg, dan het hulle vinnig die goggatjie gegaps en opgeët. Die paddatjies het nogal vinnig geeët, omdat hulle geweet het dat daar nie genoeg goggatjies en muggies vir almal was nie. Hulle het geweet dat die goggatjies en muggies op ʼn stadium gaan opraak van al die etery.

    Die groen paddatjie en sy maatjies het nog eendag so gesit en eet, toe is al die muggies ewe skielik op, heeltemal gedaan. Daar was nie ‘n enkele muggie in die Vrystaat oor nie en die paddatjies het gou-gou besef dat hulle kos opraak. Daar was nie ‘n enkele muggie in die Vrystaat oor nie. Hulle was nogal mismoedig daaroor en het mistroostig hul lot by mekaar bekla. Ewe skielik sien die klein dowe groen paddatjie die laaste muggie heel bo in die grootste en langste populierboom in die hele bos raak. Stadig maar seker begin die klein paddatjie die reuse boom klim, op pad boëntoe om die laaste muggie te vang en te eet. Die boom was verskriklik hoog en die klein paddatjie het hoogtevrees gehad, maar hy was baie honger en besluit toe om braaf te wees en hoër op in die boom te klim. Hy kon darem nie die laaste kans verby laat gaan om die laaste sappige muggie te gaps nie.

    Toe die paddatjie se maatjies sien wat hy doen, was hulle baie benoud en bang dat hy uit die boom sou val. Die klein paddatjie was miskien doof, maar hy was so rats soos ʼn kat, so slim soos Mossieman en so taai soos ʼn Vrystaatse ratel.

    “Klim af, klim af!” skree hulle vir hom en beduie bekommerd met hulle pote vir hom. “Klim af!” skree hulle en swaai hulle arms op en af, “jy gaan seerkry, dit is baie gevaarlik!”

    Maar die klein paddatjie is stokdoof en hy hoor niks. Hy klim net hoër en hoër in die reuse boom op, so hoog dat hy naderhand hoogtevrees begin kry. Hy kan die sappige muggie daar bo op die op die heel boontste tak van die reuse boom sien sit – stadig maar seker klim hy nader en nader.

    “Klim af! Klim af! skree sy maatjies benoud op die grond weer vir hom en swaai hulle arms in die rondte om hom te waarsku. Die klein paddatjie is kwarteldoof en hoor niks nie, maar hy kyk so nou en dan bangerig af grond toe. Daar doer onder op die grond sien hy hoe sy maatjies hulle arms op en af swaai en skree vir die vale.

    ‘Ai, hulle is darem oulik,’ dink hy, ‘kyk hoe ondersteun hulle my en moedig hulle my aan om hoër te klim. Al bewe my broek so bietjie.’ Hy kyk weer boëntoe en sien dat die muggie nog daar is. Toe kyk hy weer af na waar almal vir hom staan en skree. ‘Ek wens ek kan hoor hoe hulle my aanmoedig,’ dink die paddatjie trots, ‘ek sou regtig nie so hoog kon klim sonder hulle ondersteuning nie. Hulle skree definitief OP, OP, OP!’ Hy klim pootjie vir pootjie nog hoër en hoër die groot boom in, opsoek na die muggie doer daarbo. Elke keer as hy afkyk grond toe, sien hy sy maters daaronder skree en arms swaai en beduie soos wat hulle hom aanmoedig. Hy verbeel hom hy sien selfs ʼn bloedrooi brandweerwa met ʼn lang geel leer daar onder, maar hy is nie seker nie.

    Uiteindelik kom die klein paddatjie heel bo in die boom en hy gryp die muggie en hy gaps hom op en hy smul te lekker. Toe hy klaar die muggie gegaps het, sien hy daar sit nog tien ander muggies bo in die boom en gryp hulle vinnig en druk hulle woerts-warts binne in sy knapsak. ‘Vir my maatjies,’ dink die die klein paddatjie, ‘ek is seker hulle is ook honger.’ Toe hy klaar is, draai hy om en begin stadig afklim na die grond toe. Hy sien hoe al sy maats skree en gil, maar hy hoor nie ‘n dooie woord terwyl hy so afklim nie. Hoe nader hy aan die grond kom, hoe beter kan hy sy maatjies en die groot rooi brandweerwa sien. Toe hy weer veilige met sy pootjies op die grond is, staan sy maatjies verwonderd en die brandweermanne angstig nader om te hoor hoe dit met hom gaan.

    “Baie baie dankie,” sê die klein paddatjie tevrede, “dankie almal, dat julle my so aangemoedig het. Sonder julle aanmoediging en ondersteuning sou ek dit nooit gemaak het nie, baie dankie! Ek voel soos  ʼn held!”

    “Klein paddatjie,” sê sy maters, “ons het jou nie aangemoedig nie, ons was bang jy val af en ons het geskree dat jy moet terugkom. Ons het geskree AF! AF! AF! Jy het ons byna ʼn hartaanval gegee.”

    “O,” sê die klein paddatjie verwonderd, “ek dog julle skree vir my dat ek hoër en hoër moet klim om die muggie te vang, nie dat ek moet terugkom aarde toe nie. Julle swaai dan julle arms op en af.  Ek dog julle skree OP! OP! OP!”

    “Ons het geskree dat jy moet terugkom, maar jy het jou doof gehou en toe klim jy net elke keer hoër en hoër in die boom op.”

    “Wel, dankie manne, as dit nie vir julle was nie, sou ek baie bang gewees het en glad nie so hoog geklim het nie. Te danke aan julle, het ek ‘n lekker sappige muggie gevang en geëet. Dit wys julle net, dit help partykeer om so doof soos ʼn kwartel te wees.”

    “O ja, voor ek vergeet,” sê die klein paddatjie en hy haal sy knapsak vol muggies uit. “Hier is vir julle elkeen ʼn persentjie gebring, ʼn smulseltjie muggies. Lekker eet almal! Geniet dit!”

    *

  • Ollie Olifant – Koning van Dieremaniere

    Ollie Olifant – Koning van Dieremaniere

    ‘Mossieman, weet jy dalk wie die Koning van die Diere is?’

    Dit was somer in die Vrystaat en die meeste landdiere is met vakansie see toe. Dit beteken dat dit baie stil in die Bloembos is, met min dinge om te doen, behalwe om na die Sonsbesies te luitser. Waneer dit nie vakansietyd was nie, het die meeste diere hethul tyd verwyl deur die Volksblad aandagtig te lees, kennetjie of giffie speel, en nou en dan ʼn albaster rond te rol.

    Geronkie die Donkie loer nuuskierig na Mossieman waar hy op sy gunsteling tak van ʼn groot ou moerbeiboom in die Bloembos sit en die Volksblad se agterblad lees. Die Volksblad is die grootste Afrikaanse dagblad in die Vrystaat, en ook die beste koerant in die hele wereld.  Almal in die Vrystaat lees die Volksblad, veral wanneer die Vrystaat alweer die Curriebeker wen.

    “Ollie Olifant,” antwoord Mossieman nonchalant, sonder om op te kyk van sy leeswerk af. “‘Ek dink dat Ollie Olifant die Koning van die Diere is.” Die koerant is interessant en Mossieman onthou dat hy erens gelees het dat Leeu dink dat hy die Koning van die Diere is. Mossieman dink ook terloops dat daar somtyds selfs stories in die koerant verskyn wat waar is.

    Geronkie skuif ongemaklik rond en loer na Mossieman waar hy hoog in die takke sit en lees. “Mossieman, is jy seker dit is Ollie Olifant?”

    “Natuurlik is dit Ollie Olifant,” sê Mossieman slim, terwyl hy aandagtig lees; die weervoorspelling, plaaslike en internasionale nuus, kerksake, landbounuus, sportnuus, hoofberig en sommer die hoofartikel ook.

    “Maar hoe weet jy dat Ollie Olifant die Koning van die Diere is, Mossieman?” vra Geronkie en hy loer effens benoud in die bos rond om te kyk of hy nie vir Leeu sien nie.  Mossieman lees met groot konsentrasie voort in sy koerant – hy is glad nie bang vir ʼn leeu nie.

    “Ek het gehoor dat Leeu dink dat hy die Koning van die Diere is,” fluister Geronkie saggies. Hy kyk versigtig rond of hy nie vir Leeu gewaar nie.

    Luilekker-stadig vou Mossieman sy koerant toe en kyk vir Geronkie. “Ek weet hoe ons kan uitvind, Geronkie,’ se hy. Gaan roep jy vir Ollie Olifant, en dan roep ek vir Leeu en dan kyk ons wie regtig die Koning van die Diere is.”

    “Hoe dink jy gaan ons dit doen? Ek is regtig bang vir Leeu, want netnou byt hy my.”  Geronkie se broek bewe so ʼn bietjie en sy flenter ore staan sommer kiertsregop van benoudheid. Hy wil nie met Leeu moeilikheid soek nie.

    “Gaan roep jy vir Ollie en ek gaan roep vir Leeu. Leeu sal niks aan jou doen as Ollie Olifant by is nie.”

    “Reg so, Mossieman,’ sê Geronkie bangerig en draf fluks om vir Olie Olifant te gaan roep. Toe Geronkie en Ollie olifant na ʼn rukkie terugkom, wag Mossieman en Leeu reeds vir hulle onder die groot moerbeiboom.

    “Goed, kom ons begin met die kompetisie,” sê Mossieman formeel en maak sy keel skoon. “Leeu, staan jy daar in die een hoek en Olifant, kom staan jy hier langs my.”

    Leeu en Ollie Olifant staan elkeen in hul eie hoek, gereed vir aksie. Al die diere van die bos kom nuuskierig nader om te sien wat gebeur. Dit is nie elke dag dat ʼn leeu en ʼn olifant met mekaar kragte meet nie.

    “Elkeen van julle kry een kans om die ander een op sy boud te piets. Die een wat die hardste skree en huil, verloor die kompetisie. Akkoord?”

    Leeu en Ollie olifant knik hulle koppe gretig, reg vir die kompetisie.

    “Leeu, jy is eerste,’ sê Mossieman gebiedend, want hy is die skeidsregter en hy blaas op sy fluitjie.

    “Wat moet ek doen, Mossieman?” vra Leeu benoud. “Wat moet ek doen om te bewys dat ek die grootste en sterkste en vernaamste dier in die bos is, die Koning van al die Diere?”

    Mossieman grinnik ondeund en loer vir die res van die diere van die bos wat die hele kompetisie sit en dophou. “Jy moet vir Ollie op sy boud piets en dan hoor ons hoe hard skree hy. Dan gee ons vir Ollie olifant ‘n kans om jou op jou boud te piets en dan hoor ons weer hoe hard jy skree. Die een wat die hardste skree en die meeste tjank, is die verloorder en die ander een is die wenner; die Koning van al die Diere. Akkoord?”

    “Reg so,” sê Leeu en hy maak sy naels teen die naaste boomstamp skerp. Al die diere van die Bloembos lag en gesels, opgewonde oor die kompetisie en om te sien wie gaan wen. Leeu of Olifant?

    “Ek is reg,’ sê Ollie olifant en hy swaai sy tamaai slurp so ʼn paar keer deur die lug.

    “Reg, Leeu, staan nader, jy is eerste,” sê Mossieman. “Ek gaan op my fluitjie blaas en my rooi vlaggie swaai, dan moet jy vir Ollie op sy boud piets.”

    “PRRRrrrrrrttttttttt!” blaas Mossieman op sy fluitjie en swaai sy rooi vlaggie. Leeu probeer so al wat hy kan vir Ollie olifant op sy boud piets, maar Leeu se bene is kort. Ollie Olifant is groot en hoog en lank, en Leeu kan nie lekker bykom nie.

    “Ek kan nie bykom nie, ek kan nie bykom nie,” brul Leeu van frustrasie. Hy spring op en af om Olifant se boud met sy kloue en naels by te kom, maar Ollie se boude is buite sy bereik.

    “Spring, Leeu, spring!” jil die diere van die bos. “Jy moet bokspring. Spring!

    Leeu probeer so al wat hy kan, maar Ollie Olifant is te groot en te hoog en Leeu kan glad nie bykom nie. Leeu spring en spring en spring, totdat hy uitgeput op die naat van sy rug op die gras gaan lê. Leeu is doodmoeg en sommer moedeloos. “Bring vir my bietjie water asseblief,” vra hy hygend. Die diere van die bos lag te lekker vir Leeu wat so voos op die gras lê. Al vier sy bene in die lug.

    Geronkie die Donkie, wat Mossieman se assistent-skeidsregter is, staan nader aan Leeu waar hy moeg lê en hyg. Geronkie is glad nie meer bang vir Leeu nie, want Leeu lyk vir hom te vodde om enige-iemand of enige dier te byt. “Leeu, ons het nie nou water om vir jou te gee nie, maar hier is ʼn bietjie boeretroos as lafenis.”

    Leeu gaan lê weer onder die koelteboom, met ʼn asynlappie op sy voorkop en drink sy boeretroos met ʼn strooitjie.

    Mossieman die skeidsregter staan vernaam nader en kyk so na Leeu waar hy lê en hyg.  ‘Wil jy weer probeer, Leeu?’ vra hy onnutsig.

    “Nee, Mossieman,’ sug Leeu mismoedig, ‘ek is uitgeput, stukkend en baie moeg.’

    ‘Staan op Leeu,’ probeer weer!’

    ‘Neeeewat,’ sê Leeu, ‘my gees is gewillig, maar my vlees is vodde.’

    ‘Nou goed, nou is dit Ollie Olifant se beurt,’ sê Mossieman. Al die diere van die bos kyk na Olifant wat rustig eenkant staan en gras eet. So nou en dan swaai Olifant sy tamaai slurp gevaarlik in die rondte en die diere van die bos moet net koes, anders piets hy hulle ook raak.

    Uiteindelik staan Ollie Olifant nader en swiep-swiep met sy slurp om op te warm vir die groot oomblik. Die diere van die bos help vir Leeu orent en laat hom langs die grote Olifant staan.

    “Ollie, is jy gereed?”

    “Reg soos ʼn roer,” brul Ollie en hy swiep-swiep met sy enorme slurp deur die lug.

    “Leeu, is jy gereed?”

    ‘Jaaa, ek dink so,’ kreun Leeu en hy staan bangerig nader. Al die diere van die bos kyk aandagtig vir Leeu en Ollie Olifant. “Kyk hoe bewe Leeu,’ fluister Mys die Muis vir Geronkie die Donkie en Poffie Pofadder, wat langs hom sit om die petalje dop te hou.

    Mossieman blaas op sy fluitjie en swaai sy rooi vlaggie.

    “Dit is nou wat jy benoude boude noem,’ fluister Geronkie terug.

    “PRRRrrrrrrttttttttt!”

    Olie Olifant swaai sy magtige slurp net een keer en raps vir Leeu vierkantig op altwee sy boude. Vir die diere van die bos klink dit soos ʼn geweerskoot – BAM ! Olifant se slurp swiep deur die lug en klap soos ʼn sweep op Leeu se boude! BAM!

    Leeu se gesig vertrek van die pyn en sy stert krul sommer twee keer in die rondte. Voor hy kan keer, piets Ollie Olifant hom nog ʼn keer op sy seer boude.  BAM! BAM !

    Leeu skree soos ‘n klein varkie en hou sy boude vas. “Piets hom Ollie, piets hom! kraai die diere van die bos van die lag. “Piets hom weer! Nog ʼn keer.”

    BAM! BAM! Eina-eina! BAM! BARM! Eina-eina!”

    Leeu kry nie eers kans om te brul nie. Elke keer as hy sy bek probeer oopmaak, kry hy nog ʼn sweepslag op sy boude.

    “Eina! Eina! huil hy en hy steek sy krulstert tussen sy bene weg. “Oe! Eina!”

    Ollie Olifant lig weer sy magtige slurp om Leeu ʼn laaste keer op sy boude te piets, maar Leeu sien Ollie se magtige slurp aankom en hardloop stert-tussen-die-bene, in die bos in.

    “Piets hom weer, Ollie, piets hom weer,” skaterlag en sing die diere van die bos. Van Leeu is daar niks te sien nie, net ʼn stofstrepie wat tussen die bome in verdwyn.

    Mossieman blaas op sy fluitjie en swaai vir ʼn laaste keer sy rooi vlaggie om aan te dui dat die kompetisie tussen Leeu en Ollie Olifant verby is. Ollie loshande die oorwinnaar en dus die nuwe koning van die diere.

    Toe die diere van die Bloembos ophou lag en gesels, maak Mossieman keel skoon om ʼn belangrike aankondiging te maak. “Vandag het ons gesien wie die koning van die diere is en dit is Ollie Olifant. Die tjankbalie van ʼn leeutjie het weg gehardloop! Van nou af, Ollie, is jy die regte koning van die diere! Baie geluk!”

    En Leeu? Van daardie dag af is Leeu maar net nog ʼn katjie wat in die Bloembos ronddwaal. Sonder huis of haard, alleen slaap hy maar so onder die bome en langs die magtige Sandrivier se kabbelende waters.

    “Wat dink julle gaan nou van Leeu word? vra Mys die Muis vir Geronkie die Donkie en Mossieman toe hulle terug deur die bos huistoe stap.

    “Nee-wat,” grinnik Geronkie lakonies terwyl hy aan ʼn lekker sappige mielie knaag. “Ek dink nie Leeu is meer katjie van die baan nie. Hy gaan nie weer terugkom nie. Ollie Olifant is nou koning van die diere, want vandag het hy Leeu se tjank behoorlik afgetrap en sy boude vuurwarm gepiets.”

    Van daardie dag af is daar rus en vrede in die Vrystaat, en in die diere ʼn welbehae.

    *

  • Die Beste Boere in die Wêreld

    Die Beste Boere in die Wêreld

    Vrystaatse boere is daarvoor bekend dat hulle loshande die beste boere in die hele wêreld is. Vrystaatse boere is baie kreatief en hulle kom altyd met die beste boerdery-idees en produkte vorendag. Soos boeretroos, boerbeskuit, melkkos, melktert en koeksisters. Volgens die Volksblad, die grootste Afrikaanse dagkoerant in die hele Vrystaat, boer die beste boere met mielies, koring, skape, katoba-druiwe, likkewane, ysbere, koggelmanders en klein tiertjies.

    Die meeste likkewane waarmee die Vrystaatse boere boer, is heel mak. Die boere teel met hulle, totdat die likkewane gereed is om te vervel. Die boere het gou agtergekom dat likkewane koddige diertjies is – hul sterte swaai woes heen en weer as hulle opgewonde raak, en hulle hou van die Sandrivier se water. Wanneer hulle oor-opgewonde raak, skud en swaai en ruk die likkewane so van die lag, dat hulle outomaties vervel. Dan gryp die boere die likkewane se velle en maak deftige likkewaanskoene daarvan.

    Hoewel daar nie baie ysbere in die Vrystaat is nie, is die paar wat daar op die plase bly, baie slim. Die boere het met die jare geleer om die ysbere nog slimmer te maak, deur vir hulle allerhande toertjies te leer, soos om met ʼn ploeg en skaar te werk. Dit is nogal moelik om ʼn ploeg en skaar te trek, maar die ysbere het met die regte opleiding gou-gou die kunsie onder die knie gekry en baie van die landerye in die Vrystaat omgeploeg. As mens deesdae deur die Vrystaat ry, veral in die omgewing tussen Ruigtevlei en Driekuil, sien jy dikwels ysbere wat op die boere se lande werk. Die ysbere is na al die jare al so bedrewe met die plaasimplemente en boerderytegnieke, dat van hulle ook die saai- en oeswerk op die plase behartig.

    Die koggelmanders is ʼn ander storie, eintlik ‘n perd van ‘n ander kleur. Vroeër jare het die boere in die Vrystaat gedink dat koggelmanders net klein miervretertjies is, maar later het die boere besef dat die koggelmanders baie slim en taalvaardig is. Net soos honde, kan koggelmanders ʼn paar Afrikaanse woorde verstaan en selfs ʼn paar sinne praat, met werkwoorde. Omdat die boere hard op hul lande werk, is hulle ook nie altyd by die plaashuis om die telefoon te antwoord nie. Dit is net hier waar die koggelmanders handig te pas kom om telefone te beantwoord en boodskappe af te neem as die boere nie tuis is nie. Van die meer ervare koggelmanders vra gewoonlik vir ʼn inbeller om bietjie aan te hou, sodat hulle net gou die boer op die landerye kan gaan roep.

    Die beste boere naby Ruigtevlei en Drievlei boer met tiere, veral tiere wat groot en sterk is. Van die tiere is ʼn handvol, maar die meeste werk mooi saam met die boere as dit melktyd is. Die tiere is net so bedrewe soos die melkkoeie en hulle gaan staan sommer saam met die koeie mooi in rye op stal wanneer dit melktyd is. Alhoewel dit effens moeiliker is om ʼn tier te melk as ʼn koei, is van die boere in die Vrystaat van mening dat tiermelk lekkerder is as koeimelk. Tiermelk maak jou ook baie slimmer as koeimelk.

    Tiermelk is nogal sterk, so sterk dat jy dit vir die ysbere kan gee om te drink as hulle op die mielielande staan en werk. Die tiermelk het ‘n manier om die ysbere sterker te maak as wat hulle regtig is, en meer luidrugtig. Dit maak hulle slimmer as wat hulle regtig is. Van die ysbere naby Ruigtevlei gooi sommer self hul ploegskare oor die skouer en stap huistoe wanneer hulle laatmiddag klaar gewerk het, omdat hulle weet dat die huistoe-gaan tyd is. In die Vrystaat is huistoe-gaan tyd, chaila-tyd, want dit is soos die Vrytaters wat in die myne en op die plase werk, Fanagalo praat.

    Een laat herfsmiddag het een van die mooi Boervroue van Ruigtevlei se omgewing haar man op die trappie van hul plaashuis sien sit en huil. Die Boer se treurige trane en snikke kon tot op die volgende plaas gehoor word – hy was behoorlik droewig en baie hartseer.

    “Wat is fout, my man,” vra die Boervrou simpatiek, terwyl sy ʼn sneesdoekie aan haar boer aanbied. Sy wou nie hê dat daar trane op sy nuwe Cheetah-trui moet val nie, want Vrystaters huil nie voor hul eie rugbytruie nie. “Waarom sit jy so op die stoep krokkodiltrane en huil?”

    Vrystaatse boere gebruik ook nie gewone sneesdoekies nie, in die Vrystaat word sneesdoekies van cheetah-velle gemaak. Toe die Boer klaar sy cheetah-vel sneesdoekie gebruik het, vertel hy mistroostig dat hy laatmiddag sy koggelmandertjie afgestuur het mielielande toe, om die ysbere te gaan roep. Die koggelmandertjie moes die ysbere en tiere inlig dat dit chaila-tyd is en dat hulle moet terugkom plaashuis toe, omdat dit melktyd was en ook tyd vir aandete.

    “Maar toe raak een van die tiere kwaad toe ons hom wou melk en hy eet die koggelmandertjie net daar op,” vertel die Boer treurig. “Tiere kan nogal baie gemeen wees as jy hulle wil melk.”

    “Ag, ek is jammer, my man,” troos die mooi Boervrou simpatiek en gee nog ʼn cheetah-vel snesie aan. ‘”Hier is nog ʼn snesie, om jou krokodiltrane mee af te droog.”

    “Ek huil nie krokkodiltrane nie,” pink die fris plaasboer ʼn laaste traan weg. “Daar is nie krokkodille in die Vrystaat nie. Dit is likkewaantrane.”

    “Wat gaan jy nou doen, my man? Noudat die arme koggelmandertjie oorlede is?”

