Deel

Ná twee slegte huwelike soek ek ook net geluk

akkreditasie
Antie Mona
Antie Mona

Liewe Antie Mona

AL JARE lank is daar die hunkering in my om ook net deur iemand liefgehê te word. Ek was al in ’n paar verhoudings en kom deur twee egskeidings, maar kan eerlikwaar sê ek het nog nooit liefde ervaar nie.

In die meeste gevalle is ek meer uitgebuit as wat ek waardeer is. My eerste huwelik het net ag maande gehou.

Hierdie man was nie net ’n meestermanipuleerder nie, maar ook ’n mamma’s boy. Als wat ek moes doen, moes gedoen word soos sy ma dit vir hom gedoen het.

Die ma het selfs die vermetelheid gehad om soms weke aaneen te kom kuier om my in die skool te sit oor hoe ek dinge vir haar seun moet doen.

Voor ander mense was hy liefdevol en sjarmant, maar as ons alleen was, het hy nie ’n goeie woord te sê gehad nie.

Seks was nooit sag en intiem nie. Dit was rof en onbeskof en ek is geforseer om dinge te doen wat g’n ordentlike vrou doen nie. Ná ag maande kon ek nie meer die hel van ’n huwelik verduur nie en het weggehardloop na my ouers toe en hulle als vertel.

Stomdronk

Gelukkig was hulle baie ondersteunend en kon ek met die nodige moed die egskeiding aandurf. Dit het my drie jaar gevat om weer na ’n man te kyk.

In hubby nommer 2 het ek gedog ek het my droomman gevind. Maar ek het my misgis.

Ek moes op ons huweliksnag die gevaarligte gesien flikker het toe hy so stom-dronk was dat hy nie op sy voete kon staan nie.

Van daar af het ek hom selde nugter gesien. Dit het my nie lank gevat om te besef dat ek weer ’n fout gemaak het nie, maar wou nie die “skande” van ’n tweede egskeiding oor my familie laat hang nie.

Ek het vyf jaar lank vasgebyt totdat hy hom eventually graf toe gedrink het, maar dit was vyf jaar van swaarkry.

Goddank is geen kinders uit die huwelike gebore nie, want dit sou vir hulle netso hel op aarde gewees het. Die dokters het my jare gelede gesê dat ek nie kinders kan hê nie.

Dit het gemaak dat ek harde woorde van my ekse gekry het. Ek moes hoor ek is ’n halwe vrou met ’n ysterkoek.

Nou sit ek hier soos Kiepie. Ek is in my 50’s, het ’n goeie werk, is finansieel onafhanklik, maar  het niemand om my lewe mee te deel nie.

Dis nie lekker om saans na ’n leë, koue huis te gaan nie, maar ek is bang ek kry weer seer. Daar was baie mans wat by my aangelê het, maar, Antie, ek is bang om my kop ’n derde keer te stamp.

Ek weet nie of ek nog só ’n huwelik sal oorleef nie. Is dit verkeerd om so ’n vrees te hê?

Wat keer my om iemand weer ’n kans te gee? Ek wil nie alleen oud word nie. — Eensaam van D, WhatsApp

Vrou, met al die drama en trauma wat jy deurgemaak het, is dit te verstane dat jy ’n vrees vir die opposite sex ontwikkel het.

Once bitten, twice shy, word mos gesê. Maar soos jy ook sê, likes niemand dit om alleen te wees nie.

Weet jy, ’n vriendskap met ’n man hoef nie noodwendig op ’n verhouding of selfs ’n huwelik uit te loop nie. As daar iemand is met wie jy baie gemeen het, behoort dinge sonder effort op ’n platoniese vlak af te skop.

Van daar kan jy hierdie persoon goed deurkyk en seker maak of dit ’n geval kan word waar friends ook lovers kan raak. As jy sien aikôna, dit gaan nie as lovers werk nie, hoef jy nie die vriendskap na ’n ander level te vat nie.

Dit is so dat daar baie sluwe jakkalse op twee bene hier buite is, maar dis ook so dat daar meer as genoeg genuine, eerbare mans is.

Dan moet jy ook onthou dat ’n mens nie noodwendig iemand anders in jou lewe nodig het om fulfilled te voel nie.

Join ’n social club vir over-50’s, gaan toer ’n bietjie met hierdie mense van jou portuur, lewe ten volle, maak nuwe vriende en wie weet … dalk, wanneer daar minder aan gedink word oor die vrese van alleen oud word, slaan Cupid op die mees onverwagte manier jou voete onder jou uit.