You are on page 1of 226

1

MY NUWE LEWE IN CHRISTUS

INHOUD

JANUARIE: LEES DIE BYBEL IN DIE LIG VAN CHRISTUS............................................................................3

FEBRUARIE: VERENIG MET CHRISTUS...................................................................................................24

MAART: 'N NUWE SKEPPING IN CHRISTUS...........................................................................................39

APRIL: DIE EVANGELIE EN EVANGELISASIE...........................................................................................56

MEI: DISSIPELSKAP IN CHRISTUS..........................................................................................................75

JUNIE: GEESTELIKE GROEI IN CHRISTUS...............................................................................................93

JULIE: DIE KRUIS, DIE GEES EN DIE KONINKRYK..................................................................................111

AUGUSTUS: DIE GEMEENTE IN CHRISTUS..........................................................................................131

SEPTEMBER: BEDIENING EN LEIERSKAP IN CHRISTUS........................................................................154

OKTOBER: MY LEWE OP AARDE IN EENHEID MET CHRISTUS.............................................................174

NOVEMBER: VERHOUDINGS EN FAMILIELEWE IN CHRISTUS.............................................................192

DESEMBER: OM GOD TE KEN.............................................................................................................211

JANUARIE: LEES DIE BYBEL IN DIE LIG VAN CHRISTUS

2
DAG 1
DIE UNIVERSELE BANK VAN SEËNINGE
Aan die begin van ‘n nuwe jaar dink almal oor die verloop van hulle lewens en wat dit
beteken om ‘n geseënde jaar te beleef. Dit is ook dan die tyd wat familie en vriende
seëninge oor mekaar uitspreek vir die jaar wat voorlê. ‘n Mens wonder soms of daar
regtig outoriteit is agter hierdie seëninge wat ons oor mekaar uitspreek? Beteken dit
werklik iets of is dit maar net bedoel om ‘n aangename gevoel van welwillendheid by
die ontvanger te skep wat vir so ‘n dag of twee hou? Die waarheid is dat daar slegs
outentieke seëninge kan kom van die Vader van ons Here Jesus Christus, die Koning
en soewereine Heerser van die heelal. Al Sý seëninge is eksklusief en alleenlik te
vinde in Sy Seun. Hy roep almal wat ware seën wil beleef op met die woorde: “Dit is
my geliefde Seun, luister na Hom!” (Markus 9:7) Die wat deur die wedergeboorte “in
Christus” is, is alrééds geseën met “alle geestelike seëninge in die hemele”. Hierdie
seëninge is egter soos onbeperkte fondse wat vir ons beskikbaar is in die “Universele
Bank van Seëninge”. Ons kan slegs die volle voordeel daarvan beleef as ons “die
woord van Christus ryklik in ons laat woon” (Kol. 3:16). Dit is net in die Naam van
Jesus wat ek by hierdie wonderlike hemelse “bank” kan trek wat ek nodig het vir seën
in hierdie lewe. En dit is net diegene wat die woord van Christus lees en bewaar wat
weet wat vir hulle beskikbaar is in Hom en sodoende die heerlike voordeel van hulle
hemelse bankrekening kan beleef. Hierdie seëninge stel ons nie net in staat om ‘n
geseënde lewe van “vrede en blydskap” (Rom. 14:17) te leef nie, maar ook om ‘n seën
vir ander te wees.
So hoe sal dan mekaar seën vir die nuwe jaar? Miskien met ‘n vraag of twee. Het die
“woord van Christus” ruim plek in jou hart soos wat jy volhard in die lees van die
Bybel? Indien nie, is jy van plan om hierdie jaar gedissiplineerd die Bybel te lees met
‘n verwagting om die volle seën van God se koninkryk te sien in jou lewe? Op geen
ander manier kan Jesus nommer Een wees in jou hart en lewe nie (Joh. 8:31) en as
dit nie realiseer nie kan jy nie werklik ‘n geseënde jaar beleef nie, selfs al sou elke
mens op die planeet persoonlik en spesifiek ‘n seën oor jou uitspreek. Mag die
Heilige Gees jou oprig in ‘n nuwe liefde vir die Woord en ‘n dissipline om dit jou eie te
maak deur ‘n heerlike en vrugbare Godgegewe volharding.

DAG 2
BLIND GEBORE
"En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af." Johannes
9:1
Ons het almal baie simpatie met mense wat blind gebore is, want dit moet sekerlik 'n
verskriklike verlammende stremming wees vir die lewe op aarde. Wat ons egter so
maklik vergeet, is dat alle mense geestelik blind gebore word. Paulus sê in Efesiërs 5
vers 8 "want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel
soos kinders van die lig." Dit help nie om lang redenasies met ongelowiges te hê as
ons nie van die begin af reguit vir hulle sê dat hulle oë in die wedergeboorte deur God
geopen moet word nie (Joh. 3:3).
3
Op presies dieselfde beginsel kan ons in gesprekke as dissipels van Jesus soms so
besig raak met lang redenasies oor die Bybel vanuit ons eie intellek. As ons liewer van
die begin af vir mekaar sê ons moet nooit vergeet dat ons almal blind gebore is nie sal
ons dalk makliker by die plek kom waar die Heilige Gees vir albei partye gééstelike
insig gee! Om oor teologie te redeneer vanuit die blindheid van die gevalle Adam
(selfs met dosyne Bybeltekste) is futiel en totaal vrugteloos. Ons het keer op keer
geopende oë nodig in ons omgang met die Bybel en net die Heilige Gees kan dit vir
ons gee.
"Verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet..." Efesiërs 1:18a. Sien ook
Openbaring 3:17.

DAG 3
DIE ARMOEDE VAN DIE VERSIE-LESERS
"Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen
lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan." Mattheüs 4:4

Die Here kan soms baie spesifiek en vrugbaar met ons kommunikeer deur die regte
vers op die regte tyd, maar as ons geestelike voeding bestaan uit 'n versie hier en daar
sal ons nooit sterk word en volwassenheid bereik nie. 'n Kind wat leef op
versnaperinge in plaas van 'n gereelde ordentlike bord kos gaan sieklik en ondervoed
wees.

Die hemelse Vader het 'n lieflike tafel van verlossing vir Sy kinders voorberei in die 66
boeke van die Bybel en verwag van ons om aan te sit en alles te eet wat vir ons
voorgesit is. 'n Gasheer wat baie moeite gedoen het om 'n vyfgang maaltyd vir sy
gaste voor te sit, sal diep teleurgesteld en beledig voel as hulle net peusel aan 'n
lepeltjie sop en 'n happie of twee brood neem sonder om eers die hoofgereg te eet.
Die Bybelskrywers was profete en apostels wat soos briljante sjefs onder leiding van
die Hoof van die huis 'n volledige maaltyd voorberei het vir die lesers (gaste).

As jy 'n versie-leser van gewoonte is, gaan jy geestelik skade ly, jy gaan nie volwasse
word nie, jy gaan nooit jou potensiaal in Christus bereik nie, jy gaan nie 'n innerlike
transformasie beleef wat Christus in jou na vore gaan bring nie (Rom. 12:2 en Gal.
4:19), jy sal nooit in staat wees om ander mense te help om geestelik te groei en sterk
te word nie, en jy loop toenemend gevaar om mislei te word en op syspore te beland
wat rampspoedig kan wees. Wat 'n verskriklike prys om te betaal vir geestelike
nalatigheid.

Ek pleit vandag by jou in Jesus naam om jou weë te verander, selfs al is jy vir baie jare
al net 'n versie-leser. Gaan na God, bely jou sonde van nalatigheid en begin dadelik
om hele Bybelboeke te lees soos wat die Heilige Gees jou lei. Koop vir jou 'n
studiebybel of maak gebruik van die honderde beskikbare hulpbronne op die internet
wat agtergrond gee en jou sal help om 'n greep te kry op spesifieke Bybelboeke. Maar
die belangrikste is net om te lees, lees, lees. Jy mag maar 'n geestelike vraat wees.
Eet jouself trommeldik aan dit wat God vir jou voorsit.

4
"Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie
kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in
vettigheid verlustig." Jesaja 55:2

Daar wag baie aangename verrassings vir jou as jy jou hart en lewe rig om dit te begin
doen. God belowe oor en oor dat Hy deur Sy Woord groot omwentelinge in en deur
ons sal bring wanneer ons ernstig raak oor die Bybel en ons harte instel om te hoor en
gehoorsaam. Mag Hy ons almal 'n diep honger en dors gee om Sy Woord te hoor, te
bewaar en te gehoorsaam in die krag van die Gees. Dit is die enigste pad van
oorvloedige seën in Christus Jesus. Lees Psalm 1, Psalm 19, Psalm 119 en Spreuke
2:1-11 as jy twyfel oor my laaste stelling.

DAG 4
DIE HOOFDOEL VAN DIE BYBEL
"Teenoor Grieke sowel as nie Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is
ek ‘n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome
is, die evangelie te verkondig." Romeine 1:14-15
"Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir
almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het." 2 Korinthiërs 5:14
Die profete in die Ou Testament het nie openbaringe by God ontvang om dit net vir
hulleself te hou nie. Dit was altyd openbaring wat bedoel was om by mense uit te
kom. Dit is ook niks anders in die Nuwe Testament met ware dissipels van Jesus nie.
In ons geval is dit natuurlik net die insig wat die Gees ons gee van dit wat reeds deur
die profete en apostels neergepen is.
Die Heilige Gees ontsluit vir ons die Bybel en openbaar Christus om ons in die
teenwoordigheid van die Vader te bring, maar dit is 'n besonderse kenmerk van die
bediening van die Gees dat Hy altyd saam met die ontsluiting van die Bybel 'n
dringendheid in ons plaas om dit te deel met mense. As jy jouself bevind op 'n plek
waar die Bybel vir jou 'n boek geword het wat jou net intellektueel fassineer en besig
hou of skietgoed gee om teologiese debatte te wen, het jy dringend nodig om te erken
dat jy kontak verloor het met die hoofdoel van die Bybel. Die Heilige Gees sal ons
altyd eers by self-ondersoek bring deur die openbaring van Christus, sodoende in die
teenwoordigheid van die Vader bring, en dan vir ons 'n dringendheid in ons binneste
gee om ménse te bedien.
Vir seker is die Skrif ook bedoel om ons toe te rus om verkeerde leer te weerlê en
verkeerde gedrag te identifiseer (2 Tim. 3:16), maar as ons nie meer in die Vader se
teenwoordigheid gebring word en dan by mense uitkom deur die Woord nie het ons
ver wegbeweeg van die hoofdoel van die Bybel. Dan is dit tyd om te erken en bely
sodat die Heilige Gees weer vars in ons kan werk op hartsvlak, dieper as die verstand
en intellek.

DAG 5
5
DIE STEM AGTER DIE WOORDE VAN DIE BYBEL

Daar is ‘n reuse verskil tussen die woorde van die Bybel en die stem ágter die woorde.
Jesus sê vir die Jode in Johannes 5 vers 37 “julle het nog nooit” die Vader se “stem
gehoor nie…” Dit moes ‘n groot skok en ‘n geweldige belediging gewees het vir
hierdie mense wat hulleself beskou het as die uitverkorenes aan wie die Skrifte
toevertrou was, dit gereeld aangehoor het en seker was dat hulle God se stem daarin
gehoor het. Jesus maak dit duideliker ‘n bietjie verder aan in Johannes (6:63) deur te
sê “dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek
tot julle spreek, is gees en is lewe.” En dan in Johannes 8 vers 47 sê Jesus prontuit vir
hulle dat net die wat “uit God is, luister na die woorde van God”. Hy los dit ook nie
net daar by die implikasie van hierdie woorde nie, maar gaan nog verder en spreek
hulle harte direk aan; “daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.” Ware
dissipels hoor nie net die woorde van God nie, maar luister werklik daarna en
sodoende hoor hulle die stem van God. Hoeveel is daar nie in gemeentes regoor die
wêreld wat die Skrifte hoor, maar nog nooit die stem van die Vader gehoor het nie.
Wat ‘n onbeskryflike hartseer om die woorde van waarheid te hoor en steeds te bly sit
in ‘n vormgodsdiens wat geen hartsverandering teweeg bring nie.

DAG 6
LAAT JY GOD TOE OM TE SKRYF OP DIE TAFELS VAN JOU HART?

Die wedergeboorte gee ons toegang tot die hart en gedagtes van God. Die Bybel is 'n
geslote boek vir mense wat nie wederbaar is deur die Gees van God nie. Vir
wedergebore mense word die Bybel daarenteen lewend en so begin die onbeskryflike
ontdekkingsreis wat stelselmatig vir ons "die dieptes van God" ontsluit.

"Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle
dinge, ook die dieptes van God." 1 Korinthiërs 2:10

Daar is egter 'n voorwaarde en dit is dat ons, ons eie idees oor dinge moet laat vaar en
ons eie voorkeure oor wat ons dink belangrik is in die Bybel. Dit is onmoontlik om 'n
sinvolle gesprek met mekaar te voer oor die inhoud van die Bybel as ons nie die Bybel
toelaat om self te praat en die oortuigingswerk te doen in ons harte nie. Dit verg egter
'n berekende en besliste onderwerping van ons denke aan wat die Bybel noem "die sin
van Christus".

"Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons
het die sin van Christus." 1 Korinthiërs 2:16

"For who has understood the mind of the Lord so as to instruct him?" But we have
the mind of Christ." 1 Corinthians 2:16 (ESV)

Party van ons het soos die Engelse uitdrukking sê "a padlocked mind". Dit is bykans
onmoontlik om in daai dig-gesluite kluis in te kom, want die persoon laat nie eers die
Woord van God toe om verandering te bring daar binne nie. Intussen is ons dalk baie
besig met die Bybel, maar die Bybel is nie besig met ons nie.
6
DAG 7
LEES EERS SELF
God skenk genadiglik leraars, predikers en skrywers vir Sy gemeentes en ons moet
ten volle gebruik maak van hierdie gawes en bedieninge wat daar is vir ons seën en
verryking in Christus (Efes. 4:11). Maar aan die ander kant moet ons waak daarteen
om kommentare te lees en na leringe te luister oor 'n onderwerp of 'n spesifieke
Skrifgedeelte voordat ons self by die oorsprong van die fontein, die Bybel, gaan drink
het.
Lees eers self die Bybel en laat die Heilige Gees toe om persoonlik met jou eie hart te
praat. Selfs al verstaan jy nie aanvanklik alles wat jy lees nie, moenie te gou gryp na
jou Bybelkommentare of gunsteling leraars of outeurs nie. Die gevaar daarin is dat jy
bloot intellektueel met die Bybel begin omgaan en die wonder van God se lieflike
innerlike bediening deur Sy Woord verbeur. Moenie tevrede wees net met ander se
insigte nie. Daar is 'n proses van verstaan in jou eie hart wat baie kosbaar is en wat
die Vader self vir jou deur wil neem.
Soms is daar polemiek oor 'n onderwerp in 'n gemeente of tussen twee dissipels van
Jesus en dan kry ons vinnig ons kommentare en boeke uit om ons argumente te staaf.
'n Baie beter benadering sou wees om jou konkordansie of soekfunksie vir jou
elektroniese Bybel te gebruik en die relevante teksgedeeltes of Bybelboeke sonder
vooroordeel te lees en bepeins totdat die Heilige Gees jou persoonlik begin bedien oor
die onderwerp. Dan kan jy jou kommentare en ander boeke nader trek en met
nederigheid en onderskeiding ook ontvang wat die Here vir ander dissipels gewys het
in die Woord. Laat ons gaan drink by die oorsprong van die fontein. God nooi ons
almal uit en wil groot dinge in ons harte doen as ons net bereid is om self te lees en
bepeins.

DAG 8
LIG IS NIE GELYK AAN SIG NIE
Die Bybel is lig. Die evangelie is lig. God se woorde is lig. Jesus is lig. Maar sonder
die opening van jou innerlike oë deur die Heilige Gees beteken die lig absoluut niks
vir jou nie, selfs al is jy dag en nag besig met die lig. 'n Blinde mens kan heeldag in
briljante sonlig staan en hy sien net mooi niks nie. Hy is steeds in duisternis al is hy
omring deur lig. Hoe weet jy dat jy sig het en nie net lig nie? Sig gee jou krag om
heilig te leef. Sig breek die mag van sonde. Verder bring sig altyd die
gemanifesteerde teenwoordigheid en heerlikheid van God in 'n lewe of in 'n
gemeente.
As jy dus baie Bybelkennis (lig) het, maar sonder geestelike sig is jy eintlik op 'n
gevaarlike plek. Die grootste openbaring en gesondste teologie denkbaar kan geen
verskil in jou lewe maak as jy nie sig het nie. Interessant genoeg gaan dit dus in die
finale analise nie eers net oor kopkennis versus wat ons noem openbaringskennis nie,

7
want die vraag bly altyd of jy geestelike sig het wat daardie kennis of openbaring kan
omsit in krag en heerlikheid en die kennelike teenwoordigheid van God.
Volgens Mattheüs 6:19-34 is ons afhanklikheid van "Mammon" (die geldstelsel van
die wêreld) een van die grootste redes hoekom Bybelkennis dikwels geen werklike
verskil in ons lewens maak nie. M.a.w. jou vertroue het nog nie geskuif van die
natuurlike na die geestelike nie. Besitreg kelder jou. Jy hou nog vas aan dinge op
hierdie aarde en daarom gee God jou nie hemelse sig nie.
Satan kom as 'n "engel van die lig" en solank as wat ons nie sig het nie kan hy ons op
allerhande dwaalspore laat beland terwyl ons steeds dink ons is besig met waarheid,
met die Bybel, met Jesus. Daarom is dit krities belangrik dat elkeen van ons na God
gaan en Hom pertinent vra of ons onsself flous met al die waarheid en kennis
waarmee ons besig is. Het ek werklik geestelike sig of mislei ek myself omdat ek so
seker is dat my greep op die lig gelyk is aan sig?

DAG 9
'N BAIE GEVAARLIKE AANNAME
Dit is 'n baie gevaarlike aanname om te dink dat ons nooit weer geestelik blind kan
wees of dat ons nie meer die verligting van die Heilige Gees nodig het nadat ons oë in
die wedergeboorte geopen is nie. Dis ongetwyfeld die aanname wat die meeste
onenigheid en struweling in gemeentes regoor die wêreld veroorsaak, want dit is net
die natuurlike intellek wat verwaand genoeg is om Goddelike openbaring (die Bybel)
te hanteer sonder die innerlike verligting van die Heilige Gees.
Indien jy twyfel aan hierdie stelling gaan lees asseblief 1 Korinthiers 1 en 2 biddend
en let baie mooi op na die argument wat Paulus daar onder inspirasie van die Gees
bou. In hoofstuk 1 verse 10 tot 13 berispe hy die dissipels in Korinte baie ernstig oor
hulle onenigheid en dan wys hy vir hulle in die res van die hoofstuk en ook in
hoofstuk 2 wat die kernoorsaak is van die onenigheid onder hulle.
Let op wat Jesus vir dissipels sê in die gemeente van Laodisea:
"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet
nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie."
Openbaring 3:17
Prakties beteken dit net dat ons elke keer wanneer ons werk met die Bybel seker moet
maak dat ons besig is met "die wysheid van bo" (Jakobus 3:13-18) en veral in die
areas waar ons van mekaar verskil. Dit is juis hier waar die arrogansie van die
natuurlike intellek met gemak en seepglad inskop en dan van daar af die bootjie
(gesprek) probeer stuur. Met kinderlike nederigheid moet ons keer op keer bely "ek
kan niks sien of verstaan as U nie my oë ook weer hierdie keer open nie, liewe Heer".
Dit is dan ook in daardie gesindheid wat ons met mekaar moet praat en "redeneer".

DAG 10

8
'N GENERASIE MET BAIE LIG, MAAR MIN SIG
In die evangelie van Johannes is Jesus se opening van die oë van 'n man wat blind
gebore is (Johannes 9) een van sewe wonderwerke (tekens) wat bewys dat Hy die
Seun van God is. Hierdie opening van die oë van 'n blinde man het plaasgevind te
midde van mense wat geroem het daarop dat hulle die Tanakh (die letterlike woorde
van God) in hulle besit het en dat hulle daarom anders as alle ander mense was.
Jesus gebruik egter die teken van die opening van 'n blinde man se oë om vir hulle in
effek te sê "lig is nie gelyk aan sig nie"! Net die wat na Jesus kom en die knie buig
voor Hom ontvang sig om dan dinamies om te gaan met lig. En terloops, net die wie
se knieë gebuig bly, behou hulle sig!
Baie jare na Jesus die man se oë tydens Sy bediening op aarde oopgemaak het, sien
Johannes op die eiland Patmos 'n gesig van die verheerlikte Jesus wat tussen sewe
van Sy gemeentes deurloop met "oë soos 'n vuurvlam". Vir een van hierdie
gemeentes sê Jesus dan "Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks
gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en
blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter
is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou
naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien"
(Openbaring 3:17-18).
Let op dat Jesus hier met een van Sy gemeentes praat. Maar die boodskap is presies
dieselfde as wat Hy deur die opening van die oë van die blinde man vir die Jode
probeer gee het toe Hy op aarde was, naamlik "lig is nie gelyk aan sig nie"! Net die
"salf" wat Jesus gee, kan geestelike blindheid genees. Ons generasie het meer
toegang (deur die internet en moderne media) tot Bybelkennis (lig) as enige generasie
voor ons in die geskiedenis, maar het ons geestelike sig of is ons soos blindes wat met
kragtige flitse in ons hande rondloop en roem in die superieure tegnologie van ons
flitse? As ons nie geestelike krag het nie is daar net een werklike oorsaak en dit is dat
ons met al ons lig, nie sig het nie. Kan iets meer tragies wees? Is dit nie tyd vir ons
om uit te roep na God om ons generasie van gelowiges geestelike sig te gee nie?

DAG 11
'N PERSOONLIKE PADKAART VIR MY SIEL
"U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad." Psalm 119:105
Die Vader begeer dat elke kind van Hom die Bybel sal lees met 'n verwagting om
uniek en individueel bedien te word deur die Gees. Ons liefde vir die Woord sal groei
namate ons 'n persoonlike omgang met die Skrifte het. Die Vader wil elkeen van Sy
kinders daagliks in die Skrif ontmoet en daar van aangesig tot aangesig met ons
praat. Daarom is dit krities belangrik dat ons in ons kwaliteit tyd in die dag (oggend,
middag of aand) net die Bybel sal lees en 'n Bybel waarin ons kan skryf en merk sodat
dit werklik vir ons 'n persoonlike padkaart vir die siel kan word. Sonder hierdie
persoonlike padkaart gaan ons siele ongetwyfeld iewers die pad byster raak en op
afdraaipaadjies beland wat onnodige smart en lyding bring.

9
DAG 12
'N WOORDREWOLUSIE BEGIN BY JOU
Dit is tyd vir ons om 'n radikale breuk te maak met die middeleeue waar net die
priesters die Bybel gehad het en dit met opset moeilik gemaak het sodat mense nie
geestelik ingelig kon wees om uit die greep van die Rooms Katolieke kerk te ontsnap
nie.  Geen wonder dat dit die donker eeue genoem is nie. Het dit egter nog enigiets te
doen met ons hier in die 21ste eeu? 
'n Paar eenvoudige vrae kan dalk help om ten minste vir jou as indiwidu lig te gee
daaroor, ongeag wat in jou gemeente aangaan.  Het jy al ooit werklik eienaarskap
geneem van al 66 boeke van die Bybel? Glo jy dat God jou persoonlik kan, en wil,
bedien uit elkeen van daardie boeke? Het jy al ten minste die Nuwe Testament selfs
net een keer deurgelees? Het jy 'n gunsteling boek of twee uit die Ou en Nuwe
Testament? Lees jy ooit die Bybel vir jou familie? Bespreek jy die Bybel met jou
gesin? Pas julle dit prakties toe as 'n daaglikse realiteit in woord (gesprekke) en daad
as 'n spontane leefstyl sonder om te verval in vormgodsdiens of om mekaar te
beskuldig van prekerigheid? Is jy oop en toeganklik vir 'n radikale Woordkultuur
onder gewone mense of is dit vir jou gerieflik en gemaklik om aan te hou glo dit is die
domein van die "professionele mense"? 
Wat is jou antwoord? Leef jý nog in die donker eeue? God sal jou beide die begeerte
en vermoë gee om uit daardie historiese tronk te breek, want dit ís Sy wil vir jou! Hy
wil hê jy moet in die krag van die Gees sy Woord liefhê, bedink, bespreek, en prakties
toepas in jou gesin en gemeente elke dag van die week. Moenie wag vir ander mense
nie. Begin jý die rewolusie in jou gesin en gemeente. God self sál jou toerus en
bekragtig vir hierdie taak. Begin net te lees!

DAG 13
ONGERED, ONGEHOORSAAM OF ONGESTELD
Ware dissipels van Jesus het nie net vir Hom lief nie, maar ook sy Woord. Om die
waarheid te sê die twee kan nie van mekaar geskei word nie. Hulle mag nie van
mekaar geskei word nie! Jesus self word "die Woord" genoem (Joh. 1:1 en 14; Openb.
19:13) in die Bybel. As ek werk met die Bybel moet ek rekening hou met Jesus en as
ek Jesus wil volg, kan ek net in die Bybel vind wat dit beteken om 'n ware volgeling te
wees.
"En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle
waarlik my dissipels." Joh. 8:31
Sê jy "ek het Jesus lief en is lojaal aan Hom", dan moet jy ook terselfdertyd kan sê "ek
het sy woord lief en is lojaal daaraan". So wat dan gemaak met 'n situasie vandag
waar duisende sê hulle het 'n verhouding met Jesus, maar hulle lees omtrent nooit die
Bybel of neem dit enigsins ernstig op nie? Duisende sê hulle is wedergebore, maar
het nog nooit eers een van die 66 Bybelboeke deurgelees of werklik moeite gedoen om
self die Bybel te begin bestudeer en gehoorsaam nie.

10
Het alle ware dissipels van Jesus 'n aptyt vir sy Woord of net party van hulle? Dit is
nie eers 'n moeilike vraag om te antwoord nie. Die Bybel is duidelik dat alle ware
dissipels 'n honger vir die Woord het. As jy dit nie het nie is een van drie dinge waar
van jou lewe. Jy is of ongered, of ongehoorsaam, of ongesteld.
Ongeredde mense het 'n aptyt vir baie dinge in die wêreld, maar jy kan hulle nooit
werklik opgewonde kry oor die Bybel nie. Dit bly iets vaag en verwyder van hulle
daaglikse lewe en prioriteite. Dit is die pastoor of dominee se domein, nie hulle s'n
nie. Ongehoorsame dissipels word van binne gedring deur die Heilige Gees om erns
te maak met die Bybel, maar daar is altyd 'n honderd en tien ander dinge wat eers
aandag moet kry. Dit is 'n gevaarlike kondisie en as jy volhard daarin word jy
uiteindelik ongesteld. Mense wat fisies siek is verloor hulle aptyt vir kos. As jy
volhard in ongehoorsaamheid word jy geestelik siek, wat beteken dat jy jou aptyt vir
die Woord verloor. Dan is dit krities belangrik dat jy dit sal bely en jou bekeer van jou
ongehoorsaamheid met dade wat volg.
So waar staan jy met die Bybel? Is jy ongered, ongehoorsaam, ongesteld, of koester jy
die woord van Jesus soos wat jy Hom koester en liefhet?

DAG 14
DIE GEVAAR VAN FAMILIARITEIT

"Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing
en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie.
Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat daar 'n profeet
tussen hulle was.” Esegiël 33:32-33 (NAV)
“Hier kom Esegiël al weer. Ek wonder wat is sy boodskap vir die dag? So ‘n
begeesterde jong man. En altyd so ernstig. Maar tog interessant om na sy ietwat
oordrewe woorde te luister. Hy gee die dag ‘n bietjie kleur.” So kon ‘n tipiese gesprek
tussen Esegiël se tydgenote oor sy bediening onder hulle verloop het.

Honderde jare later het ‘n jong man van Nasaret op ‘n dag in sy tuisdorp se plaaslike
sinagoge gedeeltes uit die boek Jesaja gelees en verstommende uitsprake oor die
vervulling daarvan gemaak. In Lukas 4 vers 22 lees ons dat die toehoorders
“verwonderd was oor die aangename woorde uit sy mond”. Maar toe begin hulle vir
mekaar te sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie”. Familiariteit met Jesus het hulle
ore toegestop en sodoende het hulle heeltemal uitgemis op die belangrikste dag in die
geskiedenis van hulle dorp. Hulle verlossing het gekom en gegaan, want hulle het nie
die gevaar van familiariteit met die woord én die Woord besef nie.

In 1 Petrus 4 vers 11 kry óns die opdrag om so om te gaan met die Bybel en dit vanuit
ons hart te spreek dat ons woorde sal wees “soos woorde van God”. Maar weereens
loop ons gevaar om so familiêr te raak met die Bybel en met mekaar dat ons nie die
heilige woorde van God ernstig opneem wanneer ons geliefdes of broers en susters in
die Here dit met erns en oortuiging spreek nie. Ek en jy het die heerlike voorreg en
ook die dringende verantwoordelikheid om die woorde van die Bybel in ons hart in te
neem en met mekaar daaroor te praat; om op te wek, te stig, te bemoedig én te

11
waarsku. Moenie dat familiariteit jou beroof van die impak van die woorde van die
ewige God nie. Dit kan jou baie duur te staan kom aan die einde van die dag.

DAG 15
DIE GODDELIKE UITNODIGING
Dit is een van die kosbaarste waarhede wat 'n mens ooit kan ontdek om te besef dat
God jou gedurig uitnooi om na alles te kyk vanuit Sy perspektief. God wil ons lewens
verander deur vir ons te wys wat Hy sien en ons sodoende in te lei in 'n lewe van
oorwinning.
Ons het almal a.g.v. die sondeval 'n perspektief op die lewe gekry wat deur die nou
lens van ons eie-ek beskou word. So asof dit wat ons sien die enigste werklikheid is.
Ons verabsoluteer so maklik ons eie perspektief en ons doen dit outomaties en
instinktief.
Die Bybel is God se perspektief op die lewe en daarom moet ons dit benader met 'n
gedurige neerlê van ons eie perspektief. Solank as wat ons asemhaal, gaan ons
daagliks aanpassings van perspektief nodig hê. Dit is wat die Bybel so 'n
onontbeerlike en rewolusionêre boek maak. As jy dit reg benader, gaan jy elke slag
weer verras word deur God se perspektief en as jy hierdie perspektief omhels met
neerlegging van jou eie gaan jy God in aksie sien in jou binnewêreld. Deur jou
binnewêreld te verander, bring God dan ook verandering in jou hele lewenswandel.

DAG 16

KERK-KENNIS OF BYBEL-KENNIS

Alle wedergebore mense het die geestelike kapasiteit ontvang om die Bybel te ken en
toenemend beter te verstaan (sien 1 Kor. 2:9-16). Alle wedergebore mense het 'n
inwonende Leraar ontvang, naamlik die Heilige Gees (1 Joh. 2:20, 27). Boonop het
God in die gemeente menslike leraars gegee (Efes. 4:11) om dissipels van Jesus te
help om geestelik volwasse te word. Hierdie leraars was egter nooit bedoel om die
Heilige Gees te vervang of die dissipel se eie lees van die Bybel te vervang nie. 

Net hier kry ons die gevaar van kerk-kennis wat Bybel-kennis vervang. Deur die eeue
van die kerk se geskiedenis was daar baie briljante leraars wat die Bybel gelees en
boodskappe gebring en boeke geskryf het wat vandag nog beskikbaar is. Hele
denominasies het onstaan op die basis van hulle werke en baie hedendaagse leraars
volg in hulle groepe of denominasies maar net in die voetspore van hierdie leraars.
Dis dan ook heeltemal verstaanbaar dat die gewone kerkganger maar net sal volg in
die voetspore van die lewende leraars wat die gestorwe leraars volg.

Sekerlik het ons nodig om hierdie menslike leraars deur die eeue en vandag te
respekteer en ag te slaan op hulle liefdesarbeid. My vraag is egter of kerk-kennis
Bybelkennis mag vervang? As my kennis van die Bybel beperk is tot die "templaat"
van my groep wat ek altyd oor die Bybel plaas, gee ek werklik die Heilige Gees kans
om my te leer uit die Skrif? Die vraag is natuurlik ook of ek enigsins die Bybel met
12
erns lees en of ek maar net leef op die dieët wat menslike leraars verskaf. God het
genadiglik vir ons menslike leraars gegee, maar hy wil my en jou ook eerstehands
bedien uit die Bybel. Wanneer jy jou Bybel lees, verwag dat die Heilige Gees jou
persoonlik sal leer en bedien, want Hy wil! Bly terselfdertyd ook nederig en leerbaar
in jou omgang met ander dissipels en met leraars, want jy is nie die enigste een wat
die Bybel hanteer nie.

DAG 17
STOWWERIGE BYBELS WAT GETUIENIS TEEN ONS BRING

"En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here
nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle." Hebreërs 8:11

'n Wedergebore dissipel van Jesus het 'n inwonende leraar wat die Vader se stem vir
hom as't ware hoorbaar maak wanneer hy die Bybel lees. Die openbaring van Christus
en die gemeente in die Nuwe Testament ontsluit vir ons die plan van God vir ons
lewens sodat ons nie nodig het om verward te wees of in die donker rond te tas op
soek na waarheid nie. Die bedieninge van Efesiërs 4 vers 11 is deur God geplaas in die
liggaam van Christus om die heerlikheid van die nuwe verbond so tasbaar te maak vir
dissipels dat die Bybel 'n persoonlike avontuur word vir elkeen van ons. Dit was nooit
bedoel om ons eie lees van die Bybel en persoonlike hoor van die Vader se stem te
vervang nie!

God wil jou direk en persoonlik lei deur jou eie hantering van die Bybel. Dit is
waarvoor Jesus Sy kosbare bloed gestort het. Daai Bybels wat so stof opgaar in ons
huise sal 'n getuienis téén ons word as ons dit nie daagliks begin optel en lees met die
geloof dat God persoonlik met ons wil praat nie.

DAG 18
VERANDER JOU PERSPEKTIEF, VERANDER JOU LEWE
Kyk jy na die hemel van die aarde af of na die aarde van die hemel af?
"En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is
nie uit hierdie wêreld nie." Johannes 8:23
Jesus verklaar onomwonde vir die Jode van Sy dag dat Hy nie uit hierdie wêreld is
nie. Jesus het nie na die hemel gekyk van die aarde af nie, maar na die aarde van die
hemel af.
Een van die mees verstommende waarhede van die Nuwe Testament is dat alle
wedergebore mense nou in 'n sin presies dieselfde kan sê. Oorweeg net die volgende
tekste as 'n voorbeeld hiervan:
"Julle het saam met Christus gesterwe...Waarom lewe julle dan nog asof julle aan
hierdie wêreld behoort?" Kolossense 2:20 (NAV)
"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.Want julle het gesterwe,
en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3
13
As jy na die hemel kyk van die aarde af is al jou belange en jou "skatte" steeds hier in
die tydelike en dan is jou hart ongelukkig ook op die verkeerde plek (sien Lukas
12:33-34). Dan leef jy maar jou "eie lewe" in die hier-en-nou en vra God om jou
planne en projekte te seën; jy *"trek kort op sestig pensioen en raak met God en mens
versoen". En dan daar in die ouetehuis het ons mos baie tyd om te begin dink oor die
hemel. Of hoe?
Ware dissipelskap is iets totaal anders. Dit begin by 'n radikaal ander perspektief.
Gaan kyk maar hoe Jesus in die evangelies mense roep om 'n hemelse identiteit te
omhels en aanvaar, soos wat hulle wegdraai van die aardse. Dit gebeur natuurlik eers
volledig wanneer 'n mense geestelik weergebore word (Johannes 3). Daarom word
die briewe van die Nuwe Testament geskryf uit die perspektief van die hemelse. Daar
word gekyk na die aarde van die hemel af. As jy hierdie punt mis, gaan jy regtig nie
veel verstaan van die Nuwe Testament nie en jy gaan gevolglik ook nie werklik
verstaan wat dit beteken om Jesus te volg nie.
Die hele Nuwe Testament roep ons op om ons perspektief te verander. In die proses
van bekering sien 'n mens skielik jou lewe uit God se perspektief. Na wedergeboorte
verwag God dan van ons om nooit weer terug te val na 'n aardse perspektief nie. As jy
eers die Nuwe Testament in hierdie lig begin lees, maak dit vir jou al hoe meer sin en
raak hierdie "vernuwing van denke" vir jou kosbaar en lewensveranderend.
* Aangehaal uit 'n gedig van S.V. Petersen.

DAG 19
HOEKOM KAN MOTIVERINGSBOODSKAPPE NIE PERMANENTE
VERANDERING BRING NIE?
Motiveringsboodskappe is ‘n eksterne stimulus wat van buite af na binne verandering
wil bring in ons lewens. Motiveringsboodskappe wil ons nuwe impetus gee deur ‘n
positiewe lewensingesteldheid (postive mental attitude) wat kwansuis alle negatiewe
omstandighede en selfs persoonlikheidsgebreke kan oorheers.
Motiveringsboodskappe neem egter tipies nooit die totale gevallenheid van die mens
in ag nie en daarom werk dit nie met die kruis as basis nie. Dit probeer eerder
karring aan jou siel om die menslike “masjien” reg te laat funksioneer. Ons probleem
is egter dat ons diep aan die binnekant heeltemal stukkend is. Daarom kan net die
evangelie ons plaas op die pad na herstel. Die kruisboodskap bring eerstens vergifnis
van sondes, mits ons bereid is om te erken dat ons grootste probleem sonde is en die
stráf van die sonde voor ‘n heilige God. Dit doen die motiveringsboodskap nooit nie.
Sonde is ‘n taboe onderwerp in die motiveringsheelal, want dit is hopeloos te
“negatief”.
Maar dan gaan die kruisboodskap verder en leer ons dat lewe en vreugde net uit die
dood kan kom. Dit leer ons dat ons gesterf het “saam met Christus” (Gal. 2:20) en
dat hierdie gesamentlike sterwe die basis is van álle ware en permanente verandering
in ons lewens. Net hier sien ons die groot verskil tussen die motiveringsboodskap en
die evangelie. Die positiwiteit van die evangelie is in totaliteit gebaseer op die

14
kruisdood van Jesus. Lewe slegs uit die dood. Dit is die kern van die Christelike
boodskap.
Motiveringsboodskappe is in die meeste gevalle net “window dressing”. Dit stof jou
bietjie af en laat jou beter lyk van buite. Bo blink, maar onder…. Ongelukkig is die
evangelie in baie kerke en denominasies vandag vervang met die
motiveringsboodskap en daarom is baie mense se lewens lankal besig om
fundamenteel te verkrummel, maar hulle gaan voort met die klug van normaliteit
d.m.v. eksterne motivering. Totdat die wiele heeltemal afkom.
Die evangelie werk van binne af. Dit gee jou ‘n nuwe gees en begin dan jou siel
stelselmatig herstel om van jou in alle aspekte ‘n heel mens te maak. Dit skei jou deur
die kruis van die gevallenheid van die ou skepping en ontsluit dan vir jou die
heerlikheid van die nuwe skepping in Christus. Net die evangelie kan ons gesonde,
stabiele en volwasse mense maak. Moenie geflous word deur die populêre
boodskappe van ons tyd nie. Moenie tevrede wees met enigiets minder as ware en
diepgrondige verandering nie.

DAG 20
VERWORWE IMMUNITEITSGEBREKSINDROOM

"Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal
die kudde nie spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat,
deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg.
Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van
julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.” Hand. 20:29-31 (NLV)

Kan ons nie net glo soos kindertjies en alles vir soetkoek opeet wat lyk soos 'n
geestelike boodskap of wat vir ons van kansels en deur die massamedia opgedis word
nie? Kan ons nie maar net kerktradisies en denominasionele dogma heel insluk
sonder om te kou nie? Die kort antwoord is, 'nee'. Kinderlike geloof en beoordeling
van waarheid staan nooit teenoor mekaar in die Bybel nie. Hoekom is dit nodig om
voortdurend boodskappe te toets en te beoordeel, om te onderskei en te "waak" oor
waarheid en ons eie harte soos Jesus en die apostels oor en oor beveel het? Want net
soos daar 'n menigte "goggas" is wat jou liggaam wil aftakel, is daar 'n baie slinkse
geestelike vyand wat die boodskap van die evangelie op allerhande maniere verdraai
en ons wil voer met sy leuens. Ons liggame het 'n immuunstelsel wat die "goggas"
veg. Net so het God vir ons 'n immuunstelsel gegee om geestelike "goggas" te veg.
Die Woord van God wat jy in jou hart bewaar en bely met jou mond is die "swaard
van die Gees" (Efes. 6:17). As jou liggaam se immuunstelsel skielik afskakel, het jy
groot probleme, my vriend. Net so is dit fataal om jou geestelike immuunstelsel te
verloor of te misken dat jy een nodig het. Die kerk oor die wêreld ly ongelukkig
grotendeels aan geestelike VIGS ("verworwe immuniteitsgebreksindroom") en dit
raak al hoe erger. Ons moet wakker word en reguit loop, in lyn met die duidelike
bakens wat vir ons gegee word in die Woord van God. Glo alles wat in die Bybel staan
soos 'n kind, met totale oorgawe en 'n rein gemoed en bly by die eenvoud van die
openbaring van Jesus (Heb. 1v1-3). Maar moenie alles wat geestelik klink of wat van
kansels gepredik en geleer word glo soos 'n kind nie. “Beproef alle dinge; behou die
goeie” (1 Thes. 5:21).
15
DAG 21
DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 1: INLEIDING

"Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die
tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is
geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra,
sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók
geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie." Matt. 4:5-7

Die duiwel weet ook hoe om die Skrif aan te haal. Hy het al begin om God se woorde
te verdraai in die tuin van Eden; "MAAR die slang was listiger as al die diere van die
veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê
het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?" (Gen. 3:1). Daar het hy Eva
probeer uitlok deur God se woorde verkeerd aan te haal. In Mattheüs 4 haal hy die
Skrif reg aan (Ps. 91:11-12), maar probeer Jesus kry om 'n verkeerde toepassing
daarvan te maak. Jesus antwoord hom deur 'n ander teks aan te haal wat balans
bring en begrip gee van God se bedoeling met die eerste aanhaling. Paulus sê in
Handelinge 20 vers 27 vir die ouderlinge van die gemeente in Éfese dat hy aan hulle
die "hele raad van God" verkondig het. Die Skrif is self die beste verklaarder van die
Skrif. Wanneer ons die Bybel in konteks lees en dit wat die Bybel op een plek sê oor
'n saak vergelyk met dit wat op ander plekke gesê word, kry ons die volle prentjie en
gaan ons oë oop vir die "hele raad van God". Dit vrywaar ons van menige oorhaastige
interpretasie en onwyse optredes, wat gebore word uit 'n oppervlakkige omgang met
die Woord van God. Mag die Vader vir ons almal leergierige harte gee wat bereid is
om met nederigheid die Skrifte deeglik te ondersoek om Sý wysheid daar uit te haal
tot seën van baie.

DAG 22
DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 2: VREDE

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”
Lukas 2:14

"Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar
eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen
twee en twee teen drie." Lukas 12:51-52

"Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê." Joh. 16:33a

"As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense." Rom.
12:18

In Lukas 2 word daar op grond van Jesus se geboorte “vrede” vir die mensdom
aangekondig. Net ‘n ent verder aan in dieselde boek (Lukas 12) klink dit egter of
Jesus presies die teenoorgestelde sê en nie eers weet van die uitspraak van die engele

16
by Sy geboorte nie! Hoe moet ons dit verstaan? Ons moet dit lees in terme van die
konflik tussen die koninkryk van duisternis en die koninkryk van lig. Dit is die breër
agtergrond van die hele Bybel en verklaar baie oënskynlike teenstrydighede. Hierdie
konflik stel ons almal voor ‘n keuse. Omhels die Prins van Vrede en jy sal die vrede
van die koninkryk van lig beleef, weerstaan Hom en jy bly sit met die vlietende en
onvoorspelbare “vrede” van die wêreld. Terselfdertyd is daar dan ook konflik tussen
die twee koninkryke in huise waar die vrede deur sommige omhels en deur ander
verwerp word (Lukas 12 bo). In Johannes 14 bemoedig Jesus Sy dissipels deur die
belofte van Sy eie vrede wat vir ons as ‘n geskenk gegee word. Hy maak dit egter baie
duidelik dat dit nie die wêreld se soort vrede is nie. In Johannes 16 sê Jesus dat Hy
graag vir ons in Homself vrede wil gee, maar beklemtoon weereens dat dit in kontras
is met die “verdrukking” wat ons in die wêreld sal beleef. In Romeine 12 kry ons ‘n
opdrag om van óns kant af in vrede te leef met alle mense. Dit leer ons weer om sover
dit vir ons moontlik is konflik te vermy, selfs al weet ons dat dit onvermydelik is dat
die twee koninkryke moet bots. Elkeen van hierdie stellings word in ‘n spesifieke
konteks gegee. Saam gee dit vir ons ‘n pragtige balans en word God se wysheid vir
ons deurgegee op ‘n manier wat ons voorberei om in elke lewenssituasie die vrede van
die koninkryk (Rom. 14:17) te behou.

DAG 23
DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 3: MOENIE OORDEEL NIE
“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Matt. 7:1
“Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel
nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder
die slegte mens onder julle uit!” 1 Kor. 5:12 (NAV)
“Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam
met die wêreld veroordeel mag word nie.” 1 Kor. 11:32
“Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.” 1 Kor. 14:29
“Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal
tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.” Rom. 14:10 (NAV)
In ons tyd en generasie is Jesus se opdrag dat ons nie moet oordeel nie heeltemal
skeefgetrek en buite alle proporsie verdraai. Die meeste mense vandag lees dit as ‘n
geïsoleerde stelling wat ons inlei in ‘n leefwêreld van universele toleransie waar ons
geen onderskeid durf maak tussen dit wat byvoorbeeld rein en onrein of heilig en
onheilig is nie. Daarom het dit uiters belangrik geword vir ons om vas te stel wat
Jesus bedoel het met daardie stelling én wat Hy nie bedoel het daarmee nie. Hy hét
bedoel dat ons nie onsself moet opstel oor ander mense as regters asof ons God is nie.
Hy het ook bedoel dat ons nie ander mense se motiewe moet oordeel asof ons in hulle
harte kan insien nie. Hy het nié bedoel dat ons glad nie ‘n oordeel moet fel oor
geestelike sake of dat ons nie mag sê wat die Bybel byvoorbeeld duidelik stel oor
sonde, gesonde leerstelling en dergelike dinge nie. Let byvoorbeeld op dat vers 6 van
dieselfde paragrafie in Mattheüs 7 (verse 1 tot 6) sekerlik ‘n beoordeling van
verskillende mense en situasies verg om te kan doen wat Jesus daar sê ons moet
doen. Wanneer ons dit doen moet ons egter seker maak dat ons eers onsself onder

17
dieselfde Bybel se vergrootglas bring om te toets of ons eie harte rein is voor God
(Matt. 7:5a).
Ons is bevoorreg om in Afrikaans ‘n verskeidenheid woorde te hê wat die woord
“oordeel” as’t ware kwalifiseer. Wanneer ek “oordeel” maak ek ‘n uitspraak oor iets.
Ek moet dit egter so doen dat ek nie “veroordeel” nie, maar ek moet wel ‘n situasie
“beoordeel” sodat ek God se “oordeel” oor iets kan onderskei en toepas. Anders word
die Bybel ‘n afgewaterde boek wat geen duidelikheid oor enigiets kan gee nie! Om op
te som, ons moet “oordeel” oor situasies (sien 1 Kor. 5:12 hier bo), maar ons mag dit
nie doen met ‘n “veroordelende” hart nie. Ons mag (moet!) sê wat die Bybel sê oor
sake, maar sonder om onsself as regters op te stel oor ander of mense se motiewe te
oordeel. Verder leer gedeeltes soos Romeine 14 pertinent dat ons ook ‘n duidelike
onderskeid moet maak tussen randwaarhede soos wat ons mag eet of drink en
kernwaarhede soos die evangelie, die wese en identifisering van sonde volgens die
Bybel, ensovoorts. Mag God ons help om die dinge te “onderskei waarop dit werklik
aankom” (Fil. 1:10) sodat ons nie aan die een kant in die slaggat van “veroordeling”
val of aan die ander kant in die slaggat van ‘n sogenaamde “liefde” wat geen
onderskeid tref tussen rein en onrein nie. Laasgenoemde is nié volgens die Bybel
ware liefde nie, maar eerder ‘n sekulêr humanistiese idee van liefde wat geen gronde
in die geopenbaarde Woord van God het nie.

DAG 24
DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 4: EENHEID
In Sy gebed in Johannes 17 bid Jesus baie spesifiek vir die eenheid van Sy gemeente.
Paulus sê in Efesiërs 4 vers 3 ons moet "ernstig strewe om die eenheid van die Gees te
bewaar". In 1 Korinthiers 1 vermaan hy die gemeente om "almal eenstemmig te wees,
en dat daar geen skeuringe" onder hulle moet wees nie (v10). Jesus het gesterf vir die
eenheid van Sy gemeente en nou leef Hy om Sy heerlikheid bekend te maak deur die
eenheid van Sy gemeente. Gemeente-eenheid is 'n ernstige saak en skeuring is
ongetwyfeld 'n sonde en iets wat ons nooit ligtelik mag opneem nie. Maar daar is ook
'n ander kant van die saak, naamlik die reinheid van die gemeente. Die gemeente van
Jesus Christus is bedoel om beide verenig én suiwer te wees. Daarom sê Paulus net 'n
paar hoofstukke later in dieselfde 1 Korinthiers (5:11): "maar nou skryf ek aan julle
om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is
of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower
nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie." Mense wat volhard in sonde en
weier om hulle te bekeer nadat hulle pastoraal bedien en genoegsaam daaroor
aangespreek is, moet volgens die Nuwe Testament afgesny word van die gemeenskap
van die dissipels van Jesus met die doel om hulle te bring by bekering. In Efesiërs 5
vers 11 word ons vermaan om nie "gemeenskap te hou met die onvrugbare werke van
die duisternis nie, maar" om dit te "bestraf". (Sien die lys van teksgedeeltes hier
onder vir soortgelyke instruksies in die Skrif). Nou wat dan as 'n hele gemeente of
denominasie die sonde herdefinieer, die "goddelose regverdig verklaar” en die wat
hierdie gruwelike verdraaiinge uitwys as boos, “skuldig verklaar” (Spreuke 17:15)?
Hoe moet 'n mens dán onderskei tussen rein en onrein, suiwer en onsuiwer? Is ons
onder verpligting om so 'n eenheid te "bewaar"? Geensins. Die Bybel is baie duidelik
18
daaroor dat ons, ons moet afskei van sulke boosheid. Ons word beveel in 2 Tim. 2
vers 22 om geregtigheid na te jaag saam met mense wat “die Here aanroep uit 'n rein
hart". Skaar jou by mense wat beide die eenheid én die suiwerheid van die gemeente
bewaar. Eenheid sonder suiwerheid, of nog erger eenheid in onsuiwerheid, is 'n
gruwel in die oë van God en dit is net 'n kwessie van tyd voor Sy oordeel sal losbreek
oor so 'n onheilige verbintenis, as dit nie al klaar begin het nie.
"En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle
nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Openbaring
18:4).
Mag God ons die moed gee om die regte ding te doen en die wysheid om dit reg te
doen.
2 Kor. 6:14-18; Gal. 1:8-9; Rom. 16:17; 2 Joh. verse 6-11; 2 Thess. 3:6 en 14; Titus
3:10; 1 Tim. 1:18-20, 5:22, 6:3-5; 2 Tim. 2:16-21 en 3.5.

DAG 25
AS JY DINK JY WEET, WEET JY NIKS
“As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te
weet nie.” 1 Kor. 8:2
Hierdie vers sny diep en konfronteer ons met ons inherente begeerte om altyd op
hoogte te wees en tog net nooit in ‘n posisie waar ons moet erken ons het nie kennis,
of voldoende kennis, oor iets nie.  W.E. Vine parafraseer die teks as volg: “If a man
imagines he has fully acquired knowledge, he has not even begun to know how it
ought to be gained.” 
In hierdie konteks kan die gevaarlikste kennis, vreemd genoeg, Bybelkennis wees. 
Dit is hoekom Paulus in die vorige vers sê ‘die kennis maak opgeblase, maar die liefde
stig.’  Die skrifgeleerdes en Fariseërs het tonne kennis van die Bybel gehad, maar met
al hulle kennis het hulle nie raakgesien dat Jesus hulle Messias was nie.  Hoekom
nie?  Want God het die ware geestelike kennis en insig oor Sy Seun vir hulle verberg. 
Is hierdie waarheid dan van toepassing op mense wat reeds wedergebore is? 
Sekerlik!  Die Nuwe Testament is propvol waarskuwings oor die gevare van ‘n
kopkennis wat nie deur die Heilige Gees geopenbaar is nie.  Ons teks in 1 Korinthiërs
8 is ‘n goeie voorbeeld.  Pasop vir die afdraaipaadjies van die verstand as hy
onafhanklik van die Gees begin funksioneer. 
Die Here wil ons vir seker baie dinge leer, maar dit is maklik om ‘n Slimjan te raak
met ‘n kop soos ‘n waatlemoen en ‘n hart soos ‘n grondboontjie.  Ons kennis moet ons
dieper neem in verhouding met God en laat groei in liefde vir mekaar.  Die beste
moontlike kennis is om te weet dat jy niks weet (in Bybelse terme) solank as wat jy
dink jy kan alles met jou kop uitredeneer nie.  Dan alleen is jou voete stewig op die
pad na die ware kennis van God soos geopenbaar deur die Heilige Gees.  Op hierdie

19
pad is daar baie openbaringe en ‘n vaste sekerheid wat net kom deur die insig wat
God gee aan ‘n nederige en leerbare hart.

DAG 26
DIE DODELIKE GEVAAR VAN 'N MENS-GERIGTE BOODSKAP
Die Nuwe Testament lê oor en oor klem op ons hemelse identiteit, roeping en
bestemming. Ons is burgers van die koninkryk van die hemele, ons is "deelgenote
van die hemelse roeping" (Heb. 3:1), ons het volgens Hebreërs 12:22 reeds gearriveer
by die "hemelse Jerusalem" en ons staan onder 'n bevel van God om die "dinge wat
daar bo is" te soek en bedink (Kol. 3:1-2). Boonop word daar in die sterkste
moontlike terme 'n oordeel uitgespreek oor die wat slegs aardse dinge bedink

"Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle
bedink aardse dinge." Filippense 3:19

Volgens die Nuwe Testament het ons gesterf saam met Christus en behoort ons nou
eksklusief aan God sodat ons die belange van Sy hemelse koninkryk op ons hart kan
dra. God is nie onbetrokke by ons aardse omstandighede nie, maar Hy roep alle
dissipels op om allereers en in elke omstandigheid Sý koninkryk te soek, Sý naam te
vereer en Sý wil uit te voer (Matt. 6:9-10 en 33).

Daarom is boodskappe wat net fokus op mý omstandighede, mý finansies, mý


gesondheid en mý sukses 'n erge misbruik van die Skrifte en 'n baie ernstige
mistasting. God het ons gered om op Hom te fokus. Hy weet mos in elk geval hoe om
te kyk na Sy kinders en Hy gee ons wat ons werklik nodig het, nie wat ons dink ons
moet hê nie. Sý fokus is om van ons geestelike mense te maak wat besorg is oor
verlore mense, dissipelskap, geestelike groei en die uitbreiding van Sy koninkryk.
Wees op die uitkyk vir boodskappe wat Bybeltekste uit konteks aanhaal om 'n mens-
gerigte "evangelie" te probeer regverdig. Dit is dodelik gevaarlik en die slagoffers tel
in die tien duisende in ons generasie.

DAG 27
GELOOF IN GELOOF OF GELOOF IN GOD?
Daar is ‘n massiewe aanslag op Bybelse geloof in ons tyd, en hierdie aanslag kom nie
uit die sekulêre wêreld nie maar van binne die kerk.  Bybelse geloof is geloof in God,
nie geloof in geloof nie. 
Ons geloof kan volgens die Bybel net in werklikheid sterker word namate ons in
Christus meer sien van Gód se Vaderskap, karakter, liefde en betroubaarheid. 
Derduisende gelowiges vandag het die leuen gesluk dat God van ons verwag om te
visualiseer, “positief” te dink en “positief” te bely en dat ons sodoende ‘n realiteit kan
skep op hierdie aarde wat God se wil ‘n werklikheid sal maak.  Volgens hierdie valse
benadering staan God magteloos en wag dat óns outoriteit moet neem en begin dink
en praat wat ons wil sien gebeur in ons lewens.  Sukses, gesondheid, finansies, of wat
ek ookal nodig het lê binne my bereik as ek dit maar net lank genoeg visualiseer,
bedink, en aanhou bely.  Dít is nie Christenskap nie, maar eerder “Christian Science”. 
20
Skakel maar net die televisie aan op een van die godsdienskanale en jy sal hierdie
leuen in een of ander vorm iewers in die meeste van die boodskappe vind.  Die
waarheid is dat God die mens geskep het as 'n afhanklike wese!  Jesus het na hierdie
aarde gekom en aan ‘n kruis gesterf om ons terug te bring na ‘n plek van absolute
afhanklikheid van God, nie om ons in ons eie droomwêreld te plaas waar ons God
begin speel nie.  Jesus is dié Seun van God en Hy het gesê toe Hy op aarde was “die
Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat
Hy doen, dit doen die Seun ook net so” (Joh. 5:19). 
Daar is nog talle sulke stellings van afhanklikheid in die evangelie van Johannes waar
Jesus, die Leidsman van ons geloof, vir ons demonstreer hoe ons veronderstel is om
te leef op hierdie aarde.  Ware dissipels van Jesus groei in afhanklikheid van God, en
hulle denke en woorde is in alles onderworpe aan die Vader se wil.  Die Vader soek ‘n
gesindheid van afhanklikheid by ons.  Hy wil hê ons moet in verhouding leef met
Hom.  Verhouding is die sleutelwoord!  Hierdie verhouding vind ons net in Christus. 
Hy het eens en vir altyd vir ons kom wys dat net ‘n lewe van absolute afhanklikheid
van die Vader en onderwerping aan Sý wil 'n werklik geseënde lewe is. 
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” Mattheüs 5:3 (NAV)

DAG 28
GENADE VIR MY, VEROORDELING VIR JOU
Ons is geneig om instinktief vir onsself barmhartigheid te gee en regverdigheid van
ander mense te verwag. Miga 6 vers 8 leer ons dat ons van onsself geregtigheid moet
verwag en vir ander mense barmhartigheid moet gee.
“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou
anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”
Miga 6:8

“He has told you, O man, what is good; and what does the LORD require of you but
to do justice, and to love kindness, and to walk humbly with your God?” Micah 6:8
(ESV)

Ons mag die vergifnis wat Jesus vir ons met Sy kruisdood bewerkstellig het omhels
met alles wat in ons is en met dankbare harte ons daagliks verheug daarin. Die vraag
is net, gun ek vergifnis in Jesus vir die mense met wie ek saamleef en skouers skuur
in ‘n gebroke wêreld of verwag ek van hulle om altyd reg op te tree teenoor my terwyl
ek my eie ongeregtigheid baie gemaklik vee onder die mat van “vergifnis”? Die
“liefde” wat Miga 6 my vra om te “betrag” is liefde vir ander mense. Hoe kan ek God
se liefde bewys aan ander deur die barmhartigheid van God so te spieël dat hulle in
Jesus beide barmhartigheid en geregtigheid sien en sodoende getrek word na ‘n lewe
van vergifnis, maar ook integriteit en regverdigheid?

Ons kan tog so maklik vir dae lank tob oor wat ander aan ons gedoen het en dan
vergeet ons blitsvinnig van die onreg wat ons ander aangedoen het. ‘n Vinnige “ag
jammer jong”, of dalk glad nie!, en dan gaan ons aan met ons lewens asof niks gebeur
21
het nie. As hulle ons onreg aangedoen het, verwag ons daarenteen ‘n lang en ernstige
belydenis…met nabetragting vir so ‘n week of wat, asseblief. Kom ons erken maar
liewer dat die sondeval ons skaal van reg en geregtigheid geheel en al gebreek het.
Die goeie nuus van vergifnis in Jesus was nooit bedoel om van ons genadevrate vir
onsself en genade-onthouers vir ander te maak nie. Dit was bedoel om ons in te lei in
‘n teen-kulturele lewe wat barmhartigheid uitstraal en terselfdertyd myself hou aan ‘n
Skrifgebaseerde geregtigheid en regverdigheid, in die krag van die Heilige Gees
natuurlik. En as ek faal dan weet ek daar is vir my ook vergifnis in Jesus. Let op hoe
Jesus hierdie twee dinge langs mekaar stel.

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Mattheüs 5:6-7

DAG 29
HOE DEFINIEËR JY OORVLOEDIGE LEWE?
Die oorvloedige lewe waarvan Jesus praat in Johannes 10 vers 10 is Sy eie lewe wat
Hy gekom het om in almal te plaas wat in Hom sou glo. Ons het gedurig nodig dat die
Heilige Gees ons perspektief op "oorvloedige lewe" aanpas en wysig. Ons is so geneig
om ons lewens te meet aan die natuurlike en materiële in plaas van die bonatuurlike
werklikheid van ons eenheid met Christus.
Ons kan die beste moontlike omstandighede beleef, maar as die opstandingslewe van
Christus nie in en deur ons vloei nie is dit níé oorvloedige lewe nie. Die teendeel is
ook waar. Ons kan die swakste en treurigste omstandighede beleef (soos Paulus in die
tronk), maar as die opstandingslewe van Christus in en deur ons werk, is ons as't
ware omsingel deur “oorvloedige lewe”. 
As daar vrede, blydskap, liefde, hoop en lankmoedigheid in ons binnewêreld heers is
ons oorwinnaars selfs in die swakste omstandighede denkbaar. God verander ons
omstandighede met tye en ander kere nie. Die belangrike vraag is egter hoe definieër
ek en jy “oorvloedige lewe”. Wat is jóú definisie van oorvloedige lewe?
“Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging
van die evangelie bevorder het.” Filippense 1:12
"Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in
benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Korinthiërs
12:10

DAG 30
JESUS SELF IS DIE WAARHEID!
Die gemeente van die Here word in 1 Timotheüs 3:15 "'n pilaar en grondslag van die
waarheid" genoem. In 'n wêreld van leuens, verwarring, verdraaide boodskappe, en 'n
massiewe verskeidenheid van uiteenlopende leringe is dit van kardinale belang dat
ons styf vashou aan die suiwer waarheid van die evangelie. Die belangrikste van alles

22
is dat ons moet verstaan dat Jesus self 'die Waarheid' is (Jn. 14:6). Daarom moet ons
alles oor Sy Persoon, Sy verlossingswerk, en Sy koninkryk verslind en koester.  Maar
ons moet ook seker maak dat Hy alleen die middelpunt bly van ons gemeentelewe, en
al ons leringe, besluite en aktiwiteite. Kinderlike gehoorsaamheid aan Hom bo alles,
selfs al is dit onpopulêr, is die sentrale vereiste van ons Vader. Sodoende sal ons nie
net in ons leer nie, maar ook in ons lewe, gesindhede en verhoudings die kosbare vrug
van Sy Heerskappy sien.

DAG 31
VRUGTELOSE BYBELSTUDIE
"Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van
die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof
verenig was nie." Hebreërs 4:2.
"Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met
sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red." Jakobus
1:21
"Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle
kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk
van die woord, dat julle daardeur kan opgroei," 1 Petrus 2:1-2.
"En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n
edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra." Lukas 8:15
Hoekom is ons Bybelstudie met tye vrugteloos? Hoekom is dit so dat 'n mens gereeld
met die Bybel kan werk en besig wees sonder dat dit 'n noemenswaardige verskil in
jou lewe maak? Wanneer ons die bostaande vier teksgedeeltes saam beskou en
herkou, word dit duidelik dat die Woord van God op 'n baie spesifieke manier
ontvang moet word as ons die effek daarvan in ons daaglikse lewens wil sien.
Hoekom so spesifiek? Want as ons met die Bybel werk, is ons besig met meer as 'n
boek, selfs 'n Goddelik geïnspireerde boek. Ons is besig met 'n Persoon. Daarom
bring 'n bloot akademiese, intellektuele of selfs sentimentele benadering nooit die
resultate wat die Bybel self belowe nie. Uit die vier teksgedeeltes hierbo kan ons die
volgende afleidings maak:
 ons moet die Persoon wat spreek in die Bybel onvoorwaardelik vertrou en Sy
woorde en beloftes met geloof ons eie maak

 ons kan nie vashou aan die wêreld met die een hand en die Woord met die
ander hand en dan verwag die Bybel moet kragtig werk in ons harte nie

 ons moet die Woord met 'n sagmoedige nederigheid ontvang en dit sodoende
toelaat om as't ware ons innerlike meubels te herrangskik soos wat ons dit
gehoorsaam

23
 ons moet honger en dors wees vir die Woord van God, want dit is soos 'n
maaltyd, dus meer as net woorde

 ons moet die Woord vashou met 'n rein en edel hart en volhard daarin.

Dit is die basiese gesindheid waarin die Woord ontvang moet word en die effek
daarvan sal altyd kragtig wees. God self belowe dit.

FEBRUARIE: VERENIG MET CHRISTUS

DAG 1
DIE NUWE ERA IS HIER!
"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het...om die aangename jaar
van die Here aan te kondig." Lukas 4:18-19
Jesus se koms na hierdie aarde was die begin van 'n splinternuwe era. Heel aan die
begin van Sy bediening kondig Hy aan dat die "aangename jaar van die Here"
aangebreek het. Die jaar (lees "era") van die guns van God op grond van Jesus se
verlossingsverdienste was ingelui. Jesus kon dit aankondig selfs voor Hy na die kruis
gegaan het, want Hy het reeds in Homself die nuwe era bedien aan mense.
Ek en jy leef twee duisend jaar plus in die nuwe era in. Die vraag is egter of ons dink
en leef vanuit hierdie werklikheid. Baie van ons kan terugdink aan ‘n goue era in ons
eie lewens toe alles vir ons waarskynlik aangenaam, vars en vreugdevol was. So leef
ons dikwels in herinneringe van wat was óf dalk ‘n vae hoop van wat kan wees.
“Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige?
want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” Prediker 7:10

God daag ons uit om ons bewussyn te verander en dit in lyn te kry met die
werklikheid van die evangelie wat hier en nou waar is en rewolusionêre verandering
in ons lewens kan bring mits ons dit glo en met oorgawe omhels. Ons kan nie ons
gisters terugkry nie, maar ons môres kán gevorm word deur die heerlikheid en krag
van die Goeie Nuus wat vandag en vir ewig waar is in Christus!

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige
en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2

DAG 2
DIE GEHEIME VAN GOD VIR KINDERTJIES

"In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en
die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan
kindertjies geopenbaar het." Mattheüs 11:25

24
Die slim en geleerde mense in Israel kon nie verstaan wie Jesus was of wat Sy missie
was nie. Hulle  het nie besef dat al die 'verborge skatte van wysheid en kennis' net in
Hom te vinde was nie (Kol. 2:3). Hulle het 'die Skrifte ondersoek' sonder om Jesus,
die sleutel tot die Skrifte, raak te sien (Jn. 5:39).

Die verborge skatte van die koninkryk word net openbaar aan die wat 'weet hoe
afhanklik hulle van God is' (Mt. 5:3) en aan die wat 'rein van hart is' (Mt. 5:8), m.a.w.
aan 'kindertjies'. Maar let wel, net aan 'kindertjies' wat honger en dors na die
openbaring van God en Sy koninkryk in Christus; aan dissipels wat 'bly in Sy Woord'
(Jn. 8:31).  

"Sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van
God." 1 Kor. 2:5

"Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek
was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid." 1 Kor. 2:7
"He [Christ] is the key that opens all the hidden treasures of God's wisdom and
knowledge." Colossians 2:3 (GNB)

DAG 3
GOD HET FINAAL GESPREEK IN SY SEUN
Satan sal alles in sy vermoë doen om die klem weg te neem van Jesus af en dit op
“goeie” dinge te plaas, maar dinge wat ons weglei van God se meesterplan. 2
Korintiërs 11:3 (Bybel in Afrikaans 1983/1992) sê immers:
“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en
suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die
slang.”
Die grootste fout wat ’n dissipel of ’n gemeente ooit kan maak, is om Jesus as
vanselfsprekend te aanvaar.
Jesus plus niks is gelyk aan alles, maar Jesus plus enigiets is gelyk aan niks! Alles wat
die Vader ooit vir ons wou gee, is in sy Seun. In Hom alleen het ons die volheid (Kol
2:10). In Hom alleen vind ons totale vervulling. Die oomblik wat ons dink daar is iets
ekstra wat ons uit onsself kan byvoeg om ons lewe as dissipels meer volkome te maak,
val ons in die strik van die Satan en verloor ons die belewenis van die volheid wat ons
in Jesus het. In ‘n sin is die geloofslewe net ‘n toenemende ontdekking van alles wat
ons in Christus ontvang het met die wedergeboorte.
“Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders
deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” Heb.
1:1
God het finaal gespreek in sy Seun.

DAG 4
25
ALLES HET VERANDER MET JESUS SE VLEESWORDING

Alles het verander met Jesus se koms na hierdie aarde. Hoekom? Want nie net was
Hy die Messias van die Jode nie, Hy was ook van die begin van die skepping af die
Een deur wie en tot wie alle dinge geskape is.

"Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik
en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur
Hom en tot Hom geskape." Kolossense 1:16

En meer as dit, alle dinge word slegs in Hom in stand gehou.

"En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand." Kolossense 1:17

Daarom is dit absoluut essensieël vir ons om alle dinge te weeg en bereken in
verhouding met Jesus. Nie net is die gelowige Jode se benadering tot hulle godsdiens
vir altyd verander nie, maar alles in die skepping het 'n nuwe betekenis gekry met die
openbaarmaking van "die mens Christus Jesus" (1 Tim. 2:5). Ons hele lewe op aarde
en ons ewige bestemming het vir altyd verander in Christus. Ons moet ons denke
vernuwe om oor elke aspek van ons lewens te dink binne die ruimte van die Christus-
openbaring. Nie net ons "geestelike lewe" nie. Blaai bietjie na Kolossense 1 en lees
verse 15 tot 20 in hierdie lig.

DAG 5
CHRISTUS, WAT ONS LEWE IS
"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word..." Kolossense 3:4
Christus is nie soos 'n wonderlike bestanddeel in 'n bredie wat jy by al die ander
bestanddele kan voeg om dit nog lekkerder te maak nie. Hy is ook nie enigsins
beïndruk daarmee dat ons op 'spesiale dae' in die jaar of een dag 'n week baie
godsdienstig raak en dan vir 'n rukkie aan Hom dink nie. Hy is eerder soos die
suurstof in ons atmosfeer wat oomblik-vir-oomblik vir ons lewe gee en waarsonder
ons nie kán leef nie. Christus ís ons lewe, Hy is nie 'n deel van ons lewe of selfs net die
beste deel nie.
"Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape" en "in Hom hou alle dinge stand"
Kolossense 1:16-17

DAG 6
DIE ANTWOORD IS STEEDS JESUS
“Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir
hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My
gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?” Joh. 14:8-9

26
Die hele Bybel gaan oor Jesus en wil ons van aangesig tot aangesig bring met Hom (2
Kor. 3:18). Ons maak soms ons geloof so gekompliseerd en vra so baie onnodige vrae
dat ons die eenvoud mis. Wat is die eenvoud van ons geloof? Die feit dat alles wat
ons nodig het net in een Persoon en op een plek te vinde is. Hoe kan ons byvoorbeeld
God die Vader ken en Sy karakter peil? Net deur die openbaring van Jesus in die
Bybel. As ons geloofsoë oopgaan en ons “sien” Hom, het ons outomaties ook die
Vader gesien. Jesus is “die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy
wese” (Heb. 1:3). Jy hoef nie te wonder nie en jy hoef nie verward te wees nie. Bly by
die eenvoud van jou geloof.
Alles wat ek en jy nodig het, is in Jesus. Net omdat jy op ‘n moeilike plek in jou lewe
is, beteken dit nie die antwoord gaan skielik verander en dat daar nou ‘n ander
oplossing is nie. Die antwoord is steeds Jesus. Die manier wat die Vader vir jou
uitkoms gaan gee, is steeds eenvoudig deur om vir jou meer van Sy Seun te wys en te
openbaar. Slegs hierdie openbaring bring geloof (Rom. 10:17) en dáárdie geloof stel
jou in staat om op die branders te loop, bo die omstandighede van die lewe.

DAG 7
DIE BESTE PRAKTIESE RAAD VIR DISSIPELS VAN JESUS

"Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand." Kolossense 1:17 (NAV)
Die Vader het bepaal dat Sy Seun sentraal moet staan in alles in die heelal. As 'alles
deur Hom in stand bly', dan beteken dit ook dat alles buite Hom uitmekaar val.
Daarom kan ons as dissipels van Jesus in elke omstandigheid en by elke geleentheid
nie genoeg vir mekaar herinner nie, 'maak seker dat jy onderworpe is aan Jesus se
Koningsheerskappy in elke area van jou lewe’. Ons durf dit nooit as vanselfsprekend
aanvaar nie. As Jesus werklik sentraal is in jou lewe, sal jy deur die Gees van Sy eie
wysheid, insig en krag voorsien word om as oorwinnaar uit elke moontlike situasie te
stap (Rom. 8:37). Hou net in gedagte dat oorwinning vir dissipels nie altyd dieselfde
lyk as wat oorwinning vir die wêreld lyk nie (sien 2 Kor. 4:7-11). Vir die wêreld mag jy
dan dalk nie noodwendig lyk soos 'n oorwinnaar nie, maar volgens God se standaarde
wel en al wat saak maak is Sý standaarde!
As jy voel dit is nie vir jou werklik praktiese raad nie, moet jy dalk gaan dink daaroor
of jy nie gefokus is op die verkeerde koninkryk nie.  Die koninkryk van God het te
doen met geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees in elke omstandigheid
van jou lewe nou en vir ewig (Rom. 14:17).  Hierdie koninkryksrealiteite manifesteer
egter slegs op die plek waar ons, ons eksklusief onderwerp aan Jesus as absolute
Alleenheerser en Koning.

DAG 8
DIE GEESTELIKE BELANGSTELLING VAN DIE NUWE MENS IN CHRISTUS

27
Dit is baie duidelik in die blaaie van die Nuwe Testament dat "die mens in Christus"
se geestelike sintuie met die wedergeboorte aangeskakel is. Dit is ook dan die primêre
rede waarom hierdie nuwe mens in Christus se belangstelling so radikaal verskil van
die ou mens in Adam. Jesus het dit baie duidelik gemaak in Johannes 3 dat slegs
mense wat wedergebore is die koninkryk kan "sien". Hierdie "sien" het
vanselfsprekend niks te doen met fisiese sig nie.
”Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie
weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." Johannes 3:3

Verder kan slegs hierdie dissipels wat weer gebore is Jesus se stem hoor in die Skrif
en Hom dan in alles leer gehoorsaam. 
"Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei,
en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder." Johannes
10:16

Die nuwe mens in Christus stel belang in die wese en persoon van God, die
koninkryk, die hemelse en ewige werklikhede, geregtigheid, heiligheid, ensovoorts.
Vir die ou mens in Adam is al hierdie geestelike dinge vaag en dit interesseer hom nie
werklik nie. Hy stel baie meer belang in dit wat sy lewe op aarde kan verbeter en vir
daardie doel is hy dikwels bereid om sekere opofferings te maak, binne perke
natuurlik. Veral as daar nog 'n assuransie vir die ewigheid ook belowe word.