    Bedeesd trek die Boer sy beker stomende boeretroos nader en doop ʼn dompeltjie boerbeskuit daarin. “Ek het geen keuse nie, daar is geen uitweg nie, geen lig aan die einde van die donker tonnel nie,” my vrou, “sug die Boer. “Ek sal maar een van daardie nuwe likkewane aan sy stert vang en hom moet afrig en oplei. Hy sal die koggelmandertjie se plek moet inneem en van nou af die telefone in die Vrystaat beantwoord.”

    “Klink vir my reg ou man,” sê die mooie Boervrou. “In die Vrystaat maak elke boer ʼn plan.”

    *

  • Die Magtige Vrystaters

    Die Magtige Vrystaters

    Die Magtige Vrystaters

    “Geronkie,” sê Mossieman gemaak-ernstig terwyl hulle ʼn groot Vrystaatse moerbeiboom sit en striksvye eet, “ek lees nou net in my koerant dat Vrystaters die taaiste manne in die hele Suid-Afrika is.”

    “Watter koerant sou dit nou wees, Mossieman?”

    “Die Volksblad natuurlik, die grootste Afrikaanse dagkoerant in die hele Vrystaat. Van bo tot onder.”

    “Vertel maar die storie, Mossieman,” sug Geronkie. “En klou vas aan daardie tak waarop jy sit, net-nou val jy onderstebo uit die moerbeiboom uit!” Geronkie is Mossieman se beste vriend en hy moet maar elke dag van sy lewe na Mossieman se stories luister. Geronkie weet goed dat Mossieman liegstories so mooi kan vertel dat beter as die waarheid klink.

    “Het jy geweet, Geronkie, in die ou dae was daar nie warm water in die Vrystaat nie.”

    “Nie eers in die winter nie?” vra Geronkie verbaas.

    “Veral nie in die winter nie.”

    “Waarom, Mossieman? Dit word darem lekker koud in die Vrystaat.”

    “Wel, eintlik is dit net sissies wat in baddens bad en in die Vrystaat was daar tot onlangs nie baddens nie. Dit staan hier in die Volksblad, daarom moet dit waar wees.”

    “Maar wat het julle dan in die ou dae in die Vrystaat gedoen as julle wou bad? vra Geronkie ietwat onseker.

    “In die plaasdam geswem, natuurlik.  Dit was net so goed soos bad, net effens beter. Dit vat jou twee keer so lank om die helfte so goed te lyk as jy uitklim.”

    “In die somer of in die winter?”

    “In die winter, Geronkie. Ons het voor skool gou afgehardloop daar na die plaasdam toe om te gaan bad. Ons het die ys op die plaasdam met ons elmboë stukkend gekap. Jong, jy moes gehoor het hoe kraak daardie ys. Dan swem ons ‘n paar lengtes voor skool, vlinderslag, net om op te warm vir die dag wat voorlê.”

    “Het julle darem gewas? Ek bedoel, julle hare en agter julle nat ore?”

    “Bedoel jy met seep? Ag-nee man, Geronkie, daar was nie sulke goed in die Vrystaat nie, ons het met Omo gewas.”

    “Met Omo?”

    “Ja Geronkie, dit skuim so lekker, ons het ons hare ook daarmee gewas. Daardie jare het ons met leeuvelle afgedroog. Dan is ons gereed vir ontbyt, voor ons skool toe gaan.”

    “Wat het julle vir ontbyt geeët?”

    “Untjies en ʼn paar skaapappeltjies. Die skaapappeltjies wat ons nie geeët het nie, het ons vir ons ketties se skietgoed gebruik.”

    “Het die kinders in die Vrystaat dan ketties gehad?” vra Geronkie beïndruk.

    “Ja,” antwoord Mossieman luilekker,” ons het ketties gebruik, omdat ons onse kleilatte by die huis moes los om skool toe te gaan. En elke ou het ‘n ertjieroer ook gehad.”

    “Het julle skoolklere gedra, Mossieman?” wonder Geronkie grootoog.

    “Ja, sulke mooi grys skoolklere met grys kouse en swart skoene. Ek onthou daardie Vrystaatse skoolkouse, hulle wou nooit bo bly nie en het die hele tyd afgesak tot op ons voete as ons rugby speel.’

    “Mapstieks! Wat doen julle toe.”

    “Jong,” sê Mossieman ongeêrg terwyl hy aan ʼn mielie pik, “ons het duimdrukkers gebruik om ons kouse bo te hou. Jy slaan hulle sommer so in jou been in, met die agterkant van jou poot. Dan sak jou kouse nie meer af nie.’

    “Jitte Mossieman! Wat se soort sport het julle gespeel?”

    “Bedoel jy behalwe rugby en skyfskiet?”

    “Ja, behalwe rugby, of jukskei. Almal weet Vrystaat is die best rugbyspan in die hele wêreld.”

    “Wel, ons het giffie gespeel, en kennetjie. En toppe. Of mekaar met ons ertjieroere gekiet.”

    “Vertel my eers waarom Vrystaat so ʼn goeie rugbyspan is.”

    “Ons noem hulle die Cheetahs, Geronkie, spog Mossieman. “Hulle is beroemd, dat die mense ʼn paar verdwaalde katte daar in die Kruger-wildtuin, ook na hulle vernoem het. Elke oggend voor skool oefen die kinders hulle rugbyskoppe met golfballe. Hulle skop die golfballe sommer kaalvoet vir mekaar bo-oor die skool se dak.”

    “Wat van sokker en tennis en so aan, Mossieman?”

    “Nee-man, Geronkie. A-nee-a! Seuntjies in die Vrystaat speel net rugby. Hulle oefen met mieliesakke op hulle rue, en een onder elke arm.”

    “Maar Mossieman, die mieliesakke is mos baie swaar, hulle is dan vol mielies.”

    “Ja Geronkie, maar jy moet sien hoe vinnig hardloop daai laaities as hulle nie meer met die mieliesakke op hulle rue hoef te speel nie.”

    Geronkie lag van oor tot oor. “Wat is giffie, Mossieman?”

    “Giffie speel ons met stukkies ronde lood. Met ʼn gaatjie in die middel soos ʼn oliebol.”

    “Waar kry julle die lood?”

    “Uit sinkers.”

    “Soos die vissermanne se sinkers?”

    “Ja, en hengelaars. Ons het hulle sinkers gesmelt om die giffies mee te maak.”

    “En dan?”

    “Gooi jy die giffie om in ʼn gaatjie in die grond te beland, amper soos ʼn slootjie.”

    “En kenntjie.”

    Mossieman dink so ʼn bietjie, want kennetjie is ‘n ingewikkelde speletjie wat die Voortrekkers en die Boere gespeel het.

    “Geronkie, sò maak mens. Jy kry ‘n lang stokkie en ‘n kort stokkie en dan maak jy twee spanne. Dan maak jy ‘n slootjie in die grond en jy skiet die kort stokkie met die lang stokkie. Dan vang die kinders die kort stokkie.”

    “Ai Mossieman,” sug Geronkie, “ek wens darem ek is ʼn Vrystater.”

    “Maar jy is ʼn Vrystater, Geronkie, jy is. Jy is mos in die Vrystaat gebore, net soos die beste en taaiste donkies in die land. Enigiemand wie se ma of pa of ouma of oupa in die Vrystaat gebore is, is ook Vrystaters.”

    “En ek is die mooiste donkie in die hele Vrystaat oog nog,” spog Geronkie trots by. “Maar vertel vir my, Mossiemn, waarom praat die mense van die Magtige Vrystaters?”

    “Omdat, Geronkie, omdat elke keer as ons die Curriebeker wen, dan sê die mense: Magtig! maar die Cheetahs kan goeie rugby speel!”

    *

  • Hoe om ‘n dief te vang

    Hoe om ‘n dief te vang

    Die was winter in die Vrystaat en Mossieman het ‘n lang baadjie by sy kort oranje Cheetah-winterkouse aangehad.  Sy beste maat, Geronkie die Donkie, het spesiaal twee wolkouse oor sy ore getrek om die koue en die sneeu uit sy hare te hou. Geronkie en Mossieman het elke aand om die kaggelvuur in Mossieman se snoesige nes gesit, en dan het hulle tot laat in die nag wolhaarstories vertel.  Mossieman is nie net ‘n professionele wolhaarstorieverteller nie, maar in sy vrye tyd het hy boeke geskryf en prentjies geteken, meesal om kinders te laat lag.

    “Maar Mossieman,” sê-vra Geronkie een aand so terwyl hulle lekker warm blikbekers melkkos eet, “het jy nie ‘n boek geskryf oor hoe om ‘n dief te vang nie?”

    “Ek het, ja Geronkie,” erken Mossieman met ‘n effens verleë kuggie van beroemde skrywers.  “Ek het ‘n boek geskryf oor die beste manier om ‘n dief te vang. ‘n Soort handleiding vir mense wat ‘n dief wil vang.”

    “Sê jy in die boek vir die mense hoe om dit te doen?” vra Geronkie nuuskierig.

    “Jààà.., ek skryf op die laaste bladsy van die boek hoe jy eintlik te werk moet gaan om ‘n dief te vang. Die metodiek wat jy moet volg.”

    ‘Die metode?” wil Geronkie nuuskierig weet.

    ‘Jààà. .. maar dit is eintlik ‘n geheim,” sug Mossieman en hy teug aan sy lekker warm melkkos.  “Op die laaste bladsy deel ek my geheim met die burgery, sodat almal in die hele Vrystaat, en die hele wêreld, kan weet hoe om ‘n dief te vang.”

    “Ek is nou baie nuuskierig Mossieman,” sê Geronkie angstig. “Wys my jou boek, veral die laaste bladsy, sodat ek ook kan sien hoe om ‘n dief te vang.”

    “Ek sal netnou,” sug Geronkie, “ek drink nou eers my lekker warm melkkos.  “En buitendien, dit hang af watter soort dief jy wil vang.”

    “Soort dief? Wat bedoel jy Mossieman?”

    “Daar is mos baie soorte diewe. Verskillende klasse en kategorieë diewe.”

    “Bedoel jy soos ‘n handsakdief, Mossieman?”

    “Jààà.., mens kry baie soorte eerlike en oneerlike diewe, en die metode om elke soort dief te vang is anders.”

    “Soos ‘n motordief? Of ‘n perskedief?  Soos ek en jy daardie een keer die dominee se perskes uit sy tuin gesteel het.”

    “Nee, wag nou, Geronkie” fluister Mossieman benoud, “ons praat nie daarvan nie.”

    “Maar die dominee het làànk na sy gesteelde perskes gesoek, selfs by die polisiestasie.”

    ‘Vergeet nou van die perskes Geronkie, ek praat van allerhande ander diewe, soos hoenderdiewe en skaapdiewe en melkdiewe.”

    “Wat van grypdiewe?”

    “Hulle ook. Dit hang af wie of wat hulle gryp.”

    “Hulle kan goed soos boeke gryp. Dan is hulle boekediewe.”

    ‘Ja, maar dit is ‘n groot sonde om boeke te steel.  Mense en diere kan boeke weggee, maar niemand mag ‘n boek steel nie.”

    Geronkie dink so bietjie na en sluk weer van sy lekker warm melkkos uit sy blikbeker. Hy weet nie altyd of hy vir Mossieman moet glo nie, veral nie as dit by aandpraatjies kom nie. Hy het al agtergekom dat Mossieman se oggend en aandpraatjies nie altyd ooreenstem nie. Veral nie smiddae nie.

    ‘Mossieman, gaan haal nou jou boek, sodat ek op die laaste bladsy kan lees hoe ‘n mens ‘n dief vang.”

    “Reg so, ek gaan nou,” antwoord Mossieman langsaam en hy stap traag weg om die boek te gaan haal. “Daar is net een ding wat jy moet onthou Geronkie, ons is nie mense nie. Die storie gaan oor hoe mens ‘n dief te vang.  Diere soos ons kan ook mos diewe vang, veral in die Vrystaat.”

    “Ek weet Mossieman,” gaap Geronkie verveeld. “Gaan haal nou die boek, ek wil op die laaste bladsy sien hoe om ‘n dief te vang.”

    Nà ‘n rukkie kom Mossieman terug met die boek wat hy geskryf het, en hy gee die boek vir Geronkie. Geronkie blaai angstig deur die boek en uiteindelik kom hy by die laaste bladsy uit. Hy is baie nuuskierig om te lees hoe mens ‘n dief vang en met die dief se gal werk. Geronkie blaai en blaai en soek en soek na die laaste bladsy van die boek.

    “Maar Mossieman,” sê Geronkie verbaas, “hier is dan glad nie ‘n laaste bladsy in die boek nie. Die laaste bladsy het verdwyn! Hy is heeltemal weg!  Hier is nie ‘n laaste bladsy nie!”

    “Ek weet,” antwoord Mossieman lomerig en sluk aan die laaste bietjie mellkos in sy blikbeker.

    “Ek is jammer Geronkie, maar ek dink ‘n dief het die laaste bladsy gesteel.”

    *

  • Die Gevaarlike Vrystaatse Cheetahs

    Die Gevaarlike Vrystaatse Cheetahs

    Die Cheetahs van die Vrystaat is ‘n wêreldberoemde rugbyspan wat die Curriebeker al ontelbare kere gewen het. Die Cheetahs is so beroemd dat mense en rugby-ondersteuners van buite die Vrystaat al van hulle gehoor het, selfs mense wat aan die oorkant van die magtige Sandrivier en duskant die Oranjerivier woon.

    Een van die redes waarom die Cheetahs sulke goeie rugby speel, is die uiters geheime oefeninge wat hulle doen. Mens kan maar sê geklassifiseerde oefeninge.  Niemand weet watter geheime oefeninge die Cheetahs gebruik om so sterk en slim te word nie, veral nie die spelers en die afrigters nie. Al wat die mense aan die oorkant van die Sandrivier en duskant die Oranjerivier gehoor het, is dat die Cheetahs die beste balvaardighede van al die rugbyspelers in die wêreld het.

    ‘Ek ken die Cheetahs se geheime, Geronkie,” vertel Mossieman eendag terwyl die twee rustig in die loweryke boomlaning langs die Vrystaat-stadion stap. “Ek weet waarom hulle so goed rugby speel.”

    “Vertel Mossieman, vertel jou storie, ek wil graag weet. Baie ander mense wil ook weet wat die Cheetahs se geheime rugby-resep is. Hulle speel nie net goeie rugby nie, maar sommer slim en aantreklike rugby ook.”

    “Reg so, Geronkie, ek sal vertel, maar jy mag nie die Cheetahs se geheime met enige iemand deel nie.”

    “Ek belowe miskien,” antwoord Geronkie spitsvondig, “ek sal vir niemand vertel nie.”

    “Veral nie vir ouens wat die Blou Bulle ondersteun nie.”

    “Reg, ek sal nie vir Blou Bul ondersteuners vertel nie.”

    “Ook nie Stormers nie, Geronkie.”

    Geronkie sug.  “Goed, ook nie vir die Stormers van Kaap nie.”

    “En wat van die Saaks?”

    “Die Saaks?  Waar kom die Saaks vandaan? Al die Saaks is snaaks!”

    “Van Durban af, daardie volksvreemde half-Britse kolonie aan die Ooskus van Suid-Afrika. Jy mag ook nie vir die Saaks vertel hoekom die Cheetahs sulke uitblinkers is nie.”

    “Reg so, Mossieman, ek sal veral nie vir die Saaks vertel nie.”

    Uiteindelik is Mossieman tevrede dat Geronkie ʼn geheim kan hou. En dat hy nooit die Cheetahs se geheime sal verklap nie.

    “Reg Geronkie,” fluister Mossieman sag, “dit gaan oor aartappels.”

    “Aartappels?” vra Geronkie verbaas. “Waarom fluister jy Mossieman?”

    “Omdat dit ʼn groot geheim is Geronkie, nie baie mense mag daarvan weet nie. Die klein Cheetahtjies eet van hul geboorte af aartappels.”

    “Waarom aartappels?”

    “Omdat hulle op plase grootword. Daar is baie aartappels op die plase in die Vrystaat en die kleintjies eet sommer so van baba se tyd af aartappels.”

    “Maar waarom aartappels?” wil Geronkie nuuskierig weet.

    “Want aartappels het koolhidrate man, dit maak jou sterk en vinnig. En slim. Die meeste Vrystaters is vreeslik slim, en nou is hulle vinnig ook. ‘n Onoorwinlike kombinasie.”

    “So, die baba Cheetahtjies eet baie gekookte aartappels?”

    “Ja Geronkie, en hulle drink baie melk.”

    “Aartappels en melk?”

    “Beide,” antwoord Mossieman tevrede terwyl hy en Geronkie ʼn tweede keer om die Vrystaat-stadion stap. “Die Vrystaatse melkkoeie eet baie aartappels, dan is hulle melk ook sommer vol koolhidrate.”

    “En wat doen die Cheetahs nog?”

    “Opstote,” vertel Mossieman.

    “Push-ups?”

    “Geronkie, ons praat nie Frengels nie,” sê Mossieman vieserig. Mossieman is in sy vrye tyd nogal ʼn taalpuris en hy hou daarvan dat Geronkie Afrikaanse en Engels met mekaar meng nie. “Push-ups is nie Afrikaans nie Geronkie, dit is Frengels. Hier in die Vrystaat praat ons suiwer Afrikaans.”

    “Is dit waar dat die Cheetahs net een-arm opstote doen, Mossieman,” vra Geronkie. “Ek hoor hulle laat hul ander arm dan bietjie rus.  Wat doen die Cheetahs nog, Mossieman?”

    “Hulle jaag skape.”

    “Skape?”

    “In die Vrystaat is daar baie skape en die jong Cheetahtjies leer sommer vroeg-vroeg hoe om skape te jaag. Naderhand hardloop daai Cheetahtjies sò vinnig dat hulle amper daardie skape vang. As ‘n klein Cheetahtjies ‘n wilde skaap sien, dan sit hy hom agterna.”

    “Het een van die Cheetahtjies al ooit een van die skape gevang, Mossieman?” vra Geronkie wantrouig.

    “Nog nooit nie! Weet jy hoe vinnig daardie wilde skape in die Vrystaat kan hardloop? Niemand kon hulle nog ooit vang nie.”

    “Reg so, Mossieman, ons weet nou waarom die Cheetahs so sterk en so vinning is, maar waarom is hulle so slim?”

    “Wel,” antwoord Mossieman geheimsinnig, bang dat van die Blou Bulle of Stormers of Saaks hom sal hoor. “Ons weet dat die Cheetahs slim genoeg is om nooit hulle eie baas te vang nie en dat slim Jan beter is as dooie Jan.”

    “En dat jy liewer slim moet wees as sterk,” merk Geronkie slim op. “Maar hoe sterk is die Cheetahs regtig, Mossieman?”

    “Wel Geronkie, weet jy hoe lyk ‘n ysbeer?”

    “Ja, ek weet Mossieman,” antwoord Geronkie verontwaardig, “maar hier is mos nie baie bruin bere in die Vrystaat nie.”

    “Dit is waar,” merk Mossieman lakonies op. “Maar weet jy waarom, Geronkie?” vra Mossieman ondeund.“

    “Nee.”

    Mossieman lag lekker uit sy magie uit. “Die Cheetahs hulle almal gevang en opgeëet!”  Geronkie glimlag maar saam met Mossieman, maar hy is nog nie tevrede met al die antwoorde wat Mossieman hom gee nie.

    “Maar waarom is die Cheetahs so verskriklik intellektueel intelligent?”

    Mossieman kyk om hom rond om seker te maak niemand luister af nie. “Stories,” Geronkie, “die Cheetahs is so slim omdat hulle stories lees.”

    “Stories lees?”

    “Vandat die Cheetahs babatjies is, lees hulle stories. En hulle luister elk aand na stories wat ma en pa vertel as dit bedtoegaantyd is. Dan vertel hulle daardie stories vir die ander babas en kinders in die Vrystaat.”

    “Ek sou dit nooit gedink het nie, Mossieman. Mapstieks! Wat leer die klein Cheetahtjies uit die stories?”

    Mossieman glimlag geheimsinnig. “Die Cheetahtjies leer dat elke vraag helfte van die antwoord bevat, dat die tien gebooie al die ander gebooie insluit, dat dit beter is om te luister as om te praat, en dat wysheid nie saam met grysheid kom nie, maar van kinders af.”

    Geronkie skud sy kop van verwondering en bewondering. “Jitte Mossieman, maar nou praat jy altemit diep dinge!  Ek verstaan nou alles. Ek kan amper nie glo dat ek net ʼn  donkie is nie, so slim is ek.”

    “Dit is so, Geronkie,” lag Mossieman uitbundig.  “Jy weet mos ‘n donkie is ‘n wonderlike ding.

    “Jaa…. amper so wonderlik soos ʼn Vrystaatse Cheetah.”

    *

  • Die Dowe Kakkerlak

    Die Dowe Kakkerlak

    Kakkerlakke en kokkerotte is eienaardige bruin-swart goggatjies wat wat vir baie mense bietjie grillerig is. Hulle hou van donker plekke, hardloop vinnig oor die kombuis se vloer en kan vir ʼn hele maand sonder kos en water klaarkom! ʼn Kakkerlak se brein sit nie in sy kop nie, maar in sy lyf en hy is ‘n baie goeie swemmer omdat hy sy asem langer as dertig minute onder die water kan ophou. Regtig.

    Eendag, in die onlangse verlede, kyk ʼn geleerde professor in sy laboratorium by Kovsies (ʼn beroemde Afrikaanse universiteit net Noord van die magtige Oranjerivier in die pragtige Vrystaat), na ʼn kakkerlak wat op sy tafel sit. Die Professor het rooi-grys hare, ʼn ronde knypbrilletjie wat op die punt van neus rus, en ʼn belangrike groot wit jas. Om sy nek dra die vername Professor ʼn stetoskoop, wat hom baie belangrik laat lyk en hom help om sy studente en die proefdiere in sy laboratorium beter te kan hoor.

    “Nou ja,” sê die Professor vir sy assistant wat ʼn groot swart bril dra, “kom ons kyk hoe intelligent hierdie kakkerlak is.” Die Professor het êrens gehoor dat kakkerlakke baie slim is, selfs slimmer as springkane en muise en studente. Nuuskierig loer die professor vir die kakkerlak deur sy vergrootglas, en die kakkerlak loer met sy groot oë terug.

    “Hierdie kakkelakkie is darem baie lelik, Professor,” gooi die assistent, wat self bietjie na  ʼn kakkerlak sonder ʼn bril lyk, ʼn stuiwer in die armbeurs. Die assistent was nog self ‘n student, maar hy was nie arm nie. Hy was redelik toegewyd aan sy kakkerlakstudies en het maar net altyd ‘n armbeurs met hom saamgedra.

    Die kakkerlakkie het sulke groot ogies wat beide kante toe gelyk kan kyk en hy bekyk die professor nuuskierig. As ʼn mens of ʼn geleerde professor of ʼn kakkerlak deur ʼn vergrootglas kyk, lyk alles aan die ander kant groter en belangriker.

    “Reg,” sê die Professor, “ons is gereed vir die eksperiment!” Versigtig trek hy een van kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy.

    Die kakkerlak het vyf van sy ses bene oor. Toe die professor die bevel gee, reageer hy flink uit die vere en spring sommer hoog in die lug.

    “Sjoe,” s die Professor verbaas, “dit is darem nou ʼn slim en atletiese kakkerlak! Selfs met vyf bene spring hy lekker hoog die lug in.” Die Professor ʼn aantekening met sy griffel op sy lei.  “Sonder een been is kakkerlak nog steeds ʼn baie gehoorsame en slim insek. Hy is nie hardhorend nie.”

    Die Professor loer weer deur die vergrootglas na die kakkerlak en sit sy stetoskoop op die kakkerlak se hart. Kakkerlakkie se hart klop woes van al die moeite en inspanning om so hoog in die lug in te spring.

    “Reg, volgende stap” sê die Professor en hy trek nog een van die kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy weer.