Die "ou mens" kan baie godsdienstig wees en selfs 'n intellektuele of antikwariese
belangstelling in die Bybel hê, maar die soeke na verhouding met God en die begeerte
om geestelik te groei laat hom in werklikheid koud. Soms wonder mens oor die soort
"geestelike" lektuur en media boodskappe wat ons generasie fassineer. In so 'n
klimaat raak dit juis soveel belangriker om seker te maak dat ons werklik die nuwe
lewe in Christus ontvang het wat net in die wedergeboorte aan ons geskenk word.

DAG 9
DIE HEILIGE GEES SÊ "KOM KYK WEER"
As dit waar is dat die satan se grootste strategie is om mense se oë te verblind sodat
hulle tog net nie die heerlikheid van Christus moet sien nie (2 Kor. 4:4), dan volg dit
logies dat die 'stryd van geloof' (1 Tim. 6:12) vir die dissipels van Jesus alles te make
het met ons heilige vasberadenheid om aan te hou om hierdie heerlikheid te aanskou
(2 Kor. 3:18).
Die eerste keer wat jy in die krag van die Gees die heerlikheid van Jesus in die
evangelie gesien het, het dit reddende geloof in jou hart wakker gemaak en jou
onomkeerbaar oorrompel. Nou dat jy 'n dissipel is, moet jy presies net soos daardie
eerste keer jou vreugde aanwakker en behou (Kol. 2:6).  Jy moet bly by hierdie
eenvoudige benadering tot die Christelike lewe (2 Kor. 11:2-3).  Die satan gebruik
veral vormgodsdiens, maar ook sorge, verleiding van die rykdom en begeertes na
ander dinge (Markus 4:19) om jou fokus te skuif en jou te laat wegsink in ongeloof of

28
'n sieldodende wettisisme met die doel om die lig van die evangelie in jou lewe te
verdoof en jou vreugde en liefde in Christus te steel.  
Net so ook gebruik hy teleurstellings in jou verhoudinge in jou gesin, familie,
vriendekring, en gemeente om jou af te takel en moedeloos te maak.  Sodoende bring
hy jou stelselmatig by 'n plek waar jy nie meer 'n vaste vertroue het dat die krag van
die heerlikheid van Christus groter is as al die teleurstellings en kragte en magte van
satan nie.  Hy wil hê jy moet heeltemal ophou glo dat God se liefde in Christus oor al
die negatiewe dinge in die gevalle skepping kan triomfeer.  
Daarom is dit krities belangrik dat jy sal luister na die Heilige Gees wat jou oor en
oor, weer en weer, en nog 'n duisend keer roep met 'n dringende appél "kom kyk
weer"!  "Aanskou weer die heerlikheid van Christus."  Laat die Gees toe om Jesus
weer en weer voor jou af te skilder (Gal. 3:1) op tientalle plekke in die
Woord totdat jou hart weer brand met die vreugde van die evangelie en jy jou eie
ongeloof en/of wettisisme oorwin het en die liefde van Christus in jou kan deurbreek
en begin om al die liefdeloosheid rondom en binne jou te verslind.  En terwyl jy lees,
bid; bid en hou aan bid vir openbaring (Efes. 1:15-17).

DAG 10
DIE OPSTANDINGSLEWE VAN DISSIPELS
Die groot skeidingslyn in elke gelowige se lewe kom die dag wanneer hy die finaliteit
van die kruis sien. Die hele Christelike lewe kan vanuit twee perspektiewe bekyk
word. Van die buitekant mag twee gelowiges byvoorbeeld presies dieselfde dinge
doen, maar as ons na hulle innerlike motivering sou kyk, mag daar ‘n reuse verskil
wees. Die een verstaan die finaliteit van die kruis en derhalwe lewe hy op
opstandingsgrond en in opstandingskrag. Die ander een ken slegs die vergifnis van
die kruis en dus lewe hy primêr in die krag van sy eie besluite. Sekerlik word ons op
baie plekke in die Nuwe Testament sterk vermaan om ywerig te wees en die regte
besluite te maak, maar al hierdie vermanings is gebaseer op ons posisie as
gekruisigde mense.

Ons totale lewe en bestaan as dissipels van Jesus is gebaseer op ‘n baie spesifieke
gebeurtenis, naamlik die kruisiging van Jesus. Toe Jesus aan daardie kruis gesterf
het, het Hy nie slegs vir ons gesterf nie, maar ons het saam met Hom gesterf. Jy het
gesterf vir die ou, onafhanklike Adamiese lewe en is daarom onder verpligting om
nou in die krag en wysheid van Christus te leef, nie jou eie nie. Dit is nie ‘n wens of ‘n
belofte nie, maar ‘n feit. Jy hoef dit nie te maak werk nie. Jy moet net in geloof
daaruit begin leef.

DAG 11
DIE HOOFOORSAAK VAN ONGEHOORSAAMHEID
Die hoofoorsaak van ongehoorsaamheid in 'n ware dissipel se lewe is verkoelde liefde
teenoor Jesus. Johannes sê in sy eerste brief, "Die liefde vir God bestaan dan daarin
29
dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie"
(1 Joh. 5:3). Liefde maak 'n las lig, niks anders nie.
"Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae,
want hy het haar liefgehad." Genesis 29:20
Moenie die oorsaak vir ‘n ongehoorsame lewe vireers op ander plekke soek nie. Die
hoofoorsaak is sonder enige twyfel liefde vir Jesus wat getaan het. Moenie net die
simptome behandel nie, gaan na die oorsaak. Begin daar. Keer terug na jou “eerste
liefde” (Openb. 2:4-5) en daar sal weer sin en orde in jou lewe wees. Ons is herskep
om in alles te leef vanuit ons primêre verhouding, ons verhouding met Jesus.

DAG 12
GLO JY WERKLIK DAT CHRISTUS IN JOU LEEF?
“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon…” Efesiërs 3:17
As ons Jesus van Nasaret slegs as ‘n historiese figuur sien wat tweeduisend jaar
gelede geleef en sekere dinge vir ons gedoen het, sal ons nooit die volheid van ons
eenwording met Christus beleef nie. Die historiese feite oor die lewe, dood en
opstanding van Jesus is uiters belangrik (1 Kor. 15:1-4), maar as ons nie die
eindresultaat van die werk van Christus raaksien nie, naamlik “Christus in jou”, lewe
ons soos wese tussen die eerste en tweede koms van Jesus. Dit is God se wil vir ons
om nou alreeds ons eenheid met Christus wat in ons leef, te ken en te ervaar. Ons is
intiem verenig met Christus en ons moet ons volle aandag skenk aan hierdie
onuitspreeklike voorreg. Die Weymouth vertaling van Efesiërs 3:17 sê: ‘I pray that
Christ may make His home in your hearts through your faith’. Tensy ons in geloof die
teenwoordigheid van Christus binne-in ons herken, sal Hy nie tuis wees in ons harte
en Sy teenwoordigheid begin openbaar in ons nie. Prakties gesproke beteken dit ook
dat ons moet ophou om te leef van die uiterlike na die innerlike. Daarteenoor moet
ons deur geloof lewe op die basis van ‘n nuwe lewe wat diep binne-in ons woon. Die
vraag is nie of jy dit voel nie, maar of jy dit gló!

DAG 13
JESUS EERSTE IN ALLES
Die Bybel leer nie dat Jesus my eerste prioriteit moet wees, en dan volg my gesin, die
gemeente, my beroep, ens. nie.  So asof ek eerste aandag aan Jesus gee en dan het ek
die vryheid om in ander domeins van my lewe my eie ding te doen.  Eerder dat Jesus
eerste in álles in my lewe moet wees.  Dit beteken dus Jesus is eerste en ten volle
betrokke in my gesin, my gemeentelewe, my beroepslewe, ens.  Ek het nie ‘n aparte
godsdienstige lewe waar Jesus in beheer is en dan ander lewens waar ek eintlik
onafhanklik leef en maar net vir Hom vra om dit asseblief te seën nie.  Ek het net een
lewe, en dit is Christus (Kol. 3:4). 

30
DAG 14
JESUS SE VOETSPORE IN MY
Om te probeer volg in Jesus se voetspore met my eie krag en wysheid of natuurlike
ywer en vermoëns is die mees absurde idee en poging denkbaar! Dit is regtig soos die
Engelse uitdrukking sê “a fool’s errand”. Hoe kan ‘n mens ooit soos God wees of eers
probeer om soos Hy te wees? Ek kan net volg in Jesus se voetspore deur te let op Sy
lewende “voetspore” in my. Paulus laat géén ruimte vir enige ander siening oor die
lewe van ‘n dissipel van Jesus nie:
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En
wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Galasiërs 2:20

As hierdie vers in Galasiërs en soortgelykes in die Nuwe Testament vir jou obskuur,
vaag en onverstaanbaar is, is jy ongetwyfeld nog aangewese op jou eie pogings om te
“volg in Jesus se voetspore”. Dit is ongelukkig nodig om dit so kategories te stel, want
sonder hierdie waarheid leef ‘n mens op jou heel beste net ‘n godsdienstige self-lewe
en nie ‘n bonatuurlike Christus-lewe nie. Jesus leef in my en jou deur die
wedergeboorte en dit is net in verhouding met Hom wat ons die ritme van Sy lewe in
geloof begin optel en sodoende kan volg in Sy voetspore. Die lewe van ‘n dissipel is
nie die Heilige Gees wat my help om soos Jesus te wees nie, maar eerder die Heilige
Gees wat Christus in en deur my openbaar.

DAG 15
NET EEN LEWE
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.  Want julle het
gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol. 3:2-3
“As ons dan saam met Christus gesterf het...” Rom. 6:8
Solank as wat ons die dood en opstanding van Jesus net sien as historiese gebeure
wat iets vír ons moontlik gemaak het, mis ons steeds die groter krag van die
evangelie.  Dit is inderdaad ‘n wonderlike dag wanneer ek kan bely Jesus het vír my
gesterf en opgestaan.  Die dag wat ek egter sien ek het sáám met Hom gesterf en
opgestaan is die dag wat ek besef ek het net een lewe voor God.  Dit verander álles! 
Ek is in Christus ‘n nuwe mens wat nog leef in ‘n sterflike liggaam op ‘n gevalle
planeet waar daar steeds bose magte en kragte opereer.  Ek is nie ‘n vergeefde “ou
mens” wat besig is om ‘n “nuwe mens” te word nie.  Ek is nie een dag ‘n “ou mens” en
die volgende dag ‘n “nuwe mens” nie.  Selfs al tree ek soms nog so op!  As dit waar is
(en dit is) plaas dit my onder verpligting om anders te begin dink.  Ek moet my “ou
mens-nuwe mens” gedagtes eens en vir altyd laat vaar en gló dat my hemelse
identiteit nou en vir altyd my onveranderlike “in Christus” werklikheid voor God is,
en dan begin lééf daaruit.

DAG 16
31
VERNUWING IN JESUS VIR DIE WAT LEWENSMOEG IS
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheüs
11:28 ‘

Hoe verfrissend eenvoudig is hierdie uitkoms wat Jesus gee vir almal wat “vermoeid
en belas is”. Is jy moeg en tam? Voel jy uitgeput en lewensvoos? Voel dit of jy altyd
te min tyd het en te veel take wat afgehandel moet word? Is die druk by die werk
ondraaglik en dan het jy dalk boonop spanning by die huis? Slaap jy sleg en dan lê
die eise van ‘n nuwe dag soos ‘n massiewe berg voor jou? Die werksprobleme,
verhoudingsprobleme, gesondheidsprobleme, en finansiële probleme hoop net op.
Miskien het jy al allerhande dinge en selfs medikasie probeer om die las te verlig.
Dalk het jy ‘n bietjie verligting beleef, maar die druk van die lewe hou net nie op nie
en dit raak alles te veel vir jou.
As jy ‘n dissipel van Jesus is wat al ‘n tyd met Hom stap, is jy heel moontlik vertroud
met ‘n verskeidenheid geestelike antwoorde en oplossings vir jou lewensmoegheid.
Dalk is baie van hierdie antwoorde en oplossings wat aan jou gegee is eintlik maar net
sielkundige motiveringsbeginsels met ‘n Christelike sousie oor om dit legitimiteit te
gee. Die Bybel het baie antwoorde vir elke moontlike menslike dilemma en stryd,
maar in werklikheid kan al die antwoorde gereduseer word tot een enkele antwoord,
Jesus! Hy self is die antwoord. Hý is die Weg uit die verwoesting, skuld en skande
van sonde, Hý is die Waarheid wat vrymaak van leuens, misleiding en ‘n duistere
verwardheid, Hý is die Lewe wat ‘n situasie van totale doodsheid in ‘n oomblik kan
verander met die opstandingskrag wat deur Hom bruis. As jy moeg en tam is vandag
dan bid ek dat die kragtig-eenvoudige woorde van Jesus, “Kom na My toe”, ‘n weg sal
vind deur al jou skanse, teleurstellings en mislukkings en sal deurdring tot binne-in
jou hart. Dis al. Net dit. Kom stort jou hart uit by Hom en lê al jou laste op Hom.
Bely net weer jou liefde en totale oorgawe aan Hom en Hy belowe ongekende rus en
vernuwing wat niks of niemand op aarde vir jou kan gee nie. Hy nooi jóu vandag uit
met Sy uitnodiging wat steeds deur al die eeue onveranderd bly staan, “Kom na My
toe”.

DAG 17
VEROORDELING VERSUS OORTUIGING
Daar is ‘n radikale verskil tussen veroordeling en oortuiging.  Die Heilige Gees
oortuig ons om ons by bekering en hartsverandering te bring in spesifieke areas van
ons wandel met Jesus.  Godsdientige veroordeling maak mense gewoonlik of hard en
wetties; of dit maak hulle moedeloos en laat hulle opgee.  Die oortuiging van die
Heilige Gees is genesend en opbouend en as ons Sy stem gehoorsaam maak dit ons
vry en gee ons moed om aan te gaan na dieper dieptes en hoër hoogtes in Jesus. 
Hierdie is geen verskoning vir ‘n trivialisering van sonde nie, maar miskien ken jy
meestal net die veroordeling van die godsdiens.  Dan het ek goeie nuus vir jou.  Die
oortuigende stem van die Gees wil jou sonder veroordeling in kontak bring met die
ware kondisie van jou hart en jou dan lei na ‘n heerlike vryheid in Christus.  Glo dit. 
Dis waar!

32
DAG 18
VREUGDE EN VRYHEID IS JOU VOORLAND
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Fil. 4:4
Ware vryheid vind ons net op die pad van vreugde in Jesus Christus. Hierdie twee
loop altyd saam.  Wanneer ek albei my oë op Jesus het en ek al my vreugde in Hom
vind, kan ek nie anders as om vry te wees van enigiets anders wat probeer om my te
bind en van my ‘n slaaf te maak nie.  Ons is so aanmekaar gesit deur God dat ons
harte net nooit tot rus kom voordat ons nie sien dat Jesus werklik totale bevrediging
gee vir die wat op Sý liefde reageer het nie.  En net daar lê die sleutel tot ‘n lewe van
toenemende vreugde en vryheid.  Die opdrag om ons altyd te “verbly in die Here” is
nie bedoel om ‘n saak van vasbyt-en-deurdruk te wees nie.  Laasgenoemde is een van
die grootste leuens van vormgodsdiens.  Ek vind my vreugde in Jesus wanneer ek Sy
groot liefde vir my in die evangelie ontdek en dan gedurig my hart hou onder die
invloed van daardie evangelie-liefde!  En die vryheid sal áltyd volg.  Sy liefde wen my
liefde en die vryheid volg; salige genade-ketting en dis jou voorland in Jesus. Glo dit!

DAG 19
NET VERVULLING IN CHRISTUS KAN MISLEIDING ONTMASKER EN
ONTWAPEN

Alles wat ons nodig het, is in Jesus. Ons is in Hom en Hy is in ons. In Hom het ons
volle toegang tot al die bedieninge van die Heilige Gees. Deur Sy bloed en
geregtigheid het ons vrye gemeenskap met die Vader. In Hom is ons ook een met alle
ander mense wat deur die wedergeboorte in Hom is (1 Kor. 1:30).

Terwyl ons Sy heerlikheid aanskou groei ons geestelik en word ons meer en meer soos
Hy, soos wat Hy in ons gevorm word (2 Kor. 3:18; Gal. 4:19). Christus is ons fokus en
Sy karakter in ons gevorm is die doel. Ons lees ons Bybel en vertrou die Heilige Gees
om Jesus daarin te openbaar. So volg ons Jesus in gehoorsaamheid aan Sy
wonderlike werkinge in ons deur Woord en Gees. Dit is die eenvoud van die lewe van
'n dissipel en ook die eenvoud van gemeentelewe. Tensy ons natuurlik ons fokus en
doel uit die oog verloor en op sypaadjies begin stap. Dan raak gemeentelewe
gekompliseerd en beland ons in die doolhof van die self-lewe, dogmatisme, geestelike
hoogmoed, kerkisme, dooie tradisie, ritualisme, wettisisme, ensovoorts.

Satan weet baie goed dat ons oorwinning slegs in 'n radikale Christus-fokus is en
daarom doen hy alles in sy vermoë om ons te beroof van die eenvoud van 'n totale
fokus op Hom en volle vergenoegdheid in Hom (2 Kor. 11:2-3). Hy pas sy misleidings
aan vir maksimum effektiwiteit ooreenkomstig die spesifieke individu, groep of
gemeente wat hy wil mislei. Sy doel bly egter altyd dieselfde en dit is om ons subtiel
weg te lei van vervulling in Christus en dan vanuit ons onvergenoegdheid aan ons
allerhande alternatiewe vervullings te verkoop.

33
"Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun
van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat
ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf
word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om
listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in
alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus." Efesiërs 4:13-15

DAG 20
OM TE SIEN SOOS GOD SIEN
“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is
en aan die regterhand van God sit.  Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die
aarde is nie.” Kolossense 3:1-2
Kan dit werklik wees dat God van ons verwag om na alles in ons lewens te kyk vanuit
‘n hemelse perspektief?  Hoe kan mense wat in tyd en ruimte leef op planeet aarde en
wat in ‘n bepaalde kultuur en verwysingsraamwerk geskool en gevorm is God se eie
verwysingsraamwerk begryp en dan dááruit begin leef?  Dit is net moontlik op grond
van die wedergeboorte waardeur die lewe van God in ons gees geplant word en die
daaropvolgende nuwe begrip van die Bybel wat volgens Jesus “gees en lewe" is (Jn.
6:63). 
Vir mense wat nie wedergebore is nie bly die Bybel egter ‘n geslote boek en ‘n
onverklaarbare raaisel, want “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van
God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat
dit geestelik beoordeel word” (1 Kor. 2:14).  Ware dissipels het egter die lewe van
Jesus binne-in hulle en het daarom “die sin van Christus” (1 Kor. 2:16).  Daarom kry
dissipels van Jesus die opdrag in Romeine 12 vers 2 “en word nie aan hierdie wêreld
gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [by the
renewal of your mind], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is.” 
Ons moet dus groei in hierdie geestelike begrip wat ons met die wedergeboorte as ‘n
geskenk ontvang het.  Omhels God se perspektief en tree dan dienooreenkomstig op
met totale oorgawe aan God se wil soos wat die Heilige Gees jou lei. Dit sal ook
beteken dat baie van die moeilike situasies in ons lewens heetemal anders begin lyk in
die lig van die hemelse perspektief en dat hierdie perspektief dalk 'n gehoorsaamheid
eis wat ons sal verstom. Moet net nie weer terugval in die aardse perspektief nie. Bly
getrou en gehoorsaam, stap vir stap, aan die innerlike leiding van die Gees soos wat
Hy jou oë meer en meer begin oopmaak om te sien soos wat God sien.

DAG 21
VEILIGHEID EN VERVULLING IN CHRISTUS 
Ons spandeer die meeste van ons tyd op aarde om sekuriteit en vervulling vir ons en
ons geliefdes te verkry. Ons wil almal veilig voel en binne 'n veilige omgewing
vervulling beleef. Die werklikheid is egter dat ons leef in 'n gevalle en stukkende
34
wêreld met stukkende en sondige mense. In hierdie wêreld vertrou ons al hoe meer
op tegnologie om vir ons veiligheid en vervulling te gee wat "permanent" is. Wat sal
gebeur met ons as die tegnologie skielik sou faal en ons nie meer die dosyne krukke
het wat ons so swaar op leun nie?
Die voordele van tegnologie is ongetwyfeld gawes van God, maar dit was nooit bedoel
om ons vertroue in God self te vervang nie. Daar is net een permanente voorsiening
vir sekuriteit en vervulling en dit is nie materiēle dinge nie, maar 'n Persoon. God het
sy Seun gegee om beide ons sekuriteit en vervulling te wees nou en vir ewig. Wanneer
ons geskape wesens of vervaardigde kommoditeite in Jesus se plek stel is ons besig
met afgodery. Ondersoek jou hart en vra jouself waar jy werklik jou sekuriteit en
vervulling vind. Is dit in Christus of in die gevalle skepping? Daar is so 'n
verstommende vrede en blydskap beskikbaar vir die wat hulle oë van die skepping
afhaal en op Jesus plaas.
"Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word
beskut. Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ’n steil muur in sy
verbeelding." Spreuke 18:10-11

DAG 22
GÉÉN SEËN BUITE CHRISTUS NIE
Die heil en verlossing, identiteit en bestemming van alle nasies en alle mense is slegs
in Jesus. Daar is geen verlossing, geen vrede, geen ware blydskap of vervulling buite
Hom nie. Ons boodskap as dissipels van Jesus is nie dat mense deur ‘n soort van ‘n
algemene geloof in die Bybel geseën kan word as onafhanklike individue of families
nie. Dit is eerder dat hulle slegs IN CHRISTUS geseën kan word deur vergifnis, heil,
verlossing en identiteit IN HOM te vind! Net so is jou verdere pad ná versoening met
Jesus nie ‘n onafhanklike bestaan waar jy probeer om op ‘n manier seën vir jou eie
lewe, omstandighede en familie by God te kry nie. Jou seën kan net gevind word in ‘n
groeiende en lewende kennis van Jesus en jou vereniging met Hom.
“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker,
Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die
ewigheid. Amen.” 2 Pet. 3:18
Dit is nie nodig vir jou om lang ompaaie in ‘n geestelike woestyn te stap deur iewers
hierdie ontwykende geseënde lewe te soek nie. Fokus liewer jou hele hart op Jesus en
verhouding met Hom en selfs al lyk jou lewe dan uiterlik asof alles nie altyd
klopdisselboom is nie, sal jy in jou binneste weet dat jy weet dat jy ‘n geseënde mens
is, ryk in genade!

DAG 23
ONS WARE RYKDOM IS IN CHRISTUS
Al het Paulus in die natuurlike baie gehad om op te roem (Fil. 3:4-6), verklaar hy
onbeskaamd in sy briewe dat hy “niks het nie” (2 Kor. 6:10) en “niks is nie” (2 Kor.
35
12:11).  Hy het werklik geleef soos iemand wat weet hy kan niks behalwe sy geestelike
erfenis saamvat die ewigheid in nie (Fil. 1:21).  Paulus was ryk in Christus.  Het ons al
by die plek gekom waar ons aanvaar dat God begeer om ons geestelik ryk te sien in Sy
Seun of klou ons nog krampagtig vas aan die roem, rykdom, en sekuriteit van die
gevalle wêreld?  Het jy al vrede gemaak met die feit dat die Vader dikwels
omstandighede gebruik om jou te bring by die plek waar jy niks in jouself is of het nie,
sodat jy alles in Christus kan besit?

DAG 24
OORWINNING IN DIE OORWINNAAR
Jesus is die groot Oorwinnaar van die Koninkryk. Hy het oorwin deur Sy
gehoorsaamheid “tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:8). Hy het “die
wêreld oorwin” (Joh. 16:33) deur alles wat die satan hom mee wou versoek teë te
staan en die Vader se wil te kies in elke situasie waarmee Hy gekonfronteer is. Hy het
getriomfeer oor die sonde, die dood en die graf. Hy het opgestaan uit die dode en Hy
het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel” (Kol.
2:15).

In Openbaring 2 en 3 roep Jesus egter keer op keer die heiliges in Sy gemeentes op


om te oorwin: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan
hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die
paradys van God is” (Openbaring 2:7). Hierdie oproep word telkens gerig aan elkeen
van die sewe gemeentes wat Jesus aanspreek in die boek Openbaring. Maar die vraag
is, hoe moet ons oorwin? Dit is uiters belangrik om te verstaan dat Jesus baie meer
vir ons is as net ‘n voorbeeld van oorwinning. Hy ís ons oorwinning. Ons oorwin in
die Oorwinnaar. Dit is net deur in Hom te bly (Joh. 15:5), d.w.s. in Sý oorwinning, in
Sý gehoorsaamheid, in Sý dood en opstanding, dat ons kan oorwin. Ons oorwin nie
deur ons eie vasberadenheid of wilskrag nie. Die oorwinning wat ons opgeroep word
om in te leef, is ‘n geloofsoorwinning. Ons glo in die krag en oorwinning van Christus
wat nou in ons leef en dít, dit alleen, is die oorwinning. Die oorwinning is Sy liefde,
Sy krag, Sy wysheid, Sy sagmoedigheid in ons wat in geloof deur ons sigbaar word.

“Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is
as hy wat in die wêreld is.” 1 Johannes 4:4

DAG 25
DIE MEESTERPLAN VAN CHRISTUS SE LEWE IN ONS

“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy
sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Gen. 3:15

“Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade,
asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.” Gal. 3:16

36
“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie
geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle
hoop op die heerlikheid.” Kol. 1:27 (NAV)

Jesus het deur Sy kruisdood en opstanding die satan oorwin en sy “kop vermorsel”,
maar die Vader se meesterplan was nog altyd dat die lewe van Sy Seun ín ons gestalte
moet kry sodat Sy heerlikheid die aarde kan vul. Daarom skryf Paulus in Romeine 5
vers 10 “want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood
van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.” Die
“onvernietigbare lewe” van God (Heb. 7:16) is in ons deur die wedergeboorte, maar
ons moet groei in daardie lewe sodat daar ‘n realisering van die karakter van God kan
wees in ons daaglikse handel en wandel (Gal. 5:22). Paulus sê vir die Christene in
Galate hy is “in barensnood totdat Christus in” hulle “‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19).
Die plan van God is nie net dat ons gered word en hemel toe gaan nie, maar dat Sy
heerlikheid in en deur ons gesien moet kan word in die hier en nou van ons lewens!
Dit kan net gebeur as die lewe van God self bínne-in ons (Gal. 2:20) groei soos wat ‘n
saad wortel skiet en dan ‘n boom word wat vrug dra. Ons vertroue moet radikaal
wegskuif van ons eie pogings om soos Christus te wees en dan enkelvoudig fokus op
die Váder se verwagting, naamlik Christus ín ons geopenbaar en gerealiseer deur die
“goddelike groei” (Kol. 2:19) van dit wat alreeds teenwoordig is binne-in ons.

DAG 26
DIE VOLGORDE IS KRITIES BELANGRIK!

Soms hoor ons mense sê die Bybel is die "Handboek vir die lewe"; dit is die "Eienaar
se Handleiding". Dit leer ons m.a.w. hoe om te lewe volgens "die spesifikasies van die
Skepper" wat ons gemaak het. Dit is baie kosbaar en waar, maar is die Bybel primêr
'n boek wat ons leer hoe om te lewe? Ek dink nie so nie. Die Bybel is primêr 'n boek
wat ons leer wie God is en dan wie ons is in Hom. Dááruit vloei die praktyk van ons
lewens.

Alles wat die Bybel ons leer oor 'n wyse en waardige lewe op aarde is 100% gebaseer
op ons identiteit in Christus. God vereis 'n heilige, regverdige en liefdevolle lewe van
Sy skepsels omdat dit is wie Hý is en ons is geskape na Sý beeld en gelykenis.

"En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." Genesis 1:27

Die Sondeval het natuurlik die skakel tussen ons en God gebreek en van ons gemaak
wie ons nie is nie. Wedergeboorte herstel die skakel en bring boonop die uiters
belangrike ekstra dimensie van Christus wat in ons kom woon. Daarom moet al die
opdragte en oproepe tot 'n heilige lewe nou gelees word in die lig van wie God is en
wie ons is in Hom.

"Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig." 1 Petrus 1:16

Die kruis van Jesus is daarom ook nie net die basis vir vergifnis van sondes nie, maar
37
die "swaard" van God wat ons afsny van alles wat ons nie is nie, sodat ons kan wees
wie ons wel is in Christus.

"Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here
Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld."
Galasiërs 6:14

As jy weer 'n opdrag sien in die Bybel vra die vraag "wie is God en wie is ek"? Dit
werp 'n heel nuwe lig op die "spesifikasies van die Skepper". 'n Koning se seun of
dogter verteenwoordig die Koning en moet optree soos Hy sou optree in elke situasie.
Onthou wie jy is en ook wie jy nie is nie. Onthou veral Wie in jou leef!

DAG 27
VERLOSSING IN PAAIEMENTE?
Ons dink soms oor ons verlossing soos lenings wat ons by ‘n hemelse bank kry. Ons
moet net hoop ons vang die bankbestuurder op ‘n goeie dag as daar nou rêrig ‘n krisis
is. Dan gebruik ons maar weer die verlossingskrediet (sal later terug betaal) . Die
waarheid is egter dat ons IN CHRISTUS alles ontvang het wat ons vir hierdie lewe en
die ewigheid nodig sal kry. “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot
die lewe en godsvrug dien…” (2 Pet. 1:3). En wat meer is, jy hoef dit nie terug te betaal
nie! Jy moet net leef daaruit, uit Hóm in der waarheid. Jesus self is die somtotaal van
alles wat die hemel het om te gee en jy is IN HOM en Hy in jou. “In dié dag sal julle
weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Joh. 14:20). Het jy
oorwinning nodig? Dit is in Hom. Blydskap? In Hom. Vrede? In Hom.
Sagmoedigheid? In Hom. Selfbeheersing? In Hom. Wysheid? In Hom. Die Vader gee
nie verlossing in paaiemente nie. Hy het sy Seun gegee en ons het niks meer nodig
nie. Ons moet net groei in kennis van Hom en leer om uit verhouding te leef. “Maar
julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus
Christus.” 2 Pet. 3:18

DAG 28
VORMING EN VRUG
“My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte
verkry.” Galasiërs 4:19
“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid,
vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Galasiërs 5:22
Die vorming van Christus in ons in Galasiërs 4:19 stem ooreen met die vrug van die
Gees in Galasiërs 5:22. Vrug is iets wat groei en vorm aanneem. Die vorming van
Christus in ons is die “vrug van die Gees” wat groei in ons. Hierdie vrug is die
bonatuurlike liefde met al sy “vertakkinge” wat hier in Gal. 5:22, in 1 Kor. 13, en op
vele ander plekke in die Nuwe Testament in detail beskryf word sodat ons kan
verstaan wat die Heilige Gees besig is om te doen in ons. Dit is die hele doel van die

38
evangelie (1 Tim. 1:5); om die karakter van Christus ‘n werklikheid te maak in ons
daaglikse lewe.
Dit is so maklik om hierdie punt te mis. Die manier wat God se heerlikheid bekend
word op aarde is deur dissipels van Jesus wat soos Hy begin leef en optree. Dit kan
nooit gebeur deur blote vasberadenheid en dissipline nie. Dit is Christus self wat deur
die Gees in ons gevorm moet word soos wat ons wegkyk van onsself en Hom erken as
die middelpunt van ons lewens. Hy is ons wysheid, geregtigheid, heiligmaking en
verlossing (1 Kor. 1:30). Kortweg, Hy is ons alles en wanneer ons dit in geloof erken
en omhels vind die wonderwerk van transformasie binne-in ons plaas met uiterlike
effek in ons karakter en optrede. Dit was God se meesterplan van die begin af

MAART: 'N NUWE SKEPPING IN CHRISTUS

DAG 1
DIE REALITEIT WAT AL DIE SKADUBEELDE VERVUL EN VERVANG
"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur
die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as
erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”
Hebreërs 1:1-2
Die karakter van die Ou Testamentiese openbaring word duidelik verklaar in ons teks.
Dit was ‘n openbaring wat tot God se mense gekom het in verskillende fragmente en
stukke, soos ‘n legkaart wat stadig vorm aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang. Op
hierdie wyse het God verkies om verwagtinge in die mens wakker te maak vir die
volheid van Sy openbaring aan ons. Al die profete en manne van God in die Ou
Testament het vooruitgesien na die volledige manifestasie waarvan hulle tot op
daardie tydstip slegs ‘n skadubeeld gesien het. En toe, in die volheid van die tyd, “het
God sy Seun uitgestuur” (Gal. 4:4). Die Vleeswording van Christus het ‘n nuwe era
ingelui. Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het aangebreek en die
engele het van vreugde gejubel: "Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op
aarde, in die mense ‘n welbehae!’ (Luk. 2:14). Híerdie openbaring van God was nie
net nog ‘n diepsinnige waarheid nie. Dit was nie net ‘n beginsel om ywerig toegepas te
word nie. Dit was meer as ‘n diep profetiese insig. Dit was eintlik nie iets nie, maar
Iemand, naamlik die Seun van God Self! "Want dit het die Vader behaag dat in Hom
die ganse volheid sou woon" (Kol. 1:19). Die Ou Testament was ‘n skadubeeld -
hierdie was die realiteit. God het Homself aan ons openbaar in die Persoon van sy
Seun. “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." (Joh. 1:16).

DAG 2
JESUS SE LEEFWÊRELD

39
Jesus wil die heerlikheid van Sý leefwêreld stap vir stap vir ons ontsluit.  Dit is slegs
wanneer ons oë oopgaan híervoor dat ons fokus wegskuif van onsself en ons aardse
omstandighede.    Voor dit gebeur, is ons gedurig besig om Jesus te probeer intrek in
ons leefwêreld.  Nie dat Hy nie betrokke is daar nie.  Geensins.  Maar Hy wil hê ons
moet leer om alles in ons leefwêreld te sien vanuit die hemelse perspektief en dan oor
te gee aan Sy ewige plan ín die tydelike.
“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal
wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My
liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”  Joh. 17:24
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol. 3:2
Wat beteken die teks in Kolossense 3 vers 2 vir jou?  Het jy al ooit erns gemaak
daarmee en besef dat dit op jóu persoonlik van toepassing is?  Selfs mét al jou
probleme en uitdagings hier op aarde.  Mag die Vader vir ons lig gee op hierdie
belangrike vers in die Nuwe Testament.

DAG 3
VERVANG JOU FRUSTRASIE MET JESUS SE PRESTASIE!
Gehoorsaamheid is ‘n uiters belangrike deel van ons lewe as dissipels van Jesus, maar
‘n verkeerde verstaan van gehoorsaamheid bring nie ‘n seën nie, maar groot
frustrasie. Paulus som vir ons gehoorsaamheid onder die Ou Verbond op in Romeine
10 vers 5 met die aanhaling: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”
Vroeër in Romeine sê Paulus dit is Jesus se gehoorsaamheid wat regverdig maak
(Rom. 5:19). Die klem lê in die Nuwe Testament op Jesus se gehoorsaamheid en ons
geloof. Dit is juis ons geloof in Sý gehoorsaamheid wat die krag is van ons
gehoorsaamheid. Daarom kry ons die term “geloofsgehoorsaamheid” in die Nuwe
Testament (Rom. 1:5). Gehoorsaamheid in die Nuwe Verbond is ‘n reaksie op die
Vader se evangelie-aksie in Christus.
Is jy gefrustreerd met jou onvermoë om ‘n gehoorsame lewe te lei? Gaan weer terug
na die Nuwe Testament en begin lees dit met die klem op Jesus se prestasie en nie in
die eerste plek jou verantwoordelikheid nie. Maak seker dat Jesus se prestasie (sy
verlossingswerk) jou meer beïndruk as enigiets anders in die Bybel en jou hele uitkyk
op gehoorsaamheid sal radikaal verander. Gewaarborg! Die hele Ou Testament bou
op na Jesus se gehoorsaamheid en prestasie. Ons gehoorsaam nie om regverdiging
en lewe van God te ontvang nie. Ons gehoorsaam ómdat ons regverdiging en lewe in
Jesus ontvang het!

DAG 4

HEMEL BEGIN IN JOU HART

Dawid, die man na God se hart, het die helfte van die 150 Psalms geskryf. Hierdie
Psalms maak dit baie duidelik dat hy 'n diep verhouding met God gehad het. Wat was

40
die geheim van sy kosbare en intieme verhouding met God? Ons sien in Psalm 16 dat
hy in geloof gedurig in herinnering geroep het dat die Here by hom was.

"Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie
wankel nie." Psalms 16:8

God self sê vir Dawid se seun, Salomo, in 1 Konings 9 dat Dawid "voor sy aangesig"
gewandel het.

"En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel
het..." 1 Konings 9:4a

In die Nuwe Testament sien ons dat Paulus op grond van die verlossingswerklikhede
van die evangelie dissipels van Jesus oproep om hulle hart en denke te rig op die
Here.

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is
en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1

Ons staan onder 'n beter verbond as Dawid en het nog meer verlossingsvoorregte tot
ons beskikking. Daarom het ons geen verskoning om nie ook in so 'n intieme
verhouding met God te wandel nie. Ons leef in werklikheid voor die aangesig van
God, maar ons het nodig om onsself daagliks in geloof te herinner aan hierdie
wonderlike waarheid. Op geen ander manier kan ons begin om hemel op aarde te
beleef nie. Die hemel (Jesus) het aarde toe gekom om die aarde (gelowiges) hemel toe
te neem sodat die mense op aarde nou-al hemel kan begin beleef op aarde. Glo dit.
Dis waar.

DAG 5
HEMEL OP AARDE
Moenie toelaat dat nietige tydelike dinge jou so besig hou dat jy die hier-en-nou
werklikheid van die evangelie verwaarloos nie. Selfs in die alledaagse aktiwiteite van
die lewe sal 'n hart wat die volle rykdom van genade in Jesus akkommodeer die goue
glans van God se onsigbare teenwoordigheid versprei deur alles wat jy sê en doen.
Moenie die hemelse werklikheid mis te midde van die aarde se tasbare dinge nie. Die
hemel is binne jou bereik hier en nou! Christus leef in jou en Hy is letterlik hemel op
aarde! Dit is die fokus van jou gedagtes wat jou hart bedien en sodoende jou lewe
beïnvloed sodat Jesus “sigbaar” kan word vir mense wat Hom nie ken nie.
“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles
wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook
mag wees, bedink dit.” Filippense 4:8

DAG 6
HOU DIT EENVOUDIG
41
Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne
so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 2
Korinthiërs 11:3
Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en
suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die
slang. 2 Korinthiërs 11:3 (NAV)
Daar is vandag soveel Christelike bedieninge waaraan gelowiges deur die media
blootgestel word en baie van hulle maak groot uitsprake oor die impak wat hulle het
en gaan hê; wêreldwye invloed, profesieë oor herlewing, ensovoorts, ensovoorts. 
Verder word persoonlike profesieë dikwels die somtotaal van gelowiges se geestelike
lewe en verwagting en bou hulle alles rondom sulke “woorde” van ander.  Hoe moet
die dissipel van Jesus homself posisioneer ten opsigte van al hierdie dinge?  Daar is
sekerlik ‘n tyd en ‘n plek vir sekere van hierdie dinge, maar God het vir ons ‘n vaste
anker gegee in Christus en dit bring stewige grond onder ons voete en ‘n fondasie
waarop ons kan bou. 
Maak seker dat jou fokus op Christus alleen is as die Een in wie jy volkome is (Kol.
2:10), en dat jy vanuit ‘n ‘’Eerste Liefde’’ verhouding met Hom in gehoorsaamheid
leef in jou daaglikse lewe.  Ons moet maar gereeld in gedeeltes soos die
bergpredikasie (Mt. 5-7) gaan kyk en seker maak of ons werklik leef vanuit Christus
in ons, want dit is net Sy lewe in ons wat so 'n koninkrykslewe op aarde moontlik
maak.  Dit hou ons nederig en help ons ook om verby die uiterlike en die oorvloed van
woorde te kyk en duidelik te onderskei in die tyd van “information overload” waarin
ons leef. 
In 1 Kor. 4:20 sê Paulus “die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in
krag.”  Die krag waarvan Paulus hier praat is die krag om ‘n heilige lewe te leef wat vir
God welbehaaglik is; die krag van Christus in ons.  Die primêre verskil tussen die ou
en nuwe verbond is dat ons nou “onder die wet van Christus” is, omdat Hy in ons
leef.  In verhouding met Hom is daar ‘n toenemende geloofsgehoorsaamheid in ons
lewens wat Christus se karakter deur ons openbaar. 
Die eenvoud is te vinde in Jesus wat vir ons alles geword het (1 Kor. 1:30). Nie my
lewe wat verbeter moet word nie, maar Sý lewe in en deur my soos wat ek my lewe
neerlê om plek te maak vir Syne.

DAG 7
'N SKITTERENDE BELOFTE

"En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel
en my verordeninge onderhou en doen." Eseg. 36:27

Esegiël sien vooruit na 'n tyd wat sou kom waarin die Gees van God 'n werk binne-in
mense sou doen ver bo wat enige mens uit sy eie krag, vermoë of inspanning kon
vermag. Moet ons nog wag vir daardie tyd om aan te breek of leef ons reeds in die era

42
waarin ons met vrymoedigheid hierdie belofte vir onsself kan toe-eien? Luister wat
sê Paulus vir die gelowiges in Filippi:

"Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." Fil.
2:13 (OAV)

"Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer." Fil. 2:13
(NAV)

Beleef jy 'n gewilligheid en bekwaamheid om God se wil te doen? Miskien probeer jy


om dit in jouself op te wek in plaas van om te gló dat Christus die gewillige en
bekwame Een in jou is. Die nuwe verbond werk van binne af buitentoe. Leun geheel
en al op die lewe en krag van Christus in jou en jy sal 'n gewilligheid en bekwaamheid
ontdek wat jou sal verras en 'n heerlike vryheid en vreugde in jou lewe sal bring.

DAG 8
HEERSKAPPY IN DIE HEMEL BRING OORWINNING OP AARDE
Christus het getriomfeer oor al die magte en kragte van die duisternis en gaan sit as
Heerser aan die regterhand van die Vader. Ons is ten volle geïdentifiseer met Sy
heerskappy. Lees die volgende drie verse in Efesiërs saam in hierdie konteks.

"En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan
die gemeente gegee." Efesiërs 1:22

"En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6

"Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die
menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word." Efesiërs 3:10

Dit is dus baie duidelik dat ons nie nodig het om self oorwinning te bewerkstellig nie.
Die probleem lê nie daar nie, maar by ons onkunde en gevolglike patetiese pogings
om uit ons eie krag en wysheid deurbrake op aarde te bring vir dosyne situasies en
omstandighede wat net God werklik kan verander. Die Nuwe Testament roep ons
daarteenoor op om ons hele perspektief geheel en al te verander en te begin om te kyk
na alles op hierdie aarde vanuit die hemelse heerskappy van Jesus Christus. Dit verg
egter 'n baie radikale verandering van denke en die geloof en geduld om ons hande af
te hou van dinge wat God bonatuurlik wil bestuur volgens Sy eie wil en voorneme.

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is
en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1

DAG 9
HARTVERSTERKER
“…want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…” Heb. 13:9

43
Daar is nie op hierdie aarde so iets soos ‘n hart wat nie soms op afdraaipaadjies wil
stap nie. Die mees toegewyde dissipel van Jesus het “versterking van hart” nodig.
Ons teks in Hebreërs 13 sê dat die hart deur “genade” versterk moet word. Daar is
geen ander medisyne vir ons harte nie. Niks in jou en my lewe is belangriker as die
kondisie van ons harte nie, en ek praat nie van daai vier-kamer pomp aan die
linkerkant van jou borskas agter jou ribbes nie. Ons het nodig om gedurig blootgestel
te word aan die boodskap van Jesus wat ons wysheid is sodat ons nie hoef te leef uit
ons eie insig nie, ons geregtigheid is sodat ons nie hoef te streef om vir God
aanvaarbaar te wees nie, ons heiliging is sodat ons nie uit ons eie krag hoef te probeer
groei in toenemende heiligheid nie en ons verlossing is sodat ons nie nodig het om
moedeloos te raak oor die toekoms nie (1 Kor. 1:30). God het “in Christus” volkome
voorsiening gemaak vir alles wat jy ooit sal nodig hê. Moenie probeer leef uit jou eie
wysheid en krag nie, dit gaan jou hart vir seker laat afdwaal. Leef uit ‘n hart wat
gedurig onder die invloed van genade is. Dit is werklik die énigste manier om ‘n
betekenisvolle lewe te leef en ‘n getuienis van Jesus se oorwinning te wees te midde
van die vervallenheid en hartseer van ‘n stukkende wêreld met stukkende mense.

DAG 10
NET GENADE
Hoekom sê God in die Ou Testament dat Hy 'n “ewige verbond” wil sluit met mense
en dat hierdie verbond alles te doen het met 'n verhouding van genade (Jes. 55:3)?
Hoekom begin en eindig Paulus al dertien sy briewe met betekenisvolle verwysings na
die genade van God in Christus? Hoekom word beide Jesus en die apostels se
bedieninge beskryf as bedieninge van genade (Joh. 1:14; Hand. 4:33)? Hoekom word
die evangelie beskryf as 'n getuienis van die “genade van God” (Hand. 20:24)?
Hoekom eindig die Bybel met 'n vers wat genade in Christus voorhou as die enigste
heil van dissipels van Jesus (Openb. 22:21)?
Want net genade kan 'n verlore mens tot redding bring. Net genade kan 'n mens se
lewe verander en toenemend transformasie bewerkstellig. Net genade kan 'n dissipel
van Jesus wat die pad byster geraak het, herstel en weer oprig. Net genade gee ons
oorwinning oor sonde. Net genade maak van ons mense wat gee en nie net heeltyd wil
neem nie. Net genade kan 'n gemeente verander en maak wat God wil hê dit moet
wees. Net genade kan twee harte wat in konflik is weer versoen. Net genade kan 'n
stukkende huwelik herstel. Net genade lei ons stap vir stap in die weë van die Here.
En net genade sal ons lei tot by ons ewige tuiste waar ons vir altyd die bestendige
genadebewyse van God in sy Seun sal besing.
Genade is daardie misterieuse kwaliteit in die hart van God wat sy Seun stuur om te
sterf vir sondaars en rebelle. Jesus Christus gee nie net genade nie, Hy ís die genade
van God. Genade se appél is eenvoudig. Hoor en reageer in bekering en geloof.

DAG 11
SY AKTIWITEIT, ONS BESKIKBAARHEID

44
"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie..." Joh. 6:63

Dit is net die Gees van God wat lewe kan gee en slegs deur Sy aktiwiteit groei die
koninkryk op aarde. Jesus alleen is die deur tot die volheid van die Gees. Ware geloof
in Jesus is 'n bevestiging van my oortuiging dat ek nie uit myself die hand van God in
beweging kan bring nie. Die Vader stuur Jesus om die weg voor te berei vir die volle
aktiwiteit van die Gees. Die Gees verheerlik Jesus en bring sodoende die koninkryk
binne die bereik van geloof wat weer die deur oopmaak vir verdere aktiwiteit van die
Gees. So groei die koninkryk en op geen ander manier nie. Mag alle ander planne,
programme, menslike idees en misplaaste godsdiensywer geheel en al tot niet gaan,
want dit staan net in die pad van God se Meesterplan.

DAG 12
WATTER DAG WAG JÝ VOOR?
“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.”  Joh.
14:20 
‘Dié dag’ wat Jesus hier van praat het reeds aangebreek amper 2 000 jaar gelede met
Sy opstanding en meer spesifiek op die dag van Pinkster (Hand. 2:1-2), maar het
hierdie dag al ten volle in jou bewussyn aangebreek?  Weet jy dat jy weet dat jy in
Christus is (1 Kor. 1:30) en dat Hy in jou is (Gal. 2:20) en dat jou ware lewe daarom
saam met Hom verborge is in die Vader (Kol. 3:3)?  Leef jy VANUIT vereniging met
en volheid in Jesus of wag jy steeds vir een of ander dag vorentoe wat hierdie dinge
vir jou ‘n werklikheid gaan maak? 

DAG 13
DIE LEWENDE BEDIENING VAN DIE NUWE TESTAMENT

“…dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die
letter maak dood, maar die gees maak lewend.” 2 Kor. 3:6

Bediening onder 'n Nuwe Testament is wederkerig, lewend, en ten diepste hartsgerig.
Dit bring 'n wonderlike vertroue wat gebaseer is op die afgehandelde werk van
Christus en 'n bekwaamheid wat niks te doen het met ons eie beperkte vermoëns nie.
Dit is by uitstek 'n bediening “van die gees” wat van binne af buite toe werk. Dit staan
radikaal teenoor 'n “letter-bediening” wat slegs gefokus is op uiterlike verandering.
Hierdie soort verandering is gewoonlik geskoei op die spesifieke godsdiensgroep se
gedragskodes en ongeskrewe reëls. Dit probeer mense met ‘n wettiese inslag almal in
dieselfde vorm (eenvormigheid in plaas van eenheid) indwing.

DAG 14

GEEN WARE GEBED SONDER AFHANKLIKHEID NIE

45
Gebed en afhanklikheid is sinoniem in die Bybel.  Terwyl Jesus op aarde was het Hy
gedurig getuig en gedemonstreer dat Sy uitmuntende gebedslewe geheel en al
gebaseer was op Sy afhanklike verhouding met Sy Vader.

Sonder afhanklikheid is daar geen ware gebed nie.  Bybelse gebed is maar net 'n
verlenging van 'n lewe wat eens en vir altyd en in alles oorgegee is aan God.  Om te
bid is 'n erkenning van die Godheid van God,  dat Hy alleen in beheer is, en die
mensheid van die bidder, dat hy in werklikheid geen ware beheer oor omstandighede
op 'n gevalle planeet het nie.

Dit is primêr vir hierdie rede dat baie gebede so oneffektief is.  Ons roep God aan om
sekere aspekte van ons lewens te beïnvloed terwyl ons steeds wil leef in die
twyfelagtige illusie en pseudo sekuriteit van menslike beheer. Dit is futiel. Mag die
Heilige Gees ons lei in ware gebed deur ons te leer om totaal afhanklik te lewe. Dit is
niks anders nie as wat die Nuwe Testament noem die lewe "in Christus".

"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle
sal dit verkry." Johannes 15:7

DAG 15
DIE VADER SE VOLMAAKTE PLAN
"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie..." Johannes 6:63
Dit is net die Gees van God wat lewe kan gee en slegs deur Sy aktiwiteit groei die
koninkryk van God op aarde. Jesus alleen is die deur tot die volheid van die Gees.
Ware geloof in Jesus is 'n onwrikbare oortuiging dat ek nie uit myself die hand van
God in beweging kan bring nie. Die Vader stuur Jesus om die weg voor te berei vir
die volle aktiwiteit van die Gees. Die Gees verheerlik Jesus en bring sodoende die
koninkryk binne die bereik van geloof wat weer die deur oopmaak vir verdere
aktiwiteit van die Gees. So groei die koninkryk en op geen ander manier nie. Mag
alle ander planne, programme, menslike idees en misplaaste godsdiensywer geheel en
al tot niet gaan, want dit staan net in die pad van God se Meersterplan.

DAG 16
GEESTELIKE WEESKINDERS
“Ek sal julle nie as wese agterlaat nie..."  Johannes 14:18
Waarom is daar so baie gelowiges vandag wat soos geestelike weeskinders leef?
Waarom word gelowiges heen en weer gedryf deur elke wind van lering (Efes. 4:14) in
plaas daarvan om volwasse te word in Christus met vaste grond onder hulle voete? 
Gelowiges wat weet dat Christus in hulle leef is nie gedurig op soek na nog 'n
manifestasie of 'n nuwe lering of 'n nuwe leier of 'n uiterlike aanraking of nog 'n
ondervinding nie.  Hulle bely eerder saam met Paulus:  “... in Christus woon al die

46
volheid van die Godheid liggaamlik; en ons het die volheid in Hom wat die Hoof is
van alle owerheid en mag, en ...”dat ek Hom mag ken en die krag van Sy opstanding." 
Sien Kolossense 2: 9-10 en Filippense 3:10.
Alles wat ons ooit sal nodig hê is in Christus en Hy leef in ons. Miskien ís jy
onvervuld en ontevrede met die peil van jou geestelike lewe, maar soek jou vervulling
in Christus. Die volheid van die Gees word net in Hom gevind.

DAG 17
GOD IS NABY AL VOEL DIT NIE ALTYD SO NIE

“Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. U ken my
sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en
U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U,
HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op
my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.”
Psalm 139:1-6

God se aktiewe betrokkenheid by ons is verstommend! Dit is so oorweldigend dat


Dawid, maar net kan sê dit is “te wonderbaar…ek kan daar nie by nie”. Ons is soms
so oorweldig deur lewensomstandighede of bloot net ons onstuimige en
onvoorspelbare emosies dat alles in ons vra, “waar is God se teenwoordigheid en
aktiwiteit in my lewe”? Die werklikheid is dat God naby is en aan die werk in en om
jou, al voel dit nie so nie. Let op na die werkwoorde in hierdie paar verse. God
“deurgrond”, Hy “ken”, Hy “verstaan”, Hy deurvors”, Hy “is goed bekend” met, Hy
“ken geheel en al”, Hy “sluit in van agter en van voor” en Hy “lê” Sy hand “op” jou.
Moenie toelaat dat emosies, omstandighede en sintuiglike waarneming jou blind en
doof maak vir ‘n ander en baie groter werklikheid nie. God leef, Hy is teenwoordig,
en Hy is nie passief nie. Lees die res van die Psalm en kyk hoe Hy verder werk in en
om ons en wat die regte respons is (verse 14, 17, 23 en 24) op Sy betrokkenheid en
aktiwiteit in ons lewens.

DAG 18
GOD SE WIL IS SO NA AAN JOU SOOS JOU EIE HART!

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2 (OAV)

Regdeur die Bybel gee God vir ons die versekering dat Hy Homself aan ons sal
bekend maak as ons met geloof en 'n rein hart nader tot Hom. Waarskynlik die
grootste rede hoekom ons verward raak oor God se wil is omdat ons nie eers ons eie
wêreldse idees, en begeerlikhede in baie gevalle, wil laat staan en toelaat dat Sy
Woord inspreek in ons lewens nie. Na die mate wat ek my hart blootstel aan die
besoedeling en verdraaide filosofieë van die wêreld sal ek verwarring beleef oor God
se wil in my lewe. As ek aanhoudend hande vol grond in ‘n helder poel water gooi, sal
ek later nie meer kan sien wat aangaan in die poel nie. Skuif eers al jou eie idees oor
'n saak eenkant toe en neem nou die Bybel op met 'n kinderlike geloof en
47
afhanklikheid. God belowe dat Hy dan van binne af 'n transformasie sal laat
plaasvind wat Sy wil helder en duidelik in jou eie hart sal laat kristalliseer. Lees die
volgende twee parafrases van Romeine 12 vers 2 om meer duidelikheid te kry oor
hierdie kosbare belofte van God.

“Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar
laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed
kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en
aanvaarbaar en volmaak is.” Rom. 12:2 (NLV) 

“Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van
binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet
wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele
lewe elke dag aan Hom moet oorgee.” Rom. 12:2 (DB)

DAG 19
NET DIE NEDERIGES HEERS IN HIERDIE KONINKRYK

Ek kan nie aan die een kant wil staan op my identiteit in Christus en met
vrymoedigheid praat daaroor, terwyl ek aan die ander kant steeds vashou aan my eie
wysheid, krag, besittings, eer, status, ensovoorts nie. Volg maar hierdie lyn regdeur
die Bybel en dit sal vir jou glashelder duidelik word dat God nooit, maar nooit,
enigiemand in enige posisie in Sý koninkryk plaas wat nie eers in nederigheid die knie
gebuig het voor Hom nie.

"Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52 

Alle ware dissipels van Jesus het regtens deel aan Sy heerskappy in die hemel met die
doel om God se wil te laat geskied op aarde. Dit is 'n logiese gevolgtrekking op grond
van Paulus se groot stelling in Efesiërs 2.

"En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6

Dit is daarom nie verkeerd om in geloof te staan op die uitsprake wat God self oor ons
maak in Christus en om dit met vrymoedigheid te bely nie. Solank ons net onthou dat
ons verhoging in Christus plaasgevind het aan die ander kant van 'n erkenning dat
ons in onssèlf niks is of het nie. Hierdie nederige belydenis bly die basis van alles wat
ons in Christus het en ontvang het.

DAG 20
OORWINNING IN DANKBAARHEID
Dit is baie moeilik vir sonde om wortel te skiet en te groei in 'n hart wat dankbaar en
jubelend is weens die invloed van God se genade in Christus. Vervulling in Christus
maak al die versoekinge van satan kragteloos. Is dankbaarheid 'n kenmerk van jou
daaglikse lewe?
48
"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan
mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met
dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16

DAG 21
RUS VAN JOU WERKE EN WERK DAN UIT RUS
Ons hele lewe as dissipels van Jesus word opgesom met hierdie frase. Eerstens leer
die Bybel ons om te rus van ons eie werke. Dit is nodig omdat niks wat ons uit onsself
doen ons voor God kan regverdig nie en niks wat ons uit onsself doen God ooit sal
behaag nie.

"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Mattheüs
11:28

"Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan
het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Hebreërs 4:9-10

Tweedens leer die Bybel ons om te werk uit rus. God is aktief aan die werk in ons
innerlike mens, maar ons kan net Sý werke in ons onderskei wanneer ons gerus het
van ons eie pogings om 'n geestelike en morele mens te wees. In hierdie sabbatsrus
begin ons die werke van God ín ons beleef en dan staan ons onder verpligting om
kinderlik gehoorsaam te wees aan dit wat God in ons binneste doen.
"Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my
teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie
heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as
om te werk na sy welbehae." Filippense 2:12-13

So ons kan die vraag vra: "Is 'n dissipel 'n pasifis of 'n aktivis?" Nie een nie. Hy is
albei. Ware dissipels is vir seker aktief, maar hulle doen net wat God in hulle
innerlike openbaar, en dit vanuit rus in Christus.

Hier is ons voorbeeld:

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die
Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat
Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

En hier is ons huidige werklikheid en verantwoordelikheid:

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

49
DAG 22
SOOS OLIE EN WATER
Net soos olie en water nie met mekaar kan meng nie, kan self-vertroue en Christus-
vertroue nie meng nie. Christus het vír ons geword “wysheid uit God en geregtigheid
en heiligmaking en verlossing” (1 Kor. 1:30). Solank as wat jy jou eie wysheid,
geregtigheid, heiligmaking en verlossing probeer meng met dit wat Christus vir jou
gewórd het, is jy besig met ‘n eksperiment in die geestelike laboratorium wat nooit
kan werk nie. Ons almal was al in daardie laboratorium besig om sorgvuldig die olie
en water met mekaar te meng om te kyk of óns nie dalk ‘n deurbraak kan kry wat die
teorie verkeerd sal bewys nie. Geloof beteken daarteenoor eenvoudig dat ek géén
vertroue in my eie wysheid, krag en vermoëns plaas nie, maar dit alles net so in Jesus
se hande sit sodat Hy kan doen en werk wat Hy wil in en deur my. Daarom het Jesus
gesê “sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Daarom ook is boodskappe wat
vir ons die heerlikheid van Christus voorhou sonder om vir ons duidelik te laat
verstaan dat ons deelname daaraan ‘n totale skipbreuk van ons eie-geregtigheid en
self-vertroue impliseer, misleidend en gevaarlik.

DAG 23
VERANDER JOU BINNEWÊRELD DEUR DANKBAARHEID
"Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle." 1
Thessalonicense 5:18

Dit is net verstommend om te beleef hoe 'n hartskuif van murmurering na


dankbaarheid 'n mens se hele binnewêreld kan verander. Die openbaring van God se
onverdiende guns in Christus, lei onvermydelik tot 'n opwelling van dankbaarheid in
ons harte. Maar aan die ander kant beleef ons ook wonder bo wonder méér van God
se genade wanneer ons 'n atmosfeer van dankbaarheid in ons harte en huise skep.

Genade lei tot dankbaarheid en dankbaarheid ontsluit genade. Dit is so 'n


eenvoudige sleutel tot 'n lewe van vervulling in Christus en dit is binne bereik van alle
dissipels, op alle vlakke van geestelike ontwikkeling. Praat met jou hart en maak in
geloof dankbaarheid wakker daar binne. Dit is 'n slapende reus wat groot
veranderinge in jou lewe kan bring, want dit ontsluit soveel ander
verlossingswerklikhede wat in God se genade weggelê is vir ons.

DAG 24
VREDE IN DIE STORM
Alle wedergebore mense het reeds vrede met God op grond van regverdigmaking deur
die geloof (Rom. 5:1). Nie almal leef egter met die vrede van God in hulle binneste as
‘n daaglikse werklikheid nie.
“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy
skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader,
Vredevors— tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die
troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg
50
en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die
leërskare sal dit doen.” Jesaja 9:5-6

Die “gawe van geregtigheid” (Rom. 5:17) is bedoel om ‘n heerskappy van vrede in ons
lewens te vestig wat radikale implikasies het vir alle aspekte van ons bestaan op
aarde. Hierdie vrede vorm die basis van ‘n lewe van oorwinning. Hierdie vrede maak
dit moontlik vir jou om God se stem binne-in die storms van die lewe te hoor.
Hierdie vrede maak dit ook moontlik om vrede te hou met ander gelowiges. Hierdie
vrede is anders as die wêreld se vrede, want dit is geensins afhanklik van
omstandighede nie (Joh. 14:27).

Hierdie vrede is baie dieper as enigiets wat vandag beskikbaar is by die apteek of die
drankwinkel. Hierdie vrede is ten volle toeganklik vir jou, want dit is joune “in
Christus”. Om die waarheid te sê dit is Jesus se eie vrede wat Hy vir jou beskikbaar
stel. Hy begeer om dit vandag nog vir jou te laat ervaar as ‘n blywende werklikheid.
Rus net in Hom. Gee net oor. Jy is in elk geval nie in beheer nie, God is. Klink dit te
eenvoudig? Dit is nie, dit is ingesluit in die goeie nuus van die evangelie en dit is jou
erfdeel in Christus!

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee
Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Johannes 14:27

DAG 25
WAT DRYF MENSE?

Al ooit gewonder wat dryf mense? Soeke na identiteit.

Toe Jesus se bediening begin op dertig, stap Hy die geskiedenis in met 'n totale en
absolute begrip van wie Hy is. Hy is nie in kompetisie met enigiemand nie en Hy hoef
niks te bewys nie, want Hy leef uit Sy Vader se opinie. Sy waarde is nie in die
weegskaal nie, want Sy Vader se hart is absoluut stabiel en onveranderlik. In die
evangelies maak Hy bekend wie Hy is, waar Hy vandaan kom en wat Sy roeping is op
aarde.

My identiteit bepaal my fokus en my doel in hierdie lewe. Dit is duidelik regdeur die
Bybel en ook in die geskiedenis. As ek nie weet wie ek is nie sal ek verward bly oor
my roeping en bestemming. Mense jaag na geld, mag, sukses en invloed omdat hulle
identiteit in wording is en hulle sin en waarde soek in dit wat hulle kan verwerf op
aarde. Glo dit of nie, dit sluit ook die motivering van die godsdienstige mens en
godsdiensleiers in.

"Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God." Johannes
12:43

Die wonderlike is dat almal wat waarlik Jesus se dissipels word oombliklik bevry
word van die soeke na identiteit. Hoekom? Want ons verwantskap met Jesus maak
ons onlosmaaklik deel van Sy identiteit en roeping. In Handelinge sien ons hoe
51
dissipels en gemeentes lyk wat leef uit hierdie identiteit in Jesus. In die briewe van
die Nuwe Testament word terme soos "in Christus", "saam met Christus" en "deur
Christus" kosbare sleutels om ons op koers te hou in ons roeping en bestemming. Dit
is net mense wat verstaan dat hulle identiteit nie meer in die weegskaal is nie wat
werklik ander kan dien en hulle lewe kan uitstort in die hier-en-nou.

DAG 26
DIE KAR VOOR DIE PERDE EVANGELIE
Ons glo, dáárom het ons lief, daarom is ons ywerig om goed te doen aan ander,
daarom bid ons, daarom sing ons, daarom praat ons met mekaar oor Christus en die
koninkryk, daarom praat ons met ongelowiges oor die Goeie Nuus van Jesus se
vleeswording, kruisiging en opstanding. Dit is geloof wat die 'wandel deur die Gees'
moontlik maak en só 'n wandel bring oorwinning, dit ís oorwinning (Gal. 5:16)! Die
Bybel sê nie ons moet oorwin en dan kan ons 'deur die Gees wandel' nie, maar juis
andersom.  Ons leef soms in 'doen, doen, doen', ómdat ons daardeur die oorwinning
van die Gees wil bewerkstellig. Dit is fataal vir jou geestelike lewe.  Pasop vir die kar
voor die perde 'evangelie'! Die ware evangelie werk verstommend anders as ons
menslike idees. Dit is die evangelie wat die dryfkrag is vir die lading, die lading kan
nie die evangelie dra of produseer nie.

DAG 27
DIE TOETS VAN ROEM
Is dit nie verstommend hoe ons van kindsbeen af leer om onsself met ander te
vergelyk sodat ons daardeur 'n sin vir ons eie waarde kan kry nie? Van ons
voorskoolse klassies af regdeur tot in die ouetehuis is ons gedurig besig om vas te stel
wie is die mooiste, die sterkste, die slimste, die vinnigste of die rykste. Elkeen probeer
om bo ander uit te styg en ons kan mekaar soms so subtiel probeer beïndruk met ons
prestasies of 'belangrikheid'.  
In sy briewe aan die gemeente in Korinthe gee Paulus twee opdragte wat 'n groot
toets van ware dissipelskap is.
"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle." 1 Korinthiërs
3:21
"Maar wie roem, moet in die Here roem." 2 Korinthiërs 10:17
Waarin roem jy? Wat beïndruk jou? 

DAG 28
DIE GROOT GAPING IN ONS PREDIKING
‘n Boodskap wat vir ons net vertel dat ons vergewe is in Jesus en dan eis dat ons heilig
moet leef is ‘n halwe boodskap. Die krag van heiligmaking lê in die feit dat ons “saam

52
met” Jesus gekruisig is en “saam met” Hom opgestaan het. As ons dit nie begin
verstaan nie, lees ons die boek Romeine selektief en luister ons net met ‘n halwe oor
na wat hoofstukke 5 tot 8, wat die sleutel tot oorwinning is, vir ons wil sê. Ja, sekerlik
is dit van die moeiliker gedeeltes in die Nuwe Testament om onder die knie te kry,
maar die oomblik wat jy in Romeine 5 die kontras sien tussen die eerste en die laaste
Adam en besef jy is nou “in Christus” (die laaste Adam), vind jy die sleutel en die res
van die boek vou lieflik oop en skenk jou sy skatte:
”Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van
die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” Rom.
6:6
“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God
in Christus Jesus, onse Here.” Rom. 6:11
Die boek Romeine is nie net ‘n kosbare openbaring van ons regverdigmaking in Jesus
nie, maar ook ‘n onverbeterlike handleiding tot ons heiligmaking in Christus. Hierdie
wonderlike boek is vryelik beskikbaar in jou Bybel en in jou eie taal. Die probleem is
dat die prediking wat ons dikwels hoor ‘n groot gaping los tussen vergifnis van sondes
(meervoud) en verlossing van die inwonende sonde (enkelvoud). Ons kan nie spring
van ABC na XYZ nie! Daar is ‘n hele verlossingsalfabet tussenin! Miskien kan ek hier
‘n aanbeveling maak van twee boeke wat jou baie sal help in hierdie verband: “The
Normal Christian Life” van Watchman Nee en “Romans Verse-by-Verse” van William
Newell. Maak net seker dat jy eers self diep induik in die koel verlossingswaters van
die ‘meer’ Romeine.

DAG 29
GOD SE PLAN VIR SY GEMEENTE: GEREFLEKTEERDE HEERLIKHEID
Die heerlikheid van die Nuwe Verbond is 'n gereflekteerde heerlikheid.
"Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig
af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te
word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat
die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18 (NAV)
Soos wat ons wegkyk van onsself, wegkyk van ander mense, wegkyk van ons
omstandighede, wegkyk van sorge en die verleiding van Mammon, wegkyk van alle
afleidings (distractions) en albei ons oë plaas op Jesus, die Leidsman en Voleinder
van ons geloof (Heb. 12:2), begin ons om die heerlikheid van hierdie onvergelyklike
Jesus toenemend te reflekteer.
"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense." 2
Korinthiërs 3:2
"En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig
soos die gesig van ‘n engel was." Handelinge 6:15
Hierdie heerlikheid is nie van ons, uit ons of deur ons eie toedoen nie, maar dit is wel
ín ons, omdat Christus in ons leef (Gal. 2:20).
53
"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van
God mag wees en nie uit ons nie." 2 Korinthiërs 4:7
Daarom is die groot oproep van die Nuwe Testament, geloof! Die Heilige Gees
probeer ons aandag kry sodat Hy daardie aandag eksklusief op Jesus kan fokus. Dit
verg onwrikbare en amper hardkoppige geloof om weg te kyk van die honderde dinge
wat daagliks skree vir jou aandag.
Die tyd raak min. Gaan ons generasie van gelowiges die moed van ons oortuiging
(geloof) hê om weg te kyk van die antieke vérleidings plus al die moderne áfleidings
(bv. elektronika ad infinitum) sodat ons met groter krag die heerlikheid van Jesus
kan reflekteer aan 'n bose geslag?

DAG 30
JESUS SELF IS ONS SEKURITEIT
"Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek
aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie." Joh. 14:27
Sonder die vrede van Jesus in ons binneste is ons soos 'n klein bootjie sonder 'n anker
op 'n baie groot en onstuimige see. Die wêreld waarin ons leef met al sy onsekerhede,
woelinge en onvoorspelbare gebeurtenisse is soos die onstuimige see waarop ons
lewensbootjie vaar. Daarom is dit uiters belangrik vir dissipels van Jesus om te
verstaan dat die vrede van Jesus 'n onveranderlike en vaste werklikheid is wat
gewaarborg word deur ons posisie in Hom by die Vader. As Jesus beweeg kan word
van Sy plek aan die regterhand van die Vader kan ons vrede in Hom versteur word,
maar Hy kan nie en daarom is ons sekuriteit in 'n deurmekaar wêreld onveranderlik!
Solank as wat ons, ons oë op Jesus hou, is daar niks op hierdie aarde wat ooit ons
ekwilibrium kan versteur nie. Ons sekuriteit is meer as net 'n gawe, dit is Jesus self en
daarom is dit vir ewig gewaarborg. Wat 'n vreugde! Wat 'n voorreg! Plaas jou hele
geloof daar, nie op finansies, besittings, eiendom, politiese of godsdiens instansies of
op enige mens nie. Jesus alleen is ons ewige sekuriteit by die Vader.

DAG 31
SONDER HOM IS ONS NIKS EN HET ONS NIKS

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met
Hom in heerlikheid geopenbaar word." Kolossense 3:4

"Christus, wat ons lewe is...". Wat 'n verstommende en heerlike stelling! Christus gee
nie net vir ons lewe nie. Hy ís ons lewe. Sonder Jesus kan ons nie lewe nie en sonder
Jesus het ons nie lewe nie, maar Jesus is meer as net ons Bron van lewe. Jesus het
nie net vir ons verlossing gebring nie, Hyself het vir ons verlossing geword (1 Kor.
1:30). Hy is "die weg, die waarheid en die lewe". Daarom is al die voordele van ons
redding onlosmaaklik aan Sy persoon verbind. Dit is nie net die verlossingswerk van
Jesus wat ons red nie, dit is juis ons verhouding met Hom, die Redder, wat al die
54
voordele en seëninge van verlossing binne ons bereik plaas. Daarom maak Jesus
hierdie verstommende stelling tydens Sy aardse bediening:

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens
eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie." Johannes 6:53

Ons geloofsverbintenis met Jesus is 'n geestelike werklikheid wat ons so afhanklik
maak van Hom soos die suurstof wat ons inasem om biologies te kan bly
voortbestaan. Jesus is in Sy persoon en wese ons geestelike lewe en daarom moet ons
baie versigtig wees dat ons nie so besig raak met die dinge van God of die leringe oor
Hom dat ons in die proses ons persoonlike en daaglikse verhouding met Jesus
verwaarloos nie.

APRIL: DIE EVANGELIE EN EVANGELISASIE

DAG 1
‘N GENERASIE WAT REIN IS IN SY EIE OË

'n Mens het die skrikwekkende vermoë om homself te flous en die rede daarvoor is
dat die hart "bedrieglik is bo alle dinge" (Jer. 17:9). Nie net kan jy jouself flous om te
glo dat jy nie verlossing of 'n verlosser nodig het nie (die ongodsdienstige
ongelowige), maar jy kan jouself ook bedrieg met ál jou godsdiens terwyl jy in
werklikheid nog nooit aan die voet van die kruis gekniel het nie.

"Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie, ‘n geslag wat
rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie. ‘n Geslag—hoe trots is sy
oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek!" Spreuke 30:11-13

Hoeveel mense is daar in ons generasie wat byvoorbeeld op 'n vorm of werksaansoek
sal invul dat hulle "Christen" is, maar hierdie "Christenskap" van hulle is alles op
hulle eie terme. Van die Heerskap van Jesus Christus weet hulle niks, of wil hulle
liefs nie weet nie.

Dit is so 'n generasie wat "rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie".
So 'n generasie wat al die bewegings en geluide maak van "Christene", maar wat
verstommend genoeg regkry om die eise van navolgenskap van Christus net
eenvoudig te ignoreer of weg te redeneer. So 'n generasie wat niks wil weet van enige
vorm van gesag nie en wat ouers en onderwysers nie eer of respekteer nie. So 'n
generasie wat steeds onder God se oordeel is en grootliks dwaal m.b.t. daardie feit.
Dit is 'n gevaarlike generasie, want die self-bedrog raak 'n kultuur en binne die
kultuur 'n geestelike epidemie wat aansteeklik is. Net God kan so 'n generasie se oë
open. Ons het nodig om baie ernstig te bid vir geopende oë.

55
DAG 2
“AMPER-DISSIPELS”
Is dit moontlik om soos ‘n dissipel van Jesus te lyk, maar nie werklik een te wees nie? 
Jesus het in Joh. 8:31 gesê:  “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” 
Ware dissipels het ‘n aptyt vir die Woord van Christus en op grond van die
wedergeboorte ‘n innerlike begeerte om dit te gehoorsaam.  Ons het onlangs op ‘n
plaas by McGregor gekuier en daar het die boer drie hanslammertjies gehad.  Ons
was gelukkig om te sien hoe honger en dringend hulle hul melk leeggesuig het.  Dit
het ons herinner aan 1 Petrus 2:2 wat sê “verlang sterk soos pasgebore kindertjies na
die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.”
Daarom het bedienaars van die Woord die verantwoordelikheid om dissipels te voed
met die Woord.  In ons bediening aan ander is dit uiters belangrik om te waak
daarteen om gewildheid vir onsself te probeer werf deur sielkundige boodskappe te
preek wat die ore streel of stories en praktiese lesse sonder ‘n leerstellige inhoud,
motiveringsboodskappe sonder die krag van God d.m.v. die evangelie, ensovoorts. 
Predikers kom dikwels vandag in versoeking om agter die massas aan te gaan en die
“amper-dissipel” gelukkig te hou in plaas van om ware dissipels te voed met die
Woord.  Hierdie benadering maak dit haas onmoontlik vir ware dissipels om
volwassenheid in Christus te bereik (Efes. 4:11-16).   Soos iemand gesê het “in plaas
van om die skape te voed, vermaak ons die bokke”. 
Verder is dit ononderhandelbaar dat die Evangelie in gemeentes duidelik en sonder
kompromie verkondig word met ‘n appèl op bekering en wedergeboorte, sodat
“amper-dissipels” ware dissipels kan word.
“En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en
verstand.” Jer. 3:15

DAG 3
GOD MAAK DIE GODDELOSE REGVERDIG

“Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as
vergoeding. Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie
het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses
vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo.” Rom. 4:4-5 (NLV)

“Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na
verdienste;  aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose
regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” Rom. 4:4-5 (OAV)

Abraham, die vader van ons geloof, het geglo dat God die goddelose (hyself!)
regverdig maak sonder enige verdienste “en dit is hom tot geregtigheid gereken”
(Rom. 4:3).  God skenk slegs Sy geregtigheid in Christus aan diegene wat erken dat
hulle geen geregtigheid in hulleself het nie.

56
Wanneer dissipels van Jesus hulle greep op hierdie waarheid verloor het dit die
volgende gevolge:

-           ons raak geestelik hoogmoedig


-           ons raak Fariseërs wat geweldig bewus is van ons andersheid in plaas daarvan
om te besef dat ons deur genade gered is en nie omdat ons anders of beter is as ander
mense nie
-           ons het nie meer ‘n diepe waardering en dankbaarheid vir ons redding nie
-           ons verstaan of waardeer nie die kosbare boodskap van Christus wat in ons
leef nie, want ons het ongemerk begin om ons eie regverdigheid te bevorder

Wanneer ons egter gedurig hierdie waarheid voor oë hou het dit tot gevolg dat ons:

-           lewe vanuit ‘n onuitspreeklike dankbaarheid dat die Here ons onverdienstelik
geregverdig het
-           kan lewe in ware nederigheid en nie die ‘eiesinnige godsdiens en nederigheid’
wat Kolossense 2:23 van praat nie
-           eg kan wees en eerlik met onsself en andere, omdat ons besef dat ons almal in
dieselfde bootjie is en die Here ewe nodig het
-           waarlik die lewe en vryheid van die Evangelie kan beleef en besef dat ons niks
het om te verdedig nie, want ons hele geloof en hoop is in “die God wat die goddelose
regverdig maak”.  Ons kan dus onbevange leef.

DAG 4
GLO NOU, VOLG LATER…MISKIEN
Jesus is nie net ons Verlosser nie, Hy is ook ons Here. Hy is altyd beide Verlosser en
Here en Hy kan nie in sy Persoon verdeel word nie. Is dit moontlik om in Hom te glo
as Verlosser, maar Hom dan nie te volg as Here nie? In Markus 10 is daar vir ons ‘n
gebeurtenis opgeskryf wat die antwoord baie duidelik maak.
“En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op
die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te
beërwe?” Markus 10:17

Let op dat hierdie man baie ywerig was om by Jesus uit te kom. Hy “hardloop” na
Jesus en hy “val op sy knieë” voor Hom. As ons vandag iemand raakloop wat so
ywerig is om van Jesus te hoor en wat die ewige lewe soek met so ‘n passie, wat sou
ons vir hom sê? Miskien iets soos: “Bid net hierdie gebed agter my aan…..Amen.
Daar’s hy. Jy’s nou ‘n Christen en nou moet jy aktief raak by ‘n kerk.” Jesus sê
antwoord is anders. Lees self verse 18 tot 20. Ons tel die teks op in vers 21:

“En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy
kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die
hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” Markus 10:21

Jesus het hierdie man “liefgekry”, maar dit het Hom nie weerhou daarvan om Sy
vinger presies op die afgod in sy hart te lê nie. Verlossing is klaarblyklik meer as om
net te glo dat Jesus die Verlosser is. Dit behels ‘n wegdraai van sonde, ‘n geloof wat

57
gekenmerk word deur ‘n radikale en opofferende liefde vir Jesus en ‘n lewenslange
volg in die voetspore van Jesus. Die prys was te hoog vir hierdie man.

“Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het
baie besittings gehad.” Markus 10:22

Miskien het hy later tot sy sinne gekom, maar ten minste is hy nie onder ‘n valse
sekuriteit gebring nie. Hy het duidelik verstaan wat Jesus van hom vra. Verstaan ons
generasie? Of dink ons dit is moontlik om te glo en dan eers later te volg…of dalk glad
nie?

DAG 5
"GESONDE MENSE" HET NIE 'N DOKTER NODIG NIE
"Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met
Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels:
“Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Maar Jesus het dit
gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is."
Mattheus 9:10-12 (NAV)

Jesus is die Redder van almal wat bereid is om te erken dat die sonde hulle sielsiek
gemaak het. Mense wat weet hoe nodig hulle Hom het, sal altyd by Jesus 'n oop deur
en dan vergifnis en verlossing vind. Die Fariseërs het gedink hulle is gesond en dat
hulle godsdienstigheid Jesus heeltemal oorbodig gemaak het. Hulle godsdiens was in
werklikheid bankrot.

Die eerste verantwoordelikheid van die liggaam van Christus is altyd om sout en lig te
wees wat mense bewus maak van hulle verlorenheid en behoefte aan 'n Redder (Mt.
5:13-16).  Die Vader gebruik sodoende sy gemeente om mense te trek na Jesus, die
enigste ware Verlosser van die gevalle mensdom. Dít is ware liefde en niks anders nie.
Dit is nié liefde om vir mense wat siek is in die duister te hou oor hulle ware kondisie
of om hulle kondisie te misken nie. As 'n gemeente of denominasie nie meer met God
saamstem oor wat sonde is nie, het die "sout laf geword" (Mt. 5:13) en het dus nie
meer 'n doel nie. Daar is hoofsaaklik vier misleidings van die satan om die
oortuigingswerk van die Heilige Gees m.b.t. sonde (Joh. 16:8) te neutraliseer. Die
eerste leer dat ek op die meriete van my ouers en voorouers se geloof (“ons vader is
Abraham…” Joh. 8:39) of deur my lidmaatskap by 'n gemeente die hemel kan haal. 
Dit maak die wedergeboorte oorbodig of 'n nagedagte. Die tweede is 'n godsdienstige
wettisisme wat die nakom van reëls en rituele sien as die weg tot saligheid. Die derde
is 'n oorgerealiseerde verlossingsleer wat wel sonde op sy naam noem, maar nie wil
erken dat mense steeds sondig is na die kruis en daarom bekering nodig het nie. Die
vierde is ‘n baie subtiele en waarskynlik die mees gevaarlike misleiding, naamlik om
die sonde self te herdefinieer tot so 'n mate dat dit nie meer sonde genoem kan word
nie. Waarvan moet ons dan verlos word? Die logiese uiteinde van laasgenoemde is 'n
ontkenning dat ons enigsins 'n Verlosser nodig het. Dit is die pad van die dood. "Daar
is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood"
(Spreuke 14:12).

58
DAG 6
GENADE VAN BEGIN TOT EINDE
“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade
geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie;
anders is die werk geen werk meer nie.” Rom. 11:6
Genade beteken, onder andere, dat God vir jou iets gee wat jy nie verdien het nie en
nie voor gewerk het nie.  Ons is gered “uit genade” (Efes. 2:8), ons groei geestelik en
word opgebou in Christus deur genade (Hand. 20:32), ons “dra vrug” deur genade
(Kol. 1:6) en ons het hoop op ‘n ewigheid in die teenwoordigheid van God deur
genade (2 Thes. 2:16).  Die lewe van dissipels van Jesus is genade van begin tot
einde.  Die oomblik wat ons dit probeer verdien of uit eie krag werk om dit te verbeter
of vermeerder neutraliseer ons, ironies genoeg, die krág van genade.  Genade is soos
onbeperkte fondse wat iemand in jou bankrekening inbetaal het.  Trek wat jy nodig
het en leef daaruit.  Geestelik gesproke ‘trek ons’ fondse uit hierdie rekening met die
hand van geloof.   Kan dit werklik waar wees dat God my alles skenk “wat tot die lewe
en die godsvrug dien” (2 Pet. 1:3) deur genade alleen?   Dit is wat die Bybel leer.  Jy
mág dit maar glo.

DAG 7
DODELIKE SOSIALE DRUK

"Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die
Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want
hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God." Johannes 12:42-
43

Hierdie is van die hartseerste verse in die hele Bybel.  Dit is amper ondenkbaar dat 'n
mens jou ewige bestemming kan oorlaat aan die wisselvallige en dikwels skynheilige
standaarde van dit wat populêr en aanvaarbaar is in jou gemeenskap. Hier gaan dit
nie net oor die sekulêre wêreld nie, maar veral oor dit wat populêr is in godsdienstige
kringe.  Sosiale druk is een van die mees effektiewe wapens wat satan gebruik om
mense in sy mag te hou.  Om Jesus te volg beteken dat jy moet sterf vir 'wat sal die
mense sê' en doen wat jy in jou hart weet die waarheid is. “Want elkeen sal sy eie pak
dra.” Galasiërs 6:5

DAG 8
GROEPSAFSLAG VIR 'N KAARTJIE HEMEL TOE?

"Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die
kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen...toe sê hulle vir

59
Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê
vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê..." Johannes 8:39-42

Hierdie gedeelte in Johannes 8 bevat 'n profetiese boodskap, nie net vir die Jode van
die tyd nie, maar ook vir alle "godsdienstige" mense oral en vir alle tye. Die Jode het
gedink omdat hulle deel was van die sogenaamde "verbondsgemeenskap" as gevolg
van hulle besnydenis en omdat hulle deur natuurlike afstamming "kinders van
Abraham" was dat hulle outomaties oppad was hemel toe en God as Vader gehad het.
In vers 44 antwoord Jesus hulle egter met 'n verstommende stelling, "julle het die
duiwel as vader". Wat maar net beteken dat hulle nog nie die ware wedergeboorte
deur die Gees van God beleef het nie en steeds onlosmaaklik verbind was aan die "wet
van die sonde en die dood" via die gevalle Adam.

Dit is net persoonlike bekering tot God en geloof in Jesus wat red. Geen verwantskap
met enige groep, gemeente, denominasie, of tradisie het enige krag of vermoë om te
red nie. Daar gaan nie kerke of denominasies in die hemel wees nie, net ware
dissipels van Jesus. Geen ritueel of sakrament kan red nie en niemand sal God ooit
sien op grond van hulle ouers of leiers se geloof nie. "Vertrou nie op prinse, op die
mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op
daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob
het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God" (Ps. 146:3-5). Net die hart wat draai
téén die sonde in bekering en ná Christus in geloof, onder invloed van die Heilige
Gees se oortuiging deur verkondiging van die suiwer evangelie kan ooit die reddende
genade van God in waarheid beleef. Maak honderd persent seker dat jou geloof in
Christus alleen is. "My hope is built on nothing less than Jesus' blood and
righteousness; I dare not trust the sweetest frame, but wholly lean on Jesus' name.
On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand."

DAG 9
HERWIN DIE GEKAAPTE GENADE-BOODSKAP
Genade is per Bybelse definisie net beskikbaar vir die nederiges wat weet hoe
afhanklik hulle van God is.
"Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges,
maar aan die nederiges gee Hy genade." Jakobus 4:6
Genade is nie meer genade as 'n mens dink jy verdien dit omdat jy intrinsieke waarde
of enige kwaliteit in jouself het wat God se genade as't ware aktiveer of Hom onder
verpligting plaas om dit vir jou te gee nie. Genade kan net die onmiskenbare
dankbare respons lewer in die hart van mense wat gesien het dat hulle heeltemal
verlore en onder God se oordeel is.
Verder bring die Bybelse verstaan van genade ons nie net by gebrokenheid en dan
geloof nie, maar dit bly ook deurgaans die bron en impetus van ons lewe en groei as
dissipels van Jesus. Daarom is dit so krities belangrik vir ons om die genade-
boodskap wat deur satan gekaap is te herwin. Ons het nodig om die hele spektrum
van die genade-boodskap te heroorweeg en te hersien. Van die manier wat ons
ongelowiges blootstel aan die evangelie van genade tot die volle werk van genade in
alle aspekte van die lewe van 'n dissipel.

60
In Handelinge 20 sê Paulus vir die ouderlinge in Efese in effek dat dit slegs deur "die
woord van sy genade" is wat God alle dissipels opbou en 'n erfenis in die koninkryk
gee.

"En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat
magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes."
Handelinge 20:32

Ons geestelike groei en oorwinning is volgens hierdie en baie soortgelyke tekste totaal
afhanklik van 'n suiwer verstaan van die genade-boodskap van die evangelie. Kan iets
daarom meer dringend wees vir die gemeente van God as om die gekaapte genade-
boodskap te herwin?

DAG 10
IS JY 'N DISSIPEL?

Bybelse geloof is gebaseer op liefde vir God. Dit is nie net om in te stem met Bybelse
feite of om dit te bely nie. Ek wonder of daar 'n waarheid is wat ons generasie meer
nodig het om te hoor as hierdie een.
Vir een of ander rede het die idee by ons posgevat dat party dissipels Jesus liefhet en
dat ander maar net glo in Hom en dat dit nie regtig so 'n groot verskil maak in die
finale analise nie. Solank jy net glo. Reg?
Nee, heeltemal verkeerd. Die "duiwels glo ook" (Jak. 2:19), maar hulle het geen liefde
vir God nie. So 'n geloof kan niemand red nie.
Waarom is die terme van dissipelskap wat Jesus neerlê so streng? Soos byvoorbeeld
Mattheüs 10 vers 37: "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en
wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie."
Want dit toets ons liefde vir Hom! Sonder hierdie liefde kan ons volgens Jesus self
níe Sy dissipels wees nie. Jesus het geen dissipels wat Hom nie só liefhet nie. Nie
eers een nie. Miskien moet ons weer gaan dink oor wat dit beteken om "dissipels" te
maak "van al die nasies" (Mt. 28:19) en wat die inhoud en oogmerk is van die
evangelie wat ons verkondig.
Maar los dit ons nie dan net weer by redding deur verdienste en nie deur geloof alleen
nie? Nee geensins nie, want hierdie liefde vir Jesus is die gevólg van Sy liefde vir ons
en dit is dan ook die wese van Bybelse geloof.
"Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19
Indien hierdie liefde vir Jesus dus nie in my hart is nie, bewys dit net een ding; die
evangelie het nog nooit tot binne in my hart deurgedring om daar Bybelse geloof op te
wek nie (Rom. 10:17). Dan het ek dringend nodig om na God te draai en te bid dat dit
wel sal gebeur. Dit is letterlik 'n saak van lewe en dood.

61
DAG 11
JESUS - ALLES OF NIKS
Hudson Taylor, die bekende sendeling na Sjina, het by geleentheid gesê "Christ is
either Lord of all, or He is not Lord at all."
Maar is dit waar? Leer die Bybel werklik dat Jesus se Heerskappy so absoluut moet
wees in ons lewens dat halfhartige toewyding aan Hom gelyk is aan geen toewyding
en ook dan geen ware verhouding met Hom nie? Indien hierdie stelling van Hudson
Taylor beteken dat net mense wat perfekte gehoorsaamheid aan Jesus uitleef in elke
aspek van hulle bestaan op aarde Jesus werklik ken, sou dit vanselfsprekend vals
wees. Ons almal groei nog geestelik en ons is bedoel om aan te hou groei tot ons
sterf. Maar as dit beteken dat net diegene wat in hulle harte en daaglikse getuienis en
belydenis voor mense Jesus as absolute Heer van alles in hulle lewe érken en kies om
Hom só te volg; dat net húlle Hom werklik ken, dan is dit waar en 100 persent in lyn
met die Bybel.
Is Jesus alles vir jou? Kan mense aan jou gesindheid en hartsbegeertes sien dat jy
Hom bo alles liefhet en kies om onderdanig te wees aan Sy Woord? Praat jy spontaan
van Hom in jou daaglikse gesprekke, of net wanneer jy in "geestelike geselskap" is? Is
Sy Woord regtig die norm van jou lewe waaraan jy alles maar alles in jou denke en
besluite onderwerp? Indien nie, is dit baie moontlik dat Hy in werklikheid niks is vir
jou nie en dat jy nog nooit jou knie gebuig het voor Hom as Verlosser en Here van
alles nie. Dan het jy nog nooit werklik gesien dat jy 'n totaal verlore sondaar is en dat
Jesus se kruisdood waarlik die enigste manier was wat jou sondes deur God die Vader
vergeef kon word nie.
As jy hierdie boodskap lees is daar nog tyd vir jou. Buig jou knie en erken dat Jesus
Here van alles is. Daar is geen groter innerlike vreugde as 'n lewe onder Sy
Heerskappy nie, maar die alternatief is ewige verdoemenis.
'En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder
die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie."
Handelinge 4:12

DAG 12
JY WORD GENOOI

Het jy al geantwoord op God se uitnodiging? Hier is dit:

“O Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en
eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” Jesaja 55:1

“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat
dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Openbaring 22:17
62
Daar is geen plaasvervanger vir geestelike dors nie. Net die wat werklik dors na God
sal wegdraai van die besoedelde fonteine van die wêreld en drink uit die onuitputlike
fontein van verlossing. Tog staan die uitnodiging regdeur die Bybel en nooi God die
gevalle mensdom om hulle dorstige siele te kom verkwik by die heerlike waters wat
Hy beskikbaar maak. Hierdie waters is natuurlik niks anders nie as verlossing en
versadiging in Jesus.

Die “kinders van Korag” roep uit in Psalm 42 vers 2 “soos ‘n hert wat smag na
waterstrome, so smag my siel na U, o God!” Dit is so betekenisvol dat hierdie
Goddelike uitnodiging ook reg aan die einde van die Bybel weer gerig word tot die
“wat dors het” en die “wat wil”. Daar is vandag soveel “fonteine” in die wêreld wat
belowe om die mens se dors te les, maar niks en niemand anders as Jesus kan ons
geestelike dors les nie. Dissipels van Jesus is per definisie mense wat “water skep met
vreugde uit die fonteine van heil” (Jes. 12:3). Maar is ons nog dors vir die
teenwoordigheid en die Persoon van Jesus, of het ons tevrede geraak met die leë
beloftes van alternatiewe bronne van bevrediging?

DAG 13
NET GOD KAN ONS GEESTELIKE OË OPEN

Die volgende teksgedeeltes maak dit baie duidelik dat geestelike sig 'n bonatuurlike
werklikheid is. Net God kan mense se oë oopmaak om die heerlikheid van die
evangelie te sien. Aan die ander kant doen satan alles in sy vermoë om mense blind
te hou vir die waarheid van die evangelie.

"Naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het,
sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die
beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie." 2 Kor. 4:4

Hieruit kan mens sekerlik aflei dat God wil hê dat mense se geestelike oë moet
oopgaan sodat hulle die vreugdes van verlossing en gevolglik Sy teenwoordigheid kan
beleef. Daarom maak Paulus dit dan ook duidelik dat dit God is wat as't ware die lig
in ons binneste aangeskakel het sodat ons die geestelike inhoud van die boodskap
aangaande Jesus kan "sien". Dit is dus baie meer (maar ook nooit minder nie let wel)
as net 'n oortuiging en gevolgtrekking wat ons met ons verstand by uitgekom het.

"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons
harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Kor. 4:6

Wat egter ook glashelder duidelik is as 'n mens ander teksgedeeltes oor dieselfde
onderwerp ondersoek, is dat God nooit mense se geestelike oë oopmaak langs die weg
van ongehoorsaamheid nie. Daarom is dit ongelukkig ook tragies waar dat 'n mens
baie godsdienstig kan wees (soos die Jode van ouds) en gedurig besig met die Bybel,
maar as jy nie bereid is om die evangelie te gehoorsaam met 'n totale oorgawe aan
63
Jesus Christus nie bly jy geestelik blind en gevolglik ook verlore.

"En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus
hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet,
tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle
hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie."
Handelinge 28:25-26

DAG 14
NUWE BEGEERTES IS DIE GROOT TOETS VIR EGTHEID
Met die wedergeboorte ontspring daar nuwe begeertes in 'n mens se hart. Dit is dus
baie meer as net 'n belydenis, 'n instemming tot korrekte leerstelling, 'n nuwe
benadering tot die lewe of 'n nuwe begrip, ingesteldheid of gesindheid. Esegiël
profeteer as volg oor die wese van die nuwe verbond:
"En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel
en my verordeninge onderhou en doen." Esegiël 36:27
Hierdie begeertes is vir seker nog nie so sterk soos hulle kan of gaan wees in die jong
gelowige se hart nie, maar hulle is nietemin eg en lewenskragtig. Daarom kan ons
sonder enige vrees vir teëspraak die stelling maak dat die ware en egte Christelike
geloof ten diepste te doen het met nuwe begeertes in die dissipel se hart. In elke ware
dissipel se hart is daar byvoorbeeld 'n begeerte om God te ken en Hom te
gehoorsaam, om heilig te leef, om geestelike en hemelse dinge te bedink d.m.v. die
Woord van God (sonder noodwendig onmiddellike voordeel vir myself), om die
gemeenskap van ander dissipels van Jesus te geniet, om te sien hoe verlore mense tot
redding kom, ensovoorts.
Alle dissipels gaan deur tye waar hulle moet veg teen wêreldse begeertes, maar in die
ware dissipel triomfeer die nuwe begeertes van die nuwe lewe in Christus en hierdie
nuwe begeertes dra vrug wat bly. In die pseudo dissipel oorwin die begeertes van die
wêreld en is daar later nie eers meer uiterlike tekens van Goddelike begeertes nie.
"Maar...die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit
bly sonder vrug." Markus 4:19 (NAV)
Laat elkeen baie seker maak dat daar wel nuwe begeertes in sy of haar hart ontspring
het. As dit nie die geval is nie het jy nodig om dringend na Christus te draai met jou
hele hart en siel en God te vra vir die ware wedergeboorte wat net in Christus
beskikbaar is.

DAG 15
REDDING HET ALLES TE DOEN MET DIE AANGESIG VAN JESUS CHRISTUS

64
Hoe ons ookal die evangelie wil beskryf of definieër, een ding is duidelik; geen
definisie van die evangelie wat nalaat om die "aangesig van Jesus Christus" sentraal
te maak, kan ten volle die goeie nuus openbaar nie.
"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons
harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Korinthiërs 4:6
Ons word gered "in die aangesig van Jesus Christus" soos wat die Heilige Gees Hom
vir ons "afskilder" (Gal. 3:1) tydens die ware prediking van die evangelie. Ons word
verder ook geheilig en verander soos wat ons áánhou om die heerlikheid van Christus
te aanskou (2 Kor. 3:18).
Daarom kan ons waarlik sê dat Jesus Christus nie net ons Redder is nie, maar dat die
aanskoue van Sy aangesig ook die doel van ons redding is. Hy is voorwaar die
"Leidsman en Voleinder" (Heb. 12:2) van ons geloof! Die Bybel sê nie verniet dat die
straf van die ongelowige 'n ewigheid "weg van die aangesig van die Here" is nie. Dit
is 'n skrikwekkende gedagte.
"Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here
en van die heerlikheid van sy sterkte." 2 Thessalonicense 1:9
Dink jy aan jou geloofslewe as die aanskoue van die aangesig van Jesus in die
evangelie? Dit is nie net absoluut skriftuurlik nie, dit is die grootste vreugde moontlik
vir enige skepsel. Die hemel het alles te doen met Sy aangesig en die hel met die
afwesigheid van sy aangesig.

DAG 16
REDDING NOU, KONINKRYK LATER?
"En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie
van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk
van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie." Markus 1:14-15
Is dit moontlik om die Nuwe Testament deur te lees en tot die gevolgtrekking te kom
dat die koninkryk van God nie nou-al 'n eis op my lewe het nie en dat God eerder in
die hier en nou gefokus is op my persoonlike redding? Dít is onmoontlik en so 'n
gevolgtrekking sou fataal wees. Maar is dit nie presies die soort evangelie wat ons al
vir dekades lank preek nie? "Jesus het my lief net soos ek is, Hy skenk my vergifnis
vir my sondes en dan is Hy heel tevrede daarmee as ek aanhou leef asof Sy koninkryk
geen eis op my lewe het nie".
Jy kan die Nuwe Testament 'n honderd keer deurlees en jy sal nie so 'n evangelie daar
vind nie! Wat jy wel sal vind is 'n evangelie wat 'n absolute appél op alle mense maak
om hulle oë te vestig op Koning Jesus en om ernstig ag te slaan op Sy oproep tot
totale oorgawe aan Sy heerskappy hier en nou! Jesus en die apostels het dit baie
duidelik gemaak dat ons in alles die koninkryk van God eerste moet stel (Matt. 6:33;
Hand. 20:25), nie eendag in die hemel nie (dan is dit te laat), nou, vandag. Staan ons
werklik onder die absolute heerskappy van Christus in ons persoonlike lewens, met

65
ons finansies, in al ons besluite, in ons gesinne en in ons gemeentes? Mag die Heilige
Gees ons lei na ‘n eerlike antwoord.

DAG 17
SALIGE AFHANKLIKHEID
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die
hemele.” Matt. 5:3 (OAV)
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” Matt. 5:3 (NAV)
Jesus skroom nie vir ‘n oomblik om die kernprobleem van die gevalle mensdom direk
aan te spreek nie.  Sy woorde is soos ‘n pyl wat reguit en sekuur na die teiken beweeg
en dan diep penetreer.  Hy wil dit uit die staanspoor baie duidelik maak dat die
gesindheid van ons harte radikaal moet skuif van ‘n sondige ónafhanklikheid na ‘n
kinderlike áfhanklikheid wat in alles en in elke situasie instinktief na die Vader gaan
om Sy wysheid en krag te verkry.  Later in Sy bediening (Joh. 13-17) maak Jesus dit
duidelik dat hierdie afhanklike lewe slegs geleef kan word in ‘n wesenlike eenheid met
Hom deur die krag van die Gees.  Sonder Hom kan ons nie ‘n enkele tree in die regte
rigting gee nie (Joh. 15:5)!  Hy gee ook nie net hulp en krag nie, Hy ís die krag, lewe
en wysheid binne-in ons (1 Kor. 1:30). 

DAG 18
SOEKERS WAT NOOIT VIND
Koos du Plessis se "ou, ou liedjie" praat van "soekers wat nooit vind" nie. Volgens die
Bybel is daar nie iets soos ware soekers wat nooit vind nie. Daar is wel baie in die
Bybel oor halfhartige soekers wat teleurgesteld bly omdat hulle nooit by vervulling
uitkom nie.

"Ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef,  as jy daarna soek soos na
silwer en dit naspeur soos verborge skatte,  dan sal jy die vrees van die Here verstaan
en die kennis van God vind."  Spreuke 2:3-5

Hier is een van die honderde beloftes in die Bybel dat soekers wel sal vind.  Maar let
op na die intensiteit van die soekers wat vind.

Ons leef in die era van halfhartige soekers. Te veel ander dinge wat ons aandag opeis
en ons harte verdeel. Dit is hoekom ons dikwels heel tevrede is met afgewaterde
motiveringsboodskappies wat paradeer as geestelike kos, selfs al verander dit
absoluut niks in ons lewens nie. Dit is ook hoekom ons gou protesteer wanneer
iemand vir ons 'n bietjie vaste kos uit die Bybel wil gee. Want dit vereis dat ons self
moet dink, bepeins, reflekteer en verteer. Maar daar is geen ander manier om
geestelik volwasse te word nie. Hoe honger is jy vir die Woord van God? Dit sal
bepaal of jy 'n soeker gaan wees wat sal vind of nie.
66
DAG 19
TOETS JOU GEESTELIKE GESONDHEID HIERAAN
Bybelse redding en gevolglike geestelike gesondheid en groei gaan nie net oor 'n
belydenis (Mt. 7:21) of 'n geloofsoortuiging (Jak. 2:19) nie. Dit gaan ten diepste oor
dit wat vir ons waardevol is en die manier wat ons dan omgaan met hierdie "skat" wat
ons ontdek het, relatief tot die skatte van die wêreld.
"Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand,
wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat
hy het, en koop daardie saailand.” Mattheüs 13:44
"Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of
wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?" Mattheüs 16:26

Daar is geen aardse skatte wat 'n mens se siel kan loskoop van die ewige verderf nie,
maar die manier wat jy aardse skatte hanteer wys wel of jy al die "skat in die saailand"
ontdek het.
Christus is die "skat in die saailand" en as jy hierdie skat werklik ontdek het, is jy
bereid om alles op te gee om te groei in kennis van Hom.
"Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek
ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my
Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as
wins te verkry." Filippense 3:7-8
As Christus werklik vir jou die "skat in die saailand" is, sal jou gesprekke, die manier
wat jy omgaan met tyd en geld, en elke aspek van jou lewe getuig van dit wat vir jou
bo alles kosbaar is. Ware dissipels se waardestelsel is radikaal anders as die wêreld
s'n. So radikaal dat dit baie gou sigbaar word vir almal rondom hulle. Is jou geloof
(waardestelsel) so sigbaar?
Jim Elliot het gesê: "He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he
cannot lose."

DAG 20
VERGIFNIS: DIE DEUR TOT VOLKOME GENESING

Genade is 'n kosbare woord vir gebroke mense.  Vir mense wat werklik by die einde
van hulleself en al hulle slim planne en projekte vir self-verbetering gekom het.  Vir
mense wat geleer het dat niks op hierdie aarde werklik herstel kan word sonder die
ontvang van die gawe van vergifnis uit die hart en hand van 'n barmhartige Vader wat
Sy Seun in ons plek gestraf het nie.  Dit is eers in die oomblik van 'n totaal afhanklike
geloof in vergifnis op grond van die bloed van Jesus alleen wat jou voete stewig
geplaas word op die pad na volkome genesing vir jou siel.  Nie voor dan nie, en op
geen ander manier nie.
67
DAG 21
IS DIT GOEIE NUUS VIR GOEIE MENSE?
Die evangelie is 'n boodskap wat ons vertel hoe verlore mense gered word, nie hoe
goeie mense beter mense word nie.
"Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons
nog sondaars was." Rom. 5:8

Die goeie nuus van God se verstommende genade vir verlore mense is bedoel om ons
innerlik so te reinig en vry te maak van ons knaende self-gerigtheid dat ons spontaan
sal begin om met ander te praat van hierdie onverklaarbare liefde in die hart van 'n
Vader wat uitdrukking gevind het in die onbaatsugtige self-opoffering van 'n Seun. 
Die krag van die evangelie is 'n bonatuurlike kommunikasie tussen die hoogste
heerlikheid denkbaar en die diepste verlorenheid wat 'n mensehart ooit kan beleef. 
God se liefde is bewys in die nederige kruis en wil ons keer op keer weer oorweldig en
die hoogmoed uit ons harte verjaag. 

DAG 22
WARE DISSIPELS IS LIEF VIR DIE LIG

Die apostel Johannes skryf sy hele eerste brief om baie duidelik te maak dat daar 'n
reuse kloof tussen lig en duisternis is en dat die twee nooit kan meng nie. Dit het in al
Johannes se geskrifte baie pertinente betrekking op die verskil tussen ware en valse
dissipels.
"En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:
God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.' 1 Johannes 1:5
In sy evangelie wys hy uit dat mense wat wil volhard in die duisternis van hulle eie
gevallenheid nooit toelaat dat Jesus, die waaragtige lig volgens Johannes 1 vers 9, die
duisternis in hulle konfronteer en sodoende redding en genesing bring nie.
"Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke
nie bestraf mag word nie." Johannes 3:20
Jesus hou egter aan om die uitnodiging te gee vir mense om deur geloof in Hom die
kloof tussen duisternis en lig oor te steek. Slegs Jesus kan mense neem van
duisternis na lig.
"So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word..."
Johannes 12:36
In een van sý briewe verklaar Paulus onomwonde dat al die mense wat Jesus se
uitnodiging aanvaar wel nou eksklusief "kinders van die lig" is.
"Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of
die duisternis nie." 1 Thessalonicense 5:5
68
Satan probeer alles in sy vermoë om die skeidslyn tussen lig en duisternis onduidelik
te maak, sodat mense nie kan bepaal waar hulle werklik staan nie en ook om ware
dissipels te verwar. Die Nuwe Testament ontmasker sy bose planne en maak dit baie
duidelik dat "kinders van die lig", ongeag die worstelinge wat hulle steeds mag hê met
die reste van duisternis in hulle harte, die lig liefhet en begeer om te leef in die volle
lig van reinheid en heiligheid in Christus.

DAG 23
IS DIE GROOT DRIE IN JOU HART?
 "En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie...."  1 Korinthiiërs 13:13
Regdeur die Nuwe Testament praat Jesus en die apostels op verskillende maniere van
geloof, hoop en liefde; dikwels van geloof en liefde wat saamwerk in die dissipel se
lewe en soms van al drie saam. In Kolossense 1 leer Paulus ons dat die drie
onlosmaaklik aan mekaar verbind is en dat al drie geanker is in Jesus. 
"Omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die
heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle
vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie." Kolossense
1:4-5
Ons kan hierdie drieling van die Nuwe Testament die groot drie in die dissipel se lewe
noem. As 'n mens wil toets of jou belydenis van Jesus eg is, hoef jy nie veel verder te
soek as hierdie drie kwaliteite nie. Is hulle teenwoordig in jou hart en lewe?
Ware dissipels van Jesus se geloof rus ten volle in wie Jesus is en wat Hy vir ons
gedoen het aan die kruis. Hulle vertrou nie in die mens of in hulle eie krag en wysheid
nie. Hulle geloof vind tweedens uitdrukking in liefde vir ander gelowiges. Jy hoef
hulle nie te probeer oortuig dat liefde altyd saam met ware geloof stap nie. Laastens is
hierdie geloof en liefde van die ware dissipel geanker in die sekere wete dat Jesus
opgestaan het uit die dood en dat daar daarom ook vir ons 'n heerlike opstanding
beskore is. Hierdie drie geestelike kwaliteite ontvang ons as't ware in saadvorm by die
wedergeboorte en soos wat ons geestelik groei word hulle al hoe sterker in ons hart.
Dit is belangrik dat ek sal groei in geloof, hoop en liefde, maar eers moet ek seker
maak dat die groot drie wel, in watter mate ookal, in my hart teenwoordig is. Net so
kan ek weet dat Christus werklik in my woon (2 Kor. 13:5).

DAG 24
BLYDSKAP IN DIE HERE ÍS GEHOORSAAMHEID
Ons het soms die idee dat gehoorsaamheid een ding is in 'n dissipel se lewe en
blydskap 'n heel ander ding. As ons egter let op die feit dat ons in die Nuwe
Testament beveel word om ons te verbly in die Here ontvou daar vir ons 'n heel ander
prentjie.
"Wees altyddeur bly." 1 Thes. 5:16

69
"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" Filippense 4:4
'n Mens kan in 'n sin sê dat blydskap in die Here die dissipel se eerste
verantwoordelikheid is. Hierdie blydskap lei dan tot verdere gehoorsaamheid in ons
lewens en dit gee ons ook die krag om versoeking te weerstaan. 'n Dissipel sonder
blydskap is 'n maklike teiken vir satan.
Maar hoe kan ons woorde soos beveel, gehoorsaam en verantwoordelikheid in
dieselfde sin as blydskap gebruik?! Evangelie blydskap is anders as blydskap wat
omstandigheid-afhanklik is. Evangelie blydskap is 'n bevel van God, omdat die
inhoud van die genade boodskap so oorweldigend ryk is dat onuitspreeklike blydskap
die enigste logiese respons is.
Kinderlike geloof in die volheid van Christus lei altyd tot hierdie blydskap. Daarom is
'n gebrek aan blydskap niks anders nie as die ongehoorsaamheid van ongeloof (soos
teenoor "geloofsgehoorsaamheid": Romeine 1 vers 5). In hierdie konteks van die
evangelie maak dit dus perfekte sin dat God ons kan beveel om bly te wees in Sy Seun.

DAG 25
DIE GEVAARLIKSTE LEEFRUIMTE OP AARDE
“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die
hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my
Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my
verordeninge onderhou en doen.”  Esegiël 36:26-27 
Die belofte van die Nuwe Verbond het alles te doen met ‘n nuwe hart.   Uit die hart
vloei “die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23).  Daarom is die wedergeboorte
onontbeerlik en godsdiens sonder ‘n nuwe hart nie net dwaas en geheel en al
nutteloos nie, maar sekerlik die gevaarlikste leefruimte op aarde.  Hoekom?   Want
dit is moontlik vir ons om met al ons godsdiens rites en rituele totaal mislei te wees
en onsself te verbeel dat godsdiensbeoefening en allerhande godsdienstige aktiwiteite
God vreeslik beïndruk en outomaties Sy guns waarborg.  Die Bybel leer egter duidelik
dat God slegs beïndruk is met dit wat Hyself inisieër en onderhou in en deur Sy
geliefde Seun (Rom. 11:36).  
Daarom is gemeentes, groepe, en bedieninge waar persoonlike bekering,
wedergeboorte, en die nuwe lewe in Christus nie verkondig en konstant beklemtoon
word as die basis van alles wat ons doen nie, gevaarlike plekke.  Daar vind ons
gewoonlik groot getalle mense “wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag
daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5).  Wat dit so gevaarlik maak is dat hierdie mense
gewoonlik salig onbewus is daarvan dat hulle heeltemal verlore is en ‘n ewigheid
sonder God tegemoet gaan.  Dan liewer ‘n opperste wêreldling wat bewus is van sy
behoefte aan redding.  Mag God ons ‘n las gee vir verlore godsdienstige mense en ‘n
dringendheid in ons gees om reguit te praat oor wedergeboorte.  Om ons op te hou
met allerhande godsdienspraatjies as dit nie gebaseer is op die nuwe lewe in Christus
nie, is dwaas en gevaarlik.

70
“Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie
weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Johannes 3:3
“En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons
dan ook blind?  Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê
nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.”  Johannes 9:40-41  

DAG 26
DIE GROOT OORLOOP

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My
gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan
uit die dood in die lewe." Johannes 5:24

Jesus beklemtoon die gewigtigheid en finaliteit van hierdie verstommende stelling


deur dit in te lui met die woorde 'voorwaar, voorwaar'.  Daar is 'n menslik-
onoorbrugbare kloof tussen twee groepe in hierdie wêreld. Aan die een kant is die
verhoor-afwagtendes wat gedurig leef met 'n swaard oor hulle koppe.  Vir hulle is
daar aan die einde van die reis net 'n doodloopstraat wat Jesus 'die oordeel' noem. 
Aan die ander kant is diegene wat die knie gebuig het voor Jesus met openlike
erkenning dat dit inderdaad die Vader was wat Hom na hierdie aarde gestuur het om
te 'soek en te red wat verlore was' (Luk. 19:10). 

Die Vader het in Jesus vir ons 'n brug gebou tussen 'die oordeel' en 'n onuitspreeklike
saligheid.  Almal wat daardie brug vertrou het en gevolglik oorgeloop het na die ander
kant kan reeds in hierdie lewe wéét dat daar nie meer 'n oordeel wag aan die einde
van die aardse reis nie, maar 'n Vader met ope arms. Wat 'n vrede! Wat 'n vreugde!

DAG 27
DIE GROOT TRAGEDIE

"As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net
vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van
hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit
is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is." 2
Korinthiërs 4:3-4 (NAV)

Is die heerlikheid van die evangelie bedoel vir hierdie 'ongelowiges' wat blind is in en
deur hulle onkunde?  Ja vir seker!  Anders sou dit nie eers nodig gewees het om hulle
te verblind nie, want die evangelie sou t.o.v. hulle eenvoudig irrelevant wees. 

Beide godsdienstige ongelowiges (sien 2 Kor. 3) en sekulêre ongelowiges weier om


hulle eie 'wysheid' en self-ontwikkelde lewensfilosofie te verloën sodat God die sluier
wat oor hulle verstand is, kan lig.  Die Vader het niks anders as heerlikheid in Sy
geliefde Seun vir hulle in gedagte nie (1 Tim. 2:3-4), maar hulle verkies die leuen. 

71
Wat 'n enorme tragedie!  Soveel te meer dan die onus op ons om te bid dat mense se
oë sal oopgaan om die heerlike afgehandelde werk van Jesus te sien en hulle knie te
buig voor Sy heerskappy. 

DAG 28
DIE KONINKRYK VAN SELF
"Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle
daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die
verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." 2 Petrus 1:4

Die verwoestende "begeerlikheid" wat Petrus hier van praat is die tirannie van die
self. Ek wil mý sin hê, mý wil moet geskied, die "koninkryk van self" moet in al sy
heerlikheid deurbreek in mý lewe. Dit is nie net "wêreldse mense" wat so dink nie.
Die boodskap wat vandag op baie fronte deurgaan as "evangelie" leer subtiel dat dit
die wese van verlossing is. God bestaan om my wil en wens te laat geskied en vir
hierdie doel het Hy ook Sy Seun na die aarde gestuur.

Teenoor hierdie valse "evangelie" staan Jesus in lynregte opposisie en Hy verklaar in


gebed; "nie my wil nie, maar u wil geskied!" (Lukas 22:42 ). Hy leer Sy dissipels om
te bid; "laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied" (Matt.
6:9-10).

Ware verlossing dan bevry my van die "koninkryk van self". Dit breek die tirannie
van die "ek-lewe" en dit lei my na die plek waar dit alles gaan oor Gód se naam,
koninkryk en wil. Dít is niks anders nie as die lewe van "Christus in my" (Gal. 2:20).

DAG 29
DIE KRAGTIGE GETUIENIS VAN DIE EVANGELIE IN 'N MENS SE HART

Die getuienis wat God self in jou hart gee wanneer jy wederbaar word deur die Gees is
groter as enige mens se getuienis, selfs die van die oorspronklike apostels.

Paulus sê selfs al sou hy of een van sy medewerkers 'n ander evangelie verkondig as
die oorspronklike een wat wedergeboorte tot gevolg gehad het, durf die dissipels in
Galasië nie die getuienis aanvaar nie. Nie eers 'n bonatuurlike verskyning en
verkondiging van 'n engel moet ons laat twyfel aan die oorspronklike getuienis van
die Gees in ons binneste nie.
"Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met
die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!" Galasiërs 1:8
Die historiese werklikheid van die dood en opstanding van Jesus wat 'n appél maak
op geloof alleen (1 Kor. 15:1-6) is die enigste evangelie wat ware wedergeboorte kan
bewerkstellig. Hoe sterk staan ek en jy in ons oortuiging van die evangelie? Wat as
groot name of jou plaaslike predikante en leraars begin om die evangelie aan te pas of
72
af te water? Staan jy onwrikbaar op die Woord van God en die getuienis van die
Heilige Gees in jou hart of kan mense jou kop swaai? Ek is bevrees in baie kringe
vandag het die leierskap van die kerk die soort mag oor mense se gewetens wat eintlik
net die Heilige Gees se prerogatief is. Dink weer oor die radikale implikasies van
Paulus se stelling in Galasiërs 1 vers 8.

DAG 30
HIERDIE PLEK GAAN BRAND, BOET!
Ons generasie is besig om die seilstoele op die Titanic mooi te rangskik terwyl hy
besig is om te sink. Ons huur vrolik binnenshuise versierders om 'n brandende gebou
fraaier en meer "cozy" te maak. Jesus het gesê Sy dissipels is "die lig van die wêreld",
maar ons moet dit binne konteks van die hele boodskap van die Nuwe Testament
verstaan. Ons optimisme oor hierdie wêreld en sy toekoms moet 'n nekslag toegedien
word sodat ons Bybels kan begin dink oor die koninkryk van God en ons bestaan op
aarde.
Waar dissipels van Jesus betrokke is, sal daar noodwendig opheffing plaasvind, maar
wat is ons boodskap aan hierdie wêreld? Dit is veronderstel om te wees: "Hierdie
plek gaan brand, maar daar is 'n uitweg, Sy naam is Jesus". Die Noag boodskap is
steeds van toepassing. Die einde kom, maar daar is 'n ark deur God berei. Die wat dit
glo kan die komende oordeel ontvlug. Die wêreld sal nie weer deur water vergaan
nie, maar hy gaan beslis deur vuur vergaan.

Waar is jou hoop, my vriend, en wat is jou boodskap? Lees asseblief die
onderstaande tekste biddend en hoor wat die Heilige Gees vir jou sê.

"Waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar
die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en
word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die
goddelose mense." 2 Petrus 3:6-7

"Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele
deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt." 2 Petrus 3:12

"En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red
uit hierdie verkeerde geslag." Handelinge 2:40

"En aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring
van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer
Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van
onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8

"En sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat
ons van die toekomstige toorn verlos." 1 Thessalonicense 1:10
73
En dan...

"En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die
eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie." Openbaring 21:1

MEI: DISSIPELSKAP IN CHRISTUS

DAG 1
DISSIPELSKAP 101: HEILIGE VERSLAWING
Bybelse dissipelskap kan opgesom word in die volgende drie punte. Toets jou
dissipelskap hier.
 dissipels van Jesus is eerstens mense wat so oorweldig is deur die onverdiende
liefde wat aan die kruis bewys is dat hulle as't ware leef in verslawing aan Jesus
en die Woord van die kruis (1 Kor. 1:18 en 2:2)
 tweedens is dissipels mense wat as gevolg van hierdie "heilige verslawing" nie
meer vir hulleself leef nie, maar vir "Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek
is" (2 Kor. 5:15) met die doel om ook van ander mense dissipels te maak wat
leef vanuit die "heilige verslawing" van die Nuwe Testament
 in die derde plek is dissipels mense wat deur die liefde van Christus gedring
word om almal in hulle invloedsfeer baie spesifiek en intensioneel by die plek
te bring waar hulle ook dissipelmakers word.
Dissipelskap is daarom nooit 'n proses wat net stop by my eie toewyding of selfs net
by my eie snoesige groepie nie. Dit is per definisie 'n dinamiese proses wat spring van
een hart na 'n ander. As dit stop by 'n indiwidu of by 'n groep en hulle die liefde wat
God in Sy Seun aan hulle bewys het net vir hulleself hou, is die stroombaan gebreek
en die dinamiese element geneutraliseer.
Ons word dus nie net geroep om dissipels te maak nie, maar om dissipelmakers te
maak. Bybelse dissipelskap is die Goddelike proses wat in die hart van die Vader
begin het en wat dissipels maak wat weer dissipels maak wat dissipels maak.... Lewe
jy in hierdie stroombaan van evangelie-liefde wat doelgerig aangegee word na mense
rondom jou of het die proses by jou gestop? Net jy kan hierdie vraag eerlik antwoord.
Dit is so maklik om besig te raak met dosyne programme en kerkaktiwiteite en steeds
dissipelskap heeltemal te mis. Derduisende leef vandag so. Jy hoef nie. Raak
intensioneel.

DAG 2
VERGEWE EN WEDERGEBORE, MAAR NIE ‘N DISSIPEL NIE?

74
“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy
kruis elke dag opneem en My volg.” Lukas 9:23

Is dit volgens die Bybel enigsins moontlik om vergewe en wedergebore te wees, maar
terselfdertyd nie ‘n dissipel van Jesus te wees nie? Wat sou jou reaksie wees as
iemand vir jou sê “ek is wedergebore, maar ek is nog nie ‘n dissipel van Jesus nie”? Is
dissipelskap soos ‘n selfoon wat jy kan opgradeer met nuwe sagteware? Is dit ‘n
selfoonkontrak wat jou beweeg van vergifnis en wedergeboorte na dissipelskap
wanneer jy opgradeer?

Met die wedergeboorte ontvang ons ‘n nuwe lewe in Christus en daardie lewe is per
definisie ‘n lewe van dissipelskap en gehoorsaamheid. Christus self word ons lewe
(Kol. 3:4) en Sy lewe is een van gehoorsaamheid aan die Vader. Die lewe van
Christus in ‘n wedergebore persoon draai gedurig sy of haar hart in die rigting van
gehoorsaamheid.

“Want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié
dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand
sal Ek dit inskrywe.” Hebreërs 10:16

Die geloofslewe is daarom niks minder nie as ‘n “uitwerk” van die heilige impulse van
Christus wat die Gees ín ons bewerk (Fil. 2:12-13). Alles wat Jesus dus in die
evangelies oor dissipelskap gesê het word toenemend ‘n werklikheid vir die
wedergebore persoon. Die slotsom is eenvoudig dit: Daar bestaan nie volgens die
Bybel iets soos ‘n vergeefde en wederbaarde persoon wat nie die pad van dissipelskap
stap nie. Al is dit ook klein en geringe verbeterings; die mens wat waarlik
wedergebore is, sál altyd ‘n begeerte hê na heiligheid en gehoorsaamheid. Vir diegene
wat vergifnis soek sonder bekering en wegdraai van ‘n ongehoorsame lewe het die
Bybel net slegte nuus. Vir die wat weet hoe verlore hulle is en hoe afhanklik van God
(Matt. 5:3) en wat gevolglik vir Jesus aangryp en volg met alles wat in hulle is, is daar
heerlike, verlossende en bevrydende goeie nuus! Nie net skenk God aan hulle
vergifnis nie, maar ook die lewe van Christus in die wedergeboorte wat die krag tot
heiliging en ware dissipelskap binne-in hulle word.

DAG 3
VERLOSSING: 'N REIS OF 'N STOPSTRAAT?
Israel se uittog uit Egipte verteenwoordig die geregtigheid van God wat dissipels van
Jesus in Hom ontvang het met ons wedergeboorte. Hierdie wonderlike "gawe van
geregtigheid" (Rom. 5:17) is bedoel om ons vrye toegang tot die troon van genade te
gee sodat ons die volgende fase van ons redding (in die woestyn) met 'n vaste
fondasie onder ons voete tegemoet kan gaan. Dit is nie net 'n kaartjie hemel toe nie!
Daar is min dinge wat meer skade gedoen het, en steeds doen, aan die getuienis van
dissipels as hierdie halwe verlossingsboodskap wat van geregtigheid 'n
eindbestemming maak. Satan wil mense ten alle koste weghou van die kennis van
geregtigheid, maar as hy dit nie kan regkry nie maak hy van dit 'n huis op 'n bult met
geen uitgang nie, in plaas van 'n trein wat my neem na my bestemming en erfenis in
Christus.
75
Dit is juis in die volgende fase (Israel in die woestyn) waar ons leer om nie net te
staan op die geregtigheid van God in Christus nie, maar om te lééf daaruit! Dit is hier
in die woestyn waar ons siel sy plek leer ken as ondergeskik aan ons nuwe gees wat
nou verenig is met Christus (1 Kor. 6:17; Gal. 2:20). Dit is hier waar ons leer om in
geloof te leef, totaal afhanklik van die wysheid, krag en lewe van Christus in ons. Dit
is hier waar ons leer om persoonlik (nie net van hoorsê) met die Woord van God om
te gaan en te leef "van elke woord wat deur die mond van God uitgaan" (Matt. 4:4).
Dit is net hier waar Christus in ons gevorm word (Gal. 4:19) en ons voorberei word vir
die volgende fase, naamlik om grond te begin inneem in Kanaän.
Oorwinning op oorwinning wag daar, maar net vir die wat geregtigheid verstaan, leef
daaruit en dan sodoende die toets in die woestyn deurkom. Waar bevind jy jouself op
hierdie geestelike reis, wat geen dissipel van Jesus durf ignoreer of op enige manier
kan vryspring nie?

DAG 4
TRANE WAT GENEES
Die trane van ware berou en die trane van die dissipels van Jesus is baie kosbaar vir
die Here en dit kan baie genesing bring .

"U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?"
Psalm 56:9

"Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie
verag nie!" Psalm 51:19

Petrus se trane het vryelik geloop toe hy besef dat hy sy Heiland en Meester waarlik
drie maal verloën het.

"En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat
Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal
verloën. En hy het in trane uitgebars." Markus 14:72

Paulus se bediening was gekenmerk deur opregte trane en sorg vir die welsyn van
dissipels van Jesus.

"Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou
het om elkeen met trane te vermaan nie." Handelinge 20:31

Hier in 2 Timotheüs word trane en blydskap in dieselfde vers gebruik. Ons weet nie
hoekom Timotheüs gehuil het nie, maar dit het waarskynlik te doen gehad met
broederlike liefde in Christus. Dit was vir Paulus kosbaar, soos ook vir die Here.

"Terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap
vervul kan word." 2 Timotheüs 1:4

Behalwe in die geval van werklike smart is die trane van die wêreld gewoonlik die
76
gevolg van self-bejammering en self-gerigtheid. Andersins is dit bloot oppervlakkige
en misplaaste sentimentaliteit of dit is net aansit en aandag trek. Hierdie trane kan
ongelukkig nooit ware genesing of verandering in mense se lewens bring nie al vloei
dit soos riviere deur ons gemeenskappe.

Neem jou Bybelkonkordansie en soek die ander plekke op waar die Bybel praat van
trane. Dit is 'n wonderlike studie om te doen. Vra dan jouself af of ons vandag nog so
geroer word deur ons geloof soos die gelowiges in die Bybel. Het ons geloof nie dalk
te koud en klinies of bloot intellektueel geword nie?

DAG 5
OP REIS MET GOD

As ‘n dissipel of gemeente van Jesus te gemaklik raak hier op aarde en nie aanhou
vorentoe beweeg om al die beloftes van God in besit te neem nie, stagneer ons baie
vinnig en word onvrugbaar.  Ons is ‘vreemdelinge en bywoners’ hier op aarde (Heb.
11:13); tentbewoners wat nie ons tentpenne te diep moet inslaan nie. 

Die geskiedenis van die Ou Testament leer ons dat God se plan vir Sy mense nog altyd
was om die beloofde land in besit te neem en gedurig meer grond in Sy naam en vir
Sy eer te eien.  Hierdie “land” verteenwoordig ons geestelike rykdom in Christus. Ons
weet wat met Israel gebeur het toe hulle gaan stilstaan het.  Laat ons verder gaan en
die Heilige Gees toelaat om ons na groter oorwinnings te lei.  Lees Hebreërs 11 vir
meer insig oor hierdie saak.

“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook
kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”  Filippense 3:12

DAG 6
ORE OM TE HOOR
By verre die grootste deel van dissipels van Jesus se verantwoordelikheid is om seker
te maak dat ons onverdeelde aandag skenk aan wat God vir ons wil sê. Ons aandag
word deur so baie dinge afgelei en ons ore is oop vir soveel goed wat nie
ewigheidswaarde het nie. Die herstel en genesing van ‘n lewe voor God begin áltyd
met “nuwe ore” om te kan hoor wat God vir ons wil oordra in Sy Woord. Verder is die
behoud van ‘n oorwinningslewe 100% afhanklik van my heilige vasberadenheid om
aan te hou hoor én luister. Net die wat “hoor” kan verstaan en net die wat verstaan
kan oorwin deur die krag wat God verleen deur Sy ewige Woord.
“En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!” Matt.
15:10

77
Gehoorsaamheid begin áltyd met “luister”, want die krag om te kan gehoorsaam word
net ontsluit wanneer die woorde van God ‘n vastrapplek gekry het in my hart. Kyk
bietjie na hierdie klein uittreksel van tekste uit die Ou en Nuwe Testament wat ‘n
appél maak op ons om te hoor en te luister. Neem jou konkordansie en soek nog
tekste wat dieselfde appél maak. Jy sal verbaas wees om te sien hoe dit soos ‘n goue
draad regdeur die Bybel loop.
“Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan
versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in
vettigheid verlustig.” Jes. 55:2
“Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n
ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.” Jes. 55:3
“Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die
HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe.“ Jer 38:20
“En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.” Hand.
3:23
“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van
God is.” Openb. 2:7

DAG 7
STAP SAAM
“Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Johannes 14:18
Wat ‘n kosbare belofte gee Jesus hier in Johannes 14 vir Sy dissipels! Net soos hulle
vir drie en ‘n half jaar saam met Hom gestap het in Sy bediening op aarde was dit vir
hulle (en vir ons) beskore om die reis voort te sit saam met Hom die oomblik wat
hulle die Heilige Gees ontvang het.
Jesus is in ons en by ons deur die Gees en Hy vra maar net dat ons saam met Hom sal
stap sodat Hy ‘n gevalle wêreld kan bedien deur ons as Sy liggaam. Dit is in
eenvoudige terme wat dit beteken om “deur die Gees gelei” te word. Ons probleem is
egter dat ons generasie dink (en dikwels geleer word) dat die geseënde lewe daaroor
gaan dat Jesus saam met óns stap. Dit is verkeerde kant om en is ‘n fatale
oordeelsfout. Hy is die Here en ons die dissipels. Ons moet Hom volg waar Hý lei.
Dit is absurd om te verwag dat Hy óns moet volg. Soos met die Émmaüsgangers in
Lukas 24 sal Jesus wel met tye Homself op ‘n besonderse manier openbaar aan ons
op ons lewenspad, maar die doel daarmee is altyd dat ons Hóm dan meer toegewyd
moet begin volg.
Die kragtige werking van God in die boek Handelinge is maar net die gevolg van
dissipels en gemeentes wat hierdie waarheid verstaan het. Hulle het geweet dat die
absolute prioriteit van hulle lewens was om deur die Woord, gebed en gemeenskap
die rigting waarin Jesus stap te onderskei en dan te volg in kinderlike
gehoorsaamheid. Verstaan ons dit?
78
DAG 8
VERNUWING VAN DENKE IS 'N LEWENSLANGE PROSES
"En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is."  Romeine 12:2
As 'n dissipel van Jesus is jy reeds vergewe en gereinig deur die eenmalige offer van
Jesus se liggaam aan die kruis (Heb. 10:10), maar Paulus sê hier in Romeine 12 dat
ons almal nodig het om gedurige verandering te ondergaan as ons geestelik wil groei.
Hierdie verandering kan net op een manier plaasvind en dit is deur die vernuwing
van ons denke.
Die vernuwing van ons denke is nie net formele of geroetineerde Bybelstudies of 'n
teoretiese kennis van teologie wat mooi verpak en verseël is in 'n sistematiese kursus
nie. Dit is nie net die Bybel in jou hand nie, maar die Woord in jou hart. Dit is die
dinamiese lering van die Heilige Gees in jou daaglikse wandel soos wat jy jou denke
absoluut onderwerp aan die Woord van God. Die evangelie is rewolusionêr, radikaal
en heeltemal anders as enigiets wat ons ooit sou kon uitdink. Daarom moet ons
gedurig toelaat dat die Heilige Gees ons leer en ons help om ons eie idees oor dinge te
laat vaar sodat ons God se bevrydende siening kan omhels. Dit is 'n daaglikse
"oefening" vir die dissipel en dit is onuitspreeklik kosbaar en waarlik
lewensveranderend. 

DAG 9
U WIL IN MY
"... laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde." Mattheüs 6:10

Dit gons eintlik soos daar vandag gepraat word oor die betekenis van hierdie stelling
in die model gebed van Mattheüs 6. Sommige glo dat Jesus hiermee wou leer dat net
soos daar byvoorbeeld geen siekte of gebrek in die hemel is nie ons die Vader kan vra
dat daar geen siekte of gebrek in ons lewe sal wees nie. Die res van die Nuwe
Testament gee egter 'n ander prentjie en fokus baie meer op ons gééstelike
oorwinning in Christus te midde van gebrokenheid. Dit beteken natuurlik glad nie dat
ons nie kan bid vir genesing en wonderwerke nie. Dit is net nie die fokus van die
Nuwe Testament nie.

Daar is egter iets anders in hierdie stelling van Jesus wat ons maklik mis en wat baie
nader aan ons vel kom as 'n blote akademiese debat oor wat dit presies beteken. Die
wil van God kan nie geskied op aarde sonder gewillige en bruikbare dissipels nie. Die
wil van die Here is nie net iets wat ons objektief voor kan vra terwyl ons self op 'n
afstand bly staan nie. Die wil van God moet déúr ons geskied. Wanneer ons hierdie
gebed bid moet ons bereid wees om self die mense te wees deur wie God hierdie wil
laat geskied op aarde. God wil veral die karakter van Jesus deur ons vertoon aan 'n
verlore wêreld. Ons moet daarom self die antwoord word op ons gebed dat God se wil
79
geskied. Maar is ons gewillig en beskikbaar? Dit is die vraag.

DAG 10
GOD SOEK DAAI WIL
Jesus het Sy lewe op aarde in totale oorgawe aan die Vader geleef en dit is vir altyd en
vir almal 'n onfeilbare spieël van wat God verlang van die mens.
"En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My
weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil." Markus 14:36
Om in Jesus se voetspore te volg is meer as net om Sy naam in sekere kontekste te
gebruik en om 'n hoop godsdienstige dinge te doen. Vormgodsdiens het nog altyd
deur al die eeue probeer om te onderhandel met God. Ons bied aan om sekere
godsdienstige dinge te doen en om 'n kortlys van verkeerde dinge op te gee, volgens
ons eie oordeel, en dan soek ons al die voordele van verlossing. Jesus sny met 'n
vlymskerp mes deur hierdie illusie van die gevalle hart.
"Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself
verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit
verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Matt. 16:24-
25
Verlossing is per definisie die oorwinning van my wil sodat God die beheer kan hê
wat Hom alleen toekom. Hoe kan ons vergifnis wil hê vir die verwoesting wat ons
rebelse wil veroorsaak het sonder om daardie selfde wil oor te gee in die hande van
die Vader sodat die verwoesting kan stop? 'n Verloste lewe is nie die illusie van
vormgodsdiens of om soos 'n willose robot te probeer funksioneer nie. Dit is die
gedurige, vreugdevolle oorgawe van my wil sodat God in elke area van my lewe Sý wil
kan laat geld in en deur Christus.

DAG 11
WILSKRAG OF GEWILLIGHEID?

In die wêreld is dit gewoonlik die persoon met die sterkste wilskrag en
deursettingsvermoë wat suksesvol is. Motivering aktiveer die wil en die wil gee die
deurvoering vir dit wat ons beplan. Daarom is ons ook gou om vandag vir mekaar te
sê "glo net jy kan"!
Is dit egter hoe dissipelskap werk? Word Jesus effektief gevolg deur menslike
wilskrag? Ek lê aan jou voor dat die appél van die evangelie op gewilligheid (m.a.w.
die hart) is en nie wilskrag per se nie.
"My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ‘n welgevalle hê in my weë." Spreuke
23:26
Enigiemand wat Jesus wil volg op die pad van die kruis kom gou agter dat wilskrag
nie hier gaan werk nie. Daarteenoor verwag die Here dat ons gedurig net ons harte
voor Hom sal hou in 'n liefdesgewilligheid sodat Hy dan deur die krag van die Gees
80
Sý wil in en deur ons kan laat geskied. Gewilligheid teenoor wilskrag is nie 'n
passiewe dissipelskap (passiwiteit) nie, maar 'n baie aktiewe luister vir die stem van
die Gees in my binneste.
"Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!" Lukas 22:42b
Ek vermoed dat hierdie eenvoudige waarheid vir baie (wat dalk al moedeloos is langs
die pad van 'n wilskrag Christenskap) 'n groot las van hulle skouers sal afrol om dan
eerder die "sagte juk" en "ligte las" van Jesus op te neem (Mt. 11:30).
Gaan dink 'n bietjie oor die volgende tekste in hierdie verband:
"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die
oorspronge van die lewe." Spreuke 4:23
"...dit is goed dat die hart versterk word deur genade..." Hebreërs 13:9
"Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart,
en julle sal rus vind vir julle siele." Mattheüs 11:29

DAG 12
LUISTER!
99% van dissipelskap is net God wat ons AANDAG probeer kry!
"En die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die
begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit
word onvrugbaar." Markus 4:19
"En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug
opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!"
Lukas 8:8
"My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig." Spreuke 5:1
"Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook
is Ek die Laaste." Jesaja 48:12
"Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek!" Jesaja 51:1a
"Want Ek het julle vaders nadruklik gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit
Egipteland laat optrek het tot vandag toe, vroeg en laat, en gesê: Luister na my
stem!" Jeremia 11:7

DAG 13
DIE LIEFDE WAT GEHOORSAAM

Jesus het na die aarde gekom om te "soek en te red wat verlore was". Ons
verlorenheid het ten diepste te doen met 'n ongehoorsame hart. Daarom is ons
redding baie meer as net vergifnis van sondes, maar juis ook 'n nuwe gehoorsaamheid

81
deur die wedergeboorte. Die ware toets is dus nie net my belydenis dat ek Hom liefhet
nie, maar my lojaliteit aan sy Woord. Bybelse liefde vir Jesus lei altyd tot 'n begeerte
om Sy wil te doen. Ek het Jesus lief, ek het sy Woord lief. Hierdie twee loop altyd
saam in die Skrifte. Pasop vir boodskappe wat hulle op allerhande subtiele maniere
(of blatant!) skei van mekaar.

"Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my


Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My
nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie,
maar is van die Vader wat My gestuur het." Johannes 14:23-24

DAG 14
DIE LIEFDE IS…
“God is liefde” (1 Joh. 4:8). Hy hoef nie te probeer om liefdevol te wees nie. Hy is wat
Hy is.
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie
groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang
nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die
ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles,
hoop alles, verdra alles.” 1 Kor. 13:4-7
Let baie mooi op hoe hierdie evangelie-liefde beskryf word in 1 Korinthiërs 13. Paulus
sê nié die liefde moet lankmoedig, vriendelik, ensovoorts wees nie. Hy sê dit ís
lankmoedig en vriendelik. Dit is nie ‘n lys van kenmerke van die liefde wat ons moet
probeer bereik nie. Dit is iets wat ons of het of nie het nie (sien verse 1 tot 3). Dit is ‘n
“state of being”, ‘n geloofsingesteldheid. Wanneer die siel van ‘n dissipel van Jesus so
geposisioneer is in geloof dat dit die heerlikheid van Jesus aanskou (2 Kor. 3:18), in
plaas van die self, vloei die liefde van God in Christus spontaan uit ons uit op
verskillende maniere na die eis van die situasie.
Die liefde is…! Die liefde streef nie om te wees nie. Ons stryd as dissipels van Jesus is
nie om liefde te probeer produseer nie, maar om te glo dat Christus in ons alles is wat
ons nodig het vir hierdie lewe en die volgende. Ons stryd is ‘n geloofstryd. Geen
hoeveelheid tyd of godsdiensywer kan menslike liefde bring op die vlak van die
evangelie-liefde van 1 Korinthiërs 13 nie. Daardie liefde is algeheel Goddelik en dit ís
wat dit ís. Dit kan net in geloof ontvang word van Jesus en dan uitdrukking vind in
ons daaglikse lewens. Dit kan nooit ooit geproduseer word nie.

DAG 15
DIE WARE DOEL VAN DISSIPELSKAP
Die hele Nuwe Testament is gemik daarop om dissipels van Jesus by geestelike
volwassenheid te bring (Efes. 4:13). Die doel is nie net redding of wedergeboorte nie,
net soos wat ons nie die geboorte van ‘n baba beskou as die doel nie, maar as die
begin van die pad na volwassenheid.

82
Ons Bybelstudies en baie van ons preke en leringe is dikwels gefokus op kennis in
plaas van op die volwassenheid van die dissipel van Jesus. Dissipelskap se hele doel is
geestelike volwassenheid, nie net die oordrag van kennis en informasie van een
persoon na ‘n ander nie. Kennis en insig speel vir seker ‘n baie belangrike rol in die
proses, maar dit is nie die doel nie. Volwasse dissipels reflekteer die heerlikheid van
God in ‘n toenemende mate en niks is belangriker as dit nie. Die Vader het ons nie
net gered om hemel toe te gaan of om godsdienstig te lyk op ‘n Sondag nie, maar om
volwasse te word in Christus sodat ons Sy heerlikheid op hierdie aarde kan bekend
maak elke dag van die week.
“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste,
ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot
opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid
van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot
die mate van die volle grootte van Christus.” Efesiërs 4:11-13

DAG 16
DIE BESTE VERTALING VAN DIE BYBEL
Die beste vertaling van die Bybel is die een wat die Heilige Gees in jou hart (en dan in
jou lewe) vertaal wanneer jy die kruis van Christus omhels as jou eie. Net so word
God se liefde sigbaar in jou. Dit is ook die enigste vertaling wat ongelowiges kan
lees…wanneer hulle die Bybel “vertaal” sien in jou lewe!
“So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.” 2 Korinthiërs 4:12
“Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as
slagskape.” Romeine 8:36

DAG 17

GELOOF ANTWOORD "DIT IS WAAR"


"Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie." 2 Kor. 5:7

Die Woord sê 'jy is 'n nuwe skepsel in Christus'. Geloof antwoord 'dit is waar', selfs al
voel dit nie vir jou so nie. Die Woord sê jy is 'dood vir die sonde'. Geloof antwoord 'dit
is waar', selfs al lyk dit nie nou so nie. Die Woord sê 'jy is meer as 'n oorwinnaar in
Christus'. Geloof antwoord 'dit is waar', selfs al skree jou emosies 'mislukking'! Die
Woord sê jy sit 'saam met Christus in hemelse plekke'. Geloof antwoord 'dit is waar',
selfs al voel dit vir jou of die gevalle aarde jou vashou en oorweldig. Die Woord sê jy
'het die volheid in Christus'. Geloof antwoord 'dit is waar', selfs al voel jy so leeg soos
'n welsynsblikkie by Pick 'n Pay. Neem enige "in Christus" waarheid in die Woord en
antwoord 'dit is waar', want God sê so. Dit is die begin van die deurbrake in jou lewe.

DAG 18

83
GELOOF OFFER ALLES
“Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría
en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” Gen.
22:2
“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy
kruis elke dag opneem en My volg.” Luk. 9:23
“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame
stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike
godsdiens.” Rom. 12:1
Geloof antwoord “dit is waar” op die rykdom van al die verlossingsvoordele wat
sonder verdienste deur die Vader op ons uitgestort is in Christus. Geloof is oorweldig
deur so ‘n groot liefde. Geloof weet dat daar geen einde is aan die barmhartigheid en
genade in die Vaderhart van God nie. Geloof is onomkeerbaar beïndruk deur hierdie
Vader van onse Here Jesus Christus. Dáárom offer geloof alles en doen dit met ‘n
oorgawe wat totaal onverstaanbaar is vir die wat nie glo nie. Aan die ander kant is ‘n
halfhartige offer ‘n aanduiding van ‘n onvoldoende geloof.

DAG 19
GELOOF (IS) GEHOORSAAM
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek
wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou
kom.” Heb. 11:8
Op alles wat God in Sy Woord sê, antwoord geloof “dit is waar”! Dit is die fondasie
van Bybelse geloof. Maar ‘n fondasie is nie net daar om mooi te lyk of te beïndruk
nie. ‘n Fondasie is bedoel om op gebou te word en hierdie bouwerk het in geestelike
terme alles te doen met gehoorsaamheid. God openbaar homself aan ons as die mees
betroubare Persoon in die heelal. Daarom kan ons sy Woord glo. Ons geloof is
eerstens in wie Hý is, dan kan ons met groot vrymoedigheid en vreugde onwrikbaar
glo en bely wie ons ín Hom is. Net vanuit daardie plek van innerlike sekuriteit word
gehoorsaamheid ‘n werklikheid. Hierdie gehoorsaamheid is ‘n
geloofsgehoorsaamheid en is iets heeltemal anders as ek wat probeer om uit die krag
van my eie wil ‘n getroue dissipel te wees. Abraham het “gehoorsaam weggetrek na
die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang”, want Hy het vertroue gehad in die Een wat
hom geroep het en hy het geweet dat sy eie identiteit onlosmaaklik verbind was aan
die wese en karakter van ‘n enige en almagtige God (Deut. 6:4). Abraham se lewe was
nie net ‘n voorbeeld vir ons nie, maar ‘n oproep tot dieselfde soort geloof wat moet lei
tot dieselfde sóórt gehoorsaamheid, al verskil die detail van ons lewens en
gehoorsaamheid in baie opsigte van syne.

DAG 20
84
GEVAARLIKE PLAASVERVANGERS
Die doel van die evangelie is die vorming van Christus in ons (Gal. 4:19) sodat die
karakter van God kenmerkend kan word van ons lewe op aarde (Joh. 13:35).
Goddelike, bonatuurlike “liefde uit ‘n rein hart” (1 Tim. 1:5) is bedoel om die eindpunt
te wees van alle geestelike lering en instruksie. Dít is die transformasie (2 Kor. 3:2-3)
van individue en gemeenskappe wat die Nuwe Testament oor en oor op soveel
verskillende maniere vir ons probeer tuisbring. In hierdie proses is genade die
hartklop en geregtigheid in Christus die kragtige brandstof wat volwassenheid
bevorder en God se karakter in ons sigbaar begin maak. Op die pad na volwassenheid
is daar egter twee baie gevaarlike plaasvervangers wat ons so maklik bedrieg en die
idee gee dat ons volwassenheid bereik het.

“En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis,
en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie,
dan sou ek niks wees nie.” 1 Korinthiërs 13:2

Paulus draai nie doekies om nie. Hy sê reguit dat gawes van profesie en kragtige
geloof leeg en betekenisloos is as dit nie uit ‘n hart van liefde kom nie. Hy sê selfs dat
‘n volledige kennis en insig in alle geheimenisse nie ‘n doel op sigself is nie!
Verstommend. In kontras met dinamiese gawes en ‘n ensiklopediese kennis klink
liefde so ordinêr en amper flou, as ons moet eerlik wees. Maar moenie ‘n fout maak
nie, hierdie baie spesifieke evangelie-liefde is die gevolg van die bonatuurlike werk
van die Heilige Gees in ons harte en is die mees dinamiese ding in die heelal. Om
kennis te versamel en begaafd te wees sê baie min van my karakter. Die ware toets
vir my greep op die evangelie is of dit my transformeer van ‘n self-gerigte nemer na ‘n
God-gefokuste gewer wat ander mense dien met bonatuurlike liefde. Hierdie liefde
lyk ook dikwels baie anders as die liefde van die wêreld. Daarom is dit krities
belangrik vir dissipels van Jesus om ‘n baie duidelike prentjie te hê van wat die Bybel
beskou as geestelike volwassenheid. Maak dít jou doel, want dit is God s’n met alles
wat Hy in jou lewe probeer doen.