    Niks gebeur nie. Die kakkerlakkie sit doodstil en loer net vir die professor. “Miskien is dit ‘n Engelssprekende kakkerlak, Professor,” waag die senuweeagtige assistent weer sy mening. “Miskien moet Professor liewers vir hom opdrag gee om die “jump!”

    “Nee-man,” sê die Professor gedetermineerd. “Hierdie is die Vrystaat, kakkerlakke hierso kan nie Engels praat nie. Spring! Spring!”

    Kakkerlak het nou net vier bene oor, maar hy spring sommer weer hoog in die lug, net soos ʼn  Olimpiese hoogspringer.

    Nou is die Professor is baie beïndruk. “Dit is ‘n baie slim kakkerlak hierdie. Twee van sy bene is in die asblik, maar hy spring sommer nog hoog in die lug in. Hy sweef sommer soos ‘n arend terwyl hy daar bo in die lug rondhang.”

    Weer maak die Professor ʼn aantekening met sy griffel op sy lei. “Sonder twee van sy bene, is die kakkerlak nog steeds ʼn baie slim en gehoorsame insek.”

    Die Professor se assistant loer na die kakkerlak wat op die tafel sit. Hy weet darem nie so mooi nie – dit lyk nie vir hom of die kakkerlak so hoog spring nie. Trouens, die kakkerlakkie bietjie vodde en uitgeput.

    Kakkerlakkie loer terug na die professor en sy assistent. Vir hom lyk hulle sommer kleiner as die vergrootglas nie naby is nie.

    “Reg, volgende stap” sê die Professor en hy trek sommer nog twee van die kakkerlak se bene af en gooi hulle in die asblik, “Spring!”

    Kakkerlak het nou net twee van sy ses bene oor, maar hy spring weer effens in die lug in.

    “Gedoriewaar! Mapstieks!,” sê die Professor verbaas. “Die kakkerlak is so slim dat hy met net twee bene oor, nog steeds na my luister. Kyk net hoe effens hoog spring hy met sy twee oorblywende bene.” Die assistant is net so beïndruk – hy het ook nog nooit so ʼn slim effense entoesiastiese kakkerlak gesien nie.

    Die Professor griffel weer met sy griffel op sy lei: “Al het ʼn kakkerlak nog net twee bene oor, is hy steeds min of meer ʼn gehoorsame en slim insek. Hy spring sommer effens baie hoog, elke keer as ʼn opdrag aan hom uitgereik word.”

    Versigtig staan die Professor weer nader. “Reg,” sê hy, “kom ons kyk wat gebeur” en hy trek die kakkerlak se laaste twee bene af en gooi hulle in die asblik.

    “Spring!” sê die Professor vir die been-af kakkerlak. “Spring!”

    Maar die kakkerlak doen niks nie. Hy sit net op die tafel, sonder enige van sy bene en hy loer vir die professor in sy wit jas en die assistant met sy groot swart bril.

    Moeisaam haal die professor sy stetoskoop uit en luister na die kakkerlak se hart.  “Nee-wat,” merk die Professor op, “sy hart klop nog steeds lekker hard en vinnig. Hy is glad nie dood nie.”

    Kakkerlakkie sit doodstil op die tafel. Hy het nie meer bene nie, maar sy groot oë kyk die hele tyd vir die Professor met sy wit jas.

    “Spring!” beveel die Professor weer vir die kakkerlak sonder enige bene. “Jump!, “Spring!”

    Maar niks gebeur nie. Die kakkerlak sit doodstil op die tafel en loer vir die professor. Die professor loer radeloos terug, en toe gee hy maar vir kakkerlakkie bietjie kos om te eet.

    “Aha!” sê die Professor vir sy assistant, “nou weet ek, nou weet ek!”

    Versigtig maak die professor sy griffeltjie skerp om nog ʼn aantekening op sy lei te maak.

    ‘Gevolgtrekking,’ skryf hy noukeurig met sy griffel op sy lei, en loer deur sy knypbrilletjie na sy eie handskrif. ‘As jy al ses ʼn kakkerlak se bene aftrek, word hy so doof soos ‘n kwartel.”

  • Vlerrie Vlermuishuizen

    Vlerrie Vlermuishuizen

    In die pragtige Vrystaat is daar baie magtige riviere en beeldskone mere en blou waterstrome en loweryke wilgebome en geil mielielande waar baie veldmuise bly. Die veldmuise hardloop almal in die mielielande rond en eet ou mieliestronke en mieliepitte wat agtergebly het nà die oes. Partykeer los van die boere selfs die mieliestronke in die lande nà, net sodat die veldmuise en vlermuise kos het om te eet.

    Nie so lank gelede nie, sit daar eendag twee aanvallige meisie-veldmuise langs die Aldam en eet hul  sappige mieliestronke. Die Aldam is naby Bethlehem in die Oos Vrystaat en sò mooi dat mense van heinde en verre kom om na die blou water te kyk. Die twee meisie-veldmuise was jonk en pragtig, met linte in hulle hare en die mooiste rokkies, en pienk en rooi frokkies. Die een veldmuis-meisie se naam was Meisie en die ander een se naam Muisie.

    “Ag, die Vrystaat is darem sò mooi nà die reën,” sug Meisie aangedaan.

    “Die Vrystaat moet darem die mooiste plek op aarde wees wat deur Liewe Jesus geskape is,’ beaam Meisie. “Die Vrystaat is selfs mooier as ʼn mieliestronk wat nog al sy pitte het.”

    “Die Vrystaat is mooi,” stem Muisie saam terwyl sy ‘n mieliepit middeldeur byt, “maar my nuwe kêrel is mooier.”

    “Rêrig? Spog jy nie maar nou net nie? Het jy dan ʼn kêrel? Het jy dalk ‘n foto van hom?”

    “Ja, regtig,” beaam Muisie, “my kêrel is baie mooi.  Mooier as mooi. Te aantreklik vir woorde,baie aanvallig. Sy van is Vlermuishuizen.”

    Skamerig haal Muisie ‘n foto van haar muiskêrel uit haar beursie uit, en wys dit vir Meisie die prentjie.

    Op die foto is ‘n forse seuntjie-muis met donker-swart strepe oor sy breë bruin skouers. Oor sy skouers is ‘n elegante manèl. Lank en statig en deftig staan hy daar.

    “Sjoe, maar hy is nogal aantreklik!” bloos Meisie. “Kyk sy mooi winterjas!”

    “Dit is nie ʼn winterjas nie, Meisie,” sê Muisie verontwaardig. “Dit is sy vliegpak en sy valskerm. My kêrel se vliegpakkie is swart en bruin en die strepe loop van bo tot onder, amper net soos ʼn regte valskerm in die Lugmag.”

    Die twee meisiemuise kyk stip na die foto en bewonder die mooi kêrel van hoek tot kant.

    “Maar Muisie, weet jy wat? roep Meisie verbaas uit. “Dis nie ʼn seuntjie-muis nie! Dit is ʼn vlermuis!”

    “ʼn Vlermuis?”

    “Ja man, Muisie! Vlermuise het mos sulke strepe oor hulle rue!”

    Geskok gryp Muisie die foto terug en kyk stip daarna. Dit is waarlik ʼn foto van ʼn vlermuis.

    “Die klein karnallie!  roep sy onthuts uit. Hy vertel my die hele tyd hy is ʼn vlieënier! En ek het hom geglo. Die stouterd!”

    “Ag, shame, Muisie,” troos Meisie en sit haar pootjie om Muisie se nek. “Moenie stres nie.  ‘n Vlermuis is ook ʼn soort muis, net soos ons. Hy het net vlerkies aan om hemel toe mee te gaan.”

    *

  • Die Appelliefiediefie

    Die Appelliefiediefie

    Die Appelliefie-diefie

    Die Koning van die Vrystaat het die mooiste appelliefie-boord in die hele wêreld gehad.  Die appelliefies wat aan die appelliefie-bos in die koning se vrugteboord gegroei het, was die soetste en sappigste en geelste appelliefies in die hele Vrystaat. Nie een ander appelliefie was mooier, groter, sonniger en sappiger as die ou Koning se appelliefies nie – hulle was net die beste in die Weste. Die Koning se onderdane het van die appelliefie-bos geweet – hulle oupagrooitjies het die storie van die lekker appelliefies vir hul oumas en oupas vertel en so het die kleinkinders daarvan tehore gekom. Wat die Koning se onderdane nie geweet het nie, was dat die koning ʼn beeldskone dogter gehad het, wie baie mooi klavier kon speel en mooi kon dans. Die Koning het vir niemand vertel hoe mooi die prinses was nie, omdat hy baie bang was dat elke jan-rap en sy maat met sy dogter sou wou trou, net omdat sy so mooi was. Die Koning het hom voorgeneem dat net die slimste onderdaan in die hele koningkryk met sy pragtige dogter sou kon trou, en dan moes die onderdaan nog ʼn baie groot uitdaging oorkom.

    Niemand het geweet nie, maar die ou Koning het ʼn probleem gehad waarvoor hy ʼn oplossing moes kry. Iemand, miskien een of ander skelm, was besig om van sy geliefde appelliefies uit sy boord te steel. Die Koning was baie kwaad daaroor en hy het hom voorgeneem om die skuldige appelliefie-dief vas te trek. ‘Niemand het die reg om my appelliefies te steel nie,’ brom die ou koning, ‘ek sal die maaifoedie sommer gou-gou vang en hom laat boet vir sy sondes.’

    Die Koning het lank en hard probeer om die appelliefie-dief te vang, maar sonder enige sukses.  Elke oggend het die koning baie vroeg opgestaan en dan in sy appelliefie-boord gaan waghou, om te kyk of hy nie dief kon vang nie. Terwyl die Koning daar gesit het, het niemand van die appelliefies gesteel nie, maar sodra die koning moeg geword het en teruggegaan het na sy kasteel toe, het daar maar weer van die appelliefies verdwyn.

    Toe besluit die Koning dat die appelliefie-diefie seker die appelliefies in die aand steel, wanneer niemand kyk nie. Daarom het die Koning besluit om elke aand met ʼn kers in die appelliefie-boord gaan sit, om die dief te vang. Maar elke keer as die Koning aan die slaap raak en heerlik snork, het daar weer van die appelliefies verdwyn. ‘Ek het hier met ʼn baie slim dief te doen,’ het die Koning vies gedink. ‘Ek sal ʼn baie slim plan moet uitdink om die dief te vang.’

    Die Koning besluit toe om ʼn beloning uit te loof vir enige onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie op heter daad betrap. Die Koning het ʼn groot samekoms gereël en almal wat in die koningkryk woon, toegespreek. “Ek gee nie om wie die appelliefie-dief vang nie,” het die Koning aan sy onderdane gesê, “solank iemand hom net vang, sodat ek die dief in die tronk kan sit!” As beloning, het die Koning belowe, kan die onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie vang, met sy dogter trou.

    Om al sy onderdane en diensknegte om die bos te lui, het die koning vir almal vertel dat sy dogter besonder lelik was en ook nie baie slim nie, hoofsaaklik omdat sy nogal lui was. Die Prinses, aldus die slinkse ou koning, het ʼn kort humeur gehad en sy het gereeld op die diere en diensknegte en onderdane in die kasteel geskree. Niks daarvan was waar nie, en die Koning het gedink dat kansvatters gou-gou moed sou opgee as hulle onder die indruk verkeer dat die prinses nogal lelik is.

    Maar een van die Koning se onderdane het nie moed opgegee nie. Sy naam was Tiro en hy het gehoor dat die koning baie graag wil uitvind wie elke dag sy appelliefies steel, en dat hy enige iemand wat die skelm dief kon vang, ryklik sal beloon deur hom met sy dogter te laat trou. Tiro het nie omgegee dat die prinses lelik was nie, hy het lankal reeds by die diensknegte uitgevind dat sy pragting kon sing en baie mooi klavier kon speel. Solank die koning se dogter edel van imbors was, met ʼn mooi karakter, en lief is vir diere en hulle nie seermaak nie, was dit goed genoeg vir hom. Elke meisie is op haar eie manier beeldskoon, het Tiro vir homself gesê. Die Prinses sou vir hom mooi wees en hy sou haar op sy hande dra, omdat sy ʼn prinses was.

    Tiro het elke aand, nadat al die diensknegte en onderdane gaan slaap het, stilletjies stelling in die koning se appelliefieboord ingeneem. Aand na aand het Tiro in die boord gesit en wag vir die dief om toe te slaan. Hy het baie vaak geword, maar nooit geslaap nie. Somtyds het Tiro natgereën, en in die koue windjie gesit en wag en wag…  vyf nagte lank. Tiro was ʼn slimkop, met groot breë skouers – hy sou nie dat ʼn ou koue windjie hom van stryk af bring nie. Nag nà nag het Tiro geduldig in die boord geskuil, en op die appelliefie-dief gewag.

    Op die oggend van die sesde dag, toe Tiro al baie moeg en amper moedeloos was, hoor hy ewe skielik ʼn gefladder van vlerke in die appelliefie-bos. Dit was baie vroeg in die oggend, net voor dagbreek, en die dou het nog op die appelliefie-bos se blare gelê en blink. Soetjies het Tiro opgestaan en nadergesluip, totdat hy duidelik kon sien hoe ʼn pragtige leliewit tortelduif op een van die appelliefiebome sit en die appelliefies een vir een bymekaarmaak.

    “Nou het ek jou,” het Tiro gefluister en agter die boom uitgekom om die wit tortelduifie aan haar vlerk te gryp. Die Tortelduifie het ʼn klomp appelliefies in haar kieste gebêre en probeer wegvlieg, maar Tiro het haar stewig in sy greep gehad en vasgehou.

    “Los my, asseblief,” het die Tortelduifie benoud gekoer, “ek maak net kos vir my kinders bymekaar.” Maar Tiro wou nie los nie en het haar stewig vasgehou.

    “Jy weet mos jy mag nie in die koning se tuin kom vrugte pluk nie,” sê Tiro streng. “Jy moet eers toestemming kry om dit te doen.”

    “Ek is jammer,” soebat die Tortelduifie. “Ek maak maar net kos vir my kinders bymekaar.”

    Tiro het die tortelduifie jammer gekry en stadig sy greep gelos. “Hoeveel kinders het jy?”

    “Net twee,” antwoord Tortelduifie bedees. “Twee klein baba tortelduifies. Ek moet elke dag vir hulle kos vat, anders word hulle honger.”

    “Wel,” sê Tiro streng, “hierdie vrugteboorde behoort aan die koning.  Enige een wat van die koning steel, moet tronk toe gaan.”

    “Ek is jammer,” soebat Tortortelduifie, “ek sal dit nooit weer doen nie. Ek belowe ek sal nooit weer na die koning se vrugteboorde toe kom nie. Ek sal in my lewe nooit weer ietsie steel nie.”

    “Goed,” sê Tiro, “ek glo jou. Ek sal jou laat gaan, maar jy moet by jou belofte hou om nooit weer iets te steel nie. Belowe jy?”

    “Ek belowe,” sê die duifie plegtig en toe Tiro laat haar gaan. “Baie dankie, baie dankie,” sê Tortelduifie en toe vlieg sy ʼn laaste keer uit die koning se vrugteboord uit.

    Die volgende dag het Tiro na die kasteel toe gegaan, waar hy deur die koning te woord gestaan is. Tiro het vir die Koning die hele storie vertel, ook van die tortelduifie se belofte om nooit weer sy appelliefies te steel nie. Die Koning het geduldig na Tiro se storie geluister en hy kon dadelik sien dat Tiro ʼn goeie en goedhartige jong man was. Tiro het die probleem opgelos en daarmee was die koning baie in sy noppies. Hy het toe die prinses laat roep en aan haar vertel hoe bedagsaam Tiro met die tortelduifie was. Toe hy die pragtige Prinses sien, was Tiro se asem skoon weggeslaan. Hy kon nie glo hom mooi en pragtig die prinses was nie – en sy kon boonop baie mooi sing en dans.

    Die koning het sy seën gegee sodat Tiro en die pragtige Pinses kon trou. Tiro het ʼn Prins geword en op die dag van die troue het sy prinses vir hom ʼn pragtige liedjie gesing. Toe gebeur iets wonderlik, iets wat niemand in die Koning se kasteel nog ooit gesien het nie.  Terwyl die Prinses nog so op haar klavier vir al die gaste by die troue speel en sing, hoor sy en Tiro ewe skielik ʼn pragtige klokhelder koer-koer bo in die kerktoring.

    Toe Tiro en sy Prinses opkyk, sien hulle ʼn pragtige wit tortelduif, wat na hulle kyk en liggies met haar vlerke fladder.

    Net om dankie te sê.

    *

  • ‘n Perd van ‘n ander kleur

    ‘n Perd van ‘n ander kleur

    Perd van ‘n ander kleur

    Dit was laat-winter in die pragtige Vrystaat en ‘n paar mismoedige wolkies hang laag oor die horison anderkant Bloemfontein. As jy mooi deur jou een skefiesoog kyk, kon jy net-net die mismoedige wolkies bokant Mossieman se kop en tussen Geronkie die Donkie se twee groot ore sien. Die twee oū vriende sit onder ‘n melankoliese wilgeboom langs die magtige Sandrivier en treur oor Mossieman se perd wat tans oorlede is.

    “Wat het met jou oorlede dooie perd gebeur?” vra Geronkie simpatiek en sit sy donkiepoot broederlik sag om Mossieman se vlerkie. Mossieman kyk half bedruk af grond toe, en pink pikant ‘n traan met sy pienk sneesdoekie weg.

    “Ag Geronkie, my perd het doodgegaan, lepel in die dak gesteek. Kortom, hy is lang bome toe. Ek dink hy is van ouderdom dood.”

    “Hoe weet jy dit?” wil Geronkie nuuskierig weet. “Ek bedoel van sy ouderdom, nie dat jou perd dood is nie?”

    “Hy het vreeslik baie plooie en kreukels gehad,” snik Mossieman. “Ek moes hom onderstebo begrawe.”

    “Hoeveel kos dit om so ‘n dooie perd te begrawe, Mossieman ?”

    “So vyftig rand,” antwoord Mossieman bewoë.

    “Dis nou ‘n perd van ‘n ander kleur,” sug Geronkie mededeelsaam. “Ek is baie bly ek is ‘n donkie en nie ‘n perd nie.”

    “Hoekom? Ek bedoel waarom?”

    “Dit is veel goedkoper om ‘n lewendige donkie te begrawe as ‘n dooie perd.”

    “Dit is waar, ja,” sê Mossieman.  “Mens moet nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.”

    “Hoe het jy die geld bymekaargemaak vir jou perd se begrafnis, Mossieman ?”

    Mossieman skuif sy mus oor sy oë en bêre sy pienk sneesdoekie versigtig in sy knapsak. “Ek het ‘n slim plan gemaak, soos ‘n Vrystaatse boer. Met Wiskunde.”

    “Mossieman,” maan Geronkie agterdogtig, “jy kan nie ‘n slim plan maak met ‘n dom perd nie. Wat het jy aangevang?”

    “Ek het hom verkoop.”

    “Verkoop!” roep Geronkie verbaas uit. “Het jy jou dooie perd verkoop ?”

    “Ja,” sê Mossieman, “teen vyf rand ‘n kaartjie.”

    “Vyf rand! Soos ‘n dominee se lotery by ‘n kerkbasaar?”

    “Amper so iets,” mompel Mossieman en hy vryf met sy linkerpoot oor sy regterwang.

    “Wat het jy gedoen?”

    “Ek het my perd uitgeloot en kaartjies aan almal verkoop. Teen vyf rand ‘n kaartjie. Ek het gedink dit is ‘n redelike, markverwante prys.”

    “Vir ‘n dooie perd?”

    “Ja.”

    “Maar mense gaan baie kwaad vir jou wees as hulle uitvind dat jy lotery-kaartjies verkoop om ‘n dooie perd te wen.” Geronkie skud sy kop verontwaardig al in die rondte en frons onderdeur sy ruie wenkbrou vir Mossieman. “Hulle gaan jou tjank aftrap!”

    “Maar die mense wat die kaartjies koop, weet mos nie die perd is dood nie.”

    “Eisj,” se Geronkie en kyk so skuinsweg na Mossieman, ewe skielik vol bewondering vir sy slimmigheid. “Dit is waar. Wel, nie heeltemal waar nie, maar ook nie ‘n infame leuen nie.”

    “Hoeveel kaartjies het jy nogal aan die mense verkoop, Mossieman ?”

    “So ‘n duisend rand se kaartjies,” sê Mossieman trots, en hy sit selfvoldaan agteroor, pote agter sy ore.

    “Jô! Nou het jy ‘n duisend rand in jou sak!” sê Geronkie bewonderend.  “Jy het ‘n duisand rand wins gemaak.”

    “Nee, net nege honderd vyf en negentig rand.

    “Waarom?”

    “Een ou het sy geld kom terugvra en ek het hom sy vyf rand teruggegee.”

    “Net een ou?” vra Geronkie agterdogtig en lekker nuuskierig. “Watter ou?”

    Mossieman lag te lekker. “Die ou wat die perd gewen het. Hy was bietjie ongelukkig omdat die perd dood was. Toe gee ek vir hom sy vyf rand terug en sê hy kan maar die perd hou. Hy was nogal baie bly daaroor.”

    “Allemintig Mossieman! Dit is nou ‘n slim plan!”

    “Ja, ek het vir hom gesê, al wat hy nou moet doen, is om vir die dooie perd ‘n ordentlike begrafnis te hou. Hy het ingestem, en nou is almal dood gelukkig. Die perd ook.”

    “Die perd ook,” vra Geronkie agterdogtig.

    “Ja, Geronkie. Alhoewel hy bietjie meer dood as gelukkig is.”

    *

  • Die Bosbaba-baba

    Die Bosbaba-baba

    Somervakansies is die beste tyd van die jaar in die Vrystaat, want dit is wanneer seuns die kans kry om langs die magtige Sandrivier te gaan uitkamp. Die dogters het meesal voor hulle huise in die agterplaas uitgekamp. In die somer is dit gloeiwarm in die Vrystaat, en nie rérig nodig om binne-in jou tent te slaap nie. Meeste seuns het in die koel aande buite hul tente op hul rûe gelê om na die maan en die sterre te kyk, en een of twee het selfs die Suiderkruis aan die einde van die Melkweg raakgesien.

    In die somervakansies was daar partymaal muskiete wat die kinders wat so uitkamp, gepla het. Maar die kinders was baie slim. Hulle het net gewag tot al die muskiete binne-in hul tente was, dan het hulle vinning uitgehardloop en die tente se ritssluiters van buite af toegetrek.

    Vir Wikkie en Wouter was daar niks lekkerder as uitkamp nie – visvang en boomklim in die dag, en kampvuur maak in die aand om skrikkerige bangmaakstories te vertel.

    “Haai, Wouter, wat maak so?” vra Wikkie een maanligaand om die knetterende kampvuur. “Hoor jy, so ʼn snaakse geluid? Dit klink kompleet soos ʼn baba wat huil. Of miskien ʼn spookwyfie se babatjie.”

    “Spookwyfie?” giggel Wouter benoud. “Wat-wou spookwyfie. Daar is mos nie spoke in die Vrystaat nie.”

    “Luister mooi, Wouter,” fluister Wikkie en maak sy hand agter sy bakoor krom. “Dit klink net soos ʼn klein spokie wat huil vir sy ma.”

    “Jy verbeel jou, man” grom Wouter vies. Dit klink vir my meer na ʼn nagapie.”

    “Is daar dan regtig nagapies in die Vrystaat? Ek het al bobbejane gesien, en ape, en ʼn paar grysrug-gorillas. Maar nog nooit ʼn nagapie nie. En, o-ja, eenkeer ʼn oerangoetang op die walle van die Vetrivier naby Kroonstad.”