DAG 21
GOD IS BO ALLES BESORG OOR DIE KONDISIE VAN ONS HART
Ons is almal baie besorg oor die kondisie van ons fisiese hart, maar is ons ook so
besorg oor die kondisie van ons geestelike hart? Niks is belangriker nie.
"Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot
roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en
nie op die hart nie." 2 Korinthiërs 5:12
Met die wedergeboorte word "die liefde van God in ons harte uitgestort" deur die
Heilige Gees. Van daardie dag af verwag God dat ons, ons harte sal bewaar (Spreuke
4:23) en versterk deur dit met geloof te hou onder die invloed van die evangelie van
genade (Heb. 13:9).
Hierdie geloofsposisionering van ons harte onder genade dra altyd, maar altyd
verhoudingsvrug. Dit is dan ook die toets of ons harte nog as't ware "op die regte
plek" is. As geestelike groei gemeet word aan enige ander maatstaf as 'n verruimde
hart is dit 'n illusie en misleiding!
85
Kyk 'n bietjie hoe Paulus dissipels aanmoedig om immer-verruimende harte te hê
deur die krag van die evangelie.
"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense." 2
Korinthiërs 3:2
"Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword."
2 Korinthiërs 6:11
"Maak vir ons ruimte in julle harte..." 2 Korinthiërs 7:2a
"... want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te sterwe en saam
te lewe." 2 Korinthiërs 7:3b
"Maar neem jy hom, dit is my eie hart, aan." Filemon 1:12
"Soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra,
aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die
evangelie my deelgenote in die genade is." Filippense 1:7
Hoe gaan die met jou hart?

DAG 22
GOD SE ONONDERBROKE EN ONONDERHANDELBARE AGENDA

"Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het."
Johannes 15:12
Het ons nie begin om in ons generasie 'n liefdelose kultuur te skep wat net genade wil
ontvang van God sonder om dit aan ander te gee nie? Is dit nie hoekom daar so baie
mense is vandag wat perfekte omstandighede eis van God sonder om Sy eis vir die
gehoorsaamheid van die liefde ernstig op te neem en dit hulle belangrikste prioriteit
te maak nie?
Ek wil vandag vir jou met groot oortuiging sê dat God se doel met jou en my lewe is
om van ons liefdevolle mense te maak in en deur Christus. Dit is God se
ononderbroke en ononderhandelbare agenda en voordat ons nie hierdie Goddelike
agenda ons eie maak nie gaan ons gedurig gefrustreerd wees met God en met ons
dissipelskap, want ons is nie op dieselfde bladsy as Hy nie! Raak 'n ekspert in die
liefde. Bestudeer die Nuwe Testament met die oog op die ontvang en uitdeel van
Goddelike liefde in Christus en ek waarborg jou alles in jou lewe sal verander en jy sal
die wêreld om jou in 'n totaal nuwe lig begin sien.
"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n
ongeveinsde geloof." 1 Timotheüs 1:5
Die een vraag wat ons geduriug moet vra is of ons werklik besig is om lief te hê soos
wat Jesus ons liefgehad het. Die Nuwe Testament antwoord daardie vraag in
verstommende detail en daarom het ons nodig om dit gedurig te lees en te lees met
daardie doel voor oë!

86
DAG 23
HORENDE DOOF EN SIENDE BLIND

"... Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan
nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie." Handelinge 28:26

Dit is regtig skrikwekkend om te dink dat twee mense langs mekaar kan staan en
dieselfde geestelike dinge kan hoor en sien, terwyl die boodskap in klank en beeld vir
die een 'n seën is en vir die ander 'n oordeel. Twee mense kan dieselfde Bybel lees,
maar die een sien net woorde op papier, terwyl die ander God se stem hoor. Twee
mense kan dieselfde liefdesdade en opoffering van 'n dissipel van Jesus aanskou,
maar die een sien net 'n mens wat vir een of ander rede doen wat hy doen, terwyl die
ander Jesus geopenbaar sien. Wat is die verskil? Die een het net uiterlike sintuie,
maar sy innerlike sintuie is nog nooit geaktiveer nie. Die ander het nie net fisiese ore
en oë nie, maar sy geestelike ore en oë is deur God as't ware aangeskakel. Dit is
primêr die kondisie van ons hart wat die bepalende faktor is in hierdie verband.

Ongelukkig kan selfs dissipels van Jesus se harte tot so 'n mate verhard dat hulle nie
meer geestelike werklikhede duidelik kan hoor en sien nie. Alles wat vroeër kosbaar
was het vervaag. Vir diesulkes is daar 'n baie kosbare uitnodiging in Openbaring 3.
Jesus sê ons kan na Hom gaan en Hom pertinent en direk vra om ons geestelike oë
weer te open.

"Ek raai jou aan om van My te koop...salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien."
Openbaring 3:18

DAG 24
JESUS SIGBAAR IN ONS GENERASIE
Jesus stap deur die eeue in verskillende lande, kulture en tale, deur die voete en
hande van Sy dissipels.   Stap Hy 'in en deur' jou en my ook, of is Sy invloed deur ons
soos die van 'n skim, onsigbaar vir die mense wat leef in dieselfde tyd en ruimte as
ons in die geskiedenis? 
Ons tyd en geskiedenis is baie belangriker as wat ons soms dink.  Ons lewens tel. 
Daarom is daar soveel geslagsregisters in die Bybel.  Dit wys dat ons God en Vader
met Sy deurtastende oë baie noukeurig boekhou van die dinge wat op hierdie planeet
gebeur.  Kom laat ons Jesus ruimte gee in ons harte sodat Hy sigbaar kan word in ons
lewens en vir ons generasie. 

DAG 25
LIEFDE SONDER DIE KRUIS IS NIE BYBELSE LIEFDE NIE
"En wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee
87
het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur." Efesiërs 5:2

Wandel in liefde. Hoe? Soos Christus.... Ons behoort nooit die woord "liefde" in die
Bybel te lees sonder om aan die kruis van Jesus Christus te dink nie. Dit is een van die
grootste dwalinge van ons tyd. Ons het 'n sentimentele idee van liefde en ons eie
sieninge, gevoelens en opinies oor liefde tas dikwels die Bybelse gebruik van die
woord aan en verdraai dit tot op die punt waar dit onherkenbaar is in vergelyking met
die Bybel.
Die kruis is die verskriklike plek waar God se siening van liefde gedemonstreer is. Dit
is die plek waar Jesus sterf vir verlore rebelle, maar dit is ook die plek waar verlore
rebelle sterf saam met Christus en sodoende leer wat liefde werklik is. Daar is nie
liefde sonder dood in die Bybel nie. Jesus sterf en wys so vir ons wat God se liefde
behels. Ek en jy sterf saam met Hom om vir ander te wys wat liefde is.

"Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19 (NAV)

" ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad
het, moet julle ook mekaar liefhê." Johannes 13:34 (OAV)

Liefde is 'n groot woord in die Bybel. Dit is nie goedkoop nie. Mense wat nie hulle
sterwe saam met Christus (Gal. 2:20) wil omhels nie moet eerder nie die woord
gebruik nie. Regtig nie. Ek is dodelik ernstig.
Ek wil jou vandag nederig vra om nie die woord "liefde" goedkoop te maak in jou
gesprekke oor en omgang met die Bybel nie. Dink oor die implikasies. Dit het Jesus
se dood gekos en vra ook joune saam met Hom as jy wil liefhê soos wat God liefhet. 'n
Generasie wat die liefde van die kruis wil opeis, maar nie die liefde deur 'n
gekruisigde lewe wil uitwys nie staan op baie dun ys. Ons is waarskynlik almal tot
een of ander mate beïnvloed deur die populêre idee van liefde vandag en het 'n goeie
wassing van die Woord nodig in hierdie area.

DAG 26
GEHOORSAAMHEID TROEF KENNIS IN ONS DAAGLIKSE LEWE
Ons moet versigtig wees om nie gehoorsaamheid en kennis teenoor mekaar te stel
nie, want ons kennis van die Woord is bedoel om groter gehoorsaamheid te bring en
onwilligheid om te groei in kennis is op sigself ongehoorsaamheid. Maar dit is tog
ook so dat ons soms so 'n soeke het na kopkennis, of 'n nuuskierigheid oor wat ons
nie verstaan in die Bybel nie, dat ons nalaat om dit wat reeds vir ons duidelik is te
gehoorsaam. In ons daaglikse lewe in die gesin en by die werk is daar baie situasies
wat net kinderlike gehoorsaamheid in die krag van die Gees verg om groot deurbrake
van God te bring. Moenie dat jou frustrasie oor dinge wat jy nog nie verstaan nie jou
beroof van die oorvloedige geestelike lewe wat hier en nou in Christus beskikbaar is
nie. Romeine 10 vers 8 sê die Woord is naby jou "in jou mond en in jou hart".
Christus leef in die ware dissipel. Hy is teenwoordig in elke situasie!

88
Gehoorsaam dit wat jy klaar verstaan in terme van God se wil vir 'n situasie en
vertrou die Here om jou met verloop van tyd insig te gee oor die res, soos wat jy
geestelik groei. Kennis, insig en begrip is iets wat die Here bonatuurlik vir ons skenk
soos wat ons getrou die Bybel lees en bestudeer en dit gehoorsaam wat ons reeds
verstaan.
"Want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand." Spreuke 2:6

DAG 27
VERVOLGING IS NIE OPSIONEEL VIR DISSIPELS VAN JESUS NIE
"Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad
teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in
die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het." Mattheüs
5:11-12
Jesus maak dit van die begin van Sy bediening af baie duidelik dat belediging en
vervolging wag op die wat Hom getrou volg en Sy Woord vreesloos spreek. Ons moet
geensins verbaas wees of moedeloos word oor sulke vervolging nie. inteendeel, Jesus
sê ons moet ons verbly, want dit wys vir ons dat ons op die regte pad is en aan die
einde van hierdie pad wag daar groot heerlikheid en beloning.
Ons hoef nie te gaan soek vir vervolging nie, dit kom saam met die ongeveinsde
spreek van die waarheid. Ons moet ook nie probeer om met opset aanstoot te gee nie.
Ons opdrag is om die waarheid in liefde te spreek (Efes. 4:15), maar ook om lief te hê
in waarheid (2 Johannes vers 1). Nie waarheid óf liefde nie, maar waarheid in liefde
en liefhê in waarheid. Belediging en vervolging sal altyd sy verskyning maak op daai
pad, maar ook groot vreugde en beloning.

DAG 28
WAARAAN DINK JY AS DIT STIL RAAK?
“As ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.” Psalms 63:7

Op watter paaie loop jou gedagtes snags wanneer die dag se geluide stil geraak het?
Loop hulle terug op die pad van die verlede na mislukkings en verwyte wat jou hede
versuur en waaraan jy in elk geval niks kan verander nie? Loop hulle vooruit op die
pad van die toekoms na skimbeelde en vrese van alles wat verkeerd kan loop? Waar
gaan staan jou gedagtes stil in die oggend voordat die geraas van ‘n nuwe dag begin?
Hardloop hulle sommer dadelik na al die probleme wat die nuwe dag kan bring en die
bekommernisse wat so maklik in ‘n bondel vergader om jou vrede te verstoor? God
nooi jou en my uit om soos Dawid van ouds in ons harte en denke by Hom te kom
rus. Daar is ‘n onbeperkte, onsienlike wêreld van vrede en heerlikheid in die wese
van God en ons het die onuitspreeklike voorreg om te mag dink oor Hom. In elk
geval lê al die antwoorde van die verlede, hede en toekoms net in Hom, die tydlose,
ewige God.

89
DAG 29
‘N PERSOONLIKE WANDEL MET JESUS
Selfs die mees geestelike persoon op aarde kan nie Jesus vir jou wees nie. Die beste
leier op aarde kan jou net lei ná Jesus, hy kan nooit Jesus se plek inneem of Jesus in
enige sin vervang nie. Jong gelowiges moet uit die staanspoor bemoedig word om in
geloof te bou aan hulle eie verhouding met Jesus, totdat hulle volwasse word en sterk
kan staan in lojaliteit aan Jesus alleen. Gemeentes, leiers en bedieninge wat nalaat
om dit te doen, is direk verantwoordelik vir die geestelike stagnering en
onvolwassenheid van die mense wat deur hulle bedien word.
Die goeie nuus van die evangelie is baie minder goed as ek nie persoonlik en sonder
middelaars met Jesus kan wandel nie. Ons moet ons dringend beywer daarvoor om
‘n gemeentekultuur van leier-afhanklikheid te laat vaar en dit te vervang met die
Nuwe Testamentiese kultuur van persoonlike omgang met die lewende Jesus.
“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my
teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie
heil uit met vrees en bewing.” Filippense 2:12

DAG 30
GEEN OORWINNING SONDER HÍERDIE GELOOF NIE
"Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het..." Joh.
3:16
"Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het..."
Rom. 8:32
"Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad
het." Rom. 8:37
As dissipels van Jesus omvat ons belydenis van geloof verskeie absoluut essensiële
leerstellings. In die praktyk is daar egter een wat in sy afwesigheid, of selfs net
wanneer dit begin taan, onmíddellike gevolge het. Dit is as't ware die petrol in ons
tenk. Wat is dit? Die geloof dat God ons werklik liefhet. As dissipels glo ons dit, nie
omdat ons altyd so voel of omdat ons omstandighede altyd so wonderlik is nie, maar
omdat God sy eie Seun gegee het vir ons redding, heil, seën en ewige welsyn. Ons is
gered omdat ons geglo het dat God in die oorgee van sy Seun onomstootlike bewys
gelewer het van sy liefde vir ons. Op presies dieselfde beginsel oorwin ons as dissipels
van Jesus. Glo jy nog onwrikbaar dat God jou werklik liefhet? Antwoord met jou
hart. Daar is 'n groot verskil tussen verstandelike instemming met 'n stel feite en die
kinderlike oortuiging van God se liefde diep in jou binneste wat jou dag-tot-dag anker
en meer as oorwinnaar uit die stryd laat tree.

DAG 31

90
ENGELE WIL GRAAG WEET, MENSE TOON MIN BELANGSTELLING
“Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.  Want,
voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle
sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.“
Matt. 13:16-17 
“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge
bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle
verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die
engele begerig is om in te sien.”   1 Pet. 1:12 
Ons het die onuitspreeklike voorreg om in die ‘aangename jaar van die Here’ (Luk.
4:19) te leef. Vanuit God se perspektief is ons in die era wat die ‘volheid van die tyd’
(Gal. 4:4) genoem word.  God het sy Seun uit die hemel gestuur om ons oë oop te
maak.  Die Vader het finaal en volledig gespreek deur sy Seun (Heb. 1:1).  Ons het die
Bybel in ons eie taal.  Ons kan vryelik lees en delf in die Woord en ons het ‘n
inwonende Leraar wat begeer om die dieptes van God vir ons te openbaar. “Maar soos
geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens
nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan
ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van
God.” (1 Kor. 2:9-10).  Wedergebore mense het ‘n verstommende geeskapasiteit om
die dinge van God te verstaan en om onbeperk te groei in begrip en insig m.b.t. die
koninkryk van God.  Hoekom is dit dan dat gelowiges vandag so traak-my-nie-agtig is
oor dit wat in die hart van God leef oor Sy koninkryk en ons deel daaraan?  Hoekom
maak mense stellings soos: “nog ‘n preek, lering of Bybelstudie, ai ek het al duisende
gehoor en gedoen!”  Hoekom stel baie gelowiges dikwels min belang in enige lering
wat nie hulle “eie lewe” prakties raak en dan sogenaamde “praktiese hulp” vir hulle
kan bied nie?  (Let wel die Bybel gee wel baie praktiese lering oor die toepassing van
ons rykdom in Christus en praktiese voorbeelde help ons dikwels om beter te
verstaan.  Daar is dus geldige vrae oor die praktyk.  Dis nie waarna ek hier verwys
nie.).  Is dit omdat ons so baie dinge het wat ons vermaak en ons aandag aflei dat ons
nie ‘n honger het vir geestelike insig nie? Is dit omdat daar dalk baie “gelowiges” is
vandag wat nie werklik wederbaar is nie, en daarom nie ‘n aptyt vir die dinge
aangaande die Koning en Sy koninkryk het nie?  Is dit omdat ons geestelike peil so
geweldig laag is vandag?  Miskien soek ons net wonderlike geestelike “ervarings” of
dink ons dat lering en dieper insig grotendeels ‘n mors van tyd is en dat ons liewer
moet uitgaan en ‘n verlore wêreld gaan bedien?  Is dit dalk omdat ons met baie van
ons onskriftuurlike kerktradisies die Bybel die domein gemaak het van predikers,
teoloë en die sogenaamde “slimkoppe” onder ons?  Is dit omdat ons te trots of bang is
om te sê ‘ek weet nie, leer my asseblief’?  Of dalk te lui en “unteachable” om te leer en
nou vaar ons maar uit teen ander wat delf in die Woord, want dis makliker as om te
erken ons wil nie die moeite doen om self die Woord te begin ondersoek nie?  Dalk
het ons ‘n heel verkeerde idee oor die doel van Bybelse kennis en insig en sien ons dit
as ‘n middel tot die wen van debatte teen gelowiges wat anders dink as ons?  Of is dit
omdat ons nie verstaan dat Bybelse kennis nie in die eerste plek ‘n kopkennis is nie,
maar ‘n verhoudingskennis wat die Heilige Gees deur openbaring skenk aan die wat
‘n honger het vir die dieptes van God?  Die saak onder bespreking is nie een of ander

91
teoretiese “pie in the sky” nie, maar is krities belangrik vir die mense van God.  Wat
sou die rede(s) wees vir die huidige stand van sake?  Wat dink julle?

JUNIE: GEESTELIKE GROEI IN CHRISTUS

DAG 1
DIE "ONVERNIETIGBARE LEWE" VAN GOD IN ONS
Die plan van God is nie net dat ons gered word en hemel toe gaan nie, maar dat Sy
heerlikheid in en deur ons gesien moet kan word in die hier en nou van ons lewens! 
Dit kan net gebeur as die lewe van God self bínne-in ons (Gal. 2:20) groei soos wat ‘n
saad wortel skiet en dan ‘n boom word wat vrug dra.  Ons vertroue moet radikaal
wegskuif van ons eie pogings om soos Christus te wees en dan enkelvoudig fokus op
die Váder se verwagting, naamlik Christus ín ons geopenbaar en gerealiseer deur die
“goddelike groei” (Kol. 2:19) van dit wat alreeds teenwoordig is binne-in ons.
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.
Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Gen. 3:15 
 “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die
sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”  Gal.
3:16 
“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie
geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle
hoop op die heerlikheid.” Kol. 1:27 (NAV)
Jesus het deur Sy kruisdood en opstanding die satan oorwin en sy “kop vermorsel”,
maar die Vader se meesterplan was nog altyd dat die lewe van Sy Seun ín ons gestalte 
moet kry sodat Sy heerlikheid die aarde kan vul.  Daarom skryf Paulus in Romeine 5
vers 10 “want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood
van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”  Die
“onvernietigbare lewe” van God (Heb. 7:16) is in ons deur die wedergeboorte, maar
ons moet groei in daardie lewe sodat daar ‘n realisering van die karakter van God kan
wees in ons daaglikse handel en wandel (Gal. 5:22).  Paulus sê vir die Christene in
Galate hy is “in barensnood totdat Christus in” hulle “‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19).   

DAG 2
DIE STEM IN DIE STILTE
Stilte is nie net die afwesigheid van aktiwiteit en geraas nie. Stilte is ‘n
geloofshouding voor God wat in aanbidding en met ontsag wag op Sy stem om
innerlik tot ons deur te dring.
“En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid
te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.” Mattheüs 14:23
92
“Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.”
Job 33:14
Jesus het ononderbroke kontak met sy Vader gehad in die tyd wat Hy op aarde geleef
het. Tog moes Jesus self tye hê van stilte om “in eensaamheid te bid”. Die Vader het
baie dinge wat Hy persoonlik onder ons aandag wil bring, maar luister ons regtig?
Gee ons vir Hom tyd in die Woord en gebed om kontak te maak met ons harte? Dit is
verstommend hoe maklik mense vandag sê hulle weet nie hoe om God se stem te hoor
nie en nie dink daaraan dat God nie kans gegun word om te praat nie! As Jesus tye
van stilte en alleenwees nodig gehad het, het ons dit dan nie ook dringend nodig nie?
Dit is in die tye van uiterlike stilte en alleenwees wat ons die innerlike stilte die beste
kultiveer. Kan ons generasie nog alleen wees en stil wees of is ons dalk verslaaf aan
aktiwiteite met ‘n klomp mense rondom ons of iewers ‘n elektroniese geblêr in ons
ore? Ware koninkryksaktiwiteit kom net uit intimiteit met God en intimiteit met God
verg tye van stilwees en alleenwees. Máák tyd om stil te wees, selfs al doen niemand
rondom jou dit nie. Skakel ‘n slag daai televisie en radio af, en vir die heel braafstes
onder ons, sit jou selfoon af! God wag om met jou te praat. Aanvanklik kan die stilte
‘n skok vir jou sisteem wees, maar volhard daarin en jy sal die lieflike vrug van God se
teenwoordigheid begin pluk en leer om innerlik gefokus te wees op die stem van die
Vader.

DAG 3
DIE KRAG VAN GELOOF EN HOOP
"En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die
geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige
Gees!" Romeine 15:13
Hierdie vers in Romeine gee vir ons die sleutel tot 'n oorwinnende lewe in Christus.
Hoop is nie iets wat ek in myself kan opwek of wat ek deur positiewe denke uit dun lig
kan produseer nie. Hoop is iets wat ek ontvang van Hom wat genoem word "die God
van die hoop" wanneer my geloof in Jesus groei en sterker word. En op sy beurt kan
geloof net sterker word wanneer ek die Woord ruimte gee in my binneste deur dit te
lees en bepeins (Rom. 10:17). 
Dit is net op hierdie punt in my lewe as 'n dissipel wat die wonderlike siklus van
heerlikheid as't ware geaktiveer word deur die Vader self. Deur geloof vul die Vader
my innerlike mens met blydskap en vrede en dit lei altyd tot 'n oorvloedige en
groeiende hoop deur "die krag van die Heilige Gees". Hierdie heerlike hoop lei dan
weer onvermydelik tot groter geloof en die hele proses begin van voor af. Ons eenheid
met Christus is "die hoop van die heerlikheid" (Kol. 1:27) en hierdie heerlikheid neem
toe soos wat ons geloof in ons identifikasie met Christus toeneem (2 Kor. 3:18b) en
ons sien dat ons toekoms onlosmaaklik verbind is aan Syne! Om op te som: die
openbaring van Christus lei tot geloof wat vrede en blydskap soos 'n fontein in my
binneste oopmaak en hierdie fontein se vars waters bring 'n immer-groeiende hoop.
G'n wonder dan dat die Bybel leer dat die regverdige se hele lewe op hierdie aarde
gebaseer is op geloof nie (Rom. 1:17b)!
93
DAG 4
DIE VOLWASSENHEID WAT JESUS IN ONS SOEK
Geestelike volwassenheid is nie volmaaktheid of superieure kennis of begaafdheid
nie. Dit is nie eers noodwendig die volkome ontwikkeling van my gawes of ’n
bedieningsvaardigheid en ervaring wat ander beïndruk nie. Dit is nie ‘n kompetisie
met ander mense om bo hulle uit te styg en die reg te verkry om onder hulle die
erkende gesag te wees nie. Dit is nie die eksklusiewe domein van die een onder ons
met die diepste openbaring nie. Dit is nie nét die insig en onderskeiding om dwaling
raak te sien en dit te ontbloot selfs wanneer duisende dit omhels en vir soetkoek
opeet nie.
Geestelike volwassenheid word in my gevorm wanneer ek begin rus in die vaste wete
dat Jesus na my omsien terwyl ek myself gee vir ander mense se heil, verlossing en
geestelike groei. Dit is ‘n wegkyk van myself en ‘n raaksien van die swakkes, die
verwardes, die misleides en die behoeftiges. Dit is om te volg in die voetspore van die
Een wat gesê het” die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar
om te dien…” (Matt. 20:28). Dit is eers wanneer hierdie diensbaarheid van Jesus in
my gevorm is dat my kennis, gawes, openbaringe, insig en ervaring werklik bruikbaar
word in die hande van God.
“En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie
sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.” Romeine 15:1

DAG 5
DIE VRUG VOLG VANSELF

"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie
in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie." Joh. 15:4

"Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker,
Jesus Christus..." 2 Pet. 3:18

Ons hemelse Vader is die landbouer (Joh. 15:1) en soos enige goeie boer verwag Hy 'n
oes. Sy doel in alles is om vrug te sien in ons lewens wat Hom as landbouer
verheerlik. Daar is 'n vreugde in die oes wat niks anders kan bring nie. Ons probleem
is egter dat ons so dikwels probeer om uit onsself vrug te dra. Jesus maak dit baie
duidelik dat ons net vrug kan dra as ons in Hom bly. D.w.s. as ons toeneem en groei
in ons afhanklikheid van Hom in elke aspek van ons lewens soos wat ons harte al hoe
meer gevul word met die kennis van Sy heerlikheid. Ons verantwoordelikheid is om
ons rykdom in Christus in die Bybel te ontgin en geniet. Die Vader sal sorg vir die
groei. Ek hoef nie te probeer om groei te bewerkstellig nie. Soos wat ek op Jesus
fokus en in verhouding met Hom leef vind die groei vanself plaas en die vrug volg vir
seker! O wat 'n salige rus bring dit wanneer ons hierdie waarheid begin ontdek.

DAG 6
94
EVANGELIE-KRAG VIR ELKE DAG

"WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van
God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek." Romeine
1:16

Die evangelie van Jesus Christus bring vergifnis, geregtigheid en nuwe lewe vir elkeen
wat dit glo en hulle volle vertroue plaas in Jesus en Sy volmaakte werk van verlossing.
Die evangelie is ryk en omvattend, maar vir een of ander rede het ons iewers in die
kerk se geskiedenis begin glo dat dit net bedoel is om ons by redding te bring en
daarna moet ons aanbeweeg na ander prioriteite en onderwerpe. Dit is 'n fatale
denkfout. Die evangelie maak nie net regverdig nie, dit maak ook heilig en dit is ons
enigste hoop op die heerlikheid wat vir ons voorlê.

Die evangelie gaan oor die Persoon en Werk van Jesus en dit sluit alles in wat bedoel
word met die allesomvattende term "in Christus" in die Nuwe Testament. Daar is
geen onderwerp in die Nuwe Testament wat losstaan van die evangelie nie. Ons het
dringend nodig om terug te keer na 'n radikale evangelie-gerigtheid. In Jesus is daar
evangelie-krag vir elke dag, maar dan moet ons, ons fokus regkry en nie antwoorde
soek in allerhande "geestelike" idees wat apart van Jesus definieër en bedink word
nie.

DAG 7
GEESTELIKE ONVERGENOEGDHEID
In Christus het ons reeds alles ontvang wat ons ooit sal nodig hê. Ons is volkome in
Hom. Hy is ons wysheid, geregtigheid, heiliging en verlossing. Ons is voor ons nog 'n
enkele ding gedoen het reeds "sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal
vervul". Ons is klaar geseën met álle geestelike seëninge in die hemele in Christus.
Ons het reeds die diepste moontlike eenheid met alle mense wat in Christus is deur
die wedergeboorte. Ons moet net hierdie "eenheid van die Gees" bewaar "deur die
band van die vrede" (Efes. 4:3).
Op grond van hierdie en honderde soortgelyke nuwe skeppingsrealiteite in Christus
word ons opgeroep om 'n geesvervulde lewe van oorwinning en diensbaarheid te lei
ongeag ons omstandighede op hierdie aarde. Ons staan onder opdrag om die "dinge
wat daarbo is te bedink", omdat ons lewens reeds nou-al "saam met Christus verborge
is in God"(Kolossense 3:2-3). Ons is dus reeds vervuld in Christus, maar ons moet
aanhou om die volle manifestasie van hierdie volheid uit te leef op aarde.
In ons begeerte om hierdie lewe van oorwinning in Christus in geloof te realiseer
gebeur dit egter soms dat ons geestelik onvergenoegd raak en as't ware vergeet wat
ons reeds in Christus ontvang het. Veral as ons nie in die rus van die Here ingaan en
ons oë op Hom kry nie. Hierdie onvergenoegdheid bly ongelukkig nie net by onsself
nie, maar dit spoel gewoonlik oor na ons gemeente en ons belewenis van ons
gemeente. Dan is dit nie lank nie of ons begin ly aan wat ons kan noem die Elia
Sindroom.
"Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen
oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir
95
Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie."
Romeine 11:3-4
Elia het gedink almal in Israel het teruggeval en hy was die enigste een wat God nog
werklik gesoek het. Vir seker het ons nodig om die ware situasie van ons lewens en
ons gemeentes akkuraat te assesseer. Maar laat ons nie verval in geestelike
onvergenoegdheid nie. Dit het die potensiaal om baie mense om ons negatief en
krities te maak. Kom ons begin waar God begin; by die oorwinning van Sy Seun,
m.a.w. by die evangelie. Vanuit daardie hemelse posisie kan ons die probleme hier op
aarde aanspreek sonder om in 'n slaggat van onvergenoegdheid te beland.

DAG 8
JY IS NIE MEER WAT JY WAS NIE

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos
kinders van die lig." Efes. 5:8

Voor die dag wat ons reageer het op die heerlike evangelie van Jesus Christus was ons
'sonder hoop en sonder God in die wêreld' (Efes. 2:12). Ons was 'dood deur die
misdade en die sondes' (Efes. 2:1). Ons het gewandel 'in die begeerlikhede van ons
vlees', het 'die wil van die vlees en van die sinne gedoen' en 'ons was van nature
kinders van die toorn' (Efes. 2:3).  Ons was 'onverstandig, ongehoorsaam, op ’n
dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en
afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.' (Titus 3:3). Maar ons is nie
meer wat ons was nie! Ons is nou 'lig in die Here' en die appél op ons lewens is om te
wandel ooreenkomstig die nuwe lewe wat in ons is. Vroeër kon ons lewe as geheel
beskryf word as 'duisternis', maar nou as 'lig', en dit alles as gevolg van ons eenheid
met Christus.  As jou wandel nog tekens toon van die duisternis van jou vorige lewe,
begin dit aan te spreek vanuit die lig van jou núwe

DAG 9
KRAG IN SWAKHEID EN GEBROKENHEID
Ons probleem as dissipels van Jesus is in 'n sin nooit dat ons te swak is nie, maar dat
ons te sterk is in onsself.  Daarom kry ons die opdrag in Efesiërs 6:10 “word kragtig
IN DIE HERE en in die krag van SY Sterkte”.  Pasop vir boodskappe wat subtiel die
idee skep dat God dissipels as’t ware meer en meer self-vertroue wil gee sodat hulle
kan oorwin en wenners kan wees in hierdie lewe.  Ons sien ‘n heel ander prentjie in
die Bybel.  Ons hemelse Vader se skool van genade werk andersom.  Hy wil ons al hoe
meer vry maak van enige vertroue in onsself sodat ons toenemend kan leef uit die
algenoegsaamheid van Jesus Christus ons Here.
“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid
volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in
my kan woon.” 2 Korinthiërs 12:9. 

96
Lees bietjiedie hele gedeelte in 2 Korinthiërs 12:1-10 in hierdie konteks. 

DAG 10
KYK OF DIE LIEFLIKE DRIELING IN JOU HART IS
Die lieflike drieling van 1 Thessalonicense 5:16-18; lof vanuit blydskap in die Here,
ononderbroke gebed en dankbaarheid in alle omstandighede sal altyd teenwoordig
wees in 'n hart onder die invloed van genade. Alle opdragte in die Nuwe Testament
het 'n tweeledige doel; dit wek ons op tot oorgawe en gehoorsaamheid, maar dit wys
ook vir ons hoe die Gees-vervulde lewe in die praktyk lyk. God werk die heilige lewe
ín ons deur sy Gees, maar ons moet uitdrukking gee aan dit wat in ons harte gebeur
(Fil. 2:12-13). As die lieflike drieling nie teenwoordig is in jou binneste nie kan jy
sonder enige twyfel weet dat jou hart uitbeweeg het onder die invloed van genade.
Dit beteken eenvoudig gestel; jy leef prakties uit jou eie krag en wysheid en nie vanuit
Christus in geloof nie. God het nooit bedoel vir ons om op enige ander manier te leef
nie as onder die invloed van genade sodat lof, gebed en danksegging ons lewenstyl
kan wees. Ons gemeentelewe is net 'n voortsetting van individuele harte onder die
invloed van genade. Dan is ons korporatiewe lof en gebed tot God gewortel en
gegrond in die werklikheid, in Christus. Anders is dit net vormgodsdiens, wat God
geensins behaag nie.

DAG 11
MEER AS OORWINNAARS, MAAR HOE?
"Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as
slagskape.Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons
liefgehad het." Romeine 8:36-37
Die oorwinning wat die evangelie vir dissipels van Jesus bring, moet altyd gesien
word in die lig van geloof, hoop en liefde. Hierdie drie kwaliteite word so dikwels in
die Nuwe Testament in 'n ryke verskeidenheid van kontekste saamgeflans deur die
apostels. As ons dit begin raaksien in die Nuwe Testament gee dit vir ons
verstommende insig oor die ware karakter van 'n dissipel se lewe op hierdie aarde.
Ons is geneig om vandag net binne die konteks van geloof aan oorwinning te dink,
want ons generasie is so intens gefokus op die hier-en-nou. Wanneer ons egter die
rykdom van die apostoliese gebruik van die terme geloof, hoop en liefde m.b.t. 'n
oorwinnende lewe vir onsself begin toe-eien, is ons blydskap in die Here gewaarborg
om eksponensieel toe te neem. Dan eers sien ons hoe God se werke in die verlede,
hede én toekoms sáámwerk om vir ons oorwinning te bewerkstellig.
Paulus praat baie van geloof in die gedeelte van sy brief voor Romeine 8 verse 18 tot
39, maar gaan kyk bietjie hoe hy ook liefde en hoop hier laat saamvloei en dit die
basis van ons oorwinning uitbeeld. Mag die Heilige Gees ons almal se oë oopmaak om
ons oorwinning in Christus in die Bybelse konteks van geloof, hoop en liefde te sien.

97
DAG 12
MOENIE DIE STRYD OPGEE NIE!
Aan die einde van sy lewe skryf Paulus soos ‘n ou generaal wat deur baie bloedige
gevegte geworstel het ‘n laaste brief aan sy jong luitenant Timotheüs en hy gee vir
hom krities-belangrike instruksies vir die stryd om waarheid. Ons ken daardie brief
as 2 Timotheüs. Die stryd is ‘n saak van lewe en dood, want dit het te doen met
mense se siele en ewige bestemming. Satan en sy leër van demone doen alles in hulle
vermoë om mense weg te hou van die waarheid van die evangelie. Sy mees subtiele
aanslag is om soos ‘n “engel van die lig” (2 Kor. 11:14) reg binne-in die linies van die
dissipels in te kom en daar die waarheid te kom verdraai. Sy teiken is dan ook
gewoonlik die denke en harte van slim geleerdes of sterk leiers in gemeentes of die
akademie wat nie wedergebore is nie en daarom geen vermoë het om geestelik te
onderskei tussen die leuen en die waarheid nie. Diesulkes gebruik hy dan om die
Skrifte te verdraai (2 Pet. 3:16) sodat hulle aan die een kant dissipels kan verwar en
aan die ander kant die evangelie kan versluier sodat ongelowige mense nie tot
wedergeboorte kan kom nie. Dit is teen hierdie aanslag wat ons sterk moet staan en
nie die stryd moet opgee nie. Iemand het gesê “some have not given up the faith, but
they have given up the fight”. As jy die “swaard van die Gees” (Efes. 6:17) laat sak het,
neem dit in Jesus naam weer op. Ek is vas oortuig dat die onderstaande uittreksel uit
2 Timotheüs in staat is om jou te bemoedig en versterk. Lees dit biddend en met
verwagting dat die Here jou weer moed en krag sal gee vir die stryd. Die stryd is fel
en alle dissipels van Jesus word opgeroep, nie net leiers in die liggaam van Christus
nie!
“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie
jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan
maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God
ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in
die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk
volkome toegerus. Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die
lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die
woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid
en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra
nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars
sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid
en hulle sal wend tot fabels.” 2 Tim. 3:14-4:4

DAG 13
MOENIE JOU ORE VERLOOR NIE
”En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor." Markus 4:9

Het almal dan nie ore nie? Klaarblyklik nie. Party mense gee ag op God se stem en
ander nie. Jesus sê dat die wat wel ag gee seker moet maak dat die boodskap by hulle
harte uitkom.

98
Ware dissipels het ore, maar hulle kan ook begin om hulle "ore te verloor" as hulle nie
hierdie opdrag van Jesus gehoorsaam nie. As ons aanhou luister na waarheid sonder
dat dit ons hart bereik en dan deur die krag van die Gees in dade oorgaan, gebeur
daar onvermydelik iets met ons geestelike gehoor.

"Waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword
het om te hoor." Hebreërs 5:11

As jy voel dat dit met jou aan die gebeur is of reeds die geval is, moenie wag nie.
Gaan dadelik na die troon van genade en vra die Vader om jou gehoor te herstel. Bely
jou traagheid m.b.t. geestelike werklikhede en vertrou God om herstel te bring.

DAG 14
MOENIE VERGEET NIE!
“'Much that once was is lost, for none now live who remember it.” Hierdie
ysingwekkende woorde uit ‘n populêre rolprent van ‘n paar jaar gelede laat ‘n mens
diep dink oor die verantwoordelikheid van elke generasie om nie kosbare dinge te laat
verlore gaan nie.
“Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou
oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy
moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.” Deuteronomium 4:9
“Want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die
reiniging van sy vorige sondes vergeet.” 2 Petrus 1:9
Dit is verstommend om te sien hoe maklik ons die verlossingswerke van God en die
geestelike lesse wat Hy ons geleer het, kan vergeet. Ons word so maklik ingesluk deur
die beelde en klanke van die sintuiglike wêreld en die eise van die onmiddellike.
Dissipels van Jesus is reeds regverdig verklaar in Christus en afgesonder vir God,
maar om teen ‘n wêreldse kultuur in te beweeg is nie iets wat sommer net vanself
gebeur nie. Sonder ‘n intense fokus en ‘n diep toewyding van hart dryf ons maar net
saam met die korrupsie en vervallenheid van ons kultuur en tydgees en vergeet ons
dat ons gedurig moet rekening hou met die onsigbare geestelike werklikheid. Dit is
een van die redes waarom ons so dringend nodig het om die Bybel op te neem en met
aandag te lees en dit wat ons leer sonder versuim oor te dra aan die jonger geslag. Dit
moet veral gebeur terwyl jou kinders nog in jou huis is. Daarna word dit al hoe
moeiliker. Tensy die jonger generasie by die ouer generasie die heerlikheid van
Christus sien en oorneem, gaan dit verlore en word weggewaai deur die winde van tyd
en omstandigheid. Dit gebeur so maklik. Moenie vergeet nie!

DAG 15
MY PLANNE OF SY PLANNE?

99
Spreuke 3 vers 6 lees "ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak". 'n
Pragtige belofte, solank ons onthou dat ons "paaie" alles te doen het met Jesus se
paaie, Sý kruis en Sý koninkryk. Dit is so maklik om die beloftes van die Bybel te
gebruik om 'my lewe' uit te sorteer en dan vergeet ek dat ek as dissipel van Jesus
reeds 'my lewe' as 'n aardse bestaan onafhanklik van die koninkryk vaarwel toegeroep
het. Ons durf dus nie meer dink oor ons bestaan op hierdie aarde as iets wat los staan
van die koninkryk van God nie. Die heel eerste tree wat jy agter Jesus aangegee het
was alreeds 'n tree op die pad van die kruis. Daar ís geen ander pad agter Hom aan
nie. Die Vader het 'n meesterplan in Sy Seun vir hierdie aarde en die mense op aarde.
Hy het ons gered "met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die
aarde is, onder een hoof in Christus te verenig" (Efes. 1:10). Daar bestaan nie so iets
soos wedergeboorte sonder 'n kruis wat opgeneem moet word nie. Daardie kruis
beteken my lewe is nou een met God se plan in Jesus vir versoening en verhouding
met Homself en verlossing van verlore mense. In alles moet ek dus, van my kant af,
daardie doel voor oë hê. Dit beteken eenvoudig dat my beroep, my huwelik, my
kinders, my toekoms en my daaglikse handel en wandel nooit los kan staan van die
soewereine wil van die Koning wat in my leef nie (Gal. 2:20).

DAG 16

'N GEESTELIKE LEWE BEGIN MET TOEGEWYDE ORE

In sy uitstekende artikel oor geestelike gehoor (Spiritual Hearing) maak Austin


Sparks hierdie aangrypende stelling aangaande die priesters in die Ou Testament wat
eers bloed en dan olie op die oor ontvang het om hulle geestelike take te kon verrig:
"There is the ear sealed against one world, and there is the ear open to the other
world. There is one world closed by the Blood, another world opened by the Spirit;
and it all centres in the inner ear, the ear of the heart. It is a very important thing."

Hierdie ietwat vreemde instelling m.b.t. priesterskap kommunikeer nietemin vir ons
'n krities belangrike waarheid, naamlik dat priesters afgesonderde en toegewyde ore
nodig gehad het om God waardiglik te kon dien. Aangesien die Nuwe Testament dit
baie duidelik maak dat die priesterskap oorgegaan het op al God se mense word
hierdie saak van geestelike gehoor iets waaraan ons almal besonderse aandag moet
gee. Oorweeg as voorbeeld net die volgende stellings van Jesus oor geestelike gehoor:

"My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My." Johannes 10:27

"En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet,
sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor." Markus
4:24

"Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen
wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het." Lukas
8:18

Jesus sê in Johannes sy skape luister na sy stem. In Markus en Lukas sê Hy ons moet


baie versigtig wees met wat ons hoor én hoe ons hoor.  As ons sê ons is in Jesus se
100
kudde beteken dit dus prakties ons kan nie ons ore uitleen vir sommer enigiets nie.
Ons moet baie versigtig en selektief luister en leer om sekere dinge te ignoreer en
ander heeltemal te vermy waar moontlik. Aan die ander kant moet ons seker maak
dat ons ore akuut ingestel is op die geestelike werklikhede van die koninkryk en dat
ons altyd luister met die uitsluitlike doel om te gehoorsaam.

Hoe gaan dit met jou geestelike gehoor? Is jy doof vir die wêreld en super-sensitief vir
die stem van jou Herder of is dit dalk presies die teenoorgestelde; halfpad doof vir
Jesus en aandagtig ingestel op die honderde stemme in die wêreld? Antwoord eerlik.
"Laat hom wat ore het hoor".

DAG 17
‘N OMGEDOPTE GENADEBOODSKAP

Daar is ‘n boodskap oor genade en geregtigheid wat vandag verkondig word, wat net
mooi die teenoorgestelde is van Bybelse genade.  Hierdie boodskap leer dat God deur
die evangelie mense in hulleself sterk maak om te kan heers, oorwin, en wen in
hierdie lewe.  Dit leer dat ons as’t ware onafhanklike bemagtigdes in Christus is en
dat ons vanuit hierdie identiteit en posisie beheer kan neem oor negatiewe
omstandighede.  Dit leer dat ons hierdie ‘vryheid’ ontvang het om nou met outoriteit
situasies en omstandighede aan te spreek en kan beveel om te buig voor ons woorde
en uitsprake.  Dit is net naby genoeg aan die waarheid om menigtes baie subtiel te
mislei.  Bybelse genade is egter altyd iets wat uitgestort word vir die wat in totale
swakheid en afhanklikheid in Christus voor God staan en in geloof alles ontvang wat
Hy in sy Seun goedgunstiglik vir ons skenk.  Die deurbrake wat God gee in
omstandighede is altyd “uit Hom, deur Hom, en tot Hom” (Rom. 11:36) en dit word
gegee aan gebrokenes wat uit swakheid krag ontvang.  Dit is ook nie ‘n verskoning vir
mislukking en mismoedigheid nie, maar juis die sleutel tot ware oorwinning.  Dit is in
lewe, woord, daad, en werklikheid “nie ek nie, maar Christus” (Gal. 2:20).  Pasop vir
“nagemaakte genade”!   Dit is ‘n baie algemene produk op die godsdiensmark vandag
en dit word ‘verkoop’ teen afslagpryse.  Ware genade is verniet, maar dit kan net
ontvang word deur mense wat niks in hulle hande het nie en as leë houers vanuit
volheid in Christus leef.  Laat ons ook diegene wat afgedwaal het met liefde, dog met
erns, teruglei na die paaie van ware genade.  Daar is baie wat met alle opregtheid
onder die invloed van hierdie verdraaide boodskap beland het, maar wat met liefde
en gebed dringend gehelp moet word om weer “gesond in die geloof” te wees. 

DAG 18
OORVLOEDIGE LEWE VIR OORVLOEDIGE GEHOORSAAMHEID

Ware dissipels van Jesus vra ander vrae in hierdie lewe as mense wat nie
wedergebore is nie. Hulle vrae het primêr te doen met groter gehoorsaamheid aan
God, nie meer voorspoed vir hulleself nie. Die manier wat jy reageer op daardie
101
stelling gaan terloops vir jou iets vertel van wat werklik in jou hart aangaan.

"Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos
julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag
wees." 1Thessalonicense 4:1

Die apostels se hele bediening in Christus het daaroor gegaan om dissipels te leer hoe
om 'n gehoorsame lewe te leef op 'n gevalle planeet en om dit so te leef dat dit God se
goedkeuring sou wegdra. 'n Pa kry baie plesier uit 'n gehoorsame kind. Die evangelie
het vir ons kindskap gebring. Dit het ons hier en nou in direkte verhouding gebring
met 'n hemelse Vader. 'n Vader wat ook natuurlik die Heerser van die heelal is.
Daarom volg dit logies dat 'n lewe van gehoorsaamheid vir ons 'n absolute prioriteit
moet wees.

In Christus het ons oorvloedige lewe ontvang en daardie lewe is die lewe van God self.
Dit is die lewe van die Seun en hierdie Seun het sy Vader in alles gehoorsaam.
Wanneer ons leef in en deur die oorspronklike en unieke Seun se gehoorsaamheid
(Rom. 5:19) gee dit vir ons Vader groot plesier, maar terselfdertyd seën en verryk dit
ons lewens.

Wat is die vrae wat jy vra oor jou lewe op aarde? Geseënd is jy as jy kan sê my
grootste vraag is, "hoe kan ek nog oorvloediger wees in gehoorsaamheid aan my
regverdige en getroue hemelse Vader"?

DAG 19
OORWINNING SLEGS OP DIE WEG VAN DIE LIEFDE

"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie
swaar nie." 1 Joh. 5:3 (OAV)

"Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie
is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." 1 Joh. 5:3 (NAV)

Ons voel soms oorweldig deur die gevallenheid bo ons, rondom ons, en selfs in ons en
boonop die ewige gesukkel om dinge en verhoudings te laat werk in die ou wêreld
waar alles so maklik uitmekaar val en ten gronde gaan.  Sulke tye kan die pad van 'n
dissipel van Jesus vir ons onmoontlik steil voorkom. Jy het net-net die vorige bult
gemaak, dan lê daar nog 'n steiler een voor jou.  Om dan te lees dat God se gebooie
'nie swaar is nie' laat 'n mens se mond oophang en jy wonder heimlik of Johannes op
dieselfde planeet as ons geleef het. Let wel, hy sê nie 'die lewe is maklik, want God
sorteer alles sommerso in 'n japtrap vir ons uit' nie.  Dit sou op sigself verstommend
wees.  Hy sê in teendeel elders jy gaan baie téénkanting kry in die wêreld én dan moet
jy nog te midde van alles gehoorsaam wees aan alles wat God van jou vra. Sjoe!  Hoe
dan?  Johannes praat van die oorwinning op die weg van die liefde.  As mens iemand
liefhet is dit 'n vreugde om hulle hartsbegeertes te bevredig, selfs al verg dit baie
opofferings.  Deur die wedergeboorte het ons die bonatuurlike liefde van God ín ons.
102
Ons neem egter so maklik sypaadjies wat ook belowe om ons by gehoorsaamheid uit
te bring, maar Johannes sê in effek daar is net een pad wat werk. Dit is die pad van
die bonatuurlike liefde van God ín my wat lei tot die bonatuurlike liefde vír God
gedemonstreer deur my gewillige gehoorsaamheid aan die begeertes van Sy
Vaderhart.

DAG 20
SKUIF JOU FOKUS NA DIE ONSIGBARE
“Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende
ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die
onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” 2 Kor. 4:17-18
Van aardse heerlikheid na hemelse heerlikheid, van die sigbare na die onsigbare, van
die tydelike na die ewige. Dit is die oproep van hierdie twee kragtige verse en dit is
super-aktueel, omdat ons lewe in ‘n tyd waar alles gaan oor die hier-en-nou. In
vergelyking met die meeste ander mense sou ons sekerlik nie Paulus se verdrukking
beskryf het as “ligte” verdrukking nie! Hier is net ‘n kort uittreksel uit sy lewe: “Drie
maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk
gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring— dikwels op reis, in gevare
van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in
gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse
broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels
sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die
sorg vir al die gemeentes” (2 Kor. 11:25-28). Hoekom beskryf hy dan sy verdrukking
as ‘n “ligte verdrukking”? Want Paulus se oë was nie op die sigbare en die tydelike
gerig nie, maar op die ewige. Paulus het te alle tye die heerlikheid van Christus
aanskou (2 Kor. 3:18). Hoe lyk dit met my en jou? Paulus was ‘n mens net soos ek en
jy. As hy in geloof kon uitstyg bo sy omstandighede deur sy fokus te skuif na die
onsigbare en die ewige kan ons ook. Geloof leef hier op aarde al in die lig van die
hemelse heerlikheid, want geloof word nie beweeg deur die sigbare nie, maar deur die
ewige Woord van God. Boonop sien geloof daar is ‘n veel groter heerlikheid wat kom
en skenk ons sodoende ‘n onuitspreeklike blydskap te midde van die moeilikste
omstandighede denkbaar.

DAG 21
NET JOU EIE GELOOF KAN JOU VRY MAAK

"Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap;
want in die geloof staan julle vas." 2 Korinthiërs 1:24

Dit is werklik verstommend om te sien dat selfs die apostels wat die Nuwe Testament
geskryf het nie probeer het om in te dring in die heiligdom van die dissipel se
persoonlike geloof in Jesus nie. Ons leef in 'n dag waar hedendaagse apostels en baie
predikers en leraars sonder om te skroom instorm in daardie heilige plek van die
individu se hart en dissipels dan met groot bravade meesleur in die illusie dat die
103
apostel of leraar se geloof hulle kan dra en vrymaak. Dit is 'n reuse mistasting en
ongelukkig so algemeen vandag dat die meeste mense nie eers dink daaraan om dit te
bevraagteken nie. Die waarheid is dat ander se geloof jou nooit werklik kan vry maak
en vir jou volkome vreugde in Christus kan bring nie.

Ander dissipels en bedienaars se geloof kan jou stimuleer en kragtig inspireer om self
die heilige grond van jou hart met geloof te bearbei, maar niemand op hierdie aarde
kan ooit vír jou glo of 'n substituut wees vir jou eie intimiteit met God nie. Vir hierdie
rede leer Paulus dat die essensie van ons dissipelskap juis ons eie omgang met die
Woord en ons eie geloofsoortuiging is, en dit des te meer wanneer daar nie ander
dissipels of bedienaars by ons is nie.

"Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my


teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie
heil uit met vrees en bewing." Filippense 2:12

Dit is juis wanneer ons met ons eie hart en hande die heilige waarhede van die
evangelie hanteer dat ons groei en sterk word in Christus. Anders bly ons afhanklik
van ander se geloof en is ons ervaring van God ook tweedehands. God nooi jou
vandag uit om op te staan in jou eie geloof sonder vrees of twyfel, want dit is Hý wat
persoonlik en intiem werk in elke dissipel se hart. Dieselfde God wat vir Paulus,
Petrus en hedendaagse geloofshelde stap vir stap gelei het, leef ook in jou as jy
wederbaar is deur die Gees van God. Staan op en glo! Hy leef in my, Hy werk in my,
Hy wag vir my persoonlike respons op Sy Goddelike aktiwiteit in my binneste (Fil.
2:13).

DAG 22
STAAN OP EN BEGIN BEWEEG NA DIE LIG!

Die magte en kragte van duisternis oorweldig selfs ware dissipels van Jesus soms tot
so 'n mate dat hulle gaan sit langs die lewenspad.  Sonder motivering en sonder doel
vloei die een dag in die ander en liggaam en siel word kwalik bymekaar gehou.  Die
boodskap van God in Christus in so 'n situasie is duidelik en ondubbelsinnig; 'Staan
op en begin beweeg na die lig'!  Treetjie vir treetjie sal Hy jou lei uit stikke duisternis
na 'n altyd-helderder toekoms in Christus.  Moet net nie ophou beweeg nie, en as jy
val staan weer op in geloof en hoop en maak net seker jy beweeg vórentoe met albei
jou oë op Jesus gevestig!

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos
op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester
opgaan in julle harte." 2 Pet. 1:19 (OAV)

"Hierdie gebeure daar op die berg [van verheerliking] het elke woord wat die
profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lig
wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig
van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het,
sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste." 2 Pet. 1:19  (DB)

104
DAG 23
UIT DIE SKAT VAN DIE HART
"Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die
slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn." Mattheüs 12:35
Met betrekking tot die evangelie is die Bybel duidelik dat álle mense onder die mag
van die sonde is (Rom. 3:9-19) en daarom presies dieselfde behoefte het aan redding
in Jesus.  Wedergebore mense het 'n nuwe natuur en Christus self leef in hulle.  Maar
dit onthef hulle nie van die verantwoordelikheid om wys om te gaan met dit wat in
hulle hárte aangaan nie.  Dit wat jy bedink en toelaat om te groei in jou hart word
uiteindelik wat Jesus noem 'n 'skat' in jou hart.  Daardie 'skat' bepaal jou gesindhede,
jou woorde, en jou dade (Spr. 4:23).  Maak seker dat jy jou gedagtes rig op die
waarhede wat betrekking het op jou nuwe lewe in Christus (Kol. 3:1-4), en jy kan
verseker wees dat daardie 'goeie skat' binne-in jou veel lieflike vrug sal dra (Gal.
5:22).   

DAG 24
WANNEER ALLES VERANDER

Wat is fout met hierdie stelling: “Met God se hulp sal ek die Christelike lewe leef.”?
Dit impliseer dat ons, ons eie krag by Syne wil voeg…om dit meer kragtig te maak?!
Genade beteken egter juis dat God eers werk wanneer ek aan die einde van my eie
krag is en erken “ek kan nie”! Daarom is dit krities belangrik vir elke dissipel van
Jesus om die begrip genade te verstaan, te bedink, aan te gryp en met geloof vas te
hou, totdat jou hart ‘n greep kry op genade en genade dan ‘n greep kry op jou hart.
Dan verander alles en begin God se hemelse perspektief werklik jou leefwêreld
transformeer.

“Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is
goed dat die hart versterk word deur genade…” Heb. 13:9

“Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is.” 2 Tim. 2:1

Dit vat tyd vir ons harte om ‘n stewige greep op genade te kry. Die rede daarvoor is
nie net omdat ons daagliks in ‘n wêreld leef wat vanuit die teenoorgestelde van
genade opereer nie, maar ook omdat ons eie harte in wese wetties is. 

“En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat
magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.” Hand.
20:32

DAG 25

105
DIE GLIMLAG VAN GENADE
“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees,
sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad
het voor die grondlegging van die wêreld.” Johannes 17:24
“…want dit is goed dat die hart versterk word deur genade…” Hebreërs 13:9
Jesus het ons deur Sy verlossingswerk gebring op ‘n plek waar ons kan leef in die
glimlag van die Drie-Eenheid (lees die hele Johannes 17) en nou verwag God van ons
dat ons met mekaar sal praat en saamleef vanuit die glimlag van genade. Ons gee
maklik vir ons kinders, veral wanneer hulle nog klein is, die glimlag van genade. Dit
is genesend, stigtend, en dit anker jou kind se hart in die tasbare liefde van ‘n ouer
wat die Vaderhart van God verteenwoordig. Natuurlik is daar ook in die lewe van ‘n
kind, en ‘n dissipel van Jesus, tug en dissipline (Heb. 12:5-10). Dit is egter juis in die
sonskyn van die Vader se glimlag wat ons die hart agter die tugtiging raaksien en
daarom reg reageer op die liefdevolle dissipline van ons Vader. Hy verwag van ons
om nie net vir ons kinders nie, maar ook vir ons mede-dissipels die glimlag van
genade te gee. ‘n Hart vol genade kan selfs met vermaning en teregwysing sonskyn
bring.
“You fearful saints, fresh courage take;
The clouds you so much dread
Are big with mercy and shall break
In blessings on your head.
Judge not the Lord by feeble sense,
But trust Him for His grace;
Behind a frowning providence
He hides a smiling face.” (William Cowper)

DAG 26
'N VADER EN SY FAMILIE

Deur die wedergeboorte het ons deel geword van God die Vader se familie en in
hierdie familie het ons Vader een baie spesifieke oogmerk met sy kinders se lewens.
In Romeine 8 maak Paulus dit baie duidelik wat hierdie oogmerk is.

"Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om
gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan
wees onder baie broeders." Romeine 8:29

Die Vader se konsekwente oogmerk met alles in ons lewens is om ons te maak soos sy
Seun Jesus. Alles wat ons sien van Jesus se karakter in die vier evangelies is bedoel
om vir ons 'n voorbeeld te wees van wat die Vader beoog met ons lewens. Alles wat
ons leer van Jesus se verhouding met sy Vader (sien veral die evangelie van
Johannes) is bedoel om ons op te roep tot 'n soortgelyke verhouding met die Vader.

106
Wat is die hoë roeping van dissipelskap? Niks anders as om in jou karakter meer en
meer soos Jesus te word nie. Dit gebeur deur ons eenheid met die lewe van Christus
in ons en die lering en bediening van die Heilige Gees. Maar dit kan ook net gebeur
as ons begin verstaan wat die Vader se doel en plan met ons is en begin identifiseer
met die karakter van Jesus in die Skrif. Anders mik ons heeltyd vir die verkeerde
dinge en met al ons godsdiens en aktiwiteite bly ons karakter basies onveranderd.
Lees bietjie 1 Korinthiërs 13 verse 1 tot 3 in hierdie verband.

DAG 27
BOU MET GOD SE MATERIAAL

"Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen." 1
Thessalonicense 5:11

Alle mense het van tyd tot tyd bemoediging nodig. God het ons geskep as
interafhanklike wesens wat mekaar moet ophelp, aanspoor en versterk. Jy sal nooit
jou skeppingsdoel ten volle kan uitleef as jy nie mense rondom jou het wat jou
bemoedig wanneer jy dit nodig het nie. Ons sien egter vandag dat mense toenemend
meer venynig raak met mekaar en geoefen is daarin om ander af te breek in plaas
daarvan om hulle op te bou. Dit is werklik tragies. Maar as ons bemoedig en opbou
as dissipels van Jesus moet ons baie seker maak dat dit in waarheid is.

Ons moet bemoedig in die lig van die evangelie. Ons moet vir diegene wat ons
bemoedig 'n ware prentjie van hulle situasie gee. Ons moet met die Woord opbou.
Ons moet in Christus bemoedig. Ons moet mekaar herinner aan die hoop wat die
opstanding van Jesus gebring het en wat voltrek gaan word by Sy wederkoms. Sien 1
Thessalonicense 4 verse 14 tot 18. Ons moenie bemoedig soos die wêreld met hol
motiveringsboodskappies wat eintlik maar net sielkundige "window dressing" is nie.
Dan doen ons meer skade as goed, want een of ander tyd bars dáái ballon.

DAG 28
BLIND VIR ONS EIE BLINDEKOLLE

"Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Ps. 36:10
"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense." Joh. 1:4
"En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My
volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê."
Joh. 8:12
Ons is almal met dubbele blindheid gebore. Nie net het ons blindekolle wat
hardnekkig saam met ons loop op die lewenspad nie, maar ons is ook sonder
uitsondering blind vir ons eie blindekolle. Ja sekerlik kan ons in oomblikke van
ongewone eerlikheid en deursigtigheid met 'n kwalik verskanste self-bewustheid 'n
mate van erkenning gee aan die areas van ons karakter wat so onverklaarbaar ons
107
'perfekte self-oordeel' onstnap het. Maar wanneer die lig van Christus deur die krag
van die Gees 'n slag ons binnewêreld ordentlik verlig, moet ons erken dat ons eintlik
maar amper totaal blind is vir ons eie blindekolle. Op die grond en sterkte van die
nuwe geboorte in Christus bring ons hemelse Vader stadig maar seker deur die Gees
van Christus vir ons 'n ware visie van ons inherente blindheid vir ons eie blindekolle?
Hoekom is dit nodig? Kan ons nie maar net leer van ons nuwe identiteit in Christus
nie? Nee. Ons Vader is te lief vir ons om ons te laat leef in die waan van self-
misleiding wat kleef aan alle vlees op hierdie gevalle planeet. Hy wil ons speen van
álle self-vertroue sodat ons in wérklikheid kan leef uit ons nuwe identiteit in Christus,
sonder 'n vermenging van die ou en die nuwe. Slegs dan breek die krag van die nuwe
skepping volledig deur in die helder lig van God se heerlikheid en kan ons al die
kosbare beloftes van God in Sy Seun waarlik in besit neem.  As ons hierdie waarheid
glo en onvoorwaardelik omhels, sal dit nie net in ons eie lewe en verhoudings radikale
veranderings inlui nie, maar dit sal ook 'n rewolusie in ons gemeentes teweeg bring.

DAG 29
WANNEER GOD MET ONS PRAAT IN DIE NAG
“Verder is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n
gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer
diepe slaap op die mense val.” Job 4:12-13
Die manier wat die Bybel die openbaringe en insig beskryf wat 'n mens soms in die
nagure kry wanneer alles stil is en jy meer innerlik gefokus is, is aangrypend! God
kommunikeer voortdurend met ons, ons moet net seker maak dat ons luister. Selfs in
die nagure wil Hy ons leer en lei.
“Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere
my.” Psalm 16:7 

DAG 30
HOEKOM WERK DIE WET NIE?
“Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van
God nie, maar onder die wet van Christus...” 1 Korinthiërs 9:21
Daar is niks fout met die wet van God nie. Die wet is “heilig en regverdig en goed”
(Rom. 7:12). Die probleem lê by ons (Rom. 8:3). Mense is gemaak om te leef vanuit
Christus. God se plan was van die begin af om Christus in ons te plaas (Gal. 2:20) en
Hom vir ons te gee as ons lewe, wysheid, geregtigheid, krag en hoop.
Wetteloosheid lei altyd tot 'n losbandige en self-gerigte lewe. Dit is nie moeilik om
raak te sien en te verstaan nie. So 'n lewe lyk na vryheid, maar is in werklikheid
sieldodende slawerny aan sonde en self.
Die vraag is of 'n lewe onder die wet meer vryheid bied. Die antwoord is in hierdie
geval nie so ooglopend nie. As ek wegdraai van ‘n wettelose en losbandige lewe is die
108
alternatief sekerlik tog 'n lewe onder die veilige beskerming van wette en reëls wat my
selfsug en eiesinnigheid aan bande lê, of hoe? In teorie klink dit goed, maar in die
praktyk is dit 'n totale flop. Die sondeval het ons “eie ek” onweerstaanbaar sentraal
kom stel in ons binnewêreld. Wat dus gebeur met 'n lewe onder die wet is dat dit
áltyd lei tot 'n self-verbetering oefening wat my net weer terugneem presies na die
plek waar ek begin het, die self! Wetteloosheid lei tot 'n losbandige self-bevrediging
en uiteindelike self-vernietiging. 'n Lewe onder die wet tot 'n fatale self-verbetering
oefening wat my weereens los by die verwoestende self-lewe met al sy doodloopstrate
en ironies genoeg ook losbandigheid. In hierdie geval net losbandigheid onder die
dekmantel van vormgodsdiens en skynheiligheid. Hoe nou gemaak?
God se antwoord is Christus in ons! Om “onder die wet van Christus” te wees is
waarlik vryheid, want dit is die enigste omgewing en sfeer waarbinne my oë einde ten
laaste wegdraai van myself en op Jesus rus. Hy in my en ek in Hom. Dit is die enigste
lewe van vryheid vir mense. Die enigste verlossing van die self is deur die dood! In
Christus het ons reeds gesterf vir daardie self-gerigte lewe en die enigste lewe wat nou
sin maak,is die een wat Hy binne-in ons leef (Gal. 2:20). ‘n Lewe van vryheid en
vreugdevolle gehoorsaamheid aan die Woord is net moontlik “in Christus”.
“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.”
Johannes 14:20

JULIE: DIE KRUIS, DIE GEES EN DIE KONINKRYK

DAG 1
DIE "EVANGELIE" WAT VAN DIE KRUIS 'N VOETNOTA MAAK

Ons generasie se verdraaide siening van God se liefde bring die ware evangelie ernstig
in gedrang. Die manier wat mense vandag praat oor die evangelie en die liefde van
God laat mens wonder of ons generasie regtig nog verstaan dat God sonde gestraf het
in Christus. God verander nie. Hy het nie verander van hierdie Ou Testamentiese
God wat net wou straf na die Nuwe Testamentiese God wat net wil liefhê nie. Die
keuse is nie wraak óf liefde nie. God se wraak teen sonde het gekulmineer in die
verbryseling van Sy eie Seun.

"Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel..." Jesaja 53:10

Dit is waar die liefde inkom en dit is baie groter as vandag se vals idee van God se
liefde. God het nie en sal ook nooit Sy heiligheid opgee om ruimte te maak vir Sy
liefde nie. Sy liefde en heiligheid staan nie teenoor mekaar nie. God het nie sonde
oorgesien nie. Hy het dit gestraf in Christus. 'n "Evangelie" wat mense onder die
indruk bring dat God uit 'n nuutgevonde liefde sonde oorgesien het en nou vir die
hele wêreld vergifnis aanbied, maak van die kruis 'n blote voetnota. Dit is 'n

109
"evangelie" wat nie kan red nie. Dit is ook die soort "evangelie" wat in ons tyd ruimte
begin maak vir sonde en 'n hele wêreld van grys skep wat hordes mense verwar
omdat hulle nie meer weet wat dan nou reg of verkeerd is nie.

Die ware evangelie leer dat God die sonde gestraf het in Sy Seun en dat ons "saam
met Christus" gesterf het vir die mag van sonde en nou kan leef in 'n opstandingslewe
"saam met Christus". Op grond van hierdie evangelie kan ons dan duidelik onderskei
tussen lig en duisternis en begin om lewens van ware heiligheid en geregtigheid te
leef.

"En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:
God is lig, en geen duisternis is in Hom nie." 1 Johannes 1:5

"So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God
in Christus Jesus, onse Here." Romeine 6:11

DAG 2
DIE GEMAKLIKE PAD OF DIE KRUISPAD?
“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself
verloën en sy kruis opneem en My volg.” Mattheüs 16:24

Daar is net een Leier (alle menslike leiers is ondergeskik aan Hom), net een Here, net
een Herder in die Nuwe Testament (Joh. 10:16; Mt. 23:6-12). Hy deel nie Sy
heerskappy met enige mens nie. God die Vader toets Sy gemeentes en sy mense op
hierdie punt dalk meer as in enige ander area. Hy soek by ons onverdeelde lojaliteit
aan Sy Seun. Geen mens, geen tradisie, geen liefling van die siel mag saam met Jesus
staan in die ereplek van onverdeelde lojaliteit in my hart nie. Die Vader verwag van
my en jou om absolute gehoorsaamheid aan Jesus te gee en dit beteken soms dat ek
moet kies tussen dit wat populêr is of selfs dit wat dalk ‘n eeue-oue kerktradisie is (let
wel dat daar ook iets is soos goeie en Bybelse tradisies!) en dit wat Jesus van my vra.
Die oomblik wat die lig van die Woord inskyn en God se wil oor iets vir my duidelik
maak, is daar altyd ‘n keuse wat ek voor gestel word. Gaan ek die gemaklike pad van
die skares loop of die kruispad van Jesus?
“Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die
Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want
hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.” Johannes 12:42-
43

DAG 3
DIE GOEIE NUUS AAN DIE ANDER KANT VAN MISLUKKING

“Petrus sê vir Hom: Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U
gee. Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê
110
vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.”
Joh. 13:37-38

Petrus is seker dat hy die passie en moed het om sy lewe vir Jesus neer te lê. Die
probleem is net Petrus ken nog nie sy eie hart nie. Petrus vertrou nog op sy eie
wilskrag en menslike oortuiging. Jesus ken egter elke mens se hart en Hy weet dat
nie een van ons die bedrieglikheid van die hart kan baasraak nie. Inteendeel, daai
hart aan homself oorgelaat, gaan Jesus keer op keer verloën. Maar daar’s goeie nuus!
Verder aan, in hoofstukke 14 tot 17 van Johannes, gee Jesus vir Sy dissipels dosyne
kosbare beloftes met betrekking tot die nuwe verbond en nuwe krag vir ‘n heilige
lewe. Dit het alles te doen met Sý lewe ín ons (Joh. 15:5). Gaan lees bietjie Johannes
14 tot 17, merk die beloftes en maak dit jou eie.

DAG 4
DIE GROOT SKEIDINGSLYN

Die groot skeidingslyn in elke dissipel van Jesus se lewe kom die dag wanneer hy die
finaliteit van die kruis sien.  Die hele Christenlewe kan vanuit twee perspektiewe
bekyk word.  Van die buitekant mag twee gelowiges presies dieselfde dinge doen,
maar as ons na hulle innerlike motivering sou kyk, mag daar ‘n reuse verskil wees. 
Die een verstaan die finaliteit van die kruis en derhalwe lewe hy op opstandingsgrond
en in opstandingskrag vanuit die lewe van Jesus in hom.  Die ander een ken slegs die
vergifnis van die kruis en dus lewe hy primêr in die krag van sy eie besluite.  
Toe Jesus aan daardie kruis gesterf het, het Hy nie slegs vir jou gesterf nie, maar jy
het saam met Hom gesterf (Gal. 2:20).   Jy het gesterf vir die ou, onafhanklike
Adamiese lewe.  Dit is nie ‘n wens of ‘n belofte nie, maar ‘n feit.  Glo dit en leef
daaruit.  Dit is jou erfdeel in Christus.
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos
Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n
nuwe lewe kan wandel.”  Romeine 6:4

DAG 5
DIE VOORDEEL VAN DIE KRUIS SONDER DIE OORDEEL VAN DIE KRUIS

Hoe strook die verkondiging van vergifnis van sondes in die Nuwe Testament met die
eis dat ons elke dag ons kruis moet opneem? Eersgenoemde is sulke verstommende
goeie nuus, maar laasgenoemde klink waarlik soos 'n ander boodskap.
Eersgenoemde spreek my vry, maar laasgenoemde klink soos 'n swaar las wat my
weer van voor af moedeloos maak. Ek kan die oplossing net vind deur alles wat Jesus
gesê het oor die kruis onvoorwaardelik te aanvaar en op te let na die konteks van Sy

111
stellings. Ons is almal geneig om te gou opinies te vorm voordat ons die “hele raad
van God” (Hand. 20:27) in die Skrif toegelaat het om ons diepliggend aan te spreek.

"In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die
rykdom van sy genade." Efes. 1:7

"EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy
kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;
maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Lukas 9:23-24

Dit is krities belangrik vir jou en my verstaan van die Bybel en ons geestelike groei dat
ons die oënskynlike teenstrydighede daarin moet kan balanseer in die konteks van die
hele Skrif. Anders gaan ons nie vaste grond onder ons voete hê nie, maar 'n
onderliggende verwarring wat geestelike groei amper onmoontlik maak. Dit lei dan
ook dikwels tot dwaling weens 'n verdraaiing van die Skrifte.

Aan die een kant bring die kruis vir my 'n kosbare boodskap van genade en vergifnis,
maar aan die ander kant vereis die kruis 'n wegdraai van my ou lewe. Ek moet beide
die voordeel en die oordeel (wat ook na die omhelsing 'n voordeel is!) van die kruis
omhels om 'n ware dissipel van Jesus te kan wees. Bekering beteken dan juis dat ek
gedraai het teen my eie sondige onafhanklikheid en die kruis nou toelaat om te skei
en te oordeel. In 'n huwelik kry ek al die voordele van 'n kosbare verbintenis met my
bruid of bruidegom, maar ek moet bereid wees om te verklaar "ek versaak alle ander
en neem jou as my enigste". Jesus vra niks minder nie. As ons hierdie "oordeel" dus
reg verstaan is dit ook verstommende goeie nuus. Vergifnis van die skuld van my
sondes én verlossing van die mag van die sonde. Twee kante van dieselfde muntstuk.
Baie goeie nuus as jy bereid is om die ou lewe vaarwel toe te roep, maar minder goeie
nuus as jy net die voordeel soek sonder die "oordeel". Pasop vir boodskappe wat die
kruis eensydig verkondig. Dit is een van die duidelikste tekens van afvalligheid in die
moderne kerk .

DAG 6
DIE VREUGDES VAN ‘N NEDERIGE GELOOF

“sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy
nie ver van elkeen van ons nie” Hand. 17:27

“Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord
van die geloof wat ons verkondig.” Rom 10:8

“Die HERE is naby die wat gebroke is van hart…” Psa. 34:19

Aan die een kant leer die Bybel ons dat God Homself verberg vir die hoogmoedige.
Hy versluier Sy aangesig in diepe duisternis vir die onafhanklike intellek wat met die
rede alleen probeer om Sy wese te peil. Aan die ander kant leer die Bybel dat God
altyd ‘n nederige geloof beloon met die heerlikheid van Sy teenwoordigheid. Dit is
ook nie net die sekulêre filosowe wat hulleself vasloop in die onpenetreerbare sluier
van God nie, maar selfs teoloë wat daagliks met die Bybel werk, vind gou uit dat die
woorde van God gesluit bly vir daardie knie wat nie wil buig en hart wat nie wil juig

112
nie. Dieselfde geld vir die dissipel wat probeer vorder in sy geloof. God is die Kenner
van harte en selfs as ons net maar erken en bely dat ons harte iewers hoogmoed
opgetel het (dit gebeur so maklik), kan en sal die Vader deur die bloed van Jesus
wonderbaarlik ons harte weer reinig. Dieselfde Vader wat begeer dat Sy kinders Sy
aangesig moet sien, versluier Homself vir ‘n hoogmoedige hart. Hy kan nie teen Sy
eie aard optree nie…maar Hy is haastig om die sluier te lig vir ‘n nederige geloof.

DAG 7
HERLEWING VIR DIE NEDERIGES EN DIE VERBRYSELDES
"Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek
woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees,
om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die
verbryseldes." Jesaja 57:15
“Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar
aan die nederiges gee Hy genade.” Jakobus 4:6
Die Bybel is propvol kosbare beloftes, maar let bietjie op hoe dikwels word daardie
beloftes verbind aan die gesindheid van ons harte. Dit is die nederiges, die
verbryseldes, die swakkes, die gebrokenes, die wat “arm van gees” is, die wat weet hoe
afhanklik hulle van God is; dit is hulle wat met groot oortuiging en ‘n vaste geloof die
beloftes van God kan neem vir hulleself. Daarteenoor leer die Bybel baie duidelik dat
God die hoogmoediges, die selfvoldanes, die selfgenoegsames, die onafhanklikes, die
wat in hulleself sterk is; nie net verdra nie, maar aktief “weerstaan”. Ons groot
voorbeeld bly maar Jesus self. Hy wat die volste reg gehad het om net in te stap en
oor te neem hier op aarde het gekom om te dien en Sy lewe te gee vir ons. Hy het Sy
hele lewe lank in die liggaam in ‘n absolute nederige afhanklikheid van die Vader
geleef en onder mense was Hy ‘n dienskneg. Dit beteken nie dat Hy nie ook met
gesag opgetree het nie, maar dit was die gesag van iemand wat geleef het in die krag
van Sy Vader. Jesus is die enigste een wat die reg gehad het om uit Sy eie krag te leef
en op te tree, maar Hy het in alles geleef as ‘n afhanklike sodat Hy vir ons ‘n perfekte
voorbeeld kon stel. Daarom dring Sy woorde so diep in vir die wat ore het om te
hoor: “leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir
julle gemoed” (Matt. 11:29).

DAG 8
KOM KNIEL BY DIE KRUIS

“Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die
Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun
dit wil openbaar.” Mattheüs 11:27

Die verhouding tussen die Vader en die Seun is absoluut uniek, maar dit is nie geslote
nie. Dit is wel net toeganklik deur een enkele kanaal, die Seun. Jesus maak dit baie
duidelik dat Hy nie in kompetisie is met enige ander gesag op aarde nie. Daar is maar
net een gesag en dit is die gesag wat die Vader vir die Seun gegee het. Daarom kan
113
niemand wat weier om die knie te buig vir Jesus Christus ooit aanspraak maak
daarop dat hulle God ken nie en niemand kan die ewige lewe verkry as hulle nie die
Vader ken nie.

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus
Christus wat U gestuur het.” Johannes 17:3

Deur die eeue eggo die stem van die Seun en roep die mensdom om te kom kniel by
die kruis. Slegs daar gaan die hemele oop en begin die aangesig van die Vader
herkenbaar word. Slegs daar wink ‘n nuwe lewe en kry gebroke mense vergifnis,
genesing en ‘n hoop wat nooit sal beskaam nie.

DAG 9
MOOIER, SLIMMER, STERKER EN RYKER

Die wêreld is gedurig besig met 'n kompetisie om uit te vind wie die mooiste, die
slimste, die sterkste, die rykste en die mees talentvolle is. Dit is 'n kompetisie
waaraan dissipels van Jesus nooit hoef deel te neem nie.

"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is
of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige
dinge — alles behoort aan julle." 1 Kor. 3:21-22

As jy ooit minderwaardig (of meerderwaardig) voel omdat jy jouself met ander mense
vergelyk, stop vir 'n oomblik en dink oor wat jy in Jesus ontvang het. As alles in
werklikheid reeds aan jou behoort, is daar geen prys, prestasie, roem of rykdom op
hierdie aarde wat iets daarby kan voeg nie. Ware rykdom word gevind in 'n lewe wat
die liefde van Jesus vertoon en onbaatsugtig gee van jouself.  Sonder hierdie liefde is
ons niks en het ons niks, selfs al is die hele wêreld vreeslik beïndruk met ons (1 Kor.
13:1-3).

DAG 10
STAAN LANGER STIL BY DIE KRUIS
Ons is almal geneig om eksklusief te wil fokus op die opstandingslewe in Christus en
die voordele daarvan vir ons eie bestaan en omstandighede op aarde. Die hele
spiritualiteit van die Nuwe Testament is egter gebou op die basis van die kruis van
Jesus en wat op daardie kruis gebeur het. Daarom is dit krities belangrik vir ons om
stil te gaan staan by die kruis en toe te laat dat die Heilige Gees vir ons wys wat alles
gesterf het aan daardie kruis en wat ons moet dood reken op grond van daardie
sterwe saam met Christus.
Daar is groot lesse wat God vir my en jou wil leer aan die voet van die kruis om ons
voor te berei vir die opstandingskrag wat Hy in ons lewens wil realiseer. Paulus was
‘n man wat baie lank stil gaan staan het by die kruis en weer en weer terug gekeer het
om die kruisgebeure vars te hou in sy bewussyn. Daar is geen ander oplossing vir die
geestelike oppervlakkigheid van ons generasie nie.

114
Dink ‘n bietjie na oor die volgende kragtige stellings wat Paulus oor die kruis maak in
sy brief aan die Galasiërs. Mag dit vir jou en my ‘n venster wees wat die groter geheel
van die boodskap van die kruis in die Bybel vir ons ontsluit om sodoende ons lewens
radikaal te transformeer.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En
wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Galasiërs 2:20

“O, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie
gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder
julle gekruisig?” Galasiërs 3:1

“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here
Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”
Galasiërs 6:14

DAG 11
VERBORGE WYSHEID VIR 'N VERWARDE GENERASIE

Toe Jesus op aarde was het Hy geleef uit die hart van Sy Vader. Hy het Sy antwoorde
by Sy Vader gevind en gespreek uit 'n Bron van wysheid wat nie vir die natuurlike
mens toeganklik is nie (1 Kor. 2:14).
Ons generasie het so baie kennis en amper onbeperkte toegang tot informasie.
"Maar die wysheid—waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?" Job
28:12
Daar is 'n plek van geloof waar die mens sy rug keer op sy eie intellek en slimmigheid
sodat Christus sy Bron van wysheid kan word. Hierdie wysheid lyk anders as die
wêreld se idees en dit opereer net via die kruis.
Dissipels van Jesus in ons generasie het dringend nodig om op te hou drink van die
wêreld se besoedelde fonteine en terug te keer na ons ewige Bron van wysheid in
Christus. Dit verg egter vertroue en kinderlike afhanklikheid. En ook geduldige
geloofsvolharding sodat daardie verborge wysheid tyd het om gevorm te word in ons
harte.
"Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken,
en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona."
Matt. 12:39
"Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is." Kolossense 2:3
"Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek
was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid." 1 Kor. 2:7
"Maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die
wysheid van God." 1 Kor. 1:24

115
DAG 12
VOL KRAG EN PLANNE

Ons generasie se idee van 'n sterk mens is iemand wat vaardig is; skerp, vindingryk,
"positief" en pro-aktief. Dit is iemand wat al die antwoorde het en altyd 'n plan het,
soos 'n MacGyver wat homself uit enige moeilike situasie kan wriemel met net 'n
stukkie tou, 'n sakdoek en 'n paar vuurhoutjies. Die Bybel se idee van 'n sterk mens is
‘n bietjie anders.

As jy reeds aan 'n kruishout vasgenael is, help jou vaardigheid, jou geniale insig en
jou briljante kreatiwiteit nie meer nie. En dit is presies wat die Nuwe Testament leer
oor dissipels van Jesus. Ons is ten volle geïdentifiseer met die kruisdood van Jesus,
tot so 'n mate dat ons natuurlike krag, wysheid, intelligensie en bronne nie eers meer
in die prentjie is nie.

Dít is die groot uitdaging van dissipelskap en die essensie van die geloofslewe. Sal ons
kies om swak en totaal afhanklik te wees sodat Jesus in en deur ons sterk kan wees of
gaan ons aanhou om te leun op die 'arm van die vlees' en dan verwag dat God darem
net so 'n ekstra handjie moet bysit vir die wis en die onwis? Eersgenoemde is volgens
die Bybel die "wandel deur die Gees" en laasgenoemde die "wandel na die vlees".

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in
swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van
Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in
node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek
sterk." 2 Korinthiërs 12:9-10

"Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte."
Efesiërs. 6:10

DAG 13
WANNEER GOD EIS DAT EK ALLE ANDER LIEFDES MOET HAAT

Reeds in die Ou Testament vra God dat die wat sê dat hulle Hom ken se lewens
gekenmerk moet word deur ‘n passievolle, alles-oorheersende liefde vir Hom wat alle
ander liefdes oorskadu. In Deuteronomium 6 vers 5 kry God se mense van ouds die
opdrag jy moet “die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en
met al jou krag.“ Met Jesus se koms na hierdie aarde sê Hy dieselfde ding, maar op
ander, soms verstommende, maniere. Soos byvoorbeeld, “as iemand na My toe kom
en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs
ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:26). Bedoel Jesus
regtig letterlik dat ek diegene wat die naaste aan my is moet haat? Die Bybel is die
beste verklaarder van die Bybel. M.a.w. ons moet dikwels Skrif met Skrif vergelyk
voor ons regtig kan verstaan wat God vir ons in ‘n spesifieke gedeelte wil sê. In
hierdie geval werp Mattheüs 10:37-39 wonderlike lig op die moeilike teks in Lukas 14.
“Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo
My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is
116
My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My
ontwil, sal dit vind.” Jesus maak dit hier duidelik dat selfs ons mees kosbare en
intieme verhoudings op hierdie aarde nooit ons liefde vir Hom mag bedreig en
oorheers nie. As dit gebeur moet ons daardie liefdes haat sodat ons, ons liefde vir
God kan beskerm en die sentrale plek daarvoor in ons harte kan behou. Hy is God,
Hy mag dit eis. Meer nog, Hy moet dit eis, anders is Hy nie God nie, maar net nog ‘n
afgod.

DAG 14
WANNEER 'N DISSIPEL KIES OM SWAK TE WEES
Die gees van die wêreld is self-handhawing , self-vertroue en onafhanklikheid.
Daarteenoor word dissipels van Jesus geroep om te lewe in absolute afhanklikheid
van ons hemelse Vader. Al ons vertroue moet gedurig as't ware weggeskuif word van
die self en op Christus in ons geplaas word. Sonder Jesus kan ons niks doen nie. Die
opstandingskrag wat Hom uit die dode opgewek het, is aan die werk in ons (Efes.
1:19-20).
Ons probleem is egter nie net onkunde oor hierdie geestelike werklikheid nie, maar
ook die geneigdheid in ons almal om weer en weer terug te val op self-vertroue. Hoe
meer ons leer dat swakheid vir 'n dissipel van Jesus nie noodwendig 'n nadeel is nie,
maar 'n geleentheid vir die krag van God om deur ons te werk, hoe meer sal ons die
voetspore van die verrese Jesus in die detail van ons lewens sien. Paulus het dit baie
goed verstaan. Kyk bietjie na hierdie kragtige stelling wat hy maak in 2 Korinthiërs
12.
”Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in
benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:10

DAG 15
DRINGEND GESOEK: IEMAND WAT DIE BELANGE VAN JESUS CHRISTUS OP
DIE HART DRA

“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook
rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. Ek het trouens
niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.
Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.” Filippense
2:19-21 (NAV)

Dit is so hartseer om te lees dat Paulus onder dissipels van Jesus iemand moes soek
wat die Here se belange op die hart gedra het. Wat presies ís die Here se belange?
Die gemeente. Is dit nie kosbaar om te weet dat Jesus werklik besonder besorg is oor
elkeen van Sy dissipels nie? Dit is inderdaad ‘n wonderlike wete wat ‘n mens se
gemoed baie goed doen. Maar die ander kant van die saak is dat Jesus ons bedien en
na ons omsien deur mense. As ons net altyd wag dat ander ons bedien en nie self
begin om Jesus se belange op die hart te dra nie word die las te swaar vir die enkeles
wat wel wegkyk van hulleself en ander bedien.

117
Dan moet daar natuurlik ook ‘n groot kopskuif by ons kom sodat ons kan ophou om
die bediening van mense in die gemeente net te sien as die domein van pastore,
dominees, ouderlinge en mense in “voltydse bediening”. Dit is hoog tyd vir ons almal
om die radikale onderskeid tussen “professionele bediening” en die bediening van
mekaar op grondvlak vir altyd vaarwel toe te roep. Ons het almal verskillende rolle
en funksies en as jy nie begin stap in jou spesifieke en unieke diens aan die liggaam
van Christus nie, ly die hele gemeente. Mag die Gees van God elkeen wat hierdie
dagstukkie lees wakker skud en opwek om die gemeente te begin dien. En dit beteken
maar net om ander mense werklik te begin raaksien, vir hulle te bid en daar te wees
vir hulle met dit wat die Heilige Gees op jou hart lê en waarmee Hy jou toegerus het.
Net so, en op geen ander manier nie kan die gemeente van Jesus versorg en volwasse
word om ‘n kragtige getuienis van andersheid en Goddelike liefde in die wêreld te
bring.

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
Johannes 13:35

DAG 16
MOET HOM NIE VERVANG NIE!

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat
iemand julle leer nie..." 1 Johannes 2:27

"En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander
as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk..." Efesiërs 4:11-12

Elke ware dissipel van Jesus het met wedergeboorte 'n inwonende Leraar, die Heilige
Gees, ontvang. Geen mens op aarde kan, of mag, die intens persoonlike lering van die
Heilige Gees vervang nie. Aan die ander kant het God tog ook menslike leraars gegee
wat saamwerk met die Heilige Gees om die gemeente van Jesus tot volwassenheid te
bring. Daarom moet ons aan die een kant waak dat ons nie die heerlike, persoonlike
bediening van die Gees vervang deur te swaar te leun op menslike leraars nie, en aan
die ander kant dat ons leerbaar bly en nie die gawes wat God vir Sy gemeente gegee
het minag nie. En leraars/bedienaars moet waak dat hulle nie begin dink dat alles in
die gemeente staan en val by hulle persoonlike salwing en bediening nie. Daardie plek
behoort aan die Heilige Gees alleen!

DAG 17
BLY AFHANKLIK VAN DIE HEILIGE GEES
"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek
tot julle spreek, is gees en is lewe." Johannes 6:63
Regdeur die Bybel en die geskiedenis van die kerk sien ons dat die begin van 'n werk
van God in 'n indiwidu of 'n groep mense lewend en kragtig is, omdat die geroepenes
nederig en leerbaar is en totaal afhanklik van God.
Wat egter keer op keer gebeur is dat dieselfde indiwidue of groep mense (of soms die
volgende generasie) wat so kinderlik gehoorsaam was in die begin hulle vertroue
118
begin plaas in ander dinge. Of dit nou is in ons oorwinnings van die verlede, ons
superieure kennis van die Bybel, ons ervaring, ons gawes of die feit dat "God darem
mos Sy seël op ons groep, gemeente of denominasie gesit het"; ons afhanklikheid het
ongemerk geskuif en nou vertrou ons nie meer oomblik vir oomblik op die Heilige
Gees om te werk en dinge te verander soos Hý wil nie.
Dalk was ons intiem betrokke by 'n werk van restourasie, vernuwing en herstel en het
ons eerstehands gesien hoe die Heilige Gees mense roep uit verouderde godsdiens-
sisteme om hulle nuwe impetus, vreugde en hoop in Christus te gee. Maar nou het
óns die status quo geword en inbeweeg onder die waan dat die Heilige Gees
outomaties Sy goedkeuring gaan skenk aan alles wat ons doen. Ons het die
"belangrike mense" geword wat die mag in óns hande het. Ons het begin glo dat as
God iets gaan doen in die wêreld Hy dit altyd deur ons sal doen, nie deur ander
mense of groepe nie.
"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet
nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek
raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk
word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie
openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Openbaring 3:17-18
Tyd dan om nederig te raak en te bely dat ons die Gees begin ignoreer het en die pad
van onafhanklikheid begin stap het. Dit is vir seker nie maklik om daar om te draai
nie, maar die pad van herstel onder leiding van die Gees is 'n wonderlike en geseënde
pad. Mag God ons almal die nederigheid én die moed gee om te erken as ons nie meer
in werklikheid wandel in die wysheid en krag van die Heilige Gees nie.

DAG 18
HOE WANDEL EK DEUR DIE GEES?
“Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees
volbring nie.” Gal. 5:16
“ Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol.
3:3
Die groot fout wat ons maak as dissipels van Jesus is om te dink ons moet eers hierdie
Gees dimensie binnegaan voordat ons kan wandel deur die Gees.  Daarom voel ‘n
konstante wandel deur die Gees vir baie so onbereikbaar en so ver verwyderd van
hulle daaglikse lewe hier op “terra firma”.  Die waarheid is dat alle wedergebore
mense reeds gesterf en opgestaan het saam met Christus en daarom is hulle lewe nou
“saam met Christus verborge in God”.  Dit is dus nie ‘n dimensie wat ons moet
binnegaan of ‘n mylpaal wat ons moet bereik nie, maar ‘n dimensie waaruit ons moet
leer leef in geloof.  Christus leef hier en nou binne-in ons en ons moet dit glo en Hom
sodoende ruimte gee om Sy lewe deur ons te leef.  

DAG 19

119
DIE VADER SE PLAN WERK DEUR GELOOF
“Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as
Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal
Ek Hom na julle stuur.” Johannes 16:7
Terwyl Jesus op aarde was, moes mense fisies by Hom wees om Sy heerlikheid te
sien.  Die skares kon net van ‘n afstand Sy werke, woorde en teenwoordigheid in hulle
midde aanskou en waardeer.  Al het Hy tog ook baie mense aangeraak, genees en
verlos in die tyd van Sy bediening op aarde was Hy beperk tot een liggaam.  Vandag
leef ons egter in die era van die Gees (2 Kor. 3:8) en kan elkeen wat wil onmiddellike
toegang kry tot die heerlikheid van Jesus.  Elke dissipel van Jesus het die Gees van
Christus in hulle en daarom is daar geen afstand of verwydering tussen ons en Jesus
nie.  Dit is egter ‘n waarheid waarvan ons net in geloof voordeel kan trek.  Die Gees is
uitgestort, die afstand is oorbrug, die Seun is teenwoordig, die lewe is nou in jou!  Dit
is net met die geloofsoog wat die werklikheid daarvan vir jou tasbaar word.  Terwyl jy
nog steun op jou eie menslike pogings om jou verhouding met God te verbeter, staan
jy in die pad van die openbaring van Christus in jou.  Terwyl jy nog vertroue het in jou
eie wilskrag (gewilligheid is iets anders) om lojaliteit aan Jesus te verseker, misken jy
die krag van jou eenheid met Christus in die era van die Gees.  Die Vader se plan werk
net deur geloof.

DAG 20
DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL I

Dit is verstommend om te sien hoe absoluut afhanklik van die werking en bediening
van die Heilige Gees die eerste gemeentes geleef het. 'n Baie eenvoudige studie van
Handelinge maak dit glashelder duidelik.
Met die intrapslag wys Lukas ons dadelik daarop dat selfs Jesus deur die Gees bevele
aan die apostels gegee het.
"Tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies
het, deur die Heilige Gees bevele gegee het." Handelinge 1:2
Jesus beklemtoon weereens dat geen ware bediening moontlik is sonder die doping
met die Gees en die aandoening met krag van Bo nie.
"Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees
gedoop word nie lank ná hierdie dae nie." Hand. 1:5
"Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my
getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die
uiterste van die aarde. Hand. 1:8
Dit is een honderd persent in lyn met dit wat Jesus die dissipels geleer het voor Sy
kruisiging.
"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5
120
As ons dus bely dat ons niks kan doen sonder Jesus nie moet ons daarmee saam bely
dat ons gevolglik totaal afhanklik is van die baie persoonlike en spesifieke bediening
van die Heilige Gees. Die evangelie van Johannes en die boek Handelinge moet saam
gelees word om die volle prentjie te kry.
Geen gemeente kan sê dat hulle in eenheid met Jesus leef en werk terwyl hulle die
bediening van die Heilige Gees ignoreer of in enige opsig minag nie.

DAG 21
DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL II
Op die dag van die pinksterfees, wat deur die Jode gevier is vyftig dae na die Pasga
(Lev. 23:15-16), gebeur dit wat Jesus in Handelinge 1 verse 5 en 8 aan die apostels
belowe het.
"En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig
bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige
rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge
gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle
is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees
aan hulle gegee het om uit te spreek." Hand. 2:1-4
Ons sien hier dat hierdie eerste uitstorting van die Heilige Gees 'n besonderse en
fenomenale gebeurtenis is wat onmiskenbaar en onaanvegbaar die bonatuurlike
aktiwiteit van God demonstreer. Almal kon getuig dat hier iets bonatuurlik gebeur
het. Die gebeurtenis was histories uniek, maar dit beteken nie God kan nie steeds so
werk vandag byvoorbeeld in tye van herlewing nie.
"En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle
seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou
mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié
dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer." Hand. 2:17-18
Petrus verduidelik aan die skare dat dit wat hulle hier sien die letterlike vervulling is
van 'n antieke profesie van Joël (2:28-29).
"Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte
van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor."
Hand. 2:33
Die uitstorting van die Heilige Gees is die direkte gevolg van die afgehandelde en
volbragte verlossingswerk van Jesus Christus.
"En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die
Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die
Heilige Gees ontvang." Hand. 2:38
Een ding is duidelik in hierdie vers en dit is dat bekering, waterdoop en die gawe van
die Heilige Gees saamloop en dat ons baie versigtig moet wees om hulle te radikaal
van mekaar te skei. Sekerlik kan ons hulle onderskei, maar nie absoluut skei van

121
mekaar nie. Dit is in 'n sin een volledige verlossingsaksie van God en die gevolg
daarvan is mees konsekwent die gawe van profesie, wat ten minste insluit om
spontaan en blymoedig deur die direkte werking van die Gees in die menslike hart te
getuig van Jesus en sy verlossingswerk (Hand. 1:8 en 2:18; Openb. 19:10).

DAG 22
DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL III
Ons sien verder in Handelinge dat die gemeente baie pertinent die waarneembare
vervulling met die Heilige Gees beskou het as díe voorvereiste vir bediening.

"Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en
ouderlinge van Israel.." Handelinge 4:8

Petrus het nie probeer om die owerstes van Israel uit sy eie intellek en natuurlike
vermoëns te weerlê nie. Hy het geweet dat hy sonder die vervulling met die Heilige
Gees (oomblik-vir-oomblik afhanklikheid) nie 'n kragtige evangelie getuienis sou kon
gee nie. Weet ons dit?

"En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal
vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid
gespreek." Handelinge 4:31

Dit is van kardinale belang om raak te sien dat die gemeentes in Handelinge nie die
uitstorting van die Heilige Gees op die dag van Pinkster gerelegeer het tot 'n
historiese gebeurtenis in die verlede wat geen verdere relevansie het vir die praktiese
lewe van die gemeente nie. So dikwels is die uitstorting van die Heilige Gees vir ons
net 'n historiese leerstelling wat ons met 'n knik van die kop erken of 'n belydenis wat
ons meganies resiteer.

Instede daarvan moet ons dit sien as die dinamiese ontsluiting van die sluise van die
hemel wat vir ons toegang gee om keer op keer vir God te vra (sien verse 29 en 30)
om ons weer te bekragtig met dit wat Hy reeds onomwonde bewys het as Sy wil vir
ons op aarde in hierdie bestel, nl. die volheid van die Gees.

"Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die
Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel." Handelinge
6:3

Let op dat die vereiste was dat hierdie manne "vol van die Heilige Gees" moes wees.

"En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n
man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en
Timon en Pármenas en Nikoláüs, ‘n Jodegenoot uit Antiochíë." Handelinge 6:5

DAG 23
DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL IV

122
In die volgende gedeeltes in Handelinge sien ons hoe afhanklik die apostels en die
gemeentes was van die Heilige Gees en hoe hulle in onmiddellike gehoorsaamheid
aan Hom gewandel het.
Hulle het verstaan dat Jesus as Hoof van Sy liggaam Sy gemeentes bestuur deur die
Gees. Dit was dus asof Jesus deur die Gees steeds fisies by hulle was soos in Sy dae
op aarde. Verstaan ons dit en leef en werk ons so?
"Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan
nie." Handelinge 6:10
Stefanus het nie op sy eie wysheid staat gemaak nie, maar op die krag en wysheid van
die Gees.
"En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne
wat jou soek." Handelinge 10:19
Petrus het die stem van die Gees geken en gehoorsaam.
"En een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees
te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook
gekom het onder keiser Claudius." Handelinge 11:28
Let op dat die profete "deur die Heilige Gees" geprofeteer het in absolute
afhanklikheid, nie in verwaandheid of arrogansie nie.
"En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê:
Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep
het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul
gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en
daarvandaan weggevaar na Ciprus." Handelinge 13:2-4
Die eerste sending na die heidene is van stapel gestuur deur die Heilige Gees, nie
deur menslike raad of besluitneming nie. Die gemeente was besig om "die Here te
dien en te vas" en in daardie omstandighede en atmosfeer het die Heilige Gees
gespreek.
"En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle
verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Mísië kom, het
hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie."
Handelinge 16:6-7
Selfs al is hulle uitgestuur deur die Heilige Gees het die apostels ook op hulle reise
oomblik-vir-oomblik ag geslaan op die leiding van die Heilige Gees. Hulle het vertrou
op die onmiddellike werking van die almagtige, alwetende en alomteenwoordige God,
nie op "die arm van die vlees" nie.

DAG 24
ALBEI OË OP DIE WARE KONING

Terwyl die "nasies woel en nietige dinge bedink" (Ps. 2:1) is God besig om Sy
123
ewigheidsplan deur twee "onbelangrike" Joodse vrouens tot uitvoer te bring. Die
magtiges van die land hou samesprekings en neem groot besluite. Intussen gaan God
se plan onverpoosd voort en werk Hy deur die nederiges op maniere wat geen mens
kan uitdink nie.

"Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die
bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir
Elisabet gegroet." Lukas 1:39-40

In die gesprek (profesie) tussen Elisabet en Maria maak Maria die volgende stelling:

"Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52

God se weë is anders as mense s'n en Maria, wat die Messias (die volledige Plan van
God) in haar dra, gee 'n absoluut fantastiese uiteensetting van hierdie anderste weë
van God in die lig van die komende geboorte van die Messias. Lees haar volledige
uitspraak in Lukas 1 verse 46 tot 55 en ook Psalm 2 vir agtergrond. Alhoewel die
politiese bestel van nasies steeds voortgaan op die beginsel van die magtiges en
invloedrykes weet ons as dissipels van Jesus dat Hy reeds deur God gesalf is as
Koning. Spoedig kom Hy terug na hierdie aarde en dan is dit die nederiges wat
verhoog gaan word en die hoogmoediges wat verneder gaan word. Kom ons hou ons
oë op die ware Koning.

"Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge
aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou
sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie; maar ons sien Hom,
naamlik Jesus..." Hebreërs 2:8-9a

DAG 25
DIE KONINKRYK HET ALLES TE DOEN MET WIE JESUS IS
Jesus is die essensie van die koninkryk van God en Hy ís die geregtigheid van die
koninkryk.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal
vir julle bygevoeg word.” Matt. 6:33
Om eers die koninkryk te soek, is nie kompleks nie.  Dit beteken eenvoudig om te sien
dat alles op aarde in Jesus “stand hou” (Kol. 1:17) en om dan seker te maak dat Hy
werklik in alles nommer een is in jou hart.  Is jou verhouding met Jesus die kern van
jou lewe?  Ons prioriteite raak so maklik deurmekaar en dan soek ons eers “al die
dinge” en hoop maar die koninkryk word bygevoeg.  Jesus verwag van sy dissipels om
anders te dink en te prioritiseer as die wêreld en om te glo dat die detail van ons
daaglikse lewens gevolglik deur die Vader georden sal word.
“En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” Kol. 1:17

124
Vroeër in die bergpredikasie leer Jesus sy dissipels om die Vader se naam, koninkryk
en wil eerste te stel in al hulle gebede (Mt. 6:9-10).  In die bekende vers 33 wat ons
hierbo aanhaal, beklemtoon Hy weereens dat ons prioriteite radikaal aangepas moet
word om in lyn te kom met die Een wat aan die hoof staan van die heelal en alles in Sy
ewige hande hou.  Die interessante is dat selfs “die koninkryk van God en sy
geregtigheid” nie onafhanklik van wie Jesus is, gesoek kan word nie.  Dit het álles te
doen met wie Hy is! 

DAG 26
DIE KONINKRYK VAN GOD WORD NIE GEBOU DEUR SLIMMES EN STERKES
NIE

Hoekom het Jesus nie net Sy visier gestel op die slimmes en sterkes (finansieël,
polities, ens.), hulle vinnig bymekaar gebring met briljante strategie en van daar af
die invloed van Sy koninkryk uitgebou nie? Sou die gesiene mense in die samelewing
nie baie meer effektief gewees het as die spulletjie wat Hy as dissipels geroep het nie?
God dink anders as ons en Hy werk op ander maniere.

“Maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat
swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel
is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is,
tot niet te maak.” 1 Korinthiërs 1:27-28

Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons, hetsy slim, sterk of nie een van die twee
nie; absoluut niks in die koninkryk kan uitrig sonder Sy wysheid en krag nie (Joh.
15:5). In Johannes 6 vers 63 neem Hy alle grond vir enige vertroue op natuurlike
vermoëns geheel en al onder ons voete uit met die volgende stelling:

“Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie…”

Miskien ís jy slim of sterk, of albei, en jy wil graag jou deel doen vir die uitbreiding
van God se koninkryk. Hoe nou gemaak? Roep alle vertroue in jou eie kennis,
wysheid, krag en posisie vaarwel toe en vertrou ten volle op die krag van Jesus deur
die Gees. Slegs dan kan jy begin om werk te doen in die koninkryk wat
ewigheidswaarde het. Daar is ‘n reuse klomp aktiwiteite en projekte in gemeentes
wat gebore is uit mense se vaardigheid en bekwaamheid en wat net mooi niks te doen
het met die inspirasie en krag van die Heilige Gees nie. Dit is uit God se perspektief
“hout, hooi en stoppels” (1 Kor. 3:12).

DAG 27
MÝ NAAM, MÝ KONINKRYK, MÝ WIL
‘n Christenskap wat my naam, my koninkryk en my wil onaangeraak los terwyl ek
Jesus se naam baie vroom en godsdienstig bely is ‘n vals en dodelik misleidende
Christenskap. Jesus is nie die Verlosser vir sommige dissipels en die Here vir ander
nie. Hy is altyd beide Verlosser én Here. Om Hom dus op ‘n Sondag te bely as
Koning en op ‘n Maandag my eie naam en eer te bevorder, my eie koninkryk te
125
probeer uitbrei en my eie wil na te jaag, is die hoogtepunt van huigelary. Of nog
erger, om dit op ‘n Sondag te doen wanneer ons eiesinnig poog om ons eie bedieninge
en gemeentes te bou met die doel om óns naam en koninkryk te bevorder!
Die inhoud van ons gebede is gewoonlik ‘n onfeilbare toets van hoe ons dink oor
God, die gemeente, die koninkryk en ons lewens op aarde. Hoe en waarvoor bid jy
gewoonlik? Jesus leer Sy dissipels om te bid “onse Vader wat in die hemele is, laat U
Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied…” (Matt. 6:9-10).
Daarmee stel Hy dit eens en vir altyd onomwonde en onaanvegbaar dat daar vir
outentieke dissipels van Hom net een agenda op hierdie aarde kán wees en dit is om
die Vader se naam, koninkryk en wil in alles te bevorder. Al kry ons dit nie altyd reg
nie bly dit die groot begeerte in die hart van elke ware dissipel van Jesus.

DAG 28
ONS IS VRY, MAAR DIE AARDE IS STEEDS ONDER OORDEEL
Baie misverstande en verwarring ontstaan omdat ons nie hierdie belangrike Bybelse
waarheid reg verstaan nie. As jy opgewonde raak wanneer jy hoor van die wonderlike
vryspraak en lewe in die evangelie, maar verward raak wanneer jy hoor dat die aarde
onder oordeel is, beteken dit jy het nog nie lank genoeg stil gestaan by dit wat die
Bybel leer oor hierdie saak nie. Jesus en die apostels het albei waarhede met
dieselfde onwrikbare oortuiging verkondig.
"Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter
wille van hom wat dit onderwerp het." Romeine 8:20
Ons liggame is ook nog in 'n sin verbind met hierdie gevalle skepping. Daarom sê
Paulus dat dissipels van Jesus "verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te
word".
"Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van
God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede
sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word." 2
Korinthiërs 5:1-2
Die verwarring ontstaan omdat ons begin dink dat ons vryheid in hierdie wêreld is,
maar die Bybel leer konsekwent dat ons "vreemdelinge en bywoners" op aarde is en
dat ons die wêreld moet verloën. Jou vryheid gaan nie ingeperk word as jy dit glo nie,
dit gaan eerder bevestig en vergroot word in jou binneste.

DAG 29

VEG OP DIE REGTE FRONT

Na die sondeval het die satan begin heers in die gevalle harte van mense en die tekens
daarvan is ooglopend regdeur die geskiedenis. Die boosheid, moord en doodslag wat
gevolg het op die sondeval is skrikwekkend. Die hele menslike verhaal nadat Adam

126
eet van die verbode vrug word primêr geskryf deur die heerskappy wat mense oor
mekaar probeer kry.

Christus het na hierdie aarde gekom om die heerskappy van God te vestig en ons te
verlos van die boosheid van ons eie harte. In Christus het ons 'n koningskap ontvang,
maar nie 'n koningskap oor ander mense nie.

”En ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die
heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." Openbaring 1:6

Ons word geroep om te heers oor die gevallenheid in ons harte. Ons word geroep om
die kwaad te oorwin deur die goeie.

"Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie."
Rom. 12:21

Ons word geroep om ons eie "vlees" te oorwin.

"Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die
vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees;
en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie." Gal. 5:16-
17

"Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys
van God is." Openbaring 2:7

Ons moet dringend leer om te veg aan die regte front. Ons geveg is nie in die wêreld
met ander mense nie. Die groot geveg is binne in ons eie harte! In Christus kan ons
oorwin.

DAG 30
VREEMDELINGE MET 'N VERSKIL
Met die vleeswording van Jesus 2 000 jaar gelede het die koninkryk van God kragtig
in ons tyd en ruimte 'n verskyning gemaak en van daardie tyd af gaan die oproep uit
na alle mense om hulle te bekeer en die goeie nuus van verlossing persoonlik toe te
eien. Die boodskap was nooit bedoel om net 'n kaartjie hemel toe te wees wat ek
eenmalig ontvang en daarna gaan ek aan met 'n onverloste lewe nie. Ons is nie net
gered om hemel toe te gaan nie, maar om in die hier-en-nou van ons lewens die
heerlikhede van die hemel te begin beleef. As dissipels van Jesus is ons lewens ook
bedoel om 'n vertoonvenster te wees van die onsigbare werklikheid van die hemel.
"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word
nie." Mattheüs 5:14
Aan die ander kant maak die Nuwe Testament dit ook baie duidelik dat ons nie moet
leef vír die tydelike nie, maar juis vanuit ons hoop op 'n nuwe hemel en aarde heilig
moet leef ín die tydelike. In die boek Handelinge sien ons verstommende
127
wonderwerke en deurbrake in die hier-en-nou, maar dit het nooit die apostels se
boodskap verander nie, dat ons uitgered word uit die teenwoordige bose wêreld (Gal.
1:4) om voorberei te word vir 'n nuwe hemel en aarde. Ons belewenis van die "kragte
van die toekomstige wêreld" (Heb 6:5) is nie bedoel om ons so gemaklik te maak op
hierdie aarde dat ons, ons sig op die nuwe hemel en aarde verloor nie. Maar ons
moet ook nie so gefokus wees op die ewigheid dat ons die kragtige werkinge van die
Heilige Gees in ons hede misken, of selfs ontken, nie. Ja, ons bly " bywoners en
vreemdelinge" (1 Pet. 2:11) op hierdie aarde, maar vreemdelinge met 'n verskil. Ons is
mense wat kan getuig van 'n verlossing van ons ou sondige lewe en ook van 'n God
wat teenwoordig is by ons en in ons in die hier-en-nou van ons lewens.

DAG 31
VERLOSSING, BEVRYDING EN OORWINNING: DIE DRIE FASES VAN GOD SE
MEESTERPLAN
In 'n breë sin kan 'n mens sê God het ons verlos sodat Hy ons kan bevry om ons dan
oorwinning te gee in verskillende situasies en omstandighede "tot lof van die
heerlikheid van sy genade" (Efes. 1:6a).
Streng gesproke vind verlossing en bevryding terselfdertyd plaas, met ons
wedergeboorte, maar ek wil graag die term bevryding spesifiek gebruik om ons
aandag te fokus op ons bevryding van die wêreld (Egipte) en die vlees. As ons kyk na
Israel se reis van Egipte tot in Kanaän as 'n voorbeeld van God se verlossingsplan vir
al sy mense (1 Kor. 10:1-13; Heb. 3:5-4:13) sien ons dat die eerste fase van God se plan
was om Israel te verlos uit Egipte. Die tweede fase van Sy plan was om Egipte uit die
Israeliete se harte te kry, m.a.w. bevryding ván Egipte. En die derde fase van Sy plan
was om die Israeliete in te neem in Kanaän sodat hulle daar die ander nasies kon
oorwin om sodoende hulle erfenis in besit te neem.
In die eerste fase, die trek uit Egipte, deur die Rooi See en tot in die woestyn, is ons
veronderstel om ons identifikasie en eenheid met Christus te verstaan. Ons verlossing
en geregtigheid is net in Hom. In die tweede fase, ín die woestyn, word ons getoets en
as ons in geloof volhard word ons proefondervindelik bevry van die wêreld en die
vlees. In hierdie fase word Christus in ons gevorm (Gal. 4:19). In die derde fase, oor
die Jordaan en die inneem van Kanaän, wil Christus deur ons oorwinning op
oorwinning vir ons skenk oor allerhande praktiese situasies in ons daaglikse lewens.
Hierdie oorwinnings het primêr te doen met ons missie in die wêreld, dw.s. om
dissipels te maak van die nasies (Matt. 28:18-20).

Van die hele generasie wat uitgetrek het uit Egipte het net Josua en Kaleb die
beloofde land binnegegaan. Dit is veronderstel om ons aandag te gryp en te hou sodat
ons wakker kan skrik en kan besef dat presies dieselfde met ons kan gebeur as ons nie
volhardende geloof het soos Josua en Kaleb gehad het nie. Laat my asseblief toe om
weer jou aandag te vestig op die twee gedeeltes in die Nuwe Testament (1 Kor. 10:1-
13; Heb. 3:5-4:13) waar ons gewaarsku word om nie in ons geloof en volharding te
faal soos daardie generasie gefaal het nie.

Waar staan ons met gemeentelewe vandag in ons generasie? Verstaan ons werklik
128
ons identifikasie en eenheid met Christus? Word ons addisioneel deur predikante en
leraars opgeroep om die toetse van heiligmaking in die woestyn in geloof deur te kom
sodat ons voorberei kan wees vir oorwinning in Kanaän. En laastens, probeer ons net
oorleef vir "ons vier en ons dier" in die woestyn van hierdie wêreld of het ons aandag
al geskuif buite onsself na die verlore mensdom en die werk van die koninkryk van
God in en vir ons generasie?

Oordeel self. Waar staan ek en jy en waar staan ons gemeentes? Hierdie is nie
ligtelike sake nie, maar die dodelike erns van die Bybelse boodskap oor die verlossing
of ondergang van hele generasies van mense op ons planeet.

AUGUSTUS: DIE GEMEENTE IN CHRISTUS

DAG 1
‘N PERFEKTE GEMEENTE OF ‘N CHRISTUS-GEVULDE GEMEENTE?
“Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul
met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy
Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith,
slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” Kolossense 3:9-11

Daar is ‘n gesegde wat lui: “As jy die perfekte gemeente vind, moenie daar aansluit
nie, want dan is dit nie meer perfek nie”. Die punt wat die gesegde probeer oordra is
sekerlik geldig, maar as dit as verskoning gebruik word om kompromie, sonde en
wêreldsheid te verskoon, is dit ‘n gruwel in die oë van die Here.

Dit is relatief raar vandag (‘n amper totale gebrek aan onderskeiding is baie meer
algemeen), maar mens kry steeds die oor-kritiese persone wat selfs met die suiwerste
gemeente op aarde fout sal vind. Hulle het nodig om bogenoemde gesegde dringend
ter harte te neem. Die oorgrote meerderheid van mense wat hulleself beskou as
“Christene” vandag het egter nodig om te verstaan dat God die Vader m.b.t.
gemeentelewe primêr besorg is oor ‘n rein en suiwer fokus op Jesus. Jesus is die
Here van die gemeente en Hy begeer om in alles sentraal te staan en elke lid van sy
Liggaam te vul met sý wysheid, krag, geregtigheid, heiligheid, lewe en liefde. As jy ‘n
gemeente soek, maak seker dat jy een vind waar Jesus absoluut sentraal staan en sy
Kruis, sy Opstanding, sy Persoon, sy Gees en sy Woord deurdringend kan werk in
elke lid, juis omdat Hy in elke aktiwiteit en in alle voornemens die eerste plek kry. In
werklikheid kan ons níks sonder Hom doen nie (Joh. 15:5).

DAG 2
GOD SE RADIKALE PLAN VIR GEMEENTELEWE
Die briewe van die Nuwe Testament is hoofsaaklik geskryf aan gewone lidmate, nie
leiers per se nie. Nuwe-Testamentiese leierskap is radikaal Christus-gesentreerd en
ten volle lidmaat-gerig (Matt 23:8-12). Dit is daarop gerig om konstant en
129
aanhoudend gelowiges vas te maak aan Christus as hul Hoofleier en om elkeen in die
gemeente toe te rus om dissipelmakers te wees. Dit is tyd vir ons om op te hou om
bloot te praat van die priesterskap van alle gelowiges en om dit werklik te begin
toepas in ons gemeentelewe.
Dit verg natuurlik in baie gevalle’n groot paradigmaskuif in die konteks van ons
huidige gemeentepraktyke, maar dit is van kardinale belang vir die uitvoering van
God se plan vir Sy Gemeente. God se plan is eenvoudig en bedoel om deurdringend te
wees: Élke lid van die liggaam toegerus, élke lid in die Woord, élke lid radikaal
Christusgesentreerd en geaktiveer deur die evangelie en élke lid ’n dissipelmaker.
Totdat ons hierdie spesifieke doelwit het, mis ons die merk heeltemal en mors
kosbare tyd, selfs met al ons kerkprogramme, vergaderings, komitees,
opleidingskursusse en dies meer.

DAG 3
DIE KRUIS, DIE KERK EN DIE KONINKRYK
Sonder die kruis is die kerk (gemeente) nie meer die kerk nie en sonder die ware kerk
kan die koninkryk van God nie floreer nie. In 'n sin gaan die hele Nuwe Testament
oor hierdie drie dinge. Die kerk bestaan net op opstandingsgrond en niemand kan op
daardie grond kom staan wat nie eers die sterwe saam met Christus in geloof omhels
het nie. God bou nie Sy gemeente met die "ou mens" (ou skepping) nie, maar met die
nuwe skepping.
"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het
verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Kor. 5:17

Dit is heeltemal reg om te sê die tema van die hele Bybel is die koninkryk van God,
maar hoe funksioneer daardie koninkryk op aarde? Eers die kruis, dan die kerk, dan
die koninkryk. Geen kruis, geen kerk en geen kerk, geen koninkryk. Die kerk bestaan
nie vir haarself nie, maar vir die uitbreiding van die koninkryk van God.

Die kruis, net die kruis, sny alle ander lojaliteite af en wen ons harte om aan Jesus
alleen te behoort. Hierdie toewyding aan Jesus vorm die kerk. Dit is inderdaad die
essensie van die kerk (Openb. 2:4-5). As ons terugkeer na die volle verkondiging van
die kruis sal die essensie van die kerk herleef en so sal die koninkryk van God op
aarde sigbaar word. Lees Mattheüs 16:15-28 en kyk bietjie hoe Jesus hierdie
boodskap helder en duidelik aan Sy dissipels oordra.

DAG 4
AL DIE PLUSSE WAT WARE EENHEID EN VERHOUDING VERWOES
Dit is al die plusse wat ons by Jesus voeg wat eindelose probleme veroorsaak.  In
plaas van om eksklusief te ywer vir die evangelie, die Persoon en Werk van Jesus,
ywer ons soms vir soveel ander dinge ook.  Dit is nie moeilik om te toets in praktiese
130
situasies nie.  Dissipels wat ‘n suiwer fokus op Jesus en ‘n onverdeelde lojaliteit aan
Hom alleen koester, geniet die ware en universele gemeenskap van die Liggaam van
Christus en kan dan rustig gesels oor verskillende goed in die Bybel waaroor hule mag
verskil.  Wanneer daar egter ‘n Jesus plus fokus by een of albei dissipels is, vind ons
omtrent nooit mekaar se harte nie. 
“Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons
een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Johannes 17:21
Jesus was die enigste soenoffer wat kon betaal vir ons sondes om ons verhouding met
God te herstel.  Ons het gesterf saam met Hom.  Ons is begrawe saam met Hom.  Ons
het opgestaan saam met Hom. Ons het opgevaar saam met Hom.  Ons sit in hemelse
plekke saam met Hom.  Hy leef nou in ons as ons wysheid, geregtigheid, vrede, hoop
en daaglikse krag.  Hy is die Een wat ons doop met die Heilige Gees en Hy is die Een
wat die Vader vir ons openbaar.  “Ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy
bene” (Efes. 5:30).  Hy is ook ons Bruidegom wat weer kom. 
Kortliks, Hy is ons alles.  Hy is waarlik ons lewe en bedoel om die middelpunt van al
ons gesprekke te wees.  Ons toewyding en onverdeelde lojaliteit aan Hom gee vir ons
onmiddellike toegang tot die hart van elke ander dissipel op aarde wat ook hierdie
lojaliteit aan Jesus alleen koester en daarom Sy Woord liefhet en bewaar.  Ongeag
kultuur, ras, kleur, geslag, nasionaliteit; dit is ons onverdeelde lojaliteit aan Hom wat
ons harte verbind!  Ons kan verskil oor nie-essensiële dinge in die Bybel, maar as ons
lojaliteit en fokus suiwer is, gaan ons by mekaar se harte uitkom.  Waarvoor ywer ons
werklik?  Is ons fokus suiwer?  Is die leringe waaraan ons vashou en waarvoor ons
ywer ‘n resultaat van ons fokus op Jesus alleen of is dit die vrug van ons eie
intellektuele of emosionele voorkeure en afkeure of dalk tradisie en groepsdruk in ons
gemeente of denominasie? 
Laat die Heilige Gees toe om jou hart te ondersoek en wees braaf genoeg om die
plusse te laat gaan wat dalk subtiel ingesluip het in jou hart.  As dit van die Here was
sal Hy dit wel weer onder jou aandag bring.  Maar hierdie keer vanuit ‘n suiwer Jesus
fokus en vir die regte redes.

DAG 5
"KENTUCKY FRIED CHURCH"

"Ons hoender is uniek. Niemand sal ooit beter hoender kan maak as ons Kolonel
Sanders nie. Nando's sal nooit regtig met ons kan vergelyk nie."

Mensekinders is tog so lief vir 'franchising' en 'branding'. Ons wil ons eie unieke merk
op iets plaas om dit, en ons, te onderskei van ander. Om “in Christus” te wees en op
sy Woord te staan is klaarblyklik nie genoeg nie. Ons wil deel wees van iets groot, iets
anders.   En as die denominasie 'franchise' nie meer vir ons werk nie dan soek ons,
ons eie Protestantse Pous om ons te lei en vir ons 'n wonderlike netwerk van
multilokale gemeentes (multisite churches) op die been te bring. Die Gemeente van
Jesus Christus is nie ‘n kettingwinkel nie! Gemeenteleiers is ook nie Hoof
Uitvoerende Beamptes nie.

131
"Ons apostel sal ons deur die drif trek." "Ons profeet of senior pastoor sal ons regdeur
neem tot in Kanaän." Heeltemal reg, Hy sal. Mits sy naam Jesus is. Paulus het dit
verstaan:

“Hom verkondig ons....” Kolossense 1:28

“Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here…” 2 Kor. 4:5

As jy "in Christus" is, ís jy deel van iets groot. Daar is niks groter nie. Al lyk dit op
aarde klein en obskuur. Is jy bereid om Jesus alleen te volg saam met ander dissipels
wat net in Sý naam roem?

“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle.” 1 Kor. 3:21

Of dring jy aan daarop om geassosieer te word met 'n bekende 'brand'


(handelsmerk…ironies)? Sommige gaan eendag tot hulle skok ontdek dat hulle die
'franchise' en 'Kolonel Sanders' gevolg het en nie vir Jesus nie.

Terloops, daar is niks verkeerd daarmee om begaafde predikers en leraars in 'n


gemeente te hê nie. Maak net seker dat jou fokus op Jesus is en dat jy kan onderskei
wanneer die predikers en leraars begin om te “brand” en te “franchise”. 

* Verskoon asseblief die gebruik van die Engelse terme in hierdie stukkie. Daar is nie
Afrikaanse woorde wat dieselfde idees tuisbring nie.

DAG 6
KERK DISSIPEL OF JESUS DISSIPEL?

“En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle
waarlik my dissipels.” Johannes 8:31 (OAV)

“Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is
julle waarlik my dissipels.” Johannes 8:31 (NAV)

Jesus maak dit baie duidelik in hierdie vers dat sý dissipels ‘n direkte verhouding het
met sy Woord. So vroeg soos die Roomse institusionalisering van die kerk het die
kerk dissipel al grootskaals begin toeneem en die Jesus dissipel het so skaars soos
hoendertande geword.

‘n Kerk dissipel is eenvoudig iemand wat Sondag vir Sondag na preke kan luister en
sy gewete daarmee sus dat hy nie nodig het om self die Bybel te lees, bestudeer en
gehoorsaam nie. Sy verwantskap met die kerk gee vir hom die idee dat hy self
outomaties ook ‘n intieme verwantskap met Jesus het sonder ‘n persoonlike liefde en
waardering vir die Woord van Christus. Dit is ‘n baie ernstige, maar ongelukkig ook
‘n baie algemene misleiding.

Oor die hele spektrum van jarelange getroue lidmate van gemeentes tot die groeiende
getal belydende Christene wat glad nie betrokke is by enige plaaslike gemeente nie is
daar ‘n kultuur van kerk dissipelskap wat persoonlike verhouding met Jesus deur

132
middel van ‘n diepgaande omgang met sy Woord opsioneel maak. So asof ek via ‘n
pastoor of dominee se geloof en Bybelstudie (of die televisie predikers s’n) ‘n tipe van
geestelike osmose met die Bybel kan beleef wat my eie verhouding met die Woord van
Christus geheel en al oorbodig maak.

Ek wil jou dan reguit vra: Is jy ‘n kerk dissipel of ‘n Jesus dissipel? Miskien is jy al vir
dekades lank ‘n kerk dissipel. God nooi selfs vir jou vandag uit om ‘n Jesus dissipel te
word. Moet asseblief nie ‘n self-verdedigende houding inneem t.o.v. my vraag aan jou
nie. Kies die pad van nederige erkenning. Dit is so verfrissend en vervullend om te
beleef hoe die Heilige Gees ‘n mens leer uit die Bybel wanneer jy self erns begin maak
met die Skrifte en dit ís God se uitgesproke en neergepende wil ook vir jou.

Jou daaglikse omgang met die Woord in kinderlike afhanklikheid sal jou vinniger by
geestelike volwassenheid bring as dekades se tweedehandse kontak met Goddelike
openbaring. So sal jy ook dan vind dat jou waardering van die lering wat jy in die
gemeente ontvang vir jou baie meer betekenisvol en vervullend raak. Mits dit
Skrifgetroue en Christus-gesentreerde lering is. Slegs d.m.v. jou nuutgevonde
persoonlike avontuur in die Woord sal jy dit ook met tyd kan begin onderskei. Anders
bly jy maar ‘n slaaf van wat ookal vir jou opgedis word as geestelike voedsel en as jou
gemeente of denominasie ernstig begin dwaal is jy en jou gesin in die middel van die
spervuur sonder die vermoë om die geestelike verwoesting wat onvermydelik gaan
volg, mis te loop.

DAG 7
MAAK DISSIPELS OF MAAK 'N NAAM
Daar is eintlik net twee soorte gemeentes. Die wat 'n naam probeer maak vir hulleself
en die wat dissipels maak van mense.

Vir die eersgenoemde gemeente gaan dit oor getalle, geld en geboue en hulle meet
suskes aan die hoeveelheid mense wat hulle in 'n gebou kan bymekaar bring op 'n
Sondag.

"En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan
die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak..." Genesis 11:4

Vir die laasgenoemde gemeente gaan dit oor die geestelike groei van die individu, die
opbou van die Liggaam van Christus en die gevolglike getuienis aan die wêreld
wanneer Jesus sigbaar word deur volwasse dissipels in eenheid.

"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek
julle beveel het." Mattheüs 28:19

Dan is daar natuurlik die geestelike leiers wat glo dat dit nie nodig is om die een of die
ander te kies nie. Hoekom kan ons nie dissipels maak én 'n naam vir onsself nie? Die
waarheid is dat dit sonder uitsondering eindig by dissipels maak sódat ons 'n naam
vir onsself kan maak. Daardie benadering sal nooit die goedkeuring van God wegdra
133
nie. Inteendeel.

Ons moet kies. Maak ons dissipels of 'n naam vir onsself? Is ek in 'n gemeente waar
ek 'n kop is wat getel word om die sukses van die leier(s) of denominasie te bepaal of
is ek in 'n gemeente waar ek geestelik groei en begin om self dissipels te maak van
ander?

DAG 8
DIE GEMEENTE WAT JESUS BOU

In Mattheüs 16 vers 18 verklaar Jesus onomwonde dat Hy sélf sy gemeente sal bou. 
Al maak Jesus gebruik van mense bou Hy sy gemeente só dat Hy en sy Vader die eer
kry en verheerlik word. 

Daarteenoor is die gemeentes wat mense bou gebaseer op die beginsel wat ons in
Genesis 11 vers 4 sien, “kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits
tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak…”  Die 'church growth'
beweging wat dikwels ‘n kwalik verskanste self-gesentreerde projek is om ons eie
koninkryk te bou en ons eie naam populêr te maak, is 'n gruwel in die oë van die
Here. 

Een van die duidelikste toetse wat wys of dit Jesus of mense is wat 'n gemeente bou, 
is die lojaliteit wat ons toon aan die denominasie of gemeentegroep teenoor lojaliteit
aan Jesus en sy ware dissipels.  Die manier wat mense behandel word wanneer hulle
gelei voel om na 'n ander groep te beweeg, is ‘n duidelike teken of dit ‘n gemeente is
wat Jesus bou of ‘n gemeente wat mense bou.  Dit is maklik om lojaal teenoor mense
te wees wat in jou eie groep is terwýl hulle 'in jou groep' is.  Die wêreld gee ook
daardie soort erkenning en lojaliteit vir mekaar.    Die toets kom egter wanneer mense
nie meer 'in jou groep' is nie. 

In werklikheid is alle wedergebore mense tog wél deel van dieselfde Liggaam en dus
van die gééstelike gemeente wat Jesus bou.  Juis daarom durf ons lojaliteit aan en
liefde vir mekaar nooit beperk te wees tot 'n denominasie of kerkgenootskap nie.  Let
wel, leiers wat in Jesus se voetspore volg, sal in hierdie verband die regte gesindheid
by dissipels kweek.  Die wat dit nie doen nie wys sodoende hulle ware kleure.  Maak
seker dat jy jou krag, energie en gawes belê in die soort gemeente wat Jesus bou.

DAG 9
DIE GROOTSTE EN MEES DRINGENDE VERANDERING DENKBAAR
Ons kan die beste leerstelling en organisasie op aarde hê, maar as ons nie dringend
ons hele konsep van gemeentefunksionering verander nie gaan ons nie werklik 'n
betekenisvolle impak op gemeenskappe hê nie.
Die Nuwe Testament werk konsekwent met die verandering wat begin in die hart van
'n indiwidu en van daar af wyer uitkring in al sy verhoudings. Dit is die wese van die
dissipelskap-proses wat Jesus ons beveel het om te implementeer en na elke stam en
taal en nasie te neem. Die hele korporatiewe konsep van gemeentelewe wat dit in
134
lidmate se verstaan daarvan die domein van leiers maak wat 'n suksesvolle
organisasie moet bestuur en uitbrei, is die doodsvonnis vir ware gemeentelewe. Dit
sal nooit in tien duisend jaar lei tot die lewenskragtige, verhoudingsgebaseerde
dinamiek van ware Nuwe Testamentiese gemeentes nie.
Ons het nodig om heeltemal weg te beweeg van daardie prentjie en eerder kleiner te
gaan, meer intiem, en meer verhoudings-gefokus. Elkeen moet verstaan dat hy
persoonlik verantwoordelik is vir die mense in sy huis en in sy invloedsfeer. Dit is
juis hierdie dinamiek van Bybelse dissipelskap wat deur leiers geleer en gemodeleer
moet word. Dit is die eintlike bedieningswerk van Nuwe Testamentiese leiers; om
mense te leer om volle verantwoordelikheid te neem vir hulle eie verhoudings. Nie
om futiele pogings aan te wend om 'n pseudo Christus vir almal te probeer wees nie.
Laasgenoemde metodiek is fataal, verlammend, oneffektief en sieldodend vir die
indiwiduele gelowige. Dit is boonop oor honderde jare bewys as die enkele grootste
faktor wat ons weerhou daarvan om uit te kom by die opwindende en kreatiewe
gemeentelewe van die Nuwe Testament wat die indiwidu dinamies ontsluit in sy
unieke funksie met sy unieke gawes in sy bepaalde invloedsfeer van God-gegewe
verhoudings.
Jesus Christus maak 'n persoonlike appél op die hart van die indiwidu en terwyl ons
aanhou om korporatief-organisatories-leiergefokus in plaas van indiwidueel-
organies-verhoudingsgebaseerd te dink sal ons nooit uitkom by die soort gemeenskap
wat die Nuwe Testament 'n "liggaam" (liggaam van Christus) noem nie. Wat dink jy?
Maak ek te veel van hierdie punt?

DAG 10
DIE MITE VAN SPESIALE EN EKSKLUSIEWE KENNIS

Gestel Paulus het met sy enorme openbaring van al die implikasies wat die
vleeswording en die werk van Jesus vir mense inhou, besluit dat hy sy eie
denominasie gaan begin. Iets soos "Die Gemeentes van Paulus Internasionaal". As
daar een persoon was wat op grond van die openbaring wat hy ontvang het kon voel
dat hy die reg gehad het om sy invloed en kennis af te kamp en dit eksklusief te maak,
soos ontwerpers klere, dan was dit sekerlik Paulus. Maar was dit wat hy gedoen het?
Kom ons laat hom toe om self te antwoord.

"Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart
van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar
God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge,
ook die dieptes van God." 1 Kor. 2:9-10

Hy sê eerstens dat God self vir die apostels openbaring gegee het van die
verborgenhede van die evangelie. Hierdie stelling kan ons dalk nog laat wonder of
Paulus nie miskien tog sy kennis afgekamp en gebottel het nie. Maar kom ons lees
verder.

135
"Dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek
tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die
verborgenheid van Christus kan verstaan." Efesiërs 3:3-4

"As julle dit lees...kan verstaan". Het Paulus "spesiale kennis" ontvang van God? Ja
sekerlik. Het hy dit egter vir homself gehou of 'n eksklusiewe Pauliniese denominasie
begin op grond daarvan. Nee. Dit is vir ons neergepen en ons kan dit nou lees in ons
eie taal. Vandat ons die volledige Bybel het, kan niemand meer aanspraak maak op
"spesiale en eksklusiewe kennis" nie. Ons het nie nodig om rang te trek op mekaar of
mekaar te probeer beïndruk met ons spesiale openbarings nie. Wat ons wel kan doen
is om mekaar gedurig te inspireer om dieper te delf in die "onnaspeurlike rykdom van
Christus" wat vryelik beskikbaar is in die Bybel vir almal wat 'n honger het om Jesus
werklik te ken.

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig
dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so
is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom
bly." 1 Joh. 2:27

DAG 11
DIE MITE VAN SPESIALE OUTORITEIT EN GESAG
Ons is terug by Paulus, maar vandag praat ons oor die kontroversiële onderwerp van
outoriteit en gesag. Is daar in ons tyd nog iets soos spesiale outoriteit wat ons
noodsaak om ons eksklusief aan sekere apostoliese gesag te onderwerp? Kom ons
gebruik weer vir Paulus as voorbeeld en dan werk ons van daar af. Het Paulus
spesiale gesag gehad. Dis weereens goed om te hoor wat sê hy self.
"Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus
en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het." Gal. 1:1

"Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God, ons Verlosser, en
van die Here Jesus Christus, ons Hoop." 1 Tim. 1:1

Ek dink nogal ons kan sê Paulus het spesiale outoriteit en gesag gehad. Maar hoe het
hý dit bestuur?

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle
diensknegte om Jesus wil." 2 Kor. 4:5

”Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een
man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." 2 Kor. 11:2

Hy het nie homself verkondig nie en hy het ook nie mense aan homself probeer
verbind nie, maar aan Jesus. Verder het hy altyd sy gesag uitgeoefen via die Skrif en
onder die Hoofskap van Christus, nooit direk asof hy die gesag in sy persoon gehad
het nie. Maak seker jy verstaan die verskil, want dit is krities belangrik. Miskien help
dit om te hoor wat Paulus wel van homself as persoon te sê gehad het.
136
"Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die
heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig."
Efesiërs 3:8

So selfs al sou iemand vandag wou aanspraak maak op spesiale outoriteit en gesag
móét hulle dit beoefen op die manier wat Paulus dit gedoen het. Maar is daar nog
apostels vandag wat Paulus en die ander apostoliese Bybelskrywers se spesiale en
eksklusiewe soort gesag het? Definitief nie, en as selfs Paulus sy gesag beoefen het via
die Skrif en onder Jesus se absolute en direkte Heerskappy oor elke menslike gewete
is dit die hoogtepunt van arrogansie en eiewaan vir enigiemand om te dink hulle kan
dit op 'n ander manier doen as Paulus.

DAG 12
DIE OPROEP TOT EENHEID IS NIE KINDERSPELETJIES NIE
In die eerste hoofstukke van 1 Korinthiërs waarsku Paulus herhaaldelik die gemeente
in Korinthe teen onenigheid in hulle geledere. Hierdie onenigheid was in die konteks
duidelik die gevolg van intellektuele hoogmoed (sien bv. 1 Kor. 3:18-20) en die
onvermoë om te dink vanuit die nuwe perspektief in Christus (1 Kor. 2) wat die
evangelie veronderstel was om by hulle tuis te bring. In hoofstuk 3 sê Paulus reguit
vir hulle dat hierdie onenigheid wys dat hulle nog "vleeslik" is en dink soos mense wat
nie die Gees van Christus ontvang het nie (sien 1 Kor. 2:9-16).
"Omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en
tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  Want as die
een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie? "
1 Kor. 3:3-4
Aan die einde van hoofstuk 3 eindig Paulus sy pleidoo vir eenheid met 'n
skrikwekkende waarskuwing wat ons almal eintlik regop moet laat sit om met
gespitste ore die toepassing te maak in die era van grootskaalse onenigheid waarin
ons onsself bevind.
"Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 
As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God
is heilig, en dit is julle." 1 Kor. 3:16-17
"As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van
God is heilig, en die tempel is julle." 1 Kor. 3:17 (NAV)
Sjoe, Paulus sê in effek hier dat as 'n mens volhard in partydigheid, twis en tweedrag
jy skade doen aan die heilige tempel van God wat organies saamgestel is deur alle
wedergebore kinders van God. As jy dit willens en wetens doen, gaan God jou,
volgens die apostel Paulus, straf of nog sterker in die OAV, "skend". Ons Vader het
baie genade en geduld met ons almal in ons persoonlike wandel, maar hier sien ons
daar is een ding wat baie vinnig die hand van God vir dissipline in beweging kan
bring as ons nie die heiligheid van hierdie geestelike tempel (die liggaam van
Christus) eer deur "die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede"
137
nie. Heel waarskynlik sluit dit ook onenigheid, twis en tweedrag in tussen dissipels
van Jesus in een huisgesin.

DAG 13
BEWAAR DIE EENHEID VAN DIE GEES...BEHALWE
"Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die
roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met
lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die
eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede." Efesiërs 4:1-3
Paulus vermaan gelowiges om ernstig te strewe om die eenheid van die Gees te
bewaar met alle ander mense wat waarlik wedergebore is en daarom "in Christus" is.
Ek wonder of Paulus hierdie opdrag bietjie sou aanpas as hy vandag geleef het?
Miskien sou dit 'n aansienlike langer inleiding vir Efesiërs hoofstuk 4 gewees het. Iets
soos; bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met mense wat Gereformeerd is en
nie glo aan vrye wil nie. Of bewaar die eenheid van die Gees...behalwe met "broers"
wat nie Calviniste is nie. Bewaar die eenheid van die Gees, behalwe as jy glo aan
"eenmaal gered, altyd gered" en jou "broer" nie.
Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo aan spreek in tale en jou "broer"
glo nie daaraan nie. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy 'n amillenialis is
en jou "broer" 'n premillenialis. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy nie
na Angus Buchan byeenkomste gaan nie en jou "broer" wel. Bewaar die eenheid van
die Gees...behalwe as jy net die King James vertaling lees en jou "broer" lees ander
vertalings. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jy glo Jode gaan uiteindelik
almal terug gebring word na hulle land en jou "broer" glo dit nie. Bewaar die eenheid
van die Gees...behalwe as jy vernuwingsliedjies sing en jou "broer" net ou Psalms en
Gesange. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" in 'n ander
denominasie is wat nie so ingelig of andersins so histories gefundeerd is soos joune
nie. Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe as jou "broer" enigsins nog in 'n
denominasie is en jy dit lankal vaarwel toegeroep het.
Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe, behalwe, behalwe. Hmm, miskien moet
ons maar hierdie eenheid storie los. Wat dink jy?

DAG 14
DIE SAAM-VERSTAAN VAN 'N WARE HARTSEENHEID
Die boek Efesiërs is die boek in die Bybel met die diepste openbaring van die
gemeente en in hierdie boek word daar 'n besondere klem gelê op die eenheid van die
liggaam van Christus en die kosbare voordele van hierdie eenheid. Let wel dat dit die
eenheid van 'n liggaam is, 'n organiese eenheid, nie 'n organisatoriese eenheid nie.
Dit is net in hierdie organiese eenheid wat ons die heerlikhede van die evangelie met
mekaar kan deel op 'n wyse wat 'n begrip en verdieping bring wat nie andersins
moontlik is nie.

138
"En julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp..."
Efesiërs 3:18

Die uiterlike eenheid van 'n godsdiens-institusie is net eenvoudig nie in staat om
hierdie geestelike werklikhede te verwesenlik nie. Leef jy in die heerlike saam-
verstaan van 'n ware hartseenheid met ander dissipels van Jesus of bevind jy jou in 'n
woestyn van "formele kerk-verhoudings" en verwaarloosde verbintenisse.
Eersgenoemde is jou erfenis in Christus. Moet dit nie verbeur nie. Soek dit met jou
hele hart! As jy dit reeds beleef, koester dit soos 'n kosbare skat.

DAG 15
EENHEID IS NIE EENVORMIGHEID NIE
"Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om
almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie,
maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening." 1
Korinthiërs 1:10
Wat op aarde bedoel Paulus hier? Sou hy steeds daardie stelling gemaak het 2 000
jaar na Christus met die ontwikkeling van honderde fokusse en opinies in die
geskiedenis van die kerk? Moet ons steeds "verenig wees in dieselfde gesindheid en
dieselfde mening"? En hoe strook "dieselfde gesindheid en mening" met die letterlik
honderde verskillende denominasionele aksente en klemme? Kan ek net "dieselfde
gesindheid en mening" handhaaf met mense wat in my eie denominasie is? Ek lê aan
jou voor dat dit in Bybelse terme absurd is om te dink dat hierdie teks ooit so
geïnterpreteer kan word.
Dit is juis teen hierdie geneigdheid (a.g.v. die gevallenheid in ons) om net te wil
assosieer met mense wat oor "alles" met my saamstem waarteen Paulus hier waarsku
(sien verse 11 en 12). Ek plaas die "alles" in aanhalingstekens, want dit is in elk geval
'n mite dat mense in dieselfde denominasie oor alles saamstem m.b.t. die Christelike
geloof. Die meeste mense weet, in alle eerlikheid, nie eers wat hulle eie denominasies
werklik glo of presies hoe die ander glo wat saam met hulle in een denominasie is nie.
Die eenheid wat Paulus van praat is eenheid in die evangelie. Die boodskap m.b.t. die
dood en opstanding van Jesus Christus wat dit moontlik gemaak het vir verlore
sondaars uit elke stam en taal en volk en nasie om gered te word deur geloof alleen en
om sodoende 'n hoop te hê op "nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid
woon" (1 Kor. 15:1-4 en 2 Pet. 3:13). Op grond van hierdie boodskap word ons verlos
van ons hoogmoed en vooroordele teenoor ander en kan ons 'n liefde teenoor mede-
dissipels openbaar wat vir die wêreld wys dat Jesus werklik die Verlosser en Koning
is. Veral in die maníer wat ons van mekaar verskil!
"Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."
Johannes 13:35
"Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons
een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het." Johannes 17:21

139
Daar staan nie "hieraan sal almal weet dat julle denominasie my dissipels is, as julle
liefde het vir almal wat in julle denominasie is" nie. Ook nie, "dat almal in dieselfde
denominasie een mag wees..." nie. Of, "dat hulle ook in terme van hulle perfekte
eenvormigheid in teologie en tradisie met almal in hulle denominasie een mag wees"
nie, maar "dat hulle ook IN ONS (d.m.v. die evangelie hier geïmpliseer) een mag
wees"!
Die uitdaging vir ons na 2 000 jaar se kerkgeskiedenis en honderde verskillende
tradisies, opinies en fokusse is om vanuit die enkele fokus op die Persoon en
Verlossingswerk van Jesus (die evangelie) die "eenheid van die Gees" te bewaar en
om in liefde en geduld ons verskille (waarvan ek net 'n paar genoem het verlede keer
in "Bewaar die eenheid van die Gees...behalwe") met mekaar m.b.t. ander aspekte van
teologie aan te hoor. Solank ons net op 'n volwasse manier en vanuit die Bybel (op
grond van ons eie oortuiging en gewete, nie 'n groep of gunsteling leraar s'n nie) met
mekaar gesprek voer en nie met 'n heethoofdige gesindheid of 'n politiese en
sektariese gees wat ten alle koste ons eie tradisies, fokusse en voorkeure wil verdedig
nie. Die Nuwe Testament roep ons gedurig op om te dink, te leef en te redeneer
vanuit één enkele fokus.
"Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem
uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!"
Mattheüs 17:5

DAG 16
DRIE TOETSE VIR WARE DISSIPELSKAP EN GEMEENTELEWE
"Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem
en nie op die vlees vertrou nie." Filippense 3:3
Hier gee Paulus vir ons 'n wonderlike maatstaf om ware dissipelskap en ook dan ware
gemeentelewe mee te meet. Ons het so nodig vandag om tekste soos hierdie ernstig
op te neem en die nodige aanpassings te maak.
Dien ons God werklik in totale afhanklikheid van die Heilige Gees met die varsheid
van Sy lewe of dien ons Hom grotendeels met meganiese roetine en slaafse toewyding
aan ons menslike tradisies en historiese sentimente?
Roem ons in Christus alleen of vind ons nog ons waarde en sekuriteit in ons
assosiasie met groot name, belangrike mense, uitstaande akademiese kwalifikasies,
wonderlike reputasies, en sekulêre gewildheid?
Het ons werklik al ons vertroue oorgeplaas op die algenoegsame wysheid, krag en
lewe van Christus in ons of steun ons nog op ons eie intellek, gawes, talente, sterk
persoonlikheid, welsprekendheid, en  leierseienskappe? Hoe lyk ons lewens in hierdie
lig? Hoe lyk ons gemeentes?

DAG 17

140
KRY JOU FOPSPEEN BY DIE DEUR

Wanneer ons 'n baba sien met 'n doek aan en 'n bababottel in die mond is dit vir ons
'n mooi gesig, maar wat sou jy sê as jy 'n twintigjarige met 'n doek en bottel sien? Wat
van honderde sulke "baba's" bymekaar? Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik
dat God 'n diepe begeerte het dat ál Sy kinders tot volwassenheid moet kom. 'Totdat
ons almal kom tot…’n volwasse man" (Efes. 4:13).

Ongelukkig is ons gemeentekultuur dikwels vandag as't ware gepreprogrammeer om


mense geestelik in die babastadium te hou. Wanneer ‘n kultuur slegs op getalle
gefokus is, gebeur dit maklik dat daar net meer en meer "baba's" in 'n gebou
bymekaar gehou word en dat hulle afhanklik bly van die leierskap. Mens moet iets
doen met die woelige baba's en daarom bestaan die gevaar om te verval in
programme, eerder as dissipelskap. Soms lyk so ‘n klomp babatjies bymekaar baie
suksesvol, maar ons is geroep om ‘n groeiende “liggaam”, ‘n lewende tempel van God
en ‘n weermag te wees – nie ‘n dagsorg nie.

Die doel van die evangelie en gemeentelewe volgens die Nuwe Testament is om ons
by geestelike volwassenheid te bring sodat ons fokus weg kan skuif van onsself en ons
dissipels kan maak "van al die nasies" (Matt. 28:19) en hulle weer by volwassenheid
kan bring. As ons in dieselfde afhanklike verhouding bly staan met voorgangers en
leraars vir dekades aaneen is daar groot fout! Daar moet 'n plek kom waar ons as
volwasse gelowiges gemeenskap kan hê, gefokus op Christus en met dieselfde doel
voor oë. Ons rolle en verantwoordelikhede sal altyd verskil, maar ons verwantskap
moet beweeg na volwassenheid. Die alternatief is verhoudinge wat stagneer in 'n
statiese en dooie struktuur. Iets wat beweeg, maar wat nie lewe het nie noem ons 'n
masjien. God soek 'n lewende organisme wat groei, nie 'n masjien nie.

DAG 18
MOEG VIR DIE SPOOKASEM, HOE NOU GEMAAK?
Ons sien vandag dat derduisende mense kerke regoor die spektrum van denominasies
en diverse groepe verlaat het en nog steeds verlaat. In baie gevalle kan hierdie "groot
uittog" geregverdig word en is dit heeltemal verstaanbaar, want die populêre kultuur
het kerke oraloor binnegedring. Dit beteken kortliks dat gemeentelewe grotendeels
nie meer gaan oor die ware aanbidding van God "in gees en waarheid" volgens die
ewige en onfeilbare Woord nie, maar oor die vermaak van die massas. Ware dissipels
van Jesus word nie gevoed deur hierdie "geestelike springmielies" en "spookasem"
nie en dit raak net eenvoudig ondraaglik vir hulle. Dan is daar duisende wat sê hulle
ken Christus, maar wat omtrent nooit die Bybel lees of regtig belang stel in die inhoud
nie. Diesulkes raak ook nie opgewonde oor gesamentlike aanbidding van God en die
intersessie van gelowiges of enigsins besorg oor verlore mense en die uitbreiding van
God se koninkryk nie. Maar tog hou hulle vol dat hulle verloste mense is. Baie van
hierdie mense is heel tevrede in hedendaagse gemeentes, want die dienste is juis
gerat om húlle te vermaak in plaas van om die skape te voed! In hierdie tragiese
milieu het iemand tereg opgemerk dat baie gelowiges gemeentes verlaat, nie omdat
hulle hul geloof verloor het nie, maar omdat hulle hul geloof wil behou.