    “Natuurlik is daar nagapies in die Vrystaat, Wikkie. Slim natuurwetenskaplikes noem hulle Galagos, nugter weet waarom. Hulle loop net in die nag rond. In die nag slaap hulle in ou boomstompe, of in die holtes van doringbome.”

    “Nagapies lyk vir my na sulke oulike klein diertjies, Wouter. Ek het hulle al in die populierbome hier langs die Sandrivier gesien. Hulle eet meesal bessies en hulle grou die heeltyd rond om te kyk of hulle nie goggas in die grond kan opspoor nie. Hulle eet springkane, motte, en miskruiers en hottentotsgotte as hulle dit dag tyd het. Hulle eet sommer vrugte en insekte ook vir nagereg.”

    “Ek sien niks nie,” brom Wouter, maar hy loer tog versigtig om hom rond. “Maar ek dink ek hoor hulle saggies raas daar in die boomtoppies.”

    “Ek wonder waarom klim die nagapies net in die nag uit die bome om op die grond rond te loop, Wouter? Weet jy dalk? Jy sê mos hulle loop nie in die dag rond nie.”

    “Wel,” begin Wouter met ʼn lang storie om Wikkie se been so ʼn bietjie te trek. “Hulle het op ʼn stadium in die dag op die grond rondgeloop, maar toe trap een van die nagapies per ongeluk in ʼn stukkie boomgom.”

    “Ek dink nie ek het al ooit ʼn nagapie gesien nie. Hoe lyk hulle?”

    “Die meeste nagapies is grys of bruin, met groot oë en tamaaie ore om beter te kan hoor, my kind. Hulle pelsies is baie sag, en hulle het lang agterbene en ʼn sterk stert wat hulle gebruik om in die bome mee rond te klim. En weet jy wat, Wikkie, nagapies kom nêrens anders in die wêreld voor nie, net hier in Suider Afrika.”

    “Boggom boomgom!” lag Wikkie. “Watwou boomgom? Wat gebeur toe? Het die boomgom aan die nagapies se sterte vasgesit?”

    “Nee,” jok Wouter gelate verder, “net aan hulle handjies en voetjies. Het jy geweet dat nagapies se hande yskoud is, maar hulle voete vuurwarm? Die nagapies gebruik hulle pote en hulle skerp voortande om die boomgom van die bas van bome af te skraap. Dan lek hulle lippe en eet hulle die boomgom.”

    “Wat het gebeur? Het die boomgom aan hulle agterpote en hulle voorpote vasgesit?”

    “Nee, ʼn stukkie boomgom het per ongeluk aan een van die nagapies se voorvoet vasgesit, en aan ʼn ander apie se agtervoet. Die nagapies het nie geweet wat met hulle gebeur nie, en hulle het rondgespring en gespook om van die taai gom ontslae te raak, en gekerm dat dit ʼn naarhied is. Al die diere in die bos kom hulle later hoor huil.”

    “Ai, foeitog. Die nagapies darem,” simpatiseer Wikkie.

    “Die boomgom het aan hulle pote vasgesklou, maar hulle nie eintlik seergemaak nie. Hulle rondspringery en manewales het die res van die diere laat skreeu van die lag. Eers het die nagapies in die lug opgespring om van die gom ontslae geraak, toe tuimel hulle weer onderstebo. ʼn Paar het selfs op hul rue gaan lê met hul pote in die lug. Een of twee het kiertsregop bly staan, te bang om te beweeg. Soos bliksoldaatjies.”

    “En toe?”

    “Die nagapies het ʼn hele dag lank gesukkel om die boomgom van hulle pote af te kry, en van toe af loop hulle net soos trapsoetjies op die grond rond. Hulle het gedink die boomgom klou net in die dag aan hul pote, maar nie in die nag nie. In die nag was hulle veilig, want dan kon hulle in die bome rondklim sonder dat hulle voete aan die grond raak.”

    “Wouter, jou storie is maar bra vervelig, jy sal ʼn haas uit die hoed uit moet trek om hierdie storie op ʼn hoë noot te eindig.”

    “Jip, jy is reg Wikkie. Ek het amper aan die slaap geraak terwyl ek my eie storie vertel.”

    “Dit is darem nie so erg nie, Wouter. Vertel my nou eers wat noem hulle ʼn nagapie in Engels?”

    “Beslis nie ʼn litte night ape nie, Wikkie. Die Engelse noem ʼn nagapie ʼn bush-baby.”

    “ʼn Bossie-baba?”

    “Bosbaba, ja.”

    “Weet jy wat wonder ek nou, Wouter? Wat noem hulle dit as een van daardie bush-babies ʼn baba kry?”

    “Weet nie. In Afrikaans of Engels? Bedoel jy ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse baba?”

    “’n Afrikaanse baba, man.”

    “Ek weet nie, Wouter,” sug Wikkie moedeloos. “Ek dink hulle noem hom seker maar ʼn bosbaba-baba.”

    *

  • Die nommers is vir die krokodille, sê Blouwillem

    Die nommers is vir die krokodille, sê Blouwillem

    Die bekende en gewilde rubriekskrywer, Blouwillem Theron, is ʼn vriend van my. Iets waarvoor ek nogal dankbaar is, omdat dit nie maklik is om met iemand so ergehumeurd soos ek, vriende te wees nie. Party moedswillige mense sê hy is die enigste vriend wat ek het.

    So ʼn paar jaar gelede organiseer die twee van ons ʼn groot oopwater-swem by die Roodeplaatdam net buite Pretoria, waaraan ʼn paar Olimpiese swemmers uit Engeland deelneem. Sommer met die uitnodiging saam noem Blouwillem terloops vir die Engelse dat daar baie lanklaas enige krokodille en seekoeie in Roodeplaatdam te sien was. Hy dink egter hulle sal veilig wees, want daar is darem so ʼn paar duisend ander swemmers ook in die water en die krokedille vang gewoonlik net die ouens wat die stadigste swem.

    Op die dag van die groot Roode 1000-swem, is Blouwillem nie net aankondiger nie, maar getrou aan sy natuur ook seremoniemeester van onhebbelikhede, onnutsighede, liegstoriesvertel en poetsbakkery. Waarvan die bleeklyf Engelsmannetjies met hulle eerste oopwater-swem in Afrika, niks weet nie. Die gebruik en tradisie in driekampe en oopwater-swembyeenkomste in Suid-Afrika, is om swemmers se nommers met swart koukie-pen op arms en bene te skryf, sodat die beamptes op die water nou mooi kan sien wie loop voor, wie tweede is, ens. Dan gryp die beamptes die walkie-talkie en laat weet vir aankondiger op die wal dat die een of daai een nou voorloop en mooi swem. Dan laat weet die aankondiger die skare wat op die walle van die dam sit en kyk en almal is gelukkig.

    Die reeds effens senuweeagtige Engelsmannetjies het die oggend by die inskrywingstafels van die groot swem die spulletjie so sit en kyk, totdat een dit naderhand nie meer kon hou nie. “But why do you write the numbers of the swimmers on their arms and legs?” wou hy angstig weet. Met ‘n onnutsige glinstering in sy linkeroog was Blouwillem natuurlik byderhand om te help verduidelik. “Die ‘safety boat’ is reeds daardie oggend vroeg op die dam rondgestuur, so hulle hoef nie te bekommerd te wees nie,” verseker Blouwillem hulle. Daar is nie enige’krokodille of seekoeie raakgesien nie, en die swem behoort darem redelik veilig te wees. Trouens, daar is lanklaas van die krokodille gewaar en dan ook net daar naby die damwal. Hy meen die krokodille is óf bang vir die seekoeie, óf die seekoeie het hulle reeds verlede jaar opgeëet.

    O, ja, die nommers op die arms en bene. Nee, die nommers is net daar vir “insurance purposes,” assuransie ast’ware. As dit nou per ongeluk gebeur dat een van die krokodille miskien een van die swemmers beetkry. Dan weet die beamptes watter ledemate by watter swemmers pas en aan watter bloedgroep die swemmer behoort.

    Die bleeksiel-Engelsmantjies het maar baie huiwerig in Roodeplaat se koue water geklim om te swem. Hulle het almal, sonder enige uitsondering, in die voorste bondel geëindig. Die stof het behoorlik daardie dag gestaan soos hulle deur die water geklief het. Ek het in my lewe nog nooit so ‘n klomp gemotiveerde swemmers gesien nie, party van hulle het die hele pad beide kante toe asem gehaal.

    Die Engelsmanne het Blouwillem wragtig geglo dat die Afrika-krokodille net die stadigste swemmers vang. Nà die swemmery het ons bietjie waterpolo daar naby Roodeplaat se damwal gespeel, maar nie een van die Engelse swemmers wou saamspeel nie. Ek dink ook nie een van hulle het ooit weer teruggekom Afrika toe nie. *

    *

  • Cupido skiet vir Geronkie die Donkie op sy boud

    Cupido skiet vir Geronkie die Donkie op sy boud

    “Mossieman,” sê Geronkie terwyl hy vir homself in die spieël kyk en sy lang swart ooghare met ʼn pikante skertjie mooi maak, “ek dink ek is verlief.”

    “Ag, Geronkie, op wie sal jy nou verlief wees, jy is gans te lelik,” lag Mossieman.  “En jou bene is krom en jou ore flenters.”

    “Nee, regtig Mossieman, stroesnjannies! Ek het gister die mooiste meisie-donkie in die hele wereld gesien. Sy is pragtig! En elegant, met die mooiste wimpers wat ek nog ooit gesien het. Die elegansie kom by haar donkie-ore uit, so aanvallig is sy.”

    “Waar het jy nogal hierdie mooi meisie-donkie gesien?  Waarom is sy so pragtig?”

    “In die dieretuin, sy bly in Virgnia se dieretuin. Sy bly saam met baie ander donkies, in so in ʼn kampie en hulle het almal dieselfde soort pajamas aan.”

    “Dra die donkies in die dieretuin klere?” vra Mossieman nuuskierig.

    “Mossieman, jy sal dit nie glo nie. Al daardie donkies dra sulke wit en swart pajamas. Maar daai meisie-donkie is die mooiste donkie van almal.”

    “Wit en swart pajamas?”

    “Ja man,” sê Geronkie alwetend. “Pajamas, met strepe. Helfte van die strepe was swart en die ander helfte wit, party is vertikaal en ander horisontaal.”

    “Klink nie vir my reg nie,” sê Mossieman en hy krap sy kop. “Ek wonder of hulle die pajamas by iemand gekoop het?”

    “Ek weet nie regtig nie,” peins Geronkie en hy kry so ʼn verlangende uitdrukking in sy oë. “Dit het vir my gelyk of iemand vir hulle die pajamas aangeverf het.”

    “Met verf?”

    “Met verf ja,” sê Geronkie. “Met verf.”

    “Of miskien was dit wit donkies en toe het iemand swart strepe op hulle geverf?”

    “Kan wees, of miskien was hulle swart donkies en iemand het wit strepe op hulle geverf. Ek dink hulle binnekant en buitekant lyk dieselfde.”

    “Geronkie,” sê Mossieman, “ek dink ons moet na Virginia se dieretuin toe gaan om te gaan ondersoek instel. Ek wil baie graag sien hoe daardie pragtige meisie-donkie lyk op wie jy so been-af is.”

    “Sy is baie mooi,” sê Geronkie verlief. “Ek dink ek gaan haar vra om met my te vrou.”

    “Vrou? Vrou, Geronkie? Jy bedoel seker trou.”

    “Ek is jammer, Mossieman,” prewel Geronkie verbroureerd. “Ek raak senuweeagtig, dan kom die woorde aan my verkeerde kant uit.”

    “Verkeerde kant? Geronkie, is jy nou heeltemal die kluts kwyt?”

    “Ek bedoel, ek bedoel…” stamel Geronkie. “Ek bedoel ek raak senuweeagtig as dit by meisies kom, Mossieman, dan praat ek verkeerd,”

    “Nee man,” jy is te haastig, Geronkie. “Jy moet haar eers goed leer ken en vir haar roomys koop. Jy moet dinge stadig vat, anders val jy die meisies lasting.”

    “Reg so,” sê Geronkie, kom ons ry.” Mossieman en Geronkie spring net daar op Geronkie se bromponie en daar trek hulle dieretuin toe, met so ʼn Vrystaatse stofstrepie wat al agter hul uitlaatpypie aanwarrel.

    “Daar is sy, daar is sy!” roep Geronkie opgewonde, toe hulle die kampie in die dieretuin sien met al die gestreepte donkies in.

    “Watter een, watter een? vra Mossieman nuuskierig. Hy kyk vir die vale om te sien watter gestreepte donkie Geronkie bedoel.”

    “Uh, uh,” stamel Geronkie en hy kyk met altwee sy oë gelyk om te sien of hy dieselfde donkie weer kan sien. Skielik lyk al die donkies vir hom net soos eseltjies. Almal lyk presies dieselfde  

    “Nou weet ek nie, hulle lyk nou vir my almal eenders.”

    “Geronkie,” sê Mossieman, “dis mos nie donkies hierdie nie man, dit is zebras!”

    “Wat bedoel jy?” stotter Geronkie benoud. Vinnig vroetel hy in sy rugsak om sy donkerbril te kry om beter te kan sien.

    “Dit is zebras daardie, nie donkies nie. Hulle het ook nie pajamas aan nie. Zebras lyk maar so. Zebras is stout, Geronkie, hulle hou daarvan om mense strepe te trek.”

    “Maar wie het hulle wit en swart geverf?” vra Geronkie en hy loer skamerig vir die zebras.

    “Ek weet regtig nie,” sê Mossieman peinsend, “maar hulle lyk almal dieselfde en hulle is definitief nie donkies nie.”

    “Mossieman,” sê Geronkie vies, “waarom het jy my nie van zebras vertel voordat ons na die dieretuin toe gekom het nie?”

    “Ag, Geronkie,” sê Mossieman, “jy was so opgewonde en so verlief op die mooi zebratjie, ek wou graag sien hoe sy lyk.  Ek het so gehoop julle twee trou eendag en ek wou so graag sien hoe julle kinders gaan lyk.”

    “Ons kinders?”

    “Ja, Geronkie,” lag Mossieman guitig, “afstammelinge. Ek sou graag wou sien hoe lyk julle kindertjies.”

    “Wel,” sê Geronkie vies toe hy wegstap en op sy bromponie klim, “nou sal ons seker nooit weet nie. Ek dink ons kinders sou soos foxterriers lyk, helfte donkie en helfte zebratjie.”

     *

  • Volstruispolitiek

    Volstruispolitiek

    Wikkie en Wouter het gewonder waarom die boere in die Vrystaat altyd hul mielies ses-voet hoog plant. Elke mielieplant, van hierdie kant van die landery af tot aan die anderkant, was ses-voet van die grond af. Wanneer die mielies ses-voet hoog is, loop die landerye koëlreguit tot daar anderkant die spruit uit – te mooi vir woorde.

    Wikkie en Wouter se Oupa Klawerjas was nie rêrig ʼn geleerde man nie; alhoewel hy darem sy boerematriek by die NG Kerk op Virginia langs die magtige Sandrivier gekry het. Nà sy boerematriek het Oupa Klawerjas op sy plaas tussen Merriespruit en Saaiplaas gaan boer – meesal met mielies en koring en ʼn paar rondombont skapies.

    Aan die begin het dit goed gegaan en die mielies het mooi gegroet, maar waar die boer nie is nie, word sy baard nie geskeer nie. Oupa Klawerjas het van sy hoë posisie op sy voorstoep, met ʼn emaljebekertjie boeretroos in die hand, nooit opgemerk dat sy mielie-oes elke jaar krimp nie. Omdat sy mielielande so effens om ʼn hoekie was, het Oupa Klawerjas nie gesien hoe een van sy stoute volsruise al sy mielies opeët nie. In plaas van vorentoe boer, het Oupa Klawerjas se mielie-oes net al hoe minder geword. Oupa Klawerjas het agteruit begin boer en hy moes dringend ʼn plan maak. Alhoewel hy ‘n meester van volstruispolitiek was, kon hy nie dadelik die kloutjie by sy oor bring nie.

    Oupa Klawerjas het al hoe meer tyd op sy plaashuis se stoep deurgebring, met sy beker boeretroos in die hand, om oor die probleem te dink. Van sy stoep af kon Oupa Klawerjas Mannetjie net-net sy volstruismannetjie sien waar hy deur die mielielande loop; kop omhoog, en dan kop omlaag. Kop omhoog, kop omlaag. Mannetjie was net soos ʼn volstruis: daar waar hy kom, daar was hy tuis. Maar op daardie afstand was Oupa Klawerjas se sig ook nie meer so goed nie en hy het bietjie gesukkel om so ver te sien. Partykeer het hy gedink hy sien vir Mannetjie wat sy mielies steel, en ander kere het hy gedink dit is een van sy voëlverskrikkers wat so deur die lande stap.

    Dit het Oupa Klawerjas ʼn hele twee weke geneem om te besef dat Mannetjie die Volstruismannetjie besig was om hom trommeldik te eet aan die al die mielie op sy lande. Mannetjie het hom ʼn boggeltjie geeët aan al die mieliepitte; sy maag het elke aand met sonsondergang soos ʼn sokkerbal gelyk. Rond en lekker. Wat meer is, Mannetjie het ʼn volstruismaag gehad; hy kon enigiets eet sonder om iets oor te kom. 

    Toe Oupa Klawerjas eers besef het met watter aapstreke sy volstruis besig was, het hy opdrag gegee dat al sy mielies op die plaas ses-voet hoog geplant moet word. Al het volstruise lang nekke, is hulle net vyf voet lank en hulle kon nie die ses-voet mielies bykom nie. Al het hulle hul nekke gerek en strek. Al het Mannetjie hoe hard probeer, van toe af kon hy nie meer die ses-voet hoë mielies in die hande kry nie. Of in sy volstruisbek kry nie.

    “Dit was darem vir jou vindingryk van Oupa Klawerjas, Wikkie,’ het Wouter sy oorwoë mening laat hoor. “Hoe het dit gebeur dat al die boere in die Vrystaat naderhand hulle rye mielies ses-voet hoog geplant het? En toe later in die die laat negentiede eeu al die boere oorkant die Garieprivier?”

    “Almal het Oupa Klawerjas se voorbeeld gevolg. Dit was nie al nie, Wouter. Oupa Klawerjas se mielieplantmetodes en tegnieke het naderhand nasionaal bekend geword, deur die hele Suid-Afrika. Van bo in die Noorde tot onder in die Suide van die Limpopo.”

    “Merkwaardig, Wikkie!”

    “Ja, dit was so. Later het Oupa Klawerjas so beroemd geword, dat selfs boere uit Amerika hier in die Vrystaat kom besoek aflê het om by hom die kuns af te vra. Hulle het by hom kom kers opsteek.”

    “Dankie tog die boere het nie daar in die laat negentiende eeu Eskom gehad om by kers op te steek nie,” sê Wouter. “En Oupa Klawerjas het vir niemand vertel van die stoute volstuis nie?”

    “Nee, hy het die storie stil gehou. Elke keer as besoekers uit die buitland hom vra, het hy maar net lakonies geantwoord: ‘kêreltjies, julle moet julle met julle eie boerderye besig hou.”

    “Mannetjie was seker nie baie geneë met die nuwe hoogte van die mielieplante nie, want nou kon hy nie tot bo bykom nie? Het hy nie ʼn klagte by die Vrystaatse Landbou-unie ingedien nie?”

    “Mannetjie die volstruismannetjie was woedend, Wouter. Hy het nogal ʼn gemene volstruisskop aan hom gehad, net soos die Boereheld Johannes van der Walt, en mense moes bonstaan as Mannetjie eers begin skoppe uitdeel het.”

    “So, Oupa Klawerjas se volstruis was die oorsaak van hoe al die boere in die Vrystaat hulle mielielande aangeplant het?”

    “Ja, maar Oupa Klawerjas het sy geheim gehou. Hy was effens bang vir Mannetjie die Volstruismannetjie. Mannetjie het ʼn paar rugbywedsrtyde dopgehou, en hy kom beide laagvat en hoogskop. Mannetjie se volsruisskoppe was aan die einde van die Negentiende Eeu reeds baie beroemd, maar dit was eers teen die middel van die Twintigste Eeu dat hy werklik internasionale beroemdheid verwerf het.”

    “Wrintiewaar, Wikkie. Toe al die boere in Amerika eers begin het om hulle mielies ook ses-voet hoog te plant, het Oupa Klawerjas se metodes soos ʼn veldbrand deur ander lande versprei. Brasilië, Argentinië, Kanada, Fiji – al die lande het Oupa Klawerjas se metodes en tegnieke begin naboots en toepas.”

    “Maar wat het Mannetjie gedoen toe hy uitvind dat hy die oorsaak van hierdie wêreldwye fenomeen is?”

    “Wel, jy moet onthou dat Mannetjie al oor die honderd jaar gelede oorlede is, Wouter. In die vroeê 1920’s. Hulle het hom daar in ‘n heldeakker op Oupa Klawerjas se plaas onder ʼn populierboom op die walle van die magtige Sandrivier begrawe.”

    “Niks minder as wat Mannetjie die Volstruismannetjie verdien het nie, Wikkie. Hy het, sonder dat enigiemand van hom geweet het, vir Oupa Klawerjas wêreldberoemd gemaak.”

    “Dit is waar ja, Wouter Kabouter. Wêreldberoemd. Internasionaal bekend.”

    “Maar wat het Mannetjie gedoen toe hy uitvind van Oupa Klawerjas se internasionale aansien en beroemdheid?”

    “Nee, hy het maar gedoen wat elke volsruismannetjie doen, Wouter. Hy het sy kop in die sand gedruk en ʼn volstruiseier gelê.”

    *

  • Olikrokkenosterbobbefantelikedil

    Olikrokkenosterbobbefantelikedil

    Mossieman, die slimste mossie in die hele Vrystaat en sy boesemvriend Geronkie die Donkie, die stoutste donkie in die hele Vrystaat, ontspan eendag rustig langs die magtige Sandrivier naby Virginia. Virginia is ʼn klein Vrystaatse myndorpie, met groot grys mynhope soos Egiptiese piramides, en ronde watertenks en plat koekepanne wat langs die mynskagte ry om goud en uraan onder die grond uit te bring. Nét die beste, slimste en aantreklikste diere, soos Mossieman en Geronkie (en somtyds mense), mag grond in Virginia besit en permanent daar bly.

    Nét so voor sononder een middag verkyk Mossieman en Geronkie hulle aan al die diere wat in die magtige Sandrivier kom water drink. Groot diere en kleintjies, vettes, maeres, langes, kortes en koddiges. Diere met groot ore en klein ogies, kort bene en lang sterte, met krom bobbejaan-arms en lang neuse – almal het elke dag kom water drink.

    Die diere staan reguit in ʼn ry by die rivier, omdat die Koning van al die Diere (Mossieman), ʼn dekreet uitgereik het dat die waterdrinkery elke dag ordelik en netjies moet geskied. Niemand mag voor in die ry indruk nie, en niemand mag agter inval nie. Niemand mag die water mors nie, want water in die Vrystaat is baie skaars en kosbaar. Die meeste riviere in die Vrystaat het nie krane wat jy kan oop of toedraai nie, daarom moet almal help om water te spaar.

    “Kyk al die diere, Mossieman,” sê Geronkie verwonderd, terwyl hulle so onder die groen wilgebome sit en alles gade slaan. “Daar is Bobbie Bobbejaan, Spinne Spinnekop, die Magtige Mier, Hannibal die Hoenderhaan, Ollie Olifant, Mys die Muis… te veel om op te noem.  Kyk net al die diere wat kom water drink, te mooi vir woorde.”