141
Maar die gevolg is ongelukkig dat derduisende by hulle huise sit en heel tevrede is
met net die elektroniese kerk en bykans geen vorm van lewende gemeenskap met
ander dissipels het nie. Ander sê weer "ek is lief vir Jesus, maar met die kerk wil ek
niks te doen hê nie; ek en Jesus is nou genoeg". 'n Groot deel van die probleem is dat
ons "kerk" begin sien het as 'n gebou, 'n prediker, musici en 'n diens op 'n bepaalde
tyd volgens 'n bepaalde liturgie. Daar is sekerlik plek vir daardie dinge, maar die
wese van "kerk" (die woord "gemeente" is beter) is die gemeenskap van gelowiges in
Christus d.m.v. die Woord, gebed en lofprysing. Ons het almal nodig om te bid vir die
herstel van ware gemeentelewe in dorpe en stede regoor ons land, maar wat doen ons
intussen? Sit ons net by ons huise en kla onder mekaar oor die tragiese situasie?
As jy 'n nuwe hart het in Christus, 'n Bybel, 'n sangboek en een of twee mede-
gelowiges of gesinne, waarvoor wag jy? Jy het sekerlik nog steeds jou verhouding met
Jesus as jy Sy dissipel is? Maak 'n tyd, kom bymekaar, slaan net daai Bybel oop, deel
dit wat God vir jou gewys het, bid, sing, gebruik nagmaal..hoekom nie? Wat is die
verskoning? Jy het nie 'n gebou, 'n prediker of 'n "spesiale diens" en musici nodig om
dit te doen nie. Wat gaan jy vir God sê wanneer jy voor Hom staan? "Daar was nie
meer 'n gemeente in my dorp wat getrou was aan U nie." Maar as jy die Bybel het, die
Gees binne-in jou en ander gelowiges rondom jou, het jy regtig 'n verskoning om nie
net iewers te begin om te lees, te bid en te sing saam met ander nie? Jesus is mos
teenwoordig waar twee of drie in Sy naam vergader? Waarvoor wag jy? Gaan lees
bietjie Lukas 24 en let op watter geseënde tyd net twee dissipels van Jesus saam met
Hom gehad het!
N.S. Daar is ook meer aan gemeentelewe volgens die Nuwe Testament en daarvoor
kan en moet ons intree. Die essensie van gemeentelewe is egter die gemeenskap van
dissipels van Jesus en daarvoor het jy reeds alles wat jy nodig het.

DAG 19
'N ORGANIESE LIGGAAM MET VOLTYDSE LEDE

As 'n ware dissipel van Jesus 1 Korinthiërs 12 lees sonder vooroordeel of agenda gaan
die werklikheid van die gemeente as liggaam van Christus vir seker radikale ingrepe
maak in enige wanpersepsies oor gemeentelewe. Die volgende kort uittreksel van
tekste is meer as genoeg om hierdie stelling te staaf.

"Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie." 1 Korinthiërs 12:14

'n Pastoor of dominee kan nie 'n liggaam wees nie, maar is slegs een lid van die
liggaam. Die liggaam bestaan uit baie lede en elkeen het 'n rol om te speel. 'n Mens se
liggaam het ook nie "lede" wat net een maal per week funksioneer nie. Alle "lede" is
voltyds in die liggaam. Daar is dus nie volgens die Bybel iets soos deeltydse lede van
die liggaam van Christus of dan deeltydse lidmate van 'n gemeente nie. Daar is ook
nie professionele lede wat net funksioneer omdat hulle betaal word om te funksioneer
nie. Pastore en dominees, ongeag of hulle 'n salaris ontvang of nie, moet soos enige
ander lid van die liggaam funksioneer uit die lewe van die Gees anders is hulle buite
orde in die liggaam.
142
"Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het." 1
Korinthiërs 12:18

God bepaal ons elkeen se funksie in die liggaam en daar is nie een lid sonder 'n
funksie nie! Al is dit 'n pinkie. Daardie pinkie het net so 'n belangrike rol om te
vervul as enige ander lid van die liggaam.

"Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik." 1 Korinthiërs 12:27

Ons almal saam vorm die liggaam van Christus. Daar is 'n organiese eenheid tussen
ons en tog ook 'n diversiteit in gawes, bedieninge en funksies. Organisatoriese
eenheid kan nooit vergelyk word met die radikale geestelike werklikheid van ons
eenheid in Christus nie.

"Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog
uitnemender weg." 1 Korinthiërs 12:31

Elke lid van die liggaam moet die belange van die hele liggaam op die hart dra en
streef daarna om die liggaam te bedien met die beste gawes tot daardie lid se
beskikking. Dit is onmoontlik vir een of twee begaafde lede om die hele liggaam se
funksies te vervul. Dit verg 'n liggaam van voltydse lede.

Besef jy dat jy as dissipel van Jesus deel is van 'n geestelike en organiese liggaam,
plaaslik en universeel? Glo jy werklik dat jy 'n funksie en gawes ontvang het wat
onontbeerlik is vir die funksionering van die liggaam? Ons het dringend nodig om
ons idees oor gemeenskap en gemeentelewe te vorm vanuit die Bybelse openbaring
van die liggaam van Christus en nie volgens ander minderwaardige modelle of die
wêreld se standaarde nie.

DAG 20

'N RADIKAAL NUWE BENADERING TOT GEMEENSKAPSVERANDERING

Een van die mees verstommende openbarings van die Nuwe Testament is dat dit 'n
radikaal nuwe benadering tot verandering van die samelewing vir ons voorhou. 
Hierdie benadering is nie polities, filosofies (dit het wel filosofiese inhoud),
organisatories of godsdienstig in die normale sin van die woord nie. Dit is ook nie
leier-gedrewe in die eerste plek, d.w.s. dat verandering net kan kom deur die
inisiatiewe en projekte wat leiers op die tafel sit, nie.

Dit is verandering wat begin in die hart van die indiwidu en dan van daar af ander
harte in verhouding raak. Dit is ten diepste die intimiteit in die Drie-Eenheid wat
deur die evangelie as't ware organies en lewend oorgedra word na die harte van die
wat glo (sien Johannes 13 tot 17) en dan wyer uitkring.

143
Dit is so maklik om hierdie punt te mis in die Nuwe Testament en dan terug te val op
die ou maniere en metodes tot verandering wat regdeur die geskiedenis van die mens
gevolg is; m.a.w. verandering langs die weg van politiese, filosofiese, organisatoriese,
leier-gedrewe kanale of deur godsdiens tradisies. Leiers moet wel die toon aangee,
maar dan langs die Nuwe Testament se weg tot verandering! In 'n sekere sin word
ons almal dan leiers, want alle dissipels van Jesus kan hierdie soort invloed uitoefen.

God se manier van verandering is so radikaal anders as die wêreld s'n. Sy liefde,
geopenbaar in die evangelie, verlos die mens se hart toenemend van selfsug en self-
gerigtheid met 'n gevolglike verdieping van ons verhoudings. Hierdie verdieping en
verinniging van verhoudings is die enigste ware groei, want dit alleen strook met die
DNA van die Nuwe Testament; hartsverandering met verhouding ten doel! 'n
Sinvolle vraag om jouself te vra in hierdie verband is; hoeveel diep, veilige,
standvastige, betekenisvolle en groeiende verhoudings het jy in jou lewe? Sekerlik
net 'n baie klein persentasie van jou honderde Facebook, Whatsapp en Instagram
vriende! Hoeveel van hierdie verhoudings is met mense in jou gemeente? Slegs
daardie verhoudings is eintlik jou ware gemeentelewe.
As gevolg van tydsbeperking kan 'n mens nie meer as so tien tot twaalf sulke
verhoudings op 'n slag hê nie. Jesus self het in Sy tyd op aarde nie baie meer as
twaalf sulke verhoudings gekultiveer nie, en dan was een nog 'n Judas. Maar daardie
verhoudings het uiteindelik die wêreld verander! Miskien is dit tyd dat ons ophou
probeer om deur die wêreld se metodes die verandering te bring wat net God in ons
harte kan bring deur die krag van die evangelie.
Dink kleiner (dieper in), dink organies, dink verhouding. Die sleutel tot kragtige
transformasie wat dinamies sal uitkring na meer mense lê nie iewers daar buite of in
nuwe projekte, planne, leiers of metodiek nie. Dit lê in die verhoudingskapasiteit van
jou eie hart. Begin by die mense wat reeds in jou invloedsfeer is. Sommer net daar in
jou eie gesin en familie. Kultiveer verhoudingsintimiteit vanuit die Wynstok.

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van
My." Johannes 15:9

Dít alleen is die dissipelskap waarvan die Nuwe Testament praat.


N.S. Die taak-gerigte en projek-gedrewe persoonlikheidstipes gaan moeilik sluk aan
hierdie pil, maar sluk maar, dit is 'n evangelie pil. :-)

DAG 21
ONS ERFENIS IN MEKAAR

144
"Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die
teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons
eer en blydskap." 1 Thessalonicense 2:19-20

Hierdie woorde van Paulus is besonders. Dit val heel vreemd op die ore van 'n
generasie wat nie veel dink oor die wederkoms nie en dan allermins oor hoe die vrug
van genade in my lewe ander mense se lewens gevorm het. Ons grootste vreugde as
dissipels van Jesus is sekerlik die onuitspreeklike voorreg van verhouding met God.
Dit is egter 'n groot verrassing om regdeur die blaaie van die Nuwe Testament te sien
hoedat Jesus se volgelinge ook groot vreugde gevind het daarin om mekaar te bedien
met die heerlike Goeie Nuus en sodoende mekaar op te bou en geestelik te versterk.
Boonop is die effek van hierdie wedersydse bediening aan mekaar iets wat ons
klaarblyklik moet bedink in die lig van die wederkoms van Jesus. Verstommend! Mag
die Here ons oë oopmaak om te sien dat ons erfenis nie in dinge is nie, maar in
mekaar.

DAG 22
WAAR IS DIE LIG?
Petrus die ingenieur-dissipel is die lig by sy werk. Martha die huisvrou-dissipel is die
lig in haar huis en buurt. Jannie die skolier-dissipel is die lig by sy skool. Die lig is
nie iets daar buite iewers of iets wat deur een of ander kerklike institusie aangeskakel
kan word nie.
"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word
nie." Mattheüs 5:14
Die lig van God op hierdie aarde is die lewe van Christus in elke ware dissipel. Die
dominee, pastoor of apostel ís nie die lig nie. Hulle hét ook net die lig as hulle werklik
wedergebore is. Die kerkgebou is nie die lig nie. Die kerkraad is nie die lig nie. Die
byeenkoms van gelowiges gee lig vir die wat dit bywoon, maar dit ís nie die enigste lig
nie. Die Bybel bevat die lig, maar daardie lig moet in ons lewens neerslag vind.
Jesus was die lig op hierdie aarde tydens sy lewe hier twee duisend jaar gelede, maar
nou is die lig in die gemeente omdat ons Jesus in ons het. Nou bring God lig op aarde
deur miljoene lede van die liggaam van Jesus.
"En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die
gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul."
Efes. 1:22
Die Lig het in jou kom woon die dag wat jy wederbaar is deur die Gees van God. Die
Lig skyn deur jou soos wat jy in geloof oorgee aan die Lewe van Jesus in jou sodat Hy
gevorm kan word in jou (Gal. 4:19).

DAG 23
JY-KAN-MY-NIKS-VERTEL-NIE

145
Dissipels van Jesus, insluitend gemeenteleiers (wat ook maar net dissipels is), het
net een groot Leermeester en dit is Jesus self. Menslike leraars verteenwoordig net
die Leermeester Jesus en kan of mag Hom nooit vervang nie. As Jesus dan ons groot
Leermeester is en ons is almal dissipels, waarvan nie een al volleerd is nie, waarom
het ons dan so dikwels die "jy-kan-my-niks-vertel-nie" gesindheid teenoor dissipels
van ander gemeentes as ons eie? Selfs in ons eie plaaslike gemeentes het ons soms
hierdie houding teenoor mekaar.

Net hier vind ons die groot oorsaak van soveel verdeeldheid onder gemeentes en
dissipels van Jesus. Dit is so heerlik en geseënd om met ander dissipels (weereens
insluitend gemeenteleiers) te gesels oor ons onderskeie roepings in die koninkryk
wanneer ons werklik onder Jesus se oomblik-vir-oomblik lering deur Sy Woord en
Gees staan. Maar dit is soos tande trek om te probeer praat met mekaar wanneer
daar 'n "jy-kan-my-niks-vertel-nie" gesindheid is. Sekerlik is die essensiële leringe
van ons geloof ononderhandelbaar. Ware dissipels is reeds een in die essensie van
die evangelie. Maar daar is baie ander sake waaroor ons met mekaar kan, en moet,
praat m.b.t. ons bruikbaarheid in die koninkryk en ons praktiese eenheid. Is ons
regtig leerbaar?

Gaan dink weer 'n slag oor die volgende vers in Jakobus wat so pragtig en diepsinnig
'n leerbare gees en gesindheid verwoord.

"Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit
vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg."
Jakobus 3:17 (NAV)

DAG 24
IS ONS GEMEENTES VANDAG ADAMVERBETERINGS-SENTRUMS?
Gestel jy neem tien lidmate uit tien verskillende gemeentes in Suid-Afrika en jy vra
hulle om in net 'n klompie sinne die essensie van Christenskap op te som. Hoeveel
van hulle sal op een of ander manier klem lê op die feit dat Christenskap nie gaan oor
die verbetering van Adam nie, maar die vorming van die lewe van Christus in die
dissipel en dan die ekspressie van Christus deur die dissipel? M.a.w. dat ons so
geïdentifiseer is met die dood (sterf saam met Hom) en opstanding (staan op saam
met Hom) van Jesus dat God die Vader niks anders van ons verwag nie as 'n geloof
wat wegkyk van onsself sodat Christus alles in en deur ons kan wees (Heb. 12:2; Kol.
3:1-3).
Is die meeste gemeentes vandag nie tragies Adamverbeterings-sentrums in plaas van
sentrums wat fokus op die openbaring van Christus in en deur "gewone" dissipels
nie? Daar is net twee moontlike gemeenteprogramme, ongeag die wye
verskeidenheid van denominasies en kerkgroepe in Suid-Afrika:
1. Die evangelie skenk vir die gevalle Adam vergifnis van sondes en poog dan om die
presiese Adam wat God aan die kruis veroordeel het te verbeter vir die res van sy pad
van dissipelskap.

146
2. Daar is vergifnis van sondes in Christus, maar daarna is die pad van dissipelskap
die groei van die nuwe mens in Christus soos wat die gevalle Adam en sy hele
selfsugtige leefwêreld as "dood" gereken word (Rom. 6:11).
Indien jy voel dat dit te gekompliseerd is of onnodig tegnies of nie werklik so
belangrik nie of nie die dringendste kwessie vir die gemeentes van Jesus Christus nie
wil ek net enkele tekste (uit honderde in die Nuwe Testament) aan jou voorhou met
die hoop dat dit jou genoegsaam sal stimuleer om jou eie studie van die Nuwe
Testament te gaan doen in die lig van hierdie essensiële waarheid.
"Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel
is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel
word." Romeine 5:19
"Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend
gemaak word." 1 Korinthiërs 15:22
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En
wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20
"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte
verkry." Galasiërs 4:19
"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van
God mag wees en nie uit ons nie." 2 Korinthiërs 4:7
"Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf,
vryman is nie, maar Christus is alles en in almal." Kolossense 3:11

DAG 25
DIE KERKMASJIEN

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste
van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en
jy is dood.” Openb. 3:1 (OAV)

“…Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” Openb. 3:1
(NAV)

Hy soek sy petrol, sy olie, en sy dienste.  Hoe groter hy word, hoe meer tyd neem hy in
beslag.  Hy het nie lewe nie en gee nie lewe nie, maar hy belowe so baie.  Hy is
gemaak om in gery te word, maar voor jy jou kom kry is hy in beheer en doen hý die
rywerk.  Sy slagoffers tel in die duisende.  Sy wiele het al baie dissipels van Jesus
raakgetrap. 

147
Pasop vir die 'kerkmasjien'!  Die gemeente van Jesus is ‘n organisme wat gebruik
maak van organisasie.  Wanneer die organisasie mense begin misbruik om homself te
bevoordeel en laat groei, het dit ‘n gruwel en ‘n onding geword.

DAG 26
HUMANISME IN ‘N VROME SONDAGPAKKIE
“Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en
gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” Rom. 1:25

‘n Generasie van diegene wat hulleself dissipels van Jesus noem, maar wat kwalik
weet hoe om te reageer op, te identifiseer met en te praat oor die hooftema van die
Bybel, is op die randjie van ‘n totale afvalligheid (apostasy). Om God te ken in
Christus is die begin en die einde van wat die Bybel poog om aan Godvergeters (almal
van ons na die sondeval!) te kommunikeer. Menslike aangeleenthede gesien as ons
eie domein wat God maar net as ‘n welwillende toeskouer betrag, is niks minder as
afgodery nie. God is geensins tevrede met ‘n blote erkenning van Sy bestaan en ‘n
Christelike “tip of the hat” dat Hy óns sake “so mooi reël” nie. Die Bybel wil ons bo
alles bring by ‘n visie van God wat állesoorheersend is. God is ons Vader, ons Bron,
ons lewe, ons suurstof, ons Verlosser, ons heil, ons voedsel, ons drank, ons begin en
ons einde. “In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons…” (Hand. 17:28). Ons teks in
Romeine 1 wys onder andere op die geneigdheid na humanisme wat in ons almal is.
As ons gemeentelewe en gemeenskap met mekaar ons nie bring by ‘n immer-
groeiende waardering vir die Persoon van God en ‘n honger vir Sy teenwoordigheid
nie, is ons vasgevang in ‘n dodelike misleiding van humanisme wat paradeer in ‘n
Christelike baadjie. Dit kan eerstens getoets word aan ons reaksie op lering en
openbaring oor die wese van God. Het jy ‘n honger om meer van God te weet en ‘n
begeerte om te verstaan wat die Bybel ons leer van Hom? Of is dit eerder leringe oor
ons aardse belange en verhoudinge wat jóú aandag trek en ‘n respons by jou uitlok?
Tweedens kan dit getoets word aan die inhoud van ons gesprekke. As ons net heeldag
praat oor my en jou en wat ons alles doen op hierdie planeet en ons deel nooit, of
amper nooit, buite ‘n gemeentekonteks ons liefde en waardering vir God as Persoon
met mekaar nie, dan het ons alreeds vêr weggedwaal van ware dissipelskap. Dweper?
Nee, ware dissipel. Eerlikheid met jouself is die begin van verandering. Erken en
bely as jy jou fokus verloor het. God sal jou daar ontmoet.

DAG 27
INSTRUKTEURS VAN DIE DOOD
“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” Psalm
119:9
“Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, van
my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die
vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.” Spreuke 1:29-31

148
Watter soort instrukteur sal jy vertrou om jou kind te leer bestuur en vir hom of haar
die padreëls te leer? Wat van ‘n instrukteur wat al die belangrike padtekens
heeltemal verkeerd interpreteer, omdat hy ‘n immigrant is van ‘n land met ‘n totaal
verskillende verkeerstelsel? Sou dit nie krimineel onverantwoordelik wees om jou
kind oor te gee in die hande van so ‘n instrukteur nie? As jy omgee vir jou kind se
fisiese welsyn sal jy nooit so iets doen nie. En wat dan van jou kind se geestelike
welsyn? Aan watter soort instrukteurs vertrou jy jou kinders toe om vir hulle die
padtekens van die lewe te leer? “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Tim. 3:16) en
is bedoel om ‘n mens wys te maak om in gesonde verhoudings met die lewende God
en Sy skepsels te leef. Die gemeente is bedoel om ‘n “pilaar en grondslag van die
waarheid” (1 Tim. 3:15) te wees wat daardie Skrif suiwer leer. Wanneer ‘n gemeente
of gemeentes egter wegdraai van die Skrif en op sand begin bou, het wedergebore
dissipels van Jesus ‘n verantwoordelikheid om hulle rug te keer op sulke gemeentes
en wedergebore ouers om hulle kinders te beskerm teen dodelike geestelike dwaling.
Dit is nie eers ‘n persoonlike keuse nie, dit is ‘n opdrag van God.

DAG 28
VORMGODSDIENS STAAN LYNREG IN JESUS SE PAD
"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." Johannes 8:36
"Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." 2
Korinthiërs 3:17
Waar Jesus teenwoordig is en kans gegun word om mense se harte te bedien, sal daar
altyd 'n atmosfeer van vryheid wees. Vormgodsdiens van watter aard ookal
(gereformeerd, pinkster, charismaties, metodisties…) bring daarenteen omtrent
sonder uitsondering 'n strak en koue of eentonige atmosfeer wat geestelike
kreatiwiteit en vrye kommunikasie tussen mense inperk en aan bande lê. Baie van
ons is van kleins af al so gekondisioneer om 'n erediens of ander samekoms van die
gemeente met koue formaliteit te assosieer dat die heerlike vryheid en spontaneïteit
in die vergaderings van dissipels van Jesus vir ons 'n totaal vreemde idee is. Dit is
baie, baie hartseer en was nooit God se plan vir ons nie. Ons byeenkomste as
nuutgemaakte kinders van God is veronderstel om 'n getuienis vir die wêreld te gee
van hoe vrymakend en genesend menslike interaksie en bediening kan wees waar
God werklik teenwoordig is en die Heilige Gees kan werk soos wat Hý wil in ons
harte.

DAG 29
VREUGDELOSE VORMGODSDIENS LEI ALTYD TOT 'N ONVERMYDELIKE
HERDEFINISIE VAN SONDE

"Mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.
Keer jou ook van hierdie mense af." 2 Tim. 3:5

149
“Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel,
goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die
enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” Judas 1:4

Die krag van godsaligheid word op geen ander plek gevind nie as in 'n verhouding van
vreugde met ons hemelse Vader, gewortel en gegrond in die rykdom van Sy
vrymakende genade in Jesus. Waar dit afwesig is, word die Christelike geloof maar
net nog 'n godsdiens wat met stroewe pligpleging die rituele van die spesifieke
kerktradisie op bepaalde tye en plekke nakom. Die probleem is natuurlik dat hierdie
vreugdelose "vormgodsdiens" heeltemal kragteloos is teen die versoekinge van die
sonde en of dit nou jare of dekades neem, een of ander tyd word die gaping tussen die
godsdiensbelydenis en die daaglikse lewe so groot dat daar net een alternatief is en
dit is om die sonde te herdefinieer. Wanneer ons dit wat die Bybel sonde noem
herinterpreteer en dit afskryf as die oningeligte uitsprake van 'n pre-wetenskaplike
era kan ons weer asemhaal en saamleef met ons "nuwe bybel". Nou is dit nie meer so
'n las om voort te gaan met ons rituele en vormgodsdiens nie, want genade is nie
meer God wat ons vergewe, verlos en ons voete plaas op die pad van vryheid nie.
Genade is nou ons onbeperkte toleransie van morele verval terwyl ons vrolik
voortgaan om te lees uit ons "nuwe bybel" en bid tot ons "nuwe" en meer tolerante
moderne "god" en ons die doodsheid van vormgodsdiens moediglik oorwin met ons
"nuwe, permissiewe blydskap". Let op Paulus se opdrag aan Timotheus (in 2 Tim. 3
vers 5b) vir presies so 'n situasie.

DAG 30
SKAPE EN BOKKE
"En voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei
soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy
regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit." Mattheüs 25:32-33

Skape soek geestelike voeding, maar bokke wil net weet wat op die spyskaart is vir
hulleself. Dit is verstommend om te sien hoeveel mense vandag geen belangstelling
toon in geestelike lering wat ons wil bring by heiligheid en 'n dieper kennis van God
nie. Maar dieselfde mense se ore spits onmiddellik vir enigiets wat klink of dit hulle
eie leefwêreld kan verbeter.
Dit is heeltemal verstaanbaar dat 'n mens die troos van die Heilige Gees  en die
voorsiening van God sal soek wanneer jy deur moeilike omstandighede gaan, maar
oor die algemeen soek skape voeding. Hulle stel belang in wie God is, om Hom te
ken, die uitbreiding van Sy koninkryk, geestelike groei, heiligheid, verlore siele,
kennis van genade in Christus, die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde en 'n
dieper insig in die heerlike Woord van God. Bokke het nie werklik 'n aptyt vir hierdie
geestelike dinge nie. Hulle stel net belang in dit wat hulle hier-en-nou kan verander.
Waarna honger en dors jy?
"Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie
omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig
geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly
tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God,

150
die Vader, verseël." Johannes 6:26-27

DAG 31
DIE PADDA IN DIE POT
“…sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie
onbekend nie.” 2 Korinthiërs 2:10b-11

‘n Padda sal dadelik spring uit ‘n pot kookwater, maar as jy hom in koue water sit en
geleidelik die water verhit, kan jy hom doodkook sonder dat hy sal uitspring. Hierdie
bekende en eenvoudige ilustrasie gee ‘n les deur wat die kerk in ons tyd dringend
nodig het om op ag te slaan. Dit is presies hoe die satan regdeur die eeue gemeentes
en denominasies kaap en uiteindelik transformeer tot valse institusies wat
grootskaalse misleiding van die massas tot gevolg het. Ware dissipels van Jesus wat
hulleself bevind in sulke gekompromitteerde gemeentes en denominasies het nodig
om wakker te word en te sien wat besig is om reg voor hulle oë te gebeur.
Valse leringe en misleiding wat nooit deur vorige generasies aanvaar sou word nie,
word onder die invloed van die tydgees aanvaar en dan aanvaarbaar gemaak deur
kerklike kommissies en sinodes wat in baie gevalle lankal wegbeweeg het van die
Woord van God. Wanneer daar dan ‘n protes opgaan van ware dissipels van Jesus in
hierdie denominasies word die bose besluite as’t ware uitgestel vir ‘n tyd. Twee treë
vorentoe, maar net een tree terug. Dit is hoe die satan werk. So raak mense mos al
hoe meer familiêr met dwaling, totdat hulle dit heeltemal aanvaar. Moenie doodkook
in die pot nie. Spring uit. Die temperatuur in daai pot gaan nooit weer daal nie.

SEPTEMBER: BEDIENING EN LEIERSKAP IN CHRISTUS

DAG 1
DISSIPELS VAN MENSE
“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My
volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Johannes 8:12
Hoekom is dit dat so baie mense wat hulleself vandag Christene noem geestelik in die
donker rond tas en so maklik verward raak en net eenvoudig saamgaan met die
“winde van lering” wat hele gemeentes in ons tyd op ‘n dwaalspoor neem? In
Johannes 8 sê Jesus met absolute outoriteit die wat Hom volg “sal sekerlik nie in die
duisternis wandel nie”. Die frase wat ons maklik kan mis hier, omdat ons dink dit is
‘n gegewe, is “wie My volg”. Om Jesus te volg beteken dat my lojaliteit bo alles en
almal by Jesus en Sy Woord is. Al sou almal rondom my wegval, moet ek kan staan
onder die Here se heerskappy. Dit kan net gebeur as ek ‘n intieme, persoonlike
verhouding met Hom het en as daardie verhouding my mees kosbare kleinood is.
Miskien is dit omdat ons generasie derduisende dissipels van kerke en kerkleiers
151
maak, in plaas van dissipels van Jesus, dat daar soveel kompromie en afvalligheid is.
Hê respek vir goddelike en Bybelse leierskap, maar moenie dissipels van mense word
nie. Dan bou jy op stof. Bou eerder op die Rots wat vir ewig sal bly staan, Jesus
Christus.

DAG 2
DISSIPELS VAN JESUS
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…” Mattheüs 28:19a
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” Johannes 10:27
Ons mandaat is eenvoudig; maak mense dissipels van Jesus deur die Woord. Ons is
nie geroep om dissipels van kerkleiers of kerke te maak deur sielkundige en
sosiologiese druk en manipulasie of deur kerktradisie nie. Dissipels van Jesus lees self
die Bybel en leer so om Sy stem te hoor vir hulle eie lewens. Dissipels van kerke en
kerkleiers lees gewoonlik nie die Bybel vir hulleself nie, of anders baie min daarvan.
Dissipels van Jesus leer om te onderskei tussen die waarheid en dwaling en word nie
meegesleur deur elke “wind van lering” wat verbykom nie. Dissipels van kerke en
kerkleiers het nie onderskeidingsvermoë nie en gaan net saam met die stroom
wanneer dwaling hulle kerk of denominasie binnedring. Dissipels van Jesus is van die
begin af bereid om lering te ontvang van leraars en ander wat meer volwasse as hulle
is, maar hulle vind groot vreugde daarin om dan ook self die Bybel te ondersoek
m.b.t. wat hulle geleer is (Hand. 17:11). Sodoende groei hulle geestelik en word
volwasse in die Here. Dissipels van kerke en kerkleiers word nooit volwasse nie. Hulle
het ‘n ongesonde afhanklikheid van ‘n organisasie en die reputasie van menslike
leiers wat veroorsaak dat hulle nie self die Bybel lees, bestudeer, ondersoek en leer
om Jesus se stem vir hulleself te hoor nie. Dissipels van Jesus is onwrikbaar lojaal
aan Jesus alleen en aan Sy onfeilbare Woord. Hulle hanteer kerkleiers met respek,
maar nie met ‘n onvoorwaardelike lojaliteit wat Jesus se heerskappy in gedrang bring
nie. Dissipels van kerke en kerkleiers leef met ‘n verdeelde lojaliteit (tussen Jesus en
hulle kerk/leiers) en kan daarom nie opstaan teen die verkeerde en ‘n profetiese stem
wees binne ‘n kerk of denominasie wat die pad byster geraak het nie. Hulle kan nie
wanneer dit nodig is, onderskei tussen Jesus se stem en die invloed van hulle kerke
en leiers nie.
Dissipels van Jesus is wedergebore mense wat geestelik een is met Hom (1 Kor. 1:30).
Dissipels van kerke en kerkleiers is in baie gevalle nie eers wedergebore nie. Hulle
het nodig om hulle te bekeer en hulle geloof in Jesus alleen te plaas, nie in ‘n kerk,
kerkleiers of kerkdogma nie. Jesus vereis onverdeelde lojaliteit. Hy wil nie
kompeteer met kerke of leiers vir mense se aandag nie. Leiers is veronderstel om
Hom te verteenwoordig, nie te vervang nie! Hy roep jou en my om ons volle aandag
aan Hom te gee, Sy stem vir onsself te hoor in die Woord, en dit kinderlik te
gehoorsaam. Wees ‘n dissipel van Jesus. Dít is die enigste veilige pad en daar is geen
groter vreugde nie.

DAG 3
152
EEN HOËPRIESTER IN DIE HEMEL, MAAR ALMAL PRIESTERS OP AARDE

Volgens die Merriam-Webster Woordeboek behels die Priesterskap van Alle


Gelowiges die volgende:
'n Lering van die Protestantse Christelike Kerk: elke indiwidu het direkte toegang
tot God sonder ekklesiastiese (kerklike) bemiddeling en elke indiwidu het die
verantwoordelikheid om die ander lede van die gemeenskap van gelowiges te dien
en bedien.
Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik dat daar net een Hoëpriester is vir alle
gemeentes op aarde en dat elke gemeente op aarde soveel priesters het as wat sy lede
het.
"Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan
sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele." Hebreërs
8:1
"Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom.." 1 Petrus 2:9
"En ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die
heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." Openbaring 1:6
Die vraag is egter of die leer van die priesterskap van alle gelowiges werklik ywerig,
konsekwent en op alle terreine toegepas word vandag in evangeliese gemeentes?
Die briewe van die Nuwe Testament is hoofsaaklik geskryf aan gelowiges, nie leiers
nie. Nuwe-Testamentiese leierskap is radikaal Christus-gesentreerd en ten volle
lidmaat-gerig (Matt 23:8-12). Dit is daarop gerig om konstant en aanhoudend
gelowiges vas te maak aan Christus as hul Hoofleier en om gelowiges toe te rus om
dissipelmakers te wees. Dit is tyd vir ons om op te hou om bloot te praat van die
priesterskap van alle gelowiges en om dit werklik te begin toepas in ons
gemeentelewe.
Wat ons hier vir mekaar sê, verg ’n groot paradigmaskuif in die konteks van ons
huidige gemeentepraktyke, maar dit is van kardinale belang vir die uitvoering van
God se plan vir sy Gemeente. God se plan is eenvoudig en bedoel om deurdringend te
wees: Élke lid van die liggaam toegerus, élke lid in die Woord, élke lid radikaal
Christusgesentreerd en geaktiveer deur die evangelie en élke lid ’n dissipelmaker.
Totdat ons hierdie spesifieke doelwit het, mis ons die merk heeltemal en mors
kosbare tyd, selfs met al ons kerkprogramme, vergaderings, komitees,
opleidingskursusse en dies meer.

DAG 4
GESOEK: GEESTELIKE VADERS EN MOEDERS
As die hemel ‘n advertensie kon plaas in ons koerante sou dit waarskynlik so iets
gewees het soos die titel van vandag se stukkie.  Ons hemelse Vader soek mense wat
Sy Vaderhart kan verteenwoordig op aarde. 

153
Ons is nie net gered deur die bloed van Jesus om hemel toe te gaan nie, maar om te
groei en geestelik sterk te word sodat ons groot harte kan hê wat die evangelie bring
aan ander; hulle liefhet, omgee, sorg dra, genesing bring, vrede bewerkstellig,
versoening en verhoudingsherstel bring, ensovoorts.  Wie kwalifiseer vir dit?  Almal
wat die Gees van God in hulle het deur die wedergeboorte. 
Ons rolle mag verskil in die kerk en die koninkryk, maar ons kan almal geestelike
vaders of moeders wees as ons toelaat dat die Vader verruiming in ons binneste
bring.  Geestelike vaderskap is nie net bedoel vir pastore, dominees, evangeliste en
ouderlinge terwyl die res maar vir dekades lank geestelike babas bly nie.  In die
lewenssfeer waarin jy beweeg kan jy of een van hulle wees wat maar altyd hulp nodig
het, of maar net water trap en neutraal staan teenoor alles, of jy kan vir ander ‘n
trooster, bemoediger, waarheidspreker wees wat die Vader se hart verteenwoordig. 
Ja dis waar, soms is ons so oorweldig deur omstandighede dat ons liefde en troos van
ander nodig het, maar dit beteken nie jy kan nie opstaan in die krag van die Here en
dan ander begin help nie.  Wat weerhou jou daarvan om ‘n geestelike vader of moeder
te wees?  Miskien is dit net die manier wat jy dink oor jouself.  Die Vader sê jy kán in
Christus! Niemand kan dit in elk geval doen of wees vir ander buiten Christus wat in
ons leef nie.
“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook
rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.  Ek het trouens
niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig
nie.  Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.”
Filippense 2:19-21 

DAG 5
IS ONS BEKWAAMHEID WERKLIK UIT GOD?
“Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons
bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe
testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar
die gees maak lewend.” 2 Kor. 3:5-6
“En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle
ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as
metgeselle van Jesus herken.” Hand. 4:13
Een van die belangrikste vrae wat ‘n dissipel van Jesus ooit kan vra is: “Wat gee my
vertroue en vrymoedigheid om te getuig van Jesus, mense te bedien wat Hom nodig
het en om te kan praat en deel te neem tydens die samekomste van die gemeente?”
Anders gestel, “wat is die basis van my vertroue dat ek bruikbaar kan wees vir die
Here in bediening?” Is dit my welsprekendheid? Is dit dalk my geleerdheid? Is dit
my titel? Is dit my legitimering of die vertroue wat ander mense in my stel? Is dit my
aansien in die gemeenskap of die statuur van my ouers? Is dit my sterk of
charismatiese persoonlikheid? Is dit my jarelange ervaring of mensekennis? Is dit
my “people skills”. Elkeen van bogenoemde benaderings tot bedieningsvertroue sal
in Bybelse terme op ‘n bepaalde punt faal en geestelike steriliteit en onvrugbaarheid
154
tot gevolg hê. Dit is onvermydelik. Paulus was ‘n hoogs geleerde en begaafde man
wat in natuurlike terme baie gehad het om op terug te val, maar luister bietjie wat sê
hy van sy bediening in Korinthe: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in
veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike
wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor. 2:3-4). In die finale
analise is al wat saak maak my vertroue in Jesus en my gevolglike gehoorsaamheid
aan Sy stem. Wanneer Jesus jou roep vir ‘n spesifieke bediening, wanneer Hý jou
dring om te praat, te bedien of te getuig, en jy gehoorsaam Hom in kinderlike
afhanklikheid, is Hy verantwoordelik vir die wysheid, die krag en die vrug. Dit is dus
nie soseer jou bediening nie, maar Sý bediening deur jou wat van belang is. Dit is die
enigste soort bediening wat tel in die hemel en egte vrug dra op die aarde. Ons het
gans te veel krukke om op te leun en alternatiewe planne om op terug te val vandag.
Tyd om in geloof alles oor te gee in Jesus se hande en die resultate aan Hom toe te
vertrou. As jy nie slim, begaafd, geleerd, welsprekend, “belangrik” of in menslike
terme bekwaam is nie, vertrou Jesus en gehoorsaam Hom net in kinderlike
afhanklikheid. As jy wel slim, begaafd, geleerd, welsprekend en bekwaam is, doen
dieselfde, want dit is in elk geval net Jesus in en deur jou wat jukke breek en
geestelike deurbrake bring. Die Vader seën gehoorsaamheid aan Jesus!

DAG 6
JESUS IS ONS TEENWOORDIGE MENTOR
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle
beveel het.” Matt. 28:19
‘n Dissipel is ‘n leerder, ‘n lewenslange leerder. Die oomblik wat ek ophou leer, hou
ek op om ‘n dissipel te wees. Die groot onderwerp waaroor ons voortdurend meer
moet leer, is Jesus self! “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die
gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Paulus
sê hier in Filippense 3, sodat ek Hom “kan” ken. Die oomblik wat ek dink ek ken
Jesus nou en kan aanbeweeg na ander onderwerpe verras Hy my weer en openbaar
iets dieper van Homself. Elke moontlike teologiese onderwerp kan slegs vanuit Jesus
ten volle verstaan word. Min dinge is belangriker in ‘n dissipel se lewe as om gedurig
in gedagte te hou dat jou ware Leermeester Jesus Christus is en dat Hy jou volle
aandag te alle tye eis. Hy wil jou lei en leer. Hý is die goeie Herder van Psalm 23 en
Johannes 10, nie mense nie. Hy is deur Sy Gees te alle tye teenwoordig in jou en by
jou. Die Gees openbaar Jesus aan ons sodat ons Hóm in alles kan volg. Menslike
mentors en leraars mag nooit Jesus vervang as ons Mentor en Leermeester nie. Hulle
kan hoogstens die weg wys na Hom en ons geloof in Hom versterk deur Hom te
verkondig. Ons is nie dissipels van mense in ‘n absolute sin nie, maar net van Jesus
self. Jesus het nie opgevaar na die hemel en ons in die hande van menslike mentors
en leraars gelos, sodat ons van hulle totaal afhanklik moes word nie. Jesus is nie
afwesig nie. Hy is nou hier by ons en ons is te alle tye Sý dissipels, selfs al het ons die
beste moontlike menslike leraars wat ons help om ons geloof in Hom te plaas.

155
DAG 7
LOJALITEIT AAN JESUS ALLEEN

“Sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een
mond kan verheerlik.” Romeine 15:6

Wanneer daar verskille is in leringe en verskille in begrip tussen gelowiges en


gemeentes, laat ons begin waar God begin: by Sy Seun! Maak seker dat jy met alles
wat in jou is “onse Here Jesus Christus” in sy volheid omhels en Hom in alles eerste
stel, en die Heilige Gees sal jou sekerlik lei in die volle waarheid en jou help om saam
met ander dissipels van Jesus die Vader te verheerlik. Verdeelde lojaliteite is ’n baie
ernstige saak. Onderwerp jou onvoorwaardelik aan Jesus en aan sy Woord en maak
seker jou lojaliteit lê dáár en nie by mensetradisies, denominasionele dogmas of
watter ander saak ook al wedywer om sy Heerskappy in jou lewe nie. Sodoende sal Hy
jou lei op die pad van ware geestelike insig, seën en vrugbaarheid tot uitbreiding van
sy koninkryk. Gaan dink ’n bietjie na oor die volgende verse en die praktiese
toepassing daarvan.
“Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal
eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat
julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” 1 Korinthiërs
1:10
“As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as
daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is,
maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een
van siel, een van sin.” Filippense 2:1-2

DAG 8
NEDERIGHEID, GEBROKENHEID EN SWAKHEID MET 'N DOEL
"Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is
ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God."
2 Korinthiërs 13:4
Die kruisdood van Jesus Christus is die sentrale gebeurtenis van die Nuwe Testament
en van die hele Bybel. Net aan daardie kruis demonstreer God vir alle mense in alle
tye dat Sy krag radikaal anders werk as die bose magte van die duisternis en die
modus operandi van die gevalle mensdom. Sy krag "word in swakheid volbring" (2
Kor. 12:9).
Die hele Nuwe Testament getuig deurlopend van die andersom manier wat God dinge
gedoen kry op hierdie aarde. God werk deur nederigheid, gebrokenheid en swakheid.
Hy stel nie belang in menslike mag en posisie nie. Hy keer die wêreld om deur
eenvoudige vissermanne en wanneer hy 'n hoog-geleerde man soos Paulus aanraak
en uitstuur, stroop Hy hom eers geheel en al van sy eie wysheid en geregtigheid (sien
1 Korinthiërs 1 en 2).

156
God sal ons ook op geen ander manier gebruik in Sy diens nie. Wanneer 'n mens dit
begin verstaan val daar soveel menslike planne, organisasie en slimmigheid weg,
maar daar is 'n ander gevaar wat dan na vore tree. Ons kan so begin fokus op die
nederigheid, gebrokenheid en swakheid dat ons vergeet die doel van God met hierdie
gebroke voorwerpe/kruike is om Sý heerlikheid en krag bekend te maak. Laat ons die
volle werking van die kruis in ons lewens omhels, sonder om egter te vergeet dat ons
in geloof moet verwag dat die krag van die Heilige Gees ín hierdie proses na vore sal
tree in ons lewens. Gaan bietjie terug na die Nuwe Testament en let op hoe swakheid
en Goddelike krag altyd saam geloop het en 'n wonderlike manifestasie van Jesus in
allerlei omstandighede teweeg gebring het.

DAG 9
NIEMAND ANDERS KAN DIE PAD VIR JOU STAP NIE
"Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my
teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie
heil uit met vrees en bewing." Filippense 2:12
Die doel van mentors, preke, leringe en boeke is om jou op jou voete te plaas sodat jy
jou eie pad van geloof kan stap. Daar is duisende wat so afhanklik is van ander se
geloof dat hulle nooit op hulle eie voete kom en die pad self begin stap nie.
Ongelukkig is daar ook honderde bedieninge vandag wat mense hou op 'n plek van
onvolwassenheid en gedurige afhanklikheid van ander. Daardie bedieninge sou nooit
kon floreer as daar nie so baie was wat ander soek om die pad vir hulle te stap nie.
Staan op in geloof en begin om jou eie pad te stap. Hierdie opstaan kan net gebeur as
jy begin om self die Bybel te lees, glo en gehoorsaam. Net mense wat hulle eie Bybel
lees en verslind, stap hulle eie pad in geloof.

DAG 10
“ONS VERKONDIG NIE ONSSELF NIE”, OF DOEN ONS?

"Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die
Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en
saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke
afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing
in liefde." Efesiërs 4:15-16

Elke boek van die Nuwe Testament verkondig helder en duidelik die blye boodskap
dat Jesus alleen meer as voldoende is vir alles wat ons ooit sal nodig hê vir tyd en
ewigheid. Dit is die enigste basis vir dissipels van Jesus om in vrede, vreugde,
vryheid en oorwinning te leef in 'n gevalle wêreld. Juis daarom is die satan se
strategie altyd om op subtiele maniere hierdie boodskap te ondermyn en ons te
probeer oortuig dat ons iets moet byvoeg, dat Jesus alleen nie genoeg is nie. Die
waarheid is egter dat Jesus plus enigiets altyd lei tot die byvoeging minus Jesus. As ek
iets wil byvoeg by Sy volkomenheid sit ek op die ou end nie met meer nie, maar met
veel minder, eintlik met niks! Wat dan van Jesus plus die gemeente? Dit is sekerlik 'n
157
legitieme byvoeging?! Net hier stel satan een van sy slimste sette teen die kinders van
God in werking.

Die Nuwe Testament leer dat die gemeente uit Jesus en op Jesus, as die Rots, gebou
word; nooit dat die gemeente as 'n plus by Hom gevoeg moet word nie. Enige
gemeente of federasie van gemeentes wat aanspraak maak op ewige lewe of finale
outoriteit asof dit die eksklusiewe domein is van genoemde gemeente of gemeentes is
besig om iets by Jesus te voeg en ondermyn in werklikheid die koninkryk van God.
Selfs al is dit met die beste motiewe denkbaar. Die gemeente gee nie vir Jesus lewe
nie, Jesus gee die gemeente lewe. Die gemeente ondersteun nie vir Jesus nie, Jesus
ondersteun die gemeente. Die gemeente gee nie vir Jesus outoriteit nie, Jesus gee die
gemeente outoriteit. Dit is nie ons programme, planne en wonderlike organisasie wat
Jesus se invloed laat toeneem nie. Dit is Jesus wat deur Sy eie wysheid en krag
volgens Sy volmaakte wil rig en bestuur, die gemeente wat Hom alleen gehoorsaam.
Die lewe is nie in ons nie, dit is in Jesus. Die salwing is nie ons besitting asof ons in
onsself die wonderlike gesalfdes is wat vir almal kan lewe en rigting gee nie. Jesus is
die Gesalfde Een en daar is net werklik 'n salwing wat seën bring wanneer ons aan
Hom vashou en uit Hom bedien. Ons moet leer om fyn te luister na wat gemeentes
regtig probeer sê, want gemeentes wat hulleself en/of hulle leierskap probeer
promoveer is gesaai oor die landskap. Daarenteen is gemeentes wat ten doel het om
mense aan Jesus alleen te verbind en in Hom by volwassenheid te bring, so skaars
soos hoendertande. Die apostel Paulus het die standaard vir leierskap en gemeentes
baie duidelik gestel in 2 Korinthiërs 4 vers 5, “Want ons verkondig nie onsself nie,
maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.”

DAG 11
WARE BEDIENING EN BEDIENAARS
Dissipels van Jesus is vandag blootgestel deur die multimedia aan soveel verskillende
bedieninge en bedienaars.  Hoe gemaak om te onderskei en die egte te identifiseer? 
Daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word, maar hier is ‘n eenvoudige reël
wat die basiese fondasie van alle ware Nuwe Testamentiese bediening ondervang: 
“Ware bediening wys altyd weg van onsself en skuif die fokus op Jesus.”  Natuurlik
moet ons lewens en karakter Jesus openbaar, maar die fokus moet nooit ons en ons
wonderlike gawes en wye invloed wees nie.  Eerder Jesus en Sy kosbare Persoon en
bediening.   Johannes die Doper en die apostel Paulus is twee skitterende voorbeelde
van hierdie benadering.
Johannes 1:29  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê:
Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
Johannes 3:30  Hy moet meer word, maar ek minder.
2 Korinthiërs 4:5  Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here,
en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.

DAG 12

158
WARE OUTORITEIT IN DIE GEMEENTE VAN JESUS CHRISTUS

Die afgewaterde woorde en werke van vormgodsdiens is dikwels totaal gestroop van
alle ware outoriteit. Daarom is dit uiters belangrik vir dissipels van Jesus om die
kwessie van outoriteit in gemeentelewe reg te verstaan en onderskei. Outoriteit in die
Nuwe Testament is altyd 'n gedelegeerde kwaliteit wat vloei vanaf dié Outoriteit,
naamlik Christus die Hoof van die gemeente (Kol. 1:18). Ware outoriteit gaan nie in
die eerste plek oor posisies en titels nie, maar oor leiers se verhouding met Jesus en
dit wat (en veral Wie!) hulle dan gevolglik verteenwoordig. Let net kortliks op vier
aspekte van ware outoriteit in die Nuwe Testament. Die pre-eminensie (‘pre-
eminence, not just prominence’) van Christus in my hart, gesindhede, woorde, en
bediening, die plek wat sy Woord (die Skrif) in my hart, lewe en bediening beklee, die
sensitiwiteit vir sy Gees wat oomblik-vir-oomblik in my werk, en die ruimte wat ek
maak vir sý liefde as die praktiese gevolg van die werking van sy Persoon, sy Woord,
en sy Gees in my binneste. Die Persoon van Christus, die Woord van Christus, die
Gees van Christus, en die liefde van Christus verleen vir my ware outoriteit in
gemeentelewe. Sonder al vier hierdie kwaliteite toenemend teenwoordig in my lewe
en bediening beteken die mees prominente posisie en titel niks nie en het ek nié ware
outoriteit in die koninkryk van God nie, want ek verteenwoordig dan net myself en
nie die lewende Christus nie.

DAG 13
WIE SE HUIS BOU JY OP HIERDIE AARDE?

"So spreek die HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom,
die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie. So het die woord van die
HERE dan gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê: Is dit vir julle self
wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?"
Haggai 1:2-4

In 'n sin is hierdie woorde van Haggai verteenwoordigend van alles wat die profete in
die Ou Testament en die apostels van die Nuwe Testament aan God se mense wou
oordra. God se plan is om op hierdie aarde Sy heerlikheid bekend te maak deur Sy
mense, wat Sy huis en tempel is. God bou vandag mense se lewens tot Sy heerlikheid.

"So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die
heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en
profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed
saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou
word tot ‘n woning van God in die Gees." Efes. 2:19-22

God bou ons op as Sy huis en tempel deur ons bedieninge aan mekaar in eenheid en
liefde (Efes. 4:1-16). Dit beteken egter dat ons eerstens 'n diepe besorgdheid moet hê
vir die opbou van God se huis en dat ons tweedens beskikbaar moet wees vir hierdie
bouwerk met die gawes en bedieninge wat God ons gegee het. Is dit nie die boodskap
van die Bybel nie?
159
Maar wat sien ons vandag? Die boodskap is totaal verdraai en vervorm. Nou gaan dit
oor die Here wat bestaan om my huis te bou, in plaas van ek wat bestaan om Sy huis
te bou! Nie net roep ons mense nie op om hulle tyd en gawes te gee vir die bou van
God se huis nie, maar ons gaan verder en leer hulle dat God eintlik net besorg is
daaroor om húlle huise te bou en te seën. Dit is verkeerde kant om. Hier is God se
orde.

"Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal
vir julle bygevoeg word." Matt. 6:33

God se oordeel rus op daardie verdraaide boodskap. Waar staan ek en jy? Oor wie se
huis is ons besorgd?

DAG 14
DIE GESAG VAN DIE GEES
Jesus het nie ingepas in die gesagstruktuur van Israel se godsdiens-sisteem nie. Hy
was nie in hulle teologiese skole nie en het nie die korporatiewe leer geklim om 'n
"vername leraar" te word wat offisiële erkenning het nie. Hy het opgetree in opdrag
van die Vader deur die gesag en krag van die Heilige Gees.
"En op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die
evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die
ouderlinge by Hom staan, en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter
gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?" Lukas
20:1-2
In lyn met Sy eie geestelike loopbaan en bediening gee Jesus Sy dissipels opdrag om
te wag vir die toerusting van die Heilige Gees, die krag uit die hemel (Hand. 1:8),
voordat hulle kon bedien met ware gesag.  Weereens is die gesagstrukture van
vormgodsdiens geïntimideer:
"Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in
Jerusalem bymekaar, ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en
Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; en toe hulle hul
voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit
gedoen? Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle..." Hand. 4:5-8a
En so loop die storie konsekwent regdeur die geskiedenis van die kerk en tot vandag
toe nog. Wanneer gewone mense begin om in die krag van die Heilige Gees op te tree
en te bedien, raak die masjinerie van godsdiens omgekrap en wil dit onder offisiële
beheer bring. Vormgodsdiens van watter aard ookal sal altyd probeer om te
sentraliseer en beheer om die mag in eie hande te hou. Maar 'n mens kan nie die
Heilige Gees sentraliseer en beheer nie. Die Heilige Gees hoef nie toestemming te kry
by ons institusies om te werk en op te tree nie. Hy is God en kan maak net soos wat
Hy goeddink. Ons is nie die "gatekeepers" vir die werking van die Gees nie. Dit is
ontsettende arrogansie om te dink dat ons as mense sulke mag het.

160
Ware dissipels van Jesus is nie anti-gesag nie, maar hulle ore en oë is akuut ingestel
om die gesag van die Heilige Gees in elke situasie te onderskei en gehoorsaam.
"Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy
kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is." Johannes
3:8

DAG 15
“BROERS” EN “DIENAARS” PROBEER NIE BEÏNDRUK MET TITELS NIE
“Een is julle leermeester…julle is almal broeders.” Sjoe! Eina! Jesus sny met die
vlymskerp swaard van die Gees deur die godsdienstige hiërargie van Sy tyd en gee vir
ons in ‘n paar kort stellings die radikale bloudruk vir leierskap in die koninkryk van
God. Onthou dit is Jesus self aan die woord hier: “En hulle hou van die voorste
plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op
die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar julle, laat
jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal
broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle
Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie,
want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar
wees.” Mattheüs 23:6-11
Dit is die gesalfde Koning van God wat vir Sy dissipels met gesag instruksies gee oor
hoe outoriteit en leierskap moet funksioneer in die nuwe era wat aangebreek het met
Sy koms na die aarde. Dit is Sy duidelike instruksies aan al Sy dissipels vir alle tye.
Dit is nie voorstelle wat ons maar net kan ignoreer of wegredeneer, omdat ons reeds
‘n ander kultuur in ons gemeentes gevestig het nie. Nee, ons moet ons kultuur
dringend aanpas by wat ons Koning en Meester leer. Jesus verklaar onomwonde en
sonder om woorde te mors dat Hy die een unieke Rabbi en leermeester is aan wie
almal verslag moet doen en dat ons status, ongeag ons bediening of rol, altyd net die
van ‘n “broer” en ‘n “dienaar” bly. Ons leef in ‘n tyd waar mense ander probeer
beïndruk en poog om ‘n gesagsposisie te vestig deur hulleself “apostel”, “profeet”,
“evangelis”, geestelike “vader” of iets dergeliks te noem. Vroeër jare was dit primêr
“pastoor” of “dominee” wat die godsdienstige hiërargie in Protestantse gemeentes
bepaal het. Maar of dit nou apostel, profeet, pastoor of leraar is, dit is in wese
funksies in die koninkryk, nie titels nie. In die koninkryk van God is dit nie soos in
die wêreld ‘n titel of ‘n formele posisie of aanstelling wat respek vestig en handhaaf
nie, maar ons oortuiging dat Jesus ons álmal se Hoof is en dat ons daarom met
nederigheid as broers aan mekaar onderdanig moet wees en mekaar se verskillende
rolle in die koninkryk moet eer. Dit is eers wanneer ons oë oopgaan om te sien dat
Jesus steeds teenwoordig is deur Sy Gees vandag en nie Sy gemeente in die hande van
mense gelos het nie (al gebruik Hy mense as instrumente) dat ons skrifgedeeltes soos
Mattheüs 23 werklik ernstig sal begin opneem.

DAG 16
DIE GOUDSTANDAARD VIR LEIERSKAP
161
"Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na
hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan
hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, maar ek minder." Joh. 3:29-
30

Hierdie woorde van Johannes die Doper is 'n pragtige voorbeeld van die hart van alle
Nuwe Testamentiese leierskap. Dominees, pastore, ouderlinge, leraars, evangeliste of
apostels is nie die bruidegom nie en durf nie die gemeente aan hulleself verbind asof
hulle die bruidegom is nie. Hulle is hoogstens vriende van die bruidegom wat hulle
verbly oor Sy stem wat al hoe meer prominent raak in mense se lewens. Dieselfde
geld ook vir enigiemand wat 'n pad van dissipelskap met iemand stap. Niks behoort
iemand wat 'n leierskaprol het blyer te maak as om te sien hoe Jesus meer raak in
iemand se lewe en hulle minder nie. Johannes die Doper se stelling is in hierdie
verband die goudstandaard vir leierskap. Een ding is glashelder duidelik wanneer
ons oor leierskap/dissipelskap praat; as Jesus 'meer word', gaan jy 'minder word' en
as jy 'meer word' gaan Jesus 'minder word' vir mense met wie jy 'n pad van
dissipelskap stap. Om 'minder te word' beteken nie dat jou verhouding met mense in
enige sin skade ly of dat jy nie meer jou unieke rol in die gemeente moet vervul nie.
Dit beteken liewer dat mense jou gawes en vaardighede al minder raaksien omdat
hulle so oorweldig is met die lieflikheid van Jesus en Sý kosbare bedieninge aan die
gemeente.

DAG 17
DIE HEERLIKE VERLOSSING UIT MENSLIKE GODSDIENS-SISTEME

"En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg
hom, omdat hulle sy stem ken."  Johannes 10:4

Die dag wat 'n ware dissipel werklik sien dat hy reeds alles in Jesus ontvang het wat
hy ooit sal nodig hê vir hierdie lewe en die volgende, verander alles.  Geen
manipulasie of intimidasie kan jou dan geketting hou aan menslike godsdiens-
sisteme nie.   Geen dreigement of omkoopgeskenk kan jou meer terughou nie.   Geen
skuld of veroordeling van godsdienstige mense kan jou meer gekluister hou in die
klooster van ‘n ambisieuse leierskap se individualistiese visie en agenda nie.  Geen
humanistiese gepaaiery of slim truuks van die sielkunde kan jou flous of oortuig om
te kompromitteer nie. 

Jy volg Jesus alleen voortaan in die vryheid van die kinders van God, om Hóm te dien
saam met ander dissipels wat net onder Sý juk wil staan.  Jésus se visie en agenda is
nou jou een passie;  ‘n passie wat jy deel met ander dissipels in liefdevolle
onderdanigheid aan mekaar onder die heerskappy van Jesus (Efes. 5:20-21).

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle
nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."  Galasiërs 5:1

"Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die
Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want

162
hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God."  Johannes 12:42-
43

"Want my juk is sag en my las is lig."  Mattheüs 11:30

DAG 18
DIE LEIERSKAP WAT VRYHEID, VREUGDE EN VRUGBAARHEID BRING
"Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een
man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." 2 Korinthiërs
11:2

Paulus het vurig geywer vir die gelowiges wat onder sy bediening gestaan het, maar sy
ywer was om hulle aan Jesus te verbind, nie aan homself nie. Hierdie vers herinner 'n
mens dadelik aan Johannes die Doper se bedieningsfilosofie.

"Hy moet meer word, maar ek minder." Johannes 3:30

So eenvoudig en verfrissend, is dit nie? Wat 'n lafenis om mense net heeltyd te wys
op die absolute gesag van Jesus deur Sy Woord en Gees! Ons kan voorbeelde wees
van Jesus, maar nooit plaasvervangers nie. In 'n sin kan 'n mens sê ons kan Jesus
wys vir mense, maar nooit Jesus wees vir mense nie. Ons het nie nodig om dit te
doen nie, want Hy is teenwoordig deur Sy Gees. Ons moet Hóm bedien aan mense,
nie onsself nie.

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle
diensknegte om Jesus wil." 2 Korinthiërs 4:5

As jy 'n leier is wat Jesus probeer wees vir mense, haal die las van jou skouers af en
wys Hom liewer vir mense. Dit is baie meer effektief en nie naastenby so uitputtend
nie. As jy leiers volg asof hulle Jesus is, staak dit en kry jou oë liewer op Jesus self.
Hy is nie afwesig nie. Hy leef in jou.

DAG 19
DIE LIEFDE DIEN VOOR DIT LEER

Voordat Jesus sy diepste lering oor genade gegee het (Joh. 14-17), het Hy Homself
omgord en Sy dissipels se voete gewas. Hier is 'n ontsaglike belangrike les. Die ouer
boetie wat sy jonger boetie wil leer, maar nie wil dien nie is besig met 'n 'projek' wat
nooit sal werk nie. Die liefde dien voor dit leer. Groter volwassenheid in Christus
plaas die onus op die volwasse dissipel om te dien en selfs te ly ter wille van groter
begrip by die 'jonger boetie'.

DAG 20

163
DIE WARE WOLWE TEEN WIE ONS MOET WAAK
"Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die
kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met
leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei." Handelinge 20:29-30
Die satan kom soos 'n engel van die lig (2 Kor. 11:14). Sy misleiding is subtiel. Sy
misleiding is dikwels binne-in gemeentes, onder die kudde, deur dit wat so 'normaal
en liefdevol' voorkom. Paulus se bediening is by uitstek 'n voorbeeld van die veilige
benadering wat ons waaksaam en weerbaar kan maak teen hierdie gevaarlike
misleidings. Paulus was 'n geroepe apostel en 'n baie sterk leier, maar ten alle tye het
hy sy uiterste bes gedoen om mense dissipels van Jesus te maak, nie van homself nie.
Tog is Paulus in sy eie tyd gedurig aangeval deur leiers wat gepoog het om gelowiges
onder hulle eie invloed te hou, terwyl hulle óók die naam van Jesus gebruik het, let
wel!
Hulle het waarskynlik vir Paulus 'n wolf genoem wat gelowiges voor versigtig moet
wees. Maar wie was die ware wolwe? Leiers wat hulle lewe gee om mense ware
dissipels van Jesus te maak wat aan Hom alleen lojaal is, is nie die wolwe nie. Die
wolwe is die leiers wat subtiel gelowiges se lojaliteit verdeel tussen Jesus en hulleself,
kerke, tradisies, en historiese figure. Wees wakker, alles is nie soos dit voorkom in
hierdie lewe nie. Onderskei vir jouself of leiers en kerke werklik mense dissipels van
Jesus maak en of hulle hul dissipels van hulleself maak. Daar is iets soos lojaliteit aan
die mense saam met wie ek 'n pad stap en respek vir leierskap, maar daardie lojaliteit
en leierskap is áltyd ondergeskik aan my eksklusiewe en radikale lojaliteit aan Jesus
alleen.
Hou ook net in gedagte dat daar onkunde by sekere leiers kan wees, omdat hulle dalk
self geskool is in 'n sisteem wat mense dissipels van ander mense en van kerke maak
en nie van beter weet nie. Dit beteken dan egter nie dat ons nie reguit kan praat met
sulke leiers en kan toets waar hulle in werklikheid staan nie. Dit is nie opsioneel nie.
Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid.

DAG 21
DOMINEE-PASTOOR MOSES

Een van die kosbaarste, indien nie díe kosbaarste, voordele van die nuwe verbond is
dat ons direkte toegang tot God het deur die bloed van Jesus en dat ons geen ander
middelaars nodig het nie.

“Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens
Christus Jesus.” 1 Timotheüs 2:5

Elke ware dissipel van Jesus is ‘n priester wat daagliks voor God mag verskyn om in
te tree vir mense by God. Ons het onmiddellike toegang tot die heilige en geestelike
realiteite in die ware tempel in die hemel.

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom…” 1 Petrus 2:9a

164
Maar ongelukkig is die oeroue instink van die gevalle mens om sy
verantwoordelikheid, en verstommende voorreg in hierdie geval, af te skuif op
sogenaamde “spesiale geroepenes” steeds sterk teenwoordig in ons midde.

“En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die
rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan.
En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God
nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.” Eksodus 20:18-19

Wat ‘n wonderlike seën om die Heilige Gees in en by jou te hê om jou persoonlik te


leer elke keer wat jy die Bybel optel. Ja sekerlik is daar leraars en predikers vir die
gemeente gegee om ons te help om die kosbaarhede van die Skrif toenemend vir
onsself te ontdek (Efes. 4:11), maar hulle was nooit bedoel om die Heilige Gees te
vervang nie!

Die dominee, pastoor, apostel of profeet gaan nie eendag in ons plek staan voor God
nie en ons gemeente of denominasie gaan ook nie pa staan vir ons nie. Jy gaan alleen
daar staan en self verslag gee van jou eie lewe en verhouding met Jesus en omgang
met die Bybel, of nie, op hierdie aarde.

Want elkeen sal sy eie pak dra.” Galasiërs 6:5

Laat ons baie seker maak dat ons geloof en wandel direk en persoonlik met Jesus is
en nie met allerhande plaasvervangers nie.

DAG 22
IS ONS WERKLIK DISSIPELS VAN JESUS?

'n Ware dissipel van Jesus is iemand wat in die mees intieme verhouding denkbaar
met Jesus self, bo alle ander, leef. Dit is iemand wat Jesus se stem ken (Joh. 10:4, 27)
en wie se gewete aan Jesus gebind is bo alle ander op hierdie aarde.

Geen gemeente, leier of leiers mag op hierdie heilige grond indring nie, maar mag
hoogstens die dissipel se vertroue in hierdie verbintenis met Jesus versterk. Toe Jesus
die opdrag gegee het dat Sy eerste dissipels van al die nasies dissipels moet maak, het
hulle baie goed verstaan dat hulle opdrag was om mense se verhouding met JESUS te
vestig en versterk. Hulle het nie probeer om mense dissipels van hulleself te maak
nie.

Handelinge 9 vers 1 sê Paulus het die "dissipels van die Here" vervolg, nie die
dissipels van Petrus of Jakobus nie. Nadat hy self 'n dissipel van Jesus geword het,
waarsku hy in Handelinge 20 vers 30 dat daar manne sal wees wat dissipels gaan
wegtrek "agter hulle aan" en in Galasiërs 4 vers 17 dat diesulkes se doel is om
dissipels "vir hulleself" te laat "ywer".

Enige leier, gemeente of denominasie wat mense se gewetes aan hulleself probeer
bind in plaas van aan Christus en Sy Woord is besig om dissipels "weg te trek" van
Jesus af, selfs al gebruik hulle Sy naam en haal skrifte aan. Toets jou hart en maak
seker dat jou gewete net aan Jesus en Sy Woord gebind is. Slegs diegene wat mense se

165
vertroue in Jesus alleen vestig en versterk en hulle anker in Sý Woord is ware
dissipelmakers. Alle ander is besig om teen God se meesterplan met die mensdom te
werk, selfs al doen hulle dit in onkunde en met goeie motiewe.

DAG 23
JY IS NOU OOK ‘N PRIESTER!

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk


as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis
geroep het tot sy wonderbare lig.” 1 Petrus 2:9

In die Ou Testament het net die stam van Levi priesterdiens verrig en met die heilige
dinge van die tempel gewerk. Die res van Israel het hulle dag tot dag lewens as’t ware
“op ‘n afstand” van die tempel gelei. In die Nuwe Testament is álle dissipels van
Jesus egter priesters en werk daagliks met die heilige dinge van die tempel, want ons
is “in Christus” en Hy in ons. Ons sit saam met Hom in hemelse plekke en ons lewe is
saam met Hom verborge in God. Nie net ons diens nie, maar onsself is afgesonder vir
God! Daarom word ons “heiliges” genoem in die Nuwe Testament en het ons ook die
onuitspreeklike voorreg om God se tempel te wees waarin Hy woon (1 Kor. 6:19; Gal.
2:20). Vir wedergebore mense bestaan daar dus nie meer so iets soos ‘n sekulêre lewe
van Maandag tot Saterdag en ‘n geestelike lewe op ‘n Sondag nie. Elke dag, ja selfs
elke oomblik, is ons in die teenwoordigheid van God en verwag Hy van ons om
priesterdiens te verrig in alles wat ons sê en doen. Al het ons verslkillende funksies in
die gemeente, bestaan daar ook nie vir ons so iets soos predikante, dominees, pastore
en ouderlinge wat op ‘n spesiale manier priesterdiens verrig nie. Nee, ons is in
werklikheid almal priesters. Die funksies verskil, maar die werklikheid van ons
afsondering vir God in Sy heilige teenwoordigheid is vir ons almal presies dieselfde
onder ‘n Nuwe Verbond. Dit is tyd dat ons as gemeente van die Here wakker word en
begin leef in ons roeping. Waar jy ookal beweeg is jy ‘n priester-ingenieur, ‘n
priester-besigheidsman, ‘n priester-huisvrou, ‘n priester-trokbestuurder, ‘n priester-
argitek, ensovoorts. Op Sondae vergader ons as ‘n gemeente van priesters om saam
die heerlikheid van God te beleef, nie om terug te sit en te kyk hoe een “priester”
(pastoor/dominee) funksioneer nie. Ons bring almal wanneer ons vergader heilige
offers (Rom. 12:1; Fil. 4:18; Heb. 13:15), hef heilige hande op, en spreek heilige
gebede en woorde in God se teenwoordigheid; indien nie almal hoorbaar nie, dan wel
in ons harte.

DAG 24
KAN LEIERSKAP 'N VLOEK WORD?
Jesus het nie gesê "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek stuur vir julle apostels,
pastore en dominees" nie, maar:
”Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe." Johannes 14:18

Na die uitstorting van die Heilige Gees op die dag van Pinkster ontvang elke ware
dissipel van Jesus onmiddellik die Gees van Christus by die wedergeboorte. Ons
verhouding met Jesus is van daardie oomblik af persoonlik en direk. Daarom is enige

166
vorm van dissipelskap of leierskap wat mense nie toenemend bewus maak van hierdie
direkte verhouding met Jesus nie totaal uit voeling met die hele gees van die Nuwe
Verbond.

Ons hoor baie van bevryding vandag. Laat my toe om 'n radikale stelling te maak. Die
mees algemene bevryding wat die meeste mense in gemeentes vandag nodig het, is
bevryding van die soort verhouding met gemeenteleiers wat net Jesus se prerogatief
is! Hy alleen is die Middelaar, Verlosser en Hoof van Sy gemeente. Hy wil elkeen van
Sy kinders persoonlik bedien en persoonlik ken in 'n groeiende en lewende
verhouding. As leierskap in gemeentes hierdie verhouding met Jesus belemmer in
plaas van bevorder word dit 'n vloek en nie 'n seën nie.

DAG 25
LEIERSKAP IN DIE LIG VAN CHRISTUS

“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle
Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt. 5:16

Dit gebeur so maklik dat die wêreld se idees oor ‘n onderwerp insluip in die manier
wat ons dink daaroor.  Leierskap is een van die areas waarin ons dikwels ongemerk ‘n
vermenging van Bybelse en wêreldse idees handhaaf, met rampspoedige gevolge. 
Jesus het die mees radikale invloed op die geskiedenis gehad, sonder dat Hy ooit ‘n
formele posisie beklee het.  Sy leierskap het dus alles te doen gehad met sy Goddelike
invloed.  Nuwe Testamentiese leierskap is op presies hierdie beginsel gebou. 
Wanneer die lewe en karakter van Christus in ons gestalte kry, kán ons nie anders as
om ‘n invloed op mense uit te oefen nie.  In daardie sin is ons dus almal leiers binne
‘n spesifieke invloedsfeer.  Die teendeel is egter ook waar.  As jy ‘n formele posisie van
leierskap beklee, maar jy tree nie op in die karakter van Christus nie is jy nie besig om
enigiemand te lei in die Bybelse sin van die woord nie.  Ongeag of ons dus bekend
staan as ‘n “leier”, ‘n formele leierskap posisie beklee, of nie een van die twee nie, as
ons reg dink oor leierskap sal ons besef dat die karakter van Christus deur ons áltyd ‘n
invloed op ander het.   Miskien het die tyd aangebreek vir ons om die Nuwe
Testament se radikale openbaring van leierskap in die lig van Christus te omhels en
ons eie te maak.  Moenie jouself meet aan die wêreld se standaarde van leierskap nie. 
Maak liewer seker dat die karakter van Christus gestalte vind in jou op al die terreine
waar jy beweeg en dáárdie voorbeeld sal ‘n invloed hê wat ver bo jou verwagting kan
uitkring, en dit alles vir Jesus se eer en die verheerliking van sý Naam.

DAG 26
PRIESTERSKAP VAN ALLE GELOWIGES - REGTIG?

In 1 Korinthiërs 11 tot 14 reguleer Paulus met die apostoliese gesag wat God vir hom

167
gegee het die samekomste van die gemeente in Korinthe. Al het ons nie noodwendig
dieselfde probleme in ons samekomste as wat hulle gehad het nie geld die beginsels
wat hier verwoord is vir die samekomste van alle gemeentes in alle tye en alle kulture.
Ek wil net een vers uit hierdie vier hoofstukke vandag onder jou aandag bring.

"Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van
julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot
stigting geskied." 1 Korinthiërs 14:26

Hier sien ons dat Paulus die punt wil maak dat alles wat in die gemeente se
samekomste gebeur tot stigting moet wees. Dit moet die gemeente opbou in Christus
en geestelike groei bevorder. Let op dat dit die vierde keer is wat Paulus in hierdie
hoofstuk die beginsel van onderlinge "stigting" beklemtoon (sien verse 3, 5 en 12).

Voor hy egter weereens "stigting" beklemtoon, sien ons dat hy 'n aanname maak. Hy
neem aan (beskou dit as die abolute norm) dat al die gelowiges gereed is om deel te
neem in die samekoms van die heiliges..."wanneer julle saamkom, dan het elkeen
van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging..". Is dit
vandag nog die norm in ons samekomste? Maak ons enigsins ruimte vir gelowiges
om deel te neem in ons dienste en kleingroepe met woord én lied?

Ons bely dat ons glo aan die priesterskap van alle gelowiges onder 'n nuwe verbond (1
Pet. 2:9). Daardie belydenis beteken absoluut niks as ons dit nie in die praktyk
toepas nie. Dan sou dit veel beter wees om liewer net te sê ons glo steeds dat 'n
spesiale, professionele priesterklas (pastore en dominees) verantwoordelik is vir al
die "stigting" wat plaasvind in ons samekomste. Ten minste is ons belydenis en
praktyk dan in ooreenstemming.

DAG 27
DIE WÊRELD IN DIE KERK
Wat is die groot verskil tussen die wêreld en die kerk en hoe kan ons onderskei of die
wêreld gemeentes of denominasies binne gedring het?
"Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar
en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet,
sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en
by hom woning maak.” Johannes 14:22-23

Ware dissipels bewaar die woord van Jesus. Dit is so eenvoudig soos dit. Jesus self
het hierdie standaard gestel en die toets vir ons liefde neergelê. As ons sê ons is lief
vir Jesus moet ons ook lief wees vir Sy woord. Ons kan en mag nooit Jesus skei van
Sy woord nie.

Dit gaan ook nie in die eerste plek oor die verdediging van ons groep of denominasie
se leerstellings nie, maar oor absolute lojaliteit aan Jesus en kinderlike
gehoorsaamheid aan dit wat die Vader ons self leer uit die Bybel. Kortliks, as ons bely
168
dat Jesus die Here is, sal absolute onderwerping aan Sy woord die kenmerk van ons
lewens wees. Daar is so 'n grootskaalse vermenging van die kerk en die wêreld in ons
generasie dat hierdie stelling van Jesus in vers 23 dringend ons aandag eis.