    Net toe sien Geronkie ʼn klein blou diertjie naby die water, met vier kort bene en ʼn lang stert wat van links na regs op en af swaai. Die klein blou diertjie het ʼn lààng tong, wat soos ʼn hoender se wensbeentjie lyk en elke nou en dan vinnig by sy bek uitspring. Angstig tik Geronkie vir Mossieman met sy wysvinger op sy verepoot. “Kyk daardie snaakse blou krokodilletjie, Mossieman!  Kyk hoe groot is hy van kleingeit!  Kyk hoe lank is sy stert!”

    Mossieman sit rustig op die wal, sy linkertoon in die rivierwater om die temperatuur te meet. Hy loer so met sy een oog na die vreemde blou diertjie met sy kort ore en lang stert.

    “Dit is nie ʼn groot krokodil nie, Geronkie, dit is ʼn likkewaan,” sê Mossieman alwetend. “of ‘n salamander. Krokodille is reptiele met horingskubbe wat ander diere met hulle sterte slaan. Daardie outjie is ʼn blou-groen likkewaan. Hy is een van die grootste en kwaaiste diere in die hele diereryk en sy tong lyk net soos ʼn swart slang met twee koppe. Mens sukkel nie met krokodille of likkewane nie, hulle kan jou byt!”

    “Gelukkig is ek ʼn dier en nie ʼn mens nie,” stotter Geronkie verbouereerd. Hy hou nie daarvan as ander diere en mense hom byt nie.

    Mossieman en Geronkie die Donkie kyk bangerig hoe die likkewaantjie by hulle verbywaggel. Sy vier kort bene trap-trap op die rivier se wal en hy gaan sit kiertsrgop langs sy hurke. Toe tuit hy sy snoet om water uit die Sandrivier te slurp. Die likkewaan se stertjie is só lank dat hulle nie sy einde kan sien nie, en hy is vol groen en blou kubbe.

    “Geronkie,” sê Mossieman skelmpies, “ek het gehoor dat daar nog ʼn dier in die Sandrivier is wat kwaaier en meer skrikwekkend is as ʼn blou likkewaantjie. Dit is ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil!”

    “ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Agge-néé man, Mossieman, daar is mos nie so ʼn ding nie. Waar kom jy aan so ʼn vreemde naam?”

    “Dit is waar, Geronkie! Daardie Olikrokkenosterbobbefantelikedil het al baie mense gevang wat in die Sandrivier rondswem! Veral mense wat nie hul swembrille of swembroeke dra nie. Hy het hulle aan hulle linkerbene beetgekry en in die water ingetrek. Dan eet hy hulle op!”

    “Hoe eet hy hulle op?” vra Geronkie agterdogtig. Hy hou nie van die gedagte dat ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil sy been opeët nie. Of nog erger, aan hom knaag nie.

    Mossieman dink so bietjie. “Hy eet jou stukkie vir stukkie op, amper soos jy braaivleis eet. In ligamente… ek bedoel komponente. Of nee… segmente.”

    “Stukkie vir stukkie?”

    “Ja Geronkie, met sout en peper om jou beter te laat smaak. Jy sien, die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is daardie groen likkewaan wat ons gesien, het, se oupa.”

    “Sy oupa?”

    “Ja, en sy ouma was ʼn piranha.”

    “ʼn Piranha!” Geronkie die Donkie loer bangerig om hom rond en haal sy een toon versigtig uit die water.  Hy wil nie hê dat ʼn piranha sy toon afbyt nie, want dan kan hy nooit weer sy oranje plakkies dra nie.

    “Ja, hier is nogal baie Olikrokkenosterbobbefantelikedille in die Vrystaat. Mens moet net mooi kyk, dan sien jy hulle net so onder die water se oppervlakte.”

    “Nou is ek sommer baie bang,” kerm Geronkie benoud en haal sy ander toon ook uit die water uit. Geronkie hou van sy tone, hy wil nie juis hê dat die Olikrokkenosterbobbefantelikedil een van hulle moet eet nie.

    “Mossieman?” vra Geronkie die Donkie versigtig, “dink jy ons moet die Oliekrokkenosterbobbefantelikedil probeer vang?”

    “Vang? Vang? Hoe dink jy moet ons so ʼn snaakse ding vang? Waarom wil jy hom vang? Hy gaan ons mos opeët, Geronkie!”

    “Kom ons kry ‘n boer om ʼn plan te maak,” laat Geronkie onnutsig van hom hoor, en hy loer versigtig oor sy skouer na die magtige Sandrivier se kant toe. Geronkie was nog altyd stouter as wat hy bang is.

    “Ek het ʼn plan,” sê Mossieman geheimsinnig. “Ek dink ek weet hoe om hom te vang.”

    “Ek weet nou nie meer so mooi nie, sê nou net hy wikkel hom los en eet ons op?”

    “Kom Geronkie, wees dapper, volg my,” sê Mossieman hulle stap af water toe waar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil, stert in die lug, al in die rondte swem. Hy loer met sy skraal geel ogies na Mossieman en Geronkie en wonder hoe hulle sal proe. Dit is nou as hy hulle kan vang en opeët.

    “Olikrokkenosterbobbefantelikedil!” roep Mossieman die gediertetjie nader. “Is jy honger?” Geronkie die Donkie is só bang dat sy broek bewe. Hy kruip verskrik agter Mossieman se broekspype weg.

    “Ja,” knik Olikrokkenosterbobbefantelikedil met sy blou kop en maak sy kake wawyd oop om te wys hoe honger hy is. Al die diere in die Vrystaat begin op die wal agter Mossieman saamdrom om sy skerp tande en kleintongetjie agter in sy keel te sien.

    “Ja, ek is baie honger,” grom die Olikrokkenosterbobbefantelikedil gulsig.Hy kyk so om hom rond om iets toe soek om te byt.

    “Het jy al ooit daardie lekker vet Blinkvis gesien wat die hele tyd agter jou aanswem? Hy lyk net soos jou stert! Net blinker en vetter, en hy smaak sò lekker. Dit is nou as jy hom kan vang. Sien jy kans?”

    “Lyk die Blinkvis Soos my stert?” vra die Olikrokkenosterbobbefantelikedil nuuskierig. Hy rek sy nek om te kyk of hy iets agter hom sien, iets wat net soos sy stert lyk en net so vinnig soos hy kan swem.

    “Ja, net soos jou stert! As jy vinng omswaai, dan behoort jy daardie lekker Blinkvis met een groot hap te vang!”

    “Rèrig!” Olikrokkenosterbobbefantelikedil swaai sy kop vinnig na sy stert se kant toe en maak sy bek wawyd oop vir ʼn paar oefenhappe. Sy kake en sy tande klap kliphard op mekaar soos wat hy oefen om te byt.

    “Ek sal vir jou skree as jy moet hap, Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Onthou, as jy eers daai lekker vet blinkvis in jou kake het, moet jy nooit weer los nie! Akkoord! Jy moet vasbyt!”

    Mossieman en Geronkie die Donkie gaan sit versigtig op die wal. Net toe die Olikrokkenosterbobbefantelikedil by hulle verby swem, skree hulle: “Daar’s hy! Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Daar’s hy, reg agter jou!  Byt hom! Byt hom!”

    Olikrokkenosterbobbefantelikedil sien die lekker vet blinkvis hier kort agter hom en hy maak sy kake wawyd oop en …. HY BYT! Sy kake klap soos ʼn slagyster toe en hy hap die blinkvis amper middeldeur!

    “Daar’s hy, Krokkie! Dit is reg!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie uitgelate vir Olikrokkenosterbobbefantelikedil wat sy eie stert byt. Hy byt met mening vas en knaag so hard as wat hy kan.

    “Moet nie dat hy loskom nie! Jy het hom! Byt hom! skree hulle. Moenie laat los nie!”

    Olikrokkenosterbobbefantelikedil byt sy eie stert vir al wat hy werd is. Hy klem sy kake en hy swem in die rondte om te keer dat die lekker vet Blinkvis wegkom. ‘Ek sal hom later eet,’ dink hy en byt sy tande dieper in die vis se lyf. Dit pyn so bietjie, maar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade om die lekker blinkvis op te verober.

    “Sleep hom uit op die wal!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie en hulle skaterlag dat die Sandrivier se biesies bewe. Olikrokkenosterbobbefantelikedil het homself aan die stert beet en hy spook verbete om sy stert by die wal uit die sleep. Hy wawiel-draai al in die rondte soos wat hy byt en trek.

    “Dit lyk of die blinkvis wil wegkom!” Mossieman en Geronkie lag te lekker terwyl hulle wegstap. “Moet nie laat los nie, Krokkie! Byt vas!” skree hulle vir oulaas oor hul skouers.

    Die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade en baie honger en hy los nie sy eie stert nie. Hy byt al hoe harder en spartel en hy slaan bollemakiesie uit die rivier uit, net soos ʼn wawiel. Teen die heuwel af en daar trek hy, sy stert stewig in sy kake vas. Die  Olikrokkenosterbobbefantelikedil slaan kop-oor-stert, kop-oor-stert en hy rol en hy rol in die pad af, totdat Mossieman en Geronkie later net ʼn stofwolkie in die verte sien verdwyn.

    Van daardie dag af het niemand in die hele Vrystaat ooit weer ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil gesien nie. Maar almal vertel vandag nog die storie van die stofwolkie wat soos ‘n ossewa se wieil kon rol…

    *

  • Voorvaders en Agtermoeders

    Voorvaders en Agtermoeders

    Geronkie die Donkie se Stamboom

    Met die eeuverandering besluit Geronkie die donkie om sy stamboom effens na te vors. Om te soek na sy voorvaders en voormoeders en hul afstammelinge.

    “Maar jy is mos ‘n afstammeling, Geronkie? Nie waar nie? Van jou voorvaders en voormoeders?”

    “Ek dink meer aan myself as ‘n spruit, Mossieman. ‘n Groen spruit,” antwoord Geronkie vieserig en flap sy donkie-ore.

    Dit was lankal vir Geronkie ‘n bron van kommer dat sy familie so buitengewoon normal is. Behalwe vir ‘n paar vêrlangse familielede aan die eseltjie-kant van die familie wat verlore tyd in die Bethulie-tronk deurgebring het, was daar nie juis ander lede van Geronkie se familie wat met buitengewone prestasies kon spog nie. Om hierdie knaende rede het Geronkie besluit om sy navorsingsboeke en verwysingsraamwerk nader te trek. Dit was tyd om sy vêrlangse familie van naderby te leer ken.

    “Kan jy bietjie pootjie bysit, Mossieman,” vra Geronkie ernstig, terwyl hy deur sy navorsingsreferate lees. “Ek weet daar is ‘n Hollandse kant aan my voorvader-familie, en ‘n Skotse kant aan my voormoeder-familie. Ek het gehoor dat my Oom Eselki vir my Tante Eselina vertel van al die knulletjies in ons familie.”

    “Mapstieks, Geronkie! Jy het darem ‘n indrukwekkende klomp navorsing gedoen.”

    “Dankie, ja Mossieman. Geen groot uitdaging in vir my te klein nie. Vir my is ‘n stamboom soos die Disselboom van Potchefstrooom.”

    “Wat is knulletjies, Geronkie? Praat jy van kleinkinders?”

    “Ek neem so aan ja,” beaam Geronkie. “Knulletjies is amper soos mosbolletjies en konfyttertjies.”

    “Interessant, Geronkie. Oom Eselki klink vir my na ‘n wyse ou man. Ek bedoel wyse ou donkie.”

    “Gewoonlik kom wysheid saam met die ouderdom, Mossieman. Maar in oom Eselki se geval het die ouderdom alleen opgedaag,” sug Geronkie.

    “Stem saam,” knipoog Mossieman instemmend. “Ouens soos Oom Eselki kry nooit genoeg krediet vir die dinge wat hy nooit gedoen het nie.”

    “Oom Eselki het eendag in sy prille jeug op sy Ysterperd by ‘n vurk in die pad opgedaag, Mossieman, net hier anderkant Bethuli. “Toe vat hy hom.”

    “Jammer om daarvan te hoor, Geronkie. Die arme ou. Het ook Eselki darem herstel en sy pad weer teruggevind daar na julle plaashuis toe.”

    “Hy het ja,” sug Geronkie, weer. Maar dit was eers so twintig jaar later.”

    “Wat het gebeur?”

    “Wel Mossieman, oom Eselki het ‘n Vrystaatse Cheetah langs die pad raakgeloop en baie groot geskrik. So groot, dat hy net een keer benoud gebalk het en toe in alle rigtings laat spaander het. Dit is waarom hy eers twintig jaar later weer by ons plaashuis aangemeld het. Hy het nog ‘n paar pap wiele langs die pad ook gehad.”

    “Was tante Koba nie baie kwaad vi room Eselki nie, Geronkie? Ek meen, twintig jaar is darem ‘n lang tyd.”

    “Sy was effens vies, Mossieman. Maar oom Eselki het darem die melk en brood onthou wat tante Eselina destyds bestel het en hy het dit saamgebring. Sy was toe so ‘n bietjie minder kwaad.”

    “Wel, dit is die gedagte wat tel, Geronkie.”

    “Nie regtig nie, Mossieman. Die brood was al muf en die melk lekker suur.”

    “Waarnatoe het oom Eselki orals heen gereis, so gedurende die twintig jaar wat hy weg was?”

    “Hy was eers Gansbaai toe, maar vreemd genoeg kon hy nie enige ganse daar sien nie.”

    “En toe?”

    Nee, toe gaan hy Tietiesbaai en Benoudeboudefontein toe.”

    “Benoudeboudefontein?”

    “Ja. Snaaks genoeg was daar ook nie enige ganse te sien nie.”

    “Vreemd, nê.”

    “Oom Eselki het ook vertel dat hy deur die Noordkaap gereis het, daar na Namibië se grens se kant toe. Verby Noeniesput, tot by Nababiep en Bobogorap. Toe draai hy om en kom huistoe.”

    “Wat van die anderkant van jou familie, Geronkie? Vertel bietjie.”

    “Ek het Skotse familie ook; Oom Mielie en tant Malie MacKintosh.”

    “Ek dink ek ken hulle, Geronkie. Tant Malie het nou nog ‘n winkeltjie daar naby Hartbeestpoortdam. Hulle verkoop lekkerruikseep en sulke toekatante-kleretjies. Rokke en emaljebekers om koffie mee te drink, ook.”

    “Dit is hulle ja. Oom Mielie en tant Malie het twee seuns gehad; ‘n tweeling. Monkie en Stronkie. Hulle is na my vernoem,” spog Geronkie trots. “Jy weet mos, Mossieman. Geronkie die Donkie en Monkie en Stronkie rym; dit is waarom hulle na my vernoem is. Of miskien is ek na hulle vernoem. Dit loop in ons familie, die rymelary. Monkie en Stronkie is twee soet seuns, hulle was nog nooit in die tronkie.”

    “Sê jy die Skotte is goed met rymelary, Geronkie? Is dit nie meer soos boemelaary of dolery nie?”

    “Ons het nie boemelaars in ons familie nie, Geronkie!” brom Geronkie vies. “Net mense wat by ‘n boerdery se melkery werk. Anderkant Magersfontein daar na Zeerust se kant toe, in die pragtige Vrystaat.”

    “Rymelary, boemelaary, boerdery, melkery. Jitte Geronkie, is daar dan digters in jou familie ook?”

    “Natuurlik is daar,” antwoord Geronkie trots. “Digters in die Vrystaat hou hulle besig met rymelary en kletsery. Hulle is die stigters van woorde en boeke en stories. Ons digters is ons rigters.”

    “Dit is waar-ja, Geronkie. Skrywers en digters is ons rigers. Digters dig, en skrywers skryf volkstories en verhale, in Afrikaans en menig ander tale.”

    “Al wat ons diere en mense in die Vrystaat kan doen, is om te lees en luister vir die vale.”

    *

  • Spookasem

    Spookasem

    “Mossieman! Help, Mossieman, help! O tamatietoggie, help my!”

    Geronkie die Donkie kom met ʼn stinkspoed om die hoek van die skuur op die plaas gegalop, witgeskrik en windverwaaid, asof hy ʼn spook gesien het. Sy perdestert staan kiertsregop van bangheid en sy gebeendere bewe van vrees.

    “Help, Mossieman, ek is bang! Ek het die blou-pipperellakoors! Help!”

    Mossieman lees rustig die Volksblad en kyk gesteurd op na Geronkie wat so aangegalop kom, ore flappend in die wind, en sy ogies koëlrond van die skrik. “Waarmee kan ek help, Geronkie?” vra Mossieman besadig, terwyl hy in die sportblaaie oor die Cheetahs se jongste sege op die rugbyveld lees. “Dit lyk of jy ʼn spook gesien het.”

    “Ek het, Mossieman, ek het! ʼn Baie lelike spook!” verduidelik Geronkie uitasem. “Hy is vreesaanjaend, leliker as die nag, witter as ʼn dubbelbedsatynlaken, met vreeslike goot tande wat my amper middeldeur kan byt! Ek kon die wasem op sy spookasem sien!”

    “Stadig nou oor die klippe, Geronkie, kalmeer. Moet nou nie voorspooksels maak nie. Kom sit hier langs my onder die koelteboom en verduidelik stadig wat gebeur het. Jy is wasbleek, jong. Ek bring solank vir jou  ʼn koppie eg Vrystaatse boeretroos en ʼn vars boerbeskuit om jou senuwees te laaf. Haal diep asem, ontspan, dan vertel jy my alles.” Mossieman is baie simpatiek en sit ʼn koel asynlappie op Geronkie se voorkop, om te help met sy senuwees. “Hier, neem my snoetpoetsertjie, Geronkie. Blaas jou neus en vertel my hoe die spook lyk. Jy moet jou neus blaas, nie myne nie.”

    Geronkie haal diep asem en vertel angstig van die spook. “Net hier agter die plaashuis, in die skuur, Mossieman, deur die venster. Dit is waar ek die spook voor my geestesoog gesien het! Hy is skrikwekkend, baie kwaai, met ʼn lang rooi tong en twee tamaai blou ore, so lelik soos die nag. Hy lyk soos ʼn voëlverskrikker en hy het deur die donker venster vir my geloer. Dit het gelyk of hy my wil opvreet. Ek is so bang!”

    “Hmm…” Mossieman krap diep ingedagte sy kop met sy verepoot. “Spoke sweef deur vensters en deure en kosyne en mure, so dit is heeltemal moontlik dat jy ʼn spook deur die skuur se venster gesien het, Geronkie. Onwaarskynlik, maar heel moontlik. Spoke word gesien, maar nooit gehoor nie. Mens moet ook nie met hulle spot nie – van spotte kom spoke!”

    “Dit is pikdonker daarbinne, Mossieman! Ek kon nie baie mooi sien nie, maar daardie spook is nie baie aantreklik nie. Hy het sulke groot tande en flappende ore, net soos een van daai eseltjies wat hier in die onderste kampie op die plaas rondloop. Dit het gelyk of hy gryslag en hy het vreeslike geluide gemaak, amper soos ʼn perd wat runnik. Sy oë was groot en sy tande het op mekaar geklap! Dit was ʼn onheilspelende, onaardige geluid!”

    “Drink klaar jou boeretroos, Geronkie, dan kom wys jy my waar jy die spook gesien het. Ek moet sê, dit is baie spokerig in daardie skuur,” dik Mossieman aan.”

    “Goed so, Mossieman, maar ek is baie verbroureerd! Kyk hoe bewe my boude.”

    “Toemaar, Geronkie, ek gaan saam met jou, ek sal jou pootjie vashou en jou beskerm teen die spook. Moet nie ʼn bangbroek wees nie.”

    “Mossieman, ek dra nie eers ʼn broek nie. En ek is liewer Bang Jan as Dooie Jan,” fluister Geronkie.

    Voetjie vir voetjie, trippe-trappe-trone, soetjies-soetjies sluip Mossieman en Geronkie om die plaashuis se hoek, na die skuur se kant toe. Die brawe Mossieman loop manhaftig voor, Geronkie kom senuagtig agterna en probeer agter Mossieman se broekspype wegkruip sodat die spook hom nie sien nie. “Ek is baie bang, Mossieman,” fluister Geronkie angstig en loer benoud agter hom rond. “Is die spieël nog daar? Kan jy die vreeslike spook sien?”

    “Dit is donker daarbinne, Geronkie, ek sien niks nie, net bietjie spookasem. Ek dink ons moet gelyk ons koppe deur die venster druk, miskien sien ons dan die spook. En staan stil, hou op bewe, dit lyk of jy die ritteltits gaan kry!”

    “Wat sien jy?”

    “Niks nie, net oorverdowende stilte.”

    Geronkie se broek bewe onbedaarlik en sy lang ore draai al in die rondte. “Dink jy so, Mossieman? Sê nou net hy gryp ons! As daai spook deur die venster spring, gaan die poppe dans! Kom ons hardloop liewers weg!”

    “Is nou laf, Geronkie? My bene is die helfte korter as joune. Dit beteken ek moet twee keer so ver hardloop om weg te kom.”

    “Jy is reg, Mossieman. Jammer daaroor. Maar wat moet ons doen? Sê nou net hy blaas sy spookasem in my keël af?”

    “Dan sleep jou tong as jy balk, Geronkie. En as jy blêr.”

    “O eina,” ritteltit Geronkie. “Wat van my arme longe?”

    “Steek jy jou kop links-om deur die venster, dan steek ek myne regs-om. Miskien skrik die spook as hy ons altwee gelyk deur die venster sien. Reg so, Geronkie? Gereed? Een-twee-drie!”

    “WHAAAAAAA!! balk Geronkie benoud. “Daar’s hy! Daar’s hy! Ek sien hom, in die spieël!”

    Mossieman kyk vir al wat hy werd is deur die donker venster, maar hy sien niks nie. “Daar is niks daar binne nie, Geronkie, net ʼn ou spieël.”

    “Ek sien iets, Mossieman, kyk daar! Daar’s hy! Daar’s twee van hulle, die lelike een en nog een! Hy lyk net soos jy, Mossieman! Help! Die spook lyk soos ʼn mossie! Kyk daar! Hy het ʼn rooi strikdas en ʼn pedantiese knypbrilletjie, net soos jy, Mossieman! Help iemand, help! Hier is twee spoke! Help! Ek het die blou-pipperellakoors van bangeid, help!”

    “Geronkie, kalmeer, kalmeer. Kyk deur die venster, daar is net ʼn ou spieël. Daardie spook wat jy sien, is jy!”

    “Wat! Wie? Ek? Ek, Mossieman? Ekke? Ek is nie ʼn spook nie.”

    “Geronkie,” lag Mossieman, “daardie spook in die spieël lyk dan net soos jy. En die ander mossie-spook lyk net soos ek.”

    Versigtig loer Geronkie om die hoekie, deur die donker venster om die spook in die spieël van nader te bestudeer. Al wat hy sien is twee lang flappende ore en twee rye blink tande wat vir hom terugloer. Geronkie knipoog met sy regteroog en gedorie, die spook doen dit ook. Toe knipoog hy met sy linkeroog en wraggies doen die spook dit ook. “Hy maak my na, Mossieman,” brom Geronkie en laat sak sy een oor halfmas. Toe doen dit spook dit ook en Geronkie laat sak sy regtoor ook. Die spook in die spieël doen dieselfde. Mapsiteks! “Hy maak my na, Mossieman, hy is ʼn regte terggees. So ʼn karnallie!”

    “Ek sê jou mos, Geronkie, die spook in die spieël is jy.”

    “Neewat, Mossieman, daai spook in die spieël is nie ek nie.”

    ‘Geronkie, sê Mossieman streng, “ek is nie altyd reg nie, maar ek is nooit verkeerd nie. Jy is die spook in die spieël. En jou kinders gaan eendag net soos daardie spook lyk.”

    “Ek dink nie so nie, geen manier nie. Dit kan nie ek wees nie, Mossieman. Ek is nie sò lelik nie.”

    “Dit is definitief jy, Geronkie. Jy is die spook.”

    “Ai-tog, Mossieman, jy weet nie hoe moeilik die lewe vir ʼn donkie in die Vrystaat is nie. Dit is nie maklik om ʼn donkie te wees nie. Ons kan nie pruike nie, ook nie lipstiffie nie en niemand wil my hare doen nie nie.”

    “Hou nou op om jouself so te bejammer. Kom ek gaan koop vir jou ‘n roomys by die kafee op die hoek. Of is jy liewers lus vir spookasem?”

    “Dankie Mossieman, dit sal my baie beter laat voel, en minder laat bewe van al die vrees! Maar ek is baie treurig, Mosieman, eintlik hartseer. As jy nie mooi is in die Vrystaat nie, dan is jy net so lelik soos ekke.”

    *

  • Stywe Lyne

    Stywe Lyne

    Stywe Lyne

    Henning van Aswegen & Johan van Zyl

    “Geronkie, het jy geweet dat mense wat visvang, meer vis vang? Dit is ‘n onomstootlike feit soos ‘n koei.”

    “Watter soort koei?”

    “Dis nie nou ter sprake nie, Geronkie. Ons praat van visvang. Party mense noem dit hengelary.”

    Mossieman en Geronkie sit karplaks op die Strand se strand op hul gemakstoele na die see en kyk. Valsbaai om presies te wees; van Gordonsbaai in die Verre Ooste tot en met Simonstad in die Nabye Weste. Tussen dié twee koddige dorpies kry jy die Strand, Somerset-Wes, Muizenberg, Kalkbaai, Vishoek en Simonstad voordat jy kop-aan-kop om Tafelberg ry.

    “Wat is die verskil tussen die twee: visvang en hengel?” peins Geronkie. In daardie dae was Geronkie ‘n bobaas peinser. Hy was só goed met die peinsery dat party Vrystaters hom as ‘n diep denker beskou het. Amper in dieselfde klas as Mossieman.

    Mossieman is ‘n gebore-getoë Vrystater maar hengel is nou nie juis sy sterkpunt nie. Omdat hy ‘n gebore filosoof is, stel Mossieman baie meer belang in mielieboerdery, aartappelboerdery, kersieboerdery naby Ficksburg, en die wringkrag van groot groen trekkers. En skaapappeltjies.

    Mossieman krap sy mossiekuif met sy verepoot. “Visvangers is spesiale mense. Party ouens noem hulle vissermanne, of visservroue en hul kinders is visserkinders. Hulle gebruik visstokke, katrolle, aas en vislyn en hulle vang visse. Sinkers ook, sodat alles kan afsink na die bodem van die see. Hengelaars is ook buitengewone mense wat visstokke en katrolle gebruik, maar hulle vang hoofsaaklik hengels.”

    “Hengels! Heng, Mossieman.”

    “Het jy nog nooit van hengels gehoor nie, Geronkie?” wil Mossieman vies weet. Hy hou nie baie daarvan as sy vriende uit die Vrystaat sy kennis oor visvang en hengel in twyfel trek nie. “Dink aan trappe van vergelyking: hengel-hengelaar, visvang-visselaar.”

    “Jy vang nou vis sonder ‘n visstok, Mossieman! Jy blaf vir die verkeerde boom.”

    “Wat?”

    “Jy skiet nou spek. Wat weet jy in elk geval van Valsbaai en die Atlantiese Oseaan af? Jy is mossie ‘n kolonialer nie.”

    “Ek weet vissermanne sit aas aan hul vislyn se hoek en sinker. Dan gooi hulle die goeters dat hulle daar trek, katrol so ‘n bietjie in terwyl hulle ‘n stoute liedjie fluit, en dan wag hulle vir die vis om te byt. Engelsmanne noem dit bait, want hulle wag vir die visse om te byt. Hulle skree ook op mekaar: Stywe lyne! Stywe lyne! wanneer die visse mekaar byt.”

    “Is dit wanneer die vis loop?”

    “Jy is nou net moedswillig, Geronkie. Visse loop nie, hul stap met ‘n wandelpad. Om hulle te vang, bekruip die vissermanne hulle, en ook die hengelaars. Al wanneer visse loop, is om skool toe te gaan. Dit is waarom hulle ‘n skool visse genoem word. As hulle nie skool toe gaan nie, lees hulle niks Afrikaanse stories en boeke nie, en dan is hulle vir die res van hul natuurlike lewens dom.”

    “Dankie, Mossieman. Goed verduidelik. Ek begryp nou die filosofie en wetenskaplike onderbou van visvang. Maar ek verstaan nie die tegnieke en metodes van visvang nie, nog minder van hengelary.”

    “Ek het daaroor opgelees Geronkie, navorsing gedoen. Dit is nie so moeilik om te begryp nie. Oorbevolking en aardverhitting en mense wat walvisse skiet, is besig om die visbevolking van die oseane uit te roei. Die Japannese skiet en vermoor walvisse en dolfyne vir navorsingsdoeleindes, maar hulle jok en hulle put die visbronne van die oseane uit met hul onbesonne optrede.”

    “Sulke vabonde! Agge-nee, Mossieman. Dit is erg teleurstellend dat hulle so optree, en dit is goed dat die res van die wêreld se mense die Japannese keer.”

    “Dit is wat die vissermanne en hengelaars in Valsbaai doen, Geronkie. Hulle voer die visse met die aas aan hul visstokke. Ek het dit met my eie oë gesien; ekke persoonlik het hulle die hele dag lank sit en dophou. Elke vyf minute herhaal hulle dieselfde ding deur alles oor en oor te doen.”

    “Deur aas in die water te gooi?”

    “Ja! Hulle sit die aas aan die ent van die vislyn, saam met ‘n sinker en ‘n hoek wat met ‘n draai loop, en dan gooi hulle die hele spulletjie in die water. Die skool visse wag daar anderkant, diep in die see met hulle bekke oop, en dan eet hulle die kos wat die vissermanne vir hulle gooi. Die visse is baie dankbaar vir die gereelde kosvoorsiening, en ná so vyf of tien minute katrol die visserman weer die vislyn in. Dan sit hy nuwe vars kos aan die lyn, en gooi dit weer vir die honger vissies wat in die oseaan wag.”

    Mossieman se storie is nuus vir Geronkie, en hy neem ‘n verposinkie om al die inligting mooi te assimileer. Rustig skink hy vir hom en Mossieman elk ‘n beker van die beste Boeretroos wat hulle in ‘n flessie, wat hulle al die pad van die Vrystaat af, saamgepiekel het. Net daar op die Strand se strand klink hulle ‘n bekertjie op die Kaapkolonie se hengelbedryf, en die slim visse van Valsbaai. Saam met die Boeretroos nuttig Mossieman en Geronkie ‘n stukkie boerbeskuit, koeksisters en ‘n snyseltjie melktert. Daar is niks lekkerder op die hele Moederaarde nie, as Vrystaatse koeksisters en melktert. Omgeklits en varsgebak.

    “Ek wonder nou, Mossieman” vra Geronkie moedswillig, “wat is die storie met die visse wat die hengelaars nou en dan uit die water trek? Ek het hulle al gesien; hulle hang en wriemel so aan die einde van die vislyn, daar waar die sinker en die aas is. Alles wriemel: die sinker, die aas, die vislyn, die visserman en die sardientjies.”

    “Ek weet waarvan jy praat, ek het ook gesien dat die vissies half bedwelmd en deurmekaar daar aan die einde van die vislyn vasklou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie, Geronkie. Dit gebeur nou en dan dat die sinkers een van die vissies teen die kop tref. Gewoonlik is dit sardientjies, want hul sig is swak en hulle kan nie mooi bokant die water sien nie.”

    “Teen die kop? Kaplaks teen die kop? Is jy nou ernstig?”

    “Ja, die sardientjies is bekend vir hul swak sig. Hulle is vir ‘n paar minute duiselig en dan klou hulle vir al wat hulle werd is aan die vislyn vas, totdat die visserman sy lewe red en hom weer netjies terug in die water gooi. Dan is almal gelukkig. Ek het selfs gesien dat van die vissermanne mond-tot-mond asemhaling op die sardientjies toepas, sodat hulle asem in hul longe kan terugkry en hul bewussyn kan herwin. Nadat hulle herstel het, swem die klein sardientjies terug skool toe om weer hul lesse by te woon.”

    “As ek jou nou reg verstaan Mossieman, gaan die vissermanne met leë hande huistoe, die hengelaars vang niks hengels nie en die visse is almal veilig terug in hul skool? Wat gebeur dan?”

    “Wel, dan stap die vissermanne hier na die Oceana-viswinkel oorkant die Strand se strand toe, om vis en chips te koop sodat die gesinnetjie darem iets vir aandete op die tafel kan hê. So hulle keer nie juis met leë hande huiswaarts nie.”

    “Mooi so vir daai vissermanne!” roep Geronkie uit, “Wel gedaan! Kom ons klink ‘n bekertjie boeretroos op die slim hengelaars van die Kaapkolonie. En die vissermanne.”

    *

  • Die Feetjies hou konsert

    Die Feetjies hou konsert

    Lank gelede vlieg daar eendag ʼn klein blou voëltjie met ʼn boodskap in haar bekkie na Virginia in die Vrystaat toe. Die klein blou voëltjie is deur die Burgermeester van die buurdorp, Harmonie gestuur om al die feetjies van Virginia uit te nooi na hul groot konsert toe. Die klein blou voëltjie se naam was Blue, want haar veertjies was so pragtig en so blou soos die hemel daarbo.

    “Blue,” het die Belangrike Burgermeester gesê,” jy moet ʼn boodskap Virginia toe neem, en al die pragtige feetjies uitnooi om na ons konsert toe te kom.”

    “Ja, Burgermeester,” sê Blue, “maar hoe sal die feetjies weet waar Harmonie is? Hoe sal hulle weet waarnatoe hulle moet kom vir die groot konsert?”

    Die Burgermeester krap sy ruie baard en dink so ʼn bietjie. “Wag, ek het ʼn plan,” sê hy geheimsinning. “Hulle moet jou agtervolg.”

    “Volg?” Blue se groot blou oë kyk onseker na die Belangrike Burgermeester en loer na die boodskappie wat sy in haar bek moet dra. “Goed so, Burgermeester, ek sal vir hulle sê om my te volg. Ek hoop maar al die feetjies weet hoe om te vlieg.”

    “Maar natuurlik weet feetjies hoe om te vlieg, Blue. En hulle weet hoe om te dans en sing. Feetjies het die mooiste danspassies en die helderste stemme in die hele wêreld.”

    “Meneer die Burgermeester?”

    “Ja, Blue?”

    “Wie tree by ons groot konsert op? Wie gaan almal sing, wie gaan almal dans? Wie gaan die sterre van die konsert wees?”

    “Aha,” sê die Burgermeester en vryf sy hande, “dit is ʼn groot geheim. Glo my, ek het ʼn plan! Toe! Weg is jy, vlieg en nooi die feetjies uit om na ons groot konsert toe te kom.” Blue knyp die boodskappie styf in haar bekkie vas en vlieg grasieus tussen die bome deur, oppad Virginia toe. Blue vlieg hoog die hemel in, bo-oor die bome en strome en die magtige Sandrivier wat tussen Virginia en Harmonie kronkel. Kort voor lank, land sy bo-op die grootste populierboom in Virginia. Sy kyk nuuskierig om haar rond, en sien al die feetjies wat in die koelte van die boom sit en tee drink.

    Blue gaan sit op ʼn takkie en loer skelpies na al die fraaie feetjies om haar. Daar is Viooltjie, ʼn fyn, klein ou feetjie met ʼn pers rokkie en ‘n pers staffie in haar hande. Sy het tot ʼn pers strikkie in haar pers hare. Langs haar sit Kappertjie, die vrolike feetjie wat altyd lag en gesels en baie vriendelik is. Langs Kappetjie sit Appelkosie, ʼn fraaie feetjie met ʼn waentjie vol eetgoed, waarin sy haar perskes en pere en vye-konfyt en baie koekies bêre. Eenkant sit Lelia, die wit-rokkie feetjie, stil en skaam met ʼn fyn blos op haar wange. Lelia sit altyd en luister en sê nooit ʼn woord nie, haar arms soos ʼn pragtige wit lelie om haar toegevou. Aan die anderkant van die boom sit Rosa, die pienk feetjie, mooi en rosig, met ʼn ligte blos op haar wange en skoene met die mooiste rooi linte toegedraai.

    “Ugm, ugm, hallo feetjies,” sê Blue skamerig en skud haar vere reg vir haar groot aankondiging. Al die feetjies se koppe draai aandagtig in die rigting van die die klein blou voëltjie wat op die tak langs hulle sit. “Ugm,” kug Blue weer en kyk grootoog na die die feetjies. Die feetjies loer nuuskierig terug, want hulle het in hulle lewe nog nooit so ʼn mooi klein blou voëltjie gesien nie.

    “Wie is jy?” vra Kappertjie, die vriendelike feetjie en glimlag vir Blue. “Wat maak jy hier? Waar kom jy vandaan?”

    “Ek is… Ek is… Blue sukkel angstig om die woorde uit te kry en mooi te kwetter. Toe onthou sy die boodskappie in haar bek, geen wonder sy sukkel so om te tweet nie. Blue haal ewe plegtig die Burgermeester se boodskap uit haar bekkie en vou dit stadig en belangrik oop. Angstig loer sy na al die feetjies wat aandagtig na haar luister.

    Blue maak haar keel skoon. “Die Burgermeester van die die dorp Harmonie, een van die mooiste en fraaiste dorpe in die hele Vrystaat, nooi al die feetjies van Virginia uit om ʼn goot konsert by te woon!”

    Die feetjies glimlag en stamp opgewonde aan mekaar. “Gedoriewaar! Allemiskie! ʼn Konsert! Ons? Ons?” vra die feetjies verheug en kyk na mekaar. “Nooi die Burgermeester ons almal uit om ʼn konsert daar by julle in Harmonie by te woon? Dit is te wonderlik!”

    “Ja,” sê Blue entoesiasties. “Die Burgermeester van Harmonie wil hê dat julle almal die konsert moet kom bywoon. Julle is die eregaste. Volg my, vlieg saam met my.”

    Al die feetjies spring opgewonde op, gryp hulle lipstiffies, hareborsels en mooimaakgoed en volg vir Blue, terwyl sy ramkiekie-ramkiekie van takkie tot takkie vlieg. “Volg my!” sing sy tussendeur vir die feetjies, wat opgewek gesels oor die groot konsert wat hulle gaan bywoon. “Ek wonder wie sing en dans op die konsert?” vra Viooltjie vir Kappertjie en Appelkosie wat langs haar vlieg. “Maak nie saak wie sing nie,” sê Lelia, die leliewit feetjie. “Ek weet sommer hulle gaan pragtige stemme hê en die mooistie liedjies ooit sing!”

    Uiteindelik kom al die feetjies veilig in Harmonie aan. Die Belangrike Burgermeester en sy verwelkomings-orkes staan op die kerkplein vir hulle en wag. Sy groot hande is wyd uitgestrek om die feetjies met ope arms te verwelkom en sy goue ketting blink-blink klink-klink in die son. “Welkom, welkom feetjies, ons het vir julle gewag!. Vandag gaan ons ʼn groot konsert hou. Kyk net al die mense wat by die konsert opgedaag het, al die mense staan net vir julle en wag. Welkom, welkom!”

    “Vir ons?” vra die feetjies verbaas, “waarom vir ons?”

    Al die mense begin saggies hande klap, opgewonde dat die groot konsert moet begin.

    “Want, “sê die Burgermeester belangrik en hy knipoog vir Blue wat op sy skouer sit.  “Almal in die Vrystaat weet hoe mooi feestjies kan dans – ons wag almal net vir julle om te sien hoe mooi julle kan dans.”

    “Haai Burgermeester,” sê Appelkosie, “jy is darem maar baie stout. Ons dog ons kom na die konsert luister, nou is ons die dansers wat op die verhoog moet dans!”

    “Ja, ek is baie stout,” lag die Burgermeester, baie in sy noppies met sy slim plan. “Ons kan self nie goed sing of dans nie, maar ons kan baie goed luister en ons weet julle is die beste dansers in die hele wêreld.”

    Toe begin die feetjies dans, met die mooiste en elegantste danspassies wat mense van Harmonie nog ooit gesien het. Ewe skielik kom daar die soetste stemme uit die hemel en die mooiste klanke en note, so mooi dat al die mense opkyk om te sien waar die pragtige klanke vandaan kom.

    “Die stemmetjies kom uit die hemel,” sê die Burgermeester trots vir Blue. ”Ek het geweet as die engeltjies die feetjies sien dans, dan sing die engele vir ons. Hulle het die mooiste stemmetjies en maak die helderste klanke wat enigiemand nog ooit gehoor het. Dit is waar die naam Engelekoor vandaan kom.”

    Toe begin die orkes speel, die feetjies dans en die Engelekoor sing. Die klanke en danspassies op die planke van die verhoog was sò mooi, dat al die voëltjies van die Vrystaat begin saam kwetter.

    Nà die konsert, het al die mense van Virginia en Harmonie saamgestem dat dit mooiste en beste konsert ooit in die Vrystaat was. Llank nadat al die mense huistoe gegaan het en die feetjies deur die bome teruggevlieg het Virginia toe, het die soete klanke van die engeltjies se stemme, steeds deur die bome langs die Sandrivier bly sweef. Tot vandag toe, en as jy mooi luister wanneer jy met die ou brug oor die Sandrivier vanaf Virginia na Harmonie se kant toe ry, hoor jy nog die sagte klanke van die Engelekoor oor die kabelende water.

  • Jakkals steel Leo Leeu se kos

    Jakkals steel Leo Leeu se kos

    In die middel van die winter stap Oom Leo Leeu en sy lyfwag Jakkals deur die digte bosse van die Oos Vrystaat, nie ver van Ficksburg af nie, om waterbuffels te jag. Jakkals is Oom Leeu se beste lyfwag en as hulle gaan jag en hy dra hy Oom Leeu se swaar geweer, sy verweerde ou knapsak en ‘n emalje koffiekan. Die koffiekan moes altyd saamgaan op jagtogte, want oom Leeu was ‘n opregte Vrystater, baie lief vir sy boeretroos en boerbeskuit.

    “Jakkals,” sê Oom Leo Leeu streng terwyl hulle deur die bosse stap, “tante Leeu wil biltong maak. Ons moet vir haar ‘n waterbuffel gaan skiet.”

    “Ja, Oom. Van waar kom tante Leeu nou weer, Oom Leeu? Waar is sy gebore?”

    “‘n Klein dorpie waarvan niemand nog ooit gehoor het nie, Jakkals,” grom oom Leeu. “Tweegrootwaterbuffelsmeteenhaelgeweerskootmorsdoodgeskietfontein.”

    ‘Jitte! Oom Leo Leeu. Dit is darem ‘n groot naam vir so ‘n klein dorpie.”

    “Ja, omdat daar kwaai waterbuffels is. Nou moet ons een van die waterbuffels vir die tante se kospotte skiet.”

    “Ja, Oom Leeu,”sê Jakkals onderdanig. “Kan ek net gou my pyl en boog  uit my jakkalsgat gaan haal, om die buffel mee te skiet. Oom Leeu weet mos Oom is nie ‘n baie goeie jagter nie, Oom skiet gewoonlik bietjie skeef en kwes net die buffels. En Oom weet ‘n gekwesde waterbuffel is ‘n gevaarlike buffel. Gaan lees maar PJ Schoeman se storie oor Jetwa die Buffelbul, Oom Leeu. Net-nou net-nou storm daardie gekweste buffel ons en dan moet ek gereed wees om hom ‘n doodskoot met my pyl en boog te gee.”

    Oom Leeu grom kwaai. Hy weet hy is nie heeltemal so geletterd soos Jakkals nie, maar hy probeer darem sy Afrikaanse literatuur lees wanneer hy kan, veral vakansies wanner hy bietjie tyd op pote het. “Ja, Jakkals, maak dan gou, jou klein bog. Gaan haal jou pyl en boog.”

    Gou-gou is Jakkals weer terug van sy jakkalsgat af, met sy pyl en boog op sy rug en dáár trek hy en oom Leeu die bosse in. Jakkals is baie opgewonde, hy hardloop gelyk in alle rigtings en mik en druk met sy pyl en boog na alles en nog wat.

    “Hou nou op om jakkalsdraaie te gooi,” raas Oom Leo Leeu kwaai. “Ek sien  baie buffelspore. Gaan loer oor daardie rantjie of  jy iets gewaar.”

    Jakkals luiperdkruip op sy maag en toe hy bo op die randjie kom, bespied hy die hele valei op soek na buffels. Jakkals wink opgewonde vir Oom Leeu en wys met sy vinger na waar die buffels ‘n paar honderd tree verder, onder die bome staan en wei. Oom Leeu luiperdkruip ook nader en lê versigtig aan met sy haelgeweer. Jakkals korrel gemaak-ernstig met sy pyl en boog, maar loer eintlik met sy een oog om te sien wat Oom Leeu doen. Toe die skoot klap, spring Jakkals kiertsregop en hy sien hoe die groot buffelbul teen die grond neerslaan.

    Met ‘n jakkalsdraffie hardloop Jakkals soos die wind na die buffel toe. Vinnig trek hy los met sy pyl en boog en skiet ‘n klein pyltjie in die buffel se linkeroog. Toe Oom Leeu uiteindelik by die dooie buffel aankom, spring Jakkals opgewonde rond en skree: “Dis mý skoot, Oom Leeu! Ek het op sy linker-oog gekorrel. Dis mý buffel! Ek het hom geskiet!”

    “Nonsens, jou klein vabond,” grom Leo Leeu vies. “Die buffel het met sy regteroog na ons kant toe gestaan. Ek het hom raakgeskiet. Dit is mý buffel!”

    Oom Leeu soek in sy knapsak na sy jagmes om die buffel af te slag, terwyl Jakkals bek-af op ‘n klip sit en kyk.

    “Jakkals,” mor Leo Leeu, “ek het my jagmes by die huis laat lê. Hardloop en gaan vra vir Tante Leeu waar is my mes. Toe nou, hardloop. Die son sit al laag. Ek sal so lank hier bly om die aasvoëls van die buffel weg te hou.”

    Jakkals draf teësinnig die lang pad terug na Oom Leeu se plaashuis toe. ‘Leeu is darem ‘n vabond,’ dink Jakkals, ‘hy wil my mos hiet en gebied en maak of ek sy slaaf is. Maar vandag gaan ek daardie leeu ‘n groot poets bak!’

    Jakkals draf by ‘n bos verby en skrik hom boeglam toe die wind ‘n bladsy uit ‘n boek by hom verbywaai. Jakkals tel die bladsy op en toe kry hy ‘n blink plan. Jakkals haal sy griffel uit sy knapsak en skryf ‘n lang brief op die bladsy. Toe hy klaar is, teken hy Leo Leeu se naam onderaan die brief en sit af na Leeu se plaashuis, waar Tante Leeu ongeduldig vir hom wag.

    “Naand, Tante Leeu,” sê Jakkals skelm. “Tante, ons het nog niks buffels geskiet nie en ons is baie vêr van die huis af. Oom Leeu het my gestuur om te sê dat ons sal vanaand maar daar moet slaap. Oom Leeu het my beveel om kos te kom haal, omdat ons honger is. Hier is sy brief.”

    Jakkals is stout, want hy weet alte goed dat Tante Leeu nie kan lees nie. Hy maak of hy die brief wil oorhandig, maar sy sê: “Ag Jakkals, lees ‘n bietjie wat daar in die brief staan, ek het my bril verloor, ek kan nie lees nie.”

    Jakkals vou die brief  plegtig oop en begin kastig voorlees: “Vrou, dit is Leeu hier. Gee vir Jakkals al die kos in ons huis, ek is baie honger.”