DAG 28
EEN-DIMENSIONELE GENADE

Daar word vandag baie gepraat oor die verkondiging van sogenaamde "hyper-grace".
Dit is 'n boodskap wat klem lê op die genade van God en al die voorregte van
verlossing sonder om terselfdertyd ook die verantwoordelikhede van verlostes te
beklemtoon. Dit is inderdaad 'n groot probleem in ons tyd, maar miskien is dit beter
om te praat van "een-dimensionele genade".

Genade is per definisie "hyper". Dit is amper onmoontlik om te veel te maak van die
openbaring van God se genade in Christus. Dit is iets wat ons vir alle ewigheid gaan
fassineer en vreugde verskaf. Die taal van die Nuwe Testamentiese skrywers m.b.t.
genade is asemrowend. Daarom moet ons so versigtig wees dat ons nie opstaan teen
sogenaamde "hyper-grace" en dan in die proses die Nuwe Testament se
verstommende openbaring van genade misken nie.

Die probleem met die verkondiging van een-dimensionele genade is dat dit net bly by
die eerste aspek van genade, naamlik ons stand in die geregtigheid van Christus en
die voorregte van kindskap wat daarmee saamgaan. Die boodskap van genade is
egter bedoel om ons deur hierdie nuwe geregtigheid in Christus in te lei in 'n heilige
lewe en 'n konstante geestelike groei wat ons daaglikse lewens wesenlik sal verander.
Dit is dus nie net ons stand in Christus wat afhanklik is van genade nie, maar ook ons
wandel. Hier in Titus 2 maak Paulus dit baie duidelik dat dit juis genade is wat ons
leer om heilig te lewe.

"Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die
goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom
in die teenwoordige wêreld te lewe." Titus 2:11-12

Die antwoord is dus nie 'n wegbeweeg van die boodskap van genade nie, maar liewer
die volle prediking van genade met die oog op 'n heilige lewe en geestelike
volwassenheid.

DAG 29
MOENIE OORDEEL NIE?
Jesus het nie gesê ‘jy mag nie onderskei tussen reg en verkeerd of tussen sonde en
gehoorsaamheid, ens.” nie.  In dieselfde gedeelte waar Jesus sê “moenie oordeel nie”
(Mt. 7:1) sê Hy net bietjie verder aan “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en
gooi julle pêrels nie voor die varke nie …” (v.6a).  Hoe gaan ek weet wie hierdie
persone is sonder om te onderskei? 

169
Die “oordeel” wat Jesus van praat in vers 1 het te doen met die opstel van myself as ‘n
regter oor ander mense i.p.v. om eers myself onder die oordeel van die evangelie te
plaas (v.5a) en dan ander te help om dieselfde te doen (v.5b).  Vir seker is die groot
appél van die evangelie dat ons mense moet liefhê, maar ware liefde poog om mense
te help om onder die Woord van Christus te kom staan sonder om jou eie posisie op
te gee of te kompromitteer.  

DAG 30
DIE DIOTREFES EPIDEMIE

Ware en geldige leierskap in gemeentes erken die Hoofskap van Christus en Sy gesag
deur middel van die Bybel in die praktyk, nie net as 'n teorie nie.

Enigiemand wat kriewelrig raak wanneer die fokus op Christus se absolute gesag in
die gemeente geplaas word, wat gedurig hamer op gesag en onderwerping, wat tot
vervelens toe praat van “covering” en wat begin om mense geestelik te intimideer en
manipuleer wanneer hulle opstaan in hulle eie bedieninge en gawes is
vanselfsprekend deurtrek met die gesindheid van ‘n Diótrefes:

“Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil
wees, steur hom nie aan ons nie.” 3 Johannes vers 9
Diótrefes was ‘n leier in die gemeente wat die apostel Johannes aan skryf. Hy was
waarskynlik ‘n dinamiese man met ‘n sterk persoonlikheid wat sy eie gesag opgestel
het , onafhanklik van die apostels in die antieke kerk. Ons weet nie veel van hom nie,
maar genoeg om sy gesindheid en benadering tot geestelike leierskap te identifiseer
en te weerlê sou dit in ons gemeentes sy verskyning maak. Twee dinge is duidelik uit
ons teks: Hy wou die kitaar slaan in die gemeente en hy het die instruksie en gesag
van die apostels ignoreer.

Hoe moet ons dit interpreteer vir vandag? Eerstens moet ons sekerlik erken dat ons
hele "clergy -laity" sisteem vandag homself wawyd oopstel vir die gees van Diotrefes.
Diotrefes sou homself heerlik kon uitleef in ons hedendaagse gemeentes en ons sou
waarskynlik nie eers gedink het daar is iets fout nie. Of dalk ís ons gemeentes werklik
vol Diotrefese en ons identifiseer net nie die probleem nie?

Tweedens is die gesag van die apostels van die Nuwe Testament vandag net op een
plek te vinde en dit is in die geskrewe Nuwe Testament. Enigiemand wat dus die reg
van ander gelowiges in ‘n gemeente om ook vir hulleself die Skrif te ondersoek,
ondermyn of wat die gesag van die Bybel ignoreer en homself as gesag aanstel oor die
Bybel is ‘n moderne Diotrefes.

"Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en
julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie,
want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie
leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus." Mattheüs 23:8-
10

170
Ongelukkig, as ons moet eerlik wees, is die meeste van ons leierskapstrukture vandag
"Diotrefes strukture" wat die geestelike groei van die individuele dissipel van Jesus
subtiel ondermyn. Dit nooi as’t ware hierdie dominerende gees uit om homself tuis te
maak in ons gemeentes. Verder is die hele Nuwe Apostoliese Reformasie (die
sogenaamde NAR) ‘n baie aggressiewe beweging wat ‘n heel nuwe dimensie gee aan
die Diotrefes probleem in gemeentes. Dit promoveer skaamteloos die Diotrefes
model van leierskap op 'n streeksvlak (trans-lokaal) en die meeste gelowiges en selfs
leiers in plaaslike gemeentes is salig onbewus van wat aan die gang is.

Die NAR is obsessief oor leierskap en dit verkondig en versprei "apostoliese gesag"
deur die tekste oor apostels in die Nuwe Testament net so toe te pas op hedendaagse
"apostels". Die apostel se woord is dan wet en as't ware gelykstaande aan die Bybel in
die praktyk van hierdie gemeentes. Dit is niks anders as 'n volskaalse Diotrefes
epidemie nie en dit het die potensiaal om die persoonlike verhouding van dissipels
met Jesus radikaal te ondermyn. Dit is in 'n sin 'n nuwe vorm van Rooms Katolieke
leierskap en ons moet dit dringend afwys en verwerp op Bybelse gronde.

OKTOBER: MY LEWE OP AARDE IN EENHEID MET CHRISTUS

DAG 1
DIE MITE VAN SELF-VERBETERING
"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Matt.
11:28
Een van die grootste mites wat skuil in die gevalle menslike psige is die idee dat ek
myself eers moet verander, om aanvaarbaar vir God te wees, en gevolglik kan ek leef
in verhouding met Hom.  Eintlik is dit presies andersom.  As mens mooi dink daaroor
besef jy hoe absurd die gedagte is dat ek myself eers moet 'red' en dan sal ek kwansuis
waardig wees om die bloed van Jesus vir myself toe te eien.  As ek myself kon
verbeter, hoekom het ek nog vir Jesus nodig?  Jy het in elk geval nie die vermoë om
jouself te verander nie.  Dit geld beide dissipels van Jesus en die wat nog nie Sy
aanbod van lewe aanvaar het nie.  Ons nader God net soos ons is op grond van die
bloed van Jesus, maar ons sal vir seker nie blý soos ons is wanneer ons in verhouding
met Hom begin leef nie. 

DAG 2
DRIE KENMERKE VAN DIE WYSE MENS IN SPREUKE
1. Hy is leerbaar en bereid om raad van ander te ontvang.

"Bestraf ‘n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf ‘n wyse, en hy sal jou liefhê. Deel
mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig
vermeerder." Spreuke 9:8-9

171
"Die weg van ‘n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad." Spreuke
12:15

2. Hy dink voor hy praat en sy woorde bring lewe.

"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong
van die wyse is genesing." Spreuke 12:18

"Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy
lippe." Spreuke 16:23

3. Hy het 'n stewige greep op sy emosies en laat nie toe dat woede die oorhand kry in
hom nie.

"‘n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ‘n wyse bring dit eindelik tot bedaring."
Spreuke 29:11

Jakobus vat al drie hierdie kenmerke van die wyse vas in een sin.

"So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te
praat, stadig om toornig te word." Jakobus 1:19

Ongeag ons temperament en persoonlikheid kan ons almal wyse mense wees, of
word, in Christus, want Hy het vir ons wysheid geword van God (1 Kor. 1:30).

DAG 3
RAAD WAT VELE ERGERNIS KAN VOORKOM
“So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te
praat, stadig om toornig te word.” Jakobus 1:19 (OAV)
“My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees
om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” Jakobus 1:19 (NAV)
Die wat te gou praat, hoor ook gewoonlik nie mooi wat ander sê nie en dit lei dikwels
tot misverstande en kwade gevoelens. Dis moeilik om na ander te luister terwyl jou
ore gebombardeer word met die stringe woorde wat uit jou eie mond kom. Die
persoon wat dink voor hy praat, het al klaar die grootste deel van praktiese wysheid
ingewin en die een wat praat voor hy dink, het reeds ingedraai op die pad van die
dwaas. Stadig om te hoor en gou om te praat en kwaad te word, dit som die lewe van
die dwaas op en sy pad is gesaai met onnodige ergernis. As ons daarenteen werklik
luister na wat ander mense sê, stadig is om ‘n oordeel te fel met haastige woorde en
stadig om op ons perdjie te spring as daar net iets is wat klink of dit nie inpas by ons
persoonlike verwysingsraamwerk nie, kan ons vele ergernis in die gang van ons
daaglikse lewens vermy. Boonop gaan ons met hierdie ingesteldheid ‘n
vertoonvenster wees van Christus en ‘n voorbeeld stel wat die deur wyd oopmaak vir
die goeie nuus van verlossing in Jesus. Dit is in elk geval mos net in en deur Hóm wat
ons die soort ingesteldheid kan kweek waarvan Jakobus hier praat. Om te praat van

172
Jesus moet ons wees soos Jesus en om te wees soos Jesus moet ons ruimte maak vir
Hom om deur ons te leef.

DAG 4
VREDE EN BLYDSKAP IN SWAARKRY
Hierdie is een van die groot temas in die Bybel.  Gaan lees bietjie Hebreërs 11
aandagtig en biddend deur.  Maak seker dat jy die werklikheid aanvaar dat dit die
normale is vir dissipels van Jesus om moeilike omstandighede te beleef in hierdie
wêreld (Joh. 16:33).  Glo absoluut dat dit God se wil is vir jou om binne die
omstandighede steeds vrede en blydskap te beleef (Rom. 14:17).  Rus in die
afgehandelde werk van Jesus deur die “in Christus” verse in die Nuwe Testament jou
eie te maak.  Hou styf vas aan die kosbare beloftes van God vir jou toekoms en die
ewigheid saam met Christus (bv. Mt. 28:20). Laastens, onthou dat moeilike
omstandighede in ‘n dissipel se lewe altyd ‘n doel het.  Gewoonlik om ons harte te
verruim en ons te laat fokus op God se koninkryk en belange in hierdie gevalle wêreld
(bv. Mt. 28:19).

DAG 5
VRY OM DIE DINGE DAARBO TE BEDINK

"En die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die
begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit
word onvrugbaar." Markus 4:19
Jesus sê dat die alledaagse, aardse dinge waarmee ons elke dag te doen het die
verskriklike potensiaal het om die woord van die koninkryk in ons harte te verstik.
En terloops, die beginsel geld ook vir die wat reeds wedergebore is. Maar hoe is ons
dan veronderstel om te leef in die tydelike in 'n gevalle omgewing en met gevallenheid
in ons eie harte? Ons vind die antwoord in tekste soos die volgende:
"Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle." 1 Petrus 5:7
"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking
met danksegging bekend word by God." Filippense 4:6
Die interessante is egter dat die doel van hierdie opdragte en beloftes nie is om ons
net 'n kommervrye bestaan te gee nie, maar om ons te bevry van aardsdenkenheid.
Sodoende kan ons met ons hele hart en siel die dinge daarbo bedink en 'n
koninkrykslewe leef in die tydelike.
"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." Kolossense 3:2
Gebruik jy jou vryheid in Christus om die hemelse werklikhede na te jaag en dan uit
te leef op aarde of net om 'n kommervrye bestaan te hê? Dit is 'n vraag wat elkeen
van ons vir homself voor die Here moet antwoord.

173
DAG 6
WOORDE VAN WYSHEID UIT 'N NUWE BRON
Die Bybel het baie te sê oor die verskil tussen die wyse en die dwaas, veral in die boek
Spreuke. Hierdie gedeeltes is bedoel om vir ons 'n spieël te wees van ons eie kondisie
sodat ons kan bepaal of ons lewe soos die wyse of die dwaas. Een van die kenmerke
van die wyse is dat sy woorde genesing bring en die regte pad vir ander aandui.
Dit is egter so maklik om vas te val in sekere patrone in ons lewe soos wat ons ouer
word. In ons reaksies op mense en omstandighede begin ons dan soms dink en praat
soos "die dwaas" wat die Bybel van praat, selfs al is ons dalk werklik dissipels van
Jesus.
"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong
van die wyse is genesing." Spreuke 12:18

Die vraag is hoe kan ons losbreek van hierdie patrone en gewoontes? In die Nuwe
Testament sien ons dat Christus ons wysheid geword het (1 Kor. 1:30). Ons het met
die wedergeboorte 'n nuwe hart ontvang en nou word ons aangemoedig om te leef uit
'n nuwe bron. Hierdie Bron is Christus self. Hy is nou ons wysheid en lewe.

"Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy
lippe." Spreuke 16:23

As dit die hart van die wyse is wat dit vir hom moontlik maak om woorde van wysheid
te spreek, is dit goeie nuus vir dissipels, want ons het nuwe harte in Christus ontvang.
Prakties beteken dit egter ons moet wegdraai van die verkeerde bron (aangeleerde
patrone en gewoontes) en in geloof begin leef uit die regte Bron. As jy nie onwrikbaar
glo dat jy in Christus toegang het tot al die wysheid van Christus nie sal jy nooit die
ou patrone en gewoontes kan afleer sodat jy woorde van wysheid kan spreek uit 'n
nuwe Bron nie.

DAG 7
ONS BLYDSKAP IS NIE VAN HIERDIE WÊRELD NIE
"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het
gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

Dis is verstommend om te sien hoe konsekwent die skrywers van die Nuwe
Testament aandring daarop dat dit moontlik is vir dissipels van Jesus om te leef in 'n
konstante blydskap in Hom. Blydskap is nie opsioneel vir 'n dissipel nie. Dit is 'n
integrale deel van ons basiese mondering vir ons lewe in 'n gevalle en gebroke wêreld.
Sonder blydskap het ons getuienis bykans geen impak nie en sonder blydskap is ons
'n maklike teiken vir die satan, want sy versoekinge belowe altyd 'n alternatiewe
blydskap.

Daarom is dit so dringend belangrik vir ons om te verstaan dat die blydskap waarvan

174
die Nuwe Testament praat nie van hierdie wêreld is nie. Ons blydskap is in die
evangelie. Ons blydskap is in Christus en in ons mede-dissipels. Daar is vir seker 'n
blydskap wat altyd sy opwagting maak wanneer ons dankbaar is vir alles wat ons in
hierdie tydelike dimensie van God ontvang. Maar daardie soort blydskap is net 'n
bonus vir die dissipel van Jesus. Dit is eers wanneer ons fokus wegskuif van die
aardse en die tydelike dat ons die onbeskryflike, hemelse vreugde beleef wat die
Nuwe Testament so baie oor te sê het.

Hoe meer ons fokus wegskuif van hierdie aarde en ons nou-al begin leef in die
heerlikheid van die nuwe hemel en aarde wat kom, hoe meer sal hierdie besonderse
soort blydskap 'n konstante in ons lewens word. Hoe lyk dit met jou blydskap? Op en
af? Karig? Afwesig? Skuif jou fokus na die ewige en onveranderlike nuwe
skeppingswerklikhede in Christus en konstante blydskap sal die heerlike byproduk
wees. Gewaarborg!

DAG 8
NUWE SPRAAK IN CHRISTUS

Nuwe spraak is een van die vele geskenke van die evangelie.

'Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste
vloei." Johannes 7:38

Voor ons wedergeboorte was ons duisternis en het ons gepraat uit 'n bron van
duisternis, naamlik die gevalle menslike hart .

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos
kinders van die lig." Efesiërs 5:8

Ons daaglikse voertaal was godslastering, ongeloof, ondankbaarheid, vervloeking,


veroordeling, bitterheid, leuens, skinder, growwe en kru woorde en grappe,
ligsinnigheid, negatiewe kritiek, afbrekende spraak, verkleinering van ander,
ensovoorts. Kortliks, woorde van die dood.
In Christus het daar vir ons 'n nuwe wêreld oopgegaan en kan ons nou in geloof ons
nuwe spraak ontvang en daarin begin leef. Dan word ons daaglikse voertaal
lofprysing, dankbaarheid, seën, opbouende spraak, woorde van vergifnis, wysheid,
nederigheid, reinheid, regverdigheid, waarheid, ensovoorts. Kortliks, woorde van die
lewe. Hoe lyk dit met jou spraak? Het jy al hierdie kosbare geskenk van die evangelie
in geloof vir jouself toegeëien?

DAG 9
AL WAT SAAK MAAK IS DIE SEËN VAN DIE KONING

175
"Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met
alle geestelike seëninge in die hemele in Christus." Efesiërs 1:3
Om te leef in die seën van die Koning los dosyne vraagstukke op oor sukses,
voorspoed, gesondheid, lyding, die betekenis van die lewe, my doelwitte in hierdie
lewe, ensovoorts, ensovoorts. In die hitte van die stryd op hierdie aarde vra ons
dikwels die verkeerde vrae en raak ons soms ingetrek in komplekse teologiese debatte
wat ons verward laat en niks prakties oplos in ons lewens nie. Dit is sekerlik reg om
na te speur en te ondersoek wat die Bybel sê oor hierdie sake, maar daar is 'n baie
belangrike vraag wat ons eers moet vra: "Het ek die seën van die Koning?"
Paulus sê in Efesiërs 1 vers 3 álle dissipels van Jesus is rééds geseën omdat hulle een
is met Hom. Natuurlik is dit moontlik vir 'n dissipel om die Heilige Gees aanhoudend
te bedroef en gevolglik deur die Vader gedissiplineer te word. Maar dit gebeur die
meeste van die tyd in dissipels se lewe as gevolg van die frustrasie van futiele pogings
om te soek of te probeer verdien, dit wat hulle reeds besit in Christus; die seën van die
Koning! Erken en bely eerstens dat jy reeds geseën is met alle geestelike seëninge in
Christus. Begin dan leef vanuit hierdie seëninge, nie ná die seëninge nie. Net dan sal
dit vir jou moontlik wees om vrede en blydskap te beleef selfs al werk dinge nie altyd
uit in die praktyk nie. Die seën van die Koning werk baie dieper en meer ingrypend
in ons lewens as enige aardse en materiële voorspoed of sukses. Daar is niks wat
daarmee kan vergelyk nie.
Daar gebeur iets wonderlik en dinamies in 'n mens se hart wanneer jy werklik begin
glo dat jy reeds geseën is in Christus en dit verander jou perspektief op alles in jou
lewe. Dit is 'n baie belangrike sleutel tot die soort oorwinning wat die Nuwe
Testament van praat en dit ontsluit 'n lewe van diensbaarheid aan ander vanuit die
oorvloed in Christus wat reeds ons eiendom is.

DAG 10
ALLEEN DEUR DIE DONKER VALLEI?

"Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan ’n ander hom nie meng nie."
Spreuke 14:10 (OAV)

"Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan
niemand anders voluit deel nie." Spreuke 14:10 (NAV)

In tye van erge trauma of smart wanneer ons dieper begrip soek by ander vir die
donker vallei waardeur ons beweeg, begin die waarheid van hierdie vers oopgaan en
sin maak.  Daar is dieptes in die menslike hart wat geen ander skepsel kan peil nie, en
selfs die mees wyse en volwasse mense staan soms verslae voor die gebrokenheid en
vreemde weë van hulle eíe hart in tye van oorweldigende en onverklaarbare teëspoed
in hierdie lewe.  Dit is net hier waar ons ontdek daar is wél Een wat werklik die
diepste smart van die menslike hart ken én kan genees.  1 Konings 8 vers 39 sê “want
U alleen ken die hart van al die mensekinders.“  Dit is nie nodig om alleen deur die
'dal van doodskaduwee' te beweeg nie.  Daar is 'n Herder wat nader aan jou is as

176
enige mens op hierdie aarde en wat jou hart selfs beter ken as wat jyself dit ken.  Gló
dit net.  Dit is waar!

DAG 11
DAAGLIKSE AFHANKLIKHEID VAN DIE HEILIGE GEES

"En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en
terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die
vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder." Handelinge 9:31

'n Mens kan nie met aandag deur die boek Handelinge lees sonder om diep beïndruk
te word deur die antieke gemeentes se kinderlike afhanklikheid van die Heilige Gees
nie. Vir hulle was die werklikheid van Jesus se teenwoordigheid by hulle en in hulle
nie net 'n teorie nie. Die uitstorting van die Heilige Gees was vir hulle die groot
gebeurtenis wat alles op hierdie aarde verander het. Om te "wandel deur die Gees"
was nie 'n onderwerp vir die volgende Bybelstudie nie, maar hulle daaglikse
belewenis. Dit was ondenkbaar om nie die Heilige Gees te vertrou vir elke behoefte
aan wysheid, krag en oorwinning in die daaglikse lewe nie.

Is jý bewus van die onmiddellike teenwoordigheid en werking van die Gees in jou
lewe? Dit begin alles met geloof. Ons moet onwrikbaar glo dat die Trooster en
Helper gegee is vir ons om daagliks in die krag en karakter van Jesus te kan leef op
hierdie aarde. Elke belofte wat vir ons gegee is in die Bybel kan net gerealiseer word
deur die bediening van die Heilige Gees. Die Woord en die Gees werk saam om Jesus
in die hier-en-nou van ons lewens 'n werklikheid te maak.

DAG 12
DIE AANBIDDING VAN SUKSES

Een van die mees subtiele dinge wat dissipels van Jesus dikwels ongemerk laat afwyk
van God se koninkryksplan is die manier wat ons dink oor sukses.  Ons
waardesisteem is dan in baie gevalle eintlik maar dieselfde as die wêreld s’n. 

Roem, prestasie, finansiële voorspoed, groter en beter is die doel en die maatstaf. 
Ons sukkel om uit te styg bo ons tydgees, en in baie gevalle besef ons nie eers dat een
van die grootste redes hiervoor is dat ons net soos die wêreld ‘n afgod van “sukses”
gemaak het nie! 

Ware sukses het volgens Jesus baie meer te doen met nederigheid, gebrokenheid,
gehoorsaamheid en die oorwinning van die liefde.  Dikwels ongemerk en weg van die
oë van die skares speel die drama en die stryd vir ware sukses in families, huwelike,
gemeentes, en werksituasies af. 

Hoe dink jy oor sukses?  Het jy al vrede gemaak daarmee dat dit dikwels diegene is
wat “verloor” in die wêreld se oë wat werklik wen in God se boek, die wat gee wat
werklik ontvang en die wat dien wat ryklik deur God beloon word? Daar is geen
177
groter sukses in die koninkryk as om God werklik te ken en gehoorsaam in Christus
nie. Die gehoorsame dissipel meet nie meer sy lewe aan uiterlike standaarde van
sukses nie, selfs al beleef hy 'n mate van wat selfs die wêreld beskou as "sukses". Lees
Filippense 3:3-16 en dink bietjie oor hierdie gedeelte in die konteks van sukses.

DAG 13
DIE AFDRAAIPAADJIES VAN MAMMON
Die woorde van Jesus oor finansies en materiële dinge pyl soos 'n missiel op ons harte
af en konfronteer ons onverbiddelik en onverskrokke met die eis van Sy koninkryk.
Om Jesus te volg beteken in 'n sin heel éérste dat ons die afgod van geld en veral
vertroue op geld permanent moet versaak (renounce). Hoekom? Want niks toets die
hart se ware fokus soos Mammon nie.
"Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en
waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel,
waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want
waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees." Mattheüs 6:19-21
"Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf
hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!"
Mattheüs 6:24
Jesus draai nie doekies om nie. Hy is dodelik ernstig oor die gevaar van vertroue op
geld. Omtrent 'n derde van al Sy gelykenisse handel oor hoe geld en materiële dinge
die menslike hart beïnvloed en hoe dit mense kan weglei van die koninkryk van God.
Mammon het baie slinkse afdraaipaadjies wat ons harte probeer verlei en Jesus weet
dit, want Hy ken ons harte beter as wat ons dit self ken.
As jy jou dissipelskap wil toets is die eerste en beste plek om te begin jou werklike
hartsgesindheid oor geld. En let op, dit is nie net welgestelde mense wat 'n
hartsprobleem het met geld nie!
Is jy bereid om die Heilige Gees te vra om vir jou te wys of jy in hierdie saak heeltemal
rein en vry is? Besit jy geld of besit geld jou? Is jou vertroue werklik op God alleen?
God gee vir die dissipel "Mammon-toetse" in teëspoed én voorspoed. Slaag jy
daardie toetse? Laat elkeen sy eie hart ondersoek.

DAG 14
DIE GEVAAR VAN DIE ONGETEMDE TONG

Daar was 'n versoeker in die tuin van Eden en hy het op 'n baie slinkse manier die
mens gelei na ongehoorsaamheid aan God en gevolglike slawerny aan homself.
Voortaan sou hierdie verleier en versoeker die kitaar slaan in die mens se binneste,
terwyl hy alles in sy vermoë doen om die mens onder die illusie te hou dat hyself in
beheer is van sy eie lewe.

178
"Waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die
owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die
ongehoorsaamheid werk." Efesiërs 2:2 

Alle ongelowiges wandel "volgens die owerste van die mag van die lug".  Daarom
maak Jakobus 3 die verstommende stelling dat die tong "uit die hel aangesteek"
word. 

"Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong
onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die
brand en word uit die hel aangesteek." Jakobus 3:6 

As dissipels van Jesus in wantroue van hulle eie wysheid "wandel deur die Gees" het
hulle die besondere voorreg om die getemde tong te beleef wat as't ware dan uit die
hemel aangesteek word wanneer hulle wel spreek.  Indien hulle egter nie waaksaam is
en wakker vir die gevaar van die ongetemde tong nie gaan hulle steeds met tye beleef
dat daardie ongetemde tong "uit die hel aangesteek" word. 

Mag ons almal wawyd wakker wees vir die gevare van die ongetemde tong.  Op geen
ander manier sal ons, ons dringende afhanklikheid van die Heilige Gees in hierdie
verband kan insien nie.

DAG 15
DIE HEMELSE EKONOMIE VAN VRYGEWIGHEID
Een van die mees verrassende aspekte van die dissipel se lewe in die koninkryk van
God is die feit dat ons nou reeds kan leef uit die hemelse ekonomie m.b.t. ons
finansies en die materiële wêreld.
"God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en
dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer. Hy maak julle altyd in
alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons
bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word." 2 Korinthiërs
9:10-11 (NAV)
Paulus lig 'n absoluut wonderlike geestelike beginsel uit in hierdie gedeelte. God is
nie net die Voorsiener van brood nie, maar ook van saad vir die volgende oes. 'n
Koringboer wat al sy saad gebruik om brood te maak om te eet, gaan groot probleme
hê wanneer dit weer tyd word om te oes.
Ons maak ons somme volgens die aardse ekonomie en dit is sekerlik nie verkeerd om
verantwoordelik om te gaan met ons finansies en bates, om te begroot, ensovoorts
nie. Solank jou kop net nie vashaak by die aardse ekonomie en jy vergeet dat God van
jou verwag om uit die hemelse ekonomie te leef nie. Die aardse ekonomie werk net
met salarisse, debiete, krediete, rentekoerse, groeipotensiaal van 'n produk of
besigheid, ensovoorts.

179
* Die hemelse ekonomie werk volgens die beginsel van saai en maai. In die koninkryk
is ons in 'n sin almal boere. Die belangrikste element in die hemelse ekonomie is die
vrygewige hart wat onder die invloed van genade net aanhou vergroot. Wanneer jy
leef in hierdie krag van genade en jou hart en hand vrygewig saai word die hemelse
ekonomie as't ware geaktiveer! So begin die beloftes van God realiseer in die lewe
van die dissipel en kom hy agter dat hy nodig het om te onderskei wat is brood en wat
is saad in terme van dit wat God voorsien.
Vrygewigheid is die bepalende faktor in die hemelse ekonomie. Daarom is dit
moontlik vir ons om die voorreg te hê om vanuit die hemelse te leef, maar steeds
beperk te wees tot 'n aardse ekonomie. Ons kyk dikwels heel eerste na syfers, somme
en bedrae; ons Vader kyk eerstens reguit in die hárt van die dissipel in om te sien of
Sy eie vrygewigheid binne-in ons ruimte het om te groei. Die vraag vir die dissipel
moet dus heel eerste wees: "Leef ek in en uit die vrygewigheid van die hemel?" Dit
verander alles. Uit watter ekonomie leef jy?
* Die Voorspoed teologie het hierdie boodskap ongelukkig so verdraai en die beginsel
van vrygewigheid met hebsug (greed) vervang dat die Skrif-gefundeerde dissipel
sukkel om te hoor wat die Bybel regtig te sê het oor hierdie sake.

DAG 16

DIE KONSTANTE FEES VAN INNERLIKE VERVULLING

"En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis
brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet."
Handelinge 2:46

Wat 'n lieflike prentjie word vir ons hier geskets van die daaglikse lewe van die eerste
gemeente. Wat 'n vreugde is dit nie as mense kan saamleef met innerlike vervulling
en dankbaarheid. Dan raak selfs 'n eenvoudige ete 'n fees!

Daarteenoor staan die hebsugtige lewe van die wêreld wat net nooit genoeg kan kry
nie en selfs met oorvloed nooit werklik vervuld is nie.

"Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie;
vier sê nooit: Genoeg nie!" Spreuke 30:15

Leef jy in die konstante fees van innerlike vervulling of is jou dae gevul met die
nimmereindigende soeke van onvergenoegdheid?

DAG 17
DIE WONDERWERK VAN STILSWYE
'n Mens se woorde kan of 'n bron van geweldige seën wees of dit kan onberekenbare
skade bring in ander se lewens. Jakobus sê dat die tong wat buite beheer is fatale
gevolge kan bring vir diegene wat deurloop onder dit.
180
"Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike
gif." Jakobus 3:8
Die implikasie in hierdie vers is dat God alleen die tong kan tem. Daar is nie 'n mens
op aarde wat totale beheer oor sy of haar tong het nie. Party van ons praat meer as
ander, maar almal van ons laat met tye toe dat woorde by ons mond uitkom wat nooit
die daglig moes gesien het nie. Net God kan ons tong tem en daarom is dit so
belangrik dat ons onder leiding van die Heilige Gees sal leef. Ons het daagliks die
wonderwerk van stilswye nodig. D.w.s. ons moet leer om die Here te vertrou om,
selfs wanneer die versoeking groot is om die tong soos 'n swaard te gebruik of om
kwaad te praat van ander, eers te swyg totdat Hy sê ons kan maar praat en Hy ons die
regte woorde gegee het. Dit verg inderdaad 'n wonderwerk!

Hier is 'n Bybelse gebed wat ons almal sekerlik nodig het om gereeld te bid.

"HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe." Psalm 141:3

DAG 18
EEN DING BLY KONSTANT

Tot 'n sekere mate sal ons altyd vanuit die natuurlike perspektief in hierdie tydelike
bestel net die helfte van die prentjie van ons lewens sien. Dit is hoekom dit soms so
moeilik is om sin te maak van oënskynlik sinnelose dinge wat met ons gebeur.  Vanuit
die geestelike, die geloofsperspektief, is daar egter een oorweldigende faktor wat die
hele prentjie radikaal verander: God het sy Seun vir ons gegee!

Daarom mag jy wéét dat God jou liefhet, ongeag gevoelens of onverklaarbare
gebeurtenisse.  Een ding bly konstant en sal in 2015, net soos al die ander jare,
rotsvas bly staan; dat 'geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of
teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal
kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie' (Rom.
8:38-39).

DAG 19
EK SAL GEE WANNEER EK MEER HET OM TE GEE

Ons het verlede keer gesien dat die hemelse ekonomie funksioneer op grond van die
beginsel van vrygewigheid; die vryelike vloei uit 'n hart wat oorloop van
dankbaarheid en vervulling in Christus.
Net hier is daar egter 'n baie algemene beswaar wat opkom in die menslike hart,
naamlik dat sommige dissipels meer as genoeg het en daarom kan bekostig om
vrygewig te wees, maar ek sal gee wanneer ek meer hét om te gee. Eintlik wil ek baie
graag gee, maar ek het net nie nou om te gee nie. Wat is Jesus se respons op hierdie
beswaar?

181
In Lukas 21 verstom Hy weereens Sy dissipels deur vir hulle te demonstreer dat die
koninkryk van God anders werk as die wêreld.
"En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het
ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê
vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het
uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek
ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe." Lukas 21:1-4
Weereens sien ons dat God kyk na die kondisie van die menslike hart. Mense kyk na
die uiterlike, maar God wil weet wat in ons harte aangaan. Die arm weduwee het uit
haar hart uit gegee en sy het opofferend gegee. Ons sien presies dieselfde in 2
Korinthiërs 8:
"Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië
van God ontvang het. Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap
was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige
vrygewigheid." 2 Korinthiërs 8:1-2 (NAV)
Wanneer ons daai beswaar voel opkom in ons harte is dit tyd om ons oë weg te draai
van mense en ons moeilike omstandighede en net vir Jesus, baie eenvoudig te vra of
ons wel leef uit 'n dankbare en vrygewige hart. Leef ons in die hemelse ekonomie?
Leef ons uit "oorvloedige blydskap" en is ons "ryk in oorvloedige vrygewigheid" selfs
in die aangesig van "verdrukking" en "armoede"? Jesus sal vir ons wys waar en hoe
ons moet gee, maar die eerste orde van die koninkryk is die hart; vrygewig of
ingeperk en self-gerig?

DAG 20
HOE DEFINIEËR JÝ “LEWE IN OORVLOED”?

“…Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”  Joh. 10:10

Die frase “lewe en oorvloed” in Johannes 10 vers 10 is een van die mees bekende
Bybelse frases in ons tyd, maar ongelukkig lees ons dit 90% van die tyd deur ons
kulturele bril.  Dit word ook dan dikwels aan ons opgedis as God se stempel op ‘n
aardse lewe van voorspoed op alle terreine.  Hoe sou ‘n dissipel van Jesus wat leef in
haglike omstandighede en met die daaglikse gevaar van vervolging dan hierdie frase
verstaan?  Dit kan tog nie net van toepassing wees op dissipels wat toegang het tot al
die geriewe en voordele van ‘n goed ontwikkelde infrastruktuur en ‘n vervolgingsvrye
omgewing nie.  As ons die frase interpreteer in die konteks van die boek Johannes
sien ons ‘n heel ander prentjie.  Dan word dit glashelder duidelik dat Jesus praat van
die soort lewe wat Hy geleef het in verhouding met sy Vader op hierdie aarde.  Jesus
self het gesê dat Hy op hierdie aarde geen plek het “waar Hy sy hoof kan neerlê nie”
(Luk. 9:58), maar tog was Sy ononderbroke verhouding met sy Vader vir Hom ‘n lewe
van absolute oorvloed en blydskap.  Hy is die “deur van die skape” (10:7) wat hulle

182
inlei na ‘n “ewige lewe” wat gekenmerk word deur ‘n intieme verhouding met die
“enige waaragtige God” (17:3).  Jesus self is “ons lewe” (Kol. 3:4) en Hy gee vir ons
toegang tot die hemelse lewe in verhouding met die Drie-Eenheid (Kol. 3:1-3), sodat
ons daardie kwaliteit lewe en oorvloed enige plek, enige tyd, en onder enige
omstandighede kan geniet.  Hoe definieër jý “lewe in oorvloed”?  Dink mooi oor jou
antwoord, want die manier wat jy hierdie vraag antwoord bepaal die kwaliteit van jou
lewe op hierdie aarde.

DAG 21

LEWE IN EN DEUR DIE KOSBARE BELOFTES VAN DIE WOORD  

Die ware dissipel  weet dat sy lewe onafskeidbaar verbind is met die Persoon van
Christus.

Hierdie dissipel weet egter ook dat hy in 'n gevalle wêreld gedurig nodig het om
herinner te word aan al die kosbare beloftes m.b.t. tot hierdie wonderlike Persoon en
om daaraan vas te hou asof sy lewe daarvan afhang (wat dit wel doen!).  

"Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle
daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die
verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." 2 Petrus
1:4                

Petrus maak dit baie duidelik dat ons "deelname aan die goddelike natuur"
onlosmaaklik verbind is met ons waardering vir en vertroue op die "kosbare beloftes"
rondom die Messias. Van Genesis tot Openbaring gee ons getroue hemelse Vader vir
ons belofte op belofte op belofte om ons geloof te versterk en ons vaste grond onder
ons voete te gee. Hiermee anker Hy ons ook in Homself, d.w.s. in Sy "goddelike
natuur".

Leef ons nog vandag met 'n onuitspreeklike waardering en dankbaarheid vir die
kosbare beloftes van die Woord van God?   

"En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.
Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt." Genesis 3:15

"Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek
bewaar." Openbaring 22:7

DAG 22
MOET EK "WORRY"?

Dit is darem vreemd hoe die dinge wat vir ons so belangrik is op aarde heel onder aan
die hemel se prioriteitelys is. Vat nou maar die volgende teks in Filippense:

"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking
183
met danksegging bekend word by God." Filippense 4:6

Oor niks? Regtig oor niks? Ja sowaar, alles wat jou ontstel en jou bekommer in
hierdie lewe moet jy (mag jy!) net so en sonder versuim voor die Vader bring en dit
dan by Hom los. Klink darem baie onverantwoordelik nê? Mens moet mos "worry"!
Die Bybel leer egter konsekwent dat God ons aandag op Hom soek. Ons moet ons
kragte, energie en fokus op Sy koninkryk kry.

Ja, natuurlik moet ons werk en 'n tuiste skep vir ons gesinne, maar ons moet dit doen
binne die ruimte en waardestelsel van die koninkryk van God wat alreeds vir dissipels
van Jesus 'n werklikheid is. As ons hele lewe en aandag 24/7 ingestel is op tydelike
dinge is daar groot fout. Dan is ons waardestelsel nog nie ordentlik omgedop deur
die Heilige Gees nie. Wat ontstel jou? Wat bekommer jou? Wat gee vir jou
maagsere? God se oplossing is eenvoudig maar baie radikaal: "Wees oor niks besorg
nie." Gee dit oor in God se hande sodat jy besig kan raak met die waardes van die
koninkryk.

DAG 23
'N BETER AFTREDE OF 'N BETER OPSTANDING?

Abraham, die vader van ons geloof, het volgens Hebreërs 11 geleef met sy oë op die
nuwe Jerusalem (Openb. 21:1-3). 

"Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en
oprigter is." Hebreërs 11:10

Sy visie op die Godstad het sy lewe regeer en al sy besluite beïnvloed. Sy oë was gerig
op iets aan die ander kant van die tydelike en natuurlike. Ons het vandag 'n baie meer
volledige prentjie van God se heilsplan as wat Abraham gehad het, maar waar is ons
oë gerig? Sien ons wat hy en die ander geloofshelde in Hebreërs 11 gesien het? Ons is
veronderstel om 'n baie helderder visie as hulle te hê, maar het ons? As mens luister
na gesprekke vandag klink dit in alle eerlikheid asof baie van ons meer besorg is oor
'n beter aftrede as 'n beter opstanding.
 
"Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen
bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry." Hebreërs 11:35

Iewers het ons generasie 'n verkeerde idee van geloof opgetel en dit beïnvloed ons
hele wêreldbeskouing. Mag God ons genadig wees en ons terugbring by Bybelse
geloof. 

DAG 24
'N DANKBARE EN VREUGDEVOLLE LEWE

Hoe lyk 'n lewe wat God se goedkeuring wegdra? Nie net die lewe tussen nege en tien
op 'n Sondagoggend "in die kerk" nie. Baie mense dink ongelukkig heimlik dat dit
stukkie van ons week is wat redelik eksklusief vir God belangrik is en die res verdra
184
Hy maar net. Ons praat van oggende, aande, rusdae, vakansiedae, eet, drink, werk,
beplan,  ontspan, kuier, gesels, ensovoorts. Is daar werklik 'n soort lewe wat dag in en
dag uit vir God laat glimlag en Sy Vaderhart verbly?

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat 'n dankbare en vreugdevolle lewe God behaag. 
Ja, dis waar. God wil regtig hê ons moet net dankbaar wees en met blydskap leef. So
'n lewe is natuurlik onmoontlik sonder Jesus. Maar as ons in geloof deur hierdie
gebroke en gevalle wêreld stap saam met Jesus sal die tekens van so 'n saamstap lewe
dankbaarheid en blydskap wees. As dinge soos vormgodsdiens, ongehoorsaamheid of
dalk 'n oorgekompliseerde en te besige lewe jou beroof het van die eenvoud van
dankbaarheid en blydskap in en saam met Jesus, stop dan. Kry jou oë weer op Jesus
en gehoorsaam Hom soos 'n kind met dankbaarheid en blydskap en die resultaat sal
verrassend genoeg meer dankbaarheid en blydskap wees. Dit is ongetwyfeld God se
wil vir almal van ons.

"Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil
van God in Christus Jesus oor julle." 1 Thes. 5:16-18

DAG 25
KRY JOU BLYDSKAP TERUG
Blydskap is die krag vir heiligheid. Sonder blydskap kan daar geen heiligheid wees
nie, want dit is net die blydskap in God wat alle kompeterende vreugdes op hierdie
aarde kan oorwin. Sonder hierdie blydskap is ons almal afgodsdienaars, want ons
eksistensiële werklikheid is in hierdie onbevredigende kondisie altyd 'n soeke na
alternatiewe bevrediging.
'n Dissipel van Jesus is ten diepste iemand wat die grootste vreugde in die heelal
ontdek het, God self, en wat dan leef in en uit hierdie blydskap in Hom.
As jy jou blydskap in Christus verloor het, moet jy met alles in jou veg daarvoor om
dit terug te kry. Niks is belangriker nie. Dít is die goeie stryd van die geloof (1 Tim.
6:12).
Jy is geskape om God te verheerlik en dit is letterlik onmoontlik om Hom te
verheerlik sonder dat jy jou grootste vreugde in Hóm vind en behou.
"Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting."
Nehemia 8:11b

DAG 26
HELP MEKAAR OM DIE HEMEL SE BLYDSKAP TERUG TE KRY
In 'n sekere sin is die doel van alle bediening om met 'n diepe waardering van die
onbeskryflike en kosbare evangelie mekaar se blydskap in Christus aan te vuur en op
te wek.

185
"Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle
blydskap..." 2 Korinthiërs 1:24a
Die doel van intersessie is ook dan om in gebed te veg vir mekaar se blydskap in
Christus. Wanneer ek voor God en langs jou kom staan en dan bid dat jou blydskap
waarlik in Christus sal wees en nie eerstens in aardse en materiële dinge nie is ek
besig om die hartklop van die hemel op te tel.
Alle vreugdes in die hemel vloei vanuit die heerlikheid, lieflikheid en majesteit van
die Persoon van God. Daarom is dit ook ons hemelse Vader se wil vir die aarde dat
ons, ons vreugde in Hom sal vind.
Hoe lyk dit met jou gebedslewe? Bid jy vir ander se vreugde in Christus? As jy
werklik lief is vir die mense om jou en naby jou sal jy só bid vir hulle. Geen gebed is
nader aan die hart van die Vader as hierdie gebed vir onuitspreeklike en heerlike
blydskap in Christus nie; 'n blydskap wat alle kompeterende vreugdes oorwin en ons
laat uitstyg bo dit met die vlerke van 'n arend.
"Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle
Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap." 1
Petrus 1:8

DAG 27
IS VREES ALTYD GELYK AAN ONGELOOF?
In 'n sin staan geloof reëlreg teenoor vrees, maar ons moet versigtig wees om nie die
afleiding te maak dat vrees in my hart noodwendig gelyk is aan 'n sondige ongeloof
nie.  Die perfeksionisme wat leer dat die emosie van vrees nooit weer mag voorkom in
dissipels nie doen meer skade as goed. Dit pak skuldgevoelens bo-op die vrees. Die
probleem is nie die vrees in my hart nie, maar wat ek daarmee maak. Gee dit vir God
(Heb. 4:14-16). Hy sê oor en oor vir ons in die Bybel "moenie vrees nie", juis omdat
Hy weet dat ons broos is in hierdie gevalle wêreld. Hy wil hê ons moet ten volle steun
op Sy onveranderlike liefde in Christus (1 Joh. 4:18; Rom. 8:31-39).

DAG 28
HEILIGE GEWELD
“Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die
hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.” Mattheüs 11:12

Die Nuwe Testament praat van ‘n heilige geweld wat vir ons baie vreemd klink as ons
nie die stryd verstaan om ons harte onder die invloed van die evangelie te hou nie.
In die lig van die nuwe era wat in Christus aangebreek het, kan nie een van ons die
nodigheid vir heilige geweld ontvlug nie. Ons moet radikaal werk met ons eie harte
en die dinge wat die geestelike oes in ons lewens bedreig (Luk. 8:14) met geweld
weerstaan en verwyder. Jesus sê byvoorbeeld ons moet vader, moeder, kinders, en
selfs ons eie eie lewe haat ter wille van die koninkryk (Luk. 14v26). Hy sê ons moet
ons “oog uitruk” en ons “hand afkap” (Matt. 5:29-30) as ons lewe in die koninkryk
186
daardeur bedreig word. Paulus brei uit op hierdie lering van Jesus en sê ons moet
ons lede wat op die aarde is “doodmaak” (Kol. 3:5). Hierdie terme spreek almal van
‘n heilige geweld. Dit is hoe radikaal ons moet werk met ons eie harte in die era van
die Nuwe Verbond (Heb. 1v:1-2). In die Ou Testament al sien ons die letterlike en
fisiese ewebeeld van hierdie heilige geweld. Samuel het vir Agag, die koning van
Amalek, “in stukke gekap voor die aangesig van die Here in Gilgal” (1 Sam. 15:33)
nadat Saul die Here halfhartig gehoorsaam het en nie Sy opdrag met volle oorgawe
uitgevoer het nie. Pínehas het ‘n Israelitiese man en Midianitiese vrou deurboor om
die plaag weens sonde in die kamp van die Israeliete te laat ophou (Num. 25:6-8).
Satan kom elke dag met al sy magte en kragte teen ons om te steel, te slag en te
verwoes. Dit is net deur ‘n vasberade en heilige geweld wat ons, ons harte kan
beskerm en sodoende die Heilige Gees toe kan laat om die koninkryk in en deur ons
te laat kom d.m.v. die groei van die saad wat met wedergeboorte in ons geplant is
(Gal. 3:16; 1 Joh. 3:9). “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want
daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23).

DAG 29
GENADE VIR DIE GEKNAKTE RIET
"'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof
nie..." Jes. 42:3 (NAV)
Jesus se bediening is by uitstek gerig op mense wat verslae is en nie meer weet watter
kant toe nie. Daar is barmhartigheid en genade in oorvloed beskikbaar vir sulkes. Ons
Verlosser spesialiseer in die verbryselde hart (Lukas 4v18). Hy is baie naby aan die
gebroke mens. Sy belofte staan vas en seker tot vandag toe: 'Ek sal jou nie begewe en
jou nie verlaat nie' (Jos. 1:5). Hy is 'n "held wat verlossing skenk" (Sef. 3:17). Hy is die
muur van vuur rondom jou en die heerlikheid daarbinne (Sag. 2:5). Roep Hom net
aan en plaas alles in Sy hande. 
"Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond in trap nie. Hy sal nie
iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie..." Jes. 42:3 (DB)

DAG 30
REALISTIES OPTIMISTIES

Die wêreld se optimisme is uiterlik, kunsmatig en totaal uit voeling met die
gevallenheid van die huidige skepping en die oordeel wat wag vir almal wat nie die
knie wil buig vir Jesus Christus nie.

"Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met
gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die
werke wat daarop is, sal verbrand." 2 Petrus 3:10

"En aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring
van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer
Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van
187
onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8

As dissipels van Jesus het ons nodig om vir ongelowiges 'n realistiese prentjie te gee
van die lewe op 'n gevalle en gebroke planeet. Daar is byvoorbeeld geen verlossing en
vreugde vir enigiemand voordat hulle nie eers treur oor hulle sonde en dan wegdraai
daarvan nie.

"Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word." Mattheüs 5:4

Konsekwent regdeur die Bybel word optimisme net 'n moontlikheid wanneer 'n mens
eers God se diagnose van ons gevallenheid aangehoor en aanvaar het en dan Sý
verlossingsplan omhels het. Daarom faal die wêreld se optimisme altyd tragies en
bring uiteindelik totale wanhoop en verwoesting. Ons het 'n verantwoordelikheid
voor God om die valse en oppervlakkige optimisme van die wêreld te ontbloot en
daarteenoor die egte en ewigdurende optimisme van die Bybel te verkondig.

God se plan en uitweg staan lynreg teenoor die van die wêreld. Ons kan nie en durf
nie die twee probeer versoen nie. Ons durf nie die opstandingslewe aanbied sonder 'n
kruis nie. Selfs nadat ons wedergebore is, kom vreugde aan die ander kant van sterf
aan myself, liefde eers wanneer ek my eie goedgunstigheid en welwillendheid opgegee
het en Christus se liefde in my ontdek het, ware hoop eers wanneer ek geen meer
hoop in die natuurlike en tydelike het nie, maar my oë gerig het op die geestelike en
ewige werklikheid van die koninkryk wat kom.

Het ons generasie van gelowiges dalk begin om die wêreld se optimisme te koop en
ons kosbare Bybelse optimisme te versaak? Is ons "positiwiteit" nie maar dikwels die
van die wêreld nie? Is dit nie dalk hoekom ware, diepgaande vreugde en hoop wat
die storms van die lewe in werklikheid kan trotseer so skaars is onder ons nie?
Martyn Lloyd-Jones, 'n groot prediker van die vorige eeu, het in sy tyd al gesê "we are
far too bright and breezy today".

DAG 31
GEBED OP HEILIGE GROND
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood…” Matt. 6:9-11

Die mees basiese betekenis van die woord “heilig” in die Bybel is om volkome
afgesonder te wees vir God en Sý doelwitte. Wanneer Jesus vir Sy dissipels leer om te
bid in Mattheüs 6 maak Hy dit baie duidelik dat alle gebed moet plaasvind op heilige
grond. Hy doen dit deur die gebed daar te begín met die Vader se naam, koninkryk
en wil. Eers dan kom die petisie “gee ons vandag ons daaglikse brood”. Al ons
gebedsversoeke moet dus op afgesonderde grond voor God gebring word, oorgegee en
uitgegiet voor Sy aangesig. Hoe dikwels storm ons net in die troonkamer in met ons
lysie van petisies? Veel beter om eers stil te raak en te fokus op die Vader met
nederige belydenis dat ons in alles wil hê dat Sy naam, koninkryk en wil die voorrang

188
moet geniet. Hierdie beginsel word weereens duidelik deur Jesus onderstreep ‘n
bietjie verder aan in Mattheüs 6, “maar soek eers die koninkryk van God en sy
geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (vers 33). Daar kan
daarom geen verwarring wees op hierdie punt nie; God verwag van ons om in ons
gedagtes en woorde op hemelse grond te kom voor ons aardse versoeke begin
uitspreek.

NOVEMBER: VERHOUDINGS EN FAMILIELEWE IN CHRISTUS

DAG 1
BOSE AGTERDOG
“…het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis,
lasteringe, bose agterdog.” 1 Tim. 6:4

Bose agterdog is die tweelingboetie van bose suspisie en die nefie van afguns
(jaloesie). Dit maak deel uit van ‘n bose kringloop in ons denkwêreld, wat geaktiveer
word deur te dink oor ons lewe saam met ander mense buite-om die heerlikheid van
die evangelie. Dit is soos ‘n virus wat versprei en jou denke later tot so ‘n mate
oorheers dat die hele atmosfeer van jou innerlike agterdog en suspisie word. Hierdie
atmosfeer dra jy in hou huis in en dit versuur al jou verhoudinge. So oordeel jy van
die môre tot die aand ander mense se motiewe asof jy God is wat presies kan sien en
instinktief weet waarom mense dinge sê en doen. Mettertyd word jy ‘n baie moeilike
mens om mee saam te leef, want ander weet nooit waarvan hulle volgende beskuldig
gaan word nie. Die grappie word vertel van die man wat by ‘n rugbywedstryd baie
suspisieus was toe die manne sak in die skrum, want hy het vermoed hulle soek net ‘n
verskoning om oor hom te skinder. Ons kan lekker lag daaroor, maar die kringloop
van afguns, agterdog en suspisie is ‘n wesenlike gevaar as ‘n mens nie jou hart bewaar
nie. Dit is tipies van wêreldse verhoudinge, maar kan ook maklik deel word van ‘n
ware dissipel se lewe as hy of sy nie waaksaam is nie. Paulus skryf in Titus 3 vers 3
dat ons vroeër (voor ons wedergeboorte) ons lewe deurgebring het in
“kwaadwilligheid en jaloesie; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Maar nou in
Christus moet, en kán, ons “vriendelik en geduldig” wees en “mekaar in liefde verdra”
(Efes. 4:2). In Christus kan ons maar, sonder om naïef te wees, die beste glo van
mekaar, bid vir mekaar en as daar dan werklik kwaadwilligheid is dit in liefde
uitsorteer met rein harte wat altyd begeer om welwillend te wees en in die ander
persoon se beste belang op te tree.

DAG 2
BOU JOU VERHOUDINGS OP DIE ROTS
Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan aanhou floreer wanneer
dit op die vaste rots van God se genade staan.  As ons verwysingspunt in ons
verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak
van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir ons. 

189
Jonathan Edwards het gesê ‘when we idolize we will also demonize’.  As my liefde vir
iemand dus slegs in my eie gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se
liefde) gewortel is, het ek geen waarborg dat dit nie onder sekere omstandighede ‘n
180 grade draai kan maak en in ‘haat’ verander nie. Die hoë persentasie egskeidings
en gebroke verhoudings in families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig
baie beter as wat ek dit hier kan doen.  Tullian Tchividjian het gesê ‘the heart of the
human problem is the problem of the human heart’.  Daarom is dit só noodsaaklik
dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word deur die liefde van God wat vir
ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9).  Dit alleen is vaste grond onder ons
voete in al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en
steeds lief te hê wanneer hulle liefde teenoor ons ‘in haat’ verander het.

DAG 3
DIE DRIE WAT SAAMLOOP EN SEËN BRING
Geduld, vriendelikheid, en goedheid; wat 'n wonderlike ketting van die liefde. Geduld
hou uit, sien oor, is barmhartig en groothartig, bedek 'n menigte sondes en vergewe
gou. Vriendelikheid glimlag, gee drukkies, sagte woorde en tree altyd op met 'n
gesindheid wat lafenis bring in die hardheid en koudheid van hierdie gevalle wêreld.
Goedheid het 'n brandende begeerte om ander te seën en doen graag dinge vir mense
wat hulle lewens makliker maak en hulle tasbaar die sonskyn van God se genade op
hulle gesigte laat voel. Wanneer hierdie drie hande gevat het en saamloop in ons
verhoudings is daar net seën op seën en heerlikheid op heerlikheid in huwelikke,
gesinne en gemeentes.

"Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!" Psalm 133 (NAV)

Hierdie drie vat egter nooit hande in ons binneste as ons nog self-gerig is en vertrou
op ons eie vlees nie. Prakties gesproke begin die moeilikheid by daai ongeduld. Hou
jou oog op hom! As hy sy hand begin losruk dan val vriendelikheid en goedheid ook
van die bus af en daar gaan die verhoudings en die seën van God. Mag ons die liefde
van God in ons harte bewaar en die Here vertrou dat hierdie kosbare drie vertakkings
van die liefde hand aan hand sal saamloop in ons verhoudings.

DAG 4
DIE GROOT VOORWAARDE VIR DIE ONTSLUITING VAN DIE NUWE VERBOND

Jesus het gekom na die aarde om aan gevalle en liefdelose mense die liefde tussen
Hom en die Vader te openbaar en deur te gee met die doel om van húlle liefdevolle
mense te maak. Daarom moet ons so versigtig wees dat ons nie die idee by mense
skep dat dit onmoontlik is om die liefde van die Vader teleur te stel nie. Dit is net
eenvoudig nie waar nie. Hoor wat Jesus hieroor te sê het.

190
"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van
My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie
van my Vader bewaar en in sy liefde bly." Johannes 15:9-10
Jesus gee 'n baie duidelike opdrag aan Sy dissipels: "Bly in hierdie liefde van My".
Die liefde van Jesus is niks anders nie as die Vader se liefde vir Hom wat weer na die
dissipels deurgegee word. Dit is egter baie duidelik dat hierdie besonderse liefde by
ons kan stop as ons nie Jesus se liefdesgebod gehoorsaam nie. As ons nie aanhou om
mekaar lief te hê soos wat Jesus ons liefgehad het nie is ons nie besig om te bly in Sy
liefde nie.
Dit is die groot voorwaarde vir die ontsluiting van die volle krag van die Nuwe
Verbond (natuurlik nie onafhanklik van die reddende geloof wat God se liefde in die
evangelie ontvang nie). Die liefde wat jy by God ontvang het, en steeds ontvang, mag
nooit by jou stop nie. Ons moet dus baie versigtig wees met die gebruik van die frase
"onvoorwaardelike liefde" in terme van die evangelie. Daar ís 'n voorwaarde na
geloof; hou aan om die liefde wat jy by Jesus ontvang het deur te gee na ander. God
het reeds Sy groot liefde bewys deur Sy Seun te stuur om in ons plek te sterf vir ons
sondes, maar die vloei van hierdie liefde hang af van ons gehoorsaamheid aan Jesus
se opdrag in Johannes 15 vers 12:
"Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het."

DAG 5
DIE HOË RISIKO VAN HAASTIGE OORDEEL
Konings, priesters, skrifgeleerdes, geestelike leiers, politici, en selfs Sy eie familie het
almal vir Jesus van Nasaret verkeerd gelees. Vandag nog mis ons maklik Sy voetspore
en oordeel ons dikwels veels te vinnig in situasies. 
Uit tien haastige gevolgtrekkings oor mense se motiewe en die waarheid van ‘n
situasie is nege gewoonlik verkeerd.  Pasop vir aannames!  Jesus gee vir ons
Goddelike insig hieroor en ‘n opdrag om te gehoorsaam in Johannes 7 vers
24: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.”  
“Do not form superficial judgements, but form the judgements that are just."
(Weymouth)

DAG 6
DRIE KANALE VIR DIE GENESING VAN DIE LIEFDE
Daar is drie kanale wat moet oop wees in my hart vir die liefde om 'n volle werk van
genesing in my te doen en om sielsgesondheid te verseker.
Ons spandeer so baie tyd, geld en energie aan so baie dinge wat nie werklik waarde
het nie. Die Bybel maak dit baie duidelik dat dit net die unieke liefde van God is wat
uiteindelik betekenisvol is en waarde gee aan die mens se lewe op aarde en ook vir

191
alle ewigheid. Die vloei van hierdie liefde van God in Christus werk as't ware via drie
kanale in die menslike hart.
 Eerstens moet ons die liefde van God ontvang. Dit kan net gebeur as ons God
se diagnose van ons verlorenheid en verdorwenheid aanvaar en Hom dan
toelaat om Sy unieke kruisliefde aan ons deur-sonde-gebroke harte te bedien.

 Tweedens moet ons leer hoe om hierdie liefde wat ons onverdiend ontvang het
vir ander te gee in die daaglikse handel, wandel en hartseer van ons eie lewens.
Ons almal weet dat dit 'n bonatuurlike werk van God verg.

 In die derde plek moet ons egter leer om ook liefde van ander te ontvang. Dit
is insgelyks nie kinderspeletjies nie.
As hierdie drie kanale oop is in jou hart sal jy onvermydelik 'n gesonde, volwasse en
vrugbare mens word. Vra God om hierdie kanale wyd oop te maak in jou hart;
ontvang-gee-ontvang sonder onderbreking. Dit is voorwaar 'n wonderlike gebed om
spesifiek en intensioneel te bid vir jouself en vir jou gesin, vriende en gemeente. Satan
kan niks meer doen aan die liefde van God wat deur die kruisdood van Jesus histories
geopenbaar en geanker is nie, maar hy kan die kanale in ons harte verstop om die
vloei van kruisliefde te belemmer. Daarom moet ons bid!

DAG 7
EK HET JOU NIE NODIG NIE, HET EK?
Die volgende verse in 1 Korinthiërs het die potensiaal om hele gemeentes om te keer
en 'n onomkeerbare gemeenskapsrewolusie te begin.
"As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede,
maar net een liggaam.En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie;
of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie." 1 Korinthiërs 12:19-21
Ons soek dikwels naarstigtelik na antwoorde vir ons onvermoë om betekenisvolle en
groeiende verhoudings binne-in gemeentes te sien realiseer, maar dalk lê die werklike
antwoord niks verder of dieper as ons onafhanklike gesindheid a.g.v. ons Westerse
verbruikersleefstyl nie. Dit is so maklik om gedurig besig te wees met die Bybel en
steeds nie losgeskud te word van ons diepgewortelde kulturele vooroordele nie. Die
prentjie van gemeentelewe wat die Nuwe Testament vir ons skets, is in baie opsigte
radikaal anders as waaraan ons gewoond is. Ons het nodig om al ons gebruike en
gewoontes, en veral ons gesindhede, in die lig van die Nuwe Testament te
bevraagteken. Jy kan ‘n doktorsgraad in ekklesiologie hê en die vermoë om al die
Bybelse data oor gemeentelewe 100% weer te gee, maar as jy ‘n gemeente benader
asof jy die een is wat vir ander gee, óf net ontvang van ander terloops, dan weet jy
eintlik niks of baie min van die bruisende lewe van Christus in en deur ‘n ware
gemeente. Luister hoe stel Paulus dit; ‘n man wat apostoliese gesag gehad het en ‘n
groot deel van die Nuwe Testament geskryf het.

192
"Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee
te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder
julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my." Romeine 1:11-12
Sjoe! Dit is radikaal. Paulus sê hy wil bemoedig word deur die gemeente in Rome via
húlle geloof in Jesus net soos hy hulle bemoedig deur sy geloof! Is dit hoe bediening
vandag funksioneer in gemeentes? Is dit die gesindheid van hedendaagse bedienaars
en predikante?
Dalk is jy nie in “voltydse bediening” nie, maar iemand wat al vir dekades lank die
mooi en die lelik gesien het in ‘n verskeidenheid van gemeentes. Dalk het jy baie
kennis opgedoen in al jou wedervaringe met gemeentes. Gevolglik is jou hele
benadering tot gemeentes: “ek het iets wat julle nodig het, maar julle het nie regtig
iets wat ek nodig het nie”. Dit is baie hartseer as dit so is, want ek kan jou verseker jy
gaan grootliks uitmis op die lewe van Christus via gemeentelewe as dit jou gesindheid
is. So ‘n gesindheid gaan jou effektief op die kantlyn los as iemand wat net ander met
data wil bedien in plaas daarvan om jou léwe te deel met mense wat ook Christus in
hulle het en daarom ‘n “gemeenskaplike geloof” besit wat jy dringend nodig het! Ons
het mekaar nodig. Mag die Heilige Gees ons op hartsvlak bedien sodat ons waar
nodig ‘n radikale verandering van gesindheid kan beleef.

DAG 8
GENEESDE VERHOUDINGS IN DIE AANGESIG VAN JESUS

Ons verhoudingsprobleme ontstaan wanneer ons wegkyk van die "aangesig van
Jesus" en op 'n ander basis verhouding probeer bou. Maar daar is kosbare herstel
van verhoudings en verstommende versoeningspotensiaal wanneer ons mekaar begin
sien "in die aangesig van Jesus".

Die woord "aangesig" kom net drie keer voor in die Nuwe Afrikaanse Vertaling, maar
meer as 700 keer in die Ou Afrikaanse Vertaling. Alhoewel dit 'n woord is wat ons nie
vandag meer gebruik nie is daar tog vir my iets aan hierdie woord wat die idee van
verhoudingsintimiteit pragtig uitdruk.

In die Ou Afrikaanse Vertaling word dit nie net gebruik om ons verhouding met God
te beskryf nie, maar ook ons verhouding met mekaar. Dit spreek van versoening, van
nabyheid, van harte wat kontak het met mekaar, van 'n intieme kennis en 'n begeerte
om nog beter te ken. Die hele boodskap van die evangelie gaan daaroor dat ons God
slegs kan ken "in die aangesig van Jesus Christus". Die Heilige Gees openbaar die
Persoon en Karakter van Jesus vir ons in die evangelie en dit bring oombliklik 'n
verhoudingskennis van God.

"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons
193
harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Korinthiërs 4:6

In die "aangesig van Jesus" leer ons nie net die Vader ken nie, maar word daar ook op
'n wonderbaarlike wyse 'n weg vir ons oopgemaak om mekaar "in Christus" te ken.

"Maar nadat ons, broeders, ‘n kort tydjie van julle geskeie was—in persoon, nie met
die hart nie—het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig
te sien." 1 Thessalonicense 2:17

Ek nooi jou vandag uit om na die mense om jou te begin kyk in die lig van die Persoon
en verlossingswerk van Jesus, m.a.w. in die lig van Sy aangesig.

DAG 9
"INNIGE TEDERHEID": JY IS SEKER NIE ERNSTIG NIE!?
'As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as
daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming
is." Filippense 2:1
Die wedergeboorte bring ons in 'n lewende eenheid met Christus en in hierdie
eenheid met Hom is daar troos, vertroosting, Heilige Gees gemeenskap, innige
tederheid en ontferming. Wow! Wat 'n wonderlike vers. Paulus stapel al hierdie
verhoudingsvoordele "in Christus" op mekaar voordat hy in vers 2 die appél maak op
die dissipels in Filippi om in harmonie en eenheid te leef met mekaar. M.a.w. om die
waarheid van ons redding as't ware in geloof te verwerklik in die lief en leed van 'n
gevalle wêreld met dikwels baie moelike verhoudingsituasies.
"Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê,
een van siel, een van sin." Filippense 2:2
Dink gou vir 'n oomblik oor net een van daardie wonderlike verlossingswerklikhede
wat Paulus in vers een noem: "innige tederheid". As ek nie geweet het daardie frase
staan in die Bybel in die konteks van dissipels se verhouding met mekaar nie sou ek
dit net in een, hoogstens twee, soort verhoudings op aarde geplaas het; die
verhouding tussen 'n moeder en haar kind. En dan miskien nog ook tussen 'n man en
vrou wat lief is vir mekaar, veral in die beginfase van so 'n verhouding. Paulus
gebruik die frase egter onbeskaamd en sonder verduideliking of verskoning as die
ononderbroke werklikheid van ons almal se verhouding met mekaar "in Christus".
Hoeveel van jou verhoudings met mede-gelowiges sal jy kan beskryf as dat dit
gekenmerk word deur "innige tederheid"? Ek dink nie ons sien vandag baie van
hierdie hoë standaard van liefde in gemeentes, of selfs eers in gelowige families nie.
Mag die Heilige Gees hierdie verstommende waarheid van verhoudingsintimiteit "in
Christus" vir ons 'n proefondervindelike werklikheid maak.

DAG 10
194
KOMMUNIKASIE OF FRUSTRASIE?!
Baie praat, baie woorde, baie verduidelikings en slim stellings is nie noodwendig
kommunikasie nie. Slegs  die goeie nuus van God se liefde vir ons in Christus bring
ons by 'n plek van sekuriteit waar ons werklik ons ware gevoelens met mekaar kan
begin deel.  Eerlikheid (waarheid) sonder liefde is egter steeds nie kommunikasie nie,
maar toon dikwels ernstige disrespek teenoor ander mense wat na God se beeld
geskape is. 
Liefde sonder waarheid is ook nie kommunikasie nie, maar eerder 'n droomwêreld
van fantasie wat weier om die bestaande probleme aan te spreek.  Christus alleen kan
ons in staat stel om die balans tussen waarheid en liefde reg te kry.  Sonder Sy
wysheid en krag maak ons altyd 'n gemors daarvan en dit lei net tot meer pyn en
misverstande, of frustrasie en onopgeloste probleme.  A.g.v. die sondeval is menslike
kommunikasie vir die meeste van ons eerder ‘menslike frustrasie’!  Plaas die
probleem in Christus se hande en vertrou die Heilige Gees om jou te lei na die plek
van wyse en volwasse kommunikasie.

DAG 11
LEI MEKAAR SE HARTE IN GENADE IN
“Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos
goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” 1 Pet. 4:10
Petrus praat in hierdie vers spesifiek van ons voorreg en verantwoordelikheid om
mekaar te dien met die gawes wat ons elkeen van God ontvang het. Let wel, elkeen
het ‘n genadegawe ontvang, nie net predikante of “voltydse bedienaars” nie! God se
genade is so ryk en “veelvuldig” dat dit nooit ten volle ontplooi kan word in ‘n
gemeente as daar net ‘n klein spannetjie is wat bedien terwyl die res maar net
ontvang nie. Dit gaan egter ook hier oor baie meer as bediening in die konteks van
gemeentebyeenkomste. Ons is geroep om mekaar gedurig te bedien met genade.
Genade is God se krag en oorvloed in Christus wat gegee word aan diegene wat weet
hoe swak hulle in hulleself is. Ons moet as’t ware mekaar se harte inlei in die genade
van God. Ons het almal die heerlike voorreg om mekaar gedurig te herinner aan die
groot genade wat ons in Jesus ontvang het. Nee, meer nog, die aard van hierdie
gevalle wêreld en die magte en kragte van die bose maak dit absoluut essensieël dat
ons sal leer om mekaar te bedien met genade. Ons het mekaar werklik nodig. Soos
wat jy deur die bediening van die Heilige Gees en jou omgang met die Woord jou eie
hart gedurig onder die invloed van genade hou, maak seker dat dit wat jy beleef van
God se genade nie by jouself bly nie. Deel dit met die mense rondom jou. Genade
moet gedeel word om ten volle geniet te word. Sodoende sal ons gedurig leef in die
lieflike atmosfeer van ons Vader se genade, so ryklik uitgestort in Sy Seun. Mag die
Heilige Gees ons immer dieper inlei in die skatkamers van genade.

DAG 12
LIEFDE IS DIE EINTLIKE LEERSKOOL VAN DIE LEWE
195
Daar is so baie dinge om te leer op aarde en met die internet en Google het ons
maklike toegang tot 'n wêreld van inligting. Een van die dinge wat ons egter
instinktief oor voel dat dit 'n abstrakte onderwerp is wat nie werklik bestudeer kan
word nie, is die liefde. Wat moet ons nou eintlik leer daarvan? Dit is mos maklik om
te verstaan, indien nie so maklik om uit te leef nie!
Die Nuwe Testament openbaar egter vir ons dat die liefde nog altyd die groot
onderwerp was wat God wil hê ons moet proefondervindelik bestudeer en as't ware
eksperts in word. Ons moet nooit net in algemene terme en in die breë dink oor
liefde nie. Daarom word daar in die Nuwe Testament so ontsaglik baie detail vir ons
gegee van hoe die liefde prakties lyk. Ons word nie net deur God geleer dát ons moet
liefhe nie, maar ook hoe ons moet liefhê. Hier is net enkele voorbeelde:
"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike
ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos
Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen." Kolossense 3:12-13

"Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat
nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie
belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie." 1 Kor. 13:4-5

'n Mens kan net werklik leer en ontvang as jy eers erken het dat jy níe weet nie. Dit is
eers wanneer ons nederig, gewillig en geduldig aanmeld by die Heilige Gees se
leerskool van Goddelike liefde en verstaan dat dit die hoofvak is in God se universiteit
van die lewe dat ons ware vordering begin maak op die pad van dissipelskap. Wat is
dissipelskap in wese anders as om te leer om lief te hê soos Jesus ons liefgehad het?
Ons studies oor die liefde begin en eindig by die kruis.
" ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad
het, moet julle ook mekaar liefhê." Johannes 13:34

Kom ons bly in ons harte kinders wat nog leer. Laat ons nooit dink ons is kenners van
die liefde nie. God self is ons Leermeester in hierdie eintlike leerskool van die lewe en
terwyl jy nog asem in jou longe het, is die skool nog nie klaar nie.

DAG 13
NIEMAND KAN LIEFDE VERSTAAN SONDER DIE KRUIS NIE

Almal op aarde het 'n idee van liefde en ons dink dat ons weet wat dit is en hoe dit
veronderstel is om te werk. Die Bybel leer egter dat dit net via die kruisdood van
Jesus is dat ons waarlik liefde kan verstaan en dat dit net die Heilige Gees is wat vir
ons die dieptes van die liefde kan openbaar wat aan daardie kruis vir mense
gedemonstreer is.

"En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat
in die liefde bly, bly in God, en God in hom." 1 Johannes 4:16
196
"Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19 (NAV)

Hierdie tekste in 1 Johannes maak dit baie duidelik dat ons net liefde reg kan
verstaan en werklik kan uitleef wanneer ons verstaan wat aan die kruis gebeur het.
Daar het die Lam van God ons sondes gedra, die Onskuldige vir die skuldiges.
Boonop het Hy nie gesterf vir die wat Hom goedgesind was nie, maar vir ons wat in
ons harte vyande van God was. D.w.s almal van ons.

"Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy
Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is." Romeine
5:10

Daar is soveel hartseer in menseverhoudinge en ongeag ons aandeel aan al die pyn
dink ons steeds so maklik dat óns die liefde reg verstaan en dat ander maar net moet
sien wat ons sien, dan sal alles reg wees. Die waarheid is dat ons álmal dwaal en 'n
self-gerigte idee van liefde het TOTDAT die Heilige Gees vir ons begin openbaar wat
werklik aan die kruis gebeur het. Selfs vir ware dissipels van Jesus is dit nie 'n
eenmalige gebeurtenis nie, maar veronderstel om 'n immer verdiepende openbaring
en dan ervaring te wees. Op geen ander manier kan ons Goddelike liefde uitleef op 'n
gevalle aarde nie.

"Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die
HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." Jesaja 53:6

DAG 14
REINHEID VAN HART EN RESPEK VIR ANDER
Dissipels met 'n rein hart in Christus vind dit nie moeilik om ander mense te dien en
in die algemeen welwillend teenoor hulle op te tree nie.  Respek vir ander mense wat
na God se beeld geskape is, vloei spontaan uit 'n rein hart.  Daarteenoor is 'n onrein
hart 'n fabriek van disrespek teenoor ander. Iemand wat nie respek vir ander mense
het nie bewys sonder twyfel dat hy dink hy is beter as ander. So 'n persoon verwag
respek van ander mense, maar self wil hy dit nie gee vir ander nie. 
Ons samelewing raak toenemend 'n plek waar mense net nie meer respek het vir
mekaar nie.  Dinge soos vriendelikheid, gasvryheid, beleefdheid, goeie diens in die
werksplek, bereidheid om werklik te luister na ander, om nie te gou te oordeel nie, jou
woord te hou, nie ander mense lank te laat wag as julle 'n afspraak het nie, is alles
tekens dat jy hulle respekteer.  Ons Vader verwag van ons om ander mense suiwer op
grond van hulle skepping na Sy beeld en gelykenis te respekteer (Jak. 3:9).  As mense
disrespekvol teenoor jóu optree, moenie die hoë grond in Christus en jou reinheid van
hart in Hom opgee nie.  Neem die saak liewer na die Vader en kry wysheid by Hom.  

DAG 15

197
RUIMHARTIGE BLYDSKAP IN MEDE-GELOWIGES
”Maak vir ons ruimte in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het
niemand benadeel nie, ons het op niemand voordeel behaal nie. Ek sê dit nie om te
veroordeel nie, want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te
sterwe en saam te lewe. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor
julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons
verdrukking." 2 Kor. 7:2-4

Ons blydskap "in die Here" (Fil. 4:4) is in die Bybel baie pertinent ook gekoppel aan
ons blydskap in diegene wat saam met ons "in die Here" is. Die gemeente in Korinthe
het vir Paulus baie probleme gegee, maar hy wou vir hulle hier laat verstaan dat hy
nie sy hart teenoor hulle gesluit het nie.  Hy het in geloof aangehou om hulle "in
Christus" te sien. Hy het nie geswig vir die versoeking om hulle "na die vlees" (5:16)
te begin ken en beoordeel nie. En daarom kon hy sê dat hy oorloop van blydskap te
midde van al die verdrukking en swaarkry wat hy beleef het.  Sodoende wou hy by
hulle verruiming van hart bring om die vreugde van verhoudings "in Christus" te leer
ken. Dit is so anders as verhoudings in die wêreld.

Hierin is 'n baie groot les vir almal van ons. In al ons menseverhoudinge het ons
nodig om te volhard in ruimhartige blydskap oor mekaar. Dit sal egter net vir ons 'n
teorie bly en die gevalle werklikheid sal ons aanhou oorweldig as ons nie verstaan dat
ons nodig het om mekaar gedurig "in Christus" te sien nie. Ons moet gedissiplineerd
en gelowig dink binne die kader van die groot verlossing wat God vir gevalle mense
bewerkstellig het in Sy geliefde Seun. Dit is dan ook net "in die Geliefde" wat ons kan
uitstyg bo die gebrokenheid van verhoudings op hierdie aarde na 'n plek waar ons 'n
bonatuurlike vreugde kan begin beleef in en oor mekaar. Hoekom? Want ons begin
gló en begin mekaar dan evangelies oortuig dat hierdie wonderbaarlike verlossing "in
Christus" ten spyte van ons stadige vordering besig is om ons almal te verander en
meer soos Jesus te maak!

DAG 16
RYK IN LIEFDE
 “En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal..” 1
Thes. 3:12
Die rykdom wat vir God belangrik is, is rykdom in die liefde. 'n Mens kan materieël
baie welgesteld wees, maar arm in liefde. Dan is jy in werklikheid 'n arm mens. Jy kan
baie 'godsdienstig' wees, maar arm in liefde. Dan is jy maar steeds arm. Jy kan
propvol kennis wees, maar as dit nie gestalte vind in Bybelse liefde nie is jy in
werklikheid ‘n leë mens. Jy kan so baie gawes en talente hê dat mense oral ‘n ophef
van jou maak, maar as jy nie ryk is in liefde nie het jou lewe geen blywende geestelike
impak op enigiemand nie. Hierdie besonderse evangelie-liefde word pragtig beskryf
in gedeeltes soos 1 Korinthiërs 13 verse 4 tot 7 en Galasiërs 5 vers 22. 'n Sterk geloof
in Christus sal toenemend manifesteer in hierdie soort liefde, want Hy is eintlik die
Een wat in en deur ons liefhet. Min liefde wys op min geloof. Dit is die ware toets.

198
Hoe lyk die prentjie in jou lewe? Miskien is jy volgens die wêreld se standaarde in
elke area van jou lewe arm, maar weet dit; jy kán “in Christus” ryk wees in die liefde.
Dan is jy werklik ryk!

DAG 17
VERHOUDING VERWOES DEUR VALSE VEROORDELING

“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die
geregtigheid aan.” Efes. 6:14

Geen verhouding kan floreer sonder guns en onskuld nie. Veroordeling bring altyd
skuld, afstand, vyandskap en verlies aan verhoudingsintimiteit. Alles kom tot
stilstand in jou geestelike lewe as jy onder veroordeling is. Die satan weet dat hy ons
baie vinnig kan immobiliseer as hy ons harte onder ‘n valse veroordeling plaas.
Daarom is die borswapen van geregtigheid in Efesiërs 6 so belangrik. Veroordeling is
‘n baie subtiele ding – dit kom dikwels in ons lewens in sonder dat ons dadelik bewus
is daarvan, maar ons sien die effek! Net ‘n openbaring van die geregtigheid van God
in Christus waarin jy as dissipel van Jesus staan, kan jou weerhou daarvan om weer
terug te val op jou eie pogings om God se guns te wen en verhoudingsintimiteit met
Hom te beleef.
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons
kan word geregtigheid van God in Hom.” 2 Kor. 5:21

DAG 18
VERHOUDINGS IS BROOS EN BREEKBAAR: HANTEER VERSIGTIG!
“Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind
nie!” Gal. 5:15 (NLV)
Dit is verstommend om te sien hoeveel instruksies daar in die Nuwe Testament is oor
die manier wat ons mekaar moet hanteer.  God het ons gemaak en Hy is die Kenner
van harte.  Hy weet dat ons harte broos en breekbaar  is en dat liefdeloosheid,
disrespek, onbedagsaamheid en hardhandigheid ons verhoudings met mekaar
ernstige skade kan berokken.  In Galasiërs 5 gaan Paulus sover om te sê dat ons
mekaar heeltemal kan verslind en sodoende verwoes.  En hy praat met dissipels van
Jesus!  Die onomstootlike waarheid oor verhoudings is dat as jy iemand anders
verwoes jyself in die proses verwoes word.  Jy kan nie oor iemand anders se hart loop
sonder om oor jou eie te loop nie. 
Hoe lyk dit met jóú prioriteite?  Vir God is verhoudings primêr.  As daar in jou lewe ‘n
vriendskap of huweliksverhouding is wat soos ‘n stukkende kruik aan skerwe lê deur
liefdeloosheid, bring dit nederig en biddend vir God.  Hy alleen is die Hersteller van
gebroke verhoudings.  Wees egter ook gereed om te doen wat Hy dan vir jou sê.  Hy
kan en sál jou leer hoe om met ander se harte te werk.  Sonder Hom is dit totaal
onmoontlik en sal ons maar net weer verwoesting saai met ons gesindhede, woorde
en dade.  Ware verhoudingsvaardigheid is menslik onmoontlik, maar deur die krag
en wysheid van die Gees ís dit binne jou bereik.  Glo dit!
199
DAG 19
VERVANG FEILBARE MENSLIKE LIEFDE MET ONFEILBARE GODDELIKE
LIEFDE
Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan aanhou floreer wanneer
dit op die vaste rots van God se genade staan.  As ons verwysingspunt in ons
verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak
van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir ons.  Jonathan Edwards het gesê "If
you idolize it, you will demonize it."  As my liefde vir iemand dus slegs in my eie
gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde) gewortel is, het ek
geen waarborg dat dit nie ‘n 180 grade draai kan maak en in ‘haat’ verander as
daardie persoon my op een of ander manier faal nie. En ons almal faal een of ander
tyd mekaar.
Die hoë persentasie egskeidings en gebroke verhoudings in families en gemeentes
vertel hierdie verhaal ongelukkig baie beter as wat ek dit hier kan doen.  Hoe verklaar
'n mens anders die feit dat mense wat byvoorbeeld op 'n tydstip hulle liefde en trou
aan mekaar voor baie getuies beloof het, later kan omdraai en mekaar verskeur met
venynige en dodelike woorde.
Daarom is dit só noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word
deur die liefde van God wat vir ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9).  Ons
moet gedurig maar net weer in geloof die kruisdood van Jesus in die blaaie van die
Nuwe Testament aanskou en leer om uit dáárdie liefde te leef. Dit alleen is vaste
grond onder ons voete in al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om
ander te vergewe en steeds lief te hê, ook wanneer hulle liefde teenoor óns in 'haat’
verander het.

DAG 20
WANNEER MY PLANNE EN VERHOUDINGS PLATVAL
Alles wat nie op Jesus gebou word nie is al klaar besig om dood te gaan, al lyk dit op
die oog af hoe suksesvol en florerend. Ons het nodig om gedurig ons gedagtes te
vernuwe en onsself, ons naaste en ons wêreld te sien in die lig van die nuwe skepping.
“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die
Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid
tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Kor. 3:18
Die mens se identiteit, roeping en bestemming is in Christus. Buite die openbaring
van Jesus in die Nuwe Verbond maak niks werklik sin nie.
“Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus
na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. “ 2 Kor. 5:16
Ongeag hoe hard ons byvoorbeeld probeer om verhoudings te bou op ander fondasies
as Jesus stel dit telkens maar net weer teleur. Alles val uitmekaar uit en is soos die

200
boek Prediker oor en oor herhaal “tevergeefs”. Wanneer ons egter Jesus aanskou in
die heerlikheid van die Verbond wat “regverdig maak” (2 Kor. 3:9) val dinge in plek
en begin ons ook onsself en ander mense stelselmatig beter verstaan in die lig van
God se bloudruk vir almal van ons. Van ons mooiste planne vir ons lewens val so
maklik plat en dan wonder ons hoekom dit so is. Die enigste ding wat vas en seker is,
is die heerskappy en heerlikheid van Jesus. Waar sien ons hierdie werklikheid nou
reeds in ‘n volmaakte vorm? In die openbaring van Jesus, net Jesus. Hy alleen
verander en vernuwe gedurig ons perspektief en lei ons aan na daardie dag wanneer
ook hierdie gebroke wêreld heeltemal nuutgemaak sal word (Openb. 21:1).

DAG 21
WOORDE WAT TROOS, GENEES EN VERKWIK
Met ons wedergeboorte het God die "hart van klip" verwyder en ons 'n "hart van
vlees" gegee (Eseg. 36:26). En tog het ons vernuwing van ons denke en geestelike
groei nodig om te leer om te leef as mense wat 'n radikale geestelike hartoorplating
gehad het.
Hierdie vernuwing en geestelike groei het ook baie bepaalde betrekking op ons tong.
Ons moet leer om te kommunikeer vanuit die evangelie. Ons moet leer om woorde te
spreek wat troos, genees en verkwik. Sulke woorde kan soms baie reguit wees en dit
moet altyd strook met die waarheid, maar dit moet woorde van wysheid wees wat
gerig is daarop om te verkwik en genees. Selfs al is dit woorde van vermaning is
genesing altyd die doel.
Die wêreld is gevalle en korrup en daarom is dit 'n koue en harde plek. Ons het nodig
om anders met mekaar te praat as wat die wêreld met mekaar praat. Dit verg fokus
en oefening, maar bowenal die bediening van die Heilige Gees in ons binneste. Dit is
Hy alleen wat ons 'n "geoefende tong" gee om vermoeides te kan "verkwik met
woorde".
"Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide
te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die
leerlinge." Jesaja 50:4
Dink ook biddend oor die volgende tekste. Mag die Here vir almal van ons 'n
rewolusie van woorde gee; 'n nuwe tong saam met die nuwe hart.
"Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer..." Spreuke 10:20a

"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong
van die wyse is genesing." Spreuke 12:18

"As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as
daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming
is." Filippense 2:1

DAG 22
201
DIE DENKFOUT WAT DIKWELS DIE OORSAAK IS VAN DIE MEESTE PROBLEME
IN GESINNE EN GEMEENTES

Die gemeente in Korinthe het sekerlik meer praktiese probleme gehad as enige ander
gemeente waarvan ons lees in die blaaie van die Nuwe Testament, maar wat absoluut
fassinerend is, is die manier wat Paulus hierdie probleme aanspreek.

Hy identifiseer een enkele denkfout as die wortel van al die probleme in die gemeente
in Korinthe, naamlik die idee dat mense kennis en wysheid onafhanklik van God kan
verkry deur hulle eie intellek en intelligensie en dat hierdie gesogte kennis en wysheid
selfs geestelike en morele probleme kan oplos.

Paulus self was 'n baie intelligente en geleerde man in menslike terme, maar hy het
nie die probleme in Korinthe probeer oplos deur "oorredende woorde van menslike
wysheid" nie (1 Kor. 2:4). Hy het nie die situasie benader as 'n sogenaamde
"godsdiens ekspert" nie, maar het in absolute afhanklikheid van God en met vrees en
bewing sy briewe aan hulle geskryf. Hy het baie goed verstaan dat net die kennis en
wysheid wat van God self kom via gebrokenheid en geloof hierdie gewaande
slimmigheid van die Korinthiërs kon ontmasker.

Dit is eers wanneer ons erken dat ons geen kennis en wysheid onafhanklik van God
het nie dat die fontein van Goddelike kennis en wysheid oopgaan in ons binneste en
ons skielik vind dat daar vir dosyne tameletjies in gemeentelewe (en ook in die gesin)
kosbare oplossings is in Christus. Maar dan gaan dit beteken dat ons eers ons eie
"kennis en wysheid" sal moet opgee.

"Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in
hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word." 1 Kor. 3:18

"As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos 'n mens behoort te
weet nie." 1 Kor. 8:2

DAG 23
DIE MOEILIKSTE DING IN VERHOUDINGE EN VERAL IN DIE HUWELIK

Die heel moeilikste ding om baas te raak in verhoudinge is om te glo dat daar werklik
“geen veroordeling” is “vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). Ons hemelse
Vader het “die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het,
uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker” (Kol. 2:14).
Nou verwag Hy van ons om die klagstate wat ons teen mekaar hou ook aan die kruis
vasgespyker te sien en om dan sonder veroordeling ons verskille met mekaar in
nederigheid en liefde uit te sorteer.

Solank as wat daar egter 'n klagstaat teen jou in my hart en mond is, is daar altyd
veroordeling en in daardie atmosfeer word niks ooit uitgesorteer tussen mense nie!
Inteendeel, dit lei net tot agterdog, twis, vyandigheid, verdeeldheid en weerwraak.
Daarom moet ons aanhou hoor wat die evangelie vir ons wil oordra en bo alles gló dat
ons sonder veroordeling sake kan uitsorteer deur die oortuiging wat die Heilige Gees
bring in ‘n atmosfeer van nederige afhanklikheid van God.
202
DAG 24
WANNEER DIE WONDERWERK VAN "WAARHEID IN LIEFDE" PLAASVIND
Alle families op aarde beleef konflik van tyd tot tyd.  Dit is "normaal" gegewe die
gevallenheid van die mens se hart.  Konflik is nie noodwendig iets negatiefs nie. 
Inteendeel, dit is 'n nodige pre-kondisie vir die unieke soort vrede waarvan die Bybel
praat. Iemand wat ek ken het by geleentheid iets gesê oor een van Jesus se uitsprake
in die Bergpredikasie; "salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God
genoem word".  Sy stelling sal my altyd bybly:
"Peacemakers are not peacekeepers.  Peacekeepers never confront the issue.
Peacemakers do."
Dit sou wonderlik gewees het as Jesus vir my al die duisternis van my eie hart self kon
uitwys en nie nodig gehad het om ook van tyd tot tyd ander mense, en veral die wat so
naby aan my is (!), te gebruik om dit te doen nie.   Efesiërs 4 vers 15 sê ons moet "in
liefde by die waarheid bly en SO in alle opsigte groei na Christus toe.." Eina.  Ek wens
daar was 'n ander manier om te groei.  Hierdie "waarheid' is in konteks die waarheid
oor wie Jesus is, maar dít is onlosmaaklik verbind aan die waarheid van my en jou
hart.  "In U lig sien ons die lig" (Ps. 36:10).
As mense wat steeds gevallenheid met hulle saamdra, kry nie een van ons altyd die
balans (nie 50/50 nie, maar 100/100) tussen waarheid en liefde reg nie.  Dit is net in
ons gebrokenheid, wederkerige leerbaarheid en ware evangelie-nederigheid wat die
wonderwerk van "waarheid in liefde" plaasvind.  En wat 'n kosbare wonderwerk is dit
nie.  Hierdie wonderwerk bring altyd verandering as ons bereid is om te luister. (Ek
praat nou uit ervaring in terme van die een uit tien keer wat ek wel geluister het.) 
Ons moet sekerlik vir mekaar genade gee as ons nie altyd hierdie balans regkry nie,
maar een ding wat ons nie kan bekostig om te doen nie is om op te hou om die
waarheid te praat en dan in die valse "vrede" van ons generasie aan te ploeter. Dink
daaroor:
 ons wil nie hê mense moet vir ons ongemaklike dinge oor onsself vertel nie
 maar ons het dit tog broodnodig anders hou ons op om te groei as beste
"scenario" en as slegste gaan die Vader baie harder met ons begin praat op
verskillende maniere
"Pain insists upon being attended to. God whispers to us in our pleasures, speaks in
our conscience, but shouts in our pain: it is His megaphone to rouse a deaf world."
(C.S. Lewis)
 wie anders as die mense naby aan ons kan vir ons die waarheid oor onsself
vertel ? 
 wie ken ons goed genoeg om dit te kan doen?
 gaan ons dit ontvang in gebrokenheid en leerbaarheid?
 of gaan ons aandring op God se alternatiewe spreekbuise?
203
"Friends mean well, even when they hurt you. But when an enemy puts his arm
around your shoulder--watch out!" Proverbs 27:6 (Good News Bible)
Die kanse is baie goed dat die mense na aan jou wel lief is vir jou en dat die waarheid
wat hulle met jou praat bedoel is om te herstel en genees en nie te verwoes en
vernietig nie.

DAG 25
IN DIE HUISGESIN VAN 'N VOLMAAKTE VADER

"Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van
die gelowiges en lede van die huisgesin van God." Efes. 2:19

Dissipels van Jesus kom uit verskillende agtergronde en huisgesinne. Sommige van
ons het die voorreg gehad om groot te word in baie  stabiele en liefdevolle huise. Jý
kom dalk uit 'n gebroke gesinslewe en het nie so 'n vaste fondasie vir toekomstige
gesinslewe en verhoudings gehad nie. Ongeag wat jou belewenisse van gesinslewe
was in jou kinderjare, God wil hê jy moet weet dat jy nou, vandag, in die hede deur
die bloed van Jesus 'n lid is van 'n huisgesin met 'n volmaakte Vader. God is jou Vader
en Hy wil vir jou genesing, 'n toekoms en 'n hoop gee in hierdie hemelse huisgesin.
Glo dit, vernuwe jou denke, en vergeet wat agter jou is.

DAG 26
WEES 'N STEM VIR DIE WAT NIE EEN HET NIE

"Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees
in hulle verdrukking te besoek..." Jakobus 1:27

'n Skrywer wat self 'n weeskind was sê in een van sy boeke dat alle kinders soos
dryfhout is wat rondgeslinger word deur die eb en vloei van volwassenes se lewens.
Dit is ongelukkig so en in die geval van 'n mens se eie kinders word jy hopelik deur
die Woord en Gees van God gelei om met groot vrees en bewing daardie kosbare lewe,
of lewens, te rig wat aan jou toevertrou is. Baie weeskinders het egter nie die voorreg
om sulke ouers te hê nie en is dikwels oorgelaat aan 'n maatskaplike sisteem wat nie
deeglike wigte en teenwigte ("checks and balances") het of neutrale oorsig oor wat
daar gebeur nie en wat soms skreiend teen die sogenaamde "beste belang van die
kind" optree. Die geskiedenis vertel vir ons baie welsprekend uit duisende monde
van sulke kinders wat nou volwassenes is, wat die "sisteem" met hulle gemaak het.

Jou eie kinders het stemme omdat jy hulle toelaat om te praat en vertel wat in hulle
harte aangaan. Hulle kan sonder vrees sê wat hulle bly en hartseer maak en hulle kan
hulle lewensvrae vra. So leer jy hulle om die lewe reg te hanteer. Weeskinders kom
egter baie gou agter dat hulle nie stemme het nie en maar vinnig moet leer om saam
met die stroom van grootmens-besluite te swem ongeag hoe onregverdig, en in baie
gevalle wreed, daardie besluite mag wees. Vergete, onsigbaar en stemloos beweeg
204
baie van hulle deur die kinderjare en leer maar om te oorleef.

Maar God gee om en Hy verwag van ons om ons oë oop te maak en waar ons kan in
ons invloedsfeer vir daardie kinders 'n stem te wees wat hulle nie self het nie. Of dan
ten minste die nood raak te sien en te begin bid daarvoor. Anders wat beteken
hierdie vers in Jakobus dan? Is dit vir ons maar net 'n mooi godsdienstige versie wat
ons op 'n Sondag vroom aanhoor? Ons Almagtige God se onomstootlike uitspraak is
dat "reine godsdiens" beteken dat ek weeskinders begin raaksien en iets prakties doen
om te help. Daar is na beraming 3.7 miljoen weeskinders in Suid Afrika en ongeveer
150 000 kinders wat in huishoudings is waar hulle ouer boeties of sussies die rol van
pa of ma moet vervul, want daar is nie 'n volwassene in die huis nie.

Dit mag selfs beteken dat God my gesin lei om 'n kind aan te neem en vir daardie kind
met tasbare liefde te demonstreer dat daar 'n Skepper en Vader is wat omgee vir
wese. 'n Vader wat vir hulle 'n stem wil gee sodat hulle geestelik, emosioneel en
verhoudingsgewys reg kan ontwikkel en by gesonde en volwasse menswees kan
uitkom. Wat sê die Heilige Gees vir jou oor hierdie saak?

DAG 27
VOLMAAKTE OMSTANDIGHEDE OF VOLMAAKTE WIL?

"En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die
vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is." Romeine 12:2

Die wêreld is gedurig op soek na die volmaakte omstandighede, daardie ontwykende


plek van onbeperkte bevrediging waar daar boonop niks onvoorspelbaar kan gebeur
nie. Dit is in werklikheid 'n soektog wat nooit op hierdie gevalle planeet suksesvol kan
wees nie. Daar is nie een of ander verlore kaart na hierdie Shangri-La nie. Wat ons
wel kan vind is die volmaakte wil van God. Dit vind ons net "in Christus", Hy in wie
"alle dinge stand hou" (Kol. 1:17). Dit is 'n plek van vrede en blydskap te midde van
omstandighede wat soms baie vêr van volmaak is! Hierdie plek vind 'n mens net as jy
éérs jou rug gekeer het op die wêreld se futiele soektog na volmaakte omstandighede.

Wat van jou? Soek jy dalk God se wil én volmaakte omstandighede? Miskien dink jy
God se wil ís volmaakte omstandighede op hierdie aarde. Dit is nie wat die Bybel leer
nie. In die hier en nou is daar wel innerlike vrede en blydskap binne God se wil. Om
in die voetspore van Jesus te volg is die mees geseënde lewe denkbaar. Boonop is
daar baie kosbare beloftes van volmaakte omstandighede in die "nuwe hemel en
aarde" (2 Pet. 3:13) waarheen ons oppad is. Moenie twee paaie probeer loop nie. Gee
liewer jouself oor aan God se volmaakte wil. Dit is die pad van wysheid wat Jesus
toeganklik gemaak het vir alle mense.

DAG 28
NEEM VERANTWOORDELIKHEID VIR JOU EIE GESIN

205
“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit
jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy
gaan lê en as jy opstaan.” Deuteronomium 6:6-7
In die moderne wêreld maak ons gebruik van professionele mense in elke sfeer van
die lewe. Ongelukkig het hierdie benadering tot die lewe (wat goed en reg is binne 'n
sekere konteks) oorgespoel na die terrein van kinderopvoeding. Nie net verwag ons
van pastore en dominees om ons eie geestelike lewe in stand te hou nie, maar ons
steun ook op onderwysers en Sondagskoolonderwysers om verantwoordelikheid te
neem vir ons kinders se geestelike lewe en ontwikkeling. Dit is 'n reuse mistasting.
God verwag van elke ouer om persoonlik verantwoordelikheid te neem vir elke kind
se geestelike lewe wanneer die kind klein is en om dan ook vir hulle te leer dat hulle
sélf verantwoordelik is voor God vir hulle eie geestelike lewe wanneer hulle ouer is.
Om die waarheid te sê moet ouers hulle kinders al van kindsbeen af leer om hulle eie
harte reg te bestuur voor die aangesig van God.
"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die
oorspronge van die lewe." Spreuke 4:23

Onderwysers en Sondagskoolonderwysers kan hoogstens 'n aanvullende rol speel in


hierdie verband. Hierdie is 'n baie ernstige saak en iets waaraan ouers dringend moet
aandag gee. Al hou mense ons nie noodwendig verantwoordelik in vandag se
samelewing nie, hou God elke ouer sonder twyfel verantwoordelik vir hulle eie
kinders se geestelike ontwikkeling.

Dit is net nodig om ook te sê dat wanneer jy alles gedoen het wat jy moontlik kon
doen deur die leiding van die Heilige Gees dit steeds die kind is wat self moet reageer
op die evangelie. Daarvoor kan jy nie verantwoordelikheid dra nie, maar jy kan wel
met dodelike erns bid vir jou kinders dat hulle harte reg sal reageer op die evangelie.

DAG 29
DIE OUERHUIS IS DIE PRIMÊRE LEERSKOOL VIR KINDERS

Die Ou en Nuwe Testament gee baie spesifieke instruksies vir ouers om hulle kinders
op te voed met die Bybel:

"En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit
jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy
gaan lê en as jy opstaan." Deut. 6:6-7

"En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en
vermaning van die Here." Efes. 6:4

Die "tug en vermaning van die Here" waarvan Efesiërs 6:4 praat, word in die Bybel
gevind. Nêrens anders as in God se Woord vind ons suiwer Goddelike "lering,
vermaning, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid" nie (2 Tim. 3:16). Die
Woord van God is 'n lamp vir ons voet en 'n lig vir ons pad (Ps. 119:105) en dit geld
ook vir ons kinders! Sonder ywerige omgang met die Skrif leef ons en ons kinders in
206
die duisternis van 'n gevalle wêreld. Onderwysers en Sondagskoolonderwysers kan
nooit opmaak vir 'n ouerhuis waarin die Woord van God nie gespreek, geleer en
geleef word nie. Die leringstruktuur vir God se mense in terme van gemeentelewe en
leierskap het verander met die oorgang van die Ou na die Nuwe Testament, maar die
basiese instruksie vir lering in die ouerhuis het nie verander nie. Dit is ‘n radikale
waarheid en baie betekenisvol! 'n Kind moet geestelike leiding primêr in sy eie huis
kry. Hoe lyk die prentjie in ons land? As ons gemeentes nie ouers dringend begin
bystaan om met erns hulle verantwoordelikheid op te neem nie, is dit baie
onwaarskynlik dat ons kinders die morele verval in ons samelewing sal kan vryspring
om sodoende 'n rein getuienis van Christus te gee vir 'n verlore wêreld.

DAG 30
TWEE GESLAGTE SE INSPRAAK IN 'N KIND SE LEWE

God het die Israeliete van ouds beveel om die Woord vir hulle kinders te leer (let op
dat dit eers in hulle eie harte moes wees) en dit by hulle in te skerp van kleins af.

"En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit
jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy
gaan lê en as jy opstaan." Deut. 6:6-7

In Paulus se laaste brief skryf hy aan Timotheüs en roep hom op om getrou te bly aan
die Woord soos wat hy van kindsbeen af geleer is deur sy ma en sy ouma. Twee
geslagte het die Woord belê in hierdie jong man se hart en dit het later kosbare en
blywende vrug gedra.

"En as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in
jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Euníce, en wat—daarvan is ek oortuig—ook
in jou is." 2 Tim. 1:5

"En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid
deur die geloof in Christus Jesus." 2 Tim. 3:15

Dit is nie Sondagskoolonderwysers se verantwoordelikheid om die Woord vir ons


kinders te leer nie. Dit is primêr ons verantwoordelikheid. Dit moet in ons huise
gebeur en van geslag tot geslag deurgegee word. Verder kan predikers en leraars die
Bybel vir ons leer, maar hulle kan nie die Bybel vir ons lees, memoriseer en mediteer
nie. Dit is ons eie verantwoordelikheid. Miskien is dit waar ons eerstens die fout
moet gaan soek met die swak toestand van gemeentes vandag. Ons fondamente is
deur die vyand omgegooi en ons besef dit nie eers nie.

"As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" Psalm 11:3

Die Woord word nie meer deur die ouers by die huis aan hulle kinders oorgedra met
passie en doelgerigtheid nie. As ons herstel soek in gemeentelewe moet ons miskien
daar begin. Kom ons kry net eers weer die fondamente in plek. Miskien moet die
207
televisie, die internet en die "smartphones" bietjie eenkant toe staan dat die Woord
vastrapplek kan kry in ons kinders se harte. As dit nie gaan gebeur nie is die toekoms
baie donker. Moenie dat enigiemand vir jou iets anders vertel nie.

DESEMBER: OM GOD TE KEN

DAG 1
DIE AANTREKKINGSKRAG VAN GOD
"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die
Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes 1:18

Jesus het die onsigbare God kom openbaar en daarom word elkeen wat in Jesus glo
met 'n reddende geloof as't ware ingetrek in 'n "geestelike draaikolk" met
middelpuntsoekende krag. Ons blootstelling aan Jesus plaas ons op die buiterand
van die draaikolk, maar soos wat ons aanhou om "Christus te aanskou" (2 Kor. 3:18)
word ons dieper en dieper ingetrek in die heerlikheid van God. Die mens se hart is
gemaak om onder beheer te wees van 'n allesoorheersende passie en die enigste
passie wat ooit ons rustelose harte kan bevredig is God self. Enige ander passie wat
ons beetkry en ons intrek is 'n afgod/verslawing. Verslawing is in 'n sin niks anders
as afgodery nie, want dit is iets wat besit van my hart gekry het en my toenemend
aantrek. Die evangelie is die enigste krag in die heelal wat die gevalle menslike hart
kan bevry van afgodery/verslawing, want die evangelie stel ons bloot aan die grootste
aantrekkingskrag in die heelal, die Persoon van God.
"Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe
julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te
dien." 1 Thessalonicense 1:9

Enigiets wat jou nie kan bevry van afgode/verslawings nie, is nie die evangelie van
Jesus Christus nie. Of dalk verstaan jy die evangelie, maar jou fokus is op soveel
ander dinge wat onsuksesvol belowe om jou vry te maak. Wie of wat het beheer van
jou hart?

DAG 2
DIE ONBEKENDE GOD

"Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat
julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle
heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n
onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan
julle." Handelinge 17:22-23

208
Ek wonder...as Paulus vandag deur ons dorpe en stede moes loop en ons
"heiligdomme" sien; geboue gemaak deur mensehande wat ons 'n "kerk" noem, wat
sou hy vir ons sê? Wat sou hy vir ons sê as hy moes praat met ons en agterkom dat
baie van ons God net deur hoorsê via 'n hedendaagse priester-orde en geykte
godsdienstradisies ken? Wat sou hy sê as hy sou vind dat daar soveel van ons is wat
Jesus se naam formeel en godsdienstig bely, maar wat nie vir Jesus eerstehands en
persoonlik ken nie? As hy sou vind dat baie van ons geen konsep het van die liggaam
van Christus wat 'n geestelike entiteit is wat veronderstel is om in die "eenheid van
die Gees" te funksioneer nie. Sou hy nie dalk vir ons sê nie:

" Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle."

DAG 3
GEEN LANGAFSTAND DISSIPELS NIE
”Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken." Johannes 10:14
Dissipelskap is bo alles 'n persoonlike verhouding met Jesus. Ons geloof is
ongetwyfeld gebaseer op Bybelse feite en leerstellings, maar hierdie feite en
leerstellings is almal geanker in die persoon van Jesus. Hy is die Een wat die Vader
openbaar en Hy is ook die Een wat doop met die Heilige Gees (Matt. 3:11). Die
Godheid word dus net in Hom ontsluit en dit gebeur net vir mense wat Hom
persoonlik leer ken. Christenskap is ten diepste dissipelskap en dissipelskap is nie 'n
langafstand affêre nie. Lees maar net aandagtig deur die evangelies en jy sal gou
raaksien hoe persoonlik Jesus werk met mense.
Daar is geen langafstand dissipels in die koninkryk nie. Ons kan Hom nie ken via die
gemeente, die pastoor, die dominee, ons ouers se geloof, of net 'n intellektuele
erkenning van 'n geloofsbelydenis nie. Hulle kan help om Jesus aan ons harte te
openbaar, maar tensy ek persoonlik reageer op Jesus se roepstem is daar geen
dissipelskap nie en dan ook geen verlossing vir my nie. Maak baie seker dat jou
geloof nie tweedehands is nie en ook nie bloot intellektueel of verbaal nie.

DAG 4
GOD SÉLF IS DIE BELONING
“Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons
harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus.”  2 Korinthiërs 4:6   (OAV)
“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig
laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van
Jesus Christus uitstraal.” 2 Korinthiërs 4:6  (NAV)
Ware dissipels van Jesus het in Sy aangesig die heerlikheid van God ontdek!  Dit
beteken, onder andere, dat ons nou weet en verstaan dat daar niks meer heerlik is in
hierdie heelal as God self nie. 

209
Dit is so maklik om opgewonde te raak (en ons moet) oor al die lieflike gawes van die
evangelie en te vergeet dat God self die groot beloning van die evangelie is.  Die
Persoon van God is ons grootste vreugde en om Hom te ken ons grootste doelwit
(Filippense 3:8).  In die finale analise het verlossing alles te doen daarmee om ons
totaal God-gerig en God-bewus te maak.  Die Vader, die Seun, en die Heilige Gees;
God drie-enig, ons beloning, ons vreugde, ons heil.  Hoe bevoorreg is ons nie!  Om
Hom met onuitspreeklike vreugde te verheerlik tot in alle ewigheid is ons voorland,
roeping (1 Kor. 1:9) en bestemming.  As jy fokus verloor het, draai jou oë opnuut na
die aangesig van Jesus en ontdek weer dat God jou groot beloning is.
“Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê:
Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.”  Gen 15:1 
“After these things the word of the LORD came to Abram in a vision, saying, Do not
be afraid, Abram. I am your shield, your exceedingly great reward.”  Gen 15:1 
(NKJV)
Lees ook Ps. 16:5, 6, 11; Ps. 27:4; Lukas 10:38-42, en 2 Kor. 3:18.

DAG 5
GOD STEEK HOMSELF NIE WEG VIR ONS NIE
Die mens is gemaak deur God én vir God. Ons is geskape na Sy “beeld en gelykenis”.
“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele
aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek
vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en
vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en
is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.”
Hand. 17:26-28
In ‘n gevalle wêreld wat desperaat sin probeer maak uit sintuiglike data rondom ons
en dikwels verwarrende subjektiewe waarnemings in die innerlike dring God steeds
daarop aan dat Hy nie “ver van elkeen van ons” is nie. Dawid sê in Psalm 19 “die
hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander
kennis aan”. God gee vir ons welsprekende getuienis van Sy nabyheid in die natuur,
in die Skrif, in getuienis in die menslike gewete en bo alles in Sy eniggebore Seun wat
ons geskiedenis binnegestap het toe Hy vlees geword het en vir ons kom sterf het. Op
grond daarvan verkondig Paulus met blydskap en vrymoedigheid die boodskap:
“naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart”. En hy noem hierdie
evangelieboodskap “die woord van die geloof” (Rom. 10:8). Die oomblik wat iemand
Jesus se naam met geloof bely en met sy hart glo dat Jesus opgewek is uit die dode
(Rom. 10:9) breek die heerlikheid van God deur en die “son van geregtigheid” gaan
op met “genesing onder Sy vleuels” (Mal. 4:2). Oombliklik is God nie meer net naby
nie, maar Hy leef ook binne-in hierdie nuwe dissipel van Jesus (Gal. 2:20; 1 Kor.
6:19). God is teenwoordig, Hy is naby, maar Hy leef ook in jou as jy ‘n dissipel van
Jesus is en Hy wil van binne af jou hede en jou toekoms rig en verhelder. Dit is ‘n
heerlike waarheid. Glo dit!
210
DAG 6
ONUITSPREEKLIKE BLYDSKAP VIR EWIG
Omdat die heerlikheid van Christus oneindig is, is die potensiaal vir menslike
vreugde oneindig.  Dit is die hoofrede waarom ons nie verveeld gaan raak in die
hemel nie.  God het ons geskep om die heerlikheid van Christus ononderbroke te
aanskou en sodoende reflekteerders te wees van Sy heerlikheid (2 Kor. 3:18).  Hierdie
heerlikheid kan egter net gereflekteer word deur ‘n blymoedige hart wat versadig is
en dan oorloop van die vreugde van die Here.  Hoe lyk dit met jóu hart? 
“U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u
aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Psalm 16:11 
“Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle
Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” 1
Petrus 1:8

DAG 7
RUS IN DIE WETE DAT GOD JÓÚ KEN

Daar is tye in die lewe van 'n dissipel van Jesus wat die gebed van Psalm 22 jou gebed
word en die woorde eggo in jou hart asof jy dit self neergepen het.

"My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van
my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie
swyg nie." Psalms 22:2-3

Die eerste woorde van vers 2 is natuurlik die woorde wat Jesus uitroep aan die kruis
in volle identifikasie met die mens in sy diepe verlorenheid en onuitspreeklike
wanhoop (Matt. 27:46). Maar al voel dit soms in onverstaanbare omstandighede selfs
vir die ware dissipel of God ver van hom is, kan hy rus in 'n opstanding aan die ander
kant van die kruis. Dit is juis hierdie kruis en opstanding wat ons die wete gee dat
God wel teenwoordig is en dat Hy ons, en ons omstandighede, ten diepste ken. Die
gebed in 'n ander Psalm verwoord hierdie werklikheid met verstommende insig en
helderheid.

"HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver
my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend."
Psalms 139:1-3

Gaan lees Psalm 22 en Psalm 139 na mekaar en weet dan dat jy kan rus in die vaste
wete dat God jou ken in Christus selfs al voel dit soos 'n stikdonker tyd in jou lewe.
Dit is by uitstek hierdie geloofsvertroue wat weer die vrede van God in jou
omstandighede bring.

211
DAG 8
SO NABY SOOS SUURSTOF

"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken..." Johannes 17:3

Jesus Christus het nie na hierdie aarde gekom om van ons godsdienstige mense te
maak wat net op sekere tye en plekke en slegs deur middel van ons onderskeie unieke
kerktradisies se rites en rituele tot God nader nie.

Jesus het vlees geword, gesterf, en opgestaan om ons in 'n lewende, oomblik-vir-
oomblik, egte, spontane en intieme liefdesverhouding te stel met ons hemelse Vader.
Hy is nie ver van ons nie. Hy is nie iewers toegesluit in 'n 'heilige gebou' nie. Hy is so
naby soos die suurstof wat ons inasem en waarvan ons elke oomblik leef.

Hy praat gedurig met ons harte. Ons verantwoordelikheid is net om met alles in ons
op Christus te fokus sodat ons kan leef in Sy teenwoordigheid en begin hoor wat Hy
vir ons persoonlik wil sê. Dan volg kinderlike gehoorsaamheid en sodoende die
koninkryk wat op verskillende maniere deurbreek daar waar ons leef en werk.

DAG 9
SPONTANE EN KINDERLIKE LOF HERWIN

Hoe moet ons dink oor die uitbundige en spontane lof aan die Here waarvan die
Psalms en ander dele van die Bybel propvol is?

‘’ ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy
heilige Naam!” Ps. 103:1

“Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.” Psalms
105:1

“Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in


ewigheid.” Ps. 106:1

“Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” Ps. 117:1

“Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE!” Ps. 134:2

“Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die
hele volk sê: Amen. Halleluja!” Ps. 106:48

‘n Eerlike omgang met die Skrif moet ons sekerlik laat stilstaan en vra of ons lewens
ook gekenmerk word deur hierdie soort lof wat vrylik vloei uit ‘n gelowige hart. Nie
net moet ons hierdie vrae vra m.b.t. ons persoonlike lewens nie, maar ook in terme
van ons gesinne en gemeentes. Ongelukkig is ons dikwels hopeloos te bewus van hoe
ander mense dink oor lof en dit bring ‘n berekendheid by ons wat spontane lof en
danksegging onderdruk, inhibeer en in baie gevalle heeltemal laat verdwyn.

212
Is dit moontlik vir ons om uit te styg bo ons dikwels versmorende godsdienstradisies
en om so bewus te raak van God dat ons die spontaneïteit van ‘n kind kan herwin
voor Sy aangesig? Kan ons nie ‘n slag vergeet van ander mense en net ons eie harte
ondersoek nie? Is dit moontlik om die kompleksiteit en doodloopstrate van die hele
debat oor lof en aanbidding in ons tyd eenkant toe te skuif en net weer spontaan
uiting te gee aan my liefde vir die Here as ‘n eenvoudige dissipel van Jesus? En kan
ek dit doen sonder om ander mense te probeer beïndruk deur my uitbundigheid of vir
hulle aan die ander kant ‘n punt te probeer bewys deur my stoere onbetrokkenheid?
Vra die Here self of Hy tevrede is met jou lof aan Hom in jou persoonlike lewe, jou
gesin en jou gemeente.

DAG 10
IS JY TUIS IN JOU EWIGE TUISTE?

Die evangelie van Johannes maak dit baie duidelik dat Jesus selfs terwyl Hy op aarde
was 'n hemelse adres gehad het.

"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die
Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes 1:18

Jesus het geleef in Sy Vader en vanuit Sy Vader se liefde en gemeenskap. Dit word op
verskillende maniere vir ons uitgebeeld in die evangelie van Johannes. Die
verstommende is egter dat hierdie bestaanswyse en manier van leef ook van die begin
af Jesus se plan was vir Sy dissipels. Kyk bietjie wat bid Hy daar in Johannes 17.

"Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal
wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My
liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld." Johannes 17:24

Sjoe! 'n Verstommende versoek. Baie jare later skryf Paulus aan die gemeente in
Thessalonika en hy bevestig sommer met die intrapslag dat hulle in die Vader en die
Seun is. Dit is hulle ewige tuiste, nou-al!

"Paulus en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense wat in
God die Vader en die Here Jesus Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse
Vader en die Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 1:1

Ons is steeds in ons liggame op hierdie aarde, maar ons geestelike tuiste is vandag
reeds die Vader en die Seun. Is jy tuis in jou ewige tuiste en geniet jy die geestelike
voordele in die hier-en-nou? Baie dissipels leef ongelukkig met 'n baie radikale
skeiding in hulle denke tussen die tydelike/sigbare en die ewige. So asof die
geestelike en die ewige eers "eendag in die verskiet" 'n werklikheid gaan word. Dit is
net eenvoudig nie waar nie. Ons kan nou-al begin leef in die geestelike werklikhede
in Christus.

DAG 11
213
“HULLE SAL NA MY STEM LUISTER”
"Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei,
en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder." Johannes
10:16
Jesus is die goeie Herder wat begeer om mense in te bring in 'n veilige kudde waar Hy
hulle kan lei en vir hulle kan sorg. "Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen
sy eie pad geloop" (Jes. 53:6). Jesus het gekom "om te soek en te red wat verlore was"
(Luk. 19:10). Hy bring verlore mense in Sy kudde in en omdat hulle almal in Sý sorg
is, word hulle deel van die een unieke kudde regoor die wêreld. Al is daar derduisende
menslike herders wat ook onder Jesus pastorale sorg dra vir plaaslike kuddes, is daar
oor almal maar net Een unieke Herder. Selfs die menslike herders staan onder Jesus
se leiding en is in Sy sorg.
Jesus se universele kudde is nie moeilik om uit te ken nie. Hy verklaar duidelik en
ondubbelsinnig dat die een uitstaande kenmerk wat Sy kudde eien is dat hulle "luister
na Sy stem". Of dit nou leiers of lidmate is, as mense wegdraai van die Woord van
God gee hulle daarmee getuienis dat hulle nie deel van Jesus se kudde is nie. Jesus se
stem sny in Woord en Gees soos 'n skerp swaard deur al die verwarring in die
kerkwêreld en lei steeds Sy skape na "groen weivelde" en "waters waar rus is" saam
met ander wat na Sy stem luister. Ons sekuriteit is nie in wisselvallige denominasies
en menslike leiers nie, maar in ons goeie Herder wat ons veilig sal bring na ons ewige
tuiste. Ons moet net aanhou luister na Sy stem en Hom kinderlik gehoorsaam
wanneer Hy ons wil lei na plekke van rus en voeding.

DAG 12
GEBARSTE REËNBAKKE

"Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende
water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat
geen water hou nie." Jeremia 2:13
God alleen is "die fontein van lewende water" en Sy kinders het die voorreg om in
gebed van hart tot hart met die lewende God te kommunikeer om sodoende te drink
en ontvang van hierdie onuitputlike fontein. Maar dan moet ons verstaan dat ware
gebed in sy essensie te doen het met net één wil, God s'n. Gebed is dan in 'n sin ons
vereniging met die wil van God deur ons diepe afhanklikheid van die Heilige Gees in
ons nadering tot God op grond van die bloed van Jesus.
"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons
moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge."
Romans 8:26
In Handelinge 4 (en baie ander plekke in Handelinge) sien ons dat die gemeente van
die Here in absolute afhanklikheid van die Heilige Gees gebid het en dat dit nie net
gelei het tot beantwoorde gebed nie, maar ook tot toenemende bekragtiging deur die

214
Gees. Let ook op dat hulle gebede primêr gerig was op die verkondiging van die
evangelie aan 'n verlore mensdom.
"En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle
vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en
tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle
gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die
Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek." Handelinge
4:29-31
So wat moet ons dan, in die lig van die Bybelse data, sê van die moderne tendens om
via whatsapp en ander kanale standaard/templaat "gebede" uit te stuur wat mense
oproep om allerhande "verklarings" te maak oor wat ons eis moet gebeur? Dit wil
voorkom asof die mense wat hierdie "gebede" saamstel werklik glo dat as *duisende
Christene almal saam hierdie "verklarings" maak dit ongetwyfeld 'n werklikheid
moet word. Verklaar ons dan nie "in geloof" al die positiewe dinge en maak dit
sodoende deur ons korporatiewe positiewe belydenis 'n realiteit nie? Die kort
antwoord is, nee. Ongelukkig nie. Ware gebed is 'n eenwording met God se wil in
afhanklikheid van die Heilige Gees sodat ons in die oomblik kan bid wat op Gód se
hart is.
Is dit verkeerd om via die moderne media dringende behoeftes bekend te maak en
oproepe te maak vir dissipels van Jesus om eendragtig te bid? Nee, sekerlik nie.
Maar die praktyk om templaat gebede uit te stuur wat primêr bestaan uit
"verklarings" en bitter min afhanklikheid en ware petisie voor 'n soewereine God is 'n
gebarste reënbak wat nie water kan hou, kan voorsien of kan bring nie. Miskien moet
ons eerder 'n slag die boek Handelinge indringend bestudeer en gaan kyk hoe die
vroeë gemeentes gebid het en hoekom hulle so 'n impak gehad het.
* Hoe meer hoe beter; daarom dikwels die opdrag of soms selfs verskuilde
dreigement/veroordeling "moenie hierdie ketting breek nie".

DAG 13
DIE VADER WERK ANDERS

"Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle
daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al
te groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom
te bevestig." 2 Korinthiërs 2:6-8

Paulus vra die Korinthiërs om 'n broer te vergewe en bemoedig wat klaarblyklik
onder sensuur geplaas is, maar hom toe bekeer het. Daar is 'n tere liefde wat
deurskyn in Paulus se gesindheid teenoor die een wat gesondig het. Hy wil hê die
dissipels in Korinthe moet weet dat die Vader se hart oop is vir berouvolle dissipels.
Die satan se manier is om mense te verwoes en so moedeloos te maak deur
versoeking, sonde en dan veroordeling, dat hulle opgee. Die Vader werk anders met
mense.

215
Ons moet baie wakker wees om nie in satan se hande te speel deur te veroordeel en
mense moedeloos te maak nie. Kerk dissipline is 'n opdrag in die Bybel, maar ook
vergifnis en vertroosting wanneer daar ware bekering is.

DAG 14
DIE VADER VAN ONTFERMINGE EN GOD VAN ALLE VERTROOSTING
Vertroosting is nie net ‘n proses, ‘n metode of ‘n terapie nie.  Vertroosting word
gevind in ‘n Persoon.  In die finale analise is dit net God wat werklik ten diepste kan
vertroos.  Hierdie vertroosting gaan uit vanaf die Vader wat genoem word “die God
van alle vertroosting”.  Hy is die Een wat die vertroosting inisieër.  Die hele Drie-
eenheid is egter betrokke in hierdie vertroosting. Lees Johannes 14 vers 16 en let op
die twee “Troosters”.  Jesus was ook ‘n “Trooster” in Sy bediening (Lukas 4:18-19).
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van
ontferminge en die God van alle vertroosting.”  2 Kor. 1:3

DAG 15
EEN FOKUS EN EEN DOEL

Die Nuwe Testament het een enkele fokus en een enkele doel. As jy dit raaksien, sny
jy letterlik deur honderde hedendaagse verwarrings en kry antwoorde vir honderde
vrae oor kerk, leierskap, teologie, die regte benadering tot die Bybel, en noem maar
op. Is dit 'n oorvereenvoudiging? Oordeel self.

Die een fokus van die Nuwe Testament is Jesus. Hy is ons weg tot die Vader, die
Doper met die Gees, die Hoof van die gemeente, ons Bruidegom, ons geregtigheid,
ons lewe en ons heiligmaking. En dit is maar net enkele van die Bybelse beskrywings
van hierdie wonderlike Persoon wat ons alles-in-alles geword het deur Sy dood en
opstanding.

Die een doel van die Nuwe Testament is die vorming van ons karakter ín hierdie
onvergelyklike Christus sodat ons verhouding met God en mekaar net dieper en meer
kosbaar kan word. Die Nuwe Testament praat op dosyne verskillende maniere van
die karaktervorming van 'n dissipel van Jesus met die doel om gelykvormig te word
aan Sy beeld (Rom. 8:29).

Wat dan van die gemeente wat so prominent is in die Nuwe Testament? Hier is die
interessante; die gemeente word gevorm en gebou vanuit die een fokus met die een
doel. Ons verhoudings met mekaar is volgens die N.T. in en vanuit Christus en die
groei van die ligaam vind net in werklikheid plaas as die individue in die gemeente in
hulle karakters meer word soos Jesus. Slegs dan is daar 'n ware organiese en
praktiese eenheid onder die gemeentelede. Die satan se strategie is om honderde
ander fokusse en doelwitte in te voer en so verwarring te bring in gemeentes. Keer
terug na die een fokus en een doel van die N.T. en die ander dinge sal sekerlik in plek
begin val. God waarborg dit.

216
DAG 16
DIE STEM VAN DIE GOEIE HERDER
Sukkel jy om die stem van die Herder te hoor?  Ondersoek jou hart en bring dit in lyn
met die volgende kenmerke van Sy Stem:
1.  Dit is uit die groot en liefdevolle hart van ‘n Vader.
2.  Dit is in die Aangesig van ‘n Seun (2 Kor. 4:6).
3.  Dit is in die kosbare en ononderbroke ademings van die Gees.
4.  Dit is op die nou pad van die Kruis, Nederigheid en Onderdanigheid.
5.  Dit is in die onskuldige kamers van ‘n rein en kinderlike Hart.
6.  Dit is in die Bybel; ondersoek, luister en bewe (Jes. 66:2)!
7.  Dit is in die moedige gange van Geloof.
8.  Dit is in die veilige plekke van die Liefde.
9.  Dit is in die helder gange van Hoop.
10.  Dit is in die lieflike Ryk van Barmhartigheid en Genade.
11. Dit is in die onversteurde grotte van Stilte.
12. Dit is in die tuine van volhardende Intersessie.
13. Dit is in die vriendelike oë, woorde en dade van nederige en gebroke mense.
14. Dit is in die Samekoms van gelowiges in Sy Naam, nie hulle eie nie.
15. Dit is in die Manier wat Sy mense mekaar liefhet en vergewe.
16. Dit is langs die lyne van wedersydse Onderdanigheid aan mekaar uit respek vir
Christus.

DAG 17
GENADE EN WAARHEID LOOP SAAM
"En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid
aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van
genade en waarheid." Johannes 1:14
Die genade van God in Christus steek niks weg nie. Dit verdoesel nie sonde nie.  Dit
smeer dit nie toe of vee dit onder die mat in nie. Ons sien dit baie duidelik in Jesus se
bediening.
Jesus het nooit genade bedien as 'n groot "cover up", soos wat vandag in so baie
kringe gedoen word  nie.  Jesus het presies geweet wat in elke mens se hart aangaan.
Niemand kon enigiets vir Hom wegsteek nie. Neem die vrou by die put in Johannes 4
as voorbeeld.  Hy het elke persoon wat Hy mee gewerk het deur die Gees onder

217
oortuiging gebring van die waarheid van wat werklik in hulle hart aangaan en dan het
Hy hulle gelei na verlossing. Verlossing vir die wat bereid was om saam te stem met
Jesus se diagnose van hulle hart. Dit is verstommend en terselfdertyd verlossend om
te sien hoe konsekwent Jesus met almal was wat oor Sy pad gekom het. Hy is vandag
nog net so konsekwent. Hy laat niemand wegkom met self-bedrog nie. Hy wys vir jou
die waarheid van jou verlorenheid en jou behoefte aan genade en dan voorsien Hy
daardie genade!
Ons moet nooit genade en waarheid teenoor mekaar stel nie. Hulle loop saam en is
niks anders nie as die persoonlike bediening van Jesus. Vat albei se hande en hulle
(Hy) sal jou lei na lewe, vryheid, vrede, vreugde, en hoop.

DAG 18
OM CHRISTUS AS WINS TE VERKRY

“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag
ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here,
ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te
verkry.” Filippense 3:7-8

Die dag toe Paulus Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het, het hy alles wat hy so
hard voor gewerk het tot op daardie oomblik in sy lewe; naamlik roem, eer, erkenning
in die akademies-teologiese wêreld en sy ereplek in terme van sy Joodse
geslagsregister opgegee. Hy het dit gedoen omdat hy in ‘n verbysterend-intense
oomblik van Goddelike openbaring Jesus in sy heerlikheid gesien het. Paulus het in
die dae en weke daarna besef dat hy nie kon vashou aan ‘n aardse identiteit en al die
voordele daaraan verbonde en terselfdertyd groei in die kennis van Christus in sy
heerlikheid nie. Hy het nie wedergeboorte gesien as ‘n blote kaartjie hemel toe nie,
maar as die deur na ‘n lewe waar God ons voortdurend dieper wil inlei in die kennis
van Sy Seun. Wat het ek en jy al opgegee en as “drek beskou” om te groei in die
kennis van Christus en om Hom “as wins te verkry”? Mag die Heilige Gees ons harte
verlig en ons intrek in die soort toewyding aan Jesus wat Paulus hier van praat. Dit is
nie net bedoel vir spesiale super-geestelikes of apostels nie. Dit is die roeping en wil
van God vir elke dissipel van Jesus.

DAG 19
SY GEES ROEP 'ABBA VADER' IN JOU!

"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en
Hy roep: Abba, Vader!" Galasiërs 4:6

Al die kinders van Adam dwaal Vaderloos rond op 'n gevalle planeet. Die woorde van
God aan Adam eggo deur die eeue 'die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe'
(Gen. 2:17). 

Om sonder verhouding met die Vader te leef is om verlore en sonder enige hoop te
wees. Dit is om geestelik dood te wees.  Die dag wat jy egter uit jou diepe verlorenheid

218
en Godsverwydering die naam van Jesus aanroep, word jy oombliklik in Hom geplaas
en Hy in jou en ontvang jy die ewige Seun se tydlose verhouding met die Vader as jou
grootste geskenk. Hierdie Seun was altyd by die Vader en Hy leef in Sy boesem (Joh.
1:18). Hierdie Seun leef in onbeperkte intimiteit met die ewige Vader. Hierdie Seun se
Gees is met die wedergeboorte in jou hart uitgestuur en Hy roep binne-in jou 'Abba,
Vader!'. Jy is nie meer Vaderloos nie. Jy hoef nie te leef soos 'n geestelike weeskind
nie. 

Moenie as dissipel van Jesus probeer om jou eie verhouding met die Vader na te jaag
onafhanklik van die Seun nie. Dit is futiel! Jou verhouding met die Vader is in en deur
die ewige Seun. Glo dit en verbly jou daarin! Kyk weg van jouself na Jesus en jy sal die
'Abba Vader' in jou binneste begin hoor.  Eers saggies en vaag, maar dan al hoe
duideliker totdat dit die refrein van jou hele lewe word.

DAG 20
VERSADIGDE LIGGAME, HONGER SIELE

"Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?" Mattheüs
6:25b

God is die Gewer van reën en voedsel en Hy maak voorsiening in die natuur om
fisiese lewe op ons planeet te onderhou. Maar mense het ook 'n siel en gees wat
gevoed moet word.

"Want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul."
Psalm 107:9

Jesus is die enigste "voedsel" wat mense se siele kan voed. Dit is net in 'n lewende
verhouding met Hom wat die diep honger van ons siele bevredig kan word.

"En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit
honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie." Johannes 6:35

God het in Christus oorvloedige voorsiening vir ons gemaak om gesonde en


versadigde siele te hê sodat ons ook ander kan voed met die brood van die lewe.
Maar waar les ons, ons dors en waar versadig ons, ons honger? Drink ons by die
fonteine van die wêreld en eet ons by die wêreld se tafels? God nooi ons uit om te
kom aansit by die geestelike tafel wat Hy voorberei het.

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u
aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11

DAG 21
WAAR BEHOORT JY EN VOEL JY VEILIG?

219
Ons soek so maklik na sekuriteit (insluitende geestelike sekuriteit) in die bekende, in
tradisie, in instansies, in "belangrike" en geleerde mense en leiers en in korporatiewe
entiteite wat vir ons lyk of dit lankal staan en nog lank gaan staan. Daar voel ons
sommer gou veilig en maak ons onsself vinnig wys dat ons hier behoort en 'n tuiste
kan vind vir ons bevreesde harte in 'n onseker en gevalle wêreld. Is dit egter die
prentjie wat die Nuwe Testament skets m.b.t. sekuriteit? Kom ons kyk na 'n paar
tekste:
"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die
Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes 1:18

"Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal
wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My
liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld." Johannes 17:24
"Soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra,
aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die
evangelie my deelgenote in die genade is." Filippense 1:7

Uit hierdie tekste blyk dit baie duidelik dat God vir ons 'n heel ander idee van
sekuriteit wil deurgee. Jesus se sekuriteit was tydens Sy aardse lewe in "die boesem
van die Vader". In Sy gebed in Johannes 17 vra Hy die Vader dat ons saam met Hom
in daardie onbeweeglike en onveranderlike fort van veiligheid sal wees. En dan maak
Paulus dit duidelik in Filippense 1 dat ons ook in mekaar se harte veiligheid en
sekuriteit moet kry.

Die veiligste plek in die heelal is in "die boesem van die Vader" waar ons reeds onsself
bevind (sien Kolossense 3:3) en hier op aarde is ons veronderstel om ook 'n tuiste te
vind in mekaar se harte. Dit is net wanneer ons in die liefde van God vir mekaar
begin ruimte maak in ons harte m.b.t. gemeentelewe en familielewe dat ons werklike
sekuriteit op aarde kan vind op die horisontale vlak. Géén instansie, denominasie,
tradisie, leier, geestelike groepering of organisasie van watter aard ookal kan ooit dit
vir ons bied nie.

Wanneer al die redes waarom ons by 'n sekere groep tuis gevoel het platval, bly daar
net een ding oor en dit is of ons werklik mekaar liefhet en ruimte in ons harte gemaak
het vir mekaar. Baie mense het al deur die lang geskiedenis van die kerk tot hulle
skok besef wanneer hulle vir een of ander rede nie meer aan 'n geestelike organisasie
lojaal is nie, dat daar nooit ruimte in harte was vir hulle nie. Die "kerk-verband" was
bloot uiterlik, formeel en kunsmatig. God het 'n baie beter plan met Sy gemeente.
Gaan dink bietjie weer oor die tekste hier bo.

DAG 22
WAAR GOD IS, IS DIT HEMEL

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus
wat U gestuur het.” Johannes 17:3

220
Die ewige lewe is meer as ‘n oneindige tydperk. Die hemel is meer as ‘n wonderlike
plek. Ons is almal geneig om te dink oor die hemelse vanuit ons aardse perspektief.
Ons prioriteite raak so maklik deurmekaar en voor ons, ons kom kry dink ons oor die
hemel net as ‘n volmaakte plek waar ons vir ewig gaan bly. Jesus sny met Sy gebed in
Johannes 17 as’t ware met ‘n vlymskerp mes deur al ons minderwaardige idees oor
die ewige lewe en die hemel. Sy stelling gerig tot die Vader in vers 3 is verstommend
in sy eenvoud. Die “ewige lewe” is eenvoudig om die Vader en die Seun werklik te
ken. Het jy al ooit gewonder wat gaan aan in die hemel en hoe gaan dit daar wees?
Lees die Bybel met die een enkele fokus om die Vader te ken in Sy Seun deur die
verligting van die Gees. So kan jy nou-al begin om hemel op aarde te beleef, want
waar God geken en geniet word, daar is dit hemel. Dit raak ook net beter, want daar
is geen einde aan Sy wese en heerlikheid nie. Hy is die oneindige God.

DAG 23
WANNEER VORMGODSDIENS GEHOORSAAMHEID VERVANG

Om God se stem self te hoor in die Woord en dan te gehoorsaam in die krag van die
Gees is van baie meer waarde as duisende halfhartige godsdiensaktiwiteite, selfs al
doen jy dit vir dekades lank.

"Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in


gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as
slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme." 1 Samuel 15:22

Koning Saul het halfhartig gehoorsaam en toe nog boonop die fatale fout gemaak om
eiesinnige godsdiens vir die Here aan te bied. Die Here is geensins beïndruk met
enige van ons godsdiensaktiwiteite, hetsy persoonlik of in die gemeente, as dit nie
vloei vanuit 'n gehoorsame hart en in lyn met Sy spesifieke opdragte vir elke situasie
nie. Ons God is 'n lewende God wat 'n persoonlike verhouding van kinderlike
gehoorsaamheid met elkeen van ons eis.

As ons byvoorbeld net uit gewoonte ons gemeente se dienste bywoon en nie ingestel
is om persoonlik die Here se stem te hoor en gehoorsaam nie is dit niks beter as om
na 'n Hindoe tempel gaan nie. Hoekom nie? Want dit is dan maar net 'n ander vorm
van godsdiens op hierdie aarde en dit het géén waarde in God se oë nie. Inteendeel,
dit dien om ons te verblind vir ons eie geestelike doodsheid en die einde van daardie
pad is rampspoedig. Mag ons almal sonder versuim ons rug keer op vormgodsdiens
en met ons hele hart glo dat God met ons wil en kan praat in Sy Woord deur Sy Gees.
Dit is God se uitgesproke wil vir elkeen van ons.

DAG 24
DIE EINDE VAN TEMPEL-GODSDIENS
“Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit
oprig. En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal
U dit in drie dae oprig?” Joh. 2:19-20 

221
“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel
en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” Hand. 17:24
“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is,
wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” 1 Kor. 6:19
Die Jode het gesukkel om te aanvaar dat die koms van Jesus die einde van ‘n era van
tempel-godsdiens ingelui het.  Die van hulle wat wel die lig in Christus gesien het en
deur die Gees wederbaar is, is toenemend deur God geleer om weg te draai van ‘n
godsdiens wat fokus op aardse, mensgemaakte tempels en instede te fokus op die
realiteit van Christus wat nou ín ons woon.  Hoe lyk dit met óns benadering tot
geestelike dinge?  Het ons nie dalk weer ‘n tempel-godsdiens opgerig wat Jesus
eintlik gekom het om af te breek sodat ons in die realiteit van sy 24/7 inwonende
teenwoordigheid kan leef nie?  ‘n Gebou is goed om die reën, wind en koue buite te
hou, maar as dit vir ons ‘n heilige koei geword het en die middelpunt van ons
verhouding met God en medegelowiges (of dalk die ding wat ons afskei van ander
dissipels van Jesus!), is dit ‘n struikelblok wat die openbaring van die Nuwe
Testament versluier en verdoesel.

DAG 25
DIE GEBED WAT NIE BAIE GEBID WORD NIE

"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid
volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in
my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in
vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2
Kor. 12:9-10

Die dinge waarvoor ons bid en die manier wat ons daarvoor bid is 'n baie goeie indeks
van wat in ons harte aangaan. As God vir Paulus sê 'my krag word in swakheid
volbring' en Hy daarmee sy wil vir, en werkswyse met, al sy dissipels vir alle tye
bekendmaak, het dit baie bepaalde implikasies vir ons gebedslewe. Wanneer ek deur
'n moeilike tyd gaan, moet ek net bid dat God asseblief my omstandighede sal
verander? Moet ek net bid dat Hy my daardeur sal dra? Miskien lei die Heilige Gees
my om so te bid, maar as ons die hele Bybel as maatstaf neem, is dit duidelik dat die
belangrikste gebed van ons harte moet wees: "Laat U krag in my swakheid volbring
word". "Verheerlik Uself en openbaar Christus in my swakheid, o Heer". Dit is die
herlewingsgebed! As ons só begin bid vir onsself en vir ander is ons in lyn met die
wysheid van God en kan ons die krag van God sien deurbreek in ons omstandighede
op verrassende maniere wat dalk heeltemal anders is as wat ons verwag het. Dan eers
gaan ons werklik die dieper doel en groter prentjie van God se koninkryk en ons
lewens begin raaksien.

DAG 26
DIE BROOD WAT JESUS GEE RAAK NIE MUF NIE

222
“Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie
omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig
geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot
in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die
Vader, verseël.” Joh. 6:26-27

Die wonderwerke wat Jesus gedoen het was tekens wat bedoel was om die rigting te
wys na ‘n geestelike boodskap oor Sy identiteit en roeping om verlore mense te red en
hulle geestelik te versadig met Sy wese en teenwoordigheid. Die meeste van die Jode
in die tyd van Jesus se bediening op aarde het die doel van Sy koms heeltemal
verkeerd vertolk. Hulle het vasgeklou aan die materiële en uitgemis op die geestelike
rykdom in Jesus, wat vir hulle bedoel was! Hoe lyk dit in ons wêreld vandag?
Dieselfde Jesus maak vandag deur die Heilige Gees ‘n appél op mense se harte om die
geestelike rykdom wat Hy bied te omhels. Is dit regtig nog moontlik om in ons tyd Sy
boodskap verkeerd te interpreteer? Is daar in óns tyd verskillende weergawes van die
evangelie wat die geestelike kern van die boodskap in wese misken en die klem skuif
na materiële voordele? Wat dink jy?

DAG 27
FONTEINE WAT NIE BEVREDIG NIE
"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u
aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11
Dawid het ontdek dat niks op hierdie aarde 'n mens finaal kan versadig nie.  Geen
aardse water kan die dieper dors les nie.  Dit is net die water wat Jesus gee wat die
dors van die menslike hart totaal kan bevredig (Joh. 4:13-14). Dit is net voor die
aangesig van God wat 'n mens se hart werklik kan stilraak en begin rus in volkome
tevredenheid en onbeperkte vreugde. 
Hoe tragies dat mensekinders by soveel verskillende fonteine drink om finale
bevrediging te vind terwyl dit net by God te vinde is.  Hy nooi alle mense uit om
verniet te kom drink van die fonteine van heil in Christus. 
"En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem,
verniet." Openbaring 22:17

DAG 28
WAT IS JOU GROOTSTE VREUGDE?

"Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die
meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi." Psalm
16:5-6

As koning van Israel het Dawid sekerlik alles in die natuurlike gehad wat 'n mens kan
begeer op hierdie aarde. Sy materiële "erfdeel" was ongetwyfeld besonders
indrukwekkend, maar Dawid se hart was nie gerig op dit wat mens met jou sintuie
kan waardeer nie. Hy het baie goed verstaan dat volhoubare vervulling net op een

223
plek te vinde was. Sy erfenis was nie vir hom al die dinge wat mens kan bymekaar
maak op aarde nie. Sy erfenis was 'n Persoon. Die Here was sy erfenis, sy vreugde, sy
lewe en sy finale bestemming. Waarop is ons harte gerig? As ons Jesus se naam bely,
moet ons saam met Dawid kan sê "die Here is die deel van my erfenis". Anders is daar
iewers groot fout.

DAG 29
JESUS AFGESNY VAN SY KRUIS EN SY GEESTELIKE LIGGAAM
Jesus het nooit in Sy bediening op aarde toegelaat dat enigiemand op enige ander
basis as die kruis (met die uiteindelike vorming van die "liggaam van Christus" ten
doel) met Hom 'n assosiasie vorm nie. Dit is die wese van Bybelse dissipelskap.
"Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself
verloën en sy kruis opneem en My volg." Mattheüs 16:24

Dit is onmoontlik om Jesus se missie werklik te verstaan as ons nie insien dat Hy
tydens Sy aardse bediening heeltyd Sy kruis en Sy liggaam (die "liggaam van
Christus") voor oë gehou het nie. Net daar aan die kruis kon die "ou mens" met al sy
belange en belangstellings (ook godsdienstige belange en belangstellings)
getermineer word. En slegs op daardie basis kon die "een nuwe mens" (Efes. 2:15)
gevorm word op opstandingsgrond. Hierdie "een nuwe mens" is die liggaam van
Christus wat in universele eenheid veronderstel is om die missie van Jesus op hierdie
aarde voort te sit. Dit is wat Jesus ten doel gehad het in Sy hele bediening op aarde
en dit is wat Hy steeds ten doel het met Sy intersessie aan die regterhand van die
Vader.
As ons dus praat ván Jesus en Sy naam oor ons lippe neem sonder om te sien wat Hy
verwag van ons in al ons gesprekke óór Hom, sny ons Hom as't ware af van Sy kruis
en Sy liggaam en skep ons 'n karikatuur van Hom wat vreemd is aan die Skrif. Dit het
ook baie spesifieke betrekking op evangelisasie.
Kom ek maak dit baie prakties om begrip van wat ek wil oordra te probeer verseker.
Gebruik ons Jesus se naam om ons eie ding te doen en kerk-kerk te speel? Gebruik
ons Sy naam om ons eie institusies, denominasies en mega-gemeentes te bou? Doen
ons dit sonder begrip of in agname van Sy alles-insluitende en ou-mens-
terminerende kruis en die gevolglike vorming en opbou van Sy universele liggaam?
As ons dít doen is ons steeds besig met die godsdienstige belange en belangstellings
van die "ou mens". Dit sal nooit God se goedkeuring wegdra nie. Inteendeel...

DAG 30
DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VERTROUE
In ons verhouding met God is daar twee baie spesifieke sake wat getoets word,
naamlik waar ons vertroue werklik is en dan in wie ons volkome vreugde vind.

224
"Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt
en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle
verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!" Sagaria 13:9
Geen dissipel van Jesus kan die toetse "in die woestyn" vryspring nie. Ons kan nie
vorder met die Here en begin om werklik 'n geestelike impak te hê op mense in ons
invloedsfeer as ons nie eers die toetse in die woestyn deurgekom het nie.
Die generasie van Jode wat deur Moses uit Egipte uitgelei is, het die toetse in die
woestyn gedop. Hulle het gevrees en gemurmureer in plaas van om te vertrou op die
liefde en sorg van die Here.
"En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons
vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte
terug te gaan nie?" Numeri 14:3
Niemand van daardie generasie het die Beloofde Land binne gegaan behalwe Josua
en Kaleb nie.
"Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle
daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun
van Nun." Numeri 14:30
"Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n
waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het." 1 Kor. 10:11
Die Here lei dus elke dissipel van Hom as't ware die woestyn in om te sien wat
werklik in ons harte aangaan.
"En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar
lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet
wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie." Deut. 8:2
Wanneer die natuurlike steunpilare en krukke rondom jou weg geneem word, wie sal
jy vertrou? Is jou vertroue in finansies, mense, stelsels en strukture of stel jy werklik
jou vertroue in die lewende God wat beloof het dat Hy jou nie sal begewe of verlaat
nie? Elke dissipel van Jesus kom een of ander tyd voor hierdie vraag te staan en daar
is geen pad rondom dit nie. Die vraag moet voor God (Coram Deo) beantwoord word.

DAG 31
DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VREUGDE
Verlede keer het ons gesien dat die Israeliete nie die toets van ware vertroue in die
woestyn geslaag het nie. Hulle kon nie hulle sekuriteit in God vind nie.
Vandag kyk ons na die toets van vreugde in die Here. Nie net verwag God van Sy
kinders dat hulle sekuriteit in Hom moet wees nie, maar die wese van God vereis ook
dat ons proefondervindelik volheid van vreugde in Hom sal vind. In die eerste en
laaste verse van Psalm 16 sien ons dat Dawid dit baie goed verstaan het.
" ‘n Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek." Psalm 16:1

225
"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u
aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11
Ongelukkig kon die Israeliete nie in die woestyn hierdie wonderlike plek van vreugde
vind nie. Hulle het terug verlang na die tydelike en onbevredigende vreugdes van die
wêreld.
"En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die
hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet
het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van
honger te laat sterwe." Eksodus 16:3
"Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en
die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel." Numeri 11:5
Woorde alleen is nie genoeg nie. Dit is in die woestyn wat ons ontdek of ons werklik
glo dat God in beheer is van hierdie heelal en dat Hy die groot Voorsiener is wat alles
en almal aan die lewe hou.
Ons ontdek ook of ons harte werklik vreugde in Hóm vind wanneer daar nie aardse
vermaak en bevrediging beskikbaar is nie. Soms gaan ons deur sulke moeilike tye dat
ons aptyt vir die wêreld se plesiere taan. Dit is 'n goeie plek om te wees, mits ons dan
die wonderlike geloofsontdekking maak dat daar totale en onbeskryflike vreugde te
vind is in die Persoon van God.
"Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie."
Psalm 73:25
Geen dissipel van Jesus sal hierdie toets vryspring nie en die rede daarvoor is
eenvoudig dat God in werklikheid die Algenoegsame Heerser van die heelal is wat
volheid van vreugde bied vir almal wat Hom liefhet. As ons dus sê ons staan in
verhouding met Hom, moet dit in die realiteit van ons erváring van Hom bevestig
word. Die alternatief is vormgodsdiens en vormgodsdiens slaag nooit die toetse in
die woestyn nie. Mag die Here ons genadig wees dat ons harte nie wanneer die toets
kom in die hitte van die stryd wegdraai van die lewende God om sekuriteit en
bevrediging in die tydelike en materiële te probeer vind nie.

226

You might also like