    Wat! Alles! Daar bly dan byna niks oor nie,” kla Tante Leeu toe sy teësinnig ‘n stuk wors vir Jakkals gee.

    Jakkals lees plegtig verder uit die brief: “Gee vir Jakkals ook al ons spek en eiers, ek is baie honger.”

    “Wat!”sê tante Leeu onthuts. “Jy het dan al klaar die wors, Jakkals! Waarvoor wil oom Leeu my lekker spekkies en eiers ook hê?”

    “Nee ek weet nie, Tante, antwoord Jakkals skelm onder sy wenkbroue deur. “Oom Leeu is seker baie honger. Tante weet as hy honger is, kan hy byna iets oorkom, so kwaad word hy.” Tante Leeu gee vir Jakkals die spek en Jakkals stop dit in sy sak. “Ek doen maar net wat Oom Leo Leeu my beveel.”

    “Ek dink dis al, Tante Leeu, “sê Jakkals tevrede. Skielik val Jakkals se oog op nog iets in die huis en haastig sê hy: “O, jitte! Tante, hier agter op die brief staan nog iets. Tante moet die varkboudjies ook gee. En gemmerbier.”

    “Maar jok jy nie, Jakkals?” vra tante Leeu kwaai. “Jy dra al my kos weg.  Waar staan dit op die brief?”

    “Kyk hier, tante,” sê Jakkals en wys na die gekrap agter op die papier. “P-o-r-k  C-h-o-p-s.”  Dit is die varkboudjies. Tante weet, toe Oom Leeu klein was, was daar net Engelse skole in die Vrystaat. Hy skryf nie baie goeie Afrikaans nie.”

    “Nou-ja, sê Tante Leeu nors, “vat dit en loop! Sê vir Leeu hy moet vir my ‘n buffel, ‘n koedoe en ‘n rooibok bring, want my kospotte is leeg!”

    “Ja tante. Goed tante. Totsiens tante,” sê Jakkals onderdanig en maak dat hy wegkom met sy sak vleis, reguit na sy gat toe. Toe hy by sy jakkalsgat kom, skreeu hy vir sy vrou en kinders: “Kom, kom, hier’s baie kos! Wat wil julle hê, wors, speenvark of tjops?” Dit was nie lank nie, toe sit Jakkals en sy hele gesin om die kampvuur en hulle eet al tante Leeu se vleis op.

    Intussen sit arme Oom Leeu in die koue by die dooie buffel, maar al wat terugkom is Jakkals. Hy stap naderhand uit frustrasie die rantjie uit en brul kliphard: “Jakka-a-a-a-ls!”

    Jakkals hoor hoe Leo Leeu is die verte grom en brul, maar hy steur hom nie daaraan nie. “Laat hom brul,” sê Jakkals en vryf voldaan oor sy vol ronde magie. “Hy wil my mos ‘n klein karnallie noem.”

    Naderhand is Leo Leeu so ongeduldig en woedend dat hy nie langer kan stilsit nie. Met sy skerp tande en kloue skeur hy twee boude van die buffel af, gooi hulle oor sy skouer en stap huis toe in die donker. Toe hy moeg by die plaashuis aankom, smyt Oom Leeu die twee boude neer en vra vir sy vrou: “Waar is daardie klein vabond van ‘n Jakkals? Ek het hom al ure gelede gestuur om my mes te kom haal om die buffel mee af te slag.” Tante Leeu skrik haar voorskootpante boeglam vir Oom Leo Leeu.

    “Maar hy is nie hier nie,” stotter sy verbaas. “Hy was ure gelede hier en hy is weg met al die vleis!”

    “Wat!” Oom Leeu is sò kwaad, hy brul sy wind uit. “Jakkals was klaar hier,” verduidelik Tante Leo Leeu benoud. “Hy het ‘n brief by hom gehad, wat sê dat jy eers môre terugkom en dat jy baie kos wil hê omdat jy so honger is. Kyk hoe leeg is my huis. Jakkals het al die vleis hier weggedra.”

    “So ‘n klein karnallie! Wag net tot ek hom in die hande kry, dan sal ek wors van hom maak!” Oom Leeu stap buite-toe en laat waai met ‘n geweldige brul wat die aarde laat dreun. Toe Jakkals hom hoor, bewe sy broekspype onder in sy jakkalsgat. Na ‘n rukkie hoor Jakkals niks verder nie en hy gaan lê lekker in die sonnetje, trommeldik van al die vleis.

    Maar Leo Leeu het intussen tot naby aan die gat gekruip, sonder dat Jakkals hom sien. Toe gee Leeu ‘n allemintige brul en hier kom hy! Jakkals tjank kliphard van bangeit, gryp sy vrou en kinders aan hul ore, stop hulle in die gat en kruip self in. Maar Leo Leeu is net so vinnig en kry vir Jakkals aan die stert beet.

    “Nou het ek jou, jou klein karnallie! Nou gaan ek jou ‘n dure les leer!”

    Jakkals skop met alle mag teen die kante van die gat vas en tjank:  “Dit is glad nie my stert nie, Oom Leeu!  Ek  sit onder in die gat. Dit is ‘n boomwortel wat jy beet het.”

    “O nee,” grom Oom Leeu, “dit ís jou stert, Jakkals. Ek kan sien daar’s hare aan, dit is jou stert! Ek gaan hom trek en trek, totdat ek jou uit die gat uitkry.”

    Arme Jakkals!  Dit voel vir hom of sy  stert gaan afbreek. Hy kry so seer dat hy amper nie kan huil nie. “Nee, nee, Oom Leeu stotter Jakkals, “dit is nie my stert nie! As jy my nie wil glo nie, gaan haal ‘n klip en gooi hom op my stert. Ek bedoel boomwortel. Jy sal sien daar kom rooi sap daaruit. Ek sit al lankal onder in die gat, dit is nie my stert nie! Dit is ‘n boomwortel!”

    Oom Leeu is sowaar dom genoeg om Jakkals se storie te glo. Hy laat los Jakkals se stert en gaan haal ‘n groot klip. Woerts-warts wikkel Jakkals hom los en hy begin nog ‘n gat grou. Toe Leo Leeu terugkom met die klip, gryp Jakkals Leo Leeu se stert, ryg hom deur die gat en maak ‘n groot knoop.

    “Sien Oom Leeu hierdie stert met die knoop! Dit is myne en Oom kan hom maar hard met die klip gooi!”

    Oom Leeu lig die klip hoog op en gooi hom met geweld op sy eie stert neer. Hy los ‘n allemintige brul toe die klip hom op sy stert tref.  “Eina, eina,” brul Leo Leeu, woedend van die kwaad.”My stert! My stert! My stert is so seer.”

    Jakkals lag tot die trane by se oë uitkom.  Toe hardloop hy vinnig weg, die bosse in, voordat Oom Leeu hom weer kan vang.

    En tot vandag toe nog, loop elke Vrystaatse leeu met ‘n knoop in sy stert rond. Kyk maar mooi as jy weer ‘n leeu sien; reg op die puntjie is daar ‘n klossie – net daar waar Jakkals ‘n knoop in sy stert gemaak het.

     *

  • Spookasem

    Spookasem

    “Het jy al ‘n perd se stert getrek, Mossieman? En toe kleinkoppie getrek en weggehardloop?”

    Geronkie loer onderlangs na Mossieman en sien dat sy boesemvriend diep dink. Hy hou daarvan om Mossieman se siel uit te trek, veral as Mossieman sit en dink en aan sy lekker Vrystaatse perskes proe-proe. Dit was misreëntjie-aand in die Vrystaat, en die dowwe maan het net-net agter die donker wolke uitgeloer om te kyk of hy spoke kon sien. So nou en dan kon mens hoor hoe ‘n wolf treurig in die maanlig sit en huil omdat jakkals sy kos gesteel het.

    “Nee,” sê Mossieman besadig, “maar ek het al ‘n spook se stert getrek!”

    “’n Spook? Nee wat, Mossieman, nou praat jy lààng stories. Spoke het mos nie sterte nie!”

    “O ja hulle het! Ek het al een gesien. Met my eie twee mossie-oë.”

    “Rêrig? Jok jy nie nou vir my nie, Mossieman?” mompel Geronkie bangerig en hy loer agterdogtig oor sy skouer. Spoke en spookstories gee hom koue rillings. “Spoke het mos nie sterte nie soos wolwe en jakkalse nie, man. Of het hulle?”

    “In die Vrystaat het hulle,” sê Mossieman in ‘n lae fluisterstem. “Die spoke roskam selfs hul sterte om aanvallig te lyk in die maanlig.”

    Geronkie se oë word al hoe groter en hy loer na die donker maan agter die grou wolke.

    Mossieman vat saggies met sy poot op Geronkie se skouer en sy stem word al hoe sagter.

    “Die spoke in die Vrystaat is baie slim spoke, Geronkie. Hulle maak net kinders bang wat self bang wil wees.”

    “Is dit waar?” vra Geronkie en hy voel ‘n krieweling langs sy rugraat afloop, amper soos ‘n yskou straaltjie water. “Wat van kinders.”

    “Veral kinders,” fluister Mossieman geheimsinnig.

    “Maar waarom Mossieman?” vra Geronkie benoude boude.

    “Want kinders smaak so lekker.”

    Geronkie skrik en sit sy pote oor sy oë.  “Nee man, Mossieman, spoke eet tog nie kinders nie! Agge-nee, Mossieman. Eet spoke dan kinders?” Geronkie is só bang dat hy sy oë toedruk en net effens deur sy vingers loer. Hy kan voel hoe sy bloedruk al hoe laer styg.

    “Nie àlle kinders nie,” antwoord Mossieman geheimsinnig en hy knip sy oë alwetend. “Net die stoutste kinders.”

    ‘Waarom eet spoke net stout kinders, Mossieman? En nie soet en gehoorsame kinders nie?”

    “Want stout kinders smaak lekkerder as soetes.”

    Geronkie kry so ‘n siddering langs sy rugraat af en dit voel vir hom asof ‘n koue windjie onderdeur sy donkie-ore waai.

    “En… en… eet spoke net die stout kinders op?”

    “Ja,” beaam Mossieman. “Die spoke gooi so bietjie sout by om die stout kinders lekkerder te laat smaak.”

    “M…Mossieman,” bewe Geronkie se stemmetjie en hy sidder van die koue. Waarom het jy dan die spook se stert getrek? Was jy nie bang hy eet jou op nie?”

    Mossieman loer om hom rond en fluister in sy sagste stem: “Jy moet net wag vir die regte oomblik om ‘n spook se stert te trek, Geronkie.  Anders kom hy agter wat jy doen en dan eet hy jou dalk lewendig op.”

    “M .. maar .. hoe weet jy wat die regte oomblik is, Mossieman?” vra Geronkie bangerig.  “Hoe weet jy die spook gaan jou nie sien en opeët nie?”

    “Jy moet wag tot middernag,” fluister Mossieman geheimsinnig. “Dan staan jy by die hek van die begraafplaas totdat al die spoke uitkom.  Nes die laaste spook verykom, dan gryp jy hom aan sy stert!”

    “M…maar waar gaan die spoke dan nà middernag heen, Mossieman?”

    “Hulle kom hiernatoe,” fluister Mossieman dramaties, “dan soek hulle deur al die huise om die stout kinders te kry.”

    “En as jy die spook se stert by die hek van die begraafplaas trek?”

    Mossieman loer geheimsinnig rond en fluister saggies in Geronkie se oor.

    “Dan kom hulle eers môre-aand om jou te vang!”

    “Boe hoe!”

    Geronkie balk kliphard van die skrik en druk sy oë toe. Na ‘n rukkie maak Geronkie weer sy oë oop en hy is sommer baie vies toe hy sien hoe lekker Mossieman in die maanlig vir hom lag.

    *

  • Mys die Muis vang ‘n Krokodil

    Mys die Muis vang ‘n Krokodil

    Eendag op ʼn reëndag was daar ʼn dapper muis wat in die bos in die Vrystaat gaan stap het. Sy naam was Mys die Muis en die meeste van sy spierkrag het tussen sy ore gelê. Dit is waarom sy ore so groot was; hy kon beter luister as al die diere in die hele Vrystaat saam.

    Toe Mys nog so stap, lê daar ewe skielik ʼn reuse krokodil in sy pad. Die krokodil was groot en lelik met baie skerp tande, en hy het ʼn allemintige lang stert gehad wat hy  onheilspelled rondgeswaai. ‘Nou moet ek vinnig slim wees,’ dink Mys die Muis en maak sy bek wawyd-groot oop om ʼn allemintige brul te brul.

    ‘HHHAAARRRGGG!’

    Mys die Muis loer so onderlangs na Krokodil, wat hom met groot oë aangaap. Krokodil was so ʼn bietjie beïndruk met Mys se gebrul, maar nie baie nie. ‘Ek sal iets moet doen,’ dink Mys, ‘anders gaan hierdie groot krokodil my sowaar opvreet.’ Naby Mys het daar ʼn klomp ou blouwildebeesbene op die grond gelê en niks doen nie. Vinnig gryp Mys een van die grootste blouwildebeesbene maak kamstig of hy daaraan knaag en eet.

    ‘HHHAAARRRGGG!’

    “Dit was nou lekker !” sê Mys en vee sy bekkie met sy sneesdoekie af. “Ek wens ek kan nog ʼn krokodil in die hande kry om te eet! Die vorige een was baie lekker!”

    Krokodil sluk amper sy eie ore in van skrik en bangbroekgeid. Met ʼn benoude tjank en sy stert styf tussen sy benoude boude vasgeknyp, verdwyn krokodil verskrik die bosse in.

    Mys die Muis slaak ʼn sug van verligting toe hy Krokodil sien weghardloop en vee die sweet van sy voorkop af. Toe begin hy te lekker lag vir sy eie slimmigheid. Hy het vir Krokodil behoorlik skrik op die lyf te gejaag.  Mys die Muis lag nog so, toe gewaar hy vir die stoute Bobby Bobbejaan hier bokant hom in die boom.

    Bobby Bobbejaan kyk Mys soò aan en sê meerderwaardig: “Jy is ʼn skelm muis, Mys. Ek weet wat jy gedoen het! Jy het daardie arme krokodil die skrik op die lyf gejaag! Jy het  gemaak of jy ʼn ander krokodil vir ontbyt opgevreet het en nou dink daai krokodilletjie dat hy volgende op die spyskaart is. Hy is nou baie bang vir jou. Sies man, Mys, jy maak nie mooi nie.”

    “Man, bobbejaan, hou jou neus uit my sake uit,” sê Mys die muis vies. “Jy gaan haal nou net die bobbejaan agter die bult. As ek nie ‘n plan gemaak het nie, het daai krokodil my sekerlik opgeëet. Ek moès hom om die bos lei. Hy sou jou ook sommer opgevreet het, jou dom bobbejaan.”

    “Neee-wat,” koggel Bobby Bobbejaan astrant,” ek glo nie daai storie nie. Ek gaan vir krokodil vertel  wat jy gedoen het en dan gaan hy jou kom vang.”

    “Jy moet jou bobbejaanstreke los, Bobby,” piep Mys die muis, maar daar trek bobbejaan al klaar agter die krokodil aan om te gaan skindernuus oordra.

    Bobbejaan kry vir Krokodil waar hy bewerig agter ʼn ruie populierbeem wegkruip vir Mys die muis. Hy is baie bly dat Muis hom nie gevang het nie, maar hy bewe nog steeds ‘n bietjie van angs en spanning.

    “Krokkie,” sê Bobbejaan vir die krokodil, “daai muis het jou netnou met ʼn lekker slap riem gevang. Hy lag lekker vir jou domheid. Hy het jou om die bos gelei.”

    “Wat bedoel jy?”, vra Krokodil en loer benoude-boude agter die populierboom uit.

    “Dink jy regtig dat ʼn muis ‘n krokodil kan opeët? Hy hou jou vir die gek, man!”

    “Jy is reg!” roep Krokodil verontwaardig uit. “Mys die Muis het my met ʼn slap riem gevang! Ek is ʼn regte botterkop!”

    “Ja, ja, jy is ʼn regte botterkop!” vryf Bobby Bobbejaan sout in krokkie se wonde.

    “Kom ons gaan vang daai muis!” jil Krokodil. Bobbejaan spring op Krokodil se rug om saam te ry en te kyk wat gebeur en daar gaat hulle.

    Maar Mys is ʼn uitgeslape muis en hy sien vir Krokodil, met Bobby bobbejaan op sy rug, van vêr af aankom. “Nou moet ek vinnig nog ʼn plan maak,” dink Mys op sy pote en hy draai sy rug op die twee wat aankom.

    Net toe die Krokodil naby kom, draai Mys die muis doodluiters om en sê vir Bobby bobbejaan:

    “Waar was jy die hele tyd, jou dom bobbejaan? Ek het vir jou gesê ek is nog honger en dat jy nog ʼn krokodil moet bring sodat ek hom kan opeet. Hoekom draai jy so lank en hoekom bring jy so ʼn maer krokodil hier aan? Ek is honger man! Kon jy nie ʼn vetter krokodil in die hande kry nie?”

    Krokodil skrik hom boeglam! Sy oë rek so groot soos pierings en hy huil sommer krokodiltrane, so bang is hy vir Mys die muis. Krokodil spring verskrik om en gee vir die lastige bobbejaan ʼn stewige klap met sy stert dat hy daar trek. Toe storm die krokkie  vreesbevange die bosse in. Jy sien net stof staan, so vinnig hardloop Krokodil om weg te kom van die wreedaardige Mys die muis af.

    Bobbejaan skrik sò groot van Krokodil se stert-hou dat hy amper bobbejaanstuipe kry. Hy probeer vergeefs vir Mys die muis in die lang gras wegkruip, want hy weet hoe gevaarlik Mys is as hy eers die dag behoorlik kwaad raak.

    Muis kyk na Bobby Bobbejaan waar hy kop onderstebo in die gras lê en huil, en lag tog te lekker. Bobby Bobbejaan het ʼn groot eina waar Krokodil hom met sy stert raakgeslaan het, die haal lê sommer  so blou oor sy boude.

    “Bokkapater!” lag Mys die Muis en stap stert in die lug weg. “Laat dit vir jou ʼn les wees, jou nuttelose bobbejaan. Vir jou en jou niksnut-vriendjie Krokkie krokodil.”

    “Wat is my les, Mys, wat moet ek leer? Ek is jammer, Mys.”

    “As jy nie sterk is nie, Bobby, moet jy maar slim wees. Slim soos ʼn Vrystaat-muis.”

    *

  • Geronkie die Donkie se Vreeslike Seer Vinger

    Geronkie die Donkie se Vreeslike Seer Vinger

    Geronkie die Donkie se vreeslike seer vinger

    “Mossieman, ek het vreeslik pyn,” kerm Geronkie die Donkie en hy wys met sy vinger na sy voet. “Ek het ʼn verskriklike pyn in my roer.”

    “Haai, Geronkie, waar sit jou roer?”

    “Nee, ek weet nie, Mossieman, maar elke keer as ek roer, dan pyn dit.”

    “Ag foeitog, Geronkie, is dit baie seer?” Mossieman is Geronkie se boesemvriend en hy is al gewoond aan Geronkie se fiemies en ipekonders. Mossieman hou daarvan om Geronkie se siel uit te trek en hy besluit om hom ʼn poets te bak.

    “Ja, dit is baie seer, Mossieman. Dit pyn sommer oral. My voet is seer en ek dink ek moet ʼn bietjie salf aansmeer, of dokter goe gaan. Ek hoort in die hospitaal, onder narkose.”

    “Moenie laf wees nie Geronkie,” antwoord Mossieman streng, “manne van die Vrystaat soos ons smeer nie salf aan ons nie, veral nie aan ons voete nie. Manne van die Vrystaat is taaier as taai – ons sanik nie oor ʼn bietjie pyn nie.”

    “Maar ek pyn erg, Mossieman,” kla Geronkie en wys met sy vinger na hakskeen. “Dit pyn in my voet en dit pyn in my been. En in my arms ook.”

    “Nonsens man, Geronkie, jy kan nie in jou voet en in jou been gelyk pyn nie.”

    “Dit pyn in my maag ook,” sê Geronkie huilerig en sy ore gaan lê sommer plat op sy kop. “Kyk hier, Mossieman, hier waar ek met my vinger wys. Dit pyn hier in die middel van my maag, net bokant my naeltjie.”

    “So, jy het pyn in jou voet, pyn in jou been en in die middel van jou maag?”

    “Ja Mossieman,’ sê Geronkie mismoedig en pink ʼn traan met sy snoetpoetsertjie weg.

    “Is dit al?”

    “Nee, Mossieman, dit pyn ook in my skouer, net hierso.” Geronkie wys met sy vinger na sy skouer en loer of Mossieman kan sien hoe seer dit is.

    “Geronkie, jy kom mos van die Vrystaat af, man! Vrystaters is sterk en en manhaftig en ons huil nie vir enige ding nie. Hou op om aan te sit en hou op tjank!”

    “Nee, rêrig. Mossieman, ek het baie pyn, sommer in my nek ook.” Geronkie wys met sy vinger na sy nek en rek bietjie langer uit om te beklemtoon hoe seer sy nek is.

    “Geronkie,” lag Mossieman, “al wat jy het, is ipekonders. Wys my nou orals waar jy seer het, voordat ek jou dokter te neem om alles wat jou pla te amputeer.”

    “Asseblief Mossieman, moenie dat die dokter my amputeer nie. Ek sal jou wys, maar ek wil nie dokter toe gaan nie. Dokters maak mens siek!” Geronkie loer senuweeagtig na Mossieman, want vir dokters is hy baie bang.

    Geronkie sit sy vinger op sy voet. “My pyn begin in my voet en dan in my been en dan in my maag.” Geronkie trek elke keer sy vinger so langs sy lyfie op soos hy beduie waar die pyn is. “Dan pyn my skouer en my nek ook nog. Ek is ‘n wandelende pyniging.”

    “Geronkie,” sê Mossieman skepties, “ons moet hierdie storie nou nek omdraai. Die pyn is nie in jou voet of jou been of jou maag of jou skouer of jou nek nie, man. Dit is net aansittery.”

     “Wat dan, Mossieman, wat is verkeerd met my?” snik Geronkie hartseer.

    “Dit is jou vinger wat pyn Geronkie, jou vinger!”

    Geronkie staar verwonderd na sy vingers aan die einde van sy arm en hy dink diep. “Jy is reg, Mossieman! Dit is nie my voet of my been of my maag of my skouer of my nek wat pyn nie, dit is my vinger! My poot se vinger!”

    “Reg,” sê Mossieman. “Nou gaan ons reguit dokter toe, sodat hy jou vinger kan afsny! Dan is jou probleem opgelos!”

    “Nee, eina Mossieman!” Vinnig steek Geronkie sy pote in sy broeksakke weg om sy vingers te beskerm.

    “Weet jy wat, Mossieman? My vinger is ewe skielik nie meer so seer nie. My vinger het sommer vanself herstel, dit is amper ʼn wonderwerk. Ek dink ons moet net ʼn hoofpynpilletjie by die apteek kry en ‘n bekertjie boeretroos drink, dan is my vinger sommer weer piekfyn soos roosmaryn!”

    *

  • Die Vrystaatse Boere

    Die Vrystaatse Boere

    Vrystaatse boere is daarvoor bekend dat hulle loshande die beste boere in die hele wêreld is. Daarby is die Vrystaatse boere ook die beste boere in die hele Vrystaat. Vrystaatse boere is bekend daarvoor dat hulle baie kreatief en vrydenkend is, en daarom kom hulle altyd met die heel beste boerdery-idees en produkte vorendag. Idees en produkte soos soos boeretroos met boerbeskuit, melkkos, melktert, souskluitjies, krummelpap, en koeksisters. Volgens die Volksblad, die grootste Afrikaanse dagkoerant in die hele Vrystaat, boer die beste boere in die Vrystaat met mielies, koring, skape, katoba-druiwe, likkewane, ysbere, koggelmanders en tiere. En aartappels, maar net in Zastron, Odendalsrus en Henneman.

    Die meeste likkewane waarmee die Vrystaatse boere boer, is heel mak. Die boere gebruik die likkewane vir hul velle en teel met hulle, totdat die likkewane gereed is om te vervel. Die boere het gou agtergekom dat likkewane koddige diertjies is – hulle hou van rivierwater en hul sterte swaai woes heen en weer as hulle opgewonde raak. Wanneer hulle oor-opgewonde raak, skud en swaai en ruk die likkewane so van die lag dat hulle outomaties vervel. Dan gryp die boere die likkewane se velle en maak deftige likkewaanskoene daarvan.

    Hoewel daar nie baie ysbere in die Vrystaat is nie, is die paar wat daar op die plase bly, baie slim. Die boere het met die jare geleer om die ysbere nog slimmer te maak deur vir hulle allerhande toertjies te leer, byvoorbeeld om met ʼn ploeg en skaar te werk, en dolosse te gooi. Dit is nogal moelik om ʼn ploeg en skaar te trek, maar die ysbere het met die regte opleiding, gou die kunsie onder die knie gekry en baie van die landerye in die Vrystaat omgeploeg. As mens deesdae deur die Vrystaat ry, veral in die omgewing tussen Ruigtevlei en Driekuil, sien jy dikwels ysbere wat op die boere se lande werk. Die ysbere is na al die jare al so bedrewe met die plaasimplemente en boerderytegnieke, dat van hulle ook die saai- en oeswerk op die plase behartig.

    Die koggelmanders van die Vrystaat is egter ʼn ander storie. Vroër jare het die boere in die Vrystaat gedink dat koggelmanders net klein miervretertjies is, maar later het die boere al hoe meer besef dat die koggelmanders baie slim en taalvaardig is. Net soos honde, kan koggelmanders ʼn paar Afrikaanse woorde verstaan en selfs ʼn paar sinne praat, met werkwoorde in. Omdat die boere hard op hul lande werk, is hulle nie altyd by die plaashuis om die telefoon te antwoord nie. Net somtyds, en net na oestyd. Dit is net hier waar die koggelmanders handig te pas kom om telefone te beantwoord en boodskappe af te neem as die boere nie tuis is nie. Van die meer ervare koggelmanders vra gewoonlik vir ʼn inbeller om bietjie aan te hou, sodat hulle net gou die boer op die lande kan gaan roep.

    Die beste boere naby Ruigtevlei boer met tiere, veral tiere wat groot en sterk is. Van die tiere is ʼn handvol, maar die meeste werk mooi saam met die boere as dit melktyd is. Die tiere is net so bedrewe soos die melkkoeie en hulle gaan staan sommer saam met die koeie mooi in rye op stal, as dit melktyd is. Alhoewel dit effens moeiliker is om ʼn tier te melk as ʼn koei, is van die boere in die Vrystaat van mening dat tiermelk lekkerder is as koeimelk. Tiermelk maak jou ook baie slimmer en baie sterker as koeimelk.

    Tiermelk is nogal sterk ook, so sterk dat jy dit vir die ysbere kan gee om te drink wanneer hulle op die mielielande staan en werk. Die tiermelk het ‘n manier om die ysbere sterker te maak as wat hulle regtig is, en meer luidrugtig. Dit maak hulle ook slimmer as wat hulle regtig is. Van die ysbere naby Ruigtevlei gooi sommer self hul ploegskare oor die skouer en stap huistoe wanneer hulle laatmiddag klaar gewerk het. Hulle weet presies wanneer dit tjailatyd is. In die Vrystaat is huistoe-gaan tyd tjailatyd, want dit is soos die Vrytaters wat in die myne en op die plase werk, praat.

    Een laat herfsmiddag het een van die mooi boervroue van Ruigtevlei se omgewing haar man op die trappie van hul plaashuis sien sit en huil. Die boer se treurige trane en snikke kon tot op die volgende plaas gehoor word – hy was nou behoorlik droewig want sy hartjie was in twee geskeur.

    “Wat is fout, my man,” vra die boervrou simpatiek, terwyl sy ʼn sneesdoekie aan haar boer aanbied. Sy wou nie hê dat daar trane op sy nuwe Cheetah-trui moet val nie, want Vrystaters huil nie voor hul eie rugbytruie nie. “Waarom sit jy so op die stoep krokkodiltrane en huil?”

    Vrystaatse boere gebruik ook nie gewone sneesdoekies nie, in die Vrystaat word sneesdoekies van cheetah-velle gemaak. Toe die boer klaar sy cheetah-vel sneesdoekie gebruik het, vertel hy mistroostig dat hy laatmiddag sy koggelmandertjie afgestuur het mielielande toe, om die ysbere te gaan roep. Die koggelmandertjie moes die ysbere en tiere inlig dat dit tjailatyd is en dat hulle moet terugkom plaashuis toe vir melktyd en aandete.

    “Een van die tiere het kwaad geraak toe ons hom wou melk, en hy eet die koggelmandertjie net daar op,” vertel die boer treurig. “Tiere kan nogal baie gemeen wees as jy hulle wil melk.”

    “Ag, ek is jammer, my man,” troos die mooi boervrou simpatiek en gee nog ʼn cheetah-vel snesie aan. ‘”Hier is nog ʼn snoetpoetsertjie om jou krokodiltrane mee af te droog.”

    “Ek huil nie krokkodiltrane nie,” pink die fris plaasboer ʼn laaste traan weg. “Daar is nie krokkodille in die Vrystaat nie. Ek huil likkewaantrane.”

    “Wat gaan jy nou doen, my man? Noudat die arme koggelmandertjie oorlede is?”

    Bedeesd trek die boer sy beker stomende boeretroos nader en doop ʼn dompeltjie boerbeskuit daarin. “Ek het geen keuse nie, daar is geen uitweg nie, geen lig aan die einde van die donker tonnel nie my vrou, “sug die boer. “Ek sal maar een van daardie likkewane aan sy stert vang en hom afrig en oplei. Hy sal die koggelmandertjie se plek moet inneem en van nou af die telefone in die Vrystaat beantwoord.”

    “Klink vir my reg, ou man, want in die Vrystaat maak ʼn boer altyd ʼn plan. Dit is baie beter dat die likkewane eerder telefoniste word as skoene.”

    *

  • Die Effense Ysterman

    Die Effense Ysterman

    Mens sal dit nooit sommer so sê nie, maar in die jare tagtig was ek ʼn effense knorrige ysterman wat eenkeer aan die Amerikaanse driekampkampioenskappe in Chicago se Michigan-meer deelgeneem het.

    Al die Amerikaanse driekampatlete het sulke fênsie en baie duur polistireen ‘wetsuits’ gehad om die 14˚ grade water in die Groot Mere te trotseer. Daar is vyf Groot Mere; Superior, Huron, Michigan, Erie en Ontaria, waarvan Michigan die koudste is. Arm Vrystater wat ek was, daag ek op met twee silikoon swempette en ʼn verweerde blou Speedo wat verlede seisoen in ʼn waterpolowedstryd geskeur het. Waterpolospelers druk mos hul hande in mekaar se swembroeke in, kyk maar net op TeeVee hoeveel kere hulle die bal mistas.

    Die 1500 meter yskoue oopwaterswem en tien kilometer hardloop aan die einde was nou nie sò ʼn groot uitdaging nie, maar die veertig kilometer fietsrybeen wel. Fietse het maar eers in die vroëe tagtigs hul verskyning in die Vrystaat gemaak, en ons was nog nie heeltemal vertroud met dié moderne masjiene nie. Trekkers was goed genoeg om dorp toe en terug plaas toe te ry. Ons Vrystaters skeer nooit en vir niemand ons beenhare nie – seker dié dat fietsry nooit tussen die mynhope en mielielande aftrek gekry het nie.

    Ewenwel, die water in Chicago was daardie dag sò koud dat jy die sneeu op die berge oorkant die Michigran-meer in Kanada kon sien. Die hawepier was drie meter bokant die snerpende water en ons moes inspring toe die skoot klap. (HAT sê ons moet nie van ʼn ‘pier’ praat nie, liewers wandelhoof). Daardie water was sò koud dat helfte van die Amerikaners in die middel van die afspring omgeskakel het trurat toe en weer terug op die wandelhoof beland het. Die res van ons het geswem dat die stof so staan.

    Die water was boudjiesknypkoud, soveel so dat ek heeltyd bo-op geswem het en nie juis nat geword het nie. Sowaar, ek heeltemal droog aan die anderkant uitgeklim en na my fietsmasjien toe gedraf.

    Op my knorrige oudag kom die herinneringe maar stadig en ek onthou dat die USTS (United States Triathlon Series) deur Mrs Tee’s Cookies geborg is. Sy, dit is nou die regte Mrs Tee, was skatryk en het op een of ander Amerikaanse professionele driekampatleet verlief geraak en die hele reeks driekampe geborg. Of Mrs Tee en die driekamper kinders gehad het, weet ek nie. Maar dit is lekker om te onthou dat ek eens op ʼn tyd aan ʼn driekamp deelgeneem het wat na ʼn koekie vernoem is.

  • My Skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    My Skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    My skaapappeltjies is lekkerder as joune!

    Mossieman en sy boesemvriend Geronkie die Donkie was iewers in die pragtige Vrystaat op reis, toe hulle hoor van ‘n boer naby Zastron wat die lekkerste skaapappeltjies in die wêreld produseer.  Geronkie die Donkie was daardie jare Mossieman se handlanger, sy kameraad, sy boesemvriend en sommer net sy beste maat.  Die twee van hulle was ook berugte filosowe en hulle het orals in die pragtige Vrystaat rondgereis om hul halwe wyshede met die niksvermoedende bevolking te deel.

    “Kom ons bak daai boer met die lekker skaapappeltjies ‘n lekker poets, Geronkie,” korswil Mossieman.  “Ek hoor hy spog net ‘n bietjie té veel met sy mooi skaapappeltjies.”

    “Wat is spog in mooi Afrikaans, Mossieman?”

    “‘Brêg,’ Geronkie. Maar ons praat nie Frengels nie, ons praat Afrikaans en ons spog in Afrikaans.”

    Terstond klop Mossieman en Geronkie aan die skaapappeltjieboer se voordeur op die plaas. Langs die plaashuis is daar rye en rye Kei-appels, maar Geronkie en Mossieman het nie die regte egte wetenskaplike naam geken nie – vir hulle was die mooi goudgeel vruggies skaapappeltjies, en basta!

    “Ons hoor jou plaas het die beste skaapappeltjies in die hele wêreld,” sê Mossieman vriendelik toe die fris boer sy deur oopmaak. “Ons dink weer ons skaapappeltjies is die beste in die hele wêreld. Dit waarom ons by jou besoek kom aflê – om te sien wie se skaapappeltjies die soetste en sappigste van almal is.” Daardie dae was al die boere in die Vrystaat groot, fris en sterk, en nog slim en aantreklik daarby. Hulle was nie manne wat nonsens van ‘n mossie wat bo-op ‘n donkie se rug ry, te vat nie.

    “Dis waar ja,” antwoord die fris boer, “ek het die mooiste, geelste, smaaklikste skaapappeltjies in die hele wêreld.  Maar wie is julle twee nou eintlik?”

    “Ek is Mossieman en my handlanger is Geronkie die Donkie. Ons twee is filosowe en ons is opregte Vrystaters. Ons is ook beroemde skaapappeltjieboere, daar langs die magtige Sandrivier naby Virginia. Ons plaas is daar, neffens die brug oor die woelige rivier, naby Harmonie.”

    “En julle dink julle skaapappeltjies is beter as myne? En geler? En lekkerder? Dit sal die dag wees,” lag die fris boer diep uit sy vooruitstrewende maag uit.

    “Wel, daar is net een manier om uit te vind,” knoop Mossieman sy geselsie verder met die boer aan. “Kom ons vergelyk jou skaapappeltjies met ons skaapappeltjies en dan besluit ons wie se skaapappeltjies die lekkerste is.”

    “Meeste van die tyd skiet ons maar net kettie met die skaapappeltjies saam met ons groot vriend Calla en Leon,” peins Geronkie en hy maak so ‘n paar skietbewegings met sy pote. “Manne met die grootste harte in die hele Vrystaat en kettieskieters van formaat. Ons het darem bietjie tyd vir boer ook.”

    “Nou goed,” stem die boer in, “ek gaan haal sommer dadelik ‘n hele streepsak van my skaapappeltjies, dan proe ons hulle.”

    “Reg so, meneer die boer, bring sommer die hele sak saam.”

    ‘Nou moet ons slim wees, Geronkie,” beplan Mossieman toe die boer die appeltjies gaan haal. ‘Kom sit hier op die bankie, dan laat ons die boer tussen ons sit. Jy sit aan sy regterkant en ek aan sy linkerkant.”

    Een-twee-drie is die boer terug met ‘n hele streepsak vol lekker geel skaapappeltjies. Daar is so baie appeltjies dat die boer nie eens die streepsak bo kan toekry nie.

    “Jitte, meneer die boer, daai skaapappeltjies lyk darem baie lekker. Onverbeterlik sou ek sê!”

    “Ek dink ook so,” spog die boer. “My appeltjies is die lekkerste geel  skaapappeltjies in die hele wêreld! Maar sê my nou eers, waar is julle appeltjies?”

    “Kom sit hier tussen ons op die bankie, dan vertel ons jou. Ons begin eers aan jou skaapappeltjies proe, en daarná proe jy aan ons skaapappeltjies, dan besluit ons watter skaapappeltjies is die lekkerste is.”

    “Ons hoef eintlik nie eers te proe nie,” sê die groot fris boer selfvoldaan, “my appeltjies is die heel beste wat daar is.”

    “Reg so meneer die boer, gee die eerste skaapappeltjie aan, dat ek proe.” Die boer buk vooroor en soek die grootste, lekkerste, geelste skaapappeltjie onder uit sy streepsak uit en gee hom vir Mossieman om te eet. Elke keer as Mossieman die lekker skaapappeltjie vat, gaps Geronkie agter sy rug een van die skaapappeltjies uit sy streepsak en gee hom agterom vir Mossieman aan.

    “Baie lekker, meneer die boer,” smeer Geronkie hom heuning om die mond.  “Voortreflike tekstuur, kleur en smaak. Die reuk is ook iets besonders, dit moet die territoire wees. Stylvol ook. Onverbeterlik!”

    “Goed, laat ek nou julle skaapappeltjie proe.”

    “Hier is hy,” sê Mossieman vroom en gee vir die boer een van sy eie skaapappeltjies aan. “Proe maar goed, meneer die boer, vat jou tyd. Jou skaapappeltjies is baie sappig, maar ons is seker ons appeltjies is lekkerder as joune.”

    Die boer se oë rek effens ten aanskoue van die mooi groot goudgeel skaapappeltjie wat Mossieman vir hom aangee. Onder Mossieman en Geronkie se belangstelling begin die boer heerlik aan die skaapappeltjie proe-proe.

    Salig onbewus hap die boer aan sy eie skaapappeltjie en trek sy twee oë skrefies soos wat hy konsentreer. “Hmmm…” sê die boer en hy vat weer ‘n lekker groot hap, “nie sleg nie.”  “Hmmm… die skaapappeltjie is lekker, en goudgeel, en rond en sappig. Maar hy is nie so lekker soos my skaapappeltjies nie. My skaapappeltjies is onverbeterlik en baie lekkerder omdat ek so ‘n vernuftige appelboer is.”

    Mossieman en Geronkie die donkie glimlag vir mekaar en Geronkie gaps agterom nog ‘n skaapappeltjie uit die boer se sak. “Hierso, meneer die boer! proe nog een van ons skaapappeltjies, net om seker te maak dat jou skaapappeltjies lekkerder is as ons skaapappeltjies.” Geronkie gee weer een van die boer se eie appeltjies vir hom aan en die boer eet te lekker.

    “Kort bietjie meer water, en vars kraalmis, sou ek sê,” mymer hy. Die boer krap sy kop en Geronkie knipoog vir Mossieman. “Manne, ek is baie jammer,” kondig die groot fris boer aan. “Julle skaapappeltjies is lekker, maar myne is baie groter en mooier en geler en lekkerder as julle sin. Ek is die wenner!”

    “Dit lyk vir ons ook so, meneer die boer,” glimlag Mossieman skalks en Geronkie en help die boer fluks om sy eie skaapappeltjies te eet.  Geronkie eet so heerlik dat die skaapappeltjiesappies sommer so langs sy lang ken afloop.  Maar Geronkie is ‘n netjiese donkie en so nou en dan vee hy die sappies netjies met ‘n snoetpoetsertjie af.

    “Waar het julle manne gesê kom julle vandaan?” vra die boer toe hulle al drie knuppeldik geëet is.

    “Ons het ‘n groot skaapappeltjieplaas daar op die walle van die magtige Sandrivier naby Virginia. Ons boer ook met mieliestronke, en turksvye en krummelpap, maar meeste van die tyd met skaapappeltjies.”

    “Nou ja, ek gaan vir julle ‘n groot guns bewys. Vat hierdie hele sak van my lekker skaapappeltjies saam met julle terug na julle plaas toe, dan wys julle vir al die plaaswerkers hoe die beste skaapappeltjies in die hele wêreld lyk en proe. Dé, vat die sak saam en dan vertel julle vir almal wat julle teëkom dat ek die lekkerste skaapappeltjies in die hele wêreld produseer.”

    Mossieman laai die hele sak skaapappeltjies op Geronkie die donkie se breë rug en hulle groet die boer hartlik.

    “Baie dankie vir jou gasvryheid, meneer die boer, en vir die sak lekkerste skaapappeltjies in hele wêreld! Ons gaan beslis ons plaaswerkers wys hoe lyk en proe die mooiste en lekkerste skaapappeltjies in die hele Vrystaat! Totsiens, mooi loop! Groete van huis tot huis!”

    “Tjaa…” mymer Mossieman en Geronkie genoegsaam terwyl hulle wegstap en lekker aan die boer se skaapappeltjies smul.

    As jy baie lus is vir skaapappeltjies in die Vrystaat, dan moet jy slim wees.

    *

  • Mossieman skryf sy Boerematriek

    Mossieman skryf sy Boerematriek

    “Ek is nou heeltemal intellektueel uitgeput,” kla Mossieman teenoor sy boesemvriend, Geronkie die Donkie, terwyl hulle langs die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat stap. Dié twee stoere Vrystaters (en lojale Cheetah-ondersteuners), is al jare lank vriende en hulle deel gewoonlik hul diepste geheime met mekaar. Mossieman vee met sy poot oor sy voorkop en sug diep. “Eksamens is darem vir jou ʼn ander ding, Geronkie my ou maat. ‘n Volksvreemde gewoonte.”

    “Kom ons sit hier onder die wilgerboom langs die rivier, dan vertel jy my alles, Mossieman.” Geronkie kyk besorg na sy vriend, bekommerd dat intellektuele uitputting dalk aansteeklik kan wees.

    “Wel,” sê Mossieman terwyl hy hom gemaklik in die skaduwee sitmaak, “ek skryf eksamen om my boerematriek te kry.”

    “Wat wil jy met boerematriek maak,” vra Geronkie nuuskierig en hy balk kliphard, net sodat die diere van die bos kan onthou dat hy ʼn donkie is en dat hulle moet bang wees vir hom. “Jy boer is dan nie eers ‘n boer nie.”

    “Sodat ek dinge beter kan verstaan.”

    “Soos wat?”

    “Wel, sê Mossieman, “een van die moeilikste vrae wat hulle gevra het; kan jy ʼn reguit streep met ʼn skewe groen liniaal kan trek.”

    “Maar dis maklik,” sê Geronkie en hy trek ʼn lekker sappige geelwortel nader. Enigiemand kan ʼn skewe streep met ʼn reguit groen liniaal trek.

    “Seker waar,” sug Mossieman, “maar dit was moeilik vir my. Niemand het ʼn vinger veroer om my te help nie.”

    “Waarom, Mossieman?”

    “Wel, die groen liniaal was nie heeltemal reguit nie, hy was ʼn bietjie krom. Ek het my vingers verbrand, ek sal vir my ʼn nuwe rooi liniaal moet koop.”

    “Wat nog?” vra Geronkie en hy knaag lustig aan sy geelwortel. “Wat pla jou nog?”

    “Wiskunde,” sê Mossieman mismoedig en hy sug diep en lank. “En Huishoudkunde. Hulle wou by my weet hoe maak mens krummelpap in die Vrystaat.”

    “Die krummelpapvraag is maklik man, Mossieman. Jy maak net gewone slappap op jou stofie en dan rasper jy dit. Optel en aftel in Wiskunde is bietjie moeiliker.”

    “Op en af. Hulle wou weet hoeveel vingers ek aan my linkerhand het, en hoeveel vingers aan my regterhand. Toe moes ek my twee hande se vingers bymekaartel, om die totaal te kry. Ek het amper my vingers verbrand met die antwoord.”

    “Tja …” sug Geronkie besorg. “Dit is nou ‘n ingewikkelde storie. Ek weet nie baie van Wiskunde af nie, maar ek raai tien vingers altesame.”

    “Dit is verkeerd,” sug Mossieman moedeloos. “Ek het eers ook so gedink, toe skryf ek tien op die eksamenvraestel.”

    “Nou maar, Mossieman, wat is die regte antwoord?”

    “Elf.”

    “Elf vingers? Elf altesame? Een minder as ‘n dosyn?”

    “Ja.” Mossieman tuur die verte in, asof hy die antwoord in die Vrystaat se mooi vlieswolkies gaan kry. “Jy begin by jou linkerhand. Begin bo, tien, nege, agt, sewe, ses. Nou het jy almal getel. Ses, tot by ses. Tien, nege, agt, sewe, ses.”

    “Reg so,” sê Geronkie verwonderd en hy hou sy vingers stip dop, maar hy volg nie heeltemal nie.

    “Ses.”

    “Nou die ander hand, jou regterhand. “Een, twee, drie, vier, vyf – altesaam vyf.”

    “Reg so,” sê Geronkie belangstellend en hy bestudeer sy pote se vingers. “Vyf.”

    “Wat het ons aan die ander kant gekry?” vra Mossieman. “Ek het ʼn bietjie vergeet. Wat was die ander hand se totaal?”

    “Ses.”

    “Ja, ses. Dit is reg. Jy neem nou daai ses, endie vyf wat ons aan die ander hand gekry het en jy tel hulle op.”

    “Ses plus vyf?”

    “Dis reg, ja, ses plus vyf.”

    “Dit is elf,” sê Geronkie, trots omdat hy so vinnig die antwoord kon uitdink.  “Ses plus vyf is elf.”

    “Dis reg” sug Mossieman, “ses plus vyf is elf. Dit beteken dat ek elf vingers het, as jy alles aan altwee hande bymekaartel.”

    “Elf vingers is darem baie,” sê Geronkie verwonderd en hy begin tel hoeveel geelwortels hy oor het om te eet. “Dit klink vir my te veel.”

    “Elf vingers,” se Mossieman, “Dit is geen wonder dat mense so baie met hulle hande beduie as hulle praat nie.”

    “En linkerhande weet nie altyd wat regterhande doen nie.”

    “Dit is waar, Geronkie” sê Mossieman. “Dit wys jy nou net, hierdie hele storie om boerematriek te skryf, moet vir ons almal ʼn vingerwysing wees. Dit is ʼn moeilike storie. Mens kan amper jou vingers verbrand.”

    Geronkie sit sy linkerpoot vertroostend om Mossieman se skouer om hom bietjie te troos. “Gelukkig is ons nie mense nie, Mossieman, ons is maar net diere van die Vrystaat, met of sonder boerematriek.”

    _

Design a site like this with WordPress.com
Get